Читать книгу Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse - Страница 7

3

Оглавление

Jacob word wakker van ’n eentonige geluid, soos ’n by wat teen ’n ruit sukkel om uit te kom. Hy maak sy oë oop en kyk om hom, sonder om sy kop te veel te draai. Sy brein neem ’n rukkie om sin uit die beelde te maak. Oorkant die bed is dakhoogte vensters, met donkergroen gordyne wat dig getrek is. Regs en links is deure. Die een maak in ’n gang oop en die ander een lei na sy aantrekkamer en badkamer. Teen die oorkantste muur is ’n plat televisieskerm en voor die venster staan ’n groot rusbank en koffietafel. Hy het vergeet hoe groot die kamer is. Louise sê hy was nog altyd ruimtebedonnerd.

Hy sit regop en swaai sy bene van die bed af. Dis nie ’n by wat hy hoor nie, maar ’n grassnyer. Hy trek ’n kniebroek en T-hemp aan en loop stadig deur die huis. Sy ruimtebedonnerde huis. Georgie se kamerdeur is toegetrek en Jacob stap verder die gang af. Mathilda staan in die kombuis en toe hy agter haar praat, ruk sy om.

“Jy sal my hart laat staan!” Sy kyk op die groot muurhorlosie. “Slaap ook maar lekker laat, nè?”

Hy sit sy arm om haar skouers. “Ek is lankal wakker, maar het gelê en hoop iemand bring vir my koffie en ontbyt.”

“Lyk dit vir jou soos ’n hotel hierdie?”

“Waarom sny hulle so vroeg gras?” Jacob skink vir hom ’n beker koffie en stap daarmee op die agterstoep uit. ’n Entjie voor hom is twee werksmense besig om met ’n klein trekkertjie die groot grasperk te sny. Die swembad blink helderblou en hy trek sy T-hemp uit; toe hy klaar sy koffie gedrink het, duik hy in. Die water is kouer as wat hy verwag het, en vir ’n oomblik trek hy sy asem in voordat hy heen en weer begin swem.

“Gaan staan oumense se harte nie van sulke koue water nie?” praat ’n stem langs die swembad toe hy weer sy kop lig. Georgie sit op een van die gemakstoele met ’n beker koffie en ’n groot bak beskuit langs hom. Sy seunslyf is skraal en knopperig in die slaapbroek en T-hemp.

“Ek weet nie. As ek weer ’n oumens raakloop, sal ek vra.” Jacob lig homself uit die water en gaan sit langs Georgie. Hy sit sy arm om sy seun. “Ek hoop jy weet ek val nie vir die siekwees-verskoning van jou nie. Jy lyk vir my blakend gesond.”

Georgie staan op en gaan sit op een van die ander stoele, maar neem sy bak beskuit saam. “Jy’s nat.” Hy hoes ’n paar keer.

“Van wanneer af is jy allergies vir ’n bietjie water? En daai hoes klink nie baie oortuigend nie.” Hulle dans vanoggend om mekaar asof nie een die moed het om eerste te praat nie.

“Ek het vir die koshuisvader gesê jy was nou lank weg en ons het dringende sake wat ons moet uitpraat. En hy het gesê hy verstaan.”

“Het jy gisteraand met jou ma gepraat?”

“Nee, ek het aan die slaap geraak voordat ek haar kon bel. Ek sal haar vanaand bel.” Georgie vat ’n groot hap en kou stadig. “Is alles nou afgehandel … tussen julle twee?”

“Ja.”

“Wat van my goed wat nog daar is?”

“Sy sê sy het die meeste van die goed opgepak en dit sal saam met die res van die trek kom. Miskien kan jy van jou goed by haar los.”

“Sê asseblief vir my ek hoef nie elke vakansie heen en weer te vlieg nie.”

Jacob kyk in die donker oë oorkant hom. Behalwe vir die oë en hare is dit Louise se gesig. Hy het sy ma se goeie gene gekry. “Ons het besluit jy is oud genoeg om self te besluit, maar dit beteken ook jy is oud genoeg om die verantwoordelikheid daarvan te dra. Jy móét na haar toe gaan. Die detail van daardie kuiers kan julle twee uitsorteer.”

“Gaan jy vir jou ’n ander vrou soek?”

“Dink jy ek sal ’n ander een kan kry?”

Georgie draai sy kop skeef en eet eers nog ’n beskuit voordat hy fronsend antwoord. “Ek weet nie. Jy’s dalk bietjie oud, maar ma het altyd gesê vroue is mal oor jou, so daar sal seker een of ander malle wees wat dalk belangstel.”

Met een beweging staan Jacob op en voor Georgie weet wat hom tref, is hy in die koue water.

“Ek gaan jou by ChildLine aangee …” proes hy toe sy kop weer bo die water is.

“Dankie, as ek gelukkig is, vat hulle jou van my af weg omdat ek te oud is om na jou te kyk.”

“As jy weer vir jou ’n vrou soek, doen my ’n guns en soek een wat besig is met haar eie dinge.”

“Waarom is jy so gepla met my en ’n volgende vrou?”

“Henri sê sy stiefma dink hy is haar nuwe pet project en ek is nie lus daarvoor nie.”

“Ek het nie planne om nou gou weer ’n vrou te vat nie, so jy kan maar ontspan.” Jacob staan op om te gaan aantrek.

“O, en as jy dalk meisies huis toe bring en hulle slaap oor, moet in vadersnaam nie dat hulle kaal in die huis rondloop nie,” roep Georgie agter sy pa aan.

Jacob steek op die stoep vas en draai om. “As dit is wat julle in die koshuis gesels, moet jy dalk eerder by die huis kom woon.”

“Toe Bennie nou die oggend vroeg in hulle kombuis kom, het sy pa se girlfriend daar kaal gesit en koffie drink. Bennie sê die ergste was dat hy groter as sy geskrik het.”

“Ek sal nie vir jou ’n ma soek nie en ek sal nie meisies kaal in die huis laat rondloop nie. Enige verdere opdragte?”

“Moenie oor my worry nie en moenie my na sielkundiges toe stuur nie.”

Toe Jacob net na hom staan en kyk, haal hy sy skouers op. “Ouers vergeet kinders is nie blind en doof nie. Ek het lankal geweet julle gaan skei. Ek hoef nie allerhande pep talks te kry wat my moet verseker dat julle vir my lief is en dat julle albei steeds my ouers is nie. Op die oomblik is ek heeltemal orraait met die feit dat ek nou ’n geskeide kind is. Ek sal dalk later begin tik doen of ’n tatoe kry, maar dis anderdag se worries.”

“Ek het net een woord vir jou: stiefma,” laat Jacob oor sy skouer hoor terwyl hy weer die huis instap. Hy klim in die stort en daarna gaan sit hy in sy studeerkamer en skakel sy rekenaar aan. Hy kan sien Sonia was hard aan die werk. Die e-posse is afgelaai, uitgesoek en die belangrikstes is gemerk vir sy aandag. Daar is uitnodigings na partytjies by eksotiese bestemmings, versoeke vir optredes, versoeke om as seremoniemeester op te tree, om op ’n televisieprogram te verskyn en nog ’n paar vreemde en minder vreemde versoeke. Hy kyk na die uitnodigings. Hy beantwoord ’n paar e-posse, skryf twee persoonlike notas en maak ’n oproep na ’n kennis in die Kaap, terwyl hy kort-kort deur die groot vensters kyk. Hy hoop hy kry weer sy asem terug.

Die pad Stellenbosch toe lyk bekend en tog ook nie. ’n Bekende omgewing deur ’n onbekende bril, was Kristina se beskrywing destyds. Cato is nie seker watter kleur hierdie nuwe bril is nie, maar sy weet dis nie pienk nie.

Sy versit effens agter die stuurwiel. Sy hou van haar nuwe voertuig. Daar is iets gerusstellend aan die manier waarop die breë bande op die warm teeroppervlak suis. Dis ’n troosgeluid, besluit sy. Hierdie nuwe man in haar lewe is besig om vir haar te sê alles sal reg wees. Sy glimlag. Dit is wat sy wíl hoor. Dalk is hy besig om vir haar te sê haar kop raas.

Twee honde kom nader gehardloop toe sy voor Ben en Kristina se huis stop. Sy gaan by die kombuisdeur in en gee ’n diep snuif.

“Die hemel ruik so.”

Die bruin vrou wat met haar rug na die deur staan, draai om en steek haar arms uit. “Uiteindelik! My oë is al droog gekyk vir jou.”

Cato stap in haar omhelsing in en gee haar oor aan die warm lyf teen hare. “A, dis goed om jou weer te sien, Ma Katie. Hoe gaan dit?”

Katie tree effens terug. “Dis wat ek jóú moet vra.” Sy sit haar hand teen Cato se wang. “Ai, kind, ek is jammer oor jou moeilikheid. Die Here alleen weet waarom so iets moet gebeur, maar ek is bly jy het teruggekom sodat ons na jou kan kyk. Jy kon nie so alleen daar anderkant gebly het nie. Sulke tye het ’n mens jou mense nodig.”

Cato sug. “Dis nie dat ek nie vroeër wou kom nie, maar dit was net soveel moeite om alles op te pak en te besluit waarheen en wat om te doen.”

Katie vee oor Cato se hare asof sy ’n klein dogtertjie is. “Maar nou is jy hier en alles sal nou beter wees. Hier by ons huis ook.”

“Waar is sy?”

“Bo in die kamer. Ek het gesê as sy nie nou bietjie gaan lê nie, bel ek vir Ben. Ek het ’n pot tee gemaak. Vat dit sommer vir julle saam. Is jy nog so lief vir beskuit?”

“Ek is nie lief vir beskuit nie, ek is verslaaf aan jóú beskuit. Ek hoop jy het tyd gehad om al die blikke vol te maak.”

Katie maak ’n koekblik oop en haal ’n paar growwe beskuite uit wat sy in ’n bakkie op die skinkbord sit.

“Toe, loop nou, voor sy opstaan om te kom kyk wie hier is.”

Die huis ruik en lyk bekend. Hier en daar is ’n nuwe skildery teen ’n muur of ’n meubelstuk wat nuut oorgetrek is, maar dis al wat verander het. Sy dra die skinkbord teen die trap op en toe sy by die slaapkamerdeur kom, klop sy liggies voor sy die kamer instap.

“Room service. Mag ek maar binnekom, mevrou?”

Kristina laat sak die koerant en kom regop teen die kussings. “Bleddie hoog tyd. Ek was op die punt om te begin kla oor die diens.”

Cato sit die skinkbord op die tafel voor die venster neer en gaan sit langs Kristina op die bed. Hulle druk mekaar vas.

“Hoe gaan dit met jou?” Cato vleg haar vingers deur Kristina s’n.

“Dit gaan goed met my. Die dokter is tevrede dat dit maar een van daardie dinge is wat soms gebeur en dat dit nie noodwendig op ernstige probleme dui nie. Ek was nog net nege weke ver. Dis blykbaar ’n heel gewone gebeurtenis en niks om oor bekommerd te raak nie.”

“Dis seker ’n manlike dokter. Die vader alleen weet waarom hulle so ’n maklike deal in die lewe gekry het. Geen PMS, geen menstruasiepyne, geen hormone, geen rekmerke en geboortepyne en helaas ’n menopouse wat hulle na groener weivelde laat verlang terwyl ons arme vroue die vure van die hel in ons moet probeer blus.”

Kristina lag. “Ek sal vir die ginekoloog sê hy weet nie waarvan hy praat nie.”

“Wag net eers dat ek hom sien. Is hy oulik?”

“ ’n Ernstige man.”

Cato trek ’n gesig terwyl sy tee skink en weer langs Kristina op die bed kom sit. Sy doop ’n beskuit in die koppie en maak haar oë toe toe sy ’n hap neem.

“Donner, ek het verlang. Selfs na die beskuit.”

Kristina leun oor en soen Cato se wang skramsweg. “Ek is bly jy’s hier en wens ek kon vir jou sê alles sal nou makliker wees.”

“Ek wens ook jy kon dit doen, maar vir nou sal ek net tevrede wees om hier te sit en Katie se beskuit te eet. Dis troosgoed vir my binnekant.” Sy lig haar arm. “Memories are not shackles, Franklin, they are garlands.”

Kristina lag. “Daardie stem bring grootse herinneringe.”

Cato skuif haarself gemakliker teen die kussings. “Hoe gaan dit met Ben?”

“Ek het jou mos in die e-posse vertel hoe tevrede hy is. Ek dink na heelwat sielewroeging het hy nou die perfekte balans gevind en geniet hy weer sy werk. Hy doen sessies by die hospitaal se ongevalleafdeling, verder is hy betrokke by die universiteit se departement van gemeenskapsgesondheid, hy gee lesings by Psigiatrie, hy lewer praatjies oor die aarde heen.” Kristina sug. “Noem hom sommer net ’n one-man band. En hy is mal oor die afwisseling en die verskeidenheid. En op een of ander manier het hy ’n kundige op die gebied van studente en hul probleme geword. Of om meer akkuraat te wees, die jong volwassene.”

“Dink jy hy was al ooit spyt dat hy die kliniek in ’n gesondheidspa omskep het?”

“Nee. Hy het ’n baie oulike bestuurder aangestel en die terapeute en ander personeel is omtrent met die hand uitgesoek, so hy het nogal respek vir wat daar gedoen en aangebied word. Hy is nog nie oortuig al die alternatiewe behandelingsmetodes werk nie, maar hy is heeltemal bereid om dit ’n kans te gee.”

“Gaan julle weer probeer, of is jy bang?”

“Ek is bang, maar ek was al banger in my lewe. En ek wil die dokter glo dat hierdie miskraam nie noodwendig ’n aanduiding is van groot probleme nie.”

“Miskraam.” Cato skud haar kop. “Dis omtrent so ’n moedelose woord soos ‘weduwee’. Asof ’n mens nie die kol getref het nie. Ek het nou die dag in ’n fliek die volgende wyse woorde gehoor: Die dinge wat bepaal wie ons word, is gewoonlik die dinge wat ons nie gekies het nie.”

Kristina sug. “Hoe sal ons ooit regtig weet. Jy het eendag lank, lank gelede vir Van Wyk Louw aangehaal. ‘Ons is weerloos teen die swaar gebeure van die dinge’, of so iets. Dit is omtrent al wat ’n mens kan sê.”

Cato trek haar skoene uit en strek haarself langs Kristina op die bed uit. “Dink jy daar is mense met wie daar nooit slegte goed gebeur nie? Ek praat nie van die hallelujabendes wat maak asof die lewe ’n lied is nie – ek glo in elk geval hulle lieg die meeste van die tyd vir hulself en almal om hulle. Maar ek wonder of daar mense is met wie dit werklik altyd goed gaan. Wie se voorspoed hulle soms verveel.”

“Volgens die wet van gemiddeldes moet almal die een of ander tyd ’n opdraande tref. Die verskil lê waarskynlik daarin dat almal van ons ’n ander benadering tot ’n opdraand het. Sommige bult hulle spiere, haal diep asem en tel spoed op. Ander sit en bekyk eers die opdraand van alle kante en kerm oor hoe hoog dit is en hoe onregverdig dit is dat hulle daar moet uit.”

“Maar wat as jy werklik nie fiks genoeg is vir die opdraande nie?”

“Dan pak jy dit waarskynlik voetjie-vir-voetjie aan en wanneer jy moeg word, rus jy eers ’n bietjie.”

“Is dit wat jy gedoen het?”

Kristina glimlag. “Ek het nie die vaagste idee wat ek gedoen het nie. Op ’n dag het ek net geweet dis effens makliker en ek is nie meer so moeg nie.”

Cato wikkel haar tone. “Ek weet nie waarom ek jou vra nie. Julle Karoo-kinders is soos bleddie vetplante. Hoe swaarder dit met julle gaan, hoe geiler groei julle. Ons stadskinders het water en beskutting in oormaat nodig. Julle wortels groei waarskynlik vir ’n miljoen jaar op dieselfde plek. Ons wortels groei vlakker, want ons is nooit heeltemal permanent op ’n plek nie.”

“Daar is mense wat glo dat ons voor ons geboorte die lewe kies waarvoor ons op aarde kans sien.”

Cato lag hardop. “Daar is ook mense wat glo hulle is al deur Marsmanne ontvoer en swanger gemaak.”

Kristina draai op haar sy en speel met die kettinkie om Cato se arm.

“Kris, het jy ook destyds agtergekom die mense wat die meeste te sê het, is dié wat eintlik nie ’n clue het nie? Dié wat weet, is stil, want hulle wéét. Hulle weet daar is nie ’n woord lank genoeg of swaar genoeg om werklik ’n verskil te maak nie.” Die laaste woorde is ’n sug. Sy is by die huis, dink Cato. Veilig tussen haar mense.

Dan swaai sy haar bene van die bed af. “Amper vergeet ek, die bankbestuurder wag vir my.”

Cato ry stadig tussen die laning bome deur en sien hoe ’n wit rokie regop en lui van die gesondheidsoord af in die lug opstyg. Asof verhewe bo die aanslag van die ligte bries. Die herinneringe lê soos voetspore om haar. Die eerste keer toe sy en Helen vir Kristina kom kuier het. Hoe geskok hulle was toe hulle haar sien. Sal ’n mens aarde toe kom as jy voor die tyd weet wat vir jou wag?

In die dorp draai sy regs in Victoriastraat. Die platane en eike lyk soos eerstejaars in hul nuwe klere. Vars en nuut. Byna oorywerig om hulself ten toon te stel. Net om oor ’n paar maande gestroop te word en eindelik kaal te staan in die wind en weer.

Onwillekeurig soek sy na bekende gesigte op die sypaadjies, maar dis vreemdes wat terugkyk. Oë vol drome. Drome wat strek van prinse op wit perde tot by verwagtinge van groot rykdom. Droom ’n mens ooit oor iets so abstrak soos geluk?

Êrens in die lug ruik sy tog iets bekends. Of dit die vae kosreuke uit die koshuise is of die komplekse geur van teer, plante en mense, weet sy nie. Maar ín haar lê herkenning. Miskien is dit die geur van jonk wees wat speels saam met die bries tussen die bome baljaar. Hier ’n rok oplig, daar ’n haarsliert oor ’n oog waai.

In die middedorp het die tyd stadig geloop. Hier en daar is ’n nuwe gebou, hier en daar ’n opgeknapte ou gebou, maar die groot bakens is steeds daar. Die stadsaal staan steeds effens koninklik tussen sy wit pilare, maar verbeel sy haar tog ’n tamheid? Sy ry stadig en sien hoe ’n paar ou winkels plek gemaak het vir nuwerwetse restaurante, koffiewinkels en boetieks. Tafels en stoele staan gepak onder wyerandsambrele. Klere en ander ware spoel uit die binneruimtes tot op die sypaadjies. En die toeriste met hulle kakieklere en kameras. Afrika is gelyk aan safari.

Toe Cato ’n uur en ’n half later uit die bank stap, gaan sit sy oorkant die straat by een van die nuwe koffiewinkels. Is haar gesoek na bekende bakens ’n poging om haarself te troos dat sy na die regte plek toe teruggekom het? ’n Plek wat sy ken. Hier moet nog iets bekends wees, want sy het dringend nodig om ’n slag diep asem te haal. Of miskien nie soseer asem te haal nie, maar eerder met oorgawe uit te asem. Dit voel of sy in ’n vorige lewe laas haar asem heeltemal kon uitblaas sonder die vrees dat sy nie weer sal kan inasem nie.

Sy bestel koffie en terwyl sy daarvoor wag, bekyk sy die mense op die sypaadjie. Die studente lyk jonger as wat sy uit haar dae kan onthou. Miskien is dit net sy wat soveel ouer voel en heel waarskynlik lyk ook. Cato kyk drie bruingebrande langbeenmeisies agterna en voel ’n fladdering teen haar ribbes. ’n Paar jaar gelede was dit sy, Helen en Kristina. Vol selfvertroue, waagmoed en drif. Haastig om die lewe storm te loop. Onbewus van wat die toekoms dalk inhou. Dis seker nodig om ten minste een keer in jou lewe met soveel oorgawe en selfvertroue te leef, want met elke dwarsklap wat die lewe jou gee, verdwyn ’n stukkie selfvertroue, totdat jy net soms vaagweg kan onthou hoe dit gevoel het. ’n Skaduwee wat soms stil by jou verbyglip, maar nooit lank genoeg vertoef dat jy iets daarvan kan vasvat nie.

Toe die kelnerin die koppie koffie voor haar neersit, roer sy ingedagte twee sakkies suiker in en met die eerste sluk brand die soet haar keel. Dis byna walglik soet, maar op hierdie oomblik so vreeslik vertroostend. Sy keer haarself toe sy in die rigting van die koeke kyk.

“Cato?”

Sy skrik uit haar mymeringe en kyk na waar die stem vandaan kom. ’n Langerige man staan ’n entjie van die tafel af en toe sy opkyk, glimlag hy en kom nader.

“Dis wragtig jy.” Hy soen haar voordat hy op die stoel oorkant haar gaan sit. “Ek hoop nie ek sit op iemand se plek nie, maar ek moet eers hoor hoe dit gaan. Vader, wanneer laas het ons mekaar gesien? Jy lyk goed. Baie goed.” Hy frons skielik. “As jy nou vir my sê jy kan my nie onthou nie, gaan my ego dit nooit oorleef nie.”

“Hmm … jy lyk vaagweg bekend, maar ek is nie seker nie. Draai jou kop effens …” Maar dan begin sy lag. “O ja, jy is een van die land se gewildste sterre op die oomblik. Paul. Paul de Wet, as ek reg onthou.”

Hy lig haar hand en soen haar vingers. “Dankie tog … en jy moet net bylas: sepiester.”

Cato skud haar kop. “Beskeidenheid pas jou nie. Ek is seker op hierdie oomblik wonder die hele plek hoe ’n gewone sterfling soos ek so ’n celebrity ken.” Sy bekyk hom met aandag. “Jy lyk selfs beter as op die persfoto’s. Die glanslewe doen jou goed.”

“Klatergoud, sou my ouma gesê het. Alles van verbygaande aard.”

“Maar intussen moet dit sekerlik baie opwindend wees.”

“Daar is ’n paar voordele, maar vertel my liewer van jou. Laas toe ek gehoor het, was jy in Londen, happily married.” Hy kyk na haar hand en sy wonder waarom sy nog die troupand dra. Dit het miskien tyd geword om dit af te haal, maar aan die ander kant, wat maak dit saak?

“Ek is ’n weduwee.”

Die lag verdwyn soos sy geweet het gaan gebeur.

“My man is drie maande gelede in Londen in ’n motorongeluk dood.”

Hy sit agteroor op die stoel en trek sy vingers deur sy langerige hare. “Ek is jammer. Ek het nie geweet nie.”

“Jy weet wat sê hulle, die enigste manier waarop jy ongelukke kan vermy, is om die hele dag in die bed te bly. En selfs dan bestaan die gevaar dat jy uit die bed kan val.” Sy is teleurgesteld toe die glimlag nie terugkom nie, sê dan: “Kan ek vir jou ’n koffie koop? Ek wil hoor wat jy alles met jou lewe aanvang.”

Hy kyk op sy horlosie en sy kan die huiwering sien, maar dan ontspan sy lyf teen die stoel se rugleuning. “Dankie, maar laat ek vir jou nog een koop.” Hy roep die kelnerin nader en bestel twee koffies. Cato sien hoe die meisie hom onderlangs bekyk.

“Ek woon deesdae in Johannesburg, maar ons het nie my ouers se huis verkoop nie en wanneer ek Kaap toe kom, bly ek daar oor. Dis altyd ’n welkome verandering en voel gewoonlik soos ’n vakansie, al moet ek werk.”

“Verlief, verloof, getroud?”

“Soms verlief, maar beslis nog nie verloof of getroud nie. Ek het nie op die oomblik soveel tyd nie.” Vir die eerste keer glimlag hy weer. “In elk geval probeer ek nog herstel nadat jy my hart gebreek het.”

“Dit kon nie te erg gewees het nie. As ek reg onthou, het ’n baie mooi donkerkop jou getroos en jy het nie juis baie hartseer gelyk nie.”

“ ’n Man het mos darem sy trots ook.” Hy raak aan haar vingers en sy kyk na die manshand wat skielik so onbekend groot teen hare lyk. “Ek is jammer oor jou man … ek wens ek het iets beter gehad om te sê, maar dis ongelukkig die beste wat ek kan doen. Dit moes vir jou ’n helse skok gewees het.”

Sy kyk by hom verby na waar ’n man en meisie hand aan hand oor die straat gestap kom. “Ja, dis nou nie een van daardie dinge wat ’n mens ooit vir jouself toewens nie, maar dis seker deel van die lewe.”

“Hoe lank is jy al terug in die land?”

Cato kyk na haar horlosie. “Vier-en-twintig uur … min of meer.”

“Dan is dit selfs ’n groter toevalligheid as wat ek gedink het. Jy moet jou kontakbesonderhede vir my gee. Ek kom volgende week vir ’n liefdadigheidsfunksie Paarl toe. As jy nie besig is nie, kan ons gaan eet of nog ’n koffie gaan drink.”

Cato gee vir hom haar selfoonnommer en kyk hoe hy dit op ’n slanke selfoon stoor. Die moderne mens wat sy hele lewe aan piepklein elektroniese toestelle toevertrou. ’n Toestel wat dikwels vir geen rede nie besluit om nie meer te werk nie. Ook sommer op ’n dag net doodgaan.

Paul kyk op sy horlosie. “Ek het ongelukkig ’n ander afspraak, maar ek bel jou volgende week.”

Cato staan ook op en nadat hy vir die koffie betaal het, stap hy saam met haar tot by haar motor en maak vir haar die deur oop. Hy huiwer voordat hy haar vlugtig op die wang soen.

Sy kyk hom agterna toe hy wegstap. Waarom was hy destyds nie regtig ’n moontlikheid nie? Dis ironies dat sy op hierdie oomblik kan onthou hoe sy lyf gevoel het, maar nie waarom dit nie uitgewerk het nie. Miskien was hy nog effe jonk. Onafgerond. Sonder die nuanses en ondertone wat saam met die ouderdom kom. En sy nie volwasse genoeg om die potensiaal raak te sien nie.

Sy haal haar selfoon uit en skakel die eiendomsagent se nommer.

By die deur van die eerste woonstel steek sy vas, tot die fladdering op die krop van haar maag bedaar, en dan loop sy voor die vrou uit. Die woonstel is in ’n ou gebou en die vertrekke redelik ruim. Groot vensters sorg vir genoeg lig. En tog hang daar ’n effense benoude reuk. Miskien word die vensters nie dikwels oopgemaak nie. Die meeste meubels dateer uit ’n vorige era. Stoele met houtarmleunings en los lappe wat oor die waarskynlik afgeleefde sitplekke gegooi is. Houttafeltjies, ’n klein ovaal eetkamertafeltjie van een of ander donker hout.

Die agent verduidelik dat die eienaar ’n bejaarde enkellopende vrou is wat na ’n aftreeoord verhuis. Cato kyk na die enkelbed in die groter slaapkamer. Is dit van nou af haar lot ook? ’n Enkelbed. Is dit haar verbeelding of hang daar ’n gevoel van verlatenheid oor die woonstel? Sy kyk weer na die netjies opgemaakte enkelbed en voel ’n rilling deur haar trek. Is dit hoe moed opgee lyk? Selfs ’n driekwartbed sou nog ’n sprankie hoop ingehou het. Maar ’n enkelbed het nie plek vir hoop nie.

Die volgende woonstel behoort aan ’n jong paartjie. Laggende gesigte straal uit fotorame na Cato. Troufoto’s, wittebrood op een of ander tropiese eiland, albei bruingebrand, arms om mekaar, hande wat raak, die ewigheidsbelofte in hul oë. Cato keer haarself toe sy ’n hand wil uitsteek om aan een van die foto’s te raak. ’n Gekkeparadys, troos sy haarself toe sy afguns voel.

Die derde woonplek is ’n dorpshuis in ’n veiligheidskompleks op die rand van die dorp. Die eienaars het reeds uitgetrek en die plek lyk half verlate so sonder meubels. Hulle skoene weerklink op die teëlvloere en hul stemme eggo van die kaal mure af. Hier en daar is ’n spyker in ’n muur en ’n ligte skaduwee wat aandui dat daar iets gehang het. Dalk ook foto’s.

Cato betrap haarself kort-kort dat sy wonder wat Neil sou gesê het. Hy sou waarskynlik deure oop- en toegemaak het, die sterkte en ewewig van die fondasies probeer bepaal het, na die buurt gekyk het en ’n herverkoopwaarde bereken het. Sý wag vir ’n teken. ’n Roering binne haar, herkenning. ’n Teken dat hierdie ruimte goed vir haar sal wees. Maar daar gebeur niks. Die wit mure en leë kaste swyg. Sy kan sien die agent se glimlag begin strammer raak.

By die volgende twee plekke wag sy ook tevergeefs op ’n teken.

Vier seisoene kind

Подняться наверх