Читать книгу Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse - Страница 9
5
ОглавлениеCato soek verwilderd op die bedkassie rond toe haar selfoon vroegoggend begin lui. Sy en Ben het die vorige aand tot lank na middernag buite op die stoep gesit en gesels. Kristina is net na tien bed toe. Nou voel dit of sy nie haar oë kan oopkry nie, maar eindelik vat sy die selfoon raak en klap dit oop.
Dis die ywerige eiendomsagent wat nog ’n paar moontlikhede vir haar wil gaan wys. Alles word in een asem gesê en Cato sug byna hardop. Sy trek die beddegoed oor haar skouers. Dis Sondag. Waar sal haar rus vandaan kom? Móét sy haar eie blyplek kry? Ben en Kris sal haar nooit uitskop nie en op die oomblik is dit so ’n aanloklike moontlikheid. Kan iemand haar kwalik neem? Sy het nog nooit daarvan gehou om alleen te woon nie. En nou voel nie na die regte tyd om uit te vind of sy dalk daarvan kan hou nie. Nou is nie die tyd vir nuwe dinge nie. Nou wil sy horlosies begin terugdraai. Universiteitskoshuisdae. Geluide, reuke, stemme. Voortdurende bevestigings dat sy nie alleen is nie. Vertroostende bevestigings nadat haar ma dood is en haar pa stil geword het in die huis. In die koshuis het dit vir haar gevoel of selfs die mure soms saam kreun en steun, lag en lawaai. Daarna was dit sy, Kris en Helen in die huisie met die groen deur. Dalk minder geluide en minder menswees, maar steeds ’n ewigdurende bewus wees van ’n saamwees. “Saamwees” is ’n woord waarvan sy hou. Dis ’n woord wat ’n mens kan vertrou. ’n Borswering teen die eensaamheid waarvoor sy so bang is. Neil kon nooit verstaan hoe sy so maklik ’n ruimte kan deel nie. Aand vir aand het sy na sy asemhaling langs haar lê en luister. Baie dikwels in die nag half onder hom ingeskuif sodat sy sy lyf teen hare kon voel. As dit moontlik was, sou sy bedags onder sy hemp wou inklim en saam werk toe gaan. Met haar oor teen sy hart. Dalk is sy soos ’n klein hondjie wat te vroeg van haar ma af weggeneem is. Sal dit help as sy ’n wekker onder haar kopkussing sit? Kan ’n mens in hierdie stadium terugkeer na ’n staat van naïewe vertroue in iets soos ’n wekker onder die kopkussing? Kan jy vergeet hoe die afgrond lyk as jy eers een keer oor die rand gekyk het? Sy glo nie. Al vergeet jy dalk die beeld, sal die eindeloosheid daarvan aan jou voete trek. Jy kan nooit weer maak of dit nie daar is nie. Nee, die wekker sal nie meer help nie, want dit kan nie meer teruggedraai word nie. Die uurwerk het gekantel.
’n Ligte klop aan die deur laat haar effens regop kom. Kristina kom binne met ’n skinkbord waarop koffie en beskuit is.
“Is jy veronderstel om swaar goed op te tel?”
“As ek nie ’n koppie koffie en ’n bakkie beskuit kan dra nie, behoort ek nooit weer swanger te raak nie, want dan sal ek beslis nie ’n kramery oorleef nie.”
“Was dit al ’n werklikheid vir jou? Die idee dat daar op ’n dag iets so groot soos ’n waatlemoen daar moet uitkom?”
“Nee. Ek het ’n meester in ontkenning geword. As ek nie aan iets hoef te dink nie, doen ek dit nie voordat dit onvermydelik raak nie.” Kristina klim langs Cato op die bed.
“Ek dink dis wat ek al vir die afgelope paar maande doen en nou voel dit of al die onvermydelikhede soos ’n swerm bye gelyk op my toegesak het. Ek het juis lê en wonder of ek nie maar die huissoekery kan laat staan en net hier bly nie. Dis een by minder.”
“Hoeveel keer moet ek nog aanbied?”
“In die Griekse dramageskiedenis het ons geleer dat in die paradoksale wêreld van die tragedie die hoofspeler of held verantwoordelikheid vir haar of sy lot aanvaar, ongeag of dit die gode se toedoen was of nie. Ongeag ons lotgeval, moet ons voorgee ons is vry. En dis in die held se aard om aan te gaan. Deur te druk. Ek het egter nuus vir die Grieke. It ain’t that easy. Ek sal graag wil weet hoeveel mense bereid is om soos die offerlam verantwoordelikheid vir hulle omstandighede te aanvaar.” Cato neem ’n sluk koffie en byt in een van die stukke beskuit. Haar kake kraak ritmies op en af. “Held se moer. Ek wil nie deurdruk nie.”
Toe Kristina haar nie antwoord nie, draai Cato haar kop. “Dis nou jou kans om my te bemoedig.”
“The tragic universe is not morally tidy.”
“Ek lieg eintlik as ek sê ek kan nie die held wees nie. Daar is tog dae dat ek sterk is, hoor. In so ’n mate dat ek myself verras en byna nie herken nie. Hoe is dit dan moontlik dat ’n mens van so ’n kragtoer af na benede kan stort en nie weet hoe jy ooit weer daar gaan opstaan nie? ’n Mens is tog óf die held óf die lafaard. Jy kan nie albei rolle vervul nie.”
“Dalk is dit nie ’n óf-óf nie. Dalk is dit ’n geval van ’n bietjie van die een en ’n knippie van die ander een. Dalk loop ons maar net heen en weer op die wipplank. Soms kantel ons die skaal na die een kant toe en soms na die ander kant toe. Ek weet nie, maar dis wat ek wil glo, want anders beteken dit ek kan nooit ’n held wees nie.”
“Mense soos jy word oorwinnaars genoem. Kyk wat het jy oorleef en weer opgestaan. So moenie met my praat oor nié ’n held wees nie.”
“Wat was heldhaftig daaraan om in jou eie geheue verstrik te raak?” Kristina gee ’n laggie. “As jy wil voorbeelde noem, mag jy nie selektief onthou nie. Ek het weggehardloop. Die maklikste uitweg gekies deur nie te onthou nie.” Kristina skud haar kop. “Jy was daar, Cato. Moenie vaskyk teen wat jy nou sien nie. Ek het net die voordeel van tyd. En cliché of nie, tyd werk soos ’n wind wat dag vir dag op dieselfde plek waai. Aanvanklik is jy net van die gehuil daarvan bewus, maar mettertyd sien jy watter uitwerking dit op dinge rondom jou het. Met die verloop van tyd word jy bewus van dinge wat weggewaai het en ander dinge wat nader gewaai is. Hoe dit ook al sy, jy raak bewus dat jou omgewing nie meer dieselfde lyk nie en geleidelik begin jy vergeet hoe dit gelyk het.”
“Wat as ek in die proses omwaai?”
“Jy sal nie.”
“Hoe weet jy dit? Het jy ’n divine boodskap gekry?”
“Jy het nie destyds ná jou ma se dood omgewaai nie, en toe was jy maar ’n kind.”
“As ek nou terugdink, was ek ook maar vir lank soos ’n Checkers-sak wat saam met elke briesie die pad gevat het en dikwels in slote en gate beland het waar ek beslis nie ’n kind van my sal wil sien nie.”
“Dis geskiedenis, Cato. Dis verby. Jy is steeds hier en jy sal nie wegwaai nie.”
“Ek haat dit om so te wroeg.”
“Het jy al getreur?”
Cato kyk vraend na Kristina. “Wat bedoel jy met treur? Ek het al emmers vol trane gehuil.”
“Dink jy Neil se dood is al ’n werklikheid vir jou? Nie net ’n bewustelike werklikheid nie, maar voel jy dit al met jou hele lyf? Weet jou vingerpunte hulle gaan nooit weer aan hom raak nie? Het jy al vir jou mond gesê jy gaan hom nooit weer proe nie? Jy gaan hom nooit weer ruik nie, nooit weer hoor nie, nooit weer sien nie. Jou sintuie moet treur, Cato. Jou kop is besig met allerhande speletjies om dit makliker te maak, maar dit werk nie so nie. Jy gaan ongelukkig eers moet rou.”
Cato laat sak haar kop sywaarts op Kristina se skouer en Kristina neem haar hand.
“Ek is jammer.”
“Ek weet hy is nie meer hier nie, maar ek glo nie ek besef al ek gaan hom nooit weer sien nie. Hoe maak ’n mens ooit vrede daarmee?”
Toe Kristina haar nie antwoord nie, sug Cato. “Hoe kon ek ’n besigheid koop terwyl ek nie eers ’n houvas op die werklikheid het nie? My slim man sou gesê het dis ’n moerse risiko wat ek loop, maar weet jy wat my die bangste maak? Dat ek soms in my ’n sprankie hoop kan voel. Wat as dit nooit beter gaan nie? Wat as hierdie hoop nooit verwesenlik nie? Maar aan die ander kant is daar min dinge so mismoedig as ’n mens wat nie meer hoop het nie en ek wil ook nie een van hulle word nie.”
“Jy dink te veel. Dis nie nou die tyd om alles te probeer rasionaliseer nie. Babatreetjies, my liewe vriendin. Halwe treetjies, kwarttreetjies, skuifelvoete. Solank dit net min of meer vorentoe is.”
“Die wêreld het nie meer geduld met mense wat skuifel nie. Jy word hoogstens ’n swart rok tydens die begrafnis gegun, maar voordat die laaste kluit op die kis geklap het of die laaste assie afgekoel het, verwag die wêreld dat jy die swart rok uittrek. Dis sosiaal so inkorrek om ander voortdurend aan jou hartseer te herinner. Het jy al gehoor hoe mense vir mekaar fluister dat so en so ’n sterk mens is? Aan die begin het ek gedink dit word uit bewondering gesê, maar wat hulle eintlik bedoel, is gelukkig maak sy nie in die openbaar ’n spektakel van haarself nie. Mense hou nie van ’n ander se trane nie. Behoede jou tog as jy op ’n ander se parade reën.”
“Waarom steur jy jou aan wat ander sê? Ons elkeen moet ons eie werklikheid leef.”
Cato sug. “Dis nie so maklik nie. Ek neem môre die bestuur van my eie besigheid oor en ek kan net dink hoe gewild gaan ek wees as ek op almal se skouers huil. Die koerante sal binnekort kan berig van ’n eienaar wat haar uit haar eie besigheid gehuil het.”
Kristina glimlag terwyl sy van die bed opstaan. “Trek aan sodat ons twee uit die huis kan kom, die son skyn buite.”
“Dink jy die son sal my kan opvrolik?”
“Nee, maar ek hoop dit verdryf die koue uit my bene.”
Cato kreun hardop. “Ek is die naam vriendin nie werd nie. Hoor hoe gaan ek te kere terwyl jy op die oomblik deur jou eie hel gaan.”
Kristina glimlag weer. “Ek is nie presies seker hoe die hel lyk nie, maar ek dink nie hierdie is die hel nie.”
“Wil jy werklik vir geen oomblik sommer net kla en kerm oor wat met jou gebeur het nie?”
“Ek was vir twee dae erg moerig, want ek moes ’n uitstalling skuif omdat dit in dieselfde week as die geboorte sou wees. As ek geweet het wat ek nou weet, kon ek die reëlings net so gelos het.”
“Ek glo jou nie as jy sê jy was moerig net omdat jy reëlings moes verander nie.”
Kristina maak die deur oop, maar bly staan ’n oomblik met die knop in haar hand. “Ek het nie gedink jy sal dit glo nie.”
“Probeer jy vir my onthalwe sterk wees?”
“Ek is nie sterk nie, Cato. Ek is sommer net. Ek is ook maar vir ’n paar dae of ’n week of wat weer terug na babatreë toe.”
Cato kyk hoe die deur agter Kristina toegaan en sy trek die beddegoed tot teen haar keel op. Is dit ’n dice wat êrens gegooi word, of kies ’n mens werklik die lewe waarheen jy op aarde kom? As dit laasgenoemde is, vermoed sy haar lyne het met iemand anders s’n gekruis, want sy sou nooit hiertoe ingestem het nie.
Toe sy laataand in die bed klim, voel sy bewerig, asof sy koud kry op hierdie soel lenteaand. Sy skakel die lig af, neem haar selfoon en skakel ’n nommer. Dis nie die eerste keer dat sy dié nommer skakel nie en al weet die grootste deel van haar brein wat die resultaat gaan wees, is daar ’n deeltjie in haar wat aan ’n rietskraal stukkie hoop vashou. ’n Onpersoonlike stem deel haar mee dat die nommer wat sy geskakel het nie bestaan nie. Waarom kan dit nie ten minste net sê sy kan ’n boodskap los nie? Dit sal vanaand genoeg wees. ’n Vae troos dat hy ten minste haar boodskap sal kry. Dat so iets moontlik is. Sy het al flieks gesien waar die karakters mekaar in verskillende dimensies ontmoet. Hulle behoort nie sulke flieks te maak of sulke boeke te skryf as dit nie moontlik is nie, want op ’n aand soos vanaand gee dit ’n mens hoop. Laat dit jou ’n selfoonnommer bel en na jou e-posse kyk. Want net miskien het iemand al ’n opening in die onsigbare gordyn tussen hier en waar ook al gekry. Iemand soos Neil. As iemand dit kan regkry, sal dit hy wees, want hy is slim. Die slimste mens wat sy nog ooit geken het.
“Ek moet met jou praat … net een keer,” praat sy in die mondstuk voordat sy die telefoon toeklap. “Gee my net ’n teken dat jy my hoor …” sê sy as nagedagte. Sy staan op en skakel haar skootrekenaar aan. Daar is vyf nuwe e-posboodskappe. Drie is afkomstig van vriende in Londen, een is van ’n boekklub waaraan sy behoort en een bemark seksspeelgoed en verseker haar van absolute tevredenheid. Sy gooi haar hande in die lug. “Hoe de moer kan wildvreemdes deur streng firewalls by my uitkom en jý kan nie! Het jy ooit probeer?” Haar stem styg ergerlik en sy skud haar kop terwyl sy die rekenaar toemaak. “Jy’s pateties, Visser. Kry ’n grip, of jy eindig êrens in ’n padded sel op.”
Sy klim terug in die bed en haar hand gaan oor die groot leë spasie langs haar. Sy wonder of hy ’n duik in die matras sal maak as hy langs haar kan kom lê. Sy sal daarmee ook tevrede wees. ’n Holtetjie waaraan sy kan raak. Maar die matras strek soos ’n ewige koue vlakte langs haar. Sy dink weer aan die enkelbed in die woonstel wat sy gesien het. Dalk is dit waarom mense op ’n dag ’n enkelbed koop. Hoe lank kan ’n mens hoop op ’n holte langs jou lyf?
Sy draai op haar sy en trek haar knieë styf teen haar lyf op.
Jacob stap agter die klanke aan wat uit die televisiekamer kom. Georgie lê vas aan die slaap op die bank, terwyl twee akteurs mekaar op die rand van ’n afgrond slaan. Hy skakel die televisie af en raak aan Georgie se skouer. Dit neem ’n rukkie voordat hy roer.
“Bedtyd.”
“Wat’s fout met die bank? Ek het nou so lekker geslaap.” Hy gaap wydmond.
“Ek het geld spandeer om vir jou ’n bed te koop.”
“Ma laat my slaap net waar ek wil.”
“Ek sal vir jou ’n vliegtuigkaartjie koop.”
Georgie kyk hom skewekop aan. “Is jy beneuk?”
Jacob gaan sit langs hom op die bank. “Ek raak nie beneuk nie.”
“Sál jy my terugstuur?”
“As jy sulke onsin praat soos nou net, ja.”
“Waarom het julle vir my gehad?”
“Ons wou graag kinders hê.”
“Ek dink nie sy moes ooit kinders gehad het nie.”
Jacob maak sy mond oop, maar bedink hom eers voor hy antwoord. “Sy is baie lief vir jou.”
“Ek weet, maar dit beteken nie dis vir haar maklik om ’n ma te wees nie. Daar moet ’n rede wees waarom haar hele familie se kinders so screwed up is. Ek dink sy en altwee haar susters het op ’n manier nooit grootgeword nie.”
“As jy eendag oud genoeg is om jou eie terapie te betaal, kan ons hierdie gesprek hê.”
“Beteken dit julle gaan nie altyd my terapie betaal nie?” Georgie val kreunend agteroor teen die kussings. “Oh, the horror! Wat gaan van my word?”
“Hopelik hard genoeg leer dat jy eendag vir jouself kan sorg en sommer vir my ook.”
“Weet jy dat ouers oor die vermoë beskik om enige gesprek met hulle kinders so te manipuleer dat hulle op die ou end daardie speech kan gee?”
“Een van die vreugdes van ouerskap.”
“Jy en Sonia. Wat’s daar aan die gang?”
Jacob bekyk sy seun vir ’n oomblik. Was hy nie nog gister in doeke nie, en nou wil hy met hom oor vroue praat.
“Wat bedoel jy met ‘aan die gang’?”
“Sy’s verlief op jou.”
“Hoe sal jy weet hoe ’n verliefde vrou lyk?”
“Net soos ’n verliefde meisie. Dalk net meer verspot.”
Jacob kan nie help om te lag nie. “Ek hoop nie sy hoor ooit wat jy nou gesê het nie. Kan jy dink wat sy met jou sal doen as sy jou stiefma word?”
“Gaan jy met haar trou?” Die jong stem styg verbaas.
“Nee, maar as jy my baie moeilikheid gee, is dit dalk ’n opsie.”
“Hou nou op grappe maak en vertel my wat aangaan.”
“Sonia is my bestuurder. ’n Baie bekwame een en ek sal haar nie graag wil verloor nie. So moet in vadersnaam nie vir haar gaan vertel sy lyk verspot nie.”
“Ek dink steeds sy is verlief.”
Jacob staan op en strek homself lankuit. “Jy is geregtig op jou eie opinie.”
“Pa …” roep Georgie agter hom aan toe hy by die deur uitstap. “Het jy vir my onthalwe Kaap toe getrek?”
“Waarom vra jy dit?” Jacob steek in die deur vas, maar draai nie om nie.
“Ek vra maar net. Ek wil nie hê jy moet op die ou end sonder werk sit omdat jy nou hier onder in die Kaap woon nie.”
“Is jy bang ek maak jou sakgeld minder?”
“Ek is ernstig.”
Jacob draai om en stap tot voor die bank. “Ek het die afgelope twintig jaar baie hard gewerk. Ek wil glo ek kan op die oomblik kies waar ek wil woon sonder dat dit my op straat sal laat sit.”
“Ek wil maar net sê.”
“Dankie.” Jacob buk en soen Georgie op sy kroontjie. “Ek waardeer dit.”
“Ons hoef nie nou te begin soene uitdeel nie.”
Jacob lag toe hy kamer toe stap. Sou hy in hierdie stadium van sy lewe verhuis het as dit nie vir Georgie was nie? Seker nie. Maar as hy weer die keuse het, doen hy dit waarskynlik weer. Soms moet ’n mens net aanstap en nie onnodig baie oor jou skouer kyk nie.