Читать книгу Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse - Страница 8
4
ОглавлениеNet na sesuur stop Cato weer voor Ben en Kristina se huis. Sy roep toe sy in die huis kom en Ben antwoord van die sonstoep af. Kristina sit in ’n groot gemakstoel, ’n kniekombers oor haar bene. Ben staan op toe sy op die stoep uitstap en maak sy arms oop.
“Ek moes geweet het jy is naby, ek kon die roeringe in die lug aanvoel.”
Cato stap in sy arms in en sug. “Die man van my drome.” Dan tree sy agteruit en bekyk hom met haar kop skuins gedraai. “Kan jy nie soos enige van ons net doodgewoon ouer word nie? Dis skandalig.”
Ben vee laggend oor sy slape. “Kan jy nie sien hoe oud het ek geword nie?”
“Noem jy daai paar grys hare oud word?”
“Het jy ’n ander woord daarvoor?”
“Ontwerperbykomstighede, my skat. ’n Man se grys hare is soos ’n Jimmy Choo-handsak. Gooi dit oor jou skouer en jy verhoog die status van enigiets anders wat jy dra.” Sy sak op ’n stoel neer en sug weer. “Ek moet ophou sulke opmerkings maak. Iemand het nou die dag vir my gesê sy kan nie glo ek is na Neil se dood steeds so ligsinnig nie. Asof sy weet.”
“Onthou wat het ek vir jou na die roudiens gesê. Moenie jou aan ander mense se aanmerkings steur nie. Jy is net aan jouself antwoorde verskuldig.” Ben staan op en kom met nog ’n wynglas terug. Hy skink vir Cato en lig sy glas toe hy weer sit. “Welkom terug.”
Kristina lig haar glas ook. “Sal ons op die toekoms drink?”
Cato neem ’n sluk wyn. “Na vandag voel ek of dit ’n geval is van cheer up, the worst is yet to come.”
“Het jy ’n plek gesien waarvan jy hou?”
“Nee, maar ek is nie seker of die skuld by my of die plekke lê nie. In die een het die enkelbed my so bang gemaak dat ek niks anders raakgesien het nie. By die volgende een kleef die marital bliss soos goedkoop parfuum aan alles. En so het dit aangegaan. Ek het vergeefs gewag dat ’n plek my omarm, iets in my oor fluister.”
“Jy’s dalk te haastig. Jou voete het nog skaars hierdie kant grond geraak.”
Cato kyk na Kristina. “Ek sal graag ’n plek wil kry voordat my paar stukkies meubels hier aankom. Ek sien nie kans om na ’n ruk weer te trek nie.”
“Was jy by die teater aan?”
“Nee, die vrou moes vandag Kaap toe gaan. Ons het môreoggend ’n afspraak.” Cato kyk om die beurt na Kristina en Ben. “Dink julle ek maak ’n fout?”
“Met die teaterrestaurant?” Kristina skud haar kop. “Sover ek kan agterkom, doen die plek goed. Jy ken die bedryf. Die personeel bly aan. Al wat verander, is dat die plek ’n nuwe eienaar kry en jou dosente het destyds almal gesê jy het ’n belowende toekoms voor jou.”
Cato skud haar kop. “Jy weet wat hulle sê: Whom the gods wish to destroy, they first call ‘promising’.”
Vir ’n oomblik is die enigste geluide wat op die stoep gehoor kan word dié van die tarentale wat met hulle kras kek-kek-keke-krrr-ke-ke oor die grasperk hardloop en aan die onderpunt van die tuin tussen die bome verdwyn.
Dis soos om jou gunsteling-pantoffels aan te trek nadat jy ’n dag lank op stiletto’s moes loop, dink Cato. Niks druk of skaaf nie. Nie die stiltes of die woorde nie. Sy kan asemhaal. Diep inasem en nog dieper uitasem. Hulle verstaan van die hartseer en ken die plek waar die ligsinnigheid broei. Die swart doek van die kulkunstenaar. Kul jou hier en kul jou daar. As dit dan nie met ’n wit duif of twee is nie, dan met ’n lawwe woord of drie. Staan dit dan nie in die Bybel dat God teen die aand se kant in die tuin gaan wandel het op soek na die mens nie? Daardie skepsels wat Hy na sy ewebeeld gemaak het. Vandaar waarskynlik die mens se behoefte om veral hierdie tyd van die dag, as die aandwindjie deur die bome begin roer, na sy ewebeeld te soek. Sodat die vreemdheid van die wêreld vir ’n rukkie versag word.
“O ja, byna vergeet ek – raai wie het ek vanmiddag in die dorp raakgeloop? Paul de Wet. Die gode of sy gene was hom genadig. Of dalk is dit sukses wat ’n man so aantreklik maak.”
“Kan ’n onsuksesvolle man nie aantreklik wees nie?” wil Ben met ’n beterweterige laggie weet.
Cato kyk na Kristina. “Ai, hoe de hel verduidelik ’n mens vir ’n man daardie een?” Sy draai weer na Ben. “Dis seker moontlik, maar ’n man wat weet hy is goed in wat hy doen, het ’n aura om hom wat min met fisieke voorkoms te doen het. Dis soos iets wat hulle uitstraal en dit hoef nie noodwendig met ’n vet bankbalans gepaard te gaan nie. ’n Selfvertroue. ’n Wete. Ek weet nie waarom sukkel skoonheidshuise met geure en ondertone nie. Hulle moet liewer daardie iets bottel en verkoop.”
“Paul is op die oomblik een van die land se gewildste akteurs. Ek vermoed baie vroue kyk net die sepie om hom te sien.” Kristina knipoog vir Cato. “Mans hou egter nie so baie van hom nie.”
Cato blaas ’n soen in Ben se rigting. “Jy bly my gunsteling.”
Kristina staan op. “Terwyl jy my man se ego streel, gaan haal ek die kos.”
Ben en Cato keer gelyk.
“As jy begin rondloop, gaan jy terug bed toe.”
“Jy weet jy is nie my ginekoloog nie, nè?”
Ben soen haar in die nek en stap dan saam met Cato kombuis toe.
“Is sy orraait?”
“Ja en nee. Volgens al die toetse was dit werklik net een van daardie ongelukkige gevalle en behoort sy eintlik geen probleme te hê om swanger te raak of om die baba enduit te dra nie. Ek is eerder bekommerd omdat sy maak asof niks regtig gebeur het nie.”
“Teen haar agtergrond gesien, is hierdie dalk nie die einde van die wêreld nie.” Cato begin borde en messegoed uit die kaste en laaie haal, terwyl Ben die kos uit die oond haal.
“Ek verstaan dat haar perspektief waarskynlik anders is, maar ek weet ook sy het al ’n paar stukkies klere gekoop en dis nie meer in die kas waar dit was nie. Maar ek weet nie wat sy daarmee gedoen het nie.”
Cato gaan staan met haar rug teen een van die kombuiskaste. “Sy het die afgelope paar jaar ’n vreemde aardse wysheid bekom en ek dink nie jy moet té bekommerd wees nie. As sy die babaklere weggepak het, is dit dalk juis sodat jy dit nie moet sien nie. Of sy het dit miskien weggepak sodat sy nie gespanne daaroor moet raak nie.”
“Dis wat ek vir myself ook gesê het, maar ek wil net nie hê sy moet dit vir my probeer wegsteek as sy swaarkry nie.”
“Die manier waarop sy swaarkry hanteer, sal waarskynlik nooit weer dieselfde as destyds wees nie. Daar het sedertdien letterlik en spreekwoordelik baie water in die see geloop en sy het ’n paar spiere ontwikkel wat min van ons het.”
“Jy het ook ’n paar spiere bygekry.”
Cato glimlag skeefweg. “Jy weet ek is ’n lui mens. Fisiek en psigies verkies ek om so min moontlik te doen. Die feit dat ek deesdae so baie dink, voel soos ’n spinning-sessie in die gym en ek haat fietsry.”
“Dis maar die brein se manier om die gebeure te verstaan. Dit sal weer beter gaan.”
“Sê jy dit omdat jy dit hoop of omdat jy dit weet?”
“Ek weet dit.”
Cato tel weer die borde en messegoed op. “Ek wil dit glo, maar aan die ander kant voel dit soos verraad om daarop te hoop, want dit beteken ’n mens moet sekere dinge vergeet. Of in my geval iemand vir wie ek lief was, vergeet.”
“ ’n Mens vergeet nie. Die skerp kante van onthou raak net ronder, gladder, gemakliker om vas te hou. Soos ’n spoelklip.”
“Ek wil ook nie hê mense moet eendag van my sê ‘She had a lonely face, suggesting tragical possibilities’ nie.”
Ben lag hardop. “Ek is bly jy het teruggekom, al is dit dan net om ons almal soms te herinner om te lag. En op ’n selfsugtige noot is ek bly, want sy het jou gemis en ek wil nie hê sy moet iemand mis nie.”
“Steeds besig om die maan en die sterre vir haar te probeer pluk?”
Ben vee sy hand deur sy hare en Cato moet glimlag vir die verleë uitdrukking op sy gesig. “Darem net ’n paar sterre.”
Sy stap laggend voor hom uit stoep toe.
Kristina het ’n veraf uitdrukking in haar oë en Cato wonder waar haar gedagtes is. Sy het dit destyds ook gesien en gewonder hoe die plek lyk waarheen Kristina soms verdwyn het. Sy is nie seker sy ken nou die plek nie, maar vir die eerste keer is daar iets in die veraf kyk wat in haar eggo. En toe sy laataand in haar bed lê, dink sy aan ’n paar stukkies babaklere wat êrens weggepak is en sy huil sag in haar kussing.
Cato klim voor die teater uit die motor en bly eers ’n ruk staan. ’n Byna eenvoudige aansig van buite. Plakkate van toekomstige optredes versier die twee groot vensters. Die naam is in eenvoudige letters bokant die ou houtdeur aangebring. Big Pink. Volgens Mimi was dit die naam van haar studentehuis. ’n Huis waarvan die deure vir almal oopgestaan het. ’n Huis met ’n hart. Die naam herinner haar aan ’n outydse bordeel. Ruimhartig in haar vroulikheid. Sy wag vir ’n roering, maar dié kom eers toe sy die deur oopstoot en die tafeltjies en verhoog agter die portaal sien. Honderd-en-twintig. As elke stoel beset is, behoort daar honderd-en-twintig mense in die ruimte te wees. Die verhoog is nie baie diep nie, maar waarskynlik wyd genoeg vir akteur en rekwisiet, sanger en instrument. Die agterkant is behang met donker gordyne wat in netjiese plooie van die dak tot op die vloer hang. Teen die mure hang ’n verskeidenheid foto’s van kunstenaars, ou plakkate en hier en daar het iemand ’n boodskap teen die muur geskryf. ’n Eenvoudige ruimte, dink Cato. Soos ’n skoon skilderdoek wat wag op ’n prent om te gebeur. So wag die ruimte waarskynlik aand vir aand op ’n lied of ’n woord om te gebeur. Waar gaan sy soveel mense kry om aand na aand die eenvoudige na die besondere om te tower? Waar gaan sy genoeg mense kry om aand na aand die stoele vol te sit? Daar is weer ’n roering op die krop van haar maag. Sy vermoed dis eerder vrees as opwinding. En dan die stemmetjie wat die afgelope drie maande sy opwagting gemaak het. Wat sal Neil gesê het? Dat sy oorhaastig was? Dat sy eerder ’n meer standvastige beroep moes kies? ’n Werk met ’n vaste salaris, pensioenplan en hopelik ’n huissubsidie? Of sou hy gesê het “Go for it”? Maak jou eie magic. Moenie terugkyk nie. Selfs misdadigers word een telefoonoproep gegun voordat die seldeur agter hulle toeklap. Sy sou ook tevrede gewees het met een oproep. Of dalk twee. Net om al daardie laaste vrae te vra. Dit wat altyd ongesê bly, te sê. Te groet. Ordentlike mense groet mekaar as hulle weggaan.
“Cato?”
Die stem behoort aan ’n vrou in haar middel-veertigerjare. Effe plomp, half outyds aangetrek in ’n wit romp, toeknoophemp en plat leerskoene. Cato kan nie onthou wanneer laas sy hare gesien het wat geperm is nie. Klein pêreloorbelletjies rond die uitrusting af. Sy glimlag wyd en steek haar hand na Cato uit.
Cato stap nader en neem die uitgestrekte hand. “Ek is nie seker of ek op die oomblik Cato wil wees nie. As ek stilweg uitsluip, is daar ’n kans dat ek kan wegkom.”
“Jy lyk nie soos die bang tipe nie.”
“En jy lyk nie …” Cato suig byna die res van die woorde terug.
“Soos die poster child vir die bedryf nie?”
Cato lag verleë. “Maar jy kan gedagtes lees.”
“Teen hierdie tyd is ek net gewoond aan daardie kyk.”
Sy beduie na ’n tafeltjie en Cato gaan sit byna versigtig, asof sy nog nie seker is of sy gaan bly nie.
“Waar sal ons begin? Jy het die finansiële state en ander dokumente deurgelees, so al wat seker oorbly is om vir jou te vertel hoe alles werk. En om jou aan die nuwe liefde in jou lewe bekend te stel.” Sy bly stil en Cato weet wat gaan kom.
“Ek is jammer. Dit was ’n onnadenkende opmerking.”
Cato vee met haar hand deur die lug asof sy die woorde wegwaai.
“Maar ongelukkig is dit ook die volle waarheid. Hierdie besigheid is ’n jaloerse minnaar. ’n Interessante minnaar, maar helaas een wat nie vreeslik tyd vir ander dinge toelaat nie.”
“Ek is nie bekommerd oor my tyd nie. Ek weet net nie hoe kry ’n mens al hierdie stoele en tafels vol nie. En verder ken ek die bedryf ongelukkig goed genoeg om te weet die menslike faktor is een wat te alle tye ingereken moet word. En as daardie faktor enigsins kunstenaars insluit, ontaard dit seker soms in ’n ondoenbare wiskundige probleem.”
“Back-ups, my skat. Jy sorg dat jy ’n paar betroubare siele kry wat musiek kan maak, ’n opvoerinkie aanmekaar kan slaan, stand-up comedy kan doen … enigiets om jou gat te red as ’n kunstenaar op die nippertjie kanselleer.”
“Maar dis nie waarvoor die mense bespreek en betaal het nie.”
“Mense is redelik vergewensgesind as hulle sien jy het moeite gedoen om hulle steeds waarde vir hulle geld te gee. Selfs al moet jy op die verhoog klim en die can-can dans, dan doen jy dit. Moet net nie dat hulle hier uitstap sonder ’n bietjie entertainment nie. Dis soos om ’n slag weer jou beenhare te skeer, jou droë lyf met een of ander eksotiese olie te salf en jou sexyste slaapklere agter uit jou kas te grawe, net om te hoor jou geliefde is nie in die bui nie of moeg gewerk. Die eerste waaraan jy dink, is al die tyd wat jy gemors het. Jy kon veel eerder in jou sweetpakbroek voor die TV gelê en roomys eet het. ’n Mens wie se verwagtinge verydel word, is ’n gedugte vyand.”
Cato se gedagtes verstrengel byna in die beeld wat voor haar opdoem en sy sukkel om nie te giggel nie.
“Komedie en musiek bly die grootste trekpleisters. Ernstige drama het ’n paar geharde aanhangers, maar mense is deesdae nogal lui om te dink. En waarskynlik is die lewe daar buite hard genoeg dat hulle nie nog hier ook wil kom wroeg nie. Hulle wil vermaak word. Dis so eenvoudig soos dit. Jy kom dit ook dadelik in die aand se drankverkope agter. As dit goeie vermaak is, kuier hulle langer en drink meer. Gee vir hulle ’n bietjie blues-musiek en jy sit maklik hier tot die hane kraai.”
Cato kyk in die leë lokaal rond. Daar is ’n onderliggende energie, maar sy weet dis die mense wat die eintlike energie saambring. Hul afwagting, verwagtinge, asems, die eie menswees van elkeen. Die inspeel op mekaar. Daarin lê die energie opgesluit. Die magiese wat ’n redelik onopwindende lokaal in ’n feestelike ruimte kan omtower. En haar eie energie. Het sy op die oomblik genoeg om ’n bydrae te lewer, of gaan sy een van daardie parasiete wees wat net teer en niks teruggee nie? Die ou Cato het dit gehad. Sy het waarskynlik genoeg gehad om op haar eie hierdie plek te laat bruis. Maar nou is daar ’n tamheid in haar bene.
“Moenie so verwilderd lyk nie. Ek het reeds kunstenaars vir die res van die jaar bespreek. Nelson kán kosmaak, Felicity is ’n voorslag met die administrasie en Adriaan kan hierdie plek toe-oë bestuur. Trek jy net vir jou ’n paartierok aan, maak jou lippe rooi en omhels elke aand asof dit jou laaste is. Jy sal sien, dis eintlik heel verslawend. Sodra jy aangepas het by die onchristelike ure, die balans gevind het tussen kunstenaars se ego’s wat gestreel moet word en gatte wat geskop moet word, moeilike kliënte baasgeraak het en gewoond geraak het aan Nelson se donderweergesig, sal die res net ’n plesier wees.”
Cato glimlag. “En tog is jy bereid om na tien jaar al hierdie pret en plesier te laat gaan.”
“Soos ek vir jou oor die telefoon gesê het, as ’n mens op my ouderdom ’n man ontmoet wat nog sy eie tande het, min bagasie saamdra, selfversorgend is, twee volsinne agter mekaar kan sê en kans sien vir my, dink jy nie té lank of té ernstig nie.” Sy strek haar arms bo haar kop. “Selfs die idee om Gauteng toe te trek, het ’n silwer randjie om.” Sy staan op. “Kom ek stel jou aan almal voor en dan gaan ek my uit die voete maak. Ek moet nog ’n bruidsuitset gaan koop.”
Vyf paar oë kyk op toe hulle die kombuis binnestap. ’n Jong bruin meisie met ’n gemaklike glimlag en groot oë, ’n jong wit man met ’n skelrooi broek aan, ’n swart man in ’n sjefbaadjie, ’n bruin vrou met ’n donkerblou en wit gestreepte voorskoot om haar middel vasgebind en ’n jongerige swart meisie met dieselfde voorskoot aan.
Felicity, Adriaan, Nelson, Fatima en Precious. Onderskeidelik ’n dramastudent wat deeltyds met die besprekings en administrasie help, ’n B.Com.-gegradueerde wat volgens hom nog nie gereed is vir die korporatiewe wêreld nie, hoofsjef, assistentsjef en algemene kombuishulp. Haar reënboognasie, dink Cato.
Daar word oor en weer hand geskud en geglimlag. Almal sê ’n paar woorde, maak ’n paar beloftes van hulp en harde werk, behalwe die bonkige swartman met die sjefbaadjie aan. Nadat hy haar gegroet het, het hy doodeenvoudig sy rug op die groepie gedraai en iets begin neerskryf. Cato hoop stilweg dis nie sy bedanking nie. Sy is bereid om agter die kroeg te werk, kos aan te dra en as dit moet, sal sy selfs sing en dans dat die verhoog bewe, maar vir kosmaak sien sy nie kans nie.
“Ek gaan julle love and leave,” onderbreek Mimi haar gedagtes. “Kyk mooi na mekaar. Hou die gees hoog en die overheads laag.” Sy blaas ’n soen in die rondte.
Cato stap saam met haar terug vorentoe. “Is dit Nelson se gewone disposisie of is daar iets wat ek moet weet?”
“Hy het so drie jaar gelede hier begin en ons het maar aanvaar dis soos hy is. Ek het ’n paar keer deur die jare probeer om agter te kom of iets hom pla, maar het myself elke keer teen ’n muur vasgeloop. Miskien moes ek harder probeer het, ek weet nie. Ek dink ek was bang as ek te veel aan hom torring, loop hy dalk.”
“Fatima?”
“Sout van die aarde, maar nie op haar mond geval nie en tussen haar en Nelson spat die vonke soms. Moenie probeer bemiddel nie. Jy word dalk die enigste slagoffer. Hulle sorteer mekaar self uit. Precious is ’n engelkind. Die ander twee is maklik. Adriaan het kort-kort een of ander dramatiese issue en soek gewoonlik net ’n gewillige oor en ’n bietjie simpatie. Felicity is ’n liewe kind en besig met haar meestersgraad in drama.” Sy maak ’n wye gebaar met haar arms. “I give you the keys to my castle. Have fun.” Sy stap om die ontvangstoonbank en gooi ’n handsak oor haar skouer.
Cato waai terug en oorweeg dit vir ’n oomblik om ook net aan te hou loop, sonder om terug te kyk. Sy het ’n besigheid gekoop sonder om dit te sien. Waarna was sy op soek? ’n Rede om soggens op te staan? Of om saans te gaan slaap? ’n Inkomste? Op hierdie oomblik staan sy op ’n warm sypaadjie en weet nie waarom sy hierdie plek gekoop het nie. Behalwe dat dit op ’n sekere vlak sin gemaak het. Een laataand alleen in hulle stil woonstel. Of dalk het dit na ’n uitkoms gevoel. Miskien moes sy daardie aand net ’n rukkie op die klein balkon gaan staan en diep asemgehaal het. Dan het sy nie nou hier voor ’n klomp plakkate in ’n venster gestaan nie.
Sy draai om en sien hoe Felicity en Adriaan skielik besig raak agter die ontvangstoonbank. Albei glimlag toe sy instap. Asof oorgehaal. Waarvoor, weet sy nie. Sy hoop nie dis op ’n spanpraatjie nie.
“Hoe lyk die besprekings vir vanaand se vertoning?” vra sy die eerste vraag wat by haar opkom.
“Daar het so tagtig mense reeds bespreek en ons verwag, soos gewoonlik, ’n paar walk-ins. Die meeste studente is in die middel van ’n toetsreeks, maar die ouer klomp sal opdaag.”
“Is daar iets waarmee ek julle kan help?”
Adriaan skud sy kop. “Nee, Mimi het gesê jy val amptelik eers Maandag in, so jy kan die twee dae nog geniet en uitrus.”
Cato kyk in die lokaal rond asof sy haarself vir oulaas van iets wil vergewis voordat sy groet. Toe sy weer buite op die sypaadjie kom, stap sy na die koffiewinkel oorkant die straat. Sy gaan sit by ’n tafeltjie op die sypaadjie vanwaar sy die teater kan sien. Vir ’n oomblik oorweeg sy dit om Kristina te bel. Sy het iemand nodig om saam met haar na haar besigheid te sit en kyk. Sy bestel ’n koppie espresso en drink klein slukkies van die sterk, donker vloeistof. Van hier af besef sy die gebou waarin die teater is, dateer waarskynlik uit die begin van die vorige eeu, maar wie dit ook al deur die jare opgeknap het, was kundiges en hulle het iets van die oorspronklike romantiek van die gebou behou. Nie dat sy veel van argitektuur weet nie. Soos met die woonstelle, wag sy gewoonlik om te hoor of ’n gebou met haar praat. En hierdie een praat dalk met haar. Dit kan dalk ook die kafeïen wees wat haar bloedstroom getref het en haar stemme laat hoor. Sy kyk hoe twee meisies by die voordeur instap. Moontlik potensiële kliënte. Miskien moet sy by die voordeur gaan staan en hulle verwelkom. Of miskien moet sy huis toe gaan en oor die pad van hier af gaan dink. Haar toekoms. Nog ’n woord wat haar verwar. Ten volle of ten dele, maak dit nie veel sin nie. Daar moet sekerlik ’n beter beskrywing wees vir die onbekende wat voorlê. Haar weet-nie.