Читать книгу Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse - Страница 5

1

Оглавление

Ek is ’n weduwee. Cato sit terug en bekyk die vier woorde op die bladsy. Dis ’n sin, besluit sy. ’n Sin met ’n werkwoord. Nie ’n abstrakte konstruksie nie. Bo dit, op haar to do-lys, staan geskryf: Bankbestuurder. Blyplek. Vervoer. Daar moet ander dinge wees wat sy op haar lys kan skryf, maar op hierdie oomblik kan sy aan niks dink nie. Dalk moet sy vervoer bo blyplek inskryf. Wat is die belangrikste wanneer ’n mens ’n nuwe lewe begin? Wiele of ’n woonplek? Hoe beplan ’n mens aan die onbekende? Op ’n muur naby hulle woonstel het iemand geskryf: The cloud of unknowing. Is dit waarna hy verwys het?

Weduwee. Sy skryf die woord dwarsoor die to do-bladsy. En onder dit: O wee die wee. ’n Verdrietige naam vir ’n verdrietige toestand. Waarom nie huppel nie? Ek is ’n huppel, skryf sy skuins teen die bladsy af. Huppel is ’n aksie, terwyl weduwee ’n passiewe vonnis is. Sy verstaan deesdae waarom die weduwees in die Bybelse tyd so ’n bejammerenswaardige klomp was. Hoe uitsigloos was hulle bestaan nie. Hulle was nie huppels nie. Hulle was afhanklikes. Die weduwees en die wese. Nog ’n verdrietige woord. Maar ís dit so ’n onbenydenswaardige posisie? Gestroop. Sonder verpligtinge. Afhanklik. Geen besluite of toekomsplanne. Geen hoop. Dis swaar wanneer jy agterkom êrens in jou het ’n stukkie hoop agtergebly. Hoop is ’n wrede emosie. Veral as jy nie eers weet waarop jy hoop nie.

Sy kyk deur die klein venstertjie, die nag in. Die elektroniese kaart voor in die kajuit wys dat hulle ’n rukkie gelede die Middellandse See oorgesteek het en nou ’n klein flikkerende liggie in die donker Afrika-naghemel is. In een nag gaan hulle woestyne, reënwoude en savannavlaktes oorsteek. Die menslike liggaam kan al vinniger as die spoed van klank beweeg, maar het iemand al gemeet of die menslike gees kan bybly? Waarom voel dit dan vir haar of sy vanaand net uit vlees bestaan?

Sy kyk op toe die vliegtuig ’n effense ruk gee en sien hoe die man langs haar na die volgeskryfde bladsy kyk.

Sy wil dit omdraai, maar hy leun nader, druk met sy vinger op die bladsy en lees verder. Toe hy klaar is, sit hy weer terug in sy sitplek.

Cato kyk verbaas na hom, maar hy drink weer aan sy drankie terwyl hy sy boek verder lees.

Hy moet haar verbasing aanvoel, want hy kyk na haar met ’n skouerophaling. “Dit het interessanter gelyk as die boek wat ek lees.” Hy praat Afrikaans.

“En nou is jy nuuskierig.”

Hy skud sy kop en gaap agter sy hand. “Nie so erg dat ek jou gaan uitvra nie, want dan is ek vir die res van die nag dalk jou gyselaar.”

Cato kan nie help om liggies te glimlag nie. Hy herinner haar aan haarself, ’n eeu of twee gelede, voor Neil haar die woord “diplomasie” geleer het.

Na ’n rukkie draai hy skielik na haar toe. “Oukei, vertel my waarom het jy so ’n vreemde to do-lys.”

“En wat as ek jou vir die hele nag gyselaar hou?”

Sy skouers roer en sy mond pruil effens asof hy dink. “Ek sal die kans vat. Ek het al erger beleef.” Hy maak die boek toe. “En die boek is in elk geval baie vervelig.”

Cato maak ’n paar krabbelpatrone op die bladsy. “Ek ís ’n weduwee. Maar ek weet nie waarom ek dit neergeskryf het nie. Miskien wil my onderbewuste hê ek moet dit swart op wit sien sodat ek kan ophou om myself allerhande dinge te verbeel.”

Sy wag dat hy wegdraai, maar hy doen dit nie.

“Hoe lank is jou man al dood?”

“Drie maande. Hy was in ’n motorongeluk, een aand op pad van die werk af. Die pad was nat en ’n vragmotor in een van die ander bane het gegly en ’n kettingbotsing veroorsaak. Hy was ’n aktuaris.” En as nagedagte: “Ongelukke gebeur met slim mense ook, het ek uitgevind.”

Toe hy niks sê nie, vra sy: “Gaan jy nie sê jy is jammer nie?”

“Sal dit help?”

“Nee, maar dis wat almal sê.”

Dis so ’n eenvoudige sin. Met haar ma se dood het sy dit die eerste keer gehoor en gewonder waarom almal dit sê, asof hulle aandadig was. Maar deesdae weet sy dis uit magteloosheid, want wat anders is daar om te sê? Hou moed, dit sal beter gaan? Jy sal hieroor kom? Voor in die tonnel sal weer ’n lig skyn?

“Kom kuier jy?”

“Ek is sak en pak op pad terug Suid-Afrika toe. Dis seker ironies dat ek teruggaan terwyl almal daar probeer wegkom. Dis soos om in ’n eenrigtingstraat teen die verkeer in te ry.”

“Soms is dit juis waar die opwinding lê. Om teen die stroom te gaan.”

Cato skud haar kop. “Makliker gesê as gedaan. Veral as dit ’n vreemde pad is en jy bang is jy verdwaal of ry teen ’n afgrond af. En stroomop klink meer idillies as wat dit is.”

“Jy’s te jonk om dit te sê.”

“Is ek nie te jonk om ’n weduwee ook te wees nie?”

“Shit happens.”

Cato glimlag skeefweg. “Dit kan jy weer sê.”

Hy roep die lugwaardin nader en bestel vir hulle wyn. Toe Cato se wenkbroue lig, sê hy skouerophalend: “Versterking.”

“Is jy jammer jy het gevra?”

“Ja.”

“Ek het die afgelope paar maande gewens mense wil nie so nice wees nie, maar nou is ek dankbaar almal was nie so reguit soos jy nie. Miskien moet ek net ’n slaappil drink en hopelik van beter dae droom.”

“Daar is nie so iets nie. Dis ’n illusie waarmee mense hulself troos.”

“Sjoe, die meeste mense sou ten minste vir my gesê het ek moet probeer om moed te hou.”

“Sou jy hulle geglo het?”

“Dis irrelevant. Dis wat jy veronderstel is om vir iemand soos ek te sê.”

“En wat is jy veronderstel om met die nuttelose belofte te doen?” Sy wenkbroue lig vraend en hy lyk meteens vir Cato bekend. Of dalk ook nie. Teen hierdie tyd is die kajuit al redelik donker.

“Maak asof dit my troos.”

Hy skud sy kop. “En so spoeg en plak ons onsself en mekaar met liegstories aanmekaar. Dis waarom al meer mense soos plakkershutte lyk wat omwaai met die eerste bries wat opkom.”

Cato sug hardop. “Dalk moet ek maar daardie slaappil drink. Ek weet nie of ek vanaand soveel sinisme kan hanteer nie.”

“Wat is jou planne noudat jy terug is?” ignoreer hy haar woorde.

“Ek het ’n teaterrestaurant op Stellenbosch gekoop.” Miskien moes sy dié sin ook eers op papier getoets het; seker gemaak het daar is ’n werkwoord in. Behalwe teenoor haar pa en haar paar naaste vriende, het sy dit nog nooit eers hardop aan haarself gesê nie. “Ek het vyf jaar as student daar gewoon en twee jaar by die universiteit klas gegee voordat ons Londen toe gekom het. Ek het nog vriende daar en dit voel so na aan huis as wat ek seker op die oomblik sal kom.”

“Sal ’n vreemde plek nie beter gewees het nie? Skoon bladsy. Geen herinneringe. Nuwe lewe.”

Cato kyk deur die klein venstertjie en wonder of hy kan begryp hoe vreemd selfs die bekende vir haar geword het. Haar skouers roer. “Miskien sou dit beter gewees het, maar dis hoe dinge uitgewerk het.”

“Waarom ’n teaterrestaurant?”

“Ek het ’n meestersgraad in teaterbestuur.”

“Wat het jy in Londen gedoen?”

“By ’n teater uitgehelp wanneer hulle personeel nodig gehad het.” En gewag dat my regte lewe begin, praat haar gedagtes verder.

Hier en daar brand ’n leesliggie of flikker ’n televisiemonitor en Cato wonder waarom dit soveel makliker is om in die aand te praat. Asof ’n mens se tong ’n nagdier is wat eers begin lewe sodra die son sak. Waarom is mense minder bang om hulself in die nag te ontbloot? Selfs aan ’n vreemdeling wat nie aan beter dae glo nie?

“Waarheen is jý op pad?”

“Terug huis toe. Ek het ’n paar maande gelede Stellenbosch toe getrek.”

“Van waar af?”

“Johannesburg.”

“Is jy aan die universiteit verbonde?”

“Nee.”

Iets aan die manier waarop hy dit sê, keer Cato om verder te vra.

“Het jy in Europa vakansie gehou?”

“Nee, ek was daar vir werk.”

“Is jy getroud?” verander sy die onderwerp.

“Geskei.” Hy kyk op sy horlosie. “ ’n Jaar van bed en tafel, en presies ’n maand gelede op papier.”

Cato bekyk hom met meer aandag en hy glimlag. “Het ek skielik interessanter geword?”

“Nee, my vrae het net verdriedubbel. Hoe lank was julle getroud? Wie se skuld was dit? Is daar kinders?”

“Ons was vyftien jaar getroud. Skuld? Dit sal lekker wees as ek kan wegstaan wanneer dit uitgedeel word, maar dis selde so eenvoudig. Ons het een seun, Georgie, hy’s veertien.”

“Waarom hét julle geskei?”

“Waarom skei mense?”

Cato lig haar handpalms opwaarts. “Ek dink hulle raak op ’n dag net gatvol. Vir hulle werk, die kinders, hond, kat en huis. En dan haal hulle dit op mekaar uit of hulle gaan soek na groener gras. Waarvoor het julle moeg geraak?”

“Sy het haarself verloor.”

Cato kyk vraend na hom. “Hoe bedoel jy? Het sy weggeraak?”

“Nee. Sy het nie weggeraak nie. Sy het haarself verloor en gevoel sy sal haarself eerder vind as ek uit die prentjie is. Is dit nie een van daai dinge waarteen die vrouetydskrifte julle waarsku nie?”

“Glo jy nie dit kan gebeur nie?” vra sy.

Sy wenkbroue lig terwyl hy stil na haar kyk en sy glimlag.

“Jy is ’n baie siniese man.”

Sy kop skud. “Net realisties.”

“Is jy hartseer?”

Hy lag spottend. “A … wat ’n onskuldige vraag. Nee, ek is nie hartseer nie. Op my ouderdom is dit ’n emosie waarmee ’n mens spaarsamig omgaan.”

“Kan ’n mens ooit te oud vir hartseer wees?” Voordat hy haar kan antwoord vra sy: “Hoe oud ís jy?”

“Ek het ’n maand gelede nege-en-dertig geword.”

“Baie geluk. ”

“En jy? Hoe oud is jy?”

“Jy’s nie veronderstel om ooit ’n vrou na haar ouderdom te vra nie.”

“Jy is nog te jonk om sensitief oor jou ouderdom te wees.”

“Nege-en-twintig.”

“En hoe voel jy oor die naderende dertig?”

“Dit het my nie gepla nie, maar dis ’n aaklige ouderdom om skielik weer alleen te wees.”

“Ek neem aan julle het nie kinders nie.”

Cato skud haar kop. “Ek het nogal gemengde gevoelens daaroor. Aan die een kant kan ek nie genoeg dankie sê dat ek nie nou ’n kind het vir wie ek alleen verantwoordelik moet wees nie, maar aan die ander kant is dit nogal ’n jammerte dat Neil se gene nie sal bly voortleef nie. Hy was so ’n ordentlike mens en só verantwoordelik. Een van daardie ware goeie mense wat deesdae so skaars is.”

Met die sê van sy naam voel dit of die nagkoue skielik die kajuit binnedring en Cato trek die lugdienskombers oor haar skouers. Miskien is dit net die koue wat saam met alleenheid gaan. ’n Koue wat niks met die temperatuurlesing te doen het nie, en wat ’n mens veral in die klein ure van die nag kan laat bibber. Keats praat van die middel van die nag wat heuning word. Sy weet hoe dit voel om in die nag loperig te word. Vloeibaar. Asof ruggraat en ribbes in die donkerte versmelt tot ’n soet stroop.

“My ma is oorlede toe ek dertien was en ek weet nie eers of ek ’n goeie ma sal wees nie, maar ek het tog gedink eendag sal ek dalk wil kinders hê. Is jy ’n goeie pa?”

“Wat is ’n goeie pa?”

“Ek weet nie,” sê sy skouerophalend. “Na my ma se dood was my pa vir ’n tyd baie stil en byna eenkant, maar hy het tog reggekry om my en my broer te versorg en mettertyd het dit beter geword en op ’n dag het hy weer iemand gevind en hulle is getroud. Dit was nie altyd vir my lekker nie, want dit het gevoel of hy net weer begin mens word, toe bring hy ’n vreemde vrou huis toe.” Sy kyk buitentoe. “Vandag het ek groter begrip. Hy moes baie eensaam gewees het.”

“Kinders kan nooit ouers se emosies verstaan nie. Wanneer jy ’n ouer word, moet jy daarmee vrede maak dat jy in die oë van jou kind ’n byna geslaglose wese gaan wees. ’n Voorsiener, ’n trooster, ’n bewaarder.”

“Het jy en jou vrou ’n goeie sekslewe gehad? Toe die woorde uit is, voel sy hoe sy warm word. Die skemerte verlei haar tot vreemde intimiteite. “Ek is jammer. Neil kon nooit verstaan waarom ek so dikwels nié dink voor ek praat nie. Dit het tog met die jare verbeter, maar sedert sy dood is dit of ek stadig maar seker begin teruggly en ek kry myself nie gekeer nie. Soos jy kan hoor.”

“Ja, dit was nie die rede waarom ons geskei is nie.”

Sy skud haar kop. “Vergeet dat ek dit gevra het. Ek het geen begeerte om nou oor seks te praat nie.”

“Sou jou man skaam vir jou gewees het as hy gehoor het wat jy my vra?”

“Skaam is seker nie die regte woord nie. Hy het net gevoel ek kan soms meer taktvol wees. Volgens hom behoort ’n mens met die ouderdom beheer oor jou tong te kry.”

“Waarom het jy met hom getrou?”

Cato kyk verras na hom. “Jy het nou ’n heel verkeerde indruk gekry.”

“Ek het geen indruk nie. Dis sommer net nog ’n vraag … om die nagure om te kry.”

“Om een of ander rede het ek gedink as ek ooit eendag trou, sal dit met ’n half malle wees, heel waarskynlik ’n kunstenaar agter wie ek my lewe lank sal moet pendel, want geen regdenkende man sal vir my kans sien nie. En toe kom hierdie briljante, mooi man verby en hy wil met my trou. Ek dink ek kan dit tot vandag nie glo nie, en dis dalk waarom ek nie te veel kan kerm en kla omdat hy van my af weggeneem is nie. Iemand soos ek verdien nie so ’n mens nie.”

“Dink jy nie dis gevaarlik om iemand op so ’n hoë voetstuk te plaas nie? Die kanse is goed dat hy of sy in een of ander stadium daar gaan afval en dan sit jy met Humpty Dumpty. Of nog erger, jy voel jou hele lewe lank minderwaardig.”

“Is dit die indruk wat ek skep? Dat ek minderwaardig teenoor hom voel?”

“Nogal, ja.”

Cato maak patroontjies in haar notaboek.

“Jy wil tog ook nie met iemand trou vir wie jy geen bewondering het nie.”

Hy hou sy hande op. “Jy hoef nie jou huwelik te probeer verdedig nie. Dit was sommer net ’n opmerking.”

Sy kyk weer deur die venstertjie en voel hoe die verlatenheid soos ’n tweede vel aan haar kleef. Sy herken die gevoel. Dis soos ’n rok wat jy reeds vantevore gedra het en gesweer het jy nooit weer sal aantrek nie.

“Jy was ’n baie geduldige gyselaar, dankie. Maar nou sal ek jou loslaat. Ek hoop jy slaap lekker.” Sy draai weg van hom af op haar sy.

Op die punt van die vlerk flikker ’n rooi liggie ritmies. Soos ’n polsslag. Miskien is dit die hart van die vliegtuig, en solank daar ’n hartklop is, is dit seker ’n teken van lewe. Gedurende daardie eerste weke het sy dikwels met haar hand op haar hart gelê asof sy versekering nodig gehad het dat sy nog leef. Hoe weet ’n mens in elk geval dat jy leef? Kan dit nie maar alles net ’n droom wees nie? Miskien is dit sý wat dood is en Neil is springlewendig in hulle woonstel. Sy maak haar mond oop om die vraag hardop te vra, maar bedink haar. Genoeg is genoeg. Sy skuif haarself reg en maak haar oë toe. Dit was ’n lang dag, ’n lang week en ’n eindelose drie maande. Sy kan voel hoe haar gedagtes verward na paaie soek en sy maak haar oë toe. Miskien, net miskien, lê sy langs hom in hulle bed wanneer sy wakker word.

Vier seisoene kind

Подняться наверх