Читать книгу Die boek van Ester - Wilna Adriaanse - Страница 11
Оглавление8
Samuel kyk na die figuur wat steeds op dieselfde plek staan en dan stap hy haastig na Ester toe. Sy arms vou om haar en hy begin paaiende geluide maak. Haar gille het intussen stilgeraak, maar in die bome bo hulle koppe het voëls en ape blykbaar wakker geword. Daar is skielik ’n gefladder en ’n skril geskreeu.
Samuel sit sy hande om haar gesig. “Kyk na my.” Hy wag tot sy opkyk. “Alles is reg. Ek ken hom.”
Met sy een hand om haar skouers kyk hy na die ander man en terwyl hy sy kop skud, begin hy praat. “Wat de donner doen jy? Ek kon jou doodgeskiet het.”
“Hoe moes ek geweet het jy’s nie alleen nie!” Die besoeker gooi sy hande in die lug. “Ek kon dit nog nooit regkry om jou te verras nie, waarom sou ek gedink het vanaand sal anders wees! Ek het aanvaar jy het my lankal gehoor.” Hy gaan sit op die naaste stoel terwyl hy sy hand op sy hart sit. “Ek kon ’n hartaanval gekry het.”
Ester hoor die woorde en die Afrika-tongval, maar dis ’n vreemde taal wat sy nie verstaan nie. Die man op die stoel is donker van gelaat met ’n fyn beenstruktuur, ’n sterk neus en hoë wangbene. Sy voorsate moes wyd in Afrika gereis het.
“Ester, dit is my vriend, Robert Morewa. Robert, dis Ester Green. Ira se suster.”
Robert kom orent en stap nader tot hy sy hand na haar uithou. “Ek vra opreg verskoning dat ek jou so gruwelik laat skrik het. As ek geweet het Samuel het gaste, sou ek beslis nie so onaangekondig en ongenooid hier opgedaag het nie.”
Ester skud sy hand en probeer die bewing in haar tot bedaring bring. Hy praat ’n byna perfekte Engels asof hy so pas uit Engeland hier aangeland het.
“Ek is jammer ek het so gegil.” Sy kry die woorde met moeite uit.
Hy skud sy kop. “Ek neem jou nie kwalik nie. Ek is seker jou brein het vir jou gesê ’n swart man in swart klere wat oor die reling klim, is definitief gelyk aan ’n moordenaar.”
“Dis nie ...”
Hy glimlag skielik breed. “Twee plus twee ... in hierdie land ... jy sou dom wees as jy dit nié gedink het nie.” Samuel het intussen kombuis toe geloop en hou nou ’n glas na Ester uit. “Drink, dit sal die skrik laat bedaar.”
“Ek is orraait.”
Hy druk haar op die rusbank neer en sit die glas in haar hand. “Drink dit in elk geval.” Toe hy langs haar op die rusbank gaan sit, kyk hy na Robert.
“Ek het nie ’n voertuig gehoor nie.”
Robert maak homself op een van die gemakstoele tuis en glimlag. “Jou aandag was met ander dinge besig.” Samuel gee hom ’n veelbetekenende kyk. “Waar is jou voertuig?”
“ ’n Ent hiervandaan, windaf. As ek geweet het jy’s nie meer so skerp nie, kon ek baie nader gestop het.”
“Was jy by die kamp aan?” Samuel gaan haal ’n botteltjie bier uit die yskas en kom gee dit vir Robert.
Hy neem ’n lang sluk. “Nee, ek was nie seker waar Pappa Elias vanaand slaap nie.” Hy skud sy kop. “Ek kan nie verstaan waarom hy nie van my hou nie.”
“As Kiki my dogter was, sou ek ook nie van jou gehou het nie.”
Robert kyk na Ester. “Hoe gaan dit met Ira?”
“Dit gaan goed met hom. Waarvandaan ken julle mekaar?”
“Ons het per geleentheid mekaar al raakgeloop. Ek dink die eerste keer was so twee jaar gelede toe Sammy ons aan mekaar voorgestel het.”
“Woon jy in Johannesburg?”
“In Jozi?” Hy neem eers weer ’n sluk en skud dan sy kop. “Dis nie ’n lekker plek daardie om in te woon nie.”
“Robert woon in Lusaka.”
“Jy’s ’n Zambiër.”
Hy skud sy kop. “Eintlik ’n Zimbabwiër, soos Sammy.”
“Ons het saam grootgeword. Sy pa is ’n dokter by dieselfde sendingstasie waar my ouers gewerk het. Sy ma is ’n onderwyseres. Een van die bestes wat daar is.” Samuel kyk na Robert. “Hoe gaan dit met hulle?”
“Baie goed. My ma raak net haastig vir kleinkinders.” Samuel lag. “Ek hoop nie haar verwagtinge het iets met jou te doen nie.”
“Shani is volgens haar nog te jonk en moet eers klaar leer.” Robert gaan haal nog drie biere uit die yskas en gee die ander twee vir Samuel en Ester. Ester skud haar kop en sak laer af teen die leuning van die rusbank.
“Wanneer het jy gekom?”
“Ek is eergister by die huis weg, maar ek het ’n paar dinge langs die pad gehad om te doen. En dan natuurlik moes ek soveel petrol saamry, want met al oom Bob se manewales in Zim, weet ’n mens nooit of daar nog petrol beskikbaar is nie.” Hy vee oor sy gesig. “Hulle behoort daai man ’n medalje te gee. Daar is nie baie mense wat daarop kan roem dat hulle manalleen vir die ondergang van ’n hele land verantwoordelik is nie.”
Ester kyk na Samuel waar hy langs haar op die breë rusbank sit en sy lig haar wenkbroue effens. Hy glimlag. “Hy het dit darem nie alleen gedoen nie. Daar was beslis ’n paar maatjies wat hom gehelp het.” Hy kyk na Ester. “En ja, ondanks Bob en sy trawante glo ek steeds dat daar hoop is. Ons kan nie bekostig om moedeloos te word nie.”
“A-a-a, hoe verblydend dat jy nog nie jou optimisme verloor het nie.” Robert skud sy kop. “Al vermoed ek jy is deesdae omtrent nog die enigste een in die ganse Afrika suid van die Sahara wat so voel.”
Ester glimlag. “I rest my case.”
“Moet haar nie in haar kwaad sterk nie. Sy beweer ek is ’n dinosourus wat nog net nie agtergekom het my spesie het almal al uitgesterf nie.”
“Het jy al na een van sy praatjies gaan luister? As jy dit nog nie gedoen het nie, moet jy gerus gaan. Dis ’n belewenis om te sien hoe hy ongelowiges binne ’n uur tot ander insigte kan bring. Die man is ’n towenaar wat dit betref.”
“Ek het dit beleef, maar ek is oortuig die lammes wat hy weer laat loop, was nooit lam nie en die blindes kon nog altyd sien. Hy preek vir die gelowiges, maar laat dit soos ’n massabekering lyk.”
Robert lag skielik hardop terwyl hy met sy plathand op sy been slaan en na Samuel kyk. “En jy laat haar daarmee wegkom? My kop sou gerol het.”
“Where ignorance is bliss, ’tis folly to be wise.”
“Profetiese woorde, as ons nou net kan ooreenkom waar die dwaasheid lê. Soos dit vir my lyk, is jy op die oomblik in die minderheid.”
Samuel neem ’n sluk bier en glimlag lui toe hy na haar kyk. “Ek hoop nie jy beroep jou op vriend Robert hier nie. Hy is ’n prostituut. Hy verkoop idees aan die eerste, hoogste bod, afhangend van wat jy wil hoor.”
Robert staan op en hulle hoor hoe hy die yskas se deur oopmaak. “Ek hoop nie julle gee om as ek die reste opeet nie. Ek is rasend honger.”
“Hou net vir Ester ’n stukkie lewer oor. Dis haar gunsteling.”
Ester het mettertyd al meer regop gesit en sy rek nou haar nek asof sy oor die toonbank sal kan sien. “Hoe smaak koue lewer?” Sy ril sigbaar.
“ ’n Mens kan sien jy was nog nooit honger nie.”
“Wat doen hy vir ’n lewe?” Sy vra dit effens onderlangs asof sy nie wil hê Robert moet haar hoor nie.
“Robert, Ester wil weet wat doen jy vir ’n lewe.”
“Ek gee klas by die Universiteit van Zambië.”
“In watter vak?”
“Politieke Wetenskap.”
“Dan behoort jy mos te weet waarvan jy praat. Waarom help jy nie jou vriend reg nie?”
Robert kom sit met die bord kos by die tafel. “Dis nie asof ek nog nie probeer het nie.”
“Waarom woon jy nog in Afrika? Daar is tog seker ander universiteite in die wêreld waar hulle Politieke Wetenskap aanbied.”
Robert kou stadig asof hy haar nie gehoor het nie. Samuel sit agteroor en glimlag. “Smaak die lewer lekker?”
“Heerlik.”
“Waarom woon ...” begin Ester haar vraag herhaal, maar Robert onderbreek haar met ’n sug.
“Ek het jou gehoor.”
“Hy kan jou nie antwoord nie.”
“Hoe moeilik kan dit wees?”
“Waarom het jý teruggekom?” wil Samuel van haar weet.
Ester kyk na Samuel. “Ek het jou nie gevra nie. Ek wil hoor wat hý sê.”
“Ek bly vir die rooiboklewer.” Robert vee sy mond af en sit agteroor op die stoel.
“En as daar nie meer rooibokke oor is nie?”
Robert vee oor sy kop. “Sjoe, dan sal dit seker moeilik wees om te bly.”
Ester kyk van hom na Samuel. “Waarom sê julle nie liewer net julle het nie ’n benul waarom julle bly nie?”
“Ons het nie ’n benul waarom ons bly nie,” koor hulle saam.
Robert kyk op sy horlosie. “Nouja, ek gaan dit maar waag en kyk of Pappa Elias nie dalk al slaap nie.” Hy staan op en rek sy arms bo sy kop voordat hy oorstap na waar hulle op die rusbank sit en sy hand na haar uithou. “Dit was aangenaam om jou te ontmoet en ek vra weer eens verskoning dat ek julle rustige aand so ongenooid onderbreek het.”
Samuel staan ook op. “Kom, Green, dat ek jou huis toe neem. Ek wil nie môre beskuldig word dat ek jou teen jou wil hier gehou het nie.”
“As jy in elk geval van plan was om my kamp toe te neem, kon jy dit mos lankal gedoen het.” Sy staan op en gaan haal haar kamera op die toonbank. “Nou het hulle sekerlik al klaar geëet en ek sal honger moet gaan slaap.”
“Ek is seker ná die veertig sigarette wat jy vanaand gerook het, is daar nie nog plek vir kos in jou lyf nie. Jou smaakorgane is in elk geval nou so afgestomp dat jy nie die verskil tussen lewer en lemoene sal kan proe nie.”
“Ek het nie veertig gerook nie.”
“Oukei, nege en dertig dan.” Hy neem die kamera by haar en sien die klam kol teen haar hemp.
“Met al die opwinding het ek toe nooit vir jou ’n droë hemp gegee om aan te trek nie.”
“Ek sal oorleef, en waarom ry ek nie sommer net saam met Robert nie?”
“Hy kan nie dié tyd van die aand daar aankom nie. Ek gaan hom net by sy voertuig aflaai sodat hy kan terugkom.”
Ester maak haar mond oop om iets te sê, maar die twee mans is reeds by die trap en sy stap haastig agterna. In die Jeep hang Samuel ’n baadjie oor haar skouers.
“Dit kan soms koel word in ’n oop voertuig.”
Minute later sak hulle in die rivierbed af en Ester kyk verbaas na die verlate voertuig langs die tweespoorpaadjie.
“Het jy al die pad hiervandaan gestap?”
Robert spring flink agter uit die Jeep. “Daar is ’n korter pad.” Hy lig sy hand. “Goeienag.”
Ester kyk om toe hulle wegtrek en teen die gloed van die agterligte sien sy vaagweg hoe hy hulle agterna kyk.
“Waarom bekruip julle mekaar in die nag tussen wilde diere deur? Gee dit julle een of ander kick?” Sy het weer na Afrikaans oorgeslaan.
“Sommer speletjies.”
“Of julle is opgelei om onsigbaar rond te beweeg. Die vraag is net, waar is julle so opgelei?”
“Moenie dat jou vrugbare, joernalistieke verbeelding met jou weghardloop nie.”
“ ’n Mens kan agterkom daar lê ’n leeftyd se gedeelde ervarings en woorde tussen julle twee. Ek dink die feit dat jy my skielik terugneem, is omdat julle nie voor my wil praat nie. Ek dink nie hy’s hier met vakansie nie.”
Samuel lag sag. “Miskien is jy reg, of miskien is hy maar net hier omdat hy na Kiki verlang.”
“Is daar iets tussen hom en Kiki aan die gang?” Sy kyk verbaas na hom terwyl sy probeer om ’n beeld van die twee persoonlikhede op te roep. Die mooi, slanke meisie met die ritmiese swaaistap, breë glimlag en vriendelike oë en die man met die donker oë wat ongesiens oor dakhoogte-relings kan klim en Politieke Wetenskap doseer.
“Hy probeer al lank en ek dink van haar kant af is sy nie ongeneë nie, maar Elias is nog nie bereid om sy seën op die verbintenis te sit nie. Binne die eg of daarbuite. En as hy moet weet Robert is in die nabyheid, slaap hy weer vir die volgende paar nagte nooit.”
“Waarom hou hy nie van hom nie?”
“Dis nie soseer dat hy nie van hom hou nie. Hy is maar ’n tipiese pa wat wil seker maak ’n man sal goed vir sy dogter wees.”
“Waar het hulle mekaar ontmoet?”
“Net nadat ek die lodge laat bou het. Hy was hier vir die opening.”
“Sy is ’n baie aantreklike meisie. Ek sal haar graag wil afneem.”
“Sy is ’n baie spesiale mens en ek is gelukkig om haar hier te hê. Die gaste kan gewoonlik nie uitgepraat raak oor haar vriendelikheid en behulpsaamheid nie en die beste van alles is dat sy dit werklik geniet.”
“Sy kan ’n model wees met daardie lyf en gesig.”
“Moet nooit dat Elias hoor wat jy nou sê nie.” Terwyl hy nog praat, hou hy skielik stil en sy kyk vraend na hom.
“Moet asseblief nie weer sê ons is tussen ’n trop buffels nie.”
“Hier’s leeus naby.” Hy skakel die voertuig af en Ester voel hoe sy onder die baadjie ril. Sy weet nie wanneer laas in haar lewe sy op een dag soveel hoendervleis gekry het nie. Dis of haar vel permanent saamgetrek is.
“Wat as die Jeep nie weer wil aanskakel nie?” fluister sy terwyl sy om haar probeer kyk.
Hy haal iets agter die sitplek uit en oomblikke later hou hy ’n sterk soeklig omhoog. Die veld om hulle word helder verlig en toe hy stil met sy hand beduie, sien sy dit ook en sy trek haar asem in. ’n Entjie van die Jeep af, net langs die tweespoorpaadjie, lê ses leeus, besig om aan ’n redelik vars sebrakarkas te vreet. Hulle oë blink in die lig en sy kan die rooi bloedvlekke om hulle monde sien. Sy probeer so stil moontlik haar kamera uithaal en neem haastig ’n paar foto’s.
“Hoe voel jy oor die toneel wat besig is om voor jou oë af te speel?”
Ester laat sak die kamera effens. “Wat bedoel jy?”
“Hoe ervaar jy dit? Dink jy dis ’n wreedaardige toneel?”
Sy neem weer ’n foto. “Ja, ’n mens kan seker sê dis wreedaardig.”
“Waarom is dit wreedaardig?”
Haar skouers roer onder die baadjie. “Om te sien hoe ’n dier verskeur word.”
“Tog neem jy foto’s.”
“Dis nie aldag dat ek so iets sien nie. Ek wil dit vir Henry gaan wys.”
Samuel leun effens na haar toe oor en beduie voor haar verby. “Kyk daar links, aan die rand van die ligkring.”
Ester se blik volg sy vinger en dan sien sy die drie jong leeutjies wat huiwerig wag, maar tog voetjie vir voetjie nader aan die feesmaal beweeg. Hulle lywe nog effens lomp en hulle pote te groot.
“Maak dit die toneel minder wreedaardig as jy weet dit is maar net ’n klomp ma’s wat vir hulle gesinne aandete huis toe gebring het?”
Sy laat sak die kamera en kyk na die vreemde toneel. “Ek weet nie.”
“Is jou simpatie by die sebra of by die honger leeus? Of is dit dalk maar net ’n toneel wat deel van die lewe is en nie werklik emosies verg nie?”
Die kamera lê nou op haar skoot terwyl sy met nuwe aandag na die toneel voor haar kyk.
Hulle sit omtrent nog tien minute so stil voordat Samuel die lig afskakel en hulle weer verder ry. “Daar is ’n ou Afrika-gesegde wat daarop neerkom dat daar elke oggend in Afrika ’n springbok, hier by ons ’n rooibok, wakker word en weet dat hy vandag vinniger as die vinnigste leeu sal moet hardloop as hy nog ’n dag wil sien. En elke oggend word ’n leeu in Afrika wakker en hy weet hy moet vandag vinniger as die stadigste springbok kan hardloop as hy nie van hongerte wil sterf nie.”
“Oorlewing van die sterkste.” Sy sê die woorde half ingedagte asof sy met haarself praat.
“Dink jy ’n foto kan ooit werklik aan ’n oomblik of gebeurtenis reg laat geskied?”
“Ja, ek het al ongelooflike foto’s gesien. Daardie een-uit-’n-miljoen foto wat die essensie van ’n oomblik vasgevang het.”
“Om dit te kan doen, moet ’n fotograaf eers die wêreld sonder ’n kamera beleef het. Jy kruip agter jou kamera weg. Om nie te ervaar nie.”
“Jy het nog nie eens van my foto’s gesien nie!”
“Nee, maar ek sien jou en ek sien hoe jy altyd eerste na jou kamera gryp. Sodoende hoef jy nie emosioneel of intellektueel betrokke te raak nie.”
“Is dit waarom jy al die onsinnige vrae gevra het?”
“Ten minste weet ek jy het ’n rukkie behoorlik gekyk en ingeneem.”
“Is Robert regtig ’n dosent by die universiteit?”
“Ja, waarom vra jy? Dink jy hy het vir jou gelieg?”
Sy skud haar kop. “Nee, ek weet nie hoe om dit te beskryf nie, maar dis asof daar iets aan hom is wat my bang maak. Dieselfde geld vir jou. Nou die dag by die kongres het jy vir my soos ’n goeie, onskadelike groene gelyk en die meeste van die tyd klink en lyk jy net te goed om waar te wees. All love and peace. Maar vanmiddag op die olifant se rug en vanaand nadat Robert daar aangekom het, was dit of ek iemand anders onder die vreeslik vreedsame uiterlike gesien het.”
“Ek weet ek het dit al gesê, maar jy is ongetwyfeld jou pa se kind. Julle verbeeldings hardloop op paaie wat nog nie eens gekarteer is nie. Indien dit moontlik is, is jy selfs nuuskieriger as hy. Dis óf dit, óf die lang ure in die buitelug en in die son wat jou laat hallusineer.”
“My pa se aanvoeling het hom daar teen die einde in die steek gelaat, maar ek het nog altyd baie vertroue in myne gehad en ek weet ek is nie verkeerd nie.”
“Ek is bly jy het soveel vertroue in jou aanvoelings. Dit kan ’n mens soms handig te pas kom.”
“Jy gaan my nie antwoord nie.”
“Ek het nêrens in al die gepraat ’n vraag gehoor nie.” Ester lag onderlangs. “Vir ’n wetenskaplike is jy baie vaardig met woorde.”
“Hier’s ons.” Hulle ry die kamp binne en Ester is bly sy moes nie alleen die pad probeer vind het nie. Sy het nie ’n benul hoe hulle hier gekom het of waar sy huis van hier af sit nie. Miskien verkies hy dit ook so, dink sy stilweg toe hy uitklim en die deur vir haar kom oopmaak. Toe sy die baadjie wil uittrek, skud hy sy kop. “Los dit sommer by Kiki of Melany wanneer julle Saterdag vertrek.”
“Beteken dit ek gaan jou nie weer sien voor ek teruggaan nie?” Toe die vraag uit is, kan Ester nie besluit of sy haarself moet skop of vir haarself moet skaam kry nie. “Wat het van jou belofte geword dat ek jou huis vir Henry kan gaan wys?”
“Ek het nog nie gehoor dat jy belowe het jy sal die foto’s op jou kamera uitwis nie.”
Sy druk haar hande in die baadjie se sakke en skopskop na ’n denkbeeldige klippie op die grond. “Dis nie asof jy kaal op die olifant gesit het en ek dit op die internet gaan versprei nie.”
Sonder om haar te antwoord roep hy na een van die wagte en toe die man nader stap, praat hulle ’n oomblik voordat hy in die Jeep terugklim. “Goeienag. Hy sal saam met jou kamer toe stap.”
Ester voel soos ’n kind wat haar voete teen die grond wil stamp toe sy die Jeep agterna kyk. Toe sy omdraai, staan die wag met ’n glimlag na haar en kyk, asof hy haar gedagtes kan lees. Sy sal graag wil hoor wat hy op daardie oomblik dink, want sy is nie seker van haar eie gedagtes nie. Al waarvan sy bewus is, is ’n gevoel van intense frustrasie. Sy stap stil agter die man aan.
“Jy’s vinnig terug.” Robert sit langbeen op een van die rusbanke toe Samuel by die huis aankom. Hy beduie na die bottel whiskey en twee glase wat op die koffietafel staan. Waterdruppels blink op sy hare en hy het ander klere aan. “Ek het nou net klaar gestort en was net van plan om vir my ’n bietjie van jou lekker whiskey te skink. Ek was nie seker hoe lank jy gaan weg wees nie, maar het darem solank vir jou ook ’n glas gebring.” Hy buk vooroor om te skink. “Is juffrou Green veilig in die bed?”
“Ek neem aan sy is veilig in die bed.” Samuel gaan sit oorkant hom en neem een van die glase.
“Hel, ek’s jammer oor vanaand. As ek geweet het jy’t geselskap, sou ek verbygehou het, maar toe ek lig sien, kon ek die versoeking nie weerstaan nie. Dit was egter nie nodig om haar huis toe te neem nie. Ek kon sommer in die Land Rover geslaap het ... of in jou spaarkamer.”
“Vir jou straf behoort jy heelnag wakker te sit, verkieslik op ’n spykertafel of iets wat redelik seer kan maak. Jy het my tien jaar ouer gemaak met jou sluipery. Ek wil nie eens weet watter nagmerries sy na dese gaan hê nie.”
“Jy kon haar hier gehou het sodat sy nie vannag alleen met haar nagmerries is nie.”
“Ek gaan nie byt nie, so los nou maar die gevis. As ek haar hier wou hou, sou ek.”
“Jy bring gewoonlik nie sommer vrouens huis toe nie. Ek het maar net aangeneem ... en sy’t iets ... behalwe die voor die hand liggende. Daar’s ’n vuur, ’n diepte wat baie interessant kan wees om te leer ken.”
“Lyk ek vir jou na ’n man wat nou tyd of lus het om met vuur te speel?” Samuel skud sy kop. “Ek soek nie nou moeilikheid nie.”
“Wie sê sy’s moeilikheid?”
Samuel lag sag. “Glo my, sy’s moeilikheid. Mad, bad and dangerous to know.”
“Jy was nog nooit ’n bang man nie.”
Samuel maak homself geriefliker op die bank. “Oukei, genoeg oor my dapperheid. Waaraan het ek die besoek te danke?”
“Moet jy altyd so agterdogtig wees? Wie sê ek het vir jou kom kuier?”
“Jy is besig om twee vlieë met een klap te slaan. Jy het nuus, wat jy waarskynlik oor die telefoon of deur middel van die internet kon aangestuur het, maar jou hart verlang en toe besluit jy om die nuus self te kom oordra.”
Robert sug. “Jy kan ook maar soms probeer om verkeerd te wees.”
“Wat’s aan die gang?” Samuel voel hoe ’n bitter smaak in sy mond kom lê.
“Ek is seker jy weet dat ’n nuwe sindikaat besig is om hulself te organiseer en hulle het baie meer geld as die vorige een, baie wyer konneksies en heelwat regeringsamptenare op hulle betaalstaat. Nie net hier nie, maar oor die hele suidelike Afrika. Suid-Afrika is miskien minder kwesbaar omdat feitlik al julle wild in privaatbesit of in staatsbeheerde wildparke is, maar indien dit vir hulle maklik gemaak word, sal hulle nie skroom om al verder suid te kom nie. Heinings kon hulle nog nooit uithou nie, en as die plaaslike bevolking bereid is om inligting of hul dienste te verkoop, sit julle ook maar soos die res van die subkontinent met ’n dam waarin daar ’n onsigbare lek is. Jy weet hoe moeilik dit is as die plaaslike bevolking deel van die probleem raak.”
Samuel staan op en begin in die kombuis werskaf. Ná ’n paar minute kom hy met ’n fles koffie en twee bekers terug.
“Ek het gerugte gehoor, maar dit was so vaag en so uiteenlopend dat ek my nog nie te veel daaraan gesteur het nie.”
“Ek wens dit was maar net gerugte, maar ek is bevrees hierdie storie kom uit die binnekringe.”
Samuel vra hom nie waar hy aan die inligting kom nie, net soos Robert hom ook nie vra waar hy die gerugte gehoor het nie. Deur die jare het hulle geleer om slegs die nodige te vra en mekaar se inligting en aanvoeling te vertrou.
“Hoe wyd is hulle al bedrywig?”
“Daar was al ’n paar voorvalle by ons in die noordooste, vier gevalle in Zim en twee in Botswana. Hulle kom met swaarkalibervuurwapens en in al die gevalle was van die plaaslike bevolking betrokke. Dit bly die moeilikste om te beheer wanneer jou eie mense betrokke raak. En steeds laat hulle hul verlei deur ’n paar muntstukke, terwyl die grootbase met die miljoene wegstap. By ons en in Zim is veldwagters doodgeskiet.”
“Ons het volgende week ’n vergadering in Johannesburg. Ek sal tog hoor of die nuus al hier uitgekom het. Alhoewel, as daar amptenare betrokke is, sal dit eers so lank moontlik stilgehou word.”
Robert skink vir hom ook ’n beker koffie en sit agteroor.
“Maar dis nie al nuus wat jy het nie, is dit?”
Robert skud stadig sy kop. “Ek bring eintlik vir jou ’n persoonlike waarskuwing. Jy moet versigtig wees. Jy was nog altyd uitgesproke, maar ’n paar mense voel jy begin op te veel tone trap en jy besit die vermoë om elke keer die liddorings raak te trap. Nie net bewaringsmense s’n nie, maar politici s’n ook.”
“Dis nie op die politici se tone wat ek trap nie, dis die groot maatskappye wat sorg dat die politici se Switserse bankbalanse maandeliks groei, op wie se tone ek trap, en hulle verdien dit.”
Robert lig sy hande. “Dis juis die mense op wie se tone jy nie wil trap nie. Hulle kan nie bekostig dat al wat politikus en landsburger is, skielik ’n gewete ontwikkel nie. Dit gaan nie hulle bankbalanse goed doen nie.”
“Fok hulle bankbalanse! Kyk hoe lyk hierdie kontinent.”
“En tog verkondig jy nog drome van hoop en vrede.”
“Want ek glo dit. Ek sal dit glo tot ek die dag doodgaan en ek sal dit bly verkondig tot ek nie meer ’n stem het nie. Ek sien genoeg mense wat daagliks lewe in hierdie hoop en op hulle manier ’n verskil maak. As dit nie vir hulle was nie, sê ek jou, was die waansin al baie erger. Die ou Romeine het oor die hele Europa mure gebou om die barbare te probeer uithou. In Afrika is die mure ongelukkig nie van opmekaargestapelde stene nie, maar van mense gemaak. Dié wat begryp waaroor dit gaan, is al wat tussen ons en die vergrype van die waansinniges staan. Dis net jammer dat die waansinniges ’n harder stem en ’n groter beeld in die media het. Niemand hoor of sien die ander nie. Die stil meerderheid wat maar net dag vir dag ’n eerlike bestaan wil maak.”
Samuel vee oor sy gesig. “Waarom stel niemand belang om hulle stem te wees nie?”
“Hulle het nie die geld nie. Politiek gaan oor twee goed ... mag en geld, maar ek dink deesdae gaan dit meer oor geld as mag. Mag sonder geld beteken nie meer veel nie. Wie wil met ’n septer in die hand, maar op ’n leë maag gaan slaap?”
“Maar die dag as hulle bakhand voor die kiesers kom staan, praat hulle oor vaderlandsliefde en demokrasie, werkgeleenthede en huise vir almal. Ná die verkiesing word dit eieliefde, tirannie, werkgeleenthede vir familie en napraters, en paleise vir ’n paar uitverkorenes.” Samuel skud sy kop stadig heen en weer. “No science is immune to the infection of politics and the corruption of power.”
“Dis jammer die mooie juffrou Green kan jou nie nou hoor nie. Sy sal dalk begin dink daar’s hoop vir jou. Dat jy nie so blind idealisties is soos jy klink nie.”
“Ek is nie blind nie; ek verkies net om te glo ons kan ’n verskil maak. Die stil massa moet miskien net harder begin fluister, hulle hoef nie eens te gil nie. Hulle fluistering sal genoeg wees, want dis die stem van rede.”
“Genoeg politiek vir een aand. Vertel my liewer hoe dit met my geliefde gaan. Dink jy sy het my gemis?”
“Ek is seker jy weet dit, want ek vermoed sy sê dit in al haar e-posse.”
Robert gooi sy kop agteroor en lag hardop. “So much for trying to keep secrets. Dink jy haar pa weet ons korrespondeer?”
“Ek dink hy het sy vermoedens, maar hy het nie genoeg bewyse nie.”
“Dink jy hy gaan ooit vrede daarmee maak dat ek sy dogter wil hê?”
“Wonderwerke gebeur seker nog, maar jy kan hom nie kwalik neem nie. Dis sy enigste kind en jou reputasie loop jou ietwat vooruit. En dan praat ek nie net van die vrouens nie. Hy weet ongelukkig genoeg van jou ander bedrywighede om bang te wees vir sy dogter se geluk en veiligheid.”
“Jy weet ek is nie meer so aktief nie. Dit gaan hoogstens nog oor ’n bietjie inligting uitruil. Ek raak ouer en het nie meer krag om weke lank op die vloer te slaap en slegte kos te eet nie.”
“So much for principles.”
“Miskien het ek net agtergekom daar’s dalk ander maniere om dinge gedoen te kry. Of miskien raak ek net sag in die kop.”
Samuel lag onderlangs. “Of in die hart.”
Robert sit vooroor met sy arms op sy bene. Sy oë staar na die houtvloer. “Ek begeer haar soos ek nie gedink het ek kan begeer nie en sal waarskynlik baie dinge prysgee as ek haar kan kry. Ek dink ek sal selfs vir jou kom werk, alhoewel dit hel op aarde sal wees, maar vir die voorreg om saans met haar in my arms te slaap, sal ek my siel verkoop.”
Samuel bekyk die man oorkant hom met meer belangstelling. “Jy’s ernstig.”
“Hoe lank is dit nou? Twee, drie jaar ... en my gevoel het nog nie verander nie. Ek het by tye gebid dit moet en by tye het ek dit met ander afleiding probeer besweer, maar vergeefs. Wat sê dit vir jou?”
“Dat jy in jou moer is.”
Robert kyk vraend op toe Samuel Afrikaans praat. “You’re screwed. Whichever way you look at it.”
“Dankie. Jy was nog altyd ’n goeie vriend en het nog altyd geweet wat om te sê.”
“Is jy ernstig as jy sê jy soek werk?”
“Ek het ’n werk, maar as dit al manier is waarop Pappa Elias my naby haar gaan toelaat, ja, dan soek ek hier ’n werk. Nie eens in Jozi nie, hier, waar hy ’n wakende oog oor ons kan hou. Ek sal hom waarskynlik dikwels in sy slaap wil versmoor, maar ek sal dit maar sien as deel van my straf vir alles wat ek dalk in my lewe verkeerd gedoen het.”
“ ’n Regverdige straf vir alles wat jy in jou lewe verkeerd gedoen het, sou waarskynlik gewees het om van haar te vergeet.”
“Vergifnis, my broer. Het jy nog nooit van die woord gehoor nie?”
“Hoe lyk dinge in Zim?” verander Samuel die onderwerp.
“Hoe dink jy kan dit gaan as baie mense nie eens meer die moeite doen om werk toe te gaan nie omdat dit hulle meer kos om by die werk te kom as wat hulle verdien?”
“Jou naamgenoot kan nie vir ewig leef nie.”
“Seker nie, maar soos hy nou aangaan, sterf die land voor hom.”
Robert staan op en strek hom uit. “Ek neem aan ek mag die gastekamer kry. Dit was nie my eerste keuse vir vanaand nie, maar nouja ...”
“Dis die veiligste keuse vir vanaand. Ek het Elias al sien skiet en ek het nie nou tyd om begrafnis te hou nie.” Robert raak aan Samuel se skouer toe hy agter die bank verbystap. “Ek ook nie. Jy moet versigtig wees.”
Samuel staan ook op. Hy blaas die kerse en lampe dood en stap kamer toe.
“Die lakens ruik na vrou,” praat Robert uit die gastekamer toe Samuel verbyloop.
“Ester Green het Sondagaand hier geslaap. Ek is jammer. As ek geweet het ek kry ’n gas, sou ek die bed skoon oorgetrek het.”
“Ester Green het in jou gastekamer geslaap?”
“Dis wat ek gesê het.”
“Was dit haar besluit of joune?”
“Moenie omdat jy belustig is, dink ons almal is nie.”
“Weet Ira jy probeer sy suster verlei?”
“Nag, Robert.”
Robert antwoord hom nie, maar toe Samuel hom sag hoor lag, skud hy sy kop en kan nie help om te glimlag nie. Dis goed om hom weer te sien, al bring hy nie goeie nuus nie.