Читать книгу Die boek van Ester - Wilna Adriaanse - Страница 9

Оглавление

6

Ester is reeds wakker toe haar wekkertjie vieruur die volgende oggend lui. Ná ’n vinnige stortbad en ’n ligte ontbyt in die lapa, vertrek sy en Henry saam met twee gidse. Dis nog donker onder die groot wildevybome, maar daar is twee tente opgeslaan en gaslampe brand oral. Marja en Heidi is reeds gegrimeer en hulle hare is gestileer. Assistente is besig om hulle te help aantrek en ander is besig om ligskerms op te slaan. ’n Paar ape spring verskrik hoër in die bome op, maar loer tog nuuskierig tussen die blare uit.

Toe die eerste model klaar aangetrek is, begin Ester werk en dis eers toe sy ’n sweetdruppel teen haar nek voel afloop dat sy daarvan bewus word dat die son al warm geword het. Die lig onder die bome is egter sag en sy werk nog ’n uur of wat voordat sy begin oppak. Hier en daar klap ’n paar hande en oral word sweet afgevee.

“Ons sien julle weer vieruur hier,” demp sy egter die opgewondenheid voordat almal na hulle onderskeie lodges toe verdwyn.

Terug by die kamp besluit sy en Henry om iets op die stoep te gaan drink. Sy bêre haar kameras in die tent en stap weer saam met die gids terug.

Henry sit reeds daar, druk in gesprek met twee jong mans. Hy klop langs hom op die rusbank toe hy haar gewaar. “Kom sit, ek is besig om so slim te word. Ester, dis Ian Wessels en Percy Nkuna. Hulle werk albei hier, en as jy ooit iets wil weet oor ’n boom of ’n bobbejaan, is hulle die mense om te vra.” Hy beduie na Ester. “Hierdie een het ook Afrika-bloed in haar are.” Ester skud hand met die twee mans.

“Jy is Ira se suster,” merk Ian op toe hulle weer gaan sit.

“Dit lyk my almal ken hom.”

“Hy was al ’n paar keer hier.”

“Ek het nou net vir hulle gevra of hulle dink Samuel Mcgreggor sal toelaat dat ons foto’s in sy huis neem.”

“Dink julle hy sal?” Ester kyk hoopvol van Ian na Percy. Sy het toevallig vandag oor dieselfde ding gewonder.

“Julle kan hom vra, maar hy is baie heilig op sy privaatheid,” sê Ian.

“Sal jy hom vra?” Henry kyk na Ester, maar sy skud haar kop.

“Hy sal makliker vir jou ja sê as vir my.”

“Ek het nog nie eens die huis gesien nie. Jy was ten minste al daar. Al wat ek vir hom kan sê, is dat ek hoor hy het ’n interessante huis. Wat maak ek as hy sê ek het verkeerd gehoor?”

“Ek sal hom vra.” Ester neem dankbaar die koeldrank wat een van die personeel vir haar gee.

Hulle gesels nog ’n rukkie voordat Ian en Percy verskoning maak dat hulle nog moet gaan werk.

“Waarom het jy my nog nooit genooi om saam met jou huis toe te kom nie?” wil Henry weet toe hulle alleen is.

“Hierdie land is nie meer my huis nie.”

“Jy kon dit nog steeds vir my kom wys het.”

“Ek het nooit gedink dis ’n plek wat jy sal wil sien nie.”

“Ek ook nie, maar noudat ek hier is, sal ek graag die res ook wil sien. Die plek het ’n vreemde energie. Ek weet ook nie of dit die plek of die mense is nie. Al wat ek weet, is hulle lyk nie soos mense wat ek ken nie. Miskien het dit iets met hulle rustigheid te doen of dalk die feit dat almal so gemaklik in hulle eie velle lyk.” Hy neem ’n sluk koeldrank en skud liggies sy kop. “Dis vreemd om te dink jy kom hiervandaan en dat dieselfde oergene in jou is.”

Ester kyk stil hoe ’n troppie sebras in ’n ry met ’n voetpad afgestap kom rivier toe. Die lug agter en voor hulle maak dynserige lugspieëlings in die hitte. Sy het Henry een aand, kort nadat sy in Londen aangekom het, op ’n partytjie ontmoet en dit was hy wat haar die eerste keer gehuur het om ’n bylaag vir hom te skiet. Sedertdien werk sy baie dikwels vir hom.

Hy is waarskynlik die enigste mens wat weet hoe swaar sy soms kry en beslis die enigste een in haar nuwe vriendekring wat die hele storie ken. Dit beteken egter nog nie hy hoef op ’n dag soos vandag allerhande onsinnige opmerkings te maak nie. Daar is iets in die windstil, warm lug wat haar so hartseer stem, dat sy eintlik net haar kop wil toetrek en gaan slaap. Of eenkant alleen wil sit en soos Job haar sere krap.

“Ek dink ek gaan ’n bietjie lê voordat ons weer moet gaan.” Sy stap weg sonder om terug te kyk en is bly toe sy op haar bed kan neerval. Hulle behoort haar vir hierdie projek dubbel haar gewone fooi te betaal om te probeer vergoed vir die stryd wat sy het om te sien, maar ook nie te sien nie. Nie die lug, die grond, die mense nie, niks. En die stryd om te hoor, maar ook nie te hoor nie. Nie die vreemde, aardse deuntjies wat geneurie word, of die ritmiese stemvalle nie, ook nie die stilte wat nie stil is nie. Sy onthou ’n aanhaling wat sy eenkeer gelees het: Tonight at the magic theatre, for madmen only, price of admittance: your mind. Dit kon netsowel gelui het, ’n week in die teater van die absurde, vir die malles onder julle, toegang: jou hart. Ja, hulle behoort haar baie meer te betaal.

Laatmiddag pak die wolke donker saam, maar sy kry ’n goeie twee uur se goeie lig om by te werk en is dankbaar toe hulle ’n ruk ná sononder by die kamp aankom. Sy gee nie om om hard te werk nie, maar sy haat dit om alles oor te doen. En soms gebeur dit dat niks uitwerk soos dit beplan is nie. Haar Afrikaanse ouma sou gesê het dis asof die duiwel in alles ingevaar het. Dis sulke dae dat sy haarself streng moet aanpraat om nie op almal te skreeu nie. Maar vandag was die duiwel blykbaar met ander dinge besig, want dit was asof elkeen besluit het perfeksie is nie ’n onmoontlike droom nie. Selfs die ape in die bome was soos afgerigte sirkusape wat presies geweet het wanneer en waar hulle hul verskyning mag maak.

Sy en Henry gaan eet later saam, maar albei is moeg en hulle klim vroeg in die bed.

Toe hulle die volgende oggend by die stukkie vleiland aankom, is die kamp reeds weer opgeslaan en almal is soos die vorige oggend besig om alles in gereedheid te bring. ’n Tafel met koffie en toebroodjies staan eenkant en Ester skink vir haar ’n beker koffie terwyl sy stadig die terrein deurstap. Sy kom agter ’n veldwagter is nooit ver van haar af nie. Sy wonder of hulle werklik sulke streng opdragte gekry het en of hy dalk net sy werk baie ernstig opneem.

“Die man het ’n goeie oog. Hy het interessante plekke uitgesoek.” Henry staan hande op die heupe toe sy omdraai.

Ester antwoord hom nie, maar gaan haal ’n kamera en begin foto’s uit verskillende hoeke neem. Soos dit begin lig word, is dit asof ’n byna onsigbare lagie mis oor die stukkie vlei tussen die palms sigbaar is en sy roep die modelle nader.

Net voor die son agter die horison uitkom, sit sy in die middel van die stukkie vleiland. Sy sien hoe ’n veldwagter woes vir haar beduie. Toe sy opkyk, besef sy ’n groot olifantbul is besig om stadig tussen haar en die res van die groep in te stap. Sy bly doodstil sit en bid dat Heidi nie sal skrik en weghardloop nie, want van waar sy sit, kan sy die ongelooflikste foto’s neem. Asof die meisie haar stil wens gehoor het, bly staan sy op die plek en Ester se kamera klink soos ’n masjiengeweer. Sy verskuif elke keer net effens van posisie. Van die foto’s neem sy onder die olifant se maag deur en op ander lyk dit of die model langs die olifant staan en aan sy slurp kan raak. Ester maak of sy nie weet dat een van die veldwagters omgestap het en agter haar kom staan het nie. Sy maak ook of sy nie hoor toe hy vra dat sy moet ophou foto’s neem nie. Sy kyk net vinnig oor haar skouer en glimlag breed. Ná omtrent twintig minute begin die olifant weer stadig terugstap op die pad waarmee hy gekom het. Die jong model gaan sit op die grond en gee ’n hoë laggie.

“Niemand gaan glo ons het nie die foto’s gedokter nie.”

Ester laat sak die kamera en vee oor haar voorkop. “Baie dankie.” Sy glimlag vir die veldwagter.

Hy skud sy kop en mompel ’n paar woorde in sy taal, waarvan sy net Samuel se naam en die woord “doodmaak” verstaan, maar dan glimlag hy ook terwyl hy oor sy voorkop vee.

“Jy moet dit nie doen nie. Dis gevaarlik en Samuel gaan ons moeilikheid gee as hy weet,” slaan hy na Afrikaans oor toe hy sien sy verstaan hom nie.

“Miskien moet hy dan liewer nie weet nie.”

“Hy weet alles.”

Ester kan haar indink dat min dinge ongesiens by hom verbygaan. Dis een van sy eienskappe wat haar effens ontsenu of eerder ongemaklik laat voel. Dis ’n gewaarwording wat sy van hulle eerste ontmoeting af gehad het. Miskien is dit ook maar net ’n truuk om mense te laat glo hy sien en weet alles.

“Ek sal hom sê hy moet vir my kwaad wees en nie vir julle nie. Jy het my gewaarsku, maar ek wou nie hoor nie.”

“Hy gaan baie kwaad wees.”

“Ek is jammer dat ek julle in die moeilikheid laat beland het. Ek sal regtig met hom praat.”

Hy glimlag ’n wit glimlag terwyl hy sy kop skud. “Miskien moet ons maar niks sê nie. Miskien is sy ore en oë nie op die oomblik so goed nie.”

“As ons vanaand uitgeskop word en môre die res van die foto’s in ’n dieretuin moet gaan skiet, gaan ek jou in die leeuhok gooi,” laat Henry hoor toe hulle later die oggend oppak. “Wil jy my ’n hartaanval gee?”

“Wag tot jy daai foto’s sien. Jy gaan diep in die skuld wees by my. Groet maar solank daai klomp Hermes-serpe van jou.”

“En as hy jou uitskop, gaan ek maak of ek jou nie ken nie.”

“Hy oorreageer. Het dit vir jou gelyk of enige van ons ooit vandag in gevaar was?”

“Moenie my probeer oortuig nie. Hou maar jou verskonings vir die groot man.”

Ian staan by die parkeerplek toe hulle stilhou en help hulle om van die Jeep af te klim.

“Het julle ’n suksesvolle dag gehad?” Hy vra die vraag so in ’n algemene rigting, maar kyk tog na Ester.

“Baie suksesvol.” Ester gee haar kameratasse vir hom aan sodat sy van die voertuig kan afklim. “Was dit Samuel se Jeep wat ek sien wegry het?”

“Ja. Hy is op pad na die rehabilitasiesentrum toe.”

“Kom hy later weer terug? Ek moet met hom praat.” Ian skud sy kop. “Nie so ver ek weet nie.”

“Kiki het vanoggend gesê daar is vanaand ’n nagrit. Hoe laat vertrek julle? Ek sal graag wil saamgaan,” onderbreek Henry hulle.

“Net ná aandete. Gaan sê net by die kantoor jy wil graag saamry.”

Henry draai om en stap kantoor toe, maar roep oor sy skouer: “Wil jy ook saamgaan?”

Ester skud haar kop. “Ek dink nie so nie.”

Sy val op haar bed neer toe sy in die kamer kom. Sy het vandag vergeet om sonroom aan te smeer en sy kan voel sy het gebrand. Haar vel voel stram en warm. Sy begin lê-lê uittrek en stap kaal badkamer toe. Toe sy in die spieël kyk, sien sy waarom haar gesigvel voel of dit gekrimp het. Haar skouerknoppe is ook rooi en sy verwens haarself vir haar agterlosigheid. Dit gaan ’n rukkie duur om van die wit strepe ontslae te raak.

Toe sy uit die stort kom, gaan lê sy met die effens klam handdoek om haar gedraai op die bed. Sy moes aan die slaap geraak het, want toe sy wakker word, is dit net ná drie-uur. Sy trek aan en tel haar kamera op voordat sy buitentoe stap. Miskien moet sy die vlakvark gaan soek en kyk of hy nie vir haar wil poseer nie. Sy stap om ’n groot struik en skielik voel dit of haar voete in nat sement beland het. Reg voor haar in die paadjie sit ’n yslike bobbejaanmannetjie. Sy oë is effens skeelgetrek soos hy na iets in sy hand staar. Ester probeer retireer, maar dit duur ’n paar sekondes voordat haar voete haar brein wil gehoorsaam. Sy kry dit egter reg om ’n paar treë terug te gee, maar dan gee sy ’n gilletjie toe sy skielik in iets vasloop. Die bobbejaan is skielik weer voor haar en sy swaai verskrik om. Een van die gidse lig sy hand waarin hy ’n stok vashou en die bobbejaan spring skuinsweg eenkant toe en in ’n boom.

“Jy moenie alleen loop nie,” kom die droë vermaning en Ester knik.

“Ek is jammer. Ek het vergeet om te bel. Dankie.”

Hy knik en wag dat sy voor hom uitstap. Toe hulle by die ontvangs verbystap, gewaar sy vir Elias en sy stap nader. Hy groet stram terug.

“Is jy op pad terug huis toe?”

“Ja.”

“Kan ek asseblief saam met jou ry? Ek moet met Samuel praat.”

“Hy is nie by die huis nie.”

“Kan jy my dan asseblief neem na waar hy is. Ek is seker hy sal my weer terugbring.” Ester weet nie of sy haar moet vervies of probeer kalm bly nie. Al die personeel is vriendelik en hulpvaardig, behalwe die man met die strak gesig en stil oë.

“Ek dink nie hy wil daar gepla word nie. Hy’s besig.” Op daardie oomblik kom Kiki uit die kantoor.

“Ek moet dringend met Samuel praat, maar Ian sê hy kom nie weer vanaand terug nie. Hy is blykbaar by die olifante en ek sal bly wees as Elias my daarheen kan neem.”

Kiki kyk na Elias en dan terug na Ester. “Hy laat gewoonlik nie gaste daar toe nie.”

“Ek verstaan en ek wil hom ook nie gaan pla nie, maar ek is seker hy sal nie omgee nie.”

“Ek wil nie hê hy moet kwaad wees nie.”

Ester skud haar kop. “Hy sal nie en as hy is, sal hy vir mý kwaad wees en nie vir julle nie.”

Daar volg ’n gesprek tussen pa en dogter en toe stap Elias buitentoe en Kiki glimlag. “Hy sal jou gaan aflaai.”

“Dankie. Ek belowe ek sal jou nie in die moeilikheid laat kom nie.”

Elias het reeds die Land Rover aangeskakel toe Ester buite kom en sy moet haastig inklim. Hy praat nie ’n woord met haar nie en haar vrae droog later op. Sy verbeel haar dat sy die pad na die boomhuis herken, maar hulle ry nie deur die rivier nie en mettertyd weet sy glad nie meer waar hulle is nie. Ester gewaar eers die Jeep en toe die gebou wat soos ’n skuur lyk. Elias stop ’n entjie van die Jeep af en klim saam met haar uit. Twee mans kom agter die gebou uit en glimlag toe hulle Elias gewaar. Die drie groet en daar volg weer ’n onverstaanbare gesprek voordat een beduie dat sy saam met hom kan stap.

Hulle stap langs die skuur verby, maar die sykante is oop en sy gewaar drie jongerige olifante binne. ’n Ent verder sien sy nog twee sulke skure en ’n verskeidenheid kampe en hokke. Mense stap heen en weer, maar om een of ander rede voel dit nie na ’n bedrywige plek nie. Daar hang ’n laatmiddag-rustigheid oor alles en almal.

Hulle stap met ’n voetpaadjie langs tot op die rivierwal en dis eers toe die takke van die bome effens lig dat sy behoorlik kan sien. Sy gaan staan doodstil. ’n Ent voor hulle in die rivier kom ’n olifant aangestap, met Samuel op sy rug. Die groot dier se lyf swaai ritmies heen en weer en die man bo-op wieg gemaklik saam met die beweging. Sy haal haar kamera uit en gaan sit plat op die grond teen die rivierwal. Soos die son agter die horison wegsak, verander die lig van skerp en helder na ’n sagte effekleur. Asof ’n sagte doek oor alles gegooi word.

Sy verstel haar lens voordat sy die knoppie begin druk. Sy sien verbaas dat hulle deur die groot waterpoel gaan loop. Die logge lyf van die olifant sak in die water af en sy kyk vasgenael hoe daar water in die slurp opgetrek word en Samuel papnat gespuit word. Van waar sy sit, kan sy hom hoor lag. ’n Onbevange klank wat haar hoendervleis gee.

Dit voel skielik of sy inbreuk maak op ’n baie intieme ritueel en sy wonder of sy nie liewer stilweg moet omdraai en vir hom by die Jeep gaan wag nie, maar sy kry nie opgestaan nie. Die prentjie voor haar laat haar staar. En terwyl sy nog sit en kyk, begin hulle stadig uit die waterpoel stap, al met die voetpad langs. Toe sy eindelik opstaan, besef sy dis te laat om om te draai.

Hy gewaar haar toe hulle teen die wal begin uitstap. Hy kyk ’n oomblik verbaas na haar en sê dan: “Gee jou kamera vir Julius.”

“Ekskuus?”

“Gee jou kamera vir Julius en klim op daardie boomstomp.”

Sy gehoorsaam voordat sy kans gehad het om te dink. Die volgende oomblik is die olifant langs haar en Samuel strek sy hand na haar uit. Sy voel hoe Julius haar oplig en dan sit sy agter Samuel se rug bo-op die olifant. Eers voel dit asof sy nie asem kry nie, maar geleidelik begin die paniek bedaar en kry sy dit reg om nie so verbete aan hom vas te klou nie.

“Waaraan het ek die eer te danke?”

“Ek wil jou iets vra en Ian het gesê jy kom nie weer terug kamp toe nie.”

“Wat wil jy my vra?” Hulle lywe wieg ritmies heen en weer en vir die eerste keer in haar lewe sukkel sy om te praat. Sy is nie seker wat haar hoendervleis gee nie, sy klam klere teen haar of die feit dat sy op ’n olifant ry nie.

“Ek ... ek wil hoor of ek ’n paar foto’s in die boom ... boomhuis kan neem.”

“Nee.”

“Ons sal niks breek of deurmekaar maak nie.”

“Nee.” Die woord word sonder ’n sweempie van aggressie gesê, maar sy herken ’n beslistheid in die toon. Nogtans probeer sy weer.

“Dit sal so ’n stunning agtergrond wees.”

“Nee.”

“Ek sal jou ekstra betaal.”

“Sjjjt ...”

Ester bly stil en gee haar oor aan die skommelbeweging. Die aandskemerte lê soos ’n kombers oor hulle. Hy praat nie weer nie en Ester gryp hom vervaard vas toe hulle by die skuur kom en hy iets vir die olifant sê en dié afsak om te kniel. Hy help haar af en dan volg daar ’n gesprek met die olifant. Sy bly langs hom staan en wonder of sy nie besig is om te droom nie. Maar dan skielik trek hy haar nader, en toe hy haar hand neem en dit in die olifant se bek steek, weet sy nie of sy moet lag of gil nie.

“Hy wil net kennis maak. Kan jy die sagte plekkie in die verhemelte voel? Dis ’n baie gesofistikeerde orgaan, of die sogenaamde Jacobson-klier. Olifante gee uiting aan emosies en verkry inligting deur die uitruil van vloeistowwe afkomstig van hierdie klier. Deur die vloeistowwe vind hulle uit hoe dit met ’n ander een gaan, wat in sy of haar lewe aan die gang is, ensovoorts. Hulle is nie soos mense wat vir mekaar kan lieg en sê dit gaan goed terwyl hulle lewe eintlik al uitmekaarval nie.”

“En as hy my hand afbyt?”

“Hy byt net ontroue vroue se hande af.” Hy kyk na haar en skud sy kop. “Vir iemand wat volgens gerugte nie ’n bang haar op haar kop het nie, is jy skielik vreeslik beskeie.”

“As jy nou nog na die renoster-episode verwys ... ek het gesê ek is jammer, maar ek dink steeds nie iemand se lewe was in gevaar nie.” Terwyl sy praat, voel sy hoe die hoendervleis weer deur haar lyf trek, maar sy kry dit ook nie reg om verder weg te staan nie. Daar is iets betowerends daaraan om so naby die groot dier te wees.

Samuel voer hom ’n paar lemoene voordat hy omdraai en, nadat hy en die twee mans ’n rukkie lank gesels het, begin hy Jeep toe stap.

Ester drafstap agter hom aan en hy kyk oor sy skouer. “Waarheen is jy op pad?”

“Ek moet saam met jou ry.”

“Ek is op pad huis toe.”

“Jy moet my net eers terug kamp toe neem.”

Hy skud sy kop terwyl hy in die Jeep klim. “Ek gaan nie weer vanaand terug kamp toe nie. Dis ’n hele ent hiervandaan.”

Ester voel hoe haar nek letterlik warm word. “Moet asseblief nie nou kinderagtig wees nie.” Sy beduie met haar arm. “Verwag jy ek moet die nag hier deurbring?”

Hy skakel die Jeep aan en haal sy skouers op. “Ek weet nie wat jou planne vir die aand was nie. Miskien wou jy vannag saam met die olifante kom slaap het, of miskien was dit net ’n truuk om my te sien. As dit laasgenoemde was, wil jy seker nie nou al terug kamp toe gaan nie.”

“Ek kan nie besluit of jy verwaand, moedswillig of vies is nie.”

“Miskien iets van al drie.” Hy leun oor en maak die deur vir haar oop.

Sy klap die deur effens te hard toe en hy gee haar ’n skuins kyk.

“Jammer.”

Hy trek weg en vir ’n hele ent is net die dreuning van die Jeep se enjin hoorbaar. Dit het intussen donker geword en die twee kopligte baan die pad vir hulle.

“Ek het nie van die renoster-episode gepraat nie en ek dink jy weet dit.”

Ester wonder verbaas hoe hy van die voorval met die olifant weet, want sy is seker die veldwagters sou nie geklik het nie.

“Moet asseblief nie vir die gidse kwaad wees nie. Hulle het my gewaarsku, maar die versoeking was net te groot. Ek is seker as jy in my posisie was, sou jy dieselfde gedoen het. Het jy nog nooit ’n berekende kans gewaag nie?”

“Dit was nie ’n berekende kans nie. Dit was sommer net arrogant en dom.”

“Ek dink jy oorreageer effens. Ek is nie dom nie en as dit vir my gelyk het of ek iemand se lewe in gevaar stel, sou ek dit nie gedoen het nie.”

Hy stop skielik en keer met sy linkerhand toe sy effens vooroor val. Sy kyk vraend na hom, maar hy kyk nie na haar nie en sy ril skielik. Wat maak sy as hy haar hier aflaai? Wat weet sy in elk geval van hom, en wat as Ira hom ook nie so goed ken as wat hy dink nie?

“Waarom het jy gestop?”

“Sjjt.”

Ester voel hoe haar rug hol word en die hare op haar kop ’n lewe van hulle eie kry. Sy probeer opkyk om te sien of hulle nie dalk onder ’n boom staan en daar nie dalk ’n leeu of een of ander van die katte besig is om haar te merk vir sy aandete nie.

“Ons is midde-in ’n trop buffels.” Sy stem is rustig asof hy vir haar sê hulle het so pas by ’n teepartytjie aangekom.

“Hoe weet jy?”

“Daar’s stof in die lug.”

“Ons is in die veld. Is hier nie permanent stof nie?”

“Dis windstil.”

Die volgende oomblik verskyn twee paar enorme horings agter ’n bos uit en dan volg twee groot swart lywe. Agter die twee sien sy hoe ’n klomp lywe in die ligstreep voor hulle verbybeweeg. Toe sy agtertoe kyk, kan sy die skaduwees in die truligte ook sien.

“Sal hulle ons nie probeer trap nie?”

“Ons hoop nie so nie.”

“Hoe groot is die trop?”

“Honderd en vyftig na tweehonderd toe, skat ek.”

“You must be joking! Ons kan nie hier bly sit tot tweehonderd buffels verby is nie. My donner, ons sal môre nog hier sit.”

“Wat stel jy voor? Dat ek hulle gaan aanjaag?”

Sy kyk stil voor haar uit na waar lyf op lyf voor die voertuig verbybeweeg. Miskien is hierdie een van die vreemde drome wat sy droom vandat sy in Johannesburg aangekom het.

“Kan ek foto’s neem?”

“Nee.”

“Waarom nie?”

“Waarom wil jy van alles ’n Kodak-oomblik maak? Sit net en neem waar. Dis nie iets wat ’n mens aldag beleef nie.”

Hulle sit nog omtrent tien minute voordat hy stadig wegtrek. Sy moet haarself inhou om nie uit te roep nie toe ’n paar lywe links voor die ligte verby probeer spring. Sy vrees hulle gaan dalk bo-op haar beland. Sy weet nie hoe lank hulle nog gery het nie, maar toe hy weer stop en die enjin afskakel, sug sy hoorbaar. “Wat’s dit hierdie keer? ’n Trop krokodille?”

“Ons is by die huis.”

“Dis nie die kamp nie.”

“Hoeveel keer moet ek vir jou sê ek gaan nie weer vanaand kamp toe nie? Ek dog Ian het jou ook gesê.”

“Hoe verwag jy moet ek daar kom?”

“Ek gaan môreoggend vroeg kamp toe. Jy’s welkom om saam te ry.” Hy klim uit en toe hy om die Jeep stap en die deur vir haar oopmaak, klim sy stadig uit, nie seker wat om te doen nie. Sy kan die Jeep leen, maar sy weet sy sal nie in die nag die kamp kry nie; sy sal dit nie eens in die dag kry nie.

Hy stap voor haar uit en fluit onderlangs een of ander onbekende deuntjie. Hy het ’n flits uit die Jeep se paneelkissie gehaal en sy bly op sy hakke terwyl hulle teen die rotstrappies opklim. Die dek is donker en sy slaak ’n sug van verligting toe hy een van die lanterns opsteek en sy weer rondom haar kan sien.

“Maak jouself tuis. Jy weet waar alles is. Ek gaan gou stort voor ons eet.”

“Ek dink nie Elias het vir jou gekook nie. Hier’s nie kos nie,” roep sy uit die kombuis waar sy ’n botteltjie water in die gasyskassie gaan soek.

“Hy het seker aangeneem jy sal vir ons iets maak om te eet.”

“Dan het hy verkeerd aangeneem.”

“Hoe anders wil jy jou slaapplek vanaand betaal?” Hy stap met ’n handdoek oor sy skouer verby stort toe.

“Ek sal vir jou ’n tjek gee.”

“Ek vat nie tjeks nie, ook nie kaarte nie.”

Sy gaan sit op die rusbank en sak agteroor teen die kussings. Soos sy nou voel, is sy selfs bereid om ’n paar van haar tande te gee om terug by die kamp te wees, of ’n long om terug in Johannesburg te wees.

Maar eerste prys sal wees as sy in haar eie woonstel kan wees. Daarvoor is sy bereid om dalk ’n ledemaat af te staan.

Die boek van Ester

Подняться наверх