Читать книгу Die boek van Ester - Wilna Adriaanse - Страница 6
Оглавление3
Ná omtrent ’n uur, waarvan Samuel die laaste halfuur die hele tyd oor die telefoon gepraat het, draai hulle by die hek van die Grand Central-lughawe in. Toe hy die motor parkeer, kyk hy vlugtig na haar: “Jy het nie ’n probleem daarmee dat ons vlieg nie? Ek het vergeet om Ira te vra.”
“Nie solank die vlieënier weet hoe om te vlieg en waarheen ons op pad is nie.”
Terwyl hy die gehuurde motor teruggee en papierwerk vir die vlug afhandel, staan sy buite om ’n sigaret te rook. Sy hoor hoe ’n vliegtuig spoed vermeerder en oomblikke later sien sy dit oor die gebou se dak opstyg. Die lug is rookgrys en hier waar sy staan, bak die son warm teen haar rug. Sy trap die sigaretstompie dood, maar tel dit op toe Samuel daardie oomblik kies om haar te kom roep. Met die stompie in haar hand soek sy na die naaste vuilgoedblik.
Hulle stap na ’n spierwit tweemotorige vliegtuig met sitplek vir ses mense. Nadat Samuel hulle bagasie weggepak het, help hy haar in die kajuit in en klim langs haar in. Sy besluit om nie kommentaar te lewer oor die feit dat hy die vlieënier is nie, maar die oomblik toe hulle in die lug is en sy sien hoe naby hulle aan die middestad is, kyk sy tog na hom.
“Ek gee nie om om saam met jou te vlieg nie, maar wou nog nooit die Brixton-toring as my laaste rusplek hê nie. Moet jy nie miskien effens hoër probeer vlieg nie?”
“Ons het van hier af net ’n smal lugstrook waarbinne ons mag vlieg omdat ons tussen twee lugmagbasisse moet deurgaan. Daar is ’n hoogtebeperking tot ons oos van Pretoria kom, dan sal ons hoër styg. So, byt net vas en sê my as jy ’n Mirage of Boeing langs ons gewaar. Ons kry dalk van die Oliver Tambo-verkeer ook.”
Toe sy met vernoude oë na hom kyk, glimlag hy. “Dis miskien effens dramaties, maar ek het gedink dis dalk iets waarmee ek jou kan beïndruk, aangesien my praatjie dit nie gedoen het nie.”
“Laat ek eers sien hoe jy ’n Mirage of ’n Boeing systap voordat ons van beïndruk begin praat.”
’n Stem roep oor die radio. Terwyl Samuel met die beheertoring praat, kyk Ester stil na die stad onder hulle. Sy kan onthou dat met die gebeure op 11 September 2001, toe die vliegtuie in die World Trade-sentrum in Manhattan vasgevlieg en nuus van verdere aanvalle op Washington begin deurkom het, hulle blykbaar vir president Bush in sy presidensiële straler gelaai en na ’n onbekende bestemming gevlieg het. In ’n rolprent wat sy jare gelede gesien het, het die laaste oorlewendes op aarde, ná ’n ruimteaanval, ook met ’n vliegtuig opgestyg om sodoende te probeer wegkom en te kyk of daar nie êrens ’n stukkie ongeskonde aarde oorgebly het nie. Sy wonder hoe lank voordat die leiers op hierdie kontinent almal gaan opstyg om weg te kom van die verwoesting wat hulle op die aarde help saai het. Terwyl die res van die bevolking soos blinde miere skarrel om te oorleef.
Hier uit die lug is die paaie bewegende slange wat heen en weer kronkel. Elke voertuig, die draer van drome, verwagtinge, teleurstellings, planne. Elkeen is potensieel stryd- of triomfwa. Hier en daar is mynhope, soos miershope bo die grond, sigbaar. ’n Lelike getuienis dat die mens die aarde hier omdolwe om by die rykdomme uit te kom. Egoli. Die stad wat op die goudaar gebou is. Oral is nuwe geboue besig om soos paddastoele uit die grond op te slaan. Huise word teen kaal heuwels staangemaak. Daar is nie ’n boom in sig nie, maar ten minste het hulle seker ’n uitsig, al weet die Here alleen waarheen hulle wil kyk so tussen die staalomheinings en elektriese drade deur.
“Wat is dit aan hierdie land wat maak dat mense terugverlang? En moenie vir my sê dis na Mrs Balls-blatjang en biltong nie. Dit sal moerse hartseer wees.”
“Ek dink die land beteken vir elkeen iets anders. Vir sommige is dit dalk blatjang en vir ander is dit dalk familie.”
“Wat beteken dit vir jou?”
“Vuur ... vuur ruik nêrens soos hier nie.”
“Ek hoop jy’s besig om ’n grap te maak, want as dit al is wat jou hier hou, is jy dommer as wat jy lyk.”
Die vliegtuig bokspring opwaarts deur die luglae en Samuel voel hoe die dag se moegheid saam met die aarde onder hom wegsak. Hier bo kan sy gedagtes stil word en kan hy homself ’n oomblik van ongebondenheid gun. Hy kan afkyk na die aarde soos na ’n skaakbord en hoop dat hy beter insig sal kry vir sy volgende skuif. Dat die hoogte en ander perspektief antwoorde sal bring wat hy deesdae dikwels nie meer daar onder kan kry nie.
Die radio kraak en stemme verbreek kort-kort die dreuning van die motore. Nou en dan sê hy iets oor die radio, maar Ester luister nie juis nie. Miskien moet hulle by elke huis en op elke straathoek, tussen bosse en in parke, op plase en in winkels waar iemand al gewelddadig sy lewe verloor het, ’n rooi lig laat brand. Rooi ligte om mense daaraan te herinner dat daar bloed gevloei het.
“Jy is ’n goeie passasier,” laat Samuel in haar rigting hoor toe hulle ’n oomblik erg bokspring. “Dis gewoonlik hier waar die meeste mense wil uitklim.”
“My pa het nie bang kinders grootgemaak nie.” Mettertyd raak die beboude gebiede al yler en ongemerk begin daar groter stukke rooibruin grond onder hulle inskuif. Toe hulle later die platorand nader en die vlaktes oopbreek en sy afkyk op valleie en bergspitse, laat Ester stil hoor: “Afrika se natuurskoon is die spinnekopwyfie se blink web wat die slagoffers aantrek. Selfs al het daar peste en plae anderkant hierdie berge op hulle gewag, kon die pioniers hulself nie keer nie. Hulle is dieper en dieper die web ingetrek tot waar die dood gewag het.” Samuel kyk skeefweg na haar, maar antwoord nie.
Ester kyk later na die informele nedersettings waarvan baie nog met die tradisionele ronde hutte spog, en waar die tokkelos selfs in die een en twintigste eeu in vreemde gedaantes sy opwagting maak. Is dit deel van die aantrekkingskrag? Die feit dat Westerse denke en oerfilosofieë hier hand aan hand loop?
Hulle het die stede se rookmis agtergelaat en in die blinkhelder somersdag staan alle kleure uit asof dit vars geverf is. Die grond is ’n diep rooibruin, die akasias staan met hulle sambreeltakke wyd en groen gesprei. Rivierlope kronkel soos wonde oor die aardkors. Altyd groen omsoom, selfs daar waar die res van die plantegroei verskroei en vaal uit die grond opslaan. Gevoed diep onder die grond uit. Die uitverkorenes wie se saad naby die wateraar beland het.
Samuel praat in die mondstuk van die radio en dan kantel die vliegtuig na regs en Ester voel ’n krieweling op die krop van haar maag. Hulle vlieg oor ’n grasdakgebou, sirkel nog een keer en dan vlieg hulle weg van die gebou af. ’n Paar oomblikke later gewaar sy ’n windkous en sy voel aan haar oordromme dat hulle gereed maak om te land. Aan die einde van die landingstrook staan ’n paar rooibokke en wei en hulle kyk net lui op toe die vliegtuig oor hulle dreun.
Met die uitklimslag is dit nog warmer as op die Hoëveld en Ester wonder hoe die res van die groep hierdie hitte gaan oorleef.
’n Swart man met ’n spierwit glimlag neem haar skouersak en help haar uit die vliegtuig.
“Moses, dis Ester Green.” Hy voeg iets in ’n vreemde taal by en Moses glimlag.
“Hy ken vir Ira.”
Ester skud die ouerige man se hand.
Die mans laai die bagasie agter op die oop Jeep en stoot die vliegtuig in die groot skuur langs die landingstrook. Dan maak Samuel die Jeep se deur vir Ester oop en sy klim in. Moses gaan sit op die sitplek wat links voor op die neus gemonteer is.
“Waarom sit hy daar?”
“Die mag van die gewoonte. Moses is ’n spoorsnyer en hy is maar altyd op soek na spore.”
Die rooibokke lig hulle koppe, maar toe die Jeep verby is, wei hulle rustig voort. Die voertuig se enjin dreun deur die stilte. Toe Samuel skielik stop, moet Ester keer om nie vorentoe te val nie. Sy arm gaan asof outomaties uit en hy druk haar teen die sitplek vas. Voor hulle in die pad staan ’n groot olifantbul. Hy lig sy kop net effens voordat hy verder die klein mopanieboom ontwortel. Samuel ry stadig verby die groot dier. Ester is so naby aan die yslike grys lyf dat sy die swart haartjies op sy slurp kan sien. Dis jammer haar kameratasse is agterop die voertuig gelaai.
“Hoe het jy geweet hy gaan ons nie storm nie?” wil sy by Samuel weet toe hulle verby is.
“Ons was windaf en ons was nie ’n bedreiging vir hom nie. Dis nie asof ons tussen hom en sy ete gekom het nie.”
Voor hulle verder kan praat, doem daar goed versteekte geboue met netjies gedekte grasdakke tussen die bome en struike op en ’n vlakvark staan vinnig van sy knieë af op en hardloop nader.
“Dit is Ku biha, ons gelukbringer of nie-amptelike gategrawer.”
Ester is nie seker waar mensgemaakte tuine en die natuurlike plantegroei ophou en begin nie. Daar is geen formele tuine nie, maar dit lyk tog of daar ’n mate van orde is. Die bome is groot en ’n paar se stamme vorm deel van die geboue se pilare.
’n Lenige swart meisie kom met ’n tuinpaadjie na hulle toe aangestap en Samuel stel hulle aan mekaar bekend. Haar naam is Kiki Nkuna en sy is een van die personeellede. Sy dra ’n kakielangbroek en wit hemp en lyk koel en vars. Haar gesig is fyn en haar hare is kort en teen haar kop gevleg.
“Ek dink ek het alles gekry waarvoor julle gevra het,” begroet Samuel haar. Nadat hy hulle aan mekaar bekendgestel het, slaan Samuel oor na die taal waarin hy en Moses ook gepraat het en beduie na die paar kartonne wat hy en Moses intussen van die Jeep afgelaai het. “Is Ian hier?”
Kiki skud haar kop. “Iemand het nou net laat weet daar het ’n olifant êrens deurgebreek en van die plaaslike inwoners se landerye geplunder. Hy is saam met Patrick en ’n paar van die spoorsnyers weg om te kyk of hulle hom kan gewaar en om die draad voorlopig toe te maak sodat ander hom nie volg nie.”
Samuel tel die radio se mondstuk van die mikkie af op en nadat hy ’n paar keer geroep het, antwoord ’n stem.
“Dit moet een van die jong bulle wees. Hy het net onder die spitskop deurgegaan, maar ek vermoed hy’s terug, want ons gewaar hom nêrens nie.”
“Maak seker dat julle die draad dig toemaak.”
Hy kyk na Kiki. “Het jy enige dringende boodskappe?”
“Patrick vra dat jy ’n draai moet kom maak wanneer jy tyd het. Hulle het ’n olifantbul gewaar wat op een of ander manier in ’n stuk draad verstrengel geraak het en blykbaar is dit besig om sy been af te sny. Hy kan nie meer behoorlik op die been trap nie en bly gevolglik redelik op dieselfde plek.”
“Enigiets anders?”
“Daar het baie e-posse gekom oor die vergadering volgende maand in Johannesburg. Wil jy dit saamneem huis toe om te gaan lees?”
Hy knik en sy draai om en stap na die groot grasdakgebou.
“Kom ons stap saam, dan kry ek vir jou iets om te drink. Is jy al honger?” praat hy met Ester.
“Nee, net dors.”
Dis koel onder die rietdak en Ester ruik die effens soeterige geur van die riete. ’n Ander vrou kom van êrens met ’n skinkbord waarop twee glase en ’n verskeidenheid koeldranke en vrugtesappe is en sit dit op die groot koffietafel neer. In die ruim vertrek staan ’n paar leerrusbanke, koffietafels en ’n tafel van spoorwegdwarslêers. Op die blink sementvloer lê ’n paar sebravelle en die lampskerms teen die mure is volstruiseierdoppe. Dis ’n gesellige ontvangslokaal.
“Verskoon my asseblief ’n oomblik. Die badkamers is deur daardie opening.” Samuel verdwyn agter die ontvangstoonbank in en Ester stap eers badkamer toe voordat sy vir haar ’n koeldrank kom inskink en op die breë stoep uitstap en ’n sigaret aansteek. Die gebou is op die walle van ’n rivier gebou. Dit was blykbaar tot dusver ’n goeie reënseisoen en daar is ’n lopende stroom in die groot rivier. ’n Vreemde stilte hang oor die plek, behalwe stemme wat van êrens af aangesweef kom. Vreemde tongvalle waarvan sy hier en daar ’n woord verstaan.
Sy skrik toe sy iets bo haar kop gewaar en ’n blouapie vanuit die boom tot op die stoeptafel spring. Sy kyk ’n oomblik na die swart gesiggie tussen die gryswit stekelrige hare. Die ronde ogies bekyk haar asof hy vir haar wag om iets te sê. Hy kyk na die sigaret in haar hand en sy skud haar kop: “Rook is sleg vir jou.”
Die swart gesiggie kantel toe sy praat, asof hy luister. “Never preach what you do not practise. Selfs nie eens vir ’n aap nie,” praat Samuel agter haar.
Sy trap die sigaret op die sementvloer dood en gooi die stompie tussen die plante langs die stoep in.
Samuel stap teen die trappies af en buk langs die struik. Toe hy opstaan, hou hy die stompie vas. “Verkieslik nie tussen die plante nie.”
“Hier is nie ’n asbak nie.”
“Ek wonder waarom nie.”
Ester voel ’n krieweling in haar nek.
“Ek is seker een sigaretstompie gaan nie die ekologie versteur nie.”
“Gaan jy nie weer rook terwyl jy hier is nie?”
“Wat bedoel jy?”
“As hierdie jou laaste sigaret was, kan jy maar die stompie gooi net waar jy wil, maar as jy die hele tyd wat jy hier is, gaan rook, gaan ons nie net met een stompie sit nie.”
Sy antwoord hom nie en hy draai een van die botteltjies water oop en drink dorstig. “Ek wil hê jy moet saam met Kiki deur die program vir die week gaan. Sy wil net seker maak alles is gereed.”
Ester stap agter hom aan tot waar Kiki in ’n ruim kantoor agter die ontvangstoonbank sit. ’n Rekenaarskerm is aangeskakel en sy trek vir Ester ’n stoel nader.
Op die skerm is ’n lys van benodigdhede wat Henry, die moderedakteur, vir hulle gestuur het. Van die toilette wat in die veld beskikbaar moet wees, tot twee tente, tafels, stoele en ’n paneelvoertuig waarmee alles elke dag aangery kan word. Kos en verversings. Verblyf. Elke persoon moet sy of haar eie huis of chalet hê. Daar is dieet-voorkeure, aankoms- en vertrektye en ’n magdom ander inligting. Dit is waarom sy daarvan hou om saam met Henry te werk. Sy reëlings word met groot sorg getref en min dinge word aan toeval oorgelaat. Dis waarskynlik die enigste rede waarom sy ingewillig het om hierdie tydskrifbylae te doen.
“Dankie vir jou moeite. Ek dink almal sal tevrede wees. Ek kan nie aan nog iets dink nie,” bedank Ester die meisie toe hulle deur al die lyste gewerk het.
Samuel staan buite toe sy uitgestap kom. “As jy klaar is, kan ons maar ry.”
“Waarheen gaan ons?”
“Na my huis toe.”
“Woon jy nie hier nie?”
“Nee. Ek woon ’n entjie hiervandaan.”
“Ek dog ons bly in chalets.”
“Dit was bietjie kort kennisgewing en ons het nie vir julle almal plek nie. Ons het egter van môreaand af vier tente beskikbaar en die res van die span het ons uitgeplaas na van die naburige lodges.”
“Tente?” Sy probeer haar Henry se gesig voorstel as hy weet hy moet in ’n tent slaap, om nie eens van die modelle te praat nie.
“Ek is seker julle sal dit nie te ongerieflik vind nie.”
Sy stap stil agter hom na waar ’n Willy’s Jeep eenkant onder ’n boom geparkeer staan. Sy sien dat hulle bagasie reeds oorgelaai is.
Net buite die kamp draai Samuel op ’n klein paadjie af wat lyk of dit parallel met die rivier loop. Ná ’n rukkie sak hulle af deur ’n kleiner, droë rivierloop en die Jeep se enjin brul teen die oorkantste wal uit. Hulle skud heen en weer, en ná omtrent ’n halfuur gewaar sy skielik ’n ouerige Land Rover langs ’n groot rots staan. Hy hou langs die voertuig stil en sy klim stram uit.
Daar is nie ’n beduidenis van ’n huis of selfs ’n gebou nie en sy weet nie of sy moet vra of maar net saamstap nie. Hy haal egter reeds hulle bagasie agter van die Jeep af en dan sien sy eers die kliptrappies wat lyk of dit in die rots verdwyn. Van nader sien sy dis eintlik twee rotse met ’n smal opening tussenin. Hulle klim ’n klompie trappies en sy kyk verbaas op toe hulle skielik op ’n ruim onderdak-houtdek uitstap. Op die vloer lê sebra- en ander wildsvelle. ’n Paar leerstoele en twee groot rusbanke staan om ’n groot koffietafel gerangskik. ’n Houttafel met agt stoele staan na die regterkant toe langs ’n halflyfmuurtjie waaragter iets soos ’n kombuis is. Die hele area is met ’n netjiese rietdak bedek. Eenkant, met ’n rots as agterkant, is ’n enorme vuurmaakplek.
’n Man met ’n swart broek en spierwit sjefbaadjie is in die kombuis aan die werk. Hy kyk op toe hulle nader gestap kom. Vir Ester lyk dit of daar vreugde in die donker oë kom lê. Miskien ook nie vreugde nie. Miskien eerder ’n diepe tevredenheid. Hy en Samuel groet met die hand. Die taal wat hulle praat, het sy intussen uitgevind, is Sjangaan. Ná ’n rukkie beduie Samuel na Ester.
“Dis Ester Green. Ester, dis Elias Nkuna. Kiki se pa.” Hy steek sy hand na haar uit, maar glimlag nie soos Moses of Kiki nie.
“Kom, laat ek jou gaan wys waar jy slaap.” Samuel stap na die linkerkant van die stoep en dit voel vir haar of hulle in ’n massiewe wildevyboom se takke instap. Dan sien sy die kronkelende loopvlak van hout tussen die reuse takke en om die stam. Toe sy afkyk, besef sy hulle is ’n hele entjie bo die grond. Die paadjie maak oop op wat soos ’n kleiner houtdek lyk, met ’n deur wat na die regterkant oopmaak. ’n Entjie voor haar sien sy nog ’n deur. Hy het egter reeds by die eerste deur in verdwyn en sy stap agter hom in ’n kamer in. Bo haar is ’n rietdak en teen die een muur staan ’n dubbelbed met spierwit linne en ’n muskietnet oor. Weerskante is twee kassies van ’n rooierige hout en net langs die boomstam is ’n paar hake teen die muur aangebring. ’n Regop kassie met laaie en ’n gemakstoel is die enigste ander meubelstukke. Sy het al in haar lewe op vreemde plekke geslaap, maar hierdie is selfs vir haar ’n eerste ervaring.
“Is jy nie bietjie oud vir ’n boomhuis nie?” vra sy voor sy haarself kan keer. “Is dit nie ’n fase wat alle seuntjies een of ander tyd ontgroei nie?”
“Klaarblyklik het ek nie myne ontgroei nie.” Hy wys na die laaikassie. “Daar behoort handdoeke en seep in te wees.”
Sy kyk om haar rond. Daar is nie vensters nie, maar oorkant die bed is houthortjies wat soos deure oopvou na twee gemakstoele en ’n houtreling. Sy stap uit op die stoepie en sien dat hulle letterlik op die rivierwal is. ’n Entjie onderkant hulle staan ’n olifant en ’n entjie verder aan kom twee kameelperde en ’n paar sebras na die groot poel water aangestap.
“Is hier iets soos ’n badkamer, of maak jy ook sommer gebruik van die rivierpoele?”
“Die badkamer is anderkant die braaiplek. Stap net met die lysie links om die rots.”
“En as ek vannag badkamer toe moet gaan?”
“In die laai behoort ’n flits te wees.”
“Hier is nie ’n heining om die plek nie.”
“Behalwe bobbejane, ape, luiperds en cheetahs het ek nog nooit juis enige ander dier hier gekry nie. Hulle beland gewoonlik per toeval hier as hulle dalk verdwaal en op ’n manier oor die rots kom.”
“Waar slaap jy?”
“Die volgende deur.”
“Woon jy alleen hier?”
“Ja.”
“Waarom woon jy nie by die kamp nie?”
“Ek het te veel Tarzan gelees toe ek klein was.”
Ester kyk hom skeef aan en hy glimlag.
“Destyds het dit soos ’n interessante eksperiment gevoel. En nou is ek gewoond hieraan en voel dit soos huis. As jy mooi kyk, sal jy sien dat dit eintlik tente is wat op die stellasies staangemaak is. Wanneer ek hier is, rol ons gewoonlik die kante op, maar as ons nie hier is nie, is dit ’n goeie manier om die plek toe te maak en te keer dat die ape en bobbejane nie oorvat nie. Nie dat hulle nie probeer nie.”
Hy tel sy tas op en stap verder met die houtpaadjie langs tot sy ’n deur hoor oopgaan. Sy staan nog ’n rukkie na die toneel onder haar en kyk. Die lug is besig om van donkerblou na swart te verander en sy ril liggies toe ’n veraf geroep opklink. Haar brein sukkel skielik om alles om haar in te neem en dis moeilik om te glo dat sy die vorige aand hierdie tyd nog in Londen was. Die wêreld het klein geword en sy is nie seker ’n mens se lyf is gemaak om so vinnig so ver te kan reis nie. Dit voel vir haar of sy haarself êrens in ’n stadium tussen die werklikheid en ’n droom bevind.
Sy draai om toe ’n geluid agter haar opklink en dan sien sy dis Elias wat ’n gaslamp op haar bedkassie kom neersit. Sy haal skoon klere uit haar tas en ’n handdoek en seep uit die laaikas en stap daarmee badkamer toe. Samuel het nie ’n grap gemaak toe hy van ’n lysie gepraat het nie. Die paadjie om die rots is ’n smal lysie, maar tot haar verligting is daar darem ’n ketting gespan waaraan sy kan vashou. Sy bly egter opkyk om te sien of een of ander dier nie bo-op die rots vir haar sit en kyk nie.
Die stilte om haar is byna oorverdowend, maar ná ’n oomblik besef sy dis ook nie waar nie. Die lug om haar is gevul met geluide. Voëls wat op verskillende toonhoogtes en met verskillende klanke in die bome om haar kwetter. ’n Entjie weg hoor sy die skielike skreeugeluid van ’n blouapie en tussen alles deur raak sy bewus van die lae dreuning van ’n stem wat een of ander vreemde lied sing. Sy ril weer liggies, maar steek in haar spore vas toe sy die badkamer gewaar. Sy is seker sy het nie ’n witgeteëlde badkamer verwag nie, maar sy weet sy het dalk iets meer as ’n halwe muurtjie met ’n toilet daaragter en ’n stort onder die opelug verwag.
Die rots onder haar voete is warm van die dag se son toe sy kaalvoet onder die stort instap. Die water is koel op haar vel en sy staan ’n lang ruk onder die lopende water voordat sy haar lyf begin was.
Daar lê ’n moegheid in haar wat niks met fisieke uitputting te doen het nie. Miskien is dit nie soseer in haar lyf nie, maar eerder in haar kop. Die dag het te veel emosies losgemaak en te veel woorde. Terwyl sy na Samuel Mcgreggor geluister het, was dit of ’n prop effens skietgegee het en woorde en gedagtes wat lank reeds ingeperk was, het begin uitkom. Dit was asof sy bewus was van ’n ander stem in haar kop en sy besef nou dis haar pa se stem. Sy het haar pa se optimisme en selfondersoek gehoor. Hy was ook nooit bang om te sê wat gedoen moet word nie, al het dit gevra dat hy sy hand in eie boesem moes steek.
Sy trek ’n kortbroek en T-hemp aan en is bly om te sien die paadjie word nou deur ’n paar fakkels verlig.
“Het jy vir my warm water gebêre?” Samuel staan by Elias in die kombuis. Om sy nek hang ’n handdoek en skoon klere lê op die tafel agter hom.
“ ’n Man bly nie in ’n boomhuis en dan wil hy warm stort nie. Dis nie goed vir jou image nie.”
“Dit sal meer as ’n bietjie warm water kos om my image te skaad.”
Sy skud haar kop en stap aan, maar hy roep agter haar aan: “Die kos is klaar. As ek klaar gestort het, kan ons maar eet. Trek net eers vir jou ’n langbroek en langmouhemp aan. Die muskiete is hierdie tyd van die jaar nog bedrywig.”