Читать книгу Die boek van Ester - Wilna Adriaanse - Страница 5
Оглавление2
In die ingangsportaal van die konferensiesentrum stap ’n meisie met ’n skoongewaste gesig en kort, donker hare nader.
“Juffrou Green? Samuel het gesê ek moet u bagasie neem. Die sekuriteitsmense sal solank daarna kyk.”
Ester oorweeg dit om te sê sy sal sommer self na haar bagasie kyk, maar ’n groterige man het reeds haar tas geneem en hou sy hand uit om die twee kameratasse ook te neem.
Ester skud haar kop. “Ek sal hierdie by my hou.”
Die meisie het reeds ’n deur oopgemaak en beduie na drie rye van voor waar ’n sitplek oop is. Die ouditorium is dofverlig. In die kollig op die verhoog is ’n man reeds aan die praat.
Samuel se oë het al aan die donker ouditorium gewoond geraak. Hy kan die figuur in die paadjie sien afstap. Hy hoor hoe mense verskuif om haar te laat verbykom en hy hoor haar iets mompel. Hy kan nie haar gelaatstrekke eien nie, maar aan die twee tasse wat sy langs haar onder die sitplekke inskuif, vermoed hy dis Ester Green. Hy bly net ’n oomblik stil voordat hy weer begin praat.
“Iemand het per geleentheid na Afrika verwys as die teater van die absurde. Sommige beweer dat Afrika nog nooit ’n logiese kontinent was nie, maar dat die wonder van Afrika juis in hierdie onlogiese opgesluit lê.”
Ester knoop haar baadjie oop voordat sy opkyk.
“Die waarheid lê waarskynlik êrens tussen hierdie twee stellings,” gaan hy voort terwyl hy stadig heen en weer oor die vol saal kyk. “Hoe ons ook al oor hierdie donker kontinent voel, daar is een stuk waarheid waarvan ons nie kan wegkom nie, en dit is dat Afrika geseën is met ongeëwenaarde, natuurlike hulpbronne, waarvan die interessante natuurskoon net een is. Die ekosisteme in Afrika is van die mees diverse en produktiewe wildernisgebiede in die wêreld.
“Maar teen die agtergrond van die ongeëwenaarde natuurlike rykdom, gaan Afrika gebuk onder enorme probleme en uitdagings. Armoede, beperkte ekonomiese geleenthede en onstabiele politieke sisteme veroorsaak groot druk op die mens sowel as op die natuurlike hulpbronne.”
Ester sien hoe sy linkerhand ligweg in sy broeksak rus. Hy staan gemaklik met sy gewig op albei voete en praat rustig, sonder om te vroetel, asof hy dit elke dag doen. Sy vel getuig van ’n lewe in die buitelug. Selfs van hier waar sy sit, kan sy die sonplooie langs sy oë sien. Sy lyf is sterk en lenig en lyk goed in die ligte chino en olyfgroen hemp wat hy dra.
Sy let altyd lywe op. Lyftaal, oogtaal en hande. Die drieeenheid wat alles verklap wat jy van ’n mens wil weet. Die verklikkers van diep geheime. Sy hare is donkerbruin, maar die ligte op die verhoog tel hier en daar ’n rooierigheid op.
“Die term ‘derde wêreld’ is ’n algemene mistasting en impliseer ’n onafhanklike wêreld wat geen verbintenis met die res van die wêreld het nie. Sedert kolonialisme bestaan daar egter reeds ’n band tussen die eerste wêreld, of die Weste, en die derde wêreld. Die verbintenis was nie altyd ’n gelyke een nie en dikwels meer voordelig vir die ryker, eerste wêreld as vir die kolonies. Maar die feit bly staan, toe die eerste produk, of dit ’n olifanttand of ’n inheemse vrug was, vir die eerste keer uit Afrika geneem is, het die verbintenis ontstaan.
“Die voormalige Britse premier Tony Blair het in 2001 op ’n kongres gesê dat die toestande in Afrika ’n litteken op die gewete van die wêreld is. Ek dink dit is ’n baie raak beskrywing van ’n baie komplekse situasie, maar hoe graag ons ook al die Weste verantwoordelik wil hou vir al die vergrype wat op die kontinent plaasgevind het, het dit tyd geword dat ons self ook verantwoordelikheid begin aanvaar vir wat hier gebeur.
“Die vernietiging van die aarde se natuurlike hulpbronne is potensieel een van die grootste rampe wat die mens in die een en twintigste eeu in die gesig staar. Afrika het die hoogste bevolkingsaanwas ter wêreld. Die bevolkingsgetalle van Afrika, suid van die Sahara, het vanaf 1950 tot en met 1990 van tweehonderd miljoen na seshonderd miljoen inwoners verdriedubbel. Na verwagting sal Lagos in Nigerië in 2015 vyf en twintig miljoen inwoners hê. Die omvang van so ’n megastad in Afrika is ontsagwekkend en maak omgewingsbeplanners bekommerd. Die streek kan nie hierdie soort bevolkingsgroei dra nie en die gevolg is dat grond ’n skaars kommoditeit raak en daar ’n voortdurende stryd tussen mens en dier en mens en mens is.”
Hy bly stil terwyl sy blik oor die mense voor hom gaan. Hier en daar herken hy gesigte in die voorste rye en hy weet hulle hoor hom. Dis nie die eerste keer dat hy oor hierdie dinge praat nie, maar tog moet dit weer en weer gesê word, want dis asof die mense vergeet.
Miskien is dit makliker om te vergeet of anderpad te kyk. Hy sou ook graag anderpad wou kyk en iemand anders laat wakker lê het, maar hy het nooit werklik daardie keuse gehad nie. Sommige mense kan deur die lewe gaan sonder om te wonder, maar blykbaar is hy een van die ongelukkiges wat van kleins af gewonder het. Nie net oor hoe dinge werk nie, maar veral wat hy kan doen om dinge beter te maak. En solank hy ’n stem het, sal hy praat. Al is dit dieselfde woorde oor en oor, tot dit ’n refrein word. Miskien is dit die enigste manier om ’n boodskap oor te dra. Weer en weer, tot dit ’n mantra word. ’n Inkantasie wat oor die vasteland gehoor word, soos oeroue tromslae.
“Die mense in Afrika moet begin om die hulpbronne met verantwoordelikheid te gebruik. Die oorloë, etniese konflikte en voortslepende onrus het die streek duur gekos en is steeds een van die grootste oorsake waarom soveel state op buitelandse hulp moet staatmaak vir oorlewing.
“Wapenvervaardigers is afhanklik van oorloë om hulle wapens te verkoop. Die lande van oorsprong is afhanklik van hierdie vervaardigers se belastings en die geld wat op so ’n manier in die staatskaste beland, maak dat owerhede té dikwels blind is vir wat die maatskappye aanvang.
“Gedurende 1972 is daar na raming wêreldwyd ses honderd en tagtig biljoen dollar, gemeet teen die 1988-prysindeks, aan wapens en gewapende magte bestee. In dieselfde jaar was die getal oorlogsvlugtelinge ongeveer drie miljoen. Twintig jaar later, in 1992, het wêreldwye militêre spandering gestyg tot net onder die agthonderd biljoen Amerikaanse dollar, weer gemeet teen die 1988-prysindeks, en die getal vlugtelinge het vermeerder tot ongeveer vyftien miljoen. Afrika kan nie oorloë bekostig nie en moet noodgedwonge weer bakhand staan vir die Weste om te help,” gaan hy voort.
Ester kyk om haar rond. Mense sit stil en luister. Hier en daar knik ’n kop instemmend of dalk uit gewoonte en bygeloof, dink sy geamuseerd.
Hy versit sy gewig effens na sy linkervoet. Sy een hand bly egter steeds ontspanne in sy broeksak, wanneer hy nie albei hande gebruik om te beduie nie.
Ester haal haar selfoon uit en begin ’n boodskap tik. Is dokter Doolittle een of ander Messias-figuur? Sy tik Ira se nommer en maak die selfoon toe.
“Afrika het baie probleme en ek wil geensins beweer die oplossings is maklik en voor die hand liggend nie, maar heelwat van die oplossings lê in die streek self en sy mense opgesluit. Julle gaan gedurende die volgende week veral na Oos- en Suidelike Afrika kyk en dis veral hierdie streek wat met van die wêreld se rykste wildernisgebiede geseën is.
“Wildernisgebiede kan egter nie meer net eksklusiewe areas wees waar die wêreld se rykes in luuksheid na die inheemse wild kom kyk of die natuurskoon kom geniet nie. Dit het tyd geword dat plaaslike gemeenskappe ook deur hierdie proses bevoordeel word. Maar terselfdertyd het dit tyd geword dat plaaslike gemeenskappe deel van die bewaring word en help dra aan die verantwoordelikheid om die gebiede te bewaar. Die wêreld stroom om hierdie rede na Afrika, maar ons is stelselmatig besig om die spreekwoordelike gans wat die goue eiers lê, nek om te draai. Ons is soos kinders wat nie net toelaat dat ons ma beroof, verkrag en vermoor word nie, ons help om dit te doen.
“China is besig om soos ’n slapende reus uit die vaalheid van kommunisme of Maoïsme op te staan en ’n ekonomiese entiteit te word waarvan die wêreld met groot oë kennis neem. Die land se behoeftes is onversadigbaar en Afrika is nie altyd onderskeidend genoeg met die vriendskappe wat sy sluit nie.”
Ester voel hoe die moegheid swaar in haar lyf lê en sy verskuif haarself effens op die regop sitplek. Sy het nie vandag lus om na ’n motiveringspraatjie oor Afrika en haar probleme te luister nie. Dis nie asof daar enigsins iets nuuts gesê kan word nie, maar sy kry dit ook nie reg om nié te luister nie.
“Daar lê baie werk voor en oplossings moet gevind word, want die alternatief gaan rampspoedig wees. Daarom vra ek u almal om persoonlike geskille en streeksgeskille opsy te skuif en daadwerklik hande te neem.”
Sy skrik toe ’n handegeklap rondom haar opklink, maar toe sy haar skouersak van die vloer af wil optel, hoor sy hoe iemand uit die gehoor ’n vraag vra en sy sit weer regop. Sy luister met ’n halwe oor hoe daar vanuit die saal vrae gevra word. Blykbaar het Samuel Mcgreggor op elke vraag ’n antwoord, want sy hoor kort-kort hoe hy sonder aarseling antwoord.
As jy iets met die nodige oortuiging sê, sal mense jou glo. Dit maak nie saak of dit die grootste klomp kak of profetiese woorde is nie. “Lyk net of jy dit self glo en jy sal volgelinge kry”, hoor Ester haar pa se stem in haar kop.
“Is dit nie ’n absolute vermorsing van tyd en geld om die natuurlike hulpbronne van hierdie kontinent te probeer red, terwyl menselewens hier niks werd is nie? Waarom probeer julle nie liewer die volksmoorde keer nie?”
Hy glimlag effens terwyl hy reguit na haar kyk. “Dis ’n baie interessante en relevante vraag, maar ongelukkig nie een met ’n maklike antwoord nie. Ek vermoed dis een van daardie soort probleme waarvoor die antwoord op ’n ander plek gesoek moet word as om slegs vir mense te sê ons moet ophou oorlog maak of bid om vrede. As ons dit kan regkry om mense respek vir lewe op ’n baie basiese vlak te leer, sal ons waarskynlik baie nader aan ’n oplossing kom. As mense leer om respek op mikrovlak vir ’n omgewing met al die lewe daarop te hê, behoort daar minder konflik te wees, want dan kry lewe waarde.
“Om ’n baie basiese voorbeeld te gebruik: dis soos mense wat vir die eerste keer ’n wildernisgebied besoek. Negentig persent van die kere stel hulle slegs in die groot vyf belang. En as hulle dalk nog kan sien hoe ’n roofdier ’n prooi plattrek, word die besoek ’n absolute hoogtepunt. Daarteenoor het ons al dikwels gevind dat, indien dieselfde mense weer en weer kan terugkom, hulle gesindheid gaandeweg verander totdat hulle nie slegs ywerige voëlkykers word nie, maar selfs begin belangstel in die kleinste ekosisteme wat daar binne die groter sisteem bestaan. Dis eers dan dat mense werklik respek vir die aarde en die lewe daarop kry. Vir mens, dier of plant.
“In die Weste word kinders grootgemaak daarmee dat moord sonde is, maar om jou omgewing te vernietig word aanvaar as ’n onafwendbare resultaat van ontwikkeling. Dis egter nie so eenvoudig soos dit nie. Mense moet leer dat mens en omgewing een is en dat die vernietiging van die een lei tot die waardevermindering en vernietiging van die ander.”
“ ’n Inspirerende gedagte, maar ek is nie seker hierdie kontinent het soveel tyd oor nie. Dit klink vir my na ’n effens naïewe beskouing, veral in die Afrika-konteks.” Ester gaan sit en ignoreer die koppe wat na haar draai.
“Dis ten minste beter as om net vir vrede te bid asof dit ’n reënbui is wat oor die kontinent sal uitsak. Vrede is ’n aktiewe proses. ’n Nimmereindigende poging en nie iets wat bestaan of nie bestaan nie. Soos met baie dinge is ons maar voortdurend besig om op ’n kontinuum te bestaan. Indien ons dit regkry om slegs ’n paar tree in die rigting van vrede te beweeg, is ons, wat my betref, suksesvol. Om te hoop vir ’n algehele kanteling van die skaal, is om naïef te wees.”
Ester haal haar skouers op, maar antwoord hom nie en is ná nog omtrent ’n kwartier dankbaar toe dit lyk asof alle vrae gevra is. ’n Ander man stap die verhoog op en bedank die spreker namens al die teenwoordiges, waarna mense opstaan om hande te klap. Dan begin hulle na buite beweeg.
Buite in die ingangsportaal steek sy ’n sigaret aan, maar dieselfde sekuriteitswag wat haar bagasie geneem het, staan nader en lig haar in dat sy nie binne-in die gebou mag rook nie.
“Ek is seker die gebou gee nie om nie.” Toe dit lyk of hy haar wil antwoord, lig sy haar hand en begin buitentoe stap.
Mense staan in groepies en gesels en hier en daar steek van hulle ook ’n sigaret of pyp aan. Medesondaars, wil sy uitroep.
Ester rook stadig en trek die rook diep in. Toe daar net ’n stompie oorbly, laat val sy dit op die plaveisel en trap daarop. Die volgende oomblik buk iemand by haar, tel die stompie op en gooi dit ’n paar tree verder in ’n vuilgoedhouer wat aan ’n paal vasgemaak is. Dan draai hy terug na haar en sy sien dis Samuel Mcgreggor.
“A, juffrou Green.” Hy steek sy hand uit terwyl hy haar openlik bekyk. Nie op en af soos mans soms doen nie, maar eerder asof hy periferiese visie het en een kyk genoeg is om alles te weet wat hy wil weet. Sy probeer ongesiens aan haar hemp trek en voel-voel met haar vingers of daar nie dalk knope losgespring het nie.
Sy knik. “Dokter Mcgreggor.”
“Ek is jammer die praatjie het langer geduur as wat ek verwag het.”
“Dis seker moeilik om op te hou terwyl soveel mense aan jou lippe hang.” Sy wens sy het ’n spieël gehad, want die manier waarop hy na haar kyk, laat haar vreemd ongemaklik voel. Miskien kan hy iets sien wat niemand anders kan nie.
Hy glimlag skeefweg en kyk op sy horlosie. “As jy gereed is, kan ons maar ry. Ek gaan net gou jou bagasie haal.”
Ester stap agter hom aan en wil eers haar eie tas neem, maar hy is reeds besig om daarmee oor die gladde vloer van die ontvangslokaal in die rigting van die hysers te beweeg. By die hysbak neem hy een van haar kameratasse en haak dit ook oor sy skouer voordat hy die knoppie druk.
Die hysbak is ’n klein hokkie en hulle moet teen mekaar staan om die tasse ook in te kry.
“Ira kon nie bly nie. Hy het ’n afspraak gehad.”
Ongemaklike stiltes in hysbakke het haar nog nooit gepla nie; daarom weet sy nie waarom sy voel sy moet iets sê nie.
Samuel kyk vlugtig af na haar en knik.
In die parkeergarage beduie hy na ’n motor en sy stap stil saam met hom daarheen.
Oomblikke later swaai hulle in die besige verkeer in en Ester kyk na die geboue langs die pad. Die stad het verander vandat sy laas hier was. Daar is nuwe, moderne geboue en beslis baie meer voertuie as wat sy kan onthou. Sommige plekke het verval tot graffitibesmeerde bouvalle, maar selfs in en om die bouvalle is daar tekens van lewe. Mense wat langs die paaie stap. Wasgoed wat van vervalle woonstelbalkonne afhang. Kinders wat met skoolklere ’n sokkerbal heen en weer op ’n oop stuk grond skop. En anderkant die strate en die oop stukke veld, troon moderne winkelsentrums en ultraluukse hotelle.
En onder dit alles loop die sout rivier. Dis vreemd dat die hele stad nog nie brak is nie. Dat die sout nog nie op die grond uitslaan soos salpeter op ’n perd se rug nie. Dat alles nog nie bar en droog is soos langs die Dooie See nie. Dit lyk eerder asof dit toenemend ’n oase word waarheen mense stroom. Op soek na werk, ’n lewe, rykdom selfs. En op die oog af lyk dit of die water van die oase soet is, want die stad floreer blykbaar. Dis net wanneer ’n mens die doringdraad en die elektriese heinings op hemelhoë mure om huise en geboue sien dat jy weet daar is ook ’n ander kant. Die brakkigheid slaan tog deur.
’n Duur, blinkswart Mercedes Benz trek langs hulle by ’n rooi verkeerslig in en dis asof sy na ’n makabere foto kyk. Aan die ander kant van die motor hou ’n eenarmbedelaar sy enigste hand uit vir ’n paar aalmoese. Agter die bedelaar is ’n vervalle gebou sigbaar waar ’n vrou met ’n bhurka aan en ’n baba op die arm op ’n balkon staan, en verder teen die horison blink honderde vensters van ’n luukse toringblok. Net die vrou se oë is sigbaar deur die skrefie in die mantel. Ester wonder wat sy sien.
Samuel bestuur in stilte, maar is die hele tyd bewus van die vrou langs hom. Uit die hoek van sy oog kan hy sien hoe sy deur die venster kyk en die energie wat hy aanvoel, is so gelaai dat hy haar onwillekeurig jammer kry. Dis asof hy haar gedagtes kan hoor heen en weer spring. Sy sit met haar arms voor haar gevou en vroetel met ’n kettinkie om haar regterpols.
“Dink jy die mense glo al die stories wat jy hulle vertel en dat hulle jou optimisme deel?” Ester vra die vraag sonder om na Samuel te kyk. Asof sy dit vir die venster vra. “Het jy nie die massabekering gesien nie?”
“You pick easy targets, Doctor Mcgreggor. Om ’n klomp gelowiges te bekeer, beïndruk my nie.”
“Dink jy jy was die enigste ongelowige daar?”
“As daar ander was, was hulle maar stil.”
“Miskien is ek net baie oortuigend.”
“Ek sê weer, jy kies die gehore vir wie jy preek versigtig.”
“Ek preek nooit nie.”
“Wat noem jy dit dan?”
“Ek herinner hulle net aan alles wat hulle reeds weet, maar soms vergeet.”
Sy glimlag liggies. “En wie sê vir jou jy is reg? Daar is seker ’n moontlikheid dat jy verkeerd kan wees.”
“Enigiets is seker moontlik, maar ek is nie verkeerd nie.”
“Is arrogansie nie juis een van die euwels waarteen jy preek nie?”
Hy begin glimlag. “Het jy ’n ander plan?”
“Ek dink waar dit Afrika aangaan, is dit nou ’n geval van vrede maak met die feite en aanvaar, an honest defeat is your only reward.”
“Is dit nie net lafaards wat so gou tou opgooi nie?”
“Is dit nie net verwaandes wat dink hulle kan die loop van ’n rivier verander nie?”
Hy glimlag. “Ek kan hoor wie se kind jy is.”
Sy draai haar kop sodat sy hom kan sien. “Wat ’n gerieflike manier om ’n vraag te ontduik.”
Sy selfoon begin lui en terwyl hy praat, kyk sy weer stil deur die vensters. Sy wens sy kan huis toe gaan. Sy is nie seker of sy na die struktuur verlang of na die onsigbare elemente wat ’n huis maak nie. Die reuk van vanilla in haar ma se klerekas, die kraak van die vloerplank voor haar pa se studeerkamer. Sy kan vir elk van haar sintuie ’n klomp herinneringe oproep en dan is daar nog die energie van die plek. Miskien was dit net ’n slegte droom. Miskien as sy by die huis kom, gaan hulle nog daar wees.