Читать книгу Die boek van Ester - Wilna Adriaanse - Страница 8

Оглавление

5

Ester se eerste gewaarwording die volgende oggend toe sy wakker word, is van ’n verterende dors. Sy maak met moeite haar oë oop en staar verward na die wasigheid om haar. Miskien is sy dood, dink sy terwyl sy oor haar oë vee om seker te maak hulle is oop. Maar die beweging maak haar bewus van ’n dowwe geklop in haar kop en sy maak weer haar oë toe. Sy weet nie of ’n mens pyn kan ervaar as jy dood is nie. Sy loer deur skrefiesoë en raak versigtig aan die wit wasigheid. Dit duur ’n paar minute voordat sy besef dis ’n muskietnet. Haar volgende vraag is waar sy aan ’n muskietnet kom, maar stadigaan begin sy onthou en sy laat sak haar hand. Die boomhuis. Sy het laas nag in ’n boomhuis geslaap. En tot in die laatnagure met ’n relatief vreemde man oor allerhande dinge gepraat. Sy onthou nie op die oomblik alles wat gesê is nie, maar sy kan baie woorde onthou. En sy stem. ’n Stem wat tuis klink hier tussen die growwe boomstamme en die reuk van grond en water.

Sy begin haar tone versigtig roer terwyl sy wonder of die voëls so hard moet raas. En tussenin is daar die skril geskree van ’n blouapie wat haar elke keer haar kop laat vashou. Met moeite kry sy haar horlosie raakgevat, maar verstrengel haarself byna in die muskietnet.

Tienuur. So ver sy kan onthou, sal die ander net ná een aankom en sy het nog heelwat werk wat sy moet doen. Maar die gedagte aan opstaan laat haar kreun. Dis eers ’n halfuur later dat sy haarself sover kry om haar bene oor die bed se rand te swaai en versigtig regop te kom. Gewapen met haar toiletsakkie, ’n handdoek en klere, stap sy effens wankelrig badkamer toe.

Elias is besig om die houtvloer van die leefarea te vee terwyl hy ’n deuntjie neurie. Die volgende oomblik skreeu hy iets en ’n lemoen vlieg rakelings by haar kop verby. Sy skrik so groot dat sy alles laat val en koes. Hy gee nog ’n paar uitroepe en dan sien sy hoe ’n aap tussen die takke verdwyn. Sy staan op en begin haar klere, wat oor die vloer gestrooi lê, bymekaarmaak. As Elias gesien het dat hy haar byna onthoof het, het hy blykbaar besluit dis nie nodig om iets daaroor te sê nie. Sy rug is weer na haar gedraai en hy neurie verder.

Indien dit moontlik is, klop haar kop nog erger as minute gelede en sy draai die stortkrane wyd oop. Miskien sal dit help.

Elias kyk op toe sy by hom verbystap op pad terug kamer toe. “Hier is kos.”

Ester skud haar kop voordat sy onthou dat dit die een handeling is wat sy nie op die oomblik moet uitvoer nie. “Ek wil nie eet nie. Kan ek net koffie kry?”

Hy beduie na ’n pan op die gasstoof. “Ek het kos gemaak.”

“Ek is nie honger nie, dankie. Kan ek net asseblief koffie kry?” Sy is seker hy verstaan haar. Hy praat vlot Engels en Afrikaans.

Sonder ’n woord skink hy vir haar ’n beker koffie en sit dit op die tafel, saam met ’n bekertjie melk en ’n suikerpot.

“Waar is Samuel?” Die koffie is kokend warm en sy brand haar onderlip toe sy dorstig ’n sluk neem.

“Hy het gaan werk. Hy sê jy moet jou goed inpak. Ek gaan wys jou die plek vir die foto’s en vat jou terug kamp toe.”

“Hoe laat is hy weg?” Sy wonder of hy regtig soveel werk gehad het dat hy nie eens net kon wag tot sy wakker is nie.

“Halfses.”

Sy stap met die koffiebeker kamer toe en gaan sit op een van die stoele voor haar kamer op die balkon. Die son is al warm en die rivierloop is vanoggend verlate, met slegs twee krokodille wat teen die oorkantste wal lê en bak. Die voëls is egter steeds woelig en raserig met hulle doen en late besig. Sy wens sy het ’n afstandbeheerder gehad sodat sy hulle met die druk van ’n knoppie kon stilmaak. Sy moet dringend haar sonbril gaan soek.

Die oomblik toe hulle deur die eerste knik gaan, weet Ester sy gaan nie hierdie rit oorleef nie. Haar kop gaan beslis al op haar geboortenate langs oopbars. Sy weet nie of dit sal help om te vra dat hy stadiger moet ry nie, want dis nie asof hy vreeslik vinnig ry nie.

Hulle ry omtrent ’n kwartier voordat hy stilhou en vir haar beduie sy moet uitklim. Vyf minute se stap bring hulle by ’n interessante stapel rotse wat lyk of hulle deur iemand losweg bo-op mekaar neergesit is.

“Jy kan hier foto’s neem,” praat Elias vir die eerste keer vandat hulle by die lapa weg is. “Kom. Ek sal jou die ander ook gaan wys.”

Ester neem vinnig ’n paar foto’s voordat sy haar treë rek om by te bly, want sy is seker sy hoor iets tussen die mopaniebosse ’n entjie agter hulle. Die rit word weer in doodse stilte afgelê en sy voel byna lighoofdig toe hy eindelik die Land Rover tot stilstand bring. Hy tel die geweer van die agterste sitplek af op en beduie dat sy moet uitklim. Die volgende plek wat hy haar wys, is ’n stukkie vleiland. Al op die rand daarvan staan groot palms in ’n byna volmaakte sirkel. Samuel Mcgreggor het ’n goeie oog vir detail, dink sy beïndruk.

Die derde plek wat Elias haar gaan wys, is verder op teen die rivier waar dik takke van oeroue wildevybome byna tot op die grond hang. Onder die takke, in die skaduwee, is dit koel en effens donker en sy wonder of Elias haar nie net ’n bietjie daar sal laat sit nie. Hy het egter reeds omgedraai en is besig om terug te stap voertuig toe. Hy gee haar elke keer net genoeg tyd om haastig ’n paar foto’s te neem.

Die rit van daar af is nog meer stamperig en Ester moet op haar tande byt om nie te kreun nie. Nadat hulle ’n entjie teen ’n klipkoppie uitgery het, stop hy weer en sy stap agter hom aan tot hy op ’n groot, plat klip gaan staan. Sy moet eers ’n paar keer diep asemhaal toe sy bo kom, maar dan sien sy die uitsig en sy vergeet byna om weer asem te haal. Sy sal nie op so ’n plek kan woon nie, maar sy kan nogal verstaan dat iemand soos Samuel Mcgreggor nie meer hier wil weggaan nie. Hulle kyk uit oor ’n stuk ongerepte landskap. Tussen die mopanies en die maroelas troon daar twee yslike bome uit, soos reuse wat jaloers wag hou. Die rivier lê duidelik groen omsoom ’n ent onder hulle. Dis so stil dat sy êrens ’n insek kan hoor zoem.

Elias draai om en sy volg hom versigtig teen die skuinste af. ’n Entjie van die Land Rover af hou hy sy hand skielik in die lug en sy loop byna in hom vas. Sy kyk heen en weer, voor en agter haar, maar sien niks. Totdat Elias stil na ’n plek net skuins agter die voertuig beduie. Dan sien sy die renoster. Sy lig die kamera wat oor haar skouer hang en sonder om iets te sê, stap sy stadig nader, terwyl die sluiter onophoudelik klik. By die hoek van die voertuig sak sy op haar hurke en eers toe ’n hand om haar boarm sluit en sy die volgende oomblik ietwat hardhandig in die voertuig gehelp word, word sy weer bewus van die ouer man.

Van die woorde wat hy kwytraak, verstaan sy niks, maar wat sy kan aflei van die ‘eish’ aan die begin en van sy stemtoon, klink dit of hy nie op die oomblik te gelukkig met haar is nie.

Sy besluit om nie te antwoord nie, ook nie te vra waaroor die ontsteltenis gaan nie. As sy dalk vermoed het dat hy vir haar kwaad is, word haar vermoedens vinnig bevestig toe hy skielik met aansienlik meer spoed die stamperige pad aandurf en sy later koorsig van pyn voel. Sy was nog nooit so bly om geboue van enige aard te sien soos toe die lodge eindelik voor hulle verskyn nie. Die vlakvark kom weer nader gehardloop en in haar ylende gedagtes neem sy haar voor om nog ’n foto van die potsierlike dier te neem voor sy teruggaan.

Elias stop ’n entjie van die hoofgebou af en laai haar bagasie af. Een van die Sjangaan-mans kom oor die grasperk aangestap en tel haar tasse op. Hy beduie na die hoofgebou en sy stap agter hom aan. Voordat hulle by die gebou is, kom Kiki uitgestap en glimlag toe sy vir Ester gewaar.

“A-a-a, jy het die nag in die boom oorleef. Jy’s ’n dapper vrou.” Sy praat dieselfde goeie Engels as Elias, met net ’n sweempie van ’n aksent.

“Maar as ek nie nou vinnig twee baie sterk kopseerpille kry nie, gaan ek dood. Ek sal jou enigiets betaal as jy vir my twee pille kan gee.”

“Laat David jou solank na jou tent toe neem. Ek sal iemand met die pille stuur. Onthou, jy mag nie alleen buite rondstap nie. Bel asseblief kantoor toe as jy êrens heen wil gaan,” roep sy oor haar skouer.

In hierdie stadium voel dit vir Ester of sy dalk maar liewer moet toelaat dat ’n wilde dier haar so vinnig moontlik opvreet. Dit sal ten minste ’n einde aan haar lyding maak. Hulle kronkel met ’n paadjie tussen die natuurlike plantegroei deur totdat dit vir haar voel of hulle verdwaal is. Eindelik sien sy ’n grasdak tussen die bome deur en dan gewaar sy die byna versteekte konstruksie. Om dit ’n tent te noem, is seker tegnies reg, maar dis nie sommer ’n gewone tent nie. Alhoewel die sykante van ’n dik, roomkleur seil gemaak is, staan dit op ’n netjiese houtplatform en bo-oor die hele konstruksie is ’n netjies gedekte rietdak. Hulle klim ’n paar trappies tot op ’n stoepie en die man by haar trek die groot ritssluiter oop en vou die deursigtige binneseil weg sodat sy kan instap.

Die binnekant is koel en skemer en sy sien ’n groot dubbelbed met spierwit beddegoed. Sy skop haar skoene uit en stap oor die houtvloer totdat sy vooroor op die bed neerval. Haar tasse word êrens neergesit en daar word vir haar iets van ’n yskassie en water en dinge verduidelik, maar sy het reeds haar oë toegemaak. Sy hoor ’n stem en iemand kom sit ’n pakkie hoofpynpille en ’n botteltjie water langs haar op ’n bedkassie neer. Sy draai op haar sy en sluk dit haastig voordat sy weer op haar maag draai en haar oë toemaak.

Ester voel verward toe sy wakker word. Dis pikdonker om haar en vir die tweede keer daardie dag wonder sy of sy nie dalk dood is nie. Sy vat-vat langs haar totdat sy iets soos ’n bedkassie raakvat en begin dan versigtig rondtas na iets wat soos ’n skakelaar voel. Sy hoor hoe iets op die vloer val en sy strompel orent. Sy is byna seker sy het ’n flits op die bedkassie gesien voordat sy aan die slaap geraak het. As dit nie ’n flits was nie, weet sy nie wat sy gaan doen nie, want dis so donker dat sy nie haar hand voor haar oë kan sien nie en sy kan nie onthou wat David alles gesê het nie. Sy soek-soek verder na ’n skakelaar, maar die enigste voorwerp wat sy raakgevat kry, is iets wat soos ’n telefoongehoorstuk voel. Sy klou verbete daaraan vas en begin rondvoel tot sy ’n knoppie raakvat. Tot haar groot verligting hoor sy ’n geluid en dan antwoord ’n stem.

“Hallo, dis Ester Green. Kan jy asseblief vir my sê wat ek moet doen om lig in my tent te kry. Dis nagdonker en ek kan nie sien wat aangaan nie.”

“Daar is bedlampe langs die bed en hulle skakelaars is op die voetstukke. Op die bedkassie behoort ’n flits te wees, maar ek stuur iemand om u te kom help.”

“Dankie. Weet jy dalk of die tydskrifgroep aangekom het?”

“Ja, maar hulle het reeds na die ander lodges vertrek. Die drie wat hier bly, is in die lapa. Aandete word oor vyftien minute bedien.”

Sy sak weer teen die kussings terug, maar hou steeds die gehoorstuk in haar hand. In die donkerte voel dit soos haar enigste verbintenis met die beskawing ... of miskien ook nie die beskawing nie, maar ten minste ander mense.

Sy weet nie hoe lank sy so gelê het nie, maar sy slaak ’n sug van verligting toe daar skielik lig van buite af inskyn en sy voetstappe op die stoepie hoor. ’n Beleefde stem vra of hy kan inkom en sy voel soos ’n verdwaalde wat eindelik gevind is. Sy hoor hom binnekom en die volgende oomblik word die bedlamp aan die ander kant van die bed aangeskakel. Sy knip-knip haar oë ’n paar keer en glimlag verlig.

“Ek sal vir Juffrou op die stoep wag,” sê die swart man vriendelik.

Terwyl sy nog halfverdwaas om haar kyk, stap hy weer buitentoe en vir die eerste keer kan sy behoorlik haarself en haar omgewing bekyk. Daar is ’n nat kol op een van die kussings en sy besef sy moes in haar slaap gekwyl het. Sy vee oor haar mond. Ten minste voel haar kop nie meer of dit wil oopbars nie.

Dis ’n baie mooi, luukse tentkamer. Die effens rooibruin houtvloere glim warm. Sy kyk op haar horlosie. Dis net na halfsewe. Sy het die hele middag geslaap. Toe sy haar selfoon uit haar skouersak haal, is daar nie ’n teken van ’n sein nie en sy gooi dit terug. Die badkamer is agter ’n kas aan die bed se kopkant, maar die stort is ’n opelugstort op ’n klein privaat stoepie buite die tent. Sy kyk versigtig heen en weer en bo haar in die boom voordat sy die stortkrane oopdraai en onder die water instap. Haar kopseer is weg, maar in die plek daarvan voel dit of ’n wollerige newel oor haar brein gespan is.

Die vriendelike man sit op die stoeptrappies toe sy uitstap en kom orent toe hy haar sien. Hy maak seker haar tentflap is dig toegetrek voordat hy sy flits aanskakel en voor haar op die geplaveide paadjie uitstap. Hier en daar skyn ’n lig tussen die struike en bome, maar nie so sterk dat ’n mens sonder ’n flits die pad sal wil stap nie.

Ester ruik die vuur en hoor die halfgedempte stemme voordat sy nog in die lapa is. Sy kyk oor haar skouer na die gids. “Dankie.”

Hy glimlag breed.

Sy gewaar vir Henry en die twee modelle, Marja en Heidi, by ’n tafel.

Hy frons toe hy haar gewaar. “Wat het van jou geword, en waarom lyk jy so sleg?”

“Ek het vandag gewerk.” Sy soen al drie vlugtig op die wang voordat sy op ’n stoel neersak.

Hy swaai sy arm in die rondte. “Ek is baie beïndruk met die plek wat jy vir ons op sulke kort kennisgewing gekry het. Ek kan net nie glo daar is sulke plekke in die middel van nêrens nie.” Hy beduie na die bord kos voor hom. “En die kos is reguit uit die hemel.”

“Het ek jou al ooit teleurgestel?” Sy beduie vir die kelner om vir haar ’n bier te bring en dan sit sy terug en bekyk haar omgewing met aandag. Dit is ’n groot, losstaande struktuur met ’n grasdak oor. Aan die een kant staan leerrusbanke en -stoele om koffietafels gerangskik en aan die ander kant is ’n verskeidenheid houttafels en stoele waar mense sit en eet. ’n Paar versteekte ligte en die kerse wat op al die tafels brand, sorg vir sagte beligting. Die rietdak loop aan die punte van die gebou tot op die grond. In die middel is ’n groot braaiplek met aan die bokant ’n kopertregter waardeur die rook trek. Weer eens vuur, dink sy. Die mense in Afrika het nog altyd ’n byna magiese verbintenis met vuur gehad. Wit, swart en bruin.

“Gaan skep vir jou kos,” por Henry haar aan. “Ek het nie die vaagste idee wat dit alles is nie, maar ek is ernstig as ek sê dis orgasmies lekker.” Sy swaar Britse stem styg in ekstase.

“Ek is nie nou honger nie.” Sy kyk na die ander twee om die tafel. “Het almal en alles darem hier uitgekom?”

“Elke belt en skoen. En die personeel hier is so behulpsaam dat alles reeds uitgepak en gestoom is. Die reëlings vir môre is getref en hulle wag net vir jou om te sê waar ons gaan begin. Ons het blykbaar vier verskillende plekke waar ons mag skiet.”

Sy neem ’n groot sluk bier. “Hmm ... ek was vandag by almal en dit kan dalk werk.”

“Dit beter werk,” sê Henry ernstig. “Met die kansellasies in Kenia en al die ander drama, is ek op die oomblik nie die gunsteling by die bestuur nie. Hierdie gaan ’n baie duur shoot wees en ons moet sorg dat dit hulle asems wegslaan.” Toe Ester opstaan en op een van die rusbanke gaan sit, stap hy agter haar aan en sak met ’n sug langs haar neer.

Sy steek twee sigarette aan en hou een na hom uit, maar hy skud sy kop. “Ek probeer minder rook.”

“Vir wat?”

“Ek het ’n baie oulike ou ontmoet wat nie van rook hou nie. Gewoonlik sou ek gesê het dis sy probleem, maar as jy hom sien, sal jy ook bereid wees om meer as rook prys te gee ...”

Sy stem raak stil en hy raak aan haar arm. “Ek wonder wat ek sal moet prysgee om hóm in die hande te kry?” Dit klink of hy met homself praat en Ester draai haar kop om te sien waarna of na wie hy kyk.

“Dis die eienaar,” sê sy.

“Die eienaar van wat?”

“Dis Samuel Mcgreggor, die eienaar van die plaas en die lodge. Hy en Ira is vriende en dis hoe ons hier uitgekom het.”

Henry vat ’n trek aan Ester se sigaret en blaas die rook stadig uit terwyl hy deur skrefiesoë na Samuel sit en kyk waar hy groet-groet tussen die tafels deur beweeg.

“Jy rook te veel,” is Samuel se eerste woorde toe hy op ’n stoel by hulle kom sit.

Ester blaas ’n mondvol rook stadig in sy rigting. “Volgens wie se standaarde?”

Hy neem die sigaret uit haar vingers en skiet dit in die vuur.

“Wat doen jy?” Sy kyk hom oopmond aan.

“Ek wil met jou praat en gaan dit nie deur ’n rookwolk doen nie.” Dan kyk hy na Henry en steek sy hand uit. “Jammer dat ek julle gesprek onderbreek. Ek is Samuel Mcgreggor.”

“Henry Blake.” Henry glimlag effens.

“Ek hoop alles is reg en dat julle tevrede is.”

Henry sit regop. “Baie dankie. Alles is perfek en jou personeel is baie professioneel en behulpsaam. Ek is baie dankbaar dat ons van jou geriewe gebruik mag maak. Jy red ons uit ’n redelik netelige situasie.”

“Moenie so gou dankie sê nie ... julle betaal vir hierdie voorreg.” Samuel glimlag skeefweg en Henry blaas hoorbaar sy asem stadig uit. Ester moet keer om nie te lag nie.

Sy haal ’n pakkie sigarette uit haar denim se sak, maar voordat sy weer een kan aansteek, neem Samuel die pakkie uit haar hande en sit dit in sy hempsak. “Jy kan nou-nou weer rook, maar nou wil ek eers hê jy moet luister en konsentreer.”

Sy skuif tot in die hoekie van die rusbank en vou haar arms voor haar bors.

“Ek het gereël dat twee gidse elke dag saam met julle gaan. Hulle ken die veld en die diere, maar dis belangrik dat julle sal luister as hulle praat. Dis op daardie voorwaarde alleen dat ek sal toelaat dat julle foto’s in die veld neem. Anders moet julle hier in die kamp bly en alles hier skiet. Ek soek nie die publisiteit as een van julle hier iets oorkom nie. Hierdie is nie ’n dieretuin nie. Die diere loop los rond en is gevaarlik.”

“Ons is nie kinders nie.”

“Ek is nie so seker daarvan nie, maar in elk geval, ek wil net hê jy moet besef dis ’n guns wat ek enige tyd sal opskort as julle nie by die reëls bly nie. Een insident soos met die renoster vandag en julle gaan nie weer veld toe nie.”

“As ek iemand se lewe in gevaar gestel het, was dit my eie en ek is bereid om die verantwoordelikheid vir myself te dra.”

“Solank jy op my grond is, is jy my verantwoordelikheid en ek maak die reëls. Ek gee nie om of jy daarvan hou of nie.” Hy tel ’n droë blaar van die vloer af op, gooi dit in die vuur en kyk na Henry. “Dit klink dalk onnodig streng, maar ek moet julle woord hê dat julle na die veldwagters sal luister. Ek weet nie wie van julle in beheer is nie, maar sorg asseblief dat die groep weet wat die reëls is.”

“Ek sal toesien dat almal weet wat aangaan.”

“Het Elias ál vier plekke vir jou gaan wys?” Hy kyk na Ester en sy knik.

“En?”

“En wat?”

“Wat dink jy van die plekke wat ek vir jou uitgesoek het?”

“Dit kan dalk werk.”

“As dit nie werk nie, moet jy vir jou ’n ander fotograaf kry.” Hy glimlag ligweg in Henry se rigting, terwyl hy opstaan en nag sê.

Toe hy van hulle af wegstap, rek Henry sy nek lankuit terwyl hy Samuel agterna kyk en Ester sien dat ’n hele paar van die ander mense hom ook agterna kyk.

“Wat dink jy sal dit kos om hom op ’n foto te kry? Ek is bereid om my siel aan die bestuur te verkoop vir daai geld.”

“Ek weet nie.”

“Lyk alle mans in Suid-Afrika so?”

“Wat bedoel jy? Lyk almal so goed of so sleg?” Ester wil vir haar koffie inskink, maar bedink haar.

“Laat ons eerlik wees. Hy kan doen met ’n goeie vogroom en ’n sonblok, maar ek het lanklaas iemand gesien wat so gemaklik in sy eie lyf is. Dit moet hemels bevrydend wees. Dink jy hy besit ’n spieël?”

“Ek het nie ’n idee nie.”

Henry se oë trek weer op skrefies toe hy met meer aandag na Ester kyk. “Bespeur ek lyftaal tussen julle?”

“Ons het gisteraand tot wie weet hoe laat in sy boomhuis gekuier en ek het vanoggend met ’n helse kopseer daar wakker geword. Ek kan nie juis onthou waaroor ons alles gepraat het nie. So as daar lyftaal is, is dit waarskynlik braille, want ek kan baie min onthou. Ek dink ek het hom dom genoem en in ’n stadium vir hom gevra of hy ’n vrou het.”

Henry pruil sy mond. “ ’n Boomhuis? Jy het die nag saam met hóm in ’n boomhuis deurgebring en jy vertel my nie? En nou pleit jy kastig geheueverlies! Moenie my weer enigiets vra nie.”

Ester soen laggend sy wang. “Ek kan dalk nie onthou wat ek alles gesê het nie, maar ek onthou beslis dat ek alleen in ’n bed geslaap het. Daar is sekere dinge wat ’n mens beslis nie sal vergeet nie, en om met Tarzan in ’n boomhuis te slaap, is sekerlik een daarvan. Ek kan nie onthou dat enigiemand aan toue geswaai of uit volle bors geskreeu het nie.”

“Is daar toue?” Henry se oë rek verbaas en Ester lag hardop.

“Nie wat ek kon sien nie, maar ek was nie in sy kamer nie. ’n Mens weet nooit.”

Die boek van Ester

Подняться наверх