Читать книгу Die boek van Ester - Wilna Adriaanse - Страница 7

Оглавление

4

’n Gaslamp brand in die kombuis en op die eetkamertafel twee groot wit kerse toe sy terugkom. Samuel dra ’n informele kakielangbroek, ingeloopte stewels en ’n wit langmouhemp. Sy hare is effens klam en hy sit gemaklik agteroor met sy voete op die stoepreling. Die tafel is gedek en op die muurtjie tussen die kombuis en die leefarea is ’n paar opskepbakke op ’n staander met kersbranders.

“Kom sit,” nooi Samuel toe hy haar gewaar. “Wat wil jy drink?”

“ ’n Slaappil. Ek sal nooit vannag in hierdie stilte kan slaap nie.”

Hy glimlag en skink twee glase whiskey, gooi ys by en hou die een uit na haar.

“Dit sal help.”

Sy neem ’n sluk voordat sy ’n sigaret aansteek. “Wat het van Elias geword?”

“Hy is al terug kamp toe om te gaan eet.”

“Waar woon hy?”

“Amptelik in die kamp saam met die res van die personeel, maar hy het vir hom hier agter die volgende rots ’n huisie gebou waar hy soms slaap. Ek weet nooit hoe hy besluit waar hy die aand wil eet en slaap nie.”

“Jy lyk soos ’n kat wat enige oomblik kan begin spin van lekkerte.”

Hy strek sy arms bo sy kop uit. “Ek was ’n maand laas hier en dis deesdae te lank. Ek hou nie meer daarvan om so lank weg te wees nie.”

“Bring jy ooit gaste hierheen?”

“Ja, maar dis gewoonlik net goeie vriende vir wie ek nie gasheer hoef te speel nie.”

“Woon jy al lank hier?”

“Die grond het aan my ma se ouers behoort. Ek het feitlik al my vakansies hier deurgebring. My ma het nie broers en susters nie en ek het die plaas so ses jaar gelede by my oupa geërf. Die huis het ek egter eers so drie jaar gelede laat bou.”

“Ira sê jy het in Zimbabwe grootgeword.” Tussen haar vrae drink sy mondjiesvol whiskey. Dit maak ’n warm kol in haar en dis of ’n paar styfgespanne drade van haar tone af begin skietgee.

“My ouers was sendelingdokters wie se roeping dit was om die mense in die landelike gebiede van goeie mediese sorg te bedien. Ek was in Harare op hoërskool, waarna ek by Onderstepoort gaan swot het. Daarna het ek ’n jaar in die Wildtuin kom werk, toe twee jaar in Zimbabwe, voordat ek voltyds hierheen gekom het.”

Sy druk die sigaret in ’n leë blikkie dood en hy skink vir hulle wyn voordat hy na die opskepbakke beduie. Toe hulle aan tafel sit, hou hy sy hand na haar uit en sy kyk vraend na hom.

“Ek wil bid.”

’n Oomblik is sy nie seker of sy hom reg verstaan nie, maar dan sit sy haar hand in syne. Hy bid ’n eenvoudige gebed in Engels en Ester voel hoe ’n stukkie van haar kindwees voor haar kom staan. Toe hy klaar is, bekyk sy die bord kos voor haar, maar dit duur ’n rukkie voordat sy ’n stukkie vleis afsny. Die vurk huiwer egter in die lug. “Watse vleis is dit?” vra sy.

“Krokodil.”

Die vurk bly in die lug.

“Ek dog jou pa het nie bang kinders grootgemaak nie. Waarvan het jy geleef toe jy nog ’n joernalis was en stories gejag het?”

“Toe was ek jonk en onnosel. Intussen het ek slimmer geword.”

“Dis nie krokodil nie. Dis impala, gewone rooibok. Ek belowe jou jy sal niks oorkom nie. Elias kán kook.”

“Waar het hy geleer?”

“Hy was lank ’n sjef by ’n hotel in Johannesburg. Ek het soms daar gebly en op ’n aand het ek hom ontmoet. Hy is ’n Sjangaan en toe hy hoor ek kan sy taal praat, het hy ’n punt daarvan gemaak om my te groet as ek daar oorgebly het. Op ’n dag het hy my gevra of ek nie ’n kok kort nie en ’n maand later was hy sak en pak hier.”

“En nou is hy tevrede om vir jou kos te maak?” Samuel knik. “Sy amptelike titel is hoofsjef by die lodge waar hy onder andere die ander sjefs moet oplei. Volgens hom weet hulle niks van kosmaak af nie en ek vermoed hy kom hierheen wanneer hy moeg is vir die klomp.”

Hy neem ’n sluk wyn. “Kiki is sy enigste kind. Sy vrou is jare gelede dood.”

Ester begin weer stadigaan eet en Samuel skud sy kop. “Jy het ’n baie wantrouige geaardheid.”

“Selfbeskermend,” help sy hom reg, terwyl sy haar halfgeëte bord opsy skuif en ’n sigaret aansteek.

Hy staan op en skep vir hom nog kos. Intussen bekyk hy Ester terwyl sy vir haar wyn inskink en toe met haar rug teen die reling gaan staan. Sy lyk na haar pa, besluit hy. Of eerder, soos haar Joodse voorouers. Donker van haarkleur en gelaat. Donker oë wat reguit en ernstig die wêreld om haar bekyk. ’n Skraal, byna lenige lyf, maar tog met subtiele vroulike kurwes en sagtheid. Sy is nie vreeslik lank nie, maar hy het ’n vermoede sy verdwyn nie sommer in ’n groep nie.

Hy kan nie onthou wanneer laas hy iemand gesien het wat so rusteloos is nie. ’n Mens kan dit selfs in haar oë sien. Soos iemand wat permanent gereed is vir ’n geveg of nie kan wag om op ’n ander plek of met iets anders besig te wees nie. Sy het dieselfde effens rollende bry-klank wat Ira het en hulle ma gehad het. Cecile Green was ’n Afrikaanse meisie uit die Swartland wat met ’n Johannesburgse Jood getrou het. Cecile het hom een aand vertel hoe geskok haar familie oor die verhouding was. Min mense was egter teen Leon Green bestand, en hy het altyd gespog dat hy loshande sy skoonouers se gunstelingskoonseun was.

Haar Afrikaans laat hom aan Leon s’n dink. Dit was altyd ’n saak van eer dat hy nie gerieflikerwys na Engels sal teruggryp as hy vashaak nie. Sodoende het daar dikwels nuwe Afrikaanse skeppings die lig gesien waaroor Cecile net haar kop geskud het. Ester se aksent is swaarder as Ira s’n, asof haar tong strammer is, maar dit keer haar nie as sy op dreef is nie. Hy is verlig sy praat nie Engels nie, want as sy moet vinniger praat, sal hy driekwart van haar sinne nie kan volg nie. En net soos haar pa, het sy ’n kleurvolle woordeskat wat sekerlik haar ma by tye rooi sou laat word het.

“En as jy my so sit en bekyk?” onderbreek haar stem sy gedagtes.

“Jy laat my aan jou pa dink.”

Sy gee ’n laaste trek aan die sigaret en keer haarself net betyds voordat sy dit oor die reling gooi. ’n Oomblik lyk dit of sy nie die stompie gekeer gaan kry nie, maar sy vat dit tog weer raak en brand haar hand in die proses. “Ag, donner!” Sy gooi die stompie haastig in die vuurmaakplek en suig aan die brandplek.

Samuel stap agter die muurtjie in en kom met ’n ysblokkie terug wat hy heen en weer oor die brandplek vryf. Sy ruik skoon, dink hy toe hy langs haar staan. Skoon en vreemd. Maar hy hou van die reuk van haar parfuum. Dis baie subtiel en speel wegkruipertjie met ’n mens se reuksintuig.

“Ira het my vertel dat jy hulle geken het.” Sy trek haar hand uit syne en gaan sit op een van die rusbanke voor teen die reling, met haar bene onder haar ingetrek.

“Ek het jou die eerste keer in sy kantoor ontmoet. Jy was net klaar geleer en het jou internskap by die koerant gedoen.”

“Ek kan dit nie onthou nie.”

“Jy sal nie. Jy het soos ’n orkaan sy kantoor binnegestorm; julle het vyf minute soos kat en hond baklei voor jy weer daar uit is.”

“Hy kon enige mens soms tot raserny dryf.”

“Hy was ’n besonderse mens. Ek voel bevoorreg dat ek hom geken het.”

“Moenie in die strik trap en jou verbeel hy was ’n heilige nie.”

“Dit is die laaste ding waarvan ek hom sal verdink.” Samuel strek homself op een van die stoele uit.

“Is jy nie bang so alleen hier nie?”

“Nee. Dis seker die plek op aarde waar ek die veiligste voel.”

“Is dit trots wat maak dat jy so blind idealisties is? Jy het waarskynlik soveel jaar al hierdie mooi stories van jou verkondig en nou is dit te laat om te sê jy was verkeerd sonder om face te verloor. Of is jy al so lank hier dat jy aan Stockholm-sindroom ly?”

“Ek is nie blind vir wat om my aangaan nie. Ek wil en moet glo dat daar êrens mense is wat soos ek voel en hoop het dat ons eendag ’n verskil sal kan maak. Hoe gering ook al. En ek kom gereeld genoeg in ander dele van die wêreld dat ek weet hierdie is die plek waar ek die graagste wil wees. En dat ons nie die enigste land met probleme is nie.”

Sy sit stil na hom en kyk waar hy ingedagte die donkerte in staar. Die stilte oorweldig haar kort-kort en dan wonder sy hoe sy geslaap gaan kry. Die enigste geluide wat soms opklink, is ’n veraf getjank of ’n geproes onder uit die rivier. Nou en dan is daar die verergde blaf van ’n bobbejaan.

Sy raak eers bewus van die lig op die horison toe dit lyk of hy nog ’n lamp êrens aangesteek het. Die maan het groot en geel oor die oorkantste boomtoppe opgekom en die droë sandbanke word skielik geelwit verlig.

“Another fucking beautiful night in Africa,” laat sy met ’n sug hoor. “Hoe kan so ’n plek so totaal verrot wees?”

“Daar is niks met die plek verkeerd nie. Die probleem lê by sommige van die mense.”

“Jy kan nie die twee skei nie.”

“Ja, jy kan. Jy is tog nie die huis waarin jy woon nie. Jy kan die huis mooi maak of verwaarloos, maar jy kan nie die struktuur wees nie.”

“Oukei, ek sal die vraag anders bewoord. Hoe kan die mense wat bevoorreg genoeg is om op hierdie kontinent te woon, so ’n enorme fokkop van alles maak? Hoe kan hulle net alles wil vernietig? Is dit dalk die straf vir die feit dat hulle die paradys geërf het?”

“Dis omdat ons nie regtig besef wat ons het nie.”

“Sien jy jouself as een van hulle?”

“Natuurlik. Wie is ek om te sê ek is die enigste een wat al die lig gesien het?”

“Sal hulle ooit weet wat hulle het?”

“Almal sal nooit weet nie, nee, maar as die meerderheid net weet, sal jy hierdie plek nie ken nie.”

“En wat is dit wat jy dink julle nie weet nie?”

“Ubuntu is ’n mooi woord, maar kan ook Afrika se ondergang beteken. Afrika is nie en sal nooit regtig ’n eenheid wees nie. Afrika se sterk punt is juis in haar diversiteit geleë, en in plaas daarvan dat ons mekaar se oortredinge en vergrype toesmeer en verdra, moet ons mekaar daaroor aanspreek. Op die oomblik is ons nog te geneig om te voel dis ons teen die res van die wêreld. Om jou broer of jou buurman te berispe oor sy verkeerde dade is nie verkeerd nie. Dit wys juis dat jy omgee. Volke moet ook leer om hulself, dit wat hulle het en wat hulle is, te respekteer. Eers dan sal hulle ander volke se andersheid kan respekteer. Om almal in een pot te gooi is om te sê elkeen moet sy of haar eie identiteit ignoreer. Dit is wanneer volkshaat en minagting vir mekaar se besittings en lewe ontstaan.”

“Jy’s ’n gek. Julle sit met ’n skaakmatsituasie. Julle kan netsowel boedel oorgee en soos slim rotte die skip verlaat terwyl die mas darem nog bo die water uitsteek. Dit wat jy bepleit, is ’n idealistiese droom.”

Hy draai homself in sy stoel sodat hy haar kan sien. “Is jy nie te jonk om nou al so sinies te wees nie?”

“Sinisme beteken onder andere ’n ongeloof in die goeie. Wys my die goeie hier en ek word ’n gelowige.” Samuel strek sy bene uit. “Kyk, daar kom ’n klompie olifante water toe.”

Ester sien hoe die donker skaduwees vorm aanneem. Hulle stap oor die sandvlakte en verdwyn ’n entjie stroomop van die boomhuis teen die rivierwal uit. Sy ril liggies en vryf oor haar arms. Dis soos goëlery. ’n Mens se sintuie word op ’n baie vreemde manier aanhoudend geprikkel. As dit nie ’n geur is wat op die ligte windjie aangewaai kom nie, is dit ’n geluid of, soos nou, ’n vreemde nagtafereel.

“Het jy nie ’n televisie nie? Ek wil sien wat vandag in die wêreld aangegaan het.”

“Al het ek een gehad, sou jy sonder elektrisiteit gesukkel het om ’n prentjie te kry. En in elk geval, as daar iets gebeur het wat jy moet weet, sal jy dit op een of ander manier te hore kom. Solank jy niks hoor nie, is daar niks wat jy behoort te weet of te doen nie.”

“ ’n Mens kan nie so oningelig deur die lewe gaan nie.”

“ ’n Mens kan ook te veel weet. Dis net so gevaarlik.”

“Ignorance is not innocence but sin.”

Samuel gooi sy kop agteroor en lag. “Spoken like a true Green.”

“Hoe oud is jy?”

“Vier en dertig, en jy?”

“Nege en twintig.”

“Hoekom is jy nie getroud nie?” Sy draai haar kop effens skuins.

“Wie sê ek is nie getroud nie?”

“Ek dink nie ’n man wat getroud is, behoort so gelukkig te lyk wanneer hy alleen is nie.”

“Waarom is jý nie getroud nie?” vra hy haar dieselfde vraag.

“Ek is te besig en ek glo nie aan soveel papierwerk nie. Tot die dood ons skei, klink ook na ’n hopeloos té lang tyd.”

Hy lag gemaklik. “Miskien het jy net nog nie die regte man ontmoet nie.”

“Glo jy aan daardie spesiale een wat die verskil gaan maak?”

“My ouers was baie gelukkig bymekaar, so miskien is ek geneties geprogrammeer om tog te hoop.”

“Daar was seker al vrouens wat gedink het jy is ’n aantreklike pakket, vreemde filosofieë en boomhuis ten spyt. Jy’s ’n redelik aantreklike man, op ’n aardse manier. Jy maak blykbaar ’n sukses van wat jy doen ...”

“Dink jy dis ’n aantreklike pakket?”

Ester gee ’n kras laggie. “Lyk ek vir jou die tipe?” Sy skud haar kop heen en weer. “Miskien eens op ’n tyd, maar my smaak het verander. ’n Man met ’n Hugo Boss- of Fabiani-pak, ’n goed betalende kantoorjob, ’n voorliefde vir uiteet en wat die verskil ken tussen Egiptiese linneen poliësterlakens, is heelwat minder moeite. As hy op ’n dag oorval word deur ’n lus vir avontuur, koop hy ’n nuwe en beter selfoon. Hy sleep jou nie die bosse in of saam om ’n nuwe kontinent te gaan ontdek nie. Hy lyk min of meer soos alle ander mans; as die verhouding met hóm dus nie werk nie, is dit nie eintlik eers nodig om daaroor te rou nie. Jy weet sommer die volgende een gaan dieselfde wees en lyk. Dis so min moeite. Jy kan selfs die klere wat by jou agtergebly het, vir die volgende een gee, en jy weet hy sal daarvan hou en dit sal pas.”

Samuel lag hardop. “Enige vrou se droom.”

“Ja, maar êrens moet tog vrouens wees wat daarvan hou om die pioniersding te doen. Soos die klomp wat die kongres bywoon. Ek is seker ek het in ’n hele paar se oë ’n belustheid opgemerk.”

“Dis jammer jy het my nie gewys nie.”

“Het jy nie eens ’n lover nie?”

“Wat is jou definisie van ’n lover?”

“Iemand wat gereeld of ten minste soms haar lyf, bed en lewe met jou deel.”

“Het jý ’n lover?”

“Op die oomblik is ek tussen lovers. Ek het nog net nie kans gehad om ’n nuwe een te soek nie.”

“Ek dog dis so maklik.”

“Ja, hel, maar ’n mens moet darem steeds op een besluit.” Sy sluk die laaste bietjie wyn in haar glas en strek dan om die bottel van die tafel af op te tel. Sy verloor byna haar balans, maar Samuel steek sy voet uit en keer dat sy vooroor val. Sy skink hulle glase weer vol en sug.

“Ek wens ek het nie gekom nie. Dis so moeilik om nie te onthou nie.”

“Waarom wil jy nie onthou nie? Hier lê tog seker goeie herinneringe ook.”

“Ek kan hulle nie onthou nie. Dis net die slegtes wat oorgebly het.”

Hy antwoord haar nie en ’n rukkie is dit doodstil om hulle. “Waarom het jy hulle huis gekoop? Daar’s tog baie ander huise waaruit jy kon kies.”

“Dis ’n besonderse plek en ek het gedink dit sal dalk vir julle lekker wees om te weet dis nie vreemdes wat daar woon nie. Ira geniet dit om daar te kom.”

“Ira is mal.”

“Ira het net besluit dis beter om vrede te maak.”

“Daar is dinge waarmee ’n mens nooit vrede kan maak nie.” Sy steek ’n sigaret aan en trek die rook diep in. Toe sy dit uitblaas, is dit met ’n hoorbare sug. “Jy kan maar soveel mooi stories vertel soos jy wil. Ek het my skuld betaal en ek skuld Afrika niks nie. Veral nie vergifnis nie.”

“Vergifnis is ’n belangrike deel van genesing.”

“Ag, kak!” Sy kyk na hom deur die rook. “Moet asseblief nie vir my sê jy vergewe almal wat iets aan jou doen nie. Jy kan wragtig nie so ’n masochis wees nie.”

“Haat is ’n vernietigende emosie en dit mors ’n klomp van ’n mens se tyd en energie.”

Sy gooi haar kop agteroor en lag met ’n oop mond. “Van watter planeet af kom jy?” Haar kop ruk orent toe ’n skril geluid ’n entjie agter hulle opklink. “Hier vreet die goed my nog vannag lewendig op.”

“Jy’s nie regtig bang nie. Jy het net verleer hoe dit voel om nie in beheer te wees nie. Iemand wat al gedoen en gesien het wat jy gedoen en gesien het, kan nie bang wees nie.”

“Dit was in ’n vorige lewe. Nou verkies ek om self te besluit hoe en wat ek wil doen en waar ek dit wil doen.”

“Mis jy nie verslaggewing nie? Om mense agter die skerms te kan laat sien nie?”

“Ek verkies om nie daaroor te dink nie. In daardie stadium moes ek ’n breuk maak en dit was ’n logiese verandering. Ek kon steeds doen waarvan ek hou, net op ’n ander manier en onder beter omstandighede.

“Ronald Reagan het per geleentheid gesê dat die politiek veronderstel is om die tweede oudste professie in die wêreld te wees, maar dat hy agtergekom het dit het eintlik baie noue ooreenkomste met die oudste professie. Ek was moeg vir politiek. Ek gee nie meer om wie vir wie in die rug steek, watter opposisieparty onderdruk word en waar in die wêreld hulle oorlog maak nie. Daar sal altyd mense wees wat daaroor wil praat en skryf, maar ek wou nie meer een van hulle wees nie.”

“Kan jy ’n dag voorsien dat jy dalk sal wil teruggaan? Dit was iets wat so deel van julle lewe was. Ira sê altyd julle het dit saam met moedersmelk ingekry.”

Sy skud haar kop. “Ek is gespeen. Ek gee regtig net nie meer om nie. Destyds het ek geglo ek kan help deur die waarheid en die werklikheid na mense se sitkamers te neem. Dat regerings en die mense wat in die posisie was om te help, die boodskap sal kry, maar ek was jonk en hopeloos naïef. Mense gee nie om nie. Hulle staar dalk ’n minuut of twee, indien so lank, na ’n nuusinsetsel oor die televisie of op ’n koerantvoorblad, maar dan sluk hulle dit saam met hulle koffie af en hulle gaan weer met hulle lewens voort. Hulle eet, drink, maak liefde, trou, skei, reël hulle kinders se lewens, verwaarloos hulle kinders. Hulle gee dalk vir die parkeeraanwyser ’n fooitjie of, as iets hulle regtig geraak het, gooi hulle dalk ’n paar blikkies kos by die supermark in die noodboks, maar dis so ver dit gaan. Hulle is meer bekommerd oor wat vanmiddag in hulle gunstelingsepies gaan gebeur as wat hulle omgee wat by hulle bure aangaan, wat nog te sê in die res van die wêreld.” Sy skud haar kop. “Waarom sal ek my dan daaroor moeg maak? Mense probeer mobiliseer om hulle stemme te laat hoor, om druk uit te oefen sodat vergrype aangespreek word?”

“Omdat die wêreld stemme soos joune nodig het. Selfs al voel dit vir jou jy word nie gehoor nie. Daar is mense wat hoor en daar is mense wat aangespoor word om iets te doen. En sodoende word die stemme meer totdat die mense wat iets kan doen, moet luister. Ons kan nie bekostig dat die stemme stil raak nie.”

Sy staan op en stap kombuis toe. ’n Oomblik later kom sy met ’n bottel wyn en ’n oopmaker terug. Hy wil die bottel by haar neem, maar sy het reeds begin om dit oop te maak en hulle glase vol te skink. Sy neem ’n sluk voordat sy weer teen die kussings terugsit.

“From politics it was an easy step to silence.”

“Wat dink jy sou jou pa vir jou gesê het?”

Sy lag skel terwyl sy haar hande in die lug gooi. “O nee, moenie daai een met my probeer nie. Dis totaal irrelevant wat hy sou gesê of gedink het. Hy’t my nie gevra wat ek gedink het van dit waarmee hy besig was nie.”

“Die sindikaat wat hy destyds laat ondersoek het, is verlede jaar oopgevlek en die grootbase is almal aangekeer en tronk toe gestuur. Sodoende is duisende mense se lewens waarskynlik gespaar.”

“Ek gee regtig nie om nie. Waarom moes ek die prys betaal sodat ander kan bly lewe?”

“Ek kan jou nie antwoord nie.”

“Wat is dit met mans, en veral die mans in Afrika, en vuur?” verander sy skielik die onderwerp. “Waar lê die bekoring, of is dit ’n oerding wat julle steeds saam met julle dra? Die trots dat julle geleer het om vuur te maak? Is dit julle manier om te bewys dat julle verder as die ape op die evolusieleer gevorder het?”

Hy lag. “Miskien is dit ons manier om te wys ons het verder op die evolusieleer as vrouens gevorder, want het jy al ooit ’n vrou gesien wat ’n ordentlike vuur kan maak?”

“Ek kan verstaan waarom jy in bome moet bly, want jy sal dit nie kan waag om daai soort stellings in die beskawing te maak nie. Die feministe sal jou stenig.”

“Is jy ’n feminis?”

“Is ek ’n feminis?” Sy pruil haar mond asof sy die woorde daarin rondrol. “Ja, want ek haat diskriminasie teen my omdat ek ’n vrou is. Maar as feminisme beteken ek mag nie my beenhare waks en my wenkbroue pluk nie, dan is ek nie een nie. Ek glo nie ek hoef soos ’n man te lyk om respek te verdien nie.”

Sy kyk na hom oor die rand van haar wynglas. “As ek so na jou luister, besef ek jy is waarskynlik nie goeie troumateriaal nie, want mans soos jy hou nie van vrouens wat weet wat hulle wil hê nie. Julle sien julleself gewoonlik nog as hoof en heerser van die trop.”

“En waarop grond jy jou bevinding? Jou wye ondervinding met mans soos ek?”

“Ek het ’n goeie mensekennis.”

“Wat is fout daarmee om myself as heerser van die trop te sien?”

“Gaan jy nie eens probeer om dit te ontken nie?”

Hy strek sy hande agter sy kop en sak effens laer in die stoel af. “Net as dit saak gemaak het wat jy van my dink.”

“Maak dit nie vir jou saak nie?” Sy trek die wynbottel nader en skink weer hulle glase vol.

“Dink jy dit behoort saak te maak?”

“Nee, maar dis ’n natuurlike reaksie. Boy meets girl. Boy tries to impress. Dis van alle tye af so.”

“Maak dit vir jou saak wat ek van jóú dink?”

“As jy dalk ’n Hugo Boss- of Fabiani-pak in jou kas gehad het. Hierdie ...” beduie sy met haar arm “... is effens wild vir my.”

Hy lag sag. “Dis wat jy dink, maar as jy werklik nie omgegee het nie, sou jy nie hier in jou ontwerpersdenims en -hemp gesit het nie. Jou beenhare sou by jou broekspype uitgehang het en jy sou nie lekker geruik het nie. Jy doen dit miskien nie bewustelik nie, maar jy bly vrou en pronk ook maar soos die res van die wyfies voor die groot, sterk mannetjies verby om hulle met jou voorkoms te verlei. Jy wil ook maar verseker dat jou nageslag sterk gene het.”

Ester lag hardop. “En sien jy jouself as ’n groot, sterk mannetjie met goeie gene?”

“Waarom anders sou jy moeite gedoen het om vanaand mooi te lyk en lekker te ruik?”

Sy gooi haar hande in die lug en lag weer. “Die mag van die gewoonte! Dink jy ek probeer jou verlei? Hoe verwaand ís jy?”

“Nee, ek dink nie jy probeer my doelbewus verlei nie. Dis meer subtiel en lê op ’n baie dieper vlak as ’n doelbewuste besluit.”

Ester skud haar kop. “Hoe de hel kan jy so veralgemeen? Alle vrouens is nie dieselfde nie.”

“Maar alle mans is?”

“As jy eerlik wil wees, sal jy erken dat mans baie meer eners is as vrouens. Ek dink daar is heelwat minder van julle soort modelle op die mark en dié wat daar is, selfs mans soos jy, verskil nie veel van mekaar nie.”

“Wat bedoel jy met mans soos ek, en hoeveel van ons ken jy?”

“Ek hoef nie baie te ken om sekere eienskappe te herken nie. Julle weet nie julle het ’n vroulike kant nie, en as julle dit vermoed, onderdruk julle dit met alle mag en mening. Dis net alles testosteroon. Look at me, I am man.”

“In teenstelling met, look at me, I have no clue who I am. Ek moet myself elke paar maande opnuut probeer vind.” Hy lag. “Dit klink na moerse baie moeite.”

“Ek begin verstaan waarom jy en my pa by mekaar uitgekom het. Die heelal wou julle verseker het dat julle nie alleen is nie. Dit moes herkenning met die eerste oogopslag gewees het.”

Hy staan op en verdwyn agter die kombuistoonbank. “Hoe drink jy jou koffie?”

“Ek wil liewer nog wyn hê.”

“Moet jy nie môre werk nie?”

“Julle groenes weet ook nie hoe om die lewe te geniet nie. Vir julle moet alles so ernstig en intens wees.” Sy staan op en wieg ’n oomblik liggies heen en weer. “Ira het vir jou iets saamgestuur. Hy het blykbaar joune laas keer opgedrink. Ek is seker hy sal wil hê jy moet dit met my deel.” Sy tel die flits van die tafel af op en stap oor die houtdek na haar kamer toe.

Oomblikke later is sy terug met ’n bottel wat sy omhoog hou. “Net die regte medisyne teen slapeloosheid.”

“Ek belowe jou daar’s geen kans dat jy vannag sal wakker lê nie.”

Sy het egter reeds die prop afgedraai en skink ’n bietjie in elke glas. Dan knyp sy haar oë toe en gooi die tequila agter in haar keel. Haar lyf ril liggies, maar sy skink weer ’n bietjie in haar glas. Maar voor sy dit sluk, staan sy op en hou haar glas omhoog: “All civilisation has from time to time become a thin crust over a volcano of revolution. Moenie my vra wie dit gesê het nie.” Sy gooi die vloeistof weer agter in haar keel, maar toe sy haar hand na die bottel uitsteek, neem Samuel dit en draai die prop toe.

“Dis my geskenk. Ek is seker Ira het nie bedoel jy moet alles alleen drink nie.”

“Jy is welkom om saam te drink.”

Hy hou ’n beker koffie na haar toe uit.

“Koffie gaan my nou net wakker hou en ek wil nie in hierdie creepy stilte wakker lê nie.”

“Die stilte kan jou dalk net goed doen.”

Sy staan op en stap kamer toe, maar kom oomblikke later met haar tandeborsel en handdoek terug. “Wat gaan jy vir Ira sê as ’n wilde dier my vannag opvreet?”

“Die wilde dier het ’n bietjie rus en stilte gesoek.”

“Ha-ha-ha. Jy het ’n humorsin.”

“Moenie die flits verloor nie.”

“Hierdie paadjie is baie nou. Het jy nog nooit na ’n aand se kuier hier afgeval nie?” roep sy toe sy om die rots verdwyn, op pad badkamer toe.

“Hou aan die ketting vas,” roep hy terug. “As jy afval, los ek jou net daar en gaan slaap.”

“Dis gaaf van jou om jou plek vir ons aan te bied om die shoot te doen,” sê sy toe sy ’n paar minute later terugkom. “Het Ira vir jou gesê ons was op pad Kenia toe? Maar nouja, soos jy natuurlik weet, fok hulle toe sommer vinnig die land van ’n kant af op. Dis ’n screwed-up wêreld hierdie. Maar jy glo daar’s nog hoop. Ons moet net almal saamstaan, dan kan ons ’n verskil maak.” Sy steek ’n gebalde vuis in die lug. “Ubuntu. Waarom hulle in elk geval ’n Afrika-tema wil hê, sal net hulle weet. Om een of ander rede is wilde diere nou weer die flavour of the hour.”

Sy draai weg op pad na haar kamer en kyk terug oor haar skouer. “Kom jy ooit Londen toe? Jy moet my bel as jy weer daar is,” gaan sy voort, sonder om vir ’n antwoord te wag. “As jy nie slaapplek het nie, kan jy by my kom bly. Ek het ’n lekker groot woonstel. Dis nou nie ’n boomhuis nie, maar dis baie nice. Selfs jy behoort beïndruk te wees. En as jy te bang is, ek belowe jou, ek sal jou nie probeer verlei nie.”

“Dankie, dis gerusstellend om te weet.”

“Dankie dat jy my saam met jou laat vlieg het. Jy is ’n goeie vlieënier en dit was baie spesiaal,” roep sy oor haar skouer terwyl sy wegstap.

“Dis ’n plesier.”

“Gaan jy my hoor as ek jou roep?”

“Hopelik nie. Klim nou in die bed en maak jou oë toe. Niks sal jou pla nie.”

“Ook nie jy nie?” Sy roep al harder.

“Veral nie ek nie.”

“Goeienag. Dankie vir die bed en jou gasvryheid.”

“Jy lyk anders as die dag in jou pa se kantoor,” praat hy agter haar aan.

“Hoe het ek toe gelyk?”

“Interessant.”

“En nou?” Sy bly staan op die houtpaadjie en kyk af op die vreemde, maanverligte rivier onder haar. Die water glim blink en oral is skaduwees, maar dis onmoontlik om te onderskei tussen plante en diere.

“Verveeld.”

Sy lig haar hand in ’n groet en lag. “Bepaal jou maar liewer by die gedragspatrone van bobbejane en renosters. Dis gevaarlik om van dinge te praat waarvan jy bloedweinig weet.” Toe sy omkyk, sien sy hoe hy homself lankuit op die stoel uitstrek. “Terloops, wat beteken Bulweni?”

“A quiet, reserved person.”

Ester se lag weerklink in die oopte. “Wat ’n misnomer, as ek al ooit een gehoor het!”

Toe Samuel ’n uur later kamer toe stap en lig in Ester se kamer sien brand, loer hy om die deur. Die gaslamp brand nog, maar sy is vas aan die slaap. Hy vou die muskietnet oop en laat dit oor die bed val. Net voordat hy die lamp afdraai, kyk hy ’n oomblik na die slapende figuur en skud sy kop. Sy gaan môreoggend ’n kopseer hê.

Toe hy eindelik op sy bed gaan lê, sug hy diep. Hy kan die klammigheid uit die rivier ruik en die soet reuk van die riete in die dak. Sy ore werk soos radar wat elke klein naggeluid opvang en êrens verwerk en hy glimlag toe hy sy oë toemaak. Hy het lanklaas kuiermense gehad. In die donkerte is hy bewus van die teenwoordigheid van iemand anders in sy ruimte. Selfs in haar slaap is die energie wat sy vrystel, nie rustig nie. Dis asof sy die lug om haar laat roer. Hy is seker as hy gaan kyk, sal die blare bo haar in die boom heen en weer beweeg.

Ira het hom al so baie van haar vertel dat hy nie regtig verbaas is nie. Tog het hy haar effens anders voorgestel. Sy is ongetwyfeld haar pa se kind. ’n Interessante mengsel van innerlike krag, intelligensie en aweregsheid. Maar nieteenstaande haar genetiese samestelling is sy op die oomblik beslis effens verdwaal. Asof sy ’n bekende pad byster geraak het en nie meer die aanwysings onthou om dit weer te kry nie. Hy kan verstaan waarom Ira bekommerd is oor haar.

Die boek van Ester

Подняться наверх