Читать книгу Rebecca - Wilna Adriaanse - Страница 10

7

Оглавление

Die volgende maand vervaag vir Rebecca in nuwe gesigte, nuwe ervarings, indrukke waaroor sy saans in haar bed tob, en ’n nuwe lewenswyse. Sy is dikwels net na sewe-uur al op kantoor en gaan selde voor sewe in die aand huis toe. Dikwels raak dit selfs later. Sy is saans moeg en verduur gelate haar vriende se gespot omdat sy nie meer so laat kan kuier nie.

“Gee my net kans om fiks te word,” raas sy een aand toe hulle weer wil uitgaan. “Ek is nog besig om ’n ritme te probeer vind!”

By die kantoor luister sy en lees alles waarop sy haar hande kan lê en algaande leer sy hoe die maatskappy werk. Hoe al die verskillende onderafdelings en menigte filiale inmekaarsteek en wie vir wat verantwoordelik is.

Sy dra vir Julian koffie en tee aan, maak notas en speel bode, maar sy kla nie, al vermoed sy haar voorganger het nie die take vir hom gedoen nie. ’n Sesde sintuig waarsku haar dat sy op dun ys loop. Dit keer haar egter nie om soms uitgesproke haar mening te lug of kommentaar oor iets te lewer nie. Sy kla net nie.

Sy begin vergaderings saam met hom bywoon en kry begrip vir hoe hy ’n doktorsgraad voor sy dertigste verjaarsdag kon verwerf het. Hy het ’n vlymskerp verstand en ’n indrukwekkende geheue. Hy draai nie doekies om nie en laat dikwels mense in ’n vergadering sweet. Sy kom egter ook agter daar is mense wat hom toe-oë sal volg en dalk nog oor ’n afgrond ook vir hom sal loop. Hy glimlag maklik, maar handhaaf terselfdertyd ’n afstand en sy emosies word selde in sy oë weerspieël.

Hulle ontwikkel ’n taal en ’n kommunikasiewyse en vind ’n patroon. Hy drink soggens vroeg sy koffie terwyl hulle die dag se reëlings bespreek.

“Moet jy dit nie neerskryf nie?” onderbreek hy een oggend homself terwyl hy besig is om vir haar ’n lys opdragte te gee.

“Ek was jare lank ’n kelner; my geheue is baie goed ontwikkel.”

“Hierdie is nie ’n bestelling vir hamburgers en chips nie.”

“Ek het nie in hamburgers-en-chips-plekke gewerk nie, maar ek sal in die vervolg notas maak,” het sy met ’n glimlag geantwoord. Haar een voorneme van die begin af was om hom nie toe te laat om haar te ontstel nie.

Sy ontdek dat hy ’n klein gimnasium en badkamer langs sy kantoor het, asook ’n privaat hyser. Dit verklaar sy klam hare soms vroeg in die oggend en die feit dat hy ongesiens kan kom en gaan.

“Dit moet gerieflik wees om nie ’n hyser met die gepeupel te deel nie,” laat sy ingedagte hoor toe sy die eerste keer saam met hom daarin ry.

“Dit het sy voordele,” het hy niksseggend geantwoord.

Hulle is soos twee boksers, besluit sy een aand voor sy aan die slaap raak. Hulle dans om mekaar asof elkeen enige oomblik ’n hou verwag. Sy kan nie dink waarom hy so voel nie, want hy het beslis letterlik en figuurlik die gewigsvoordeel. Sy het ’n vermoede háár neus kan eerder bloei of sy kan ’n blou oog opdoen.

“Wat sou jy graag met jou lewe wou doen as jou van nie Hoffman was nie?” vra sy een aand toe sy hom gaan groet.

’n Oomblik lê daar verbasing in sy blik, voordat sy oë weer versluier. “Wat wil jy met die brokkie inligting maak?”

“Aan die Sondagkoerante verkoop.”

“Dis wat ek gedink het.”

“Jy weet ek is nie ernstig nie,” het sy haar onthuts verweer.

Hy het sy baadjie begin aantrek. “Ek weet, maar jy verdien nog nie die antwoord op daardie vraag nie.”

“Wat moet ek doen om dit te verdien?”

“Bewys jy is so goed soos jy beweer het.”

“Ek sal dit met graagte doen, maar dis effens moeilik as daar verwag word ek moet tee en koffie aandra en die algemene kantoorbode wees. ’n Kind kan dit doen.”

Rebecca sien die flits van oorwinning in sy oë en sy kan haar tong raakbyt. Hy het hiervoor gewag en sou haar waarskynlik nog vloere ook laat was het.

“Dis nie ’n minderwaardige werk nie.”

“Ek het nie so gesê nie, maar dis nie waarvoor ek aangestel is nie en ek is doodseker my voorganger het dit nie gedoen nie.” Sy is jammer sy het hom die stukkie oorwinning gegee, maar dit voel ook goed om dit van haar hart af te kry.

“Jou voorganger het vyf en twintig jaar hier gewerk. Hoe kan ek jou met groter take vertrou as ek nie weet of jy eers die kleintjies kan baasraak nie?”

“Het ek my nog nie bewys nie?”

“Jy is ’n baie ongeduldige persoon, juffrou Fagan. ’n Mens moet eers kruip voor jy kan loop.”

“Ek was een van daardie kinders wat vroeg leer loop het.”

Al antwoord wat sy daarop gekry het, was dat sy geduld moet aanleer. Daardie aand in haar bed het sy besluit hulle is eerder soos twee pokerspelers wat met hulle kaarte styf teen hulle bors speel. Nie een vertrou die ander een ten volle nie. Maar gelukkig is sy ’n ou pokerspeler!

“Ek hoop jy weet wat jy doen, doktor Hoffman. Ek wil nie my tyd mors nie,” prewel sy hardop voor sy haar oë toemaak.

Rebecca is dankbaar toe April aanbreek en die dae nie meer so versengend warm is nie. Haar kamertjie was die afgelope tyd ’n kookpot en sy het dit soms oorweeg om liewer onder op die sypaadjie te gaan slaap. Sy kan egter by niemand kla nie, want hulle sal net weer sê sy moet by hulle kom bly. Die versoeking is by tye groot, maar sy is te gewoond om net vir haarself verantwoordelik te wees. Sy kan nie nou oornag verander nie.

By die kantoor is sy so besig dat sy eintlik nie veel aan haar woonplek kan dink nie, ook nie aan die feit dat sy al smag na ’n sagter bed, ’n eie kombuis en badkamer nie. Dis asof die plek gedurig na kos ruik, dink sy waar sy by haar lessenaar sit. Dis ook nie net een geur nie. Dit ruik meer soos ’n geveg tussen die verskillende kulture. En soggens vroeg is die oorskiet-pizza en die bakkie kerrie nie baie vriendelik met mekaar nie.

Rebecca onthou skielik sy moet Julian aan sy middagete-afspraak herinner.

Hy kyk op sy horlosie en begin sy baadjie aantrek.

“Waar gaan julle eet?” vra sy sonder om te dink.

Hy noem die naam van die restaurant en sy knik goedkeurend. “Bestel die gerookte eendbors in ’n framboos-en-port-sous. Dis onverbeterlik.” Sy lek byna haar lippe af.

“Watter wyn sal ons drink?”

Sy is nog besig om die bord kos voor haar geestesoog te sien en antwoord byna werktuiglik. “’n Ryk merlot.”

“Nagereg?”

“Hulle kaasbord met vars vrugte. Dis net genoeg en nie te swaar nie.”

“Watter pad sal jy aanbeveel?”

Sy gee vir die eerste keer werklik aandag, maar keer die verleë glimlag wat sy kan voel aankom. Sy kyk op haar horlosie. “Hierdie tyd van die dag sal ek oor Kloofnek ry.”

Hy knik formeel. “Dankie.” Maar om sy mond lê tog spore van ’n glimlag en dit bemoedig haar meer as enigiets anders die afgelope maand.

Voor sy kan omdraai, hou hy egter ’n lêer na haar uit. “Kom ons sien of jy werklik al kan loop. Ek moet vanaand ’n toespraak by die Duitse Ambassade voor ’n paar Duitse nyweraars lewer. Ek sal graag die toespraak op die laatste vyfuur wil hê.”

“Vyfuur vandag?”

Sy wenkbroue lig vraend. “Is dit ’n probleem vir jou?”

Sy maak die omslag oop en blaai deur die inhoud. Daar is ’n paar los gedagtes neergeskryf en agterin is ’n paar koerantberigte en tydskrifartikels.

“Waaroor wil jy praat?” Haar verstand is besig om in die hoogste versnelling te werk.

“Hulle het gevra dat ek oor nywerheidsontwikkeling in Suid-Afrika moet praat.”

“Dis ’n baie wye onderwerp.” Rebecca weet sy moet stilbly, maar sy dink dis effens onregverdig van hom om vir haar op kort kennisgewing so ’n opdrag te gee en te verwag sy moet weet wat hy wil sê.

“Dit handel uiteraard oor moontlike samewerkingsprojekte tussen ons twee lande. Suid-Afrika het die afgelope paar jaar baie nuwe vriende gekry, maar dis belangrik om sy bande met ’n land soos Duitsland te behou. Duitsland sit egter op die oomblik met Oos-Duitsland en dis soos ’n bodemlose put. Hulle gaan nie sommer net meer hand-outs in Afrika doen as daar nie vir hulle ook voordeel in is nie.”

Terug in haar kantoor sit sy eers ’n oomblik stil en toe begin sy vermoed dat hierdie eintlik net ’n toets is. Hy het waarskynlik reeds ’n uitgewerkte toespraak . Sy skakel egter haar rekenaar aan. Sy sal ’n toespraak skryf. ’n Goeie een. Hoe, weet sy in hierdie stadium nog nie, maar sy sal wel aan iets dink.

Teen vyfuur het Rebecca genoeg koffie gedrink om ’n tenkskip te laat vaar, maar sy sit met genoegdoening agteroor. Dis ’n goeie stukkie werk, al moet sy dit self sê. Julian het egter die hele middag afsprake en sy moet tot halfses wag voordat sy dit vir hom kan gee.

Hy kyk nie op toe sy die kantoor binnekom nie en sy sit die omslag op sy lessenaar neer.

“Wat is dit?”

“Die toespraak vir vanaand.”

Hy kyk op sy horlosie. “Dankie.”

“Doktor Hoffman,” begin sy en wag tot hy opkyk, “ek weet jy gaan nie my toespraak lewer nie, maar ek sal dit waardeer as jy dit een of ander tyd ten minste net sal lees en vir my terugvoering sal gee. Dis die enigste manier hoe ek gaan leer wat jy wil hê.”

“Waarom het jy die moeite gedoen om ’n toespraak te skryf wat nie goed genoeg is om te lewer nie?” Hy begin aan sy das rem.

“Ek dink dis ’n goeie toespraak, maar ek is nie so naïef om te dink jy gaan my nou al met so iets vertrou nie. Al wat ek vra is dat jy dit net nie summier in die snippermandjie gooi nie. Ek sal graag jou eerlike mening wil hê.”

“Ek sal dit lees,” laat hy ingedagte hoor en dan sak sy kop weer oor die rekenaarskerm.

Julian se hande gaan vaardig oor die sleutelbord, maar hy bly vaagweg bewus van haar parfuum wat in die vertrek bly draal nadat sy die deur toegemaak het. Hy ken nie die geur nie. Dis nie blommerig nie, en beslis ook nie die geur van speserye nie. Dis ’n vreemde, vars reuk, besluit hy. Byna koel. Toe hy besef hy is besig om haar parfuum te ontleed, vee hy oor sy oë. Hy is moeg en nie lus vir vanaand se funksie nie. Hy oorweeg dit om Angela te bel en te vra sy moet saamgaan, maar hy weet sy hou nie van sulke kort kennisgewings nie. En verder is hy ook nie lus om vanaand vir iemand anders verantwoordelik te wees nie. Hy laat sak die rekenaarskerm en rek homself uit voordat hy sy das begin losrem en badkamer toe stap. Hy hou altyd ’n stel skoon klere by die kantoor vir sulke geleenthede en is dankbaar hy kan stort voor hy moet uitgaan.

Onder die stort keer sy gedagtes onwillekeurig terug na Rebecca. Die afgelope maand was eintlik suiwer hel vir hom. In die verlede kon hy ’n besluit neem en dan het hy sy oordeel vertrou, maar hy wonder al ’n maand lank oor sy oordeel wat haar betref. Hy weet nie waarom hy haar aangestel het nie. Stephen het gesê sy het guts en dis die rede wat hy vir homself ook gegee het, maar hy het nog nie heeltemal vrede gemaak met sy besluit nie. En tog is hy meer as tevrede met haar werk. Miskien té tevrede. Hy sal moeilik weer saam met iemand werk wat onseker van hulleself is of wat hom die hele tyd probeer plesier. Hy druk sy kop onder die strale water en draai die koue kraan groter oop. Dit voel soos naaldprikke op sy kopvel. Miskien is die probleem dat hy sukkel om haar klein te kry, besef hy. Hy het nog altyd geglo alle vrouens is basies eenders of het ten minste dieselfde basiese geneigdhede. Sy krap bietjie daardie teorie van hom deurmekaar en hy hou nie daarvan nie. Hy betrap homself soggens dat hy wonder wat die dag gaan oplewer. Dat hy wonder waarmee sy nog vorendag kan kom. Hy begin hom afdroog. Dis asof hulle twee met ’n speletjie besig is, dink hy. Die probleem is net hy weet nie watter speletjie nie en hy ken beslis ook nie die reëls nie. Al wat hy weet, is dat hy nie daarvan hou om te verloor nie.

Rebecca

Подняться наверх