Читать книгу Rebecca - Wilna Adriaanse - Страница 6

3

Оглавление

Rebecca luister ongeduldig hoe die telefoon aan die ander kant lui. Uiteindelik antwoord ’n slaperige stem.

“Gert! Uiteindelik. Is jy wakker?”

“Dit hang af wat jy met my wil maak.”

“Ek kan nie meer vanaand saam met jou gaan nie.”

“Wag! Watse dag is dit?” Hy kug heserig.

“Dis Donderdag.”

“Waarom kan jy nie saamgaan nie?”

“Ek word deur iemand agtervolg en ek wil nie hê hy moet ons saam sien nie.”

Daar is ’n stilte voor hy vra: “Hoeveel het jy gisteraand gedrink?”

“Ek is ernstig. Bly net ’n paar dae weg van my af.”

“Waarom sal iemand jou wil agtervolg?” Hy klink skielik wakkerder. “Alhoewel, as ’n mens na al die karakters kyk wat jy ken, is dit seker ook nie snaaks nie.”

“Ek vermoed jou neef het hom op my spoor gesit.”

“Becca, jy weet ek het ’n grap gemaak toe ek gesê het jy moet vir die pos by Julian aansoek doen.”

“Daar is sekere goed waaroor ’n mens nie grappe maak nie.”

“Laat ek hom dan ten minste sê ek ken jou. Dit kan dalk help.”

“Nee, jy het my belowe.”

“Moet jy altyd koppig wees?”

“Gert, luister mooi. Ek gaan dit vir die laaste keer verduidelik. Ek glo nie daaraan om my vriende te gebruik nie. Nie vir ’n blyplek of ’n job nie. As hy weet ons ken mekaar, raak jy vir my verantwoordelik. Dis soos om vir iemand borg te staan. Jy gaan nie namens my getuig nie. End of story.”

“Hy gaan tog een of ander tyd uitvind.”

“Nie voordat hy besluit het of hy my ’n kans gaan gee nie. Daardie besluit gaan syne wees.”

“Hoe seker is jy die man agtervolg jou en hoe weet jy die opdrag kom van neef Julian af?”

“My straatkontakte en my goed ontwikkelde sesde sintuig.”

“Wanneer kan ek jou dan weer sien?”

“Ek sal jou bel.”

“Iets laat my dink jy geniet hierdie cloak ’n dagger-spelery.”

Rebecca gee ’n kekkellaggie. “Ek het hom gister op ’n staptog van sy lewe geneem. As hy na dese nie die stad ken nie, sal hy dit nooit ken nie.”

“Onthou net, slim het sy baas gevang.”

“Gelukkig weet ek nie wat die uitdrukking beteken nie.”

“Kyk na jouself.”

Rebecca knik. “Geniet die aand.”

Hy gee ’n gepynigde kreun. “Ek het skoon daarvan vergeet. Waar gaan ek op so ’n kort kennisgewing iemand kry om saam te neem?”

“Jy is so oulik as wat jy beskeie is. Ek wed jou jou swart boekie is alreeds oop en vyf minute van nou af staan daar ’n tou wat wil saamgaan.”

“Probeer jy nou jou eie gewete sus?”

“Baai, Gert.”

Al wat sy hoor, is ’n grom en sy skakel laggend Irene se selfoon af en sit dit op die bedkassie neer.

“Dankie en jammer dat ek jou al weer so vroeg kom pla het.”

“Waarom trek jy nie sommer net in nie? Dit sal jou eindelose taxi-ritte en staptogte teen die berg uit spaar en ek sal nie meer snags lê en wonder of iemand nie ’n mes tussen jou ribbes ingedruk het nie.”

“Waarom sal iemand ’n mes in my ribbes wil steek. Ek het niks wat enige iemand wil hê nie.”

“Mense word nie net vir hulle besittings vermoor nie, Becca. As jy die koerante lees, sal jy dit sien.”

“Ek lees die koerante en ek sien ook dat onskuldige mense in ’n trein in Madrid klim en opgeblaas word. Ek lees van kinders wat van honger sterf en selfmoordbomaanvallers wat hulle lewe gee vir een of ander saak. Hoe beskerm ’n mens jou teen waansin, en is jy veiliger hier agter jou diefwering en sekuriteitshek as wat ek op straat is?”

“Jy praat soos ’n dom mens.” Irene sit regop teen die kussings.

Rebecca staan op en strek haarself uit. “Ek sal graag langer wil kuier en met jou oor daardie stelling debatteer, maar daar buite is ’n man wat dolgraag wil weet wat ek alles vandag gaan doen én hy wil dalk nog foto’s van my neem.”

“As ek jy was, het ek polisie toe gegaan. Dis ’n skending van jou privaatheid.”

“En al die pret mis!” Sy skud haar kop terwyl sy tot by die venster stap en afkyk straat toe. Daar word nog ’n warm dag vir die Kaap voorspel en selfs van hier af kan sy die donker sweetkolle op die man se hemp sien uitslaan.

“Miskien moet ek vandag Clifton toe gaan. ’n Dag op die strand kan hom net goed doen. Dink net aan die foto’s wat hy vir Julian Hoffman kan terugneem.”

“Rebecca, ek demp nie graag jou entoesiasme nie, maar jy wil nie hê topless foto’s van jou moet op ’n potensiële werkgewer se lessenaar beland nie.”

Rebecca kyk gemaak verbaas af. “Daar is niks met my borste verkeerd nie.”

“Mooi of lelik, jy wil hulle nie êrens in ’n lêer hê nie,” waarsku Irene beslis.

“Jy maak of ek gewoonlik topless rondloop.” Rebecca pruil ontevrede.

“Dan verstaan jy my verkeerd. Ek ken net daardie kyk in jou oë en dit voorspel gewoonlik moeilikheid vir iemand.”

Rebecca gaan staan voor die spieël. “Dink jy die rooi bikini gaan beter foto’s maak as die gele?”

“Nie een van die twee nie. As jy nie jou klere kan aanhou nie, moenie strand toe gaan nie.”

“Dit gaan so vervelig wees.” Rebecca tel haar skouersak al sugtend op.

“Jy gaan eendag baie dankbaar wees oor hierdie stukkie raad.” Irene trek die beddegoed oor haar skouer. “Loop nou. Ek kan nog ’n halfuur slaap voordat ek moet opstaan.”

“Wat bedoel jy hulle weet nie waar sy woon nie?” Julian frons ergerlik.

“Lees die verslag. Hulle kon eintlik baie min oor haar uitvind. Sy was ’n enkelkind en albei haar ouers het in ’n motorongeluk gesterf toe sy ses jaar oud was. Sy het by haar ma se suster hier in die Kaap grootgeword, maar die familie woon nie meer hier nie en die kinders is redelik oor die land versprei. Volgens haar skoolverslae was sy ’n besonder skrander leerling en sy het haar BComLLB-grade cum laude geslaag. Gedurende haar hoërskooljare was sy naweke ’n kelnerin by ’n restaurant en as student het sy ook saans en naweke by ’n restaurant in Stellenbosch gewerk. Nadat sy graad gekry het, het sy vir twee jaar verdwyn. Vermoedelik oorsee gaan werk. Sy het drie maande gelede weer haar opwagting gemaak.” Stephen kyk op die vel papier in sy hand. “Die tiende Desember, om presies te wees.”

“Het hulle iets oor vriende uitgevind?”

Stephen begin weer lees. “Daar is ’n paar saam met wie sy gereeld gesien word. Deborah Kriel, sy is ’n rekenaarspesialis, William Green het ’n musiekwinkel in Langstraat en Irene Robberts het haar eie klereboetiek in Kloofstraat. Hulle ken mekaar blykbaar van universiteitsdae af. Sy en die een met die klerewinkel was egter ook saam op skool. Hulle lyk almal redelik onskuldig.”

“Woon sy nie by een van hulle nie?”

“Dit kan wees. Die verslag is nie baie duidelik daaroor nie. ’n Ander moontlikheid is dat sy in ’n backpackers’ hostel in Langstraat woon. Een of twee van die foto’s is geneem waar sy die gebou verlaat.” Stephen soek tussen die foto’s deur en hou twee na Julian uit.

“Maak jy nou ’n grap?”

Stephen trek sy skouers op. “Dit lyk my juffrou Fagan lei ’n interessante lewe. Wil jy hê ek moet verder probeer uitvind?”

Julian tel die pak foto’s op en begin daardeur blaai. Die foto’s is met ’n digitale kamera geneem en is van ’n baie goeie gehalte. Wat hom egter twee keer daarna laat kyk is die feit dat dit byna net te goed is. Asof sy geweet het sy word afgeneem. Die foto’s op die strand, waar sy met ’n wit kortbroek en rooi T-hemp staan, lyk byna asof sy poseer het. Haar donker hare is in ’n poniestert vasgebind. Tussen die T-hemp se soom en die kortbroek se band, steek ’n stukkie bruin maagvel uit.

“Waar kom die foto’s vandaan?”

“Die speurder was ’n bietjie oorentoesiasties. Jy kan hom seker nie kwalik neem nie.”

Julian gee een laaste kyk voordat hy die foto’s vir Stephen teruggee.

“Ek neem aan jy wil haar nie vir die onderhoude laat kom nie.”

Julian skud sy kop. “Nee.”

Stephen begin die foto’s en papiere bymekaarmaak. “Sy is vrek fotogenies. ’n Man sal jou verkyk aan daardie vreemde kleur oë en groot mond.”

“Ons is nie ’n modelagentskap nie, Stephen, en jy is ’n getroude man.”

“Ek hoor dit kan ’n baie winsgewende bedryf wees.” Stephen hou een van die foto’s omhoog.

“So ook is bordele en dwelmhandel,” antwoord Julian bars.

Stephen maak die koevert toe en staan laggend op. “Vir wanneer kan ek die onderhoude reël?”

“So gou as moontlik. Sê Anèl moet in my dagboek kyk.”

Rebecca betaal die man agter die toonbank en tel die twee koue blikkies koeldrank op. Sy drentel stadig oor die plein en groet hier en daar iemand by ’n stalletjie. Die restaurante om die plein sit volgepak vir middagete en sonsambrele staan soos veelkleurige paddastoele op ’n hotelstoep. Die Mercedes is op ’n geel streep geparkeer en sy wonder waar die verkeerspolisie is. Of miskien geld daar ’n ander stel reëls vir mense wat met sulke motors ry. Die motorbestuurder, volgens Gert is sy naam Salie, sit op ’n muurtjie langs die motor, besig om koerant te lees. Rebecca gaan sit doodluiters langs hom en hou een van die koue blikkies na hom toe uit.

“Ek het gedink jy is dalk ook al dors gewag in die hitte.”

Die koerant sak en sy bruin oë kyk verbaas op. Die verbasing word egter vinnig deur ’n frons gevolg.

Rebecca glimlag gerusstellend. “Ek is werklik onskadelik.” Sy hou weer haar hande omhoog, soos op die eerste dag in die parkeergarage. “Ek soek net ’n werk.”

“Juffrou moet die mense by die kantoor gaan sien.” Hy kyk onrustig rond.

“Weet jy hoe moeilik is dit om werk te kry as jy geen ondervinding het nie? Niemand wil jou ’n kans gee nie.” Sy maak een van die blikkies oop en neem ’n sluk. Die koeldrank loop koud in haar keel af en lê soet op haar tong.

Salie se blik gaan onseker oor haar.

“Ek is nie ’n dief of ’n moordenaar nie. Ek is hardwerkend en eerlik. Maar dink jy dit beteken iets?” Sy hou weer die ander blikkie na hom toe uit. “Ek het dit vir jou gekoop, jy kan dit net sowel drink.”

Toe sy sien hoe hy aarsel, glimlag sy. “Dis geseël. Ek is nie besig om jou te vergiftig nie.”

“Ek het ook kinders, juffrou. Ek weet dis nie meer maklik om werk te kry nie.” Hy neem die blikkie, maar maak dit nie dadelik oop nie.

“Hoeveel kinders het jy?” Sy vee oor haar nek, waar sweetdruppeltjies onder haar hare uitloop.

“Drie. Twee seuns en ’n dogter. Die oudste seun gee onderwys in Engeland, die dogter het na ’n gesukkel werk by ’n klerevervaardiger gekry. Sy is baie knap met naaldwerk maar wou nie gaan leer nie. En die kleintjie leer nog. Hy wil net met computers werk.”

“Ek het ook ’n vriendin wat net met computers wil werk. Vir mý sal dit te vervelig wees.”

Die grys kop knik. “Die kinders doen deesdae snaakse werke.”

“Hoe lank is julle seun al in Engeland?”

“Hy is verlede jaar Julie oor en as alles goed gaan, kom hy darem Kersfees vir twee weke huis toe.”

“Julle verlang seker baie.”

Sy vinger krul om die blikkie se ringetjie en die gas ontsnap met ’n sisgeluid toe hy dit ooptrek.

“Ons is gelukkig. Ons kinders het ons nog nooit moeilikheid gegee nie.” Sy stem is meteens sagter.

“Ja, die kinders kan deesdae so maklik in die moeilikheid beland.” Sy neem weer ’n sluk en hy gee ’n kekkellaggie langs haar.

“Hoe praat juffrou dan nou soos ’n ou mens. Juffrou is self maar nog ’n kind.”

“Op vyf en twintig was my ma getroud en het sy al vir my gehad,” antwoord sy.

Sy grys kop skud. “Dis beter dat die kinders deesdae nie so vroeg trou en kinders kry nie. Hulle skei hopeloos te maklik en dan kry die kleintjies swaar.”

Rebecca antwoord hom nie daarop nie. Sy laat eerder haar blik oor die plein gaan. Daar hang ’n tamheid oor alles en almal. Die hitte slaan in golwe vanuit die kegelsteentjies op. Eenkant is die vrou wat hare vleg met ’n kliënt se hare besig. Haar vaardige vingers is vandag ook strammer as ander dae.

Skielik staan Salie langs haar op en Rebecca se blik volg syne. Julian Hoffman is besig om ’n paar mans buite ’n restaurant te groet voordat hy in die rigting van die motor begin loop.

“Kan hy nie maar hierheen gestap het nie? Die kantoor is ’n hanetree hiervandaan.”

“Hy moet twee-uur ’n lesing by die universiteit gee.” Salie begin die linkeragterdeur oopmaak. “Baie dankie vir die koeldrank en ek hoop juffrou kry gou werk.”

“Ek wil net vir ’n minuut met hom praat.” Haar stem is byna smekend.

Hy kyk onseker na haar. “Ek kan nie ja sê nie, juffrou. Hy gaan haastig wees.”

Rebecca se blik gaan na Julian Hoffman wat nou ’n paar tree van die motor af is. Die ligte pak en wit hemp laat hom koel lyk. Sy sien in sy oë die oomblik toe hy haar gewaar en eien.

“Ek kom net hoor of jy van die foto’s gehou het en of ek vir jou nog kan stuur,” gee sy hom nie kans om te praat nie.

Tot haar onverwagse grimmigheid bly sy gesig uitdrukkingloos. Hy moet fenomenaal om ’n pokertafel wees.

“Ons ondersoek almal wat by ons aansoek doen vir werk.”

“Aangesien jy nie my aansoek oorweeg het nie, stel ek voor dat julle die ondersoek staak. Julle is besig om my privaatheid te skend.”

“Miskien het ek van plan verander.”

“Dan stel ek voor julle stel my amptelik in kennis dat ek ’n kandidaat is en dat julle navraag oor my sal doen. Ek is seker dis wat julle met die ander kandidate gedoen het.”

“Klim in.” Hy beduie na die oop motordeur.

“Ekskuus?”

“Ek het ’n afspraak. Ons kan op pad daarheen gesels.”

Rebecca weet nie waarom sy na Salie kyk nie, maar toe hy agter sy werkgewer se rug vir haar knik, skuif sy haastig agter in. Julian Hoffman klim langs haar in en Salie maak die deur toe voordat hy omstap en inklim.

“Hoe het jy geweet waar ek vanmiddag gaan wees?” spring hy haar voor.

“Sal jy my glo as ek sê ek het toevallig hier verbygeloop?”

Hy haal ’n gevoude bladsy uit sy baadjiesak en begin lees. “Nee.”

“Ek het nie ’n ander verduideliking nie.”

“Hoe het jy geweet jy word agtervolg?” Sy blik is steeds op die bladsy in sy hand en sy wonder of hy werklik weet wat hy lees, of alternatiewelik weet wat sy sê.

“Ek slaap in die nag.”

Hy kyk skuins na haar toe op.

“Ek is ’n nuuskierige mens. Ek let dinge op, soms dinge wat ander mense nie sal raaksien nie.”

“Waar woon jy?”

Rebecca kan nie help om te lag nie. “In Langstraat.”

“Langstraat is lank.” Hy vou die bladsy op en druk dit terug in sy sak.

“Ek is seker jy het foto’s van my blyplek gesien.”

“Ek het foto’s van ’n backpackers’ hostel gesien. Jy woon sekerlik nie daar nie.”

“Het die maatskappy voorvereistes waar die werknemers mag woon?” Sy draai effens skuins op die sagte sitplek sodat sy hom beter kan sien.

“As daar nie is nie, moet ’n mens miskien ’n paar instel.”

“Doktor Hoffman, almal van ons het nie ’n huis in Bishopscourt geërf nie.”

Sy wenkbroue lig sigbaar. “En jy beskuldig my dat ek jou privaatheid aantas!”

“Dink jy jou woonadres is ’n staatsgeheim?” Dis haar beurt om spottend te lag.

“Nee, maar dit staan nie op die maatskappy se briefhoofde of in die telefoongids nie. Dit laat my besef jy moet dit ook êrens uitgesnuffel het.”

“Sal jy beter voel as ek vir jou sê ek was nog nooit by jou huis nie? Ek ken net toevallig die adres.”

“Wat weet jy nog alles van my of van die maatskappy?”

“Die maatskappy is deur jou oupa gestig en aanvanklik was hulle slegs betrokke in die drankbedryf. Onder jou oupa se leiding het die familiesaak gegroei tot ’n volwaardige maatskappy met vertakkings in die visbedryf, voedselbedryf, eiendomme, mynbou, die wynbedryf en vervaardiging. Hy was bekend vir sy versiendheid en hy het ’n paar uiters winsgewende beleggings gedoen. Jou pa het na sy studie by die maatskappy aangesluit en dit het ’n paar jaar later ’n openbare maatskappy geword. Die familie het egter steeds die beherende aandeel behou. Jy was dertig jaar oud toe jou pa in die motorongeluk oorlede is. Die helfte van die direksie wou hê jy moes by hom oorneem, terwyl die ander helfte gevoel het jy het nie die nodige ondervinding nie. Jy is uiteindelik tog met ’n meerderheidstem as uitvoerende voorsitter in sy plek verkies. Vandag beheer jy ’n multibiljoenrandmaatskappy, met belange in ’n onnoembare aantal sektore. Julle het kantore in Londen, Amsterdam en New York. Daar is sprake dat julle kantore in Tokio en Los Angeles gaan open. Met jou pa se afsterwe was jy hoof van die Londense kantoor. Beide jou oupa en jou pa het eredoktorsgrade in die ekonomie ontvang. Joune is nie ’n eredoktorsgraad nie. Jy het dit verwerf voordat jy dertig was. Behalwe in die maatskappy se direksie, dien jy ook in ’n groot aantal ander direksies en rade. Die maatskappy is nou betrokke by die Natuurstigting, ’n groot aantal opheffingsaksies in agtergeblewe gebiede en die bewaring van historiese geboue in Suid-Afrika. Jou oupa leef nog en dien steeds in die maatskappy se direksie. Jou ma is weer getroud met ’n Switserse nyweraar en hulle verdeel hulle tyd tussen haar huis in Hermanus en syne in Genève. Jy het twee jonger susters. Die een is getroud met Stephen Walters, een van die visepresidente. Die ander een is werksaam in die New York-kantoor. Jy woon in die huis in Bishopscourt, is nog nie getroud nie, maar het al vir ’n paar jaar ’n aan-en-af-verhouding met Angela de Villiers, wie se familie groot belange in die wynbedryf het. Sy en haar suster het ’n PR-maatskappy, maar hulle lê hulle eintlik toe op die reël van groot liefdadigheidsfunksies, soos die gholftoernooi verlede Saterdag. Daar was ’n rukkie gelede gerugte dat julle verloof is, maar dis intussen deur haar kantoor ontken. Die skinderrubriekskrywers verwag egter ’n verlowing voor die einde van die jaar.” Rebecca bly effens uitasem stil.

“Is dit al?” Sy wenkbrou lig net effens.

Rebecca verwens hom onderlangs. Hy hoef nie beïndruk te wees nie, maar hy kan ten minste effens verbaas lyk. “Ek het nie nodig om meer te weet nie.” Sy dwing haarself om skrams te glimlag.

“Kennis is mag, juffrou Fagan. ’n Mens weet nooit genoeg nie.” Hy kyk op sy horlosie toe die motor stop. “Dankie, Salie.” Dan verskuif sy blik na haar. “Ek neem aan jy sal jou pad terug stad toe vind.”

Rebecca kyk op na die toegerankte geboue van die Universiteit van Kaapstad. Sy het aangeneem hy sal ten minste vir Salie vra om haar weer terug te neem.

“Ek sal regkom.” Sy glimlag onbevange. Twee kan hierdie speletjie speel en sy gaan nie toelaat dat hy haar frustrasie sien nie.

Hy klim uit die motor en stap met gemaklike treë na waar ’n paar mans op hom staan en wag. Rebecca klim ook uit en ’n paar sekondes lank kyk sy hom agterna. Hy is ’n bliksem, besluit sy.

“Sal juffrou regkom?” Salie staan langs haar en sy verbeel haar sy sien iets soos verleentheid in die manier waarop hy haar oë probeer vermy.

“Jy hoef nie vir my ‘juffrou’ te sê nie. My naam is Rebecca. En ja, dankie. Ek ken die pad terug.” Sy lig haar hand in ’n groet voordat sy teen die skuinste begin afstap.

Ná die lugverkoelde motor is dit skielik ondraaglik warm buite en sy voel hoe die sweet teen haar voorkop en onder haar haarlyn begin pêrel. Sy ignoreer dit egter. Dis die een ding wat sy aan haar kant het en wat Julian Hoffman miskien nie verstaan nie. Hy kon haar vandag anderkant die Hexrivierberge ook afgelaai het en sy sou op ’n manier by die huis gekom het. Hy kan haar tyd mors, maar verder kan hy niks van haar wegneem nie, want sy het niks. Sy wonder of mense aldag besef hoe gevaarlik dit is om niks te hê nie. Want om niks te hê nie, maak ook dat jy niks kan verloor nie en in daardie wete lê ’n ongekende mag.

’n Uur later klim sy natgesweet in die middestad uit ’n taxi, en sonder om te dink, begin sy in die rigting van Langstraat stap. Sy kan nie eens haar eie voetstappe bo die gedruis van die stad hoor nie. Selfs haar gedagtes raak verstrengel met die uitlaatgasse en straatgeluide en die vibrasies onder haar voete. Sy koop ’n blikkie koeldrank by ’n kiosk en stap drink-drink die trap van die hostel op. Hierdie tyd van die dag is haar kamertjie onder die trap byna onhoudbaar warm en bedompig, maar sy sluit die deur en gaan lê toe-oë op die smal bedjie. Sy veroorloof haarself net een sug.

Rebecca

Подняться наверх