Читать книгу Rebecca - Wilna Adriaanse - Страница 4
1
ОглавлениеDie suidooster huil fluitend deur die luggate agter Rebecca en sy vryf haar hande oor haar arms. Dis koud hier onder in die parkeergarage. Op skool het hulle geleer die Kaap het ’n Mediterreense klimaat, maar sy dink daardie hoofstuk sal saam met die geskiedenisboeke herskryf moet word. Die Kaap kry deesdae donderweer en die suidoos waai net wanneer hy wil, sneeu val op Tafelberg en sy soek werk. Vreemde dinge is aan die gebeur.
Sy hoor stemme en loer agter die pilaar uit. Twee vrouens kom met klikkende hakke nader gestap en Rebecca skuif vinnig terug in die skaduwee van die pilaar. As sy moet raai, pas die donkerkop by die blou Peugeot en die kort, blonde een by die rooi Renault. Sy is besig om hierdie speletjie te vervolmaak, dink sy selfvoldaan. As sy nog baie langer hier moet sit, sal sy ’n verhandeling oor motors en hul eienaars kan skryf.
“Ek is so moeg, ek kan nie reguit kyk nie.”
“Ek gaan nie vanaand by die gym uitkom nie,” antwoord ’n ander stem. “Ek het vandag meer as genoeg oefening gekry.”
’n Oomblik lank is weer net die klik van hulle hoëhakskoene hoorbaar.
“Ek gaan vir my ’n ryk man soek,” laat die eerste stem weer hoor. “Ek wil beslis nie vir die res van my lewe so hard werk nie.”
“Waarom verlei jy nie net jou baas nie? Hy is nie net ryk nie. Hy is nog sexy ook.”
“Ha! Ek vir Julian Hoffman verlei! Ek is bly jy dink ek is daartoe in staat.”
“Hoe moeilik kan dit wees. Hy is ook maar net ’n man en jy is ’n mooi vrou.”
“Baie dankie vir die vertroue in my, maar ek weet wanneer iets bo my vuurmaakplek is en glo my, hy is. Jy moet net sy meisie sien om dit te weet.”
Die woorde word gevolg deur twee piepgeluide en Rebecca kyk vinnig om te sien of sy reg geraai het. Sy glimlag. Die blou Peugeot en die rooi Renault se deure is reeds oop.
“Ek sien jou môre,” groet die een by die Renault en die ander een waai terug. Die motors trek weg en die reuk van uitlaatgas hang byna verstikkend in die garage.
Rebecca kyk op haar horlosie en sit weer terug op die skurwe sementmuurtjie. Die staanplekke is nou feitlik almal leeg, buiten die groot Mercedes, ’n BMW en ’n plat Porsche.
Sy het die anderdag gelees dat eienaars van Porsches meer geneig is om ontrou te wees. Sy kan nie onthou wat hulle van Mercedes- en BMW-eienaars gesê het nie.
Rebecca kyk skielik met meer aandag na die BMW en die Porsche. Om die een of ander rede het sy heeltyd die Mercedes dopgehou, maar sy besef skielik hy kan met enige van die drie motors ry.
“Julle is besig om my tyd te mors. Bel my wanneer julle weer die syfers nagegaan het. Ek het nie nou tyd hiervoor nie. Ek is laat vir ’n afspraak.”
Rebecca loer om die pilaar en haar vel tintel toe sy Julian Hoffman herken. Uiteindelik is die wag verby. Sy staan van die muurtjie af op en stap agter die pilaar om. Dan gewaar sy vir die eerste keer die ouer man met die aktetas agter Julian. Sy huiwer net ’n oomblik.
“Doktor Hoffman?” Sy bly ’n paar tree weg staan. “Ek is Rebecca Fagan.” Sy hou haar hande omhoog soos iemand wat hensop. Hy dink dalk sy is ’n sluipmoordenaar. “Ek is hier oor ’n werk.”
“Hoe het jy in die parkeergarage gekom?” Sy donker wenkbroue trek na mekaar toe. Die man agter hom beweeg blitsvinnig tot langs Julian.
“Dit was nie moeilik nie. Julle sekuriteit is nie so goed nie.” Sy wag nie vir hom om kommentaar daarop te lewer nie. “Ek verneem jou persoonlike assistent of wat jy hom ook al noem, moes weens gesondheidsprobleme bedank. Ek stel in die pos belang. Ek het ’n regsgraad. Nie dat dit veel sê nie, behalwe miskien dat ek nie ’n klip is nie. Ek is egter ’n uitstekende organiseerder, ek is ten volle tweetalig en het ’n goeie basiese kennis van Frans, Duits en Italiaans. Ek het nie ’n man of kinders nie en kan lang ure werk.” Sy raak aan haar lang, donker hare wat steil teen haar rug afhang. “Ek gaan nie elke week haarkapper toe nie en gaan jou nie belas met allerhande persoonlike probleme en praatjies nie. Ek sien nie ’n sielkundige nie … alhoewel ek vir ’n paar maande met een uitgegaan het, maar dit tel nie; ek is stiptelik en kan baie hard werk as dit moet. Verder is ek rekenaarvaardig, maar ek gaan nie jou briewe tik nie, ek gaan ook nie jou klere na die wassery neem of vir jou tee en koffie maak nie, maar ek sal sorg dat al hierdie dinge vir jou gedoen word. O, en ek gaan ook nie by jou slaap nie, maar ek kan dit ook vir jou reël as jy ’n probleem het om iemand te kry.” Toe hy nog steeds net na haar staar, hervat sy: “Ek ken min of meer al die gewone vloekwoorde en dan miskien ook ’n paar waarvan jy nog nie gehoor het nie, so ek kry gewoonlik dinge gedoen.” Sy bly effens uitasem stil terwyl sy haar fladderende hande in haar kakiejean se sakke druk en haar vingers sluit om die vyftigsentstuk wat sy onderweg op die sypaadjie opgetel het.
“Juffrou, jy mag nie hier wees nie!” Die ouer man se stem is dringend en uit die hoek van haar oog sien sy hoe twee mans in uniform haastig nader stap.
Julian Hoffman lig sy hand asof hy ’n bevel uitvaardig, maar wat haar die meeste verbaas, is dat hy lag.
“Juffrou …?”
“Rebecca Fagan,” help sy hom.
“As ek nie van beter geweet het nie, het ek gedink dis die eerste April.” Hy begin omdraai.
“Dis nie ’n grap nie. Ek wil graag daardie pos hê.”
“Waar kom jy daaraan?” Daar lê verbasing in sy donker oë.
“Ek was seker maar net op die regte tyd op die regte plek. Iemand ken gewoonlik iemand anders wat weer iemand ken wat inligting het.”
Die sekuriteitsmense staan nou weerskante van hom, maar sy hand is nog effens gelig. Sy wonder wat sal gebeur as hy sy hand laat sak. Miskien reageer hulle soos waghonde en wag hulle net vir die teken voordat hulle haar verskeur. Hulle lyk dreigend genoeg.
Julian skud steeds laggend sy kop. “Verskoon my verbasing, maar hierdie is ’n nuwe ervaring vir my. Ek stel gewoonlik nie mense van die straat af aan nie en wat laat jou in elk geval dink jy kan die werk doen?”
“’n Assistent bly ’n assistent … of dit vir ’n kok of ’n klerk is … dit bly die persoon wat moet sorg dat die vuilwerk gedoen word en dat die baas se hande skoon bly.” Rebecca hou hom stip dop. Sy weet nie of dit uit vrees is dat hy iets onverwags kan doen nie en of sy net voorbereid daarop wil wees as hy dalk sy hand sou laat sak en die waghonde op haar loslaat. Terwyl sy na hom kyk, besef sy die glimlag om sy mond weerspreek eintlik ’n baie berekenende blik in die donker oë. Dis soos ’n goëlaar wat jou aandag verdeel.
“Juffrou … Fagan,” onthou hy hierdie keer haar van. “Ek waardeer jou aanbod, maar ek het nog nooit iemand nodig gehad om my hande skoon te hou nie.” Hy draai na die agterdeur van die Mercedes.
“As jy wil kan ek ook vir jou mooi briewe van die predikant en skoolhoof bring,” keer haar stem hom toe hy wil inklim. “Maar ek gaan nie jou intelligensie so onderskat nie. Ons albei weet wat daardie papiere beteken. As jy iets oor my wil weet, vra my. Ek het die afgelope twee jaar onder meer druiwe in Frankryk gepluk, in Italië op ’n olyfplaas gewerk, en in Duitsland was ek ’n kelner. Ek is stiptelik en ek steel nie papier, skuifspelde of enige kantoortoerusting nie. As jy ’n job gedoen wil hê, sal ek dit vir jou doen. Soos en wanneer jy dit gedoen wil hê.”
“Op die oomblik wil ek graag van jou ontslae raak, want ek is laat vir ’n afspraak.” Hy kyk op sy horlosie.
Sy lig weer haar hande omhoog. “Ek sal loop, maar belowe my jy sal daaroor dink.”
Hy kyk haar met vernoude oë aan. “Laat jou naam en nommer by die personeelafdeling.”
Die laggie wat oor haar lippe borrel, vertel hom presies wat sy van daardie idee dink. “Toemaar, ek sal jou die moeite spaar en jou sommer weer self kontak.” Daarmee draai sy om en begin in die rigting van die groot roldeure stap. Die twee veiligheidswagte val weerskante van haar in.
Julian klim agter in die motor. Toe die ouer man agter die stuurwiel inskuif, kyk hy vlugtig om. “Moenie vir haar lag nie. Sy soek dalk rêrig net ’n werk.”
“Dan sou sy gesê het sy wil ’n klerk wees of enige iets anders wat beskikbaar is.” Julian skud sy kop. “As ek moet raai, sal ek sê iemand het haar uitgedaag om dit te doen of sy is onder die invloed van een of ander middel.”
“Sy lyk darem nie vir my gevaarlik nie,” werp die chauffeur teë en skakel die motor aan.
“Hoe lyk ’n gevaarlike mens, Salie?”
“Ek weet nie, maar sy lyk maar soos vandag se jongetjies.” Hy klik sy tong. “Shame, die kinders sukkel ook maar deesdae om werk te kry.”
Julian maak sy aktetas oop en haal ’n lêer uit. Toe hulle om die pilaar ry, is die drie figure ’n entjie voor hulle. Julian kyk na die gemaklike swaai van haar heupe. Sy stap soos iemand wat weet sy word agternagekyk, dink hy. Nee, korrigeer hy homself dadelik. Dis nie heeltemal waar nie. Sy stap soos iemand wat nie omgee om agternagekyk te word nie. Dis wat ’n mens ’n ongeërgde stap sal noem.
Toe die motor langs hulle kom, lig sy haar hand in ’n groet en dan staan en wag sy doodluiters langs die veiligheidswagte dat die roldeure moet oopskuif. Julian kyk net vlugtig om en sy blik val op die swart woorde voor op haar wit T-hemp. I think, therefore I am single. Die woorde span oor die rondings van haar borste en hy is verbaas dat hy dit nou eers raaksien.
“Lot se vrou het in ’n soutpilaar verander toe sy teruggekyk het,” waarsku Salie van die voorste sitplek af.
“Ek wil net seker maak hulle kry haar uit die gebou uit.”
“Jy het wát gedoen?”
“Ek het vir hom in die parkeergarage gewag en gesê ek wil die werk hê.” Rebecca lê agteroor teen die rusbank se kussings, haar kaal voete op die koffietafel.
“Dis nie soos ’n mens aansoek doen vir werk nie, Becca! My magtig, die man het seker gedink jy het êrens ontsnap. Waarom het jy nie ’n afspraak gemaak nie?”
“Ek hét gebel en die sot op die sentrale het my deurgeskakel na die personeelafdeling en daar het een of ander imbesiel gesê daar is nie so ’n pos beskikbaar nie. Met my tweede oproep het ek by ’n sekretaresse of so iemand uitgekom. Sy het my koel meegedeel dat hy eers oor twee weke beskikbaar is, maar dat ek in elk geval eers vir haar moet sê waaroor ek hom wil sien, en toe ek haar sê, het haar stem nog ’n paar grade gedaal en sy het my baie duidelik laat verstaan dat ek van my sinne af is: ‘Doktor Hoffman is nie op soek na ’n assistent nie.’#” Rebecca sê die laaste woorde deur stywe lippe en Deborah lag.
“Ek weet in elk geval nie wat jou laat dink het jy kan die werk kry nie. Koop die koerant en soek iets anders. Dis nie asof jy ’n CV het wat mense gaan laat kwyl nie.”
Rebecca trek haarself regop teen die kussings en haar stem klink beslis toe sy praat. “Ek is vyf en twintig jaar oud en besit die klere aan my lyf en ’n paar stukkies in ’n rugsak onder my bed. Ek is intelligent, hardwerkend, eerlik … en watter eienskappe mense ook al belangrik vind. Ek is klaar met waitressing, ek het genoeg in klein buitekamertjies geslaap en in die son gewerk. Ek soek nou ’n regte job wat goed betaal. Ek wil vir my ’n blyplek koop en genoeg geld in die bank kry sodat ek weer eendag die pad kan vat, nie net om te gaan werk nie, maar om myself ook te verryk. Ek wil die luuksheid hê om dae lank in museums rond te loop of êrens langs ’n afgeleë strand saam met die dolfyne te swem. Ek vra nie baie nie, net genoeg sodat ek eendag ’n plek het om na toe terug te kom as ek te oud is om rond te loop.”
“Maar doen dan aansoek by ’n regsfirma. Waarom wil jy nou een of ander man se assistent gaan wees?”
“Wat dink jy gaan ek by ’n regsfirma verdien? Ek gaan ’n klerk wees wat dag vir dag verslae en uitsprake moet navors. Ek is te ongeduldig daarvoor. Én …” Sy hou haar hand waarskuwend in die lug toe sy sien Deborah wil iets sê, “… ek kan blêddie goed organiseer en delegeer.”
“Goed. Ek hoor jou,” gee Deborah moed op. “Maar Julian Hoffman is seker nie die enigste werkgewer wat op soek is na bekwame personeel nie. Doen ’n bietjie navraag, gaan sien ’n agentskap, lees die koerant … êrens moet daar nog maatskappye wees wat iemand soos jy kan gebruik.” Deborah is uiteindelik klaar met die verf van haar toonnaels en sy sit tevrede regop.
“Ek het nie gesê hy is die enigste een nie. Ek sál verder soek, maar aangesien ek gehoor het hy het dálk ’n pos beskikbaar, het ek gedink ek begin daar. Buitendien gaan ek ook nie êrens in ’n obskure kantoortjie sit nie. Dis nou ’n geval van alles of niks.”
“Ek wens jou sterkte toe. Ek is maar te dankbaar dat ek nog ’n werk het, al dink jy dis vervelig om met rekenaars te werk.”
“Ek dink nie dis vervelig nie, ek is net beter met mense as met masjiene.”
Deborah bly haar ’n antwoord skuldig toe iemand aan die woonstel se deur klop en sy opstaan om die deur te gaan oopmaak.
Rebecca hoor William se stem en sy roep na hom. ’n Bos donker hare en ’n baard kom eerste om die kosyn en dan volg die res van ’n kort, blokkige man.
“En as jy so uitgestrek lê asof jy met vakansie is, ek dog jy gaan vandag job hunting doen!” groet hy met die intrapslag.
“Ek hét my eerste onderhoud gehad en aansoek gedoen vir ’n pos by ’n groot maatskappy,” antwoord Rebecca op meerderwaardige toon.
“Vra haar waar was die onderhoud!” roep Deborah uit die kombuis.
“Dit maak nie saak waar dit was nie, die punt van die saak is, ek het die grootbaas self ontmoet en hy weet nou ek stel in die pos belang.” Rebecca laat haar nie van stryk bring nie.
“Sy het die man in sy parkeergarage ingewag en vir hom gesê sy soek ’n job,” kom Deborah praat-praat die klein sitkamertjie binne met ’n bottel wyn en drie glase.
“Van wie praat julle nou?” William kyk vraend van die een na die ander. Die fyn sproete op sy voorkop is skielik meer sigbaar omdat hy frons.
“Sy het vir Julian Hoffman by sy kar ingewag en haarself gewillig verklaar om sy persoonlike lyfkneg te wees.” Deborah skink die glase vol en beduie vir die ander twee om te kry.
William kyk met vonkelende oë na Rebecca en lig sy gebalde vuis. “Becca for president! Viva!”
“Die man kon haar laat arresteer het vir betreding van sy eiendom,” gooi Deborah koue water op William se uitgelatenheid.
“Deborah, as ek moet wag om by al hierdie potensiële werkgewers onderhoude te kry, gaan ek oor vyf jaar nog nie werk hê nie. ’n Mens moet soms die onverwagte doen om die nodige aandag te trek. Op hierdie manier spaar ek hulle en myself eindelose moeite. En, vaderland, die man kan mos sien ek is onskadelik.”
Albei se blikke draai na haar en twee paar wenkbroue lig asof hulle dit geoefen het.
“Het jy só gegaan?” Dis William wat na ’n paar slukke vra terwyl hy na die langbroek met die sakke op die bobene en die wit T-hemp kyk. “Moenie my verkeerd verstaan nie, ek dink jy lyk pragtig, ek wonder maar net.”
“Wel, ek is jammer dat ek nou nie ’n pienk pakkie, hoëhakskoene en beige kouse gehad het om aan te trek nie, maar my klere is skoon en heel.” Sy snuif ongeërg aan die wyn in haar glas.
“Het jy al ooit van iets soos eerste indrukke gehoor, Becca?” wil Deborah weet. “Dis nogal belangrik, veral vir mense soos daardie. Jy probeer jouself nie aan so iemand verkoop terwyl jy soos ’n kruising tussen ’n feminis en ’n vryheidsvegter lyk nie.”
“Die enigste ding wat te koop is, Deborah, is my vaardighede. En dit bly dieselfde, of ek nou klere aanhet of kaal is. Power dressing gaan my nie ’n beter kandidaat vir die pos maak nie.”
Deborah kyk hulpsoekend na William. “Dis hopeloos en ek kan jou ook nie vra om te help nie, want dis net die tipe ding wat jy ook sal doen.” Deborah gee ’n diep sug asof sy moeg is. “As ek sy was, het ek my klerkskap by ’n regsfirma gaan doen en myself opgewerk tot waar ek my eie tjek kan uitskryf, maar nee, madam is mos te goed om die pad van al die ander aardlinge te neem. As sy besluit sy soek ’n werk, dan settle sy nie sommer vir enige werk nie. O nee, sý besluit hoe, waar en vir wie sy sal werk.”
Rebecca gooi een van die bont kussings na Deborah. “Moenie prekerig word nie, dit pas jou nie. Ek is glad nie so uitsoekerig soos julle wil beweer nie. Ek wil net nie meer my tyd mors nie. As daar korter paaie is om my doel te bereik, dan gaan ek hulle neem.”
“Amen,” kom dit spottend van William. “Kom ons drink op die kortpaaie van die lewe.”
Deborah snork misnoeg terwyl die ander twee hulle glase lig.
“Wat doen ons vanaand?” verbreek Rebecca die stilte.
“Daar speel vanaand ’n nuwe jazz-band by die winkel. Ek het gesê ek sal ’n draai maak en van daar af kan ons nog besluit,” antwoord William haar toe Deborah net skouers optrek.
Hulle spreek af hoe laat hulle mekaar by William se musiekwinkel kry en dan staan William en Rebecca op.
“Wil jy ’n lift hê?” vra William.
Rebecca knik. “Dit sal gaaf wees, aangesien jy daar by my plek moet verbyry.”
“Wat byt op die oomblik vir Deborah?” wil William weet toe hulle in die motor sit. Hy sit die flikkerlig aan en wag vir ’n opening in die verkeer.
“Sy het die laaste tyd ’n paar dates from hell gehad.” Rebecca draai haar kop om hom te help kyk vir aankomende verkeer.
“Wat het van Pierre geword?”
“Deborah het nog altyd eerder vir die bliksems as die prinse gegaan. Ek dink sy verbeel haar sy is nie goed genoeg vir die Pierres van hierdie wêreld nie.”
“Is dit nie ’n besluit wat hý moet neem nie?”
“Hm, ek dink hy is nogal erg oor haar, maar sy is ’n masochis as dit by mans kom. Hoe slegter hulle haar behandel, hoe meer hou sy van hulle.”
“Dink jy dit kan werk tussen hulle?”
“As hulle mekaar aanvaar soos hulle is en nie probeer verander nie. Mense moet mekaar vat soos hulle is en as jy nie kans sien vir die een nie, soek dan iemand wat presies is soos jy wil hê. Op daardie manier wag daar geen onaangename verrassings op enigeen nie.”
“Sê die kenner van verhoudings!”
Rebecca kyk gesteurd na William. “As ek jy is, bly ek liewer doodstil. Ek sien ook nie juis vordering met jou projek nie.”
Hy vee met sy hand deur sy hare en gee ’n selfbewuste laggie. “Ek moes jou ook nooit vertel het hoe ek voel nie.”
“Ek is nie onnosel nie. En in elk geval lees ek jou soos ’n boek. Jy was van die eerste ontmoeting af belustig vir die mooie mizz Robberts.”
“En wat het dit my nou al in die sak gebring? Ek wens net ek kan eendag ’n vrou se kop verstaan. Daarna sal ek ’n gelukkige man kan sterf. Dis seker nie te veel gevra nie en dis nie asof ek vra om jóú te verstaan nie.” Hy kyk tersluiks na haar.
“Wat bedoel jy daarmee?”
“Sommige vrouens is rillers, ander is soos kookboeke – vol resepte, nog ander is romanses, maar jy, Rebecca Fagan, is ’n geslote boek. Ek weet nie waaronder ’n mens jou kan klassifiseer nie.”
“Ek verkies dit op die oomblik so.” Sy beduie vir hom na ’n stilhouplek. “Stop sommer hier, jy gaan nie nader plek kry nie.”
“Jy weet ek is nie vreeslik kieskeurig of materialisties nie, maar dink jy nie dis tyd dat jy uit hierdie hool trek nie?” Sy blik gaan oor die verskeidenheid karakters wat bo-oor die balkonreling van die gebou hang en hy waai terug toe ’n paar vir hom waai. “Dit lyk soos die Verenigde Nasies.”
“Ek het ten minste ’n bed en ’n kamer en ek het nog al my vriende. Die vinnigste wat ’n vriendskap tot niet gaan is as ’n mens op jou pelle se nekke begin lê.”
“Hoeveel keer het ek al vir jou gesê jy sal nie op my nek lê nie?”
Rebecca leun oor en soen hom op sy wang. “Glo my, dis beter so.” Sy maak die deur oop en spring vinnig uit. In die wegstap lig sy haar hand om totsiens te sê, sonder om te weet of hy vir haar kyk.
“Wanneer stel jy ons aan die mooi musiekman bekend?” wil ’n blondekop- Hollandse meisie van die balkon af weet.
Rebecca lag op na haar toe. “Hy is nie beskikbaar nie.”
“Dis wat jy altyd sê,” roep ’n ander een beskuldigend.
“Hy is gay,” roep Rebecca terug terwyl sy deur die voordeur verdwyn en die trappies twee-twee ophardloop.
“Ek dink jy wil hom net vir jouself hou,” spot die blondekop toe Rebecca op die balkon uitstap.
“Wat wil julle in elk geval met ’n Suid-Afrikaner maak?”
“Ek vind Suid-Afrika en sy mense tog baie interessant,” antwoord die donkerkop wat Rebecca vroeër verwyt het. “Of miskien moet ek sê ek vind die Suid-Afrikaanse mans tog interessant.”
“Julle lyk soos aasvoëls op soek na prooi,” klink ’n manstem agter hulle op en ’n donker Keniaan kom staan met sy rug teen die balkonreling.
“Die vooruitsigte lyk maar skraal,” sug die blonde meisie. “En Rebecca wil ons ook nie aan haar ryk vriende voorstel nie.”
“Wie wil ’n ryk man hê?” Rebecca skud haar kop.
“Ons!” koor ’n paar stemme gelyk.
Rebecca draai om. “’n Ryk man is soos ’n granaat,” roep sy oor haar skouer terug. “Al daardie rooi pitte lyk vreeslik belowend, maar op die ou end kry jy niks vir ’n klomp moeite nie.”
“Ek gee nie om vir moeite nie,” antwoord die donkerkopmeisie beslis. “En gelukkig weet ek nie hoe ’n granaat lyk nie!”
Rebecca waai oor haar skouer. “Dan moet jy miskien een in die hande probeer kry. Jy kan jouself baie moeite bespaar.”
Sy stap die gang af en sluit ’n deur onder ’n trap oop. Die ligskakelaar is ’n toutjie wat uit die dak hang en toe sy dit trek, skakel ’n enkele gloeilamp in die skuins plafon aan. Die vertrek onder die trap is is net groot genoeg vir ’n klein enkelbed en ’n piepklein bedtafeltjie, maar dis ten minste privaat, dink Rebecca vir die soveelste maal.
Sy haal ’n handdoek van die haak agter die deur af en bid woordeloos dat daar warm water in die storte is. Dis gelukkig vroeg en die meeste inwoners het nog nie begin regmaak om uit te gaan nie. Dit maak egter ook nie saak nie. Teen dié tyd is sy in elk geval gewoond aan koue storte. En die beste verweer is om nie daaraan te dink nie. Dis ’n les wat sy vroeg in haar lewe geleer het. Sy tob nie oor dinge waaraan sy niks kan doen nie.
Toe die straal koue water haar tref, trek sy net haar asem in en blaas dit stadig weer uit voordat sy met energieke hale die dag se hitte begin afwas. Haar kopvel tintel byna pynlik van die koue water, maar hoe langer sy bly staan, hoe beter raak dit. Sy wens sy kan haar soos ’n hond droogskud. Die dag soos waterdruppels van haar lyf af laat wegspat.