Читать книгу Rebecca - Wilna Adriaanse - Страница 8
5
Оглавление“Nie vonkelwyn nie, sjampanje!” bulder William toe die kelner die name van die beskikbare vonkelwyne aframmel. “Vanaand gaan die gepeupel feesvier! Bring die ramshoring en die luit!”
“En wie gaan betaal?” Rebecca kan nie ophou glimlag nie.
“Ek sal, vir my straf omdat ek ook maar een van die kleingelowiges was.” Hy soen haar wang. “You are some piece of work, my dear!”
“Die man moet sy kop laat lees,” kom dit van een van die ander mans. “As hy sy oë uitvee, het sy ’n staatsgreep uitgevoer en werk hy vir haar.”
“Dis my plan, ja,” knik Rebecca kastig ernstig, maar sy is so opgewonde dat sy met moeite kan stilsit.
“Jy sal nuwe klere moet kry,” waarsku Irene, terwyl haar blik oor Rebecca se vaalblou denim en T-hemp gaan. Jy mag sexy in ’n denim lyk, maar dis nie regtig kantoordrag nie. Kom maak môre ’n draai by my, ek het ’n paar mooi goed ingekry.”
“Ek kan nie jou klere bekostig nie, Irene. Jy weet dit.”
“Jy kan my met jou eerste salaristjek betaal en ons kan ’n paar basiese stukke kies wat die illusie sal skep dat jy ’n kas vol klere het.”
Rebecca hou haar kop vas en kreun teatraal. “Moenie vir my sê ek moet nou op hierdie ouderdom begin meng en pas nie.”
“Moenie so meerderwaardig wees nie, jy sal sien hoe ’n mens met klere kan toor as jy slim koop.”
Rebecca sug hoorbaar. “Ek sal kom kyk, maar ek belowe nie ek gaan koop nie.”
“Sjampanje!” klink ’n ander stem op en almal draai na die nuwe aankomelinge wat tussen die ander tafels deurgestap kom. Die voorste man is ’n aantreklike bruinkop wat reguit op Rebecca afpyl. Hy word gevolg deur ’n sterkgeboude man met swart hare en mooi blou oë.
Die bruinkop kom vou sy arms om Rebecca en lig haar uit die sitplek. Sy laat hom laggend begaan.
“Ek hoor gerugte van groot dinge! Is dit waar?” Hy soen haar op die mond en sy lag uitdagend.
“Dit hang af wat jy gehoor het, Gert,” glimlag sy.
“’n Kantoor met ’n berg-uitsig … reg langs die grootbaas.”
Rebecca knik. “Moenie vergeet van die salaris nie. Ek is ’n vrou wat een van die dae my eie blyplek kan koop.”
“En ek hoop nog al die tyd jy sal by my kom intrek.” Hy sak langs haar neer en sy moet opskuif. “Nog sjampanje!” beduie hy vir die kelner en die jong man knik gretig. Rebecca besef hy maak hom reg vir ’n reusefooitjie.
“Baie geluk.” Die man met die swart kop buk ook oor Rebecca en soen haar wang. “Maar net vir die rekord, ek het nooit getwyfel nie.”
“Dankie, Pierre,” laat Rebecca plegtig hoor. “Ek sal sorg dat jy ’n plek in die nuwe wêreldorde kry.” Sy kyk na die res om die tafel. “Vir die res van julle kleingelowiges, weg na die guillotines met julle!”
“O hemele, behoed ons!” kreun Deborah. “Marie Antoinette is gekloon!”
“Vertel eers, Becca!” Gert skink almal se glase vol. “Ek wil al die detail hoor. Het jy hom oor sy lessenaar of die liasseerkabinet verlei?”
“Waarom dink jy ek moes hom verlei om die job te kry?”
“My neef is ’n moeilike man om tevrede te stel. En alhoewel ek baie vertroue in jou het, het ek werklik nie gedink jou CV gaan die deure laat oopgaan nie. Jy moet self erken, jy was verbaas.”
Sy kyk gebelgd na hom. “Vir jou inligting, hy het my deur ’n privaatspeurder laat agtervolg, psigometriese toetse laat aflê en twee onderhoude met my gevoer. Sy lessenaar was hoegenaamd nie betrokke nie.”
“Weet hy darem teen hierdie tyd jy ken my?”
“Nee, en hy hoef dit ook nie nou al te weet nie. Laat ek hom maar eers met my vermoëns dazzle.”
Gert sit sy arm om haar skouers. “Ek is trots op jou, juffrou Fagan. My neef is ’n gelukkige man.”
“Ek het dit reeds vir hom gesê,” knik sy heel ernstig.
Die ander lag dawerend en van daar af raak die partytjie net al vroliker, totdat Rebecca kort na twee aankondig dat sy ’n werkende vrou is en haar slaap nodig het. Dit lok weer allerhande op- en aanmerkings uit, maar niks kan haar vanaand van stryk bring nie.
“Kom, ek sal jou gaan aflaai.” Gert neem haar aan die arm en almal begin skielik aanstaltes maak om huis toe te gaan.
“Is jy regtig vanaand lus vir daardie dump van jou?” wil hy weet toe hy agter die stuurwiel van sy jongste BMW-sportmotor inklim.
“Wat is my alternatief?” Sy weet wat hy bedoel, maar sy moet altyd eers seker maak.
Hy kyk net skeefweg na haar en sy skud haar kop. “Nee dankie.”
“Waarom speel jy hard to get?”
“Hoeveel keer wil jy nog hieroor praat?”
“Ek verstaan net nie wat jou beswaar is nie.”
Sy gaap. “Ek het nou eers ander prioriteite.”
“Jy het altyd ander prioriteite.”
Sy sit haar hand op sy arm en voel hoe die spiere in sy boarm saamtrek. “Jy’s verveeld, Gert, en ek is nie die oplossing nie.”
Hy lag meteens asof hy moed opgee. “Ek moet net so elke dan en wan seker maak dat jy nie intussen van plan verander het nie. Wie nie waag nie, sal nooit wen nie,” spot hy.
Sy hoef hom nie te antwoord nie, want hulle het voor haar blyplek gestop en hy kyk met misnoeë na die groepe mense wat buite rondstaan. “Vader, Rebecca, hulle gaan jou nog hier doodmaak.”
“Ek het niks wat hulle wil hê nie en as ’n mens hulle eers leer ken, is hulle nogal heel nice.”
“Ek gaan nie aanbied om saam met jou te stap nie.” Hy ril liggies.
“Liewer nie. Ek het ’n vermoede jy het dalk ’n paar goed wat hulle wil hê.” Daarmee soen sy hom op sy wang en klim vinnig uit die motor.
Daar word na haar geroep toe sy uit die motor klim en ’n paar wil weet waarom haar vriend nie ook uitklim nie. Rebecca beduie laggend dat hy bang is en daar word spottend gelag.
Sy klim die trap vinnig op en tel haastig ’n handdoek in haar kamer op. Dis wat sy die meeste van ’n eie blyplek sal geniet. Haar eie badkamer. Maar sy sal tog ook die gedurige geraas om haar mis. Dis vreemd dat sy so dikwels na stilte hunker, maar nie seker is of sy dit sal kan hanteer nie. Gelukkig is sy gewaarsku dat sy hard sal moet werk. Dit pas haar, want sy kan nie te lank in haar eie geselskap deurbring nie.
Sy draai die stort oop en gee ’n kragwoord toe daar net ’n straal koue water op haar spuit. Dit mag Februarie wees, maar hel, sy is nie lus om elke dag koud te stort nie. Sy maak gou klaar en val na ’n kwartier moeg op haar bed neer. Toe sy haar oë toemaak, ontsnap ’n “dankie” deur haar lippe. Of eintlik is dit van êrens diep in haar. Daar waar sy lankal nie meer waag om te gaan nie. Dis ’n eenvoudige woord en kan nie werklik uitdrukking aan haar gedagtes gee nie, maar sy weet nie wat meer sy kan sê nie. Dis maklik om baie te praat, maar die jare het dit moeilik gemaak om regtig iets te sê. Selfs hier waar sy alleen onder ’n trap lê. Sy draai op haar sy en sê weer sag “dankie”. Miskien is dit vanaand genoeg.
“Dit pas jou soos ’n handskoen.” Irene bekyk haar vriendin van kop tot tone. Rebecca dra ’n sagte groen broekpak van linne en sy herken haarself byna nie. Sy is so gewoond aan die losser, meer informele klere dat sy besluiteloos in die rondte draai.
“Dis net omdat jy gewoond is om jouself in kostuums te sien. Daar is jou witgewaste los-my-uit-denims met die vissermanstruie in die winter, hierdie kyk-hoe-in-beheer-is-ek-romp en -top wat jy vandag dra, dan die haai-kyk-hoe-oulik-is-ek-klere wat jy gister gedra het. Jy dink jy trek sommer net aan, maar jy kom dit nie eens meer agter dat jy opdress vir elke geleentheid nie.”
“En wat gaan hierdie suit sê?” Rebecca draai weer in die rondte.
Irene flikker haar ooglede. “Ek kan met enige van die mink-en-manure-kliek kompeteer.”
Rebecca lag en begin die klere haastig uittrek. “Behoede my!”
“Kom, ons is nog nie klaar nie. Jy kort iets wits vir die somer.” Sy haal ’n oopslaan-wit romp en moulose toppie uit en gee dit vir Rebecca om aan te pas. “En hier is nou waar jy slim word en die groen en wit met mekaar kan meng.”
“Ek het nie soveel geld nie,” kla Rebecca, terwyl sy weer na haarself in die spieël kyk en teen haar sin beïndruk is.
“Ek het jou gesê jy hoef nie nou te betaal nie.”
Rebecca skud haar kop. “Ek glo nie aan skuld nie.”
“Dis nie skuld nie. Beskou jouself as ’n advertensie vir my klere.”
“Trek ek regtig so vreeslik aan?”
“Nee, jy weet jy lyk altyd goed, maar ek dink net jy sal tog effens meer formeel moet begin aantrek.” Irene beduie na nog ’n klomp klere wat oor ’n stoel hang. “En ongelukkig sal jy ook nie net natuurlike stowwe kan dra nie. Dit gaan te veel in ’n tas kreukel. Gelukkig is sintetiese en rekmateriale nou weer hoog in die mode.” Sy beskou Rebecca met ’n skuinsgedraaide kop. “Eintlik is enige iets in die mode en jy is een van die gelukkiges wat selfs in ’n streepsak ook mooi sal lyk.”
Na nog ’n paar minute knik Rebecca uiteindelik. “Goed, jy het my oortuig, maar ek sal jou regtig eers kan betaal as ek my salaris kry.”
“Dis reg, ek sal intussen by jou kom brood eet.”
“Ek hoop nie jy wil botter ophê nie.” Rebecca verdwyn agter die gordyn in.
“Wanneer gaan jy ’n blyplek begin soek?” vra Irene en begin die klere opvou.
“Gert moet eers na my finansies kyk. Die helfte van my spaargeld is hier en die ander helfte is nog in ’n oorsese bankrekening. Ek is nie seker presies hoeveel dit is nie en of dit enigsins genoeg is vir ’n deposito op ’n blyplek nie.”
“Is jy opgewonde oor al die nuwe vooruitsigte?”
Rebecca kom neem op die ruim gemakstoel plaas en kyk hoe Irene die klere in groot bruin sakke verpak. “Soos ’n kind wat nie kon wag om skool toe te gaan nie, maar noudat die dag aangebreek het, nie meer seker is sy wil gaan nie.”
“Ek het nie twyfel dat dit goed sal gaan nie. Jy het ’n goeie kop op jou lyf en was nog nooit bang vir harde werk nie.”
Rebecca glimlag skeef. “Dankie vir die mosie van vertroue.”
“Weet die familie jy is terug in die land?”
Rebecca bly so lank stil dat Irene die vraag herhaal.
“Nee. Ek sal hulle nog bel.”
“Spaar liewer daardie geld.”
Rebecca kyk vraend na Irene.
“Jy mors jou tyd met hulle, Becca. Dis sad, maar dis ongelukkig die waarheid. Hulle het nog nooit omgegee of jy in Siberië of in Seepunt is nie.”
“Irene, ek wil regtig nie oor hulle praat nie.”
“Ek ook nie; hoe minder ek van hulle weet, hoe beter.”
“Hulle het my in hulle huis geneem toe ek nie ander blyplek gehad het nie.” Rebecca se stem klink ingehoue.
“Hulle het ’n dak oor jou kop gegee. Dit was al.” Irene sit haar hand oor Rebecca s’n. “Ek kan dalk nog die ander lot vergewe, want hulle is imbesiele, maar my magtig, sy is jou ma se suster. Sy was veronderstel om ’n ma vir jou te wees!”
“Sy het reeds vier kinders gehad, Irene. Dit was moeilik vir haar.”
“Dis nonsens! Ek ken mense met ses en sewe kinders en almal kry genoeg liefde en aandag. Dit gaan nie oor die aantal kinders nie, dit gaan oor die ingesteldheid.”
Rebecca staan op. “Ek is nie vanaand lus vir hierdie gesprek nie. Ek wil in die bed kom. Ek kan nie môreoggend verslaap nie. Daai man is kapabel en fire my voor daar nog kreukels in my nuwe klere is.”
“Kom slaap vanaand by my. Ek sal vir jou ’n lekker bad intap en môreoggend is jy verseker van ’n warm stort.”
“Moenie my probeer verlei nie.” Rebecca tel die vier groot sakke op, maar Irene sit haar arms om haar vriendin se skouers.
“Ek wil graag hê jy moet vanaand by my kom slaap.”
Rebecca probeer so ongemerk as moontlik sluk. “Ek sal later kom.”
Irene skud haar kop. “Nee, ons gaan nou jou pajamas en toiletgoedjies haal en dan gaan ons huis toe. Anders bel jy net weer later en sê jy is nou te lui of daar het iets voorgeval.”
“Ja Ma.” Rebecca se spotlaggie klink skielik hees en sy kyk weg.
“Skuif op.” Irene trek die laken weg en glip langs Rebecca in die bed.
“Wat maak jy? Ek het al amper geslaap.”
“Onsin, jy rol om en om soos ’n skaap op ’n spit.” Sy skuif tot teen Rebecca. “My ma het altyd by ons kom lê as sy geweet het daar wag ’n moeilike dag op ons.”
“Ek is mooi groot en ek is seker erger as kopaf kan dit nie gaan nie.” Rebecca probeer haar bes om haar stem lig te hou.
“Hm … ’n mens is nooit te oud vir ’n bietjie TLC nie.”
Rebecca voel hoe die knoop in haar begin skiet gee. “As jy te nice met my is, staan ek dalk nie môre op nie.”
“Jy weet jy hoef nie altyd superwoman te wees nie, nè?”
“Dit maak my lewe baie eenvoudig,” antwoord Rebecca met ’n sug. “Mense kry net swaar wanneer hulle te hoë verwagtings het.”
“Dis natuurlik om soms iets van die lewe of die mense om jou te verwag.”
Rebecca lag meewarig. “Dieselfde reëls geld nie vir almal nie.”
“Dis nie reëls nie, dis ’n menslike instink. As ek nou ’n vreeslike cliché mag aanhaal: jy verbeel jou jy is ’n eiland.”
“Dit mag so wees, maar dis nogal ’n lekker eiland en ek pla niemand nie.”
“Ja, Becca,” sug Irene asof sy doodmoeg is. “Jy pla niemand nie. Dis dalk die groot probleem. Dit laat ’n mens nogal soms oorbodig voel.”
Rebecca bly lank stil voor sy antwoord. “Die mense van Madagaskar het ’n spreekwoord wat lui: Cross the river in a crowd and the crocodile won’t eat you.”
“Dis juis my punt. Jy het ons nie nodig om deur riviere te stap of om oor berge te klim nie.”
“Waarom dink jy het ek teruggekom Kaap toe?”
Irene huiwer ’n oomblik. “Om te kom werk.”
“Ek kon oorsee ook gewerk het.”
Toe Irene haar nie antwoord nie, laat Rebecca stil hoor: “Ek is miskien net te trots om te erken ek is ook maar bang vir die krokodille. Soos vanaand.”
“Is jy bang?” Daar is verbasing in Irene se stem.
“Ek weet nie of bang die regte woord is nie, maar ek het ’n vermoede dat een verkeerde tree my dalk duur te staan kan kom.”
“Dit sal goed gaan.” Irene druk ’n soen teen haar vriendin se voorkop voordat sy opstaan. “Slaap nou sodat jy môre baie slim kan wees.”
“Dankie,” roep Rebecca agter haar aan voordat sy op haar sy draai en haar oë toemaak.
Daardie nag droom sy van riviere en mense en krokodille wat met oopgesperde kake in die water dryf, maar toe sy die volgende oggend wakker word en Irene voor die bed met ’n skinkbord sien, glimlag sy.
“Ons het dit vannag oor die rivier gemaak.”