Читать книгу Rebecca - Wilna Adriaanse - Страница 5

2

Оглавление

Rebecca weet sy moet net geduldig wees. Die een of ander tyd sal sy ’n kans kry om deur die veiligheidsbeamptes te kom. Daar is in elk geval soveel mense by die laaste dag van die groot gholftoernooi dat die beamptes sekerlik hulle hande vol het. Selfs sy verkyk haar aan al die wie’s wie wat hier vergader is. Afgesien van al die bekende gholfspelers is daar ’n groot aantal glanspersoonlikhede wat aan die liefdadigheidstoernooi deelneem.

Sy wonder stilweg wie die meeste by sulke geleenthede baat. Die bedrag geld wat aan die einde van so ’n toernooi aan die gelukkige instansie oorhandig word, is waarskynlik nie ’n kwart van dit wat die borge daaruit maak nie. Sy kyk na die versameling advertensieborde langs die baan. Dis asof mense nie meer hulle eie oordeel vertrou nie. Hulle het iemand nodig om vir hulle te sê watter tipe tee en toiletpapier hulle moet gebruik. Die ergste is waarskynlik die sportwêreld. Daar is letterlik ’n skoen en ’n handskoen vir elke geleentheid. En bewaar jou as jy dalk met jou stapskoene gaan draf of jou drafskoene vir tennis gebruik. Jy is gedoem om vir die res van jou lewe met ’n verkromde ruggraat en knobbeltone te loop.

Miskien moet sy ’n verspoegkompetisie aanbied. Sy is seker sy sal selfs daarvoor borge kan kry. Iemand sal wel iets bedink wat daar geadverteer kan word. Al is dit net ’n mondspoelmiddel sodat jy met ’n vars asem kan spoeg.

Haar blik gaan oor die deelnemers wat met die laaste putjie besig is en sy sien hoe Julian Hoffman afslaan. Dis ’n goeie hou en sy wonder waar kry hy tyd om soveel te oefen. Dis geen wonder ’n mens kry nie ’n afspraak by hom nie. Een vir een slaan sy medespelers ook af en sy begin stadigaan na die klubhuis beweeg. Dis waarskynlik haar beste kans om hom te sien.

Sy hoef gelukkig ook nie té lank te wag nie, en te oordeel na die ander se gelukwensinge lyk dit of hy ’n besonder goeie telling behaal het. Hy is steeds besig om te glimlag toe sy langs hom inval.

“Doktor Hoffman …”

Hy glimlag steeds toe sy blik op haar val en dan is daar, ’n oomblik lank, ’n vraag in die donker oë voordat hy antwoord: “Juffrou Fagan, waarom is ek nie verbaas nie?”

Sy is beïndruk. Hy het haar gesig én van onthou.

“Jy is ’n moeilike man om in die hande te kry.” Die feit dat hy nie een van die veiligheidsbeamptes nader roep nie, gee haar moed.

“Ek moet ongelukkig werk vir my geld,” laat hy droog hoor.

Sonder dat sy dit bedoel, gaan haar blik na die gholfbaan agter hom en haar wenkbroue trek effens vraend omhoog. Sy hoor hom lag en sy kry weer dieselfde gevoel as op die dag in die parkeergarage. Asof sy lag net daar is om haar aandag af te trek.

“Jy sal my nie glo as ek sê hierdie is ook maar werk nie, nè?”

Sy skud haar kop. “Ek ken werk wanneer ek dit sien.”

Steeds roep hy niemand nader nie en die paar mense wat geduldig staan en wag om met hom te praat, se hulp word ook nie ingeroep om van haar ontslae te raak nie. Rebecca besluit dis nou of nooit.

“Ek hoor jy het nog nie iemand aangestel nie. Ek stel steeds belang.”

Sy donker oë trek na mekaar toe. “Moet ek bekommerd raak dat jy so baie van my doen en late weet?”

“Ek is onskadelik. Ek soek regtig net ’n werk.”

“Kan ek ’n paar agentskappe aanbeveel?”

Rebecca skud haar kop. “Miskien moet ek myself beter uitdruk. Ek is kieskeurig en soek nie sommer net enige werk nie.”

“Ek is bly, want dan sal jy seker ook verstaan as ek sê ek is kieskeurig wie ek in so ’n pos aanstel.” Die blik in die donker oë weerspreek steeds die lagplooitjies om sy mond.

“Dis verblydend, want dit beteken jy sal net die beste wil aanstel.”

“En jy reken jy is die beste kandidaat vir die werk?”

Rebecca knik ernstig. “Jy sal nooit jammer wees nie.”

’n Baie mooi meisie verskyn langs hom en sy arm gaan asof werktuiglik om haar skraal lyf. Rebecca kan nie help om ’n oomblik te staar nie. Van die wortels van haar heuningbruin hare, tot by haar toonnaels, is sy die verpersoonliking van die woord perfeksie. Rebecca wonder wat die “informele” langbroekpak haar uit die sak gejaag het. Heel waarskynlik ’n bedrag gelykstaande aan ’n deposito vir ’n motor.

“Julian …?” Haar stem is soos fluweel. “Hulle wag vir jou om ’n foto te neem.”

“Ek kom.” Sy blik verskuif terug na Rebecca. “Kom sien my Maandagoggend agtuur.”

“En hoe kom ek by al jou onderdane verby?”

Vir die eerste keer waaier daar plooitjies langs sy oë. “Ek dog jy sê jy kan alles doen.”

Rebecca glimlag. “Ek sal Maandagoggend daar wees.”

Hy knik en begin omdraai.

“Dankie,” roep sy agter hom aan.

“Moenie so vinnig dankie sê nie. Ek is net op die oomblik in ’n goeie bui, ek het niks belowe nie.”

Sy knik en kyk hoe hy saam met die mooi vrou wegstap. ’n Oomblik lank voel sy lus om ’n dansie te doen. Dit help soms om die onverwagte te doen.

“Wie is dit?” Angela kyk skuins oor haar skouer terug na waar Rebecca steeds met ’n wye glimlag staan.

“Iemand wat werk soek.”

“Van wanneer af hanteer jy self personeelonderhoude?” Sy haak by hom in.

“Sy het Woensdagmiddag onder in die parkeergarage gewag en gesê sy wil Ernst se pos hê.”

Haar helder lag klink op. “Dis nou wat ek opportunisties noem.”

Julian antwoord haar nie en sy kyk met ’n effense frons na hom. “Jy oorweeg haar sekerlik nie vir die pos nie!” sê Angela verontwaardig en kom tot stilstand.

“Ek is nuuskierig waar sy aan die storie kom. Dis nie ’n staatsgeheim nie, maar ek adverteer beslis ook nie die pos nie.”

Angela stap kopskuddend verder. “Die wêreld is vol vreemde mense.”

“Dis onregverdig dat jy net vir die son kan kyk, dan raak jy bruin, en ek moet ure lê en dan raak ek net pienk.” Irene kyk na Rebecca wat haar donker hare sit en uitborsel.

“Maar dink net hoe gaan my vel lyk teen die tyd wat ek veertig is, en dan is jou vel nog die ene room en perskes,” spot Rebecca terwyl sy haar vriendin se beeld in die spieël dophou.

“Wat gaan jy aantrek?” ignoreer Irene Rebecca se woorde.

“Hoe bedoel jy wat gaan ek aantrek? Ek ís aangetrek.”

“Dis ’n werksonderhoud, Becca. Nie ’n oudisie vir een of ander konsert nie.” Sy kyk na die smaraggroen Indiese romp en skelpienk-en-groen bypassende moulose toppie wat Rebecca dra. Die romp sit net onder haar knie, die toppie vou vleiend voor oormekaar, en daarby dra sy ’n paar plat sandale. Sy maak haar hare argeloos in ’n los bolla agter haar kop vas en die enigste grimering wat sy dra, is maskara en ’n smeersel kleur aan haar lippe. Haar bene en arms is bruin gebrand na die naweek op die strand en op haar neus is daar ’n paar fyn sproete sigbaar. Die groen in haar klere laat haar vreemde groen-grou oë donkerder vertoon.

“Jy klink al meer na Deborah. Los my dat ek lyk soos ek wil. Ek is skoon en my klere is heel en betaal. As hy teen my wil diskrimineer omdat ek nie ’n Gucci-pakkie dra nie, dan wil ek in elk geval nie vir hom werk nie.”

“Ek wil net nie hê iets soos klere moet jou kanse verongeluk nie,” paai Irene.

“What will be, will be, my goeie vriendin. Ek glo vas daaraan. Of ek nou vanoggend soos oorlede Coco Chanel daar instap, of net in my evasgewaad, die uitkoms is reeds in my sterre geskryf.”

“Ek moet daar van jou verskil,” lag Irene. “Ek dink tog jou kaal lyf gaan ’n verskil maak.”

“Ek is byna lus en wed jou dat hy nie sal kyk nie.”

“Nee, o hemel! Op die ou end sit jy in die tronk of in ’n inrigting en ons moet heen en weer ry om vir jou te gaan kuier.”

“Ai!” Rebecca skud spytig haar kop. “Ek kon nou maklik ’n paar rand gemaak het.”

“Is hy so aantreklik soos op die foto’s?” praat Irene die onderwerp weg.

Rebecca trek haar gesig op ’n plooi. “Eintlik nog beter, want hy het ’n baie mooi stem en oë waaroor die meeste vrouens seker drome droom. Én hy het die sex appeal van Hugh Jackman en George Clooney. Jy moet sien hoe kyk die vrouens hom agterna.”

“Ek dog die natuur sorg altyd vir balans.” Irene pruil ontevrede. “Niemand is veronderstel om álles te kry nie.”

Rebecca glimlag. “Troos jou daaraan dat hy darem ietwat meer boers as die menere Jackman en Clooney lyk.”

“Wat beteken dit?”

“Ek weet nie. Hy gee my net die indruk dat hy nie ontuis op ’n plaas sal wees nie. Daar is sonplooie langs sy oë en hy het groot, sterk hande.”

“Is jy seker dis soos ’n boer lyk?”

Rebecca knik. “Dis in elk geval my idee van ’n boer.”

“Wil jy nie my motor leen nie?” Irene kyk na haar vriendin se mooi klere.

“Nee dankie. Hierdie tyd van die oggend is daar genoeg taxi’s hier buite. Dankie dat ek jou so vroeg kon kom pla het vir ’n warm stort. Daar by ons is dit weer chaos vanoggend. Ek vermoed iemand het die warm kraan die hele nag oopgelos of hulle steel snags warm water.”

“Wanneer kry jy vir jou ’n ander blyplek?” Irene sug soos William wanneer hy met haar daaroor praat, en Rebecca gee ’n wye glimlag.

“As ek hierdie job kry. So, jy moet vandag vir my ’n kers laat brand en al jou duime vashou.” Dan is sy uit die vertrek en die voordeur klap agter haar toe.

“Ek het ’n afspraak met doktor Hoffman.” Rebecca sê dit met al die gesag wat sy kan bemeester.

Die vrou agter die lessenaar kyk haar onbeskaamd op en af. Rebecca herken haar dadelik. Dis die rooi Renault se eienaar. Die een wat ’n ryk man soek. Sy is die verpersoonliking van kantoorelegansie. Netjies gesnyde blonde hare, ’n snyerspakkie en elegante skoene.

“U naam?”

“Rebecca Fagan.” Rebecca weet nie of sy verlig of jammer is toe die vrou se kop knik nie. Sy was vandag reg om haar pad oop te baklei.

“Sit asseblief. Doktor behoort binnekort hier te wees.”

Rebecca gaan sit op een van die gemakstoele en bekyk die kantoor van hoek tot kant. Om hier te kon uitkom, moes sy onder in die portaal by ’n sekuriteitsingang haar naam in ’n boek skryf. En toe sy uit die hysbak stap, moes sy haarself deur ’n interkom aanmeld voor die glasdeure vir haar oopgegaan het. Die ontvangsvertrek is ruim en smaakvol gemeubileer. Irene sal beïndruk wees met al die antieke meubels. Links van haar kan sy ’n kantoor sien waarin ’n ouerige vrou by ’n rekenaar sit. Regs lei nog ’n deur na ’n vertrek wat soos ’n konferensiekamer lyk, en verder kan sy nie sien nie. Daar loop ’n gang regs om die ontvangstoonbank en sy neem aan die ander kantore is in die gang.

Sy wonder of hulle almal so vroeg begin werk. Nie dat sy omgee nie; sy het net altyd gedink kantoorure in die Kaap is van nege-uur af. Die foon op die lessenaar lui skielik en Rebecca skrik uit haar gedagtes op.

“Doktor sal jou nou sien.”

Die vrou – sy het haarself as Anèl bekendgestel – staan op en stap voor Rebecca die gang af. Tot haar verbasing is daar net nog een kantoor, links uit die gang, en aan die einde van die gang ’n paar dubbeldeure. Die vrou klop liggies voor sy een van die deure oopstoot en vir Rebecca beduie om in te gaan.

Rebecca ruik koffie en sy hoop sy gaan ook ’n koppie kry.

Sy staan ’n oomblik stil toe die deur agter haar toeklik. Die kantoor beslaan die hele breedte van die gebou. Drie van die mure bestaan uit groot vensters. Haar blik beweeg van links, waar Tafelberg geraam in die venster lê, stadig oor Leeukop en Seinheuwel, tot by die Waterkantontwikkeling regs van haar. In die een hoek staan ’n konferensietafel en reg voor haar ’n groot lessenaar. Tussen die lessenaar en die konferensietafel is twee groot rusbanke en ’n gemakstoel om ’n koffietafel gegroepeer. Die kantoor is, soos die portaal, met pragtige antieke stukke gemeubileer. Oor die dik volvloermat lê drie mooi Persiese matte gestrooi. Sy moet keer of sy klop haarself op die skouer. Niemand het gedink sy sal tot hier kan vorder nie.

“Juffrou Fagan.” Die man wat agter die lessenaar opstaan, lyk aansienlik anders as die glimlaggende man in gholfklere. Die glimlag is weg en al wat hy van Saterdag oorgehou het, is ’n sonbruin gesig.

“So, dis hoe die ander helfte van die bevolking hulle dae deurbring.” Sy kyk met onverbloemde nuuskierigheid rond.

“Ekskuus?”

“Dis ’n baie indrukwekkende kantoor.”

“Ek is bly jy hou daarvan,” laat hy droog hoor terwyl hy om die lessenaar stap en sy hand formeel na haar uithou. Sy is verlig oor die ferm handdruk. Dis vreemd hoe klein dingetjies soms belangrik kan wees. Een van die dinge wat sy nie kan verdra nie, is mense met ’n pap handdruk. ’n Mens hoef nie ’n handdrukkompetisie te hou nie, maar sy gril vir ’n hand wat soos ’n dooie vis in hare lê.

“Kom sit asseblief.” Hy beduie na die rusbanke en sy besef die stoel is syne.

“Het jy iets op die hart, of kan ek maar ’n paar vrae vra?” val hy saaklik met die deur in die huis toe sy sit.

Rebecca beduie met haar hande dat hy kan voortgaan.

“Waar het jy gehoor ek soek iemand?”

Sy byt haar onderlip vas. Dis die een vraag wat sy nie nou gaan beantwoord nie. “Ek sal verkies om nie te sê nie.”

Sy oë vernou en sy wonder effens angstig of hy haar nou gaan vra om te loop.

“Het jy ’n idee wat die werk behels?” verras hy haar.

Sy skud haar kop. “Nee, seker nie een honderd persent nie, maar ek vermoed daar sal nie van my verwag word om kernsplitsing te doen nie.”

“En die res kan jy alles hanteer?”

Rebecca kyk hom vas in die oë. “Nie noodwendig nie, maar ek is seker die res sal ek alles kan leer doen.”

“Waarom hier en waarom nou?” kom sy volgende vraag.

“Ek is lus vir ’n uitdaging en ek sal eerder iets met verskillende fasette doen as om dag vir dag dieselfde taak oor en oor te doen. Waarom nou? Want ek wil geld maak.”

“Jy weet nie eens wat die salaris behels nie.” Sy blik rus niksseggend op haar en sy wonder of hy kan poker speel.

“Nee, maar ek weet waarvoor ek bereid is om te werk en dit behoort in my behoeftes te voorsien.”

“En waarvoor, as ek mag vra, is jy bereid om te werk?”

Toe sy die bedrag noem, bly sy uitdrukking onveranderd en sy is effe teleurgesteld. Dit beteken hy het sy emosies goed onder beheer.

“Ek het nie geweet dis my pos waarin jy belangstel nie.”

Rebecca se reguit blik huiwer ook nie. “Ek het nie geweet jou pos is beskikbaar nie.”

“Juffrou Fagan,” ignoreer hy haar opmerking, “wat laat jou dink enigiemand sal jou so ’n salaris aanbied? Mense met jare se ondervinding kry nie eens soveel nie.”

“Dis wat ek vir jou werd gaan wees.” Sy bedink haarself egter blitsvinnig. “Nee, dis nie waar nie. Jy sal my waarde nie werklik kan koop nie, maar dit is waarvoor ek bereid is om my dienste en kennis aan te bied.”

“Ek is versigtig om te vra watse dienste jy alles vir daardie bedrag aanbied.”

“Ek het daardie eerste dag vir jou gesê ek sal in al jou behoeftes voorsien, nie noodwendig persoonlik nie, maar ek sal reël dat jy alles kry wat jy moet hê.”

“Alles?”

Sy is trots op haarself dat sy steeds nie ’n oog knip nie. “Daar is ’n verskil tussen wat jy móét hê en wat jy wíl hê.”

Net vir ’n oomblik lê daar iets soos geamuseerdheid in sy oë en Rebecca kyk smagtend na die koppie op sy lessenaar. Sy wonder of sy vir ’n koppie koffie kan vra.

“Hoe het jy onder in die parkeergarage gekom?”

“Ek het ingestap toe daar ’n motor uitgery het. Die veiligheidsbeamptes was besig om tee te drink en hulle het nie opgekyk nie.”

“Ek kon jou laat arresteer het vir betreding.”

“Maar jy het nie.”

“Waarom wil jy geld maak?”

“Ek wil vir my ’n blyplek koop.”

“Waar woon jy op die oomblik?”

“Ek huur ’n kamer.”

“Het jy jou CV saamgebring?”

Rebecca hou ’n groot wit koevert na hom toe uit en hy trek ’n enkele vel papier daaruit.

’n Ligte frons lê tussen sy wenkbroue terwyl hy lees.

“Dis nie ’n baie volledige CV nie.”

“Dis alles wat jy behoort te weet.”

Hy skud sy kop. “Ék sal besluit wat ek behoort te weet.”

Rebecca sug hoorbaar en die frons tussen sy wenkbroue verdiep.

“Doktor Hoffman, jy is ’n besige man en ek gaan nie jou tyd mors nie, maar ek wil ook nie myne mors nie. My akademiese rekords is beskikbaar as jy daarna wil kyk. Ek kan al die plekke waar ek sedert my skooldae gewerk het, kontak en vra hulle moet vir jou verwysings stuur waarin hulle verklaar dat ek ’n goeie werknemer was en nie gesteel het nie, maar ek en jy weet dis ’n mors van tyd. Hulle kan enige iets op daardie stuk papier skryf. Mense soos jy behoort deur die jare genoeg mensekennis op te doen om te weet wanneer hulle iemand kan vertrou en wanneer nie. Jou voorgeslagte en jy het nie hierdie maatskappy gestig en uitgebou sonder om soms kanse te waag nie. Om my aan te stel is maar net nog ’n kans.”

“Daar is ’n groot verskil tussen berekende en onberekende kanse.”

“Waarom het jy my dan vandag laat kom?” Rebecca weet nie waar haar ergerlikheid vandaan kom nie. Dis ’n emosie waarmee sy baie spaarsamig omgaan.

“Jy het my Saterdag in ’n goeie bui gevang en ek het toevallig vanoggend ’n halfuur beskikbaar gehad.”

Sy kyk op haar horlosie en staan op. “Jy is ’n gelukkige man. Ek het nie vanoggend ’n halfuur gehad om te mors nie.”

“Hoe het jy geweet ek gaan Saterdag by die gholftoernooi wees?”

Rebecca trek haar skouers op. “Dis verbasend hoe nuuswaardig jou doen en late blykbaar is.”

“Juffrou Fagan,” keer sy stem haar toe sy by die deur is. “Het jy vir een oomblik gedink jy kan van die straat af in so ’n pos instap?” Vir die eerste keer slaan daar iets soos verbasing in sy stem deur.

“Ek weet ek kan die werk doen en ek was onder die indruk jy is ’n dapper man,” laat sy oor haar skouer hoor.

Sy mond gaan oop, maar sy het reeds die deur agter haar toegetrek.

Buite die deur haal sy een keer diep asem. Dis die probleem met dobbel. Daar is altyd ’n kans om te verloor. Sy stap met ’n regop rug die gang af. Op hierdie oomblik is sy jammer sy het so vroeg opgestaan én dat sy nog nie eens ’n koppie koffie gedrink het nie. Hy kon haar baie moeite bespaar het as hy haar die eerste dag sommer net uitgegooi het.

Drie mans in donker pakke en aktetasse kom by haar verby en sy groet afgetrokke. Hulle groet terug en sy sien hoe een oor sy skouer terugkyk. Miskien moet sy vra of hulle nie vir haar werk het nie, dink sy grimmig. Of miskien moet sy sommer net vra of hulle nie vir haar ’n koppie koffie het nie!

“Jy begin jou dag op ’n interessante noot.” Alec Barnard glimlag veelbetekenend vir Julian waar hy agter sy lessenaar staan.

“Waarvan praat jy?” Julian kyk vraend op.

“Ek praat van jou eerste afspraak, of was sy dalk gisteraand se laaste afspraak?”

Julian tel sonder ’n woord ’n skootrekenaar van sy lessenaar af op en stap daarmee na die konferensietafel. Die ander drie volg hom en oomblikke later sit elkeen met ’n oopgeslane rekenaar voor hom.

Twee ure later maak hulle vir die eerste keer hul skootrekenaars toe en begin opstaan.

“Stephen, sal jy asseblief agterbly? Daar is nog ’n saak wat ek met jou moet bespreek.”

Die ander twee maak die deur oop en Stephen gaan neem op een van die rusbanke plaas terwyl hy diep sug. “Ek het nooit vannag geslaap nie. Die kleintjie het die hele nag geskreeu.”

Julian gaan sit op die gemakstoel. “Ek dog julle het ’n au pair aangestel om julle te help.”

“Ons het, maar Brenda glo ’n kind soek in die nag haar ouers.”

Julian glimlag ietwat onwillig. “Sy is seker reg, maar liewer jy as ek.”

Stephen sug weer en kyk dan vraend na Julian. “Wat wil jy nog bespreek?”

“Hoe vorder Martin se soektog na ’n plaasvervanger vir Ernst?”

“Daar is blykbaar ’n hele paar belowende kandidate. Hulle is besig met die laaste agtergrondondersoeke en behoort so oor twee weke met die onderhoude te begin.”

“Ek wil hê jy moet vir my inligting oor iemand kry.”

“Wie is dit?”

“Rebecca Fagan.” Julian hou ’n enkele vel papier na hom uit en Stephen se blik gaan vlugtig daaroor.

“Is dit die meisie wat vanoggend by jou was?”

Julian knik.

“Waar kom jy aan haar?”

Julian druk sy vingers teenmekaar terwyl hy die storie vertel.

Stephen lag verbaas. “Sy verdien beslis ’n paar punte vir deursettingsvermoë en waagmoed.”

“Of sy het ander redes waarom sy so graag die werk wil hê.”

Stephen staan moeisaam op. “Ek sal kyk wat ek kan uitvind.” Hy maak die deur oop, maar loer weer terug. “Terloops, ons het ’n uitnodiging na Angela se verjaardag gekry. Brenda wil weet of dit meer as ’n verjaardagparty gaan wees.”

“Sê vir Brenda die tronke is vol nuuskierige mense.”

“As ek so na die uitnodiging kyk, gaan dit ’n groot geleentheid wees.”

“Hou op vis, Stephen. Ek het werk om te doen.”

Stephen maak met ’n alwetende laggie die deur agter hom toe.

Rebecca

Подняться наверх