Читать книгу Rebecca - Wilna Adriaanse - Страница 9

6

Оглавление

Rebecca voel soos ’n graadeentjie op die eerste skoologgend, maar behalwe Irene, beplan sy beslis nie dat enigeen dit moet weet nie. Sy trek een van haar ouer swart langbroeke en ’n rooi-en-swart toppie aan en ignoreer Irene se versoek dat sy haar groen broekpak dra. Dis genoeg dat sy groen voel, dis nie nodig om so te lyk ook nie.

Haar kantoor is nie naastenby so groot en indrukwekkend soos Julian Hoffman s’n nie, maar sy het ook beslis nie rede om te kla nie. Die groot vensters kyk berg toe en al sou ’n uitsig oor die hawe ook mooi gewees het, verkies sy hierdie uitsig. Nou kan sy sien as Van Hunks sy pyp op Tafelberg stook en die suidoos soos ’n waterval oor die berg tuimel.

Die een muur bestaan uit ’n groot boekrak met ’n verskeidenheid lêers en boeke. Haar blik gaan vinnig oor die titels. Daar is regsboeke, boeke oor die politiek, oor die ekonomie, internasionale politiek, en nog vele ander.

Die lessenaar is ’n mooi antieke meubelstuk en haar stoel is ’n moderne hoërugstoel wat agteroor kan kantel. Voor die lessenaar staan twee gestoffeerde gemakstoele. ’n Duur donkerrooi-en-groen Oosterse mat lê bo-op die dik grys volvloermat.

“Moenie te geheg raak aan die uitsig nie,” onderbreek ’n stem haar gedagtes. Sy draai met ’n gemaklike glimlag om.

“Ek dink die gevaar is groter dat julle te geheg aan my gaan raak.”

Julian Hoffman gee een van sy enigmatiese glimlagte. “Moenie jou geld daarop verwed nie.”

Rebecca stap om die lessenaar. “Ek wed selde op ’n verloorder.”

“En ek nóóit nie.” Daar lê ’n duidelike waarskuwing in sy woorde.

Rebecca se blik weifel nie, maar sy kan voel hoe haar vel ongemaklik saamtrek en haar maag ’n paar draaie gee. Om hierdie pos te kon kry was die maklike deel; om dit te hou, gaan aansienlik moeiliker wees.

Rebecca kan hom nie antwoord nie, want hy het reeds omgedraai en sy bly staan effe onseker om haar en rondkyk. Sy het nie ’n benul waar om te begin nie.

“Doktor het gesê ek moet jou rondwys,” onderbreek ’n jong stem haar gedagtes en toe sy opkyk, herken sy die ander meisie wat die eerste dag onder in die parkeergarage was. Haar naam is Ingrid en sy is die ontvangsdame vir drie van die direkteure, verneem Rebecca en stap gehoorsaam agter haar aan.

Teen drie-uur die middag het sy al ’n klomp mense ontmoet. Sy kon die nuuskierigheid in almal se oë sien, maar niemand het iets gevra nie. In sommige kantore is sy openlik op en af bekyk, in ander is sy saaklik gegroet. Dit pla haar gelukkig nie. Sy was nog nooit afhanklik van ander mense se opinies nie.

Oorkant die portaal is nog ’n ontvangsvertrek wat die drie visepresidente van die maatskappy bedien. Hulle het elkeen hul eie tikster en daar is ook ’n komiteekamer en kombuisie. Nie een se kantoor is so groot soos Julian Hoffman s’n nie, maar almal is smaakvol ingerig met waardevolle antieke meubels, matte en hier en daar ’n ornament.

Martin Vorster, wat die onderhoud met haar gevoer het, heet haar formeel welkom en groet met die hand, maar Rebecca is redelik seker sy was nie sy eerste keuse nie. Waarskynlik nie eens sy tweede, derde of vierde keuse nie. Dis egter sy probleem.

Alec Barnard is ongeveer veertig jaar oud en lyk soos die visepresident van ’n internasionale maatskappy. Van sy blonde hare wat netjies gesny is, tot by sy skoenpunte, is hy ’n stilis se droom. Alles is op die regte plek, met die regte naamkaartjie aan.

“Aangename kennis,” groet hy glimlaggend toe Ingrid Rebecca voorstel. Hy laat gaan egter nie haar hand nie. “As die lewe aan daardie kant van die gebou jou te erg verveel, kan jy altyd stilletjies wegglip na ons toe.” Sy hand vou net te warm om hare, en Rebecca weet hy wag dat sy dit uit syne trek. Mans soos hy hou daarvan om vrouens ongemaklik te maak. Dit laat hulle waarskynlik soos die spreekwoordelike alfa-man voel. Daarom wag sy geduldig tot hy klaar gepraat het en selfs dan maak sy seker hý laat eerste haar hand los.

“Dankie, ek sal dit onthou,” antwoord sy.

Buite die deur sien sy hoe Ingrid haar vlugtig aankyk en Rebecca wonder of die vrou dink sy is onnosel genoeg om ’n man soos Alec Barnard ernstig op te neem.

“Hy is al twee keer geskei,” kom die waarskuwing waarop Rebecca gewag het.

“Ek is jammer om dit te hoor,” antwoord Rebecca ernstig terwyl sy wonder of dit die moeite werd is om te probeer verduidelik dat sy geensins by die maatskappy se skindernetwerk wil inskakel nie. Dit gaan haar nie aan wie wat doen, met wie, waar en wanneer nie.

Toe sy terug in haar kantoor kom, staan daar ’n reuseruiker blomme op haar lessenaar. Sy haal effens uit die veld geslaan die klein kaartjie tussen die blare uit en glimlag terwyl sy die paar woorde lees: Geniet die uitsig, maar moenie van ons hier onder vergeet nie! Liefde. Gert.

Rebecca glimlag steeds toe sy die ruiker op die tafel voor die venster gaan sit. Sy sal vanaand vir hom dankie sê.

Teen vyfuur die middag het sy al ’n paar keer tee en koffie vir Julian aangedra, heelwat lêers en dokumente heen en weer gedra en selfs namens Julian blomme bestel.

“Is dit vir ’n man of ’n vrou?” wou sy weet toe hy die opdrag gee.

Hy kyk vir die eerste keer werklik op na haar toe. “Dis vir ’n vrou.”

“Moet die blomme iets spesifieks sê, soos byvoorbeeld dat jy jammer is oor iets of moet dit ’n ander boodskap oordra?” Rebecca weet nie waarom sy dit so geniet nie. Miskien omdat daar ’n ontevrede trek om sy mond lê?

“Ek soek net ’n bos blomme, juffrou Fagan. Ek is nie besig met nuwe diplomatieke betrekkinge nie.”

“Is dit vir ’n begrafnis, want dit sal uiteraard ander blomme moet wees.” Sy het moeite om die lag uit haar stem te hou.

“Ek wil dankie sê.” Hy het weer sy kop laat sak en is besig om die sleutels van sy skootrekenaar te druk.

“’n Kennis of ’n vriendin?”

“Vriendin.”

“Goeie vriendin?”

“Ja.”

“Hoe goed?”

“Stuur net in vadersnaam die blomme, ek is seker jy het nie my bloedgroep nodig om dit te doen nie.”

Terug in haar kantoor het sy dit oorweeg om vir Anèl, die ontvangsdame, te gaan vra waar hulle altyd blomme bestel, maar toe op die ingewing van die oomblik ’n kennis gebel en verduidelik wat sy wil hê. Sy was nog nooit lief vir stywe bloemisterangskikkings nie en as die spesiale vriendin daarvan hou, moet sy maar hierdie keer met iets anders tevrede wees.

Om die tyd verder om te kry, begin sy deur die lêers blaai. Daar is afskrifte van vorige toesprake. So ver terug soos Julian se oupa se jare. Rebecca begin lees en is gou verdiep in die taak.

“Jy lyk baie besig,” onderbreek ’n stem haar en toe sy opkyk, staan Stephen Walters voor die lessenaar. Hy was nie die oggend in sy kantoor toe Ingrid haar op die toer geneem het nie.

“Ek is besig om deur drie geslagte se gevleuelde woorde te lees.” Sy kom orent, maar hy beduie vir haar om te bly sit, terwyl hy self op een van die ander stoele gaan sit.

“En jou gevolgtrekking?”

“Dis my eerste dag en jy is familie. Ek dink nie ek moet nou al selfmoord pleeg nie.”

Stephen se verbaasde lag weerklink in die vertrek. “Nou het jy my nuuskierig gemaak.”

Rebecca skud haar kop. “Meneer Walters, ek praat dikwels voor ek gedink het. Moenie te veel in my woorde lees nie.”

Hy staan op terwyl hy steeds glimlag oor haar woorde. “Ek hoop jy is gelukkig hier by ons.”

“Dankie. Jy is die eerste een wat my dit toewens.”

“Ek neem aan die blomme is dan nie van jou nuwe baas nie?”

Rebecca skud haar kop. “Ek het gelukkig nie blomme verwag nie.”

Hy kyk op sy horlosie. “Ek het ’n vergadering met jou baas. Lekker lees.” Daarmee draai hy om en sy hoor hoe hy aan Julian se deur klop voor hy dit oopmaak.

Sy hou van hom, besluit Rebecca. Volgens Gert was hy en Julian kamermaats op universiteit en het vele wenkbroue gelig toe hy destyds deur Julian se pa aangestel is, veral omdat hy die aanstaande skoonseun was, maar na drie jaar is hy eenparig deur die direksie as een van die visepresidente verkies.

Rebecca trek weer die lêer nader en begin lees. Dis geweldig interessant om die verskil tussen die drie geslagte se toesprake te sien. Veral omdat al drie dieselfde pos by die maatskappy beklee het. Wat egter bemoedigend is, is dat hulle siening oor die politiek en die maatskappy se plek in die ekonomie basies dieselfde gebly het. Hulle is nie napraters van die tye nie, besef sy. Hulle geld kan nie net weelde koop nie, maar beslis ook onafhanklikheid en ’n eie opinie. Sy het ook ’n eie mening en is nie skaam of bang om dit te gee nie, maar sy kan dit net bekostig omdat sy niks het om te verloor nie. Hulle kan dit bekostig omdat hulle sorg dat baie monde gevoed word. Twee verskillende wêrelde, maar op ’n vreemde manier dieselfde tipe vryheid.

“Wat maak jy nog hier?”

Rebecca is so ingedagte dat haar kop agteroor ruk. Julian staan in die deur. Hy het sy baadjie aan en hou ’n aktetas in sy hand vas. Sy knip haar oë en kyk op haar horlosie. Dis al oor ses.

“Ek is besig om al julle toesprake te lees.” Sy kom orent. “Dis nogal moeilik om te glo twee generasies het soveel tot stand gebring.”

“Drie generasies,” help hy haar reg, maar sy skud haar kop.

“Jou geskiedenis moet nog geskryf word, doktor Hoffman. Ek dink dis nog te vroeg om nou al deel van hierdie glorie vir jouself toe te eien.”

Sy oë knip stadig en net een keer voordat hy glimlag. “Miskien weet jy tog nie so baie van die maatskappy soos jy gedink het nie.”

“Ek is bereid om te leer.” Sy glimlag nou ook.

Hy kyk op sy horlosie. “Ek het ’n afspraak.”

“Moet ek jou vergesel?” Sy weet dis nie wat hy bedoel nie, maar sy kan haarself nie keer nie.

“Dit sal nie nodig wees nie, dankie.” Sy blik gaan na die ruiker blomme op die tafel voor die venster, maar hy lewer nie kommentaar nie.

“Mag ek dan ook maar huis toe gaan?”

Hy was besig om om te draai, maar draai terug toe sy praat en daar lê iets soos spot in sy oë, meen sy. “As jy dink jy het vandag jou geld verdien.”

“Ek het al my opdragte uitgevoer.”

“Hierdie pos gaan oor meer as opdragte uitvoer.”

“Ek is bewus daarvan,” sê Rebecca nadenkend.

Hy knik terwyl hy omdraai, asof die saak daarmee afgehandel is, en Rebecca kyk hom met ’n glimlag agterna. Julian Hoffman het nog baie om te leer. En die belangrikste is seker dat sy nie maklik geïntimideer word nie. Sy gaan sit weer, maar hierdie keer met haar voete op die lessenaar en haar stoel agteroor gekantel.

“Kyk hoe laat is dit! Het hy jou sommer die eerste dag al oortyd laat werk?” Gert trek haar by die voordeur in en soen haar op die mond.

“Ek het nie vandag veel gedoen nie.” Sy skop haar skoene uit en stap kaalvoet agter hom aan oor die glimmende houtvloere. In die kombuis haal hy ’n bottel wyn uit die yskas en twee glase van ’n oop rak.

“Het jy my blomme gekry?”

Sy stap nader en soen hom. “Dis ’n tipiese Gert-ruiker. Oordadig groot, maar baie mooi. Dankie. Ek waardeer dit.”

“Wat het jy gesê, van wie kom die blomme?” Hy skink hulle glase vol en hou een na haar uit.

“Niemand het gevra nie. Miskien is hulle aan groter ruikers gewoond.”

Hy brom iets en beduie vir haar dat hulle in die sitkamer moet gaan sit. Die dakwoonstel is soos gewoonlik hipernetjies en lyk soos ’n ontwerper se droom. Van die reuseskilderye teen die mure tot by die wit-en-room gestoffeerde rusbanke en stoele. Gert glo nie aan tweede beste nie.

“Dis nuut.” Rebecca tel ’n klein bronsbeeldjie van die koffietafel af op.

“Kan jy nooit kyk sonder om te vat nie?” wil hy weet toe hy langs haar op die rusbank kom sit.

“Nee. Ek is gesiggestremd. Ek moet voel ook.”

“Nou sit daar weer vingermerke op.”

“Jou huishulp sal bly wees om werk te hê.” Rebecca vou haar bene onder haar in. “Waarom is jy so beneuk?”

“Ek en my pa het koppe gestamp.”

“Dis niks nuuts nie.”

Hy neem ’n sluk wyn voor hy antwoord. “Ek was net nie vandag lus dat hy my moet sê hoe om ’n saak te hanteer nie. Ek is nie ’n kind nie.”

“Jy is sy kind.”

“Becca, spaar my asseblief die preek vanaand. Ek is moeg.”

Rebecca maak haarself geriefliker teen die sagte kussings. Sy sou graag haar voete op die koffietafel wou sit, maar hulle het al genoeg daaroor geargumenteer.

“Ek neem aan jy het nie vandag tyd gehad om na my geldsake te kyk nie,” vra sy na ’n lang stilte.

“Ek het en as ons alles laat oorplaas, behoort jy genoeg vir ’n deposito te hê. Mits jy nie te weelderig wil gaan nie.”

“Ek sal graag iets in die buiteland wil hou. Al is dit net genoeg om vir my ’n bord kos te koop as jou neef nie meer van my dienste gebruik wil maak nie.”

“Ek sal al die papierwerk regkry, en as jy kom teken, kan jy sê hoeveel jy wil hê ek moet oorplaas.”

“Dankie.”

“Is jy seker oor hierdie job?”

Sy kyk vraend na hom. “Wat bedoel jy is ek seker oor die job?”

“Is dit regtig wat jy wil doen?” Hy speel met die hare in haar nek.

“Ek weet nie, maar ek gee nie regtig om nie. Hulle betaal my ’n baie goeie salaris en dit gaan sorg dat ek ’n blyplek kan koop.”

“Ek verstaan nie jou beheptheid met ’n eie blyplek nie. Jy kan hier kom woon, of jy kan by Irene gaan woon of by enige van die ander. Waarom jou geld gebruik om in hierdie stadium eiendom te koop?”

“Ek het hard gewerk vir daardie geld en ek dink dis ’n goeie belegging. Ek kan dit altyd weer verkoop as ek nie daarvan hou nie.”

“Jy moet leer om meer te ontspan, Becca. Jy kan soms so hipergedrewe wees.”

“Sê die een wat elke jaar met ’n nuwe kar ry.”

“Wil jy hê ek moet ook met taxi’s en busse oor die weg kom?” kap hy terug en sy glimlag paaiend.

“Jy kan elke máánd ook met ’n nuwe een ry, ek gee nie om nie. Dis jou geld.”

“Maar jy dink dis ’n vermorsing van geld.” Hy skink hulle glase weer vol.

“Ek dink baie dinge is ’n vermorsing van geld …” Sy kyk om haar in die luukse vertrek. “Maar dis my siening.”

“Jy moet die vyftiende April oophou, dis ’n Saterdagaand,” verander hy skielik die onderwerp.

“Waarheen gaan ons?”

“Ek moet na ’n verjaardagparty gaan en ek wil hê jy moet saam met my gaan.”

“Ek sal in my dagboek moet gaan kyk of ek beskikbaar is,” spot sy en hy trek haar hare.

“Gaan dit ’n lekker party wees?”

“Daar behoort genoeg kos en drank te wees en die helfte van die Kaap sal seker daar wees.”

“Hm … ek sal jou laat weet. Wat is die drag?”

“Duur, maar ek weet jy gaan jou nie noodwendig daaraan steur nie.”

Rebecca rek haar uit en gaap. “As jy vir my wil kos gee, moet jy gou maak. Ek is vaak.”

Sy vingers speel weer met haar hare. “Jy is deesdae altyd haastig.”

“Nee, ek was nog altyd haastig. Jy is net vanaand in ’n slegte bui.”

“Bly vanaand hier. Ons kan jou klere gaan haal.”

Sy rol haar oë dakwaarts. “Hier gaan ons al weer. Dis tyd dat jy ’n vrou kry. Nie ’n speelding nie, ’n regte vrou.”

Hy leun oor en druk ’n soen teen haar lippe. “Jy is nie ’n speelding nie.”

“Maar ek is ook nie die vrou vir jou nie.”

“Mis jy nie die goeie tye nie?”

Sy sluk die laaste wyn in haar glas. “Die lewe gaan aan.”

Sy blik versober. “Sal jy eendag vir my sê waarom jy so skielik weg is? Die regte rede en nie al daardie verskonings wat jy destyds gegee het nie.”

“Ons was toe alreeds geskiedenis, Gert. Wat maak dit saak waarom ek weg is.”

“Omdat ons vriende is en waarskynlik altyd vir mekaar sal omgee.”

“Jy is baie ernstig vanaand,” probeer sy die oomblik verlig.

“Wat van een keer for old times’ sake?” Sy oë lag skielik weer toe hy haar hand vang en probeer om haar terug te trek op die rusbank.

“Ek wil regtig nie uitsoekerig klink nie, maar nee dankie, Gert. Ek was al daar en ek het ’n paar T-hemde om te wys.”

Hy staan ook op. “Ek wonder of jy aldag self weet wat jy wil hê.”

“Op die oomblik wil ek ’n blyplek op my naam hê. En as die plek dalk ’n redelike konstante voorraad warm water het, sal ek niks meer vra nie.”

“Foeitog, sy is met so min tevrede.” Hy tel sy motorsleutels van die tafel in die portaal op. “Kom, laat ek vir jou gaan kos gee. Ek wil nie hê jy moet nog hongerte ook by jou vele ontberings tel nie.”

“Wat sal ek sonder jou gedoen het?” Rebecca haak by hom in toe hulle in die hyser staan.

“Ek weet ook nie.” Hy hou sy kop skuins en bekyk haar skielik met meer aandag. “Mis jy nie seks nie?”

Rebecca lag diep uit haar maag. “Wie sê vir jou ek het nie seks nie?” Sy vee trane uit haar oë.

“Ek ken jou, Becca. Jy slaap nie rond nie, maar jy is ’n sensuele wese. Deesdae is daar egter ’n hardheid of ’n afsydigheid teenoor mans, wat ek nie verstaan nie.”

“Daar is niks om te verstaan nie. Elke mens se lewe gaan deur fases en ek is op die oomblik met ander dinge besig.”

“Dis nie normaal nie.” Hulle stap uit die hyser en in die parkeergarage onder die gebou in.

“Ek het nie gesê ek lewe selibaat nie,” lag sy.

“Jy hoef dit ook nie te sê nie, ek ken jou goed genoeg om te weet jy slaap alleen.”

“Ek was nog nooit bang om alleen te slaap nie en in elk geval, jy is ’n beter vriend as wat jy ’n lover was,” sê sy tergerig.

“As jy ooit daardie stelling in die openbaar herhaal, dagvaar ek jou vir laster. Die laaste ding wat ek in my lewe nodig het, is ’n klomp vriendinne!”

Rebecca lig plegtig haar twee vingers in die lug. “Scout’s honour.”

Rebecca

Подняться наверх