Читать книгу Rebecca - Wilna Adriaanse - Страница 7

4

Оглавление

Irene kyk op toe Rebecca laatmiddag haar winkeltjie binnestap. “Wat het van jou geword?”

“Wat bedoel jy?”

“Niemand het vir twee dae iets van jou gehoor nie. Ek en William was gisteraand by jou kamer en vanoggend weer, maar die deur was gesluit en niemand het jou gesien nie.”

Rebecca trek haar skouers op. “Ek was maar in die rondte.”

“Jy kan nie vir twee dae verdwyn en niemand weet waar jy is nie, Rebecca. Ons leef in gevaarlike tye.”

“Wat byt jou?” Rebecca gaan sit op ’n gemakstoel voor die venster en kyk na die laatmiddagverkeer in Kloofstraat.

“Niks byt my nie, maar ek raak die hel in as jy maak asof jy niks aan iemand verskuldig is nie. Ek wil nie oor jou wakker lê nie.”

“Jy hoef nie oor my wakker te lê nie. Goeie goed vergaan nie sommer nie.”

“Moenie ligsinnig wees nie!”

Rebecca draai haar om sodat sy Irene kan sien. “Ek wil nie hê julle moet so bekommerd oor my wees nie. Dit laat my skuldig voel.”

“Mense wat vir mekaar omgee, is oor mekaar bekommerd. Dis ’n bleddie feit van die lewe. Daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Al wat ek vra is dat jy ons net nie meer bekommerd moet maak as wat ons in elk geval is nie.” Irene se stem versag effens.

Rebecca draai sonder ’n woord weer terug venster toe. Duiwelspiek lyk vandag vaal en ver in die dynserigheid. Hier bo teen die berg voel die lug effens skoner, maar die stad is al ’n paar dae lank toe onder ’n bruin lugbesoedelingskombers. Oorkant die winkel sit mense op die stoep van ’n klein restaurantjie. Lang glase bier word tam gelig. ’n Bus kom proesend die steil bult uitgesukkel en ’n paar minibus-taxi’s oortree binne ’n paar honderd meter ’n hele paar verkeersreëls. Dis soos ’n tafereel uit ’n film wat voor haar afspeel. En al is sy nog maar net twee maande terug, kan sy reeds weer die stad op haar tong proe. Iets hieraan is huis.

“O, amper vergeet ek. Hier het vanmiddag ’n man gebel wat sê jy moet hom dringend kontak. Hy was eintlik op soek na jou selfoonnommer en was baie verbaas om te hoor jy het nie een nie.”

“Wie was dit?” Rebecca bly sit met haar rug na Irene.

“Stephen Walters. Ek het die nommer neergeskryf. Ken jy hom?”

“Ek weet van hom. Hy is een van die visepresidente by Hoffmans.”

Irene kom agter die klein toonbank uit. “Is dit goeie nuus?” wil sy gretig weet.

“Ek weet nie.”

“Is jy orraait?” Irene se kop sak laer asof sy Rebecca beter wil sien.

“Wat laat jou dink ek is nie orraait nie?” skerm Rebecca en staan op. “Waar is daai nommer?”

“Dis daar op die toonbank. Die nota met die groot NB in rooi.”

Rebecca stap agter die toonbank in. “Kan ek jou telefoon leen?” Daar kom lê ’n onverwagte holte in haar maag. So asof sy haar vuis regdeur haarself sal kan druk.

Irene knik. “Jy weet jy mag soms kla?”

Rebecca gee ’n helder laggie. “As ek iets het om oor te kla, sal julle dit hoor.”

Sy begin die nommer skakel en toe ’n meisie antwoord, gee sy haar naam en vra om met Stephen Walters te praat.

“A, juffrou Fagan! Ek het gehoop jou vriendin gee vir jou die boodskap. Dis nogal moeilik om jou in die hande te kry.”

Rebecca antwoord hom nie en hy gee ’n kuggie. “Ek wil hoor of jy môreoggend agtuur psigometriese toetse kan kom aflê. Al die kandidate moet dit doen.”

“Al die kandidate vir wat?” Sy trek sirkels op die nota met Irene se rooi pen.

“Jy het aansoek gedoen vir ’n pos by doktor Hoffman se kantoor.”

Rebecca antwoord nie dadelik nie. “O ja. Ek het eintlik al daarvan vergeet. Hoe laat sê jy?”

“Agtuur.”

“Ek sal in my dagboek moet kyk.” Sy frommel ’n paar bladsye op die toonbank.

“Dis baie kort kennisgewing.” Sy begin sag neurie asof sy diep moet dink. “Goed, ek sal my ander afsprake probeer skuif.”

“Dankie. Iemand by ontvangs sal vir jou wys waarheen jy moet gaan.”

“Ek sal daar wees,” groet sy.

“Waar moet jy wees? Wat wil hy hê?” Irene staan skielik voor Rebecca en laasgenoemde lag.

“Al die kandidate vir die pos moet môreoggend psigometriese toetse aflê.” Rebecca strek haar arms soos ’n tevrede kat bo haar kop.

“En jy sê vir die man jy het iets anders aan! Is jy van jou sinne af?”

Rebecca glimlag. “Dit was sommer ’n oomblik se kinderagtigheid.”

“Wat gaan jy aantrek?”

“Aangesien hulle my nou al in ’n kortbroek gesien het …”

Irene begin tussen die klere op die rakke rondsoek. “Hier êrens was ’n pragtige rok.”

“Ek wil hulle nie te veel beïndruk nie.” Rebecca gaan sit weer op die stoel voor die venster.

“Soos jy met die man gepraat het, behoort jy op jou knieë daar in te loop.”

“Hoe het ek met hom gepraat?”

“Jy noem hom sommer ‘jy’ en ‘jou’. Weet jy daar bestaan ’n woord soos ‘u’?”

“Ek kan nie help dat ek in Engels skoolgegaan het en nie daai woord geleer het nie,” spot Rebecca, maar toe sy Irene se gesig sien, sug sy. “Dis net ’n aanspreekvorm, Irene. Ek bedoel dit nie oneerbiedig nie.”

“A, hier is dit,” ignoreer Irene Rebecca se woorde terwyl sy ’n groen moulose rok ophou. “Dis jammer die rok het nie ’n baadjie by nie, maar selfs daarsonder sal jy baie professioneel lyk.”

Rebecca bekyk die regaf rok wantrouig. “Ek sal ’n broek verkies. Met ’n rok sal ek te veel moet konsentreer om mooi te sit.”

“Jy kan nie met ’n verdomde jean gaan nie!” Irene hou die rok na Rebecca uit. “Gaan pas dit aan.”

Soos Irene voorspel het, pas die rok soos ’n handskoen en sy staar ’n paar oomblikke stil na Rebecca. “’n Mens vergeet soms hoe mooi jy werklik is.”

“Dit was nog nooit ’n groot begeerte van my om mooi te wees nie.” Rebecca draai in die rondte voor die spieël.

“Miskien pas die woord ‘mooi’ ook nie regtig by jou nie. Kom ons sê maar liewer jy is besonders.”

“Besonders wat?” wil Rebecca fronsend weet.

“Besonder eiesinnig,” terg Irene.

“Dis ’n baie mooi rok, maar ek gaan dit nie dra nie,” besluit Rebecca en begin ook dadelik die ritssluiter lostrek. “As ek my vir die geleentheid opdress, gaan ek nie myself kan wees nie.”

“Dis dalk waarom ek graag wil hê jy moet die rok aantrek,” laat Irene droog hoor, en Rebecca lag hees vanagter die afskorting.

“Hierdie is nie die tyd om koppig te wees nie,” raas Irene toe Rebecca agter die gordyn uitkom.

“Ontspan, Irene. Ek sal nie in vodde gaan nie.”

“Ek is bly ek hoef nie elke dag onderhoude te doen nie.” Julian staan op waar hy langs die konferensietafel sit en rol sy skouers agtertoe.

“Het jy enige iemand gesien wat jou beïndruk het?” Stephen skink vir homself ’n glas water en skuif agteroor in die stoel.

“Hulle het almal baie goed in die toetse gevaar en almal is vreeslik ywerig en baie intens en vol teorieë en gretig om te beïndruk.”

“Ek dink die jong man wat tweede hier was, is die beste kandidaat,” onderbreek Martin Vorster se stem hulle. “Hy is akademies baie sterk en kom met uitstekende verwysings van sy huidige werkgewer.”

“Wat van die meisie wat nou twee jaar in Singapoer gewerk het? Sy het self goeie verwysings en sy het bietjie meer ondervinding van die korporatiewe omgewing as hy.” Stephen kyk na Julian wat intussen voor die venster gaan staan het.

“En sy is nog mooi ook,” antwoord Julian met ’n knik.

“Ek het nie vandag my tyd gemors om vir jou ’n speelmaat te soek nie, Julian.” Martin Vorster het ’n strengheid in sy stem.

Julian en Stephen kyk vlugtig na mekaar en om albei se monde huiwer ’n glimlag.

“Jy kan ook na haar kyk, Martin. Ek sal nie suinig wees nie.”

Martin staan haastig op. “Ek gaan kleedkamer toe. Hoe laat kom die laaste kandidaat?”

“Vyfuur,” antwoord Stephen.

Al drie mans kyk op hulle horlosies.

“As sy laat is, gaan ek loop,” laat Julian grimmig hoor toe Martin uit die vertrek is. “Ek weet nie waarom ons vir haar moet wag nie. Sy is die een wat verleë is.”

“Sy sê sy het ander afsprake ook en aangesien sy reeds gisteroggend s’n op kort kennisgewing moes verskuif, is hierdie die enigste tyd wat sy beskikbaar het.”

“Twak!” Julian skink vir hom ook water en drink die glas in een asemteug leeg.

Op daardie oomblik kom Martin die vertrek binne en die ander twee word stil. Na ’n paar minute kyk al drie weer op hulle horlosies en Julian lyk verlig toe die telefoon op die sytafel begin lui.

Stephen antwoord en dan hou hy die gehoorstuk na Julian uit. “Dis Angela.”

“Angela, ek is nog besig by die kantoor,” laat Julian effens bruusk hoor.

Sy sê iets en hy knik. “Hmm … dit klink lekker. Ek het egter nog ’n onderhoud met iemand. Ek sal jou bel as ek hier wegry.” Hy klink vriendeliker.

Julian het net die gehoorstuk neergesit, toe daar ’n ligte kloppie aan die deur is en Anèl binnekom, gevolg deur Rebecca.

Stephen stap nader en steek sy hand uit, terwyl Julian op sy horlosie kyk. Stiptelik vyfuur. Hy het ’n vae gevoel dat sy dit met opset so beplan het.

“Juffrou Fagan, ek is Stephen Walters.” Rebecca skud sy hand en toe hy na Julian beduie, knik sy gemaklik. “Julle twee het al ontmoet,” voeg Stephen ietwat oorbodig by.

Julian steek sy hand uit en sy neem dit woordeloos voordat sy na Martin draai en wag dat Stephen hulle bekendstel.

Dan word sy na ’n stoel langs die konferensietafel beduie, terwyl die ander drie oorkant haar plaasneem. Sy het verwag dat Julian Hoffman in die middel gaan sit en die vrae vra, maar tot haar verbasing sit hy twee stoele van Martin Vorster af, asof hy ’n toeskouer is.

“Dankie dat u gekom het. Sal u omgee as ek sommer dadelik met die vrae begin?” val die ouer man effens kortaf weg. “Ons het reeds die uitslae van die toetse ontvang, maar ons wil u graag self ’n paar vrae vra.”

Rebecca luister stil. Sy knik nie eens haar kop nie.

Martin maak keel skoon en kyk na die papier voor hom op die tafel. “Vertel ons asseblief wat u gedoen het nadat u afgestudeer het.”

“Ek het vir twee jaar in die buiteland getoer en gewerk.”

“Kan u vir ons die name gee van die maatskappye waar u werksaam was?”

Rebecca glimlag vlugtig. “Ek het druiwe in Frankryk gepluk, in Italië op ’n olyfplaas gewerk, en ek was ’n kelner in Duitsland.”

Martin kyk oor sy leesbril na haar. Daar vorm ’n frons tussen sy wenkbroue. “Wat dink u behels die pligte van ’n persoonlike assistent?” gaan hy voort toe sy nie verder uitbrei nie.

“Ek dink dit hang af van die behoeftes van die werkgewer.”

“Kan jy meer spesifiek wees?”

Rebecca is bly die formele “u” het weggeval. “Nee.”

“Hoe beplan jy dan om uitvoering aan die pligte te gee, as jy nie weet wat dit behels nie?” Martin se mond vorm ’n streng lyn en sy stem is staccato.

“Meneer Vorster, ek is seker jy weet ook nie wat die pos behels nie. Dis ’n tipe pos wat oor tyd ontwikkel en nie noodwendig met ’n voorafpligtestaat kom nie.”

Hierdie keer kyk hy effens langer oor sy bril na haar. “Wat dink jy is jou sterkste eienskappe en wat is jou swakste?”

Rebecca se blik wil-wil na die ander twee mans draai, maar sy keer haarself met ’n ysere wil. “Ek het heelwat sterk eienskappe, maar dié wat hier van toepassing is, is waarskynlik my vermoë om hard te werk en my eerlikheid.” Sy huiwer ’n oomblik voordat sy verder praat. “My swakste eienskap is seker my ongeduld. Hetsy met myself of met ander.”

“Dis pos behels nie vaste kantoorure nie. Gaan dit vir u ’n probleem wees?” Die “u” is terug.

“Ek is bewus daarvan en dit sal nie ’n probleem wees nie.” Sy is seker teen hierdie tyd weet hulle sy is nie getroud nie.

“Watse salaris en byvoordele verwag u?”

Rebecca noem die bedrag wat sy die eerste dag vir Julian ook genoem het. Die man voor haar frons nou openlik, maar sy ignoreer dit. “Daarby verwag ek mediese en pensioenvoordele en ’n maatskappymotor.” Sy wag vir kommentaar, maar tot haar verbasing is al drie mans ’n oomblik stil en dan is dit Martin wat voortgaan.

“Sal u enigsins gekompromitteer voel om saam met doktor Hoffman te reis en vir lang tye weg van die huis te wees?”

Rebecca swig byna voor die behoefte om haar blik te verskuif, maar sy dwing haarself om na die vraesteller te bly kyk. “Nee, dit sal nie vir my ’n probleem wees nie.”

“Waarom, sal u sê, is u die beste kandidaat vir die pos?”

“Ek het nie ambisie om in die maatskappy bevorder te word nie, derhalwe kan ek op die werk fokus.”

Martin maak die lêer voor hom toe en haal stadig sy bril af. “Is daar enige vrae wat u vir ons wil vra?”

“Was daar in die verlede probleme wanneer vroulike werknemers saam met doktor Hoffman op reis was?” Sy sorg dat haar stem nie haar glimlag verraai nie en sy hou haar blik op Martin.

’n Oomblik is daar stilte en dan antwoord Martin skerp: “Nee, juffrou. Daar was beslis nog nooit probleme nie.”

Rebecca knik stemmig en toe hy vra of daar ander vrae is, skud sy haar kop.

Martin kom orent. “Dankie dat u gekom het, u sal binne die volgende paar dae van ons hoor.”

Rebecca staan saam met die ander twee mans op en steek haar hand na Martin Vorster uit. Dan kyk sy vir die eerste keer na Stephen Walters en sy is verras toe sy tekens van ’n glimlag in sy oë gewaar. Sy knik vir hom toe hy haar hand neem.

“Ek is bly ons het ontmoet, juffrou Fagan.”

Sy steek haar hand na Julian Hoffman uit en knik weer formeel. “Doktor Hoffman.”

Sy hand sluit byna pynlik om hare en sy moet haarself keer om nie uit te roep nie. “Totsiens, juffrou Fagan.”

Rebecca trek stadig haar hand uit syne en wag tot sy uit die vertrek is voordat sy onderlangs swets en haar hand vryf.

Toe die deur agter haar toegaan, sak al drie mans terug op hulle stoele en ’n oomblik lank hang daar ’n stilte tussen hulle.

“Ek dink ons kan die laaste kandidaat se naam met sekerte van die lys skrap.” Martin begin sy bril se lense met ’n spierwit sakdoek poets.

“Op grond waarvan?” Dis Stephen wat vra.

“Ek weet in die eerste instansie nie hoe sy enigsins op die lys gekom het nie,” ignoreer Martin die vraag.

“Ek dink sy het kwaliteite wat die ander nie het nie,” sê Stephen met oortuiging. “Ek stem saam dat sy nie die ander se ondervinding het nie, maar ek dink sy is intelligent genoeg om vinnig te leer.”

“Moenie jou deur ’n mooi gesig laat beïnvloed nie, Stephen,” laat Martin ongeduldig hoor. “Ek is in elk geval nie oortuig dis ’n goeie plan om ’n vrou in hierdie pos aan te stel nie.”

“Jy moet hoop niemand hoor jou nou nie, Martin.” Stephen glimlag spottend. “Die president het nou die dag te velde getrek omdat daar nog maatskappye in die land is waar die vrouens nie gelyke kanse op aanstelling en bevordering het nie.”

“Ek weet dis die era van gelyke regte, maar sommige poste is net eenvoudig nie vir vrouens bedoel nie.”

“Wat wil jy sê, Martin?” Stephen kyk hom fronsend aan.

“Dink aan die komplikasies as sy op hom verlief sou raak. En dit sal nie die eerste keer wees dat so iets gebeur nie.”

“Is dit ’n kompliment?” Daar is ’n spotlaggie om Julian se mond.

“Ek is bly jy vind dit amusant, Julian.” Martin se stem is skerp. Soos wanneer mens ’n kind aanspreek.

“As dit ons uitgangspunt is, behoort ons geen vrouens aan te stel nie.” Daar is ongeduld in Julian se stem. “Jy behoort dadelik jou sekretaresse met ’n man te vervang.”

Martin maak ’n gebaar met sy hand asof hy ’n lastige vlieg wegwaai.

“Jy het nog baie min gesê, Julian. Laat ons hoor wat jy dink; jy het nou almal gesien.” Stephen kyk afwagtend na Julian.

Hy rek homself uit. “Hulle sal waarskynlik almal die werk kan doen.”

“Wil jy hê ons moet nog verder soek?” wil Martin weet terwyl hy op sy horlosie kyk.

Julian skud sy kop. “Ek dink nie dis nodig nie. Julle het julle huiswerk goed gedoen. Laat ek net vannag hieroor dink.”

Martin staan op. “In daardie geval sal julle my seker verskoon. Ek het nog ’n afspraak.”

Julian en Stephen knik, maar bly sit toe Martin die deur agter hom toetrek. Daar heers ’n gemaklike stilte in die vertrek.

“Ek wonder waarom hy destyds besluit het om aan te bly na my pa se dood. Dis nie asof hy enige lojaliteit teenoor my het nie.” Julian staar na die toe deur.

“Hy is lojaal teenoor die maatskappy en ek vermoed op ’n verdraaide manier voel hy effens verantwoordelik vir jou. Asof hy dink jou pa sou van hom verwag het om na jou te kyk.”

Julian se wenkbroue lig spottend. “Ek sal graag wil hoor hoe jy tot daardie gevolgtrekking gekom het.”

“Jy het voor hom grootgeword en hy was baie lief vir jou pa.”

“As dit so is, sou ek juis verwag het hy moet my ondersteun.”

“Ek dink hy is namens die ander hard op jou sodat jy op jou tone moet bly.” Stephen stap na die kroegie teen die oorkantste muur en skink vir elkeen van hulle ’n bietjie whiskey in. Die ysblokkies rinkel ongewoon hard in die stil vertrek.

“Los nou eers vir Martin en sy idiosinkrasieë. Laat ek hoor wat jy rêrig van die groepie slimmes gedink het. Jy is nie ’n man wat gewoonlik eers oor ’n besluit moet slaap nie en ek het ’n vermoede jy weet presies wie jy wil aanstel. Ek sal graag wil weet waarom jy huiwer.”

“As jy dan so baie weet, sê jy vir my wie is my eerste keuse.”

“Juffrou Fagan.”

Julian neem ’n sluk whiskey voordat hy glimlaggend vra: “Wat laat jou so dink?”

“Hulle almal is slim, maar sy is loshande die brightste en interessantste. Sy werk nie volgens handboeke nie, maar ek het ’n vermoede sy kry dinge gedoen en sy is nie ’n naprater nie.”

“Ek sou dink ’n werkgewer behoort haar juis daarom nie te oorweeg nie.” Julian se wenkbrou trek omhoog terwyl hy sy glas in die rondte draai.

“Maar jy is nie enige werkgewer nie,” spot Stephen. “Jy raak gou verveeld met mense wat net jou gedagtes en woorde eggo.”

“Daar is grense aan alles en ek het ’n vermoede juffrou Fagan ken nie juis die grense nie. Sy is dalk net te eiewys vir so ’n pos.”

“Jy sal nie weet voordat jy haar nie ’n kans gegee het nie.”

Julian kyk skerp na die man oorkant hom. “Waarom is jy haar kampvegter?”

Stephen dink ’n oomblik voor hy praat. “Ek hou van haar guts.” Hy lag skielik. “Net die feit dat sy daardie vraag gevra het, wys my sy is nie die bang tipe nie.”

“Net die feit dat sy daardie vraag gevra het, laat my wonder wat sy nog alles kan doen,” laat Julian fronsend hoor. “Sy het dit met opset gedoen.”

Stephen lag weer. “Sê dit nie genoeg nie? Nie een van die ander sou dit gewaag het nie.”

“Ek het nie mense nodig wat elke dag my gesag uitdaag nie.”

“Goed, skrap haar dan van die lys. Wie was jou tweede keuse?”

Julian staan op en druk met sy handpalms op die lang tafel. “Laat Martin haar môre bel en sê sy word vir ’n proeftydperk van drie maande aangestel. Sy moet volgende Maandag, die tweede, begin.”

“Dis baie kort kennisgewing.” Op die vinnige besluitsverandering lewer Stephen geen kommentaar nie.

“As sy so graag die werk wil hê, moet sy maar ’n plan maak. Ek is nie lus vir ’n welsynsgeval nie. Sy het ’n groot mond, letterlik en figuurlik, en is vol selfvertroue. Laat ons sien of daar substansie in haar beloftes is.”

“Iets sê vir my jy gaan nie jammer wees as sy nie die mas opkom nie.” Stephen kyk met vernoude oë na sy jare lange vriend.

“Ek sal haar dieselfde kans gee as wat ek die ander sou gegee het.”

“Hm … ek wonder,” praat Stephen onderlangs terwyl hy sy notas bymekaar begin maak.

“Sy het nie jou simpatie nodig nie, Stephen. Alles wat ons van haar weet, dui daarop dat sy vir haarself kan sorg.” Julian lig sy hand in ’n groet. “Sê groete vir my suster.”

“Ek wonder of sy kan sing?” peins Stephen toe hy opstaan. “Met daardie hees stem sal sy ’n man aan die huil kan sing.”

“Jou vrou en kind wag by die huis, Stephen.” Julian verdwyn om die kosyn.

Rebecca

Подняться наверх