Читать книгу Dubbelspel - Wilna Adriaanse - Страница 10

Hoofstuk 7

Оглавление

Hoofweg in Seepunt is besig. As kind het hulle dikwels Sondae hierheen gekom. Hulle het roomys gekoop en op die promenade gestap. Haar pa het nooit oor geld gepraat nie, maar sy het instinktief geweet mense wat hier woon, het meer geld as hulle. Deesdae is dit vir haar ’n plek met twee verskillende gesigte. Die voorkant wat see toe kyk, lyk steeds duur en eksklusief. ’n Straat hoër op is jy nie seker of jy reg gekyk het nie. ’n Paar ou bekende bakens is steeds daar, maar die gesigte op straat het verander. Die kind in jou sê vir jou dié met die see-uitsig is die goeie mense, die hardwerkendes, en die agterstrate behoort aan die minder goeie mense. Die mense wat hulle besigheid in die donker bedryf. Maar niks is meer so eenvoudig nie. Sy is nie eers meer seker dit wás ooit so eenvoudig nie. Kinders vind allerhande kortpaaie om sin uit ’n deurmekaar wêreld te maak, en dis hartseer wanneer jy die dag jou kortpaaie begin bevraagteken. Dit is waarskynlik wat grootword beteken.

Ellie kry parkering voor ’n restaurant, haal twee note en ’n paar munte uit haar beursie, druk dit saam met haar selfoon in haar broeksak. Sy sluit haar skouersak in die kattebak toe en begin stap. Weg van die stad af.

Op een of twee straathoeke sien sy ’n paar prostitute. Met die eerste oogopslag lyk dit of hulle vir ’n bus wag – dis eers as ’n mens hulle ’n rukkie dophou dat jy die lyftaal sien. Toe sy naby kom, sien sy die dik grimering. Die een se swart sykous is geleer.

“Het een van julle vir Brenda gesien?”

Die groepie kyk na mekaar. “En jy is?”

“Haar suster.”

Twee lag hardop. “Nice try.”

“Komaan, ek het nie heeldag tyd nie.”

“Ek ken nie vir Brenda nie.” Die een met die rooiste mond kyk na die ander, maar hulle skud ook hul koppe.

Ellie haal ’n honderdrandnoot uit haar broeksak.

“Oe, jy meen miss Fassie … plaas jy sê. Hierdie tyd van die dag is sy seker nog daar onder, besig om te eet.”

“Waar?”

“By die Griek. Hy het ’n bleeding heart. Gee vir haar kos.”

Ellie draai terug en begin in die teenoorgestelde rigting stap. Sy is ’n entjie van die hoek af toe sy vir Brenda gewaar. Sy dra ’n kort swart romp, goue blinkleer-sandale en ’n mooi swart-en-groen toppie. Brenda het nog altyd beter as die res aangetrek. Die oomblik toe sy Ellie gewaar, swaai sy weg, maar Ellie draf nader en val langs haar in.

“Komaan, Brenda, jy skuld my.”

“Dis die problem met julle. ’n Mens kry net nooit klaar betaal nie. Wat wil jy hê?”

“Enige interessante mense gesien?”

Brenda bly stap. “Is alle mans nie interessant nie?” Sy rek haar oë.

Ellie moet glimlag. “Dis ook weer waar.”

“Ek het niks gehoor nie. Of niks nuut nie. Same old, same old.”

“Jy is ’n ou hand, Brenda. Die manne praat graag met jou.”

“Ja, maar die meeste van die tyd is dit kakpraatjies. Dis nie asof hulle vir my van al hulle business vertel nie. Dis eintlik maar net as hulle dit nie opkry nie, dat hulle oor die geld en die contacts brag. Jy weet mos hoe’s mans.”

“Wat van die vreemde girls? Ken jy van hulle?”

“Hulle koek meesal saam, maar hier en daar is een wat soms gesels soek. Voel seker ook maar vreemd. Veral die Russians. En die local girls like hulle net niks. Die manne soek daai grou oë, en hulle kan net ‘yes’ sê.”

“Wat sê hulle as hulle praat?”

Brenda se wenkbroue lig. “Dink jy nou rêrig hulle sal in volsinne kan vertel what’s going on where? Die shit gaan dalk voor hulle aan, en hulle sal nie weet wat dit is nie. Hulle weet niks van die context nie.”

“Maar jy verstaan die konteks baie goed. En dis waarom ek jou vra … Enigiets sal help.”

Hulle stop by ’n verkeerslig, en wag saam met die ander voetgangers dat die lig groen slaan. “Ek sal luister, maar ek promise niks.”

“Dankie.” Ellie haal ’n tweehonderdrandnoot uit haar sak en druk dit in Brenda se hand.

“Jy moenie meer so kom rondvra hier nie. Die girls raak senuweeagtig en as hulle die pimps vertel, kan dit dangerous raak. Gee my jou cell.”

Ellie gee haar selfoon en Brenda druk ’n paar knoppies. “Bel my by dié number as jy my soek, maar moenie ’n oorlas wees nie.”

“Dankie.”

Ellie bly staan en kyk die ander meisie agterna. ’n Skraal, regop figuur. Eintlik te mooi en slim vir die strate. Haar voorgeslagte se uiteenlopende bloedlyne sorg vir ’n interessante gesig. Fyn neus, intelligente oë. ’n Vol mond met hoeke wat oplig, asof sy altyd glimlag. ’n Vel soos ryk melksjokolade.

Toe Ellie ’n jaar gelede met hulle eerste ontmoeting vir haar vra waarom sy op straat is, het sy haar skouers opgehaal. “My ma het my geleer ’n mens bedel nie. Dit maak nie saak watse job jy doen nie … solank jy dit goed doen, en nie bedel nie.”

“Maar jy kan …”

“Wat? Wat dink jy kan ek doen? Ek het nie eers grade ten klaargemaak nie.”

“Is jy nie bang nie?”

“Life is full of risks. As jy dit nie weet nie, is jy in die verkeerde job.”

“Hoe oud is jy?”

“Hoe oud wil jy hê ek moet wees?”

Ellie het haar kop geskud. “Ek is nie een van jou kliënte nie.”

“So êrens tussen twenty-five en thirty-five. As ek my ma kan glo.”

Terwyl Ellie haar nou agterna kyk, kry sy dieselfde gewaarwording as destyds. Haar lyf kan dalk dertig wees, maar haar oë is baie ouer.

“Ek is nie ’n kind wat moet opgepas word nie.” Haar ma staan met haar hande in haar sye. Haar hare is nie meer so netjies soos die vorige dag met die begrafnis nie. Ellie het die laaste tyd dikwels haar pa voor ou foto’s van hulle sien staan. Haar ma, mooi aangetrek, laggend. Goed versorg. Êrens deur die jare het haar gladde vel sy glans verloor en haar oë het moeg begin lyk. Haar mond het al minder gelag.

“Ek moet weet dat Ma nie onverskillig sal wees nie.” Terwyl Ellie dit sê, wil sy lag vir die absurditeit daarvan. Wat beteken die woord “onverskillig” vir haar ma? Die volwassene in haar weet haar ma het nie ’n keuse nie, maar die kind wil hê haar ma moet kan kies. Hoe moeilik kan dit wees om te besluit om vandag nie te drink nie? Rika McKenna kan maklik genoeg vir kos nee sê.

“Wil jy voor die Here met my oor onverskillig wees praat?” Haar ma se hande fladder tussen hulle. “Met my, wat nagte nie geweet het of hy lewe of dood is nie! Wat hom gesoebat het om nie gevaarlike goed te doen nie – en het hy hom daaraan gesteur? En toe gaan jy en sluit willens en wetens aan. Asof jy nie van beter weet nie.” Sy lag kortaf. “Spaar my asseblief jou preke.” Sy wys na haar kop. “Ek is tot hier toe gatvol vir julle twee.”

“Dit help nie Ma raak vir my kwaad nie.”

Haar ma draai weg en stap kamer toe. Ellie hoor hoe die deur toeklap en toe sy agterna loop, is die kamerdeur gesluit.

“Ma, sluit oop die deur.”

“Dis my huis, en my kamer, en ek is nie vanaand lus vir jou nie.”

“Ek sal weer môre ’n draai kom maak.”

“Moenie moeite doen nie.”

Ellie staan ’n oomblik met haar voorkop teen die toe deur, voor sy omdraai, die voordeur agter haar sluit en motor toe loop. Toe sy uit die erf ry, stuur sy ’n vae gebed die lug in.

Sy en haar ma is soos die twee poppe sonder hulle buikspreker. Dit voel of die stilte tussen hulle met verloop van dae al wyer span.

In die koerant het daar gestaan:

Kolonel John McKenna, ervare speurder met ’n suksesvolle diensloopbaan van langer as vyf-en-dertig jaar, is gisteraand omstreeks 19h00 by ’n padblokkade buite Kraaifontein noodlottig gewond toe daar uit ’n voertuig geskiet is. Hy is op die toneel oorlede.

Een ander polisiebeampte is ook gewond, maar is buite gevaar nadat ’n operasie laat gisteraand op hom uitgevoer is om ’n koeël uit sy lae rug te verwyder.

Die motor waaruit daar geskiet is, is ’n uur na die skietery in Guguletu opgespoor. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.

John McKenna het in sy loopbaan twee keer ’n medalje vir uitsonderlike diens ontvang. Teen druktyd was daar nog geen kommentaar van sy familie nie. Die kollegas met wie die koerant gepraat het, het almal groot lof vir McKenna uitgespreek.

Hulle word nie meer so gemaak nie, het ’n oudkollega gesê.

Hy het darem binne-in die koerant ’n naam gekry. Die familie het egter nou nog nie kommentaar gelewer nie en gaan ook nie. Wat dink hulle moet ’n mens sê?

Albert is in die kombuis toe sy by sy woonstel in Oakdale kom. Hy het KFC gekoop en is besig om dit op ’n bord uit te pak. Sy is nie honger nie, maar tog verlang sy na ’n kombuis met geure. Haar ma kon nogal lekker kook, kan seker steeds, maar hoe minder sy begin eet het, hoe minder moeite het sy met kos gedoen.

Albert kook nie en die meeste van die tyd lê die dag se pos op sy stoof.

Hy glimlag toe hy haar sien, trek haar tot in die kring van sy arms en soen haar. Kreun en trek sy vingers deur haar hare. “Donner, ek het jou gemis. Ek is skielik nie eers meer so honger nie.”

Sy tree terug en gaan sit langs die tafel. Hy skink vir haar ’n glas whiskey met ys, en sy draai dit in die rondte sodat die ysblokkies teen die glas rinkel.

“Waar is jou tas?”

“Ek het nie nog tyd gehad om eers huis toe te gaan nie. En in elk geval wil ek vanaand by my huis gaan slaap.”

“Daar is nie ’n kans dat jy vanaand huis toe gaan nie. Ek het toevallig vandag ’n nuwe tandeborsel gekoop.” Hy kom sit ook by die kombuistafel, skuif die hoender nader en gee vir haar ’n bord en eetgerei.

Sy drink stadig aan die whiskey. Instinktief op soek na die ondertone wat haar pa haar leer proe het. Die groen Ierse gort wat in gasoonde gedroog word. Die subtiele smaak van bourbon en oloroso-sjerrie, afkomstig van die ou vate waarin dit verouder word. Die blomme en vrugte, die vanielje en die fudge. Jy kon hom in die middel van die nag wakker maak met ’n glasie, en hy sou nie nee sê nie. Hy het altyd gesê dis waarom hy nie ’n drankprobleem het nie, hy is te lief vir whiskey en kan homself nie ’n lewe daarsonder voorstel nie.

“Is jy in ’n kak bui, of net moeg?”

“Wat dink jy?”

Hy leun oor en soen haar in die nek. “Ek weet hoe om jou weer te laat smile.”

Ellie neem ’n hoenderboudjie en begin daaraan eet. “Het jy al iets oor my pa uitgevind? Wie is in charge? Het jy vir hulle gesê hulle moet na sy sake gaan kyk?”

Hy gooi sy hande in die lug. “Hokaai, kan ons net gou ’n bietjie reverse? Ons het mekaar omtrent ’n week laas ordentlik gesien. En nou kom jy hier aan, jou gesig een donderwolk, en maak asof ek een van jou street contacts is.” Hy klap sy vingers voor haar oë. “Kyk vir my.” Hy wag tot sy opkyk. “Ek verstaan van jou pa, en ek weet dis nie maklik nie, maar ek is nie deel óf die oorsaak van jou probleme nie. So, ek gee nie om as jy nie jouself is nie, maar moenie maak of ek ’n verlangse kennis is nie.”

“Ek het jou gesê vanaand is nie ’n goeie aand nie.” Sy sak terug teen die rugleuning en eet die hoenderboudjie klaar, maar skud haar kop toe hy vir haar nog ’n stukkie wil inskep.

“Maar jy is nou hier, so ons kan net sowel die beste hiervan maak.”

Toe sy hom nie antwoord nie, wil hy weet hoe dit met haar ma gaan.

Ellie trek haar skouers op en druk twee aartappelskyfies in haar mond. “Beneuk, dwars, koppig, jammer vir haarself. Wat’s nuut?”

“Jy moet pasop dat sy jou nie hostage hou nie. Ek kan onthou hoe dit met my pa was. Almal se lewens draai later om hulle en hulle drank.” Sy hoor die skerp klank in sy stem. Dis altyd daar wanneer hy oor sy pa praat.

“Dis nie asof ek net kan wegstap en haar aan haar eie genade oorlaat nie.”

“Dis nie wat ek sê nie, maar stel vir jouself grense. Sy moet weet sy het ook ’n verantwoordelikheid.”

Ellie glimlag stram. “Ek het nooit geweet jy wil eintlik ’n berader wees nie.”

Hy glimlag, daardie maklike glimlag wat haar van die begin af aangetrek het, staan op en trek haar regop uit die stoel.

“As jy kan grappe maak, kan jy ander dinge ook doen.” Hy begin haar hemp oopknoop, terwyl hy haar in die rigting van die slaapkamer stuur. Sy hande sak tot op haar heupe, hy soen haar in die nek.

“Kyk waar jy loop. Ek is nie lus dat my kop ’n deurkosyn tref nie.”

“Hou op moan.”

Toe sy langs hom op die bed lê, voel sy tog iets in haar roer. Sedert die aand toe Ahmed met die nuus oor haar pa by haar huis opgedaag het, het dit gevoel of haar senuweepunte verlam was. Daardie dooie gevoel soos na ’n tandarts jou ingespuit het. Dit voel steeds of sy nie behoorlik kan proe of ruik nie. Selfs haar tassin voel dof. Daarom is sy verlig en selfs dankbaar oor die klein vlammetjie.

Sy vingers voel warm teen haar lyf. Die koue wat sy in die kerk gevoel het, het nog nie gewyk nie. Ongeag hoeveel klere sy aantrek. Die koue lê diep.

Sy begin sy hemp losknoop en toe hy haar soen, skuif sy alle ander gedagtes weg. Miskien kan sy vir ’n rukkie vergeet en haar verbeel haar pa sit op sy stoel voor die televisie, besig om sokker te kyk.

Dubbelspel

Подняться наверх