Читать книгу Dubbelspel - Wilna Adriaanse - Страница 11

Hoofstuk 8

Оглавление

“Waaroor het jy en Zondi vandag gestry?” Ellie kom uit die badkamer met ’n handdoek om haar lyf gedraai. Haar vel nog effe klam van die warm stort. Albert sit-lê teen die kussings op die bed.

“Sjeez, kan jy my nie eers kans gee dat my brein weer aanskakel nie!”

Sy begin aantrek.

“Wil jy nou rêrig hierdie tyd van die nag huis toe ry?”

“Ja. Ek het goed wat ek môre moet doen.”

Hy staan op, trek die denim aan wat op die vloer lê. “Ek gaan skink solank vir ons iets om te drink.”

Toe sy in die sitkamer kom, sit hy met ’n koffiebeker in die hand. Op die koffietafel staan nog ’n beker.

“Dit moet ernstig wees.”

“Ek het vir Zondi ’n tip gaan gee. Sy het haar gat gewip, my beskuldig ek wil vir haar haar job leer.”

“Watse tip?”

“Ek dink sy sal dalk self met jou daaroor praat.”

“Waarom vertel jy my nie sommer nie?”

Hy vryf oor sy gesig en neem ’n sluk koffie. “Ek het soort van vir Ahmed belowe ek sal nie met jou daaroor praat nie.”

“Gaan dit oor my pa?”

“Nee.”

“Maar jy wil my vertel, so doen dit maar.”

“Daar is op die oomblik ’n geleentheid om iemand in Allegretti se huis te kry.”

Ellie sit die beker op die koffietafel neer en vou haar bene onder haar in. “Wat bedoel jy, iemand in Allegretti se huis kry?”

“Weet jy wie is Allegretti se nuwe girlfriend?”

Sy skud haar kop.

“Wat de hel doen jy en Barnard met julle tyd?”

“Wil jy werklik ’n antwoord hê?” Sy begin opstaan.

“Shit, maar jy is liggeraak. Ek bedoel net hierdie is die soort inligting wat julle moet weet. Allegretti het al ’n maand of twee ’n affair met Nazeem Williams se aangetroude susterskind. Clara Veldman. Hy wil hê sy moet by hom intrek, maar Williams wil niks weet nie. Op die ou end het hy gesê sy kan intrek op een voorwaarde: hy stuur sy eie sekuriteit saam om na haar te kyk.”

“Hoe weet jy dit?”

Hy vryf weer oor sy gesig. “Williams het my vertel.”

Sy tel die koffiebeker op, blaas daarin, maar sit dit weer op die koffietafel neer sonder om daarvan te drink.

“Van wanneer af ken jy vir Williams?”

“Jy weet so goed soos ek ons elkeen doen wat ons moet doen. Ek het toevallig ’n ruk gelede vir Williams ontmoet. Ons was met ’n saak besig, en hy het ons gehelp. Ek het die gap gesien, en hom ’n maand later gewaarsku oor ’n padblokkade.”

“En nou vertrou hy jou in sy binnekamer?”

“Daar was nog ’n tip-off of twee daarna …”

“En Ahmed weet hiervan?”

“Ja, hy weet.”

“Waarom wil hy nie hê jy moet my vertel nie?”

“Hy is ’n control freak en hy dink vandat jou pa dood is, moet hy nou pa speel.”

“Jy het nou net gesê dit was een of twee tip-offs … waarvoor is hy bang?”

“Dalk het ek gelieg.”

Ellie vou haar arms. “Hoe diep is jy?”

“Redelik diep.”

“Het Ahmed rede om bekommerd te wees?”

“Ek werk al jare lank my gat af. Elke saak wat ek gedoen het, het ek my alles gegee. Ek sit en wag nie vir breaks nie. Ek gaan soek hulle. En skielik op ’n dag kry ek so ’n break. Wat sou jy gedoen het? So ’n kans kom nie sommer weer verby nie, en ek gaan dit vat, en niemand gaan my keer nie. Jy weet hoe dit is, almal skyt in hulle broeke as hulle dit hoor, maar die dag as die saak breek en die squad kom met die groot kanonne uitgestap, en gooi hulle agter in die vangwa, dan is dit net fokken smiles en almal beweer dit was hulle plan.”

“Wat laat jou dink ek gaan dit nie vir hom vertel nie?”

Albert se gesig raak ongekend ernstig. “Ek sou jou nie vertel het as ek gedink het jy gaan praat nie.” Hy kom sit langs haar op die bank. “Want as jy wil, is hierdie ook vir jou ’n break.”

“Is dit waarom jy by Zondi was?”

“Ja.”

“Waarom voel sy jy wil haar haar job leer?”

“Ek het gesê ek dink jy is die regte een om in te stuur. Sy het haar gewip en gesê sy sal self besluit.”

“En Ahmed weet ook jy wil hê ek moet ingaan?”

“Ja, en het omtrent sy broek natgemaak, maar ek dink jy verdien ’n break. Veral na jou pa se ding.”

Toe sy hom nie antwoord nie, neem hy haar hand in syne. “Hierdie is ons kans, babes. Almal ontken dit, maar jy weet tot nou toe was jy maar net jou pa se dogter. Almal het gewag om te sien of jy so goed soos die ou man gaan wees. Wel, hierna kan jy hulle almal in hulle moer stuur.”

“Doen my ’n guns, en moenie by my kom met cheap selling nie. Los my pa uit die prentjie.”

“Beteken dit jy sal dit doen?”

“Dis nie wat ek gesê het nie. Ek wil eers alles hoor.”

“Ek was op die regte tyd op die regte plek. ’n Ou wat my soms met inligting help, het my eendag vertel Williams-hulle het ’n huis gehuur vir ’n vrag perlemoen wat op pad was. Ek het dit deurgegee, maar ook die oggend voor die raid vir die ou laat weet hy moet Williams waarsku, en sê ek stuur die boodskap. Na die tyd het Williams dankie laat weet, en gevra of daar iets is wat ék wil hê. Ek het hom ’n afskrif van my paycheck gestuur. Die volgende dag was daar ’n koevert met geld deur my posgleuf gegooi.”

“Hoeveel?”

“Vyfduisend.”

“Wat het jy daarmee gedoen?”

“Jissis, Mac, wat dink jy?”

“Waarom dink jy Williams sal my huur? Een telefoonoproep, en hy weet vir wie ek werk.”

“Uiteraard sal jy moet bedank. Op papier, in elk geval. En hy vertrou my. As ek sê ek het iemand wat hy kan vertrou, sal hy my glo. Dis nie asof iemand meer vandag ’n oog knip as ’n cop bedank nie.”

“En dan?”

“Ek het klaar ’n bietjie huiswerk gedoen. Die maklikste gaan wees om ’n klein dummy-sekuriteitsmaatskappy te skep. Jy word daar aangestel. Ek gee die naam vir Williams, en sê ek kan hulle aanbeveel, en hy moet hoor of jy beskikbaar is.”

“Ek glo nie dit sal so maklik wees nie. Een of twee tip-offs van ’n polisieman beteken nog nie hy gaan saam met jou in die bed klim nie.”

“Ek het nie gesê dit gaan so maklik wees nie. Maar ek dink dis die moeite werd om die kans te vat. Kom dit af, is dit great; indien nie, verloor niemand iets nie. Ek is seker hy gaan jou deur ’n paar hoops laat spring, maar ek glo jy kan dit doen, anders sou ek jou nie voorgestel het nie. Jy het baie goeie mensekennis en jy het jou pa se instink gekry.”

“Hoe dringend is dit?”

“Baie dringend. Allegretti gee sy girlfriend ’n harde tyd omdat sy nie by hom intrek nie, en sy is op haar oom se case. En as ons te lank draai, kry Williams dalk iemand anders. Ek het hom intussen laat weet ek dink ek het net die regte persoon vir hom.”

“Dit klink my julle twee is meer as net kennisse.”

Albert trek sy skouers op. “Ek het selfs so ver gegaan om vir Zondi van ’n kantoor in Darlingstraat te sê. Die huurders moes dringend uit. Dis beskikbaar, met meubels en al. Sodra jy up and running is, is die kantoor eintlik nie nodig nie, maar dis altyd ’n goeie front.”

“Wat as Williams wil weet waar die ander personeel is?”

“Dis maklik. ’n Paar polisiebeamptes word gemerk om as security te double as dit moet. Ons sorg dat ’n paar ouens met security uniforms nou en dan ’n draai daar maak, maar dis nie werklik nodig nie. Moenie jou kop oor daai detail breek nie. Dis maklik om uit te werk. Jy het tog al gesien hoe dit gedoen word.”

“En as ek nie kans sien nie?

“Ek is seker Zondi gaan nie hierdie kans laat verbygaan nie. Sy het dringend iets nodig om julle bietjie beter te laat lyk. As jy nie kans sien nie, gaan sy net iemand anders soek. En soos ek gesê het, dit sal jammer wees om so ’n break vir iemand anders op ’n skinkbord aan te bied.”

Sy vra hom nie waarom hy haar nog nie vantevore vertel het dat hy al so diep by Williams betrokke is nie. Albei het van die begin af geweet daar gaan dinge wees waaroor hulle nie kan praat nie.

“Wat dink Williams gaan Allegretti met die meisie doen?”

“Dis nie soseer wat Allegretti gaan doen nie. Aan die een kant vermoed ek hy wil net Allegretti se gat krap. Aan die ander kant dink ek hy is genuine bekommerd. Dalk nie soseer oor wat Allegretti aan haar kan doen nie, maar dat sy collateral damage kan word tussen Allegretti en van sy vyande.”

“Nou wil hy iemand van sy keuse saamstuur om haar op te pas.”

“Ja, en haar motor te bestuur. Hy sê sy kan nie bestuur om haar lewe te red nie. En om hom te laat weet as daar dalk moeilikheid is.”

“Waarom sal Allegretti dit toelaat?”

Albert glimlag en sit agteroor op die stoel, sy arms wyd gestrek. “Allegretti soek daai girl met ’n seer hart en hy weet as Williams wil, kan hy haar laat wegraak, en hy sien haar nie weer nie.”

“Sal hy haar doodmaak?”

“Ek praat nie van doodmaak nie. Hy kan haar eenvoudig vir ’n tyd laat verdwyn.”

“Ek wil alles hê wat jy van Williams en Allegretti weet. En ek bedoel, álles.” Sy staan op en hy volg haar voordeur toe. Toe hy haar by die motor wil soen, tree sy agtertoe. “Jy weet hoe sukkel ek en Clive om inligting oor daardie klomp in die hande te kry, waarom het jy ons nie gehelp nie?”

“Ek het nie hiervoor gaan soek nie, en dis nie inligting wat ’n mens met ’n hele kantoor deel nie. Ons sal die een of ander tyd die drade bymekaar trek, maar vir eers is dit nie vir almal se ore en oë nie. En dit help dat vars oë na ’n ding kyk.”

Hy druk haar met sy lyf teen die motor vas, sit sy hande op haar heupe en soen haar. “Kom terug bed toe.”

“ ’n Ander aand. Jy het my nou te veel gegee om oor te dink.”

Sy kyk in haar truspieëltjie toe sy wegtrek. Dis nie die eerste keer dat sy só na hom kyk wanneer sy van hom af wegry nie. Ook nie die eerste keer dat sy oor hulle twee wonder nie. Soos met die vorige kere is dit egter vanaand ook net te veel moeite om lank te wonder. Die keer of twee wat hulle oor hulle verhouding gepraat het, was sy opmerking elke keer iets soos “moenie krap waar dit nie jeuk nie”.

Die N1 is stil en toe sy die stad inry, is selfs die laatnag-bedelaars nêrens te sien nie. Hierdie tyd van die nag is hulle die hopies onder die kartonne, en koerante. Op winkelstoepe, in inhamme, onder brûe.

Sy haal diep asem toe sy haar huisie se deur oopstoot. Haar pa het haar gehelp om die klein huisie so skuins tussen Tafelberg en Duiwelspiek te koop toe sy by die kliniek in die stad begin werk het. Hy het haar nooit gevra waarom sy nie nader aan die huis wou woon nie. Selfs nadat sy by die kliniek weg is, en elke dag Bellville toe moes ry, het hy nie gevra nie.

Aan die begin het die verkeer van die groot verbypad net bo die huis haar gepla, maar nou hoor sy dit skaars.

Die plan was om eendag die plek mooi in te rig, niks luuks nie, net hier en daar darem iets wat lyk asof sy ’n bietjie moeite gedoen het. Maar nou, op haar polisiesalaris, sal die mooigoed eers moet wag. In die grootste slaapkamer het sy darem ’n nuwe dubbelbed, twee onpas bedkassies, en ’n laaikas wat sy by ’n tweedehandse meubelwinkel opgespoor het. Die kleiner slaapkamer het ’n enkelbed en ’n lessenaar in. Die lessenaar is netjies, al lê daar gewoonlik ’n hele klomp lêers en dokumente waaraan sy werk.

In die sitkamer is ’n groot rusbank, ook afkomstig van ’n tweedehandse meubelwinkel, en twee gemakstoele wat sy by ’n kollega gekoop het toe sy vrou dit wou uitgooi. Die mure is kaal behalwe vir twee geraamde plakkate. Die een was ’n geskenk van haar kollegas by die kliniek toe sy daar weg is.

We are what we pretend to be, so we must be careful about what we pretend to be. Kurt Vonnegut.

Sy skop haar skoene uit, laat val haar klere sommer op die vloer en trek haar warm slaapklere aan. ’n Paar minute later trek sy die duvet ook oor haar. Sy draai op haar sy en krul haarself in ’n bondel. Die gesuis van die snelweg bo die huis is stil. Net nou en dan hoor sy ’n voertuig verbydreun. Sy luister na die geluid tot dit wegraak. En dan spits sy haar ore vir ’n volgende een. Dis een manier om haar gedagtes hok te slaan en die stemme in haar kop uit te doof.

“Jy is nie meer hier om vir my te sê wat ek moet of nié moet doen nie,” praat sy na ’n ruk die donkerte in. En dan trek sy die duvet tot teen haar ken, terwyl sy probeer om verby die benoudheid asem te haal.

Haar ma het haar nooit vergewe omdat sy ook by die polisie aangesluit het nie, al het sy van kleins af gesê dis wat sy eendag wil word. Haar pa het aande lank met haar daaroor gepraat, seker gemaak sy doen dit om die regte redes. In haar keuring is sy gevra waarom sy wou aansluit. Sy moes al die regte redes en antwoorde gegee het, want sy is gekeur.

Die eintlike rede is egter baie eenvoudiger as wat sy op enige vorm ingevul het, of in enige onderhoud verklaar het. As kind het sy geglo as sy net eendag ook by die polisie kan werk, sal sy kan help keer dat haar pa iets oorkom. Oor sommige spoke kry jy beheer soos jy ouer word, die res leer jy om weg te steek omdat jy bang is die wêreld verstaan nie.

Dubbelspel

Подняться наверх