Читать книгу Dubbelspel - Wilna Adriaanse - Страница 4
Hoofstuk 1
ОглавлениеDinsdagoggend 24 September 2013.
“Mac, wat maak jy hier?”
Luitenant Ellie McKenna van die polisie se misdaadintelligensie-afdeling lig haarself effens uit die stoel waar sy agter in die vertrek sit. “Ek wil help.”
Die vertrek raak stil. Hier en daar kug iemand.
Brigadier Ibrahim Ahmed, hoof van die polisie se eenheid vir ernstige ekonomiese misdaad in die Kaap, skud sy kop. “Bad idea, Mac. En jy behoort dit te weet.”
“Kaptein Greyling het gesê ek kan …”
“Dis nie sy call om te maak nie.” Hy kyk in die vertrek rond. “Waar ís hy?”
“Hy het laat weet daar was ’n ongeluk op die pad, die verkeer staan stil, maar hy is op pad,” antwoord een van die ander.
“Mac, gaan huis toe. Jou ma het jou nou nodig.” Ahmed kyk oor sy leesbril se rand na haar. Onder sy oë hang sakke wat ’n week of twee gelede nie so prominent was nie, dink Ellie. Vir ’n man digby sestig lyk hy eintlik goed. Sy swart hare toon nog geen grys nie. Sommige spot agter sy rug en sê hy kleur sy hare. Hy is ’n netjiese man. Regop. Trots. Hy is lank en skraal en sy het al gehoor die manne wat saam met hom werk sê hy is nog besonder fiks vir ’n man wat deesdae sy dae grootliks agter ’n lessenaar deurbring.
“Dit is my pa. Hoe sal brigadier voel as dit een van jou mense was?” Sy staan nou regop, en die vertrek word nog stiller.
“Seker net soos jy, maar ek hoop ek het die verstand om na goeie raad te luister.”
“Dit was nie ’n random skietery nie en as ek toegang tot sy files kan kry, sal ek dit bewys.”
“Ons is nog nie seker wat dit was nie, en daarom wil ek jou nou uit die vertrek hê sodat ons ons werk kan doen.”
“Ek sê vir brigadier ek kan help. Ek weet wie almal dalk betrokke kon wees.”
Hy skud weer sy kop. “It’s not gonna happen. En ek gaan myself nie herhaal nie.”
“Ek het ’n reg om te weet.”
“En sodra ons iemand aangekeer het, sal jy weet. Tot dan soek ek jou nie naby hierdie case nie. Verstaan jy my?”
Ellie sien hoe die ander se oë heen en weer draai asof hulle na ’n tenniswedstryd kyk. “Ek sal in niemand se pad wees nie, maar ek is goed in my job en ek weet waar om te soek.”
“Mac, as jy jouself nie nóú verskoon nie, bel ek jou bevelvoerder en sê jy interfere met ’n saak. En as sy nie jou mind kan change nie, laat sluit ek jou persoonlik toe tot ons klaar is met die saak. Moenie dink ek sal dit nie doen nie.”
Sy tel haar skouersak op en stap deur toe.
“En as ek hoor jy het met enigiemand gepraat, sal ek sorg dat jou badge gevat word.”
Sy maak die deur oop, maar kyk nog ’n slag om. “Net vir die rekord, ek dink dis ’n kak besluit.” Sy trek die deur agter haar hard op knip.
Buite haal sy ’n paar keer diep asem voor sy in haar motor klim en die enjin aanskakel. Onwillekeurig soek sy na sy voertuig tussen die ander, maar sy parkeerplek is leeg.
Dis waarom sy nie meer wil slaap nie. Elke oggend is daar ’n tydjie waarin jy jouself wysmaak dit was net ’n nagmerrie, voor die werklikheid in al sy verskrikking voor jou kom staan. Dis soos om elke oggend ’n roof af te trek.
Sy sien nie kans om al terug na haar ouers se huis in Goodwood te ry nie, en het ook nie lus vir haar huis nie. Nadat sy ’n entjie gery het, bel sy vir Melissa.
“Waar is jy?”
“In Tygervallei. Wat’s fout?”
“Kan ons koffie drink?”
“Ja, waar sal ek jou kry? Mugg and Bean?”
“Nee, êrens stiller.” Hulle spreek af waar Melissa vir haar sal wag.
Sy en Melissa Calitz is vriende vandat Melissa en haar familie in 1994 in die woonbuurt ingetrek het. Hulle twee was veertien jaar oud, en sedertdien loop hulle paaie saam. Saam matriek geskryf, daarna albei sielkunde op Stellenbosch gaan swot. Kamermaats in die koshuis. Saam hulle honneursgrade gedoen. Keuring gekry vir hulle meestersgrade. Ellie in kliniese sielkunde en Melissa in voorligtingsielkunde. ’n Huis gedeel, en met twee vriende begin uitgaan. Antonie Calitz en Chris Moolman. Melissa en Antonie is vandag getroud. Antonie is ’n internis in Durbanville. Chris het hulle verlowing drie maande voor die troue verbreek. Dit was ses jaar gelede. Sy was ses en twintig jaar oud. Hy is ’n ingenieur en sy loop hom nou en dan in ’n winkel raak. Die laaste keer was hy saam met sy nuwe verloofde.
Ellie sien hoe Melissa frons en haar mond effens oopgaan toe sy by die restaurant inkom.
“Wat de hel het jy met jou hare aangevang?” wil Melissa weet toe Ellie oorkant haar by die tafel inskuif.
“Ek het dit donker gekleur.”
“Dit kan ek sien. Ek verstaan net nie waarom nie.”
“Jy kleur jóú hare.”
Melissa skud haar kop. “Jy kan ons nie vergelyk nie. Ek het muisvaal hare. Dis ’n blêddie sonde om jou hare te kleur. Ek het altyd gedink jy hou daarvan dat jy jou pa se pragtige bos rooiblonde hare geërf het.”
Ellie neem een van die pakkies suiker uit die houertjie in die middel van die tafel en draai dit heen en weer.
“Ek wil hom nie sien elke keer wanneer ek in ’n spieël kyk nie.”
Melissa neem Ellie se hand oor die tafel. “Sweetie, donker hare gaan nie help nie. Jy lyk soos hy. Ligte oë, beenstruktuur, wye mond … die hele lot. Wat gaan jy dáármee maak?”
Ellie trek haar skouers op. “Ek moes êrens begin en ’n pakkie haarkleur was die goedkoopste.”
“Waarom loop jy hier rond? Ek dog jy is by jou ma,” wil Melissa weet.
Die kelner kom nader en hulle bestel ’n koppie filterkoffie en ’n cappuccino.
“My tante het haar geneem om haar hare te laat knip. Ek was kantoor toe.”
“Om wat daar te maak?”
Ellie haal ’n sakkie suiker uit die houertjie in die middel van die tafel en speel daarmee tussen haar vingers. “Ek het my hulp gaan aanbied. Hulle wil my nie hoor nie, maar dit was nie ’n terloopse aanval nie.”
“Bedoel jy iemand wou hom doelbewus doodskiet?”
“Nee, nie noodwendig nie, maar dit was nie sommer net die een of ander low-life wat aan die skiet gegaan het nie. Dit was een van die misdaadsindikate en dit is waarom hulle my moet toelaat om te help. Ek ken almal wat in die Kaap werk, en die meeste wat in die land is.”
Hulle koffie kom en Ellie gooi twee sakkies suiker in hare. Roer dit ingedagte om. “Ahmed het my huis toe gestuur, gesê hy soek my nie naby die saak nie.”
“Ek stem met hom saam. Jy kan nie hierby betrokke raak nie.”
“Dit was my pá. Hy sou dit vir mý gedoen het.” Ellie sit die teelepel met ’n slag in haar piering neer.
Melissa neem weer haar hand oor die tafel. “Sweetie, jou pa is nog nie eers begrawe nie. Gee jouself darem kans om net eers weer behoorlik asem te haal voordat jy wil help om die skuldiges te soek.”
“Weet jy in watse chaos is ons intelligensie op die oomblik? En die mense wat nog vasbyt en hulle bes probeer doen, is moer toe gewerk. As ek nie help nie, weet ek nie wie kan help nie.”
“Ek hoor jou, maar jy moet vertrou dat daar genoeg mense is wat hierdie saak sal wil oplos. Nou is die tyd om ’n bietjie weg te staan.”
Ellie beduie vir die kelner om vir haar nog ’n koppie koffie te bring.
“Op enige gegewe dag van die week is daar ongeveer vyfhonderd misdaadsindikate in die land aan die werk,” gaan Ellie voort asof sy Melissa nie gehoor het nie. “Baie mense dink elkeen is besig met sy eie shit, maar dis ’n inmekaargekoekte nes en ’n mens moet kophou om agter te kom wat aangaan. Ek doen al vier jaar lank hierdie job. As iemand weet waar om te gaan soek, is dit ek.”
“Begrawe eers jou pa. Ek is seker niemand gaan jou keer as jy daarná wil help nie.” Melissa sit terug in haar stoel. “Hoe gaan dit met jou ma?”
Ellie trek haar skouers op. “Sy praat nie eintlik met my nie.”
“Ek sal julle môre kom oplaai.”
“Dankie, maar dis te veel van ’n draai. Ek sal jou by die kerk sien.”
“Is alles gereël of kan ek vir jou iets doen?”
“Ek weet nie eintlik nie. Iemand het gebel en gevra hoeveel mense verwag ons, want die gemeente sorg na die diens vir toebroodjies en tee. Asof ek nou weet hoeveel mense gaan opdaag, dis nie asof ons kaartjies verkoop het nie.”
“Hulle wil maar net by benadering weet.”
“Ek wonder of ek môre my ma daar gaan kry.” Ellie tik-tik met die teelepel teen haar piering. “Miskien moet ek ook sommer net wegbly. Dis nie asof hy sal weet ek is nie daar nie.”
“Het jy iets om te drink?”
“Die dokter het vir my ma ’n paar pille gegee. Dalk steel ek een of twee.” Sy kyk op haar horlosie, haal geld uit haar beursie en sit dit op die tafel neer.
“Dankie vir die gesels.”
Melissa staan ook op en gee Ellie ’n druk. “Bel as jy my nodig het. Of as jy wil hê ek moet na jou toe kom.”
Ellie knik net en soen haar op die wang.
Ellie is in die bed toe Albert net na nege die aand bel. Toe sy by Melissa weg is, het sy stadig terug Goodwood toe gery, en was bly dat haar ma nog nie by die huis was nie. Sy het egter nie kans gesien om in die huis in te gaan nie, en het buite op die stoep bly sit. Douglas, haar pa se ag jaar oue Irish terrier, het by haar voete kom lê. Haar ma het later teruggekom, maar is dadelik kamer toe, en toe Ellie vroegaand gaan vra of sy wil kom eet, het sy nie geantwoord nie.
“Ek hoor jy en Ahmed het vandag ’n scrap opgetel. Wat het jy daar gaan maak?” vra Albert.
“Jy het belowe ek kan help.”
“Ek het nie gesê jy kan gaan insit by die meetings nie. Ook nie dat jy Ahmed die moer in kan maak nie.”
“Wat moes ek dan doen?”
“Ek het gesê ek sal eers met Ahmed praat. Ek weet hoe om hom te handle.”
Ellie sug. “Ek het nie nou tyd vir speletjies nie. My pa is dood en julle verwag ek moet eenkant sit en toekyk hoe julle dalk in die verkeerde rigting soek terwyl die spoor al kouer word? Think again.”
“Jy laat klink dit asof ons ’n klomp fools is wat nie ons eie gatkante kan kry nie.”
“Jy weet dis nie wat ek gesê het nie. Wat my die donner in maak, is dat ek weet as dit jou of Ahmed se mense was, sou julle nou voor in die koor gewees het en niemand sou julle gekeer het nie.”
“Eerstens, as dit my pa was, sou ek dalk die ou ’n beloning aangebied het, en tweedens weet jy dis proper procedure. Dis soos om ’n dokter toe te laat om op sy vrou of kinders te opereer, Mac. Die kanse vir ’n fokop is net te groot.”
“Praat in elk geval met Ahmed.”
“Ek sal sien wat ek kan doen. Luister, ek gaan my bes doen om môre daar te wees, maar daar is ’n moontlikheid dat ons ’n break in ’n saak gaan kry, en dan sal ons vinnig moet move.”
“Maak maar soos jy kan.”
“Is jy OK?”
Ellie kyk na die kamer se plafon waar die straatlig patroontjies gooi. “Ja, ek is OK.”
Dit raak ’n oomblik stil tussen hulle voor Albert weer praat.
“Het jy gehoor van die skietery laas nag by een van Alexei Barkov se huise in Milnerton? Die plek is moer toe geskiet. Twee dood. Die tak se ouens wat eerste op die toneel was het ’n prostituut in die bad gekry. Toe die skietery begin, het sy blykbaar daar gaan wegkruip. Dit het waarskynlik haar lewe gered.”
“Het julle enige leidrade?” Ellie is bly hy het die onderwerp verander. Hulle twee was nog nooit goed met diep stories nie.
“Wat dink jy? Mense is mos deesdae met blindheid geslaan, veral in ’n buurt soos daai. Niemand sien ooit iets nie.”
“Dis eintlik ’n wonder dat dit nou eers gebeur het. Hier is ’n paar ouens wat glad nie happy is dat Barkov sy besigheid Kaap toe uitgebrei het nie.”
“Ek weet, en ek wens hulle het liewer vir Barkov persoonlik getarget, dan was ons vanaand ten minste van een ontslae.”
Hulle praat nog ’n rukkie oor die skietery en toe dit weer stil raak tussen hulle, sê sy nag.
Sy het Albert Greyling ses maande nadat Chris hulle verlowing verbreek het, ontmoet. Hy het saam met haar pa aan ’n saak gewerk. Sy vermoed aan die begin was sy sommer net gevlei omdat hy aan haar aandag gegee het. Hy is ’n aantreklike man. Windverwaaide blonde hare. Netjiese lyf.
Chris was soos sy. Georden, lief vir lysies. Betroubaar. Met hom was daar nooit drama nie. Sy ouers is twee stil mense wat Sondae kerk toe gegaan het, en saans stil langs mekaar gelê en lees het. Die teenpool van hoe dit soms in haar huis gegaan het. Dit was soos ’n oase. Sy het altyd geweet hoe hy sal reageer. Daar was geen verrassings nie. Sy kon haar en Chris saam sien oud word. Sy was bereid om eendag saam met hom kinders te hê. En toe besluit hy die risiko is dalk net te groot. Sy word dalk haar ma. Wat kon sy sê? Hoe belowe ’n mens iemand jy sal nie jou ma word nie? Terwyl jy sélf daagliks met daardie vrees saamleef.
Albert het nie omgegee wie en wat haar ma is nie. Hy het chaos in ’n huis geken. Drama het hom nie afgeskrik nie. Vandag weet sy onder die oënskynlike gemaklikheid skuil ’n komplekse, onvoorspelbare mens. En tog is dit op ’n manier steeds maklik. Hy sal soms spot en sê dalk moet sy by hom intrek, maar sy vermoed dis meer om haar te toets as iets anders. Hy hou nog van sy onafhanklikheid, selfs op vier-en-dertig. Hy is die oudste kind uit ’n ingewikkelde familie. Sy pa was ’n alkoholis en die hele gesin het dikwels onder sy vuiste deurgeloop. Albei sy ouers is ’n paar jaar gelede dood. Sy ma eerste en toe sy pa. Nóg hy nóg sy twee broers was blykbaar by die pa se begrafnis nie. Op die oog af lyk dit of hy daardie spoke begrawe het. Sy maklike glimlag skep die indruk dat hy die grootste deel van die tyd gelukkig is. Dis net wanneer ’n mens hom goed ken, dat jy agterkom sekere duiwels laat hulle nie so maklik begrawe nie.
Háár ouers het ’n intense huwelik gehad. En al weet ’n kind eintlik nooit werklik hoe haar ouers se binnekamer lyk nie, is sy seker dat wanneer hulle liefde gemaak het, dit met passie en oorgawe was, net soos wanneer hulle oor dinge verskil het.
Haar pa was vier-en-twintig toe hy vir sy neef in Suid-Afrika kom kuier het, en een aand by ’n dansplek die jong Rika raakgesien het. En so verlief geraak het dat hy nie eers terug is huis toe nie, maar net vir sy ouers ’n brief gestuur het.
Ellie vermoed êrens in haar tienerjare het sy bang geraak vir so ’n byna verterende emosie.
Verhoudings is nie skoene nie, dit moet nooit te gemaklik wees nie, het John McKenna graag gesê. Nie tussen vriende of geliefdes nie. Love should be complicated. Uitdagend.
Sy is steeds nie oortuig van daardie siening nie. Op ’n manier ís Albert seker ’n groter uitdaging as Chris, maar aan die ander kant is dit ook maklik, want hulle twee vra eintlik baie min van mekaar.
Haar pa en Albert het nie baie goed oor die weg gekom nie. Nie een van hulle het ooit iets daaroor gesê nie, maar sy het geweet. Sy het altyd gedink sy sal eendag haar pa vra, en nou is dit te laat. Ook vir al die ander vrae wat sy hom nog eendag wou vra.
Sy haal haar rekenaar uit en klim daarmee terug in die bed. Êrens moet iets wees wat haar op die spoor kan bring.
Sy maak vyf lêers oop, verklein dit dat al vyf op haar skerm pas. Alexei Barkov. Vyf-en-veertigjarige Rus. Enzio Allegretti. Die aantreklikste van hulle almal en op ses-en-dertig is hy baie gewild onder die vroue. Yuang Mang. Die klein Chinees en die tweede oudste van die vyf. Volgens sy amptelike dokumentasie is hy vyf-en-vyftig jaar oud. Die Nigeriër Jonathan Abua is ag-en-veertig en Nazeem Williams vier-en-sestig. Almal is om verskeie redes berug. Sy is reeds agtien maande lank besig om spesifiek hulle vyf te ondersoek.
’n Gedagte tref haar skielik. Wat as die skietery op haar pa iets met haar ondersoek te doen het? Hoendervleis slaan op haar vel uit en sy voel naar.