Читать книгу Dubbelspel - Wilna Adriaanse - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Nick Malherbe haal sy bagasie uit die kattebak, betaal die taxibestuurder en stap met sy tasse tot by die woonstel. Die sleutel is soos afgespreek by die deurwag. Toe hy die ruim portaal binnestap, dink hy weer aan die eerste keer wat hy in dié luukse woonstel in Bantrybaai was. Hy kon nie help om te wonder wat sy oorlede ma van soveel luuksheid sou sê nie. Sy het hom en sy broer graag teen klatergoud gewaarsku. Ook teen slegte meisies en sterk drank. En teen die duiwel se listigheid. Hulle het nie ál die vermanings ter harte geneem nie.

Hy sit sy bagasie in die hoofslaapkamer neer en skuif die deure na die balkon oop. Die seelug spoel die woonstel binne. Bring die reuk saam. Die laatmiddagson blink op die water, weerkaats ligspikkels.

Daar lê ’n lang pad tussen daardie dag en nou. Twee jaar gelede kon hy nie droom hy sal vandag hier wees nie. Hy is oud genoeg, en lank genoeg in die job om te weet jy bereik nie naastenby alles wat jy aanvanklik beplan het nie. Sy eerste baas het egter altyd gesê jy het net misluk die dag as jy ophou probeer. Hulle jong ouens het agter sy rug gelag wanneer hy dit sê. Toe was hulle honger nog groot, hulle selfvertroue onblusbaar. Met die jare kry die selfvertroue knocks. Die arrogansie word getemper. Op ’n dag kom jy agter jy troos jouself met die klein oorwinnings en met die feit dat jy ten minste nog probeer. Dis nie dat die honger stiller is nie. Jy verstaan net jou eie en die stelsel se beperkinge soveel beter.

Die yskas en vrieskas is vol gepak. Nick moet onthou om vir die huishoudster te sê hy het haar nie elke dag nodig nie. Hy het haar eintlik glad nie nodig nie, maar hy weet teen hierdie tyd om dit nie te sê nie. Dit veroorsaak net te veel vrae. Mense soos die Allegretti’s verstaan nie dat ’n mens jou eie bed kan opmaak en skottelgoed kan was nie.

Terwyl hy sy klere uitpak, is hy dankbaar dis nie ’n hotelkamer nie. Hy het ruimte nodig, al is dit net een of twee ander vertrekke waarheen hy kan loop. Daar is min dinge so vreesaanjaend soos om in die nag in jou eie gedagtes vas te loop.

Toe hy klaar uitgepak het, wens hy hy kan eers gaan draf. Hy het die laaste twee dae nie tyd gehad om selfs ’n halfuur lank te oefen nie, en hy voel styf en ongemaklik. Vir ’n man wat hom sy lewe lank nie te ernstig aan oefening gesteur het nie en net die nodige gedoen het om fiks te bly, verbaas hy homself deesdae. Hy is op ag-en-dertig fikser as wat hy in ’n lang tyd was. Maar op die oomblik is dit waarskynlik óf oefening óf drank óf dalk meisies. Van die drie is oefening nie noodwendig die lekkerste keuse nie, maar sekerlik die veiligste.

’n Uur later stop hy ’n paar blokke hoër op teen die berg, gee sy naam en wag dat die sekuriteitswag by die hek huis toe skakel. Sy blik gaan oor die enorme huis, die muur, elektriese drade bo-op die muur. Onwillekeurig soek hy na swak plekke. Hy ry deur toe die hek oopswaai en parkeer die Range Rover voor die groot motorhuisdeure. Hy onthou hoe Enzio Allegretti gespog het dat hy dié huis teen die berg in Bantrybaai teen ’n winskoop gekry het. Net ag-en-veertig miljoen rand. En enige sente.

Hy druk die knoppie langs die deur, en wag ’n paar sekondes voor ’n stem antwoord.

“Patrice, it’s Nick.”

Daar is ’n kliekgeluid en hy stap die portaal binne. Druk die hysbak se knoppie, die deure gly oop en hy stap in. Die hele binnekant is vol spieëls. Hy staar na sy beeld. Onder die helder ligte slaan die grys baie duideliker deur sy donker hare. Hy vee oor sy kortgeknipte kop. Die ligte laat hom moeg lyk, en dan is dit asof die letsel langs sy oog effens meer rem. Die enigste pluspunt op hierdie oggend is dat dit lyk of hy ’n kilogram of drie afgeskud het.

Na ’n minuut of wat gly die deure weer oop, en hy kan nie help om soos die vorige keer ’n oomblik stil te staan nie. ’n Reusevertrek strek links van hom uit. Skoon reguit lyne. Ligte marmervloere, dak-tot-vloer-vensters wat kan wegvou sodat die vertrek saamsmelt met die groot patiostoep waar die swembad oor die rand van die erf glip. ’n Onbelemmerde uitsig oor die Atlantiese Oseaan. Gemakstoele en rusbanke is bymekaar gegroepeer om verskillende kuierareas te vorm. Die meeste daarvan is in skakerings van wit oorgetrek, met hier en daar ’n fletskleur. Teen die agterste muur is ’n kroegtoonbank. Agter teen die muur is groot spieëls met rakke waarop rye drankbottels uitgestal word. Dis één van die dinge van dié mense wat hy vreemd vind. Hulle liefde vir spieëls. Uit hoeveel hoeke wil ’n mens jouself sien? En hoeveel keer op ’n dag wil jy na jouself kyk?

“Nick, my man!” Enzio Allegretti kom haastig nadergestap. “Wat de donner maak jy in die Kaap, en hoekom het jy my nie laat weet jy kom nie? Ek kon jou op die lughawe laat haal het.”

“Ek was nie seker van my vlugtyd nie. Ek het sommer ’n taxi gekry. En gelukkig was die Range Rover by die woonstel.”

“Dis ’n verrassing.” Hy kyk oor Nick se skouer. “Moenie vir my sê die ou man is ook hier nie.”

“Nee, ek is alleen.”

Hy neem Nick aan die arm en stap met hom dieper die vertrek in. “In daai geval is jy baie welkom. Ek het nou net vir my iets geskink om te drink.” Hulle stap tot by die lang kroegtoonbank, en Allegretti stap agterom. “Wat sal dit wees?”

“ ’n Bier.”

“Nee, bliksem, man, kyk wat het ek alles hier.” Hy beduie na die bottels teen die muur.

“Ek sien jy is goed gestock, maar ’n bier sal nou goed afgaan.”

In die spieël teen die muur sien Nick hoe ’n man agter hom instap, en hy draai om, steek sy hand uit.

“Patrice, how are you?”

“Very well, sir.”

“Tell him that you like CapeTown.”

“I like Cape Town, sir.”

“Tell him it’s much better than Zimbabwe.”

Patrice raak aan sy kop. “Zimbabwe is not that bad, sir. It’s just bad at the moment, but maybe one day it will be nice again.”

Allegretti skud sy kop. “Don’t hold your breath, my boy. That place is fucked.”

Patrice kyk na Nick. “Do you have luggage, sir?”

“Thanks, Patrice, but I’m staying at the apartment.”

Patrice knik voor hy stilweg weer die vertrek verlaat.

“Hoe lank bly jy?” vra Allegretti.

Nick sien die effense frons tussen die man se oë. So vlugtig dat hy hom dit dalk verbeel het. Hy neem ’n sluk bier terwyl Allegretti oorkant die kroegtoonbank gaan sit.

“Ek is nog nie seker nie.”

“Die ou man het jou gestuur.”

“Hy is bekommerd oor die insident verlede week.”

“Ek het hom gesê dit was niks wat ek nie kan handle nie. Watse stories het hy nou weer gehoor?”

“Dis nie stories nie. Daar is op jou motor geskiet.”

Die selfoon op die toonbank lui. Allegretti tel dit op en antwoord.

“Whatsup? No, I am busy. I’ll call you back.” Hy sit die selfoon terug op die toonbank. “Ons het nie bewyse dat ek die teiken was nie. Dit kon net ’n gewone hijack-poging gewees het.”

“Of nie. Wat weet jy van die skietery by Barkov se huis? Was jy betrokke? Het die twee voorvalle iets met mekaar te doen? Was dit jou manier om hom terug te kry?”

“Ek was nie verantwoordelik vir die skietery by Barkov se huis nie.” Hy kyk verby Nick. “En in elk geval, as hulle my wíl bykom, dink jy nou werklik jy sal hulle kan keer?”

Die telefoon lui weer, maar hierdie keer antwoord Allegretti nie, druk dit net dood.

“Nee, maar jou pa wil homself nie later verwyt nie. Ek is hier om weer ’n slag na jou sekuriteit te kyk en seker te maak julle is nie onnodig roekeloos nie.”

“Weet my pa ek is ses-en-dertig jaar oud?” Sy stem styg en hy skink weer sy glas vol. “Dit pis my so af as hy my soos ’n kind behandel.”

Nick hou sy hande omhoog. “Don’t kill the messenger.”

“As jy wou, kon jy hom oortuig het ek is oud genoeg om my eie battles te fight. Here, hoe ouer hy raak hoe meer paranoïes raak hy.”

“Dan is daar ook nog die ander saak.”

“Watse saak?”

“Nazeem Williams se susterskind. Van álle meisies wat jy in die Kaap kon kry. Was dit nou nodig?”

Allegretti klap sy glas van die toonbank af en dit spat in skerwe op die vloer. Patrice verskyn asof hy geroep is, maar Allegretti beduie met sy arms. “Go away!”

Patrice verdwyn weer en Nick hoor hoe ’n deur toegaan.

“Waar kom hy daaraan?”

“Dis nie asof jy baie diskreet is nie. Jou girlfriend is lief om te twiet en te Facebook. Ons leef in die een-en-twintigste eeu, Enzio. Daar is bloedweinig geheime in die wêreld.”

“My persoonlike lewe het fokol met hom te doen.”

“As jy ’n Williams in jou bed laat klim, het dit iets met hom te doen. Hulle twee het ’n geskiedenis.”

“Sy is nie ’n Williams nie. Haar ma is Williams se vrou se suster.”

“Dit maak nie saak wat haar van is nie. Sy is deel van sy clan, en dit maak dit baie ingewikkeld.”

“Dis sulke tye dat ek wens ek was ’n weeskind. Kan hy nie net soos alle ander ou mense doodgaan nie? Hoe moeilik kan dit wees?”

Nick swaai sy stoeltjie om sodat hy deur die vensters na die uitsig kan kyk. Die Allegretti-erfgename maak hom altyd dankbaar hy het nie kinders nie.

“Ek gaan nie ophou om haar te sien nie. Om die waarheid te sê, ek het haar gevra om by my in te trek.”

Nick swaai terug. “Jy kan nie ernstig wees nie. Seks is een ding, maar waarom wil jy dít doen?”

“Het jy haar al gesien?”

“Op foto’s.”

“Sy is die sexyste girl wat ek al ooit gesien het, en ek hét al ’n paar in my lewe gedate. En sy is nice. Ek is gatvol vir bitches.”

“Het sy al ingetrek?”

“Nee, na laas week se ding het Williams allerhande besware, maar ons werk aan hom. Moenie my vra hoe hy daarvan weet nie.”

“Jissis, Enzio. Jy kan wragtig ’n idioot wees as jy die dag tyd het.”

“Wag tot jy haar sien.”

“Hoe gaan dit met Gabi?”

“Sy gaan ’n orgasme kry as sy weet jy is in die Kaap.”

“Sy is nou ’n getroude vrou.”

Allegretti lag kop agteroor. “Asof dit haar sal keer. Jy kan soms so donners naïef wees.”

“Terwyl ek hier is, moet ek ook na haar sekuriteit kyk.”

“Well, good luck daarmee. Jy weet sy doen net wat sy wil. En as iemand na haar moet kyk, is dit seker haar man.”

“Jy en Gabi vergeet tog te graag dat julle pa nog baie van julle tabs optel, en dit gee hom sekerlik die reg om nog sommige eise te stel. Hy kan maklik besluit hy draai die krane toe, en waar sit julle twee dan?”

Allegretti spring op, maak ’n laai oop en haal ’n sakkie wit poeier en ’n spieëltjie uit. Hy gooi ’n bietjie op die spieëltjie uit, sny twee lyntjies met ’n klein silwer kaartjie. Haal ’n tweehonderdrandnoot uit sy sak en rol dit op. Kyk na Nick, en toe dié sy kop skud, snuif hy albei lyntjies. Hy gooi die sakkie, spieëltjie en kaartjie terug in die laai, en begin op en af stap.

“Wat bedoel jy as hy die krane toedraai? Waarmee is hy besig?”

“As een van julle ’n gevaar vir julleself of die besigheid raak, kan hy besluit om ander mense te kry om die besigheid te help bestuur. Hy kan selfs ’n voorwaarde stel dat julle terug Johannesburg toe gaan.”

“Jy maak seker ’n fokken grap!”

“Ek sê nie hy gaan dit doen nie. Ek wil net hê julle moet verstaan hoe ernstig hy is. Hy gaan dit nie duld dat julle ’n risiko word nie. Nie vir julself óf die besigheid nie.”

Nick sien hoe Allegretti se oë al helderder word, en teen hierdie tyd ken hy die simptome. Volgende gaan die bravade kom.

“Hy dink dalk ek het hom nodig, maar dis hy wat mý nodig het. Hy verstaan nie tye het verander nie en weet nie hoe dinge deesdae werk nie. As hy nie oppas nie, vat ek die besigheid oor, met óf sonder sy toestemming.”

Nick knik sy kop en staan op. “Jy kan seker.” Hy tel die motorsleutels op. “Hy is oud, Enzio. Gun hom ’n paar rustige jare. Hy het nie meer die energie en die drif vir soveel konflik nie, maar moet hom nie onderskat nie. Sy brein makeer niks en moenie dinge vir hom probeer wegsteek nie.”

“Dit is juis een van die redes waarom ek moet oorvat. Hy het nie meer die balls nie, en as ons nie oppas nie, verloor ons ons aandeel in die bedryf, en dan neem niemand ons meer ernstig op nie.”

“Hy het hard gewerk en baie risiko’s geneem om te verseker jy en Gabi hoef nie eendag oor julle skouers te kyk nie. Waarom sê jy nie net dankie en maak ’n sukses van die klub nie? Jy is reg as jy sê tye het verander. Daar is nuwe spelers, en baie min lojaliteit. Dink jy regtig jy is opgewasse teen ouens soos Barkov en kie?” Nick staan effens terug en kyk hoe die woorde die regte knoppies vind. Met Enzio is dit soms net té maklik.

Allegretti wys ’n vinger na Nick. “Dink jy ek is bang vir ’n vark soos Barkov? Dink jy ek het nodig om agter my pa weg te kruip? Fok jou. En jy kan dit maar vir hom ook gaan sê.”

Nick lig sy hand. “Ek sien jou weer later. Ek wou net eers kom groet het.”

“As jy in die woonstel gaan bly, beteken dit jy is nie net vir een of twee dae hier nie,” laat Allegretti kalmer hoor.

Nick trek sy skouers op. “Ek is nog nie seker nie.”

“Kom vanaand klub toe.”

“Ek sal.”

“Net vir jou inligting … sy het nie geweet wie ek is toe sy my ontmoet het nie.”

“Maar jy het geweet wie sy is.”

“Nee, nie dadelik nie.”

Minute later ry Nick stadig teen die steil strate af en kyk na die paar vissersbote wat agter die breekwater dobber.

Hy het nog nooit ’n gemaklike verhouding met die Kaap gehad nie. Sy eerste vrou het van die Kaap af gekom, en hom dit nooit laat vergeet nie. Asof dit die een of ander get-out-of-jail-kaart is. En die keer of wat wat hulle vir haar familie kom kuier het, het ook nie sy verhouding met dié stad verbeter nie. Hy weet nie of die probleem haar familie of die plek was nie.

Hy kon nog altyd redelik vinnig ’n dorp of stad lees. Agterkom wie is wie, en hoe die verskillende verbintenisse patrone maak. Maar die Kaap is soos ’n goeie kulkunstenaar wat jou kul om net te sien wat sy wil hê jy moet sien.

Hy het dieselfde gevoel oor sy eks-skoonfamilie gehad. Asof alles nie is wat hulle voorgee nie, maar dit kon ook maar net sy ingebore sinisme en agterdog wees.

Die drie jaar in Londen was opwindend, interessant en leersaam, maar Nick was verlig toe hy terug Johannesburg toe kon kom. Dis ’n stad wat hy verstaan. Dis waar hy sy eerste lewenslig aanskou het en min of meer al sy eerstes beleef het. Eerste tand, eerste pak slae, eerste vry, eerste kar, eerste job en alles tussenin.

Die langste wat hy al op ’n slag in die Kaap vertoef het, was drie weke. Hierdie keer het hy twee tasse. Een vol klere en ’n ander vol boeke. Tans die somtotaal van sy besittings. Toe hy twee jaar gelede teruggetrek het Johannesburg toe, het hy homself belowe hy gaan darem ’n paar goed aanskaf, selfs al woon hy in ’n gemeubileerde woonstel. Dalk ’n skildery. Of ’n mat. ’n Stoel sal ook goed wees. Een wat die vorm van sy lyf verstaan. Maar na al die tyd is dit steeds net hy en die vreemde meubels. Selfs die bed waaronder hy saans sy skoene inskop, is nie syne nie.

Sy tweede vrou was ’n verpleegster. Hy het haar in ’n hospitaal in Londen ontmoet toe hy ’n getuie gaan besoek het. Sy was ’n goeie, gawe mens wat hom aan sy ma herinner het. Met haar was alles presies soos dit gelyk nie. No surprises there. En tog het dit ook nie gewerk nie. Nes die een of twee verhoudings sedertdien. Hy herinner hom gereeld daaraan dat net ’n malle dieselfde ding keer op keer doen en ’n ander uitkoms verwag.

Dubbelspel

Подняться наверх