Читать книгу Dubbelspel - Wilna Adriaanse - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

Daar is nuwe sekuriteitswagte by die deur toe Nick tienuur die aand by die klub in Groenpunt aankom, maar een van die oues herken hom en laat hom ingaan. Binne is dit stampvol en hy moet vir hom ’n pad oopbeur. Die musiek pols deur die groot saal. Drie DJ’s maak beurte om te gesels, grappe te maak, musiek te speel. Toe Nick eindelik by die trap kom, sien hy Allegretti waai van sy privaat balkon af. Daar is ’n paar ander mense saam met hom op die balkon. Nick herken een van die meisies as Clara Veldman. Sy is selfs mooier as op haar foto’s, en aansienlik jonger as die ander meisies by die tafel. Meisies by wie Allegretti waarskynlik al almal geslaap het.

Hy is seker een van die mans het hy al in die koerant gesien. Dit neem ’n rukkie om te onthou waar. Hy is ’n senior amptenaar by die departement van binnelandse sake, en daar was al gerugte oor hom, maar niemand kon tot dusver enigiets bewys nie. Dit het te doen met die uitreik van verblyfpermitte en paspoorte.

“Nick, my man, ek het al begin dink jy kom nie meer nie.” Allegretti beduie na ’n stoel. “Kom, maak jouself tuis, jy is ver agter.”

Terwyl Nick gaan sit, word hy aan die res van die gaste voorgestel. Hier en daar skud iemand sy hand, maar die meeste knik net. Behalwe Clara. Sy kyk hom in die oë, steek haar hand uit en glimlag.

“Aangename kennis.”

Nick glimlag terwyl dit voel of hy sy kop wil lig en die lug wil snuif. Hy kan eintlik die moeilikheid ruik, maar is net nie seker uit watter rigting dit op pad is nie. Want moeilikheid is op pad, so seker soos sy naam Niklaas Joachim Malherbe is.

Hy skat Clara Veldman nie ouer as drie-en-twintig nie, met ’n byna ongekunstelde voorkoms. Hy hoop sy is sterker as wat sy op die oog af lyk.

Hy weet nie regtig wat om te sê nie. “Ek verstaan nou waarom ons hom al minder in Johannesburg sien.”

Haar glimlag laat haar nog jonger lyk. Sy soen Allegretti op die wang. “Ek is bly om dit te hoor.”

Allegretti se oë blink al te veel, en Nick onderdruk die impuls om haar te vra of sy weet wat sy doen. Die kanse is dalk goed dat sy presies weet wat sy doen. Dis nie asof hy meer meisies van haar ouderdom ken nie. En as jou oom Nazeem Williams is, is jy sekerlik nie meer ’n babe in the woods nie.

’n Kelner kom neem sy bestelling en hy vra vir ’n whiskey.

“Bring vir hom van die Macallan in my kantoor,” laat Allegretti hoor. “En bring vir ons drie bottels Bollinger.”

Toe die kelner omdraai, kyk Allegretti na Nick. “Wat dink jy?”

“Ek is beïndruk. Sedert ek laas hier was, het die plek ’n metamorfose ondergaan.”

“Jy en die ou man het nie gedink ek sal dit kan doen nie, maar ek het julle gesê ek sal hierdie plek omdraai. Vra enigeen wat jy wil, en hulle sal vir jou sê dit is op die oomblik dié plek in die Kaap.”

“Jou pa sal trots wees.”

Die kelner bring hulle bestelling, en toe Nick sy eerste sluk neem, moet hy homself keer om nie behaaglik te sug nie. Daar is tog sekere voordele aan die job wat hy sal mis.

“Nick Malherbe!”

Nick keer net betyds voor hy whiskey oor homself mors toe die stem onverwags agter hom opklink. Hy staan op en draai om.

“Hallo, Gabi.”

Sy gee ’n tree terug. “Hallo, Gabi. Ek sien en hoor maande lank niks van jou nie, en dan is dit hallo, Gabi.” Sy stap nader, sit haar hande om sy gesig en trek dit nader aan hare. Terwyl sy hom soen, gly haar hande om sy nek en sy druk haar lyf teen syne. Dan staan sy terug en glimlag. “Dis beter.” Sy klap hom teen die arm. “Waarom het jy my nie laat weet jy is hier nie?”

“Dit was ’n vinnige besluit. Daar was nie juis tyd om iemand te laat weet nie.”

“That’s a lot of bullshit. Ons leef in die een-en-twintigste eeu. Jy kon net ’n SMS gestuur het. Jy weet ek hou daarvan om op my beste vir jou te lyk.”

“As ek jy is, raak ek nie so vinnig opgewonde nie. Wag tot jy hoor waarom hy hier is,” onderbreek Allegretti hulle.

Sonder om die res van die tafel te groet, skuif Gabriella langs Nick in. “Wat het die ou man nou weer in sy kop gekry?”

“Hy verlang na julle, en aangesien julle maande laas by hom was, het hy mý gestuur om te kom kyk hoe dit met julle gaan.”

Sy skink vir haar sjampanje, lig haar glas vir hom. “Eintlik gee ek nie ’n hel om waarom jy hier is nie. Ken is tot die naweek êrens up north. Jou timing is perfek.”

Soos haar broer, praat sy ’n mengsel van Afrikaans, en Engels, en hier en daar ’n Italiaanse sin tussenin. Volgens Allegretti het hulle ma hulle van kleins af Afrikaans geleer sodat hulle oor hulle pa kon skinder. Hulle pa het hulle om dieselfde rede Italiaans leer praat.

“Hoe lank gaan jy bly?” Gabriella drink die glas met een sluk leeg, en skink weer.

“Ek is nog nie seker nie. Dalk ’n maand of drie. Dit hang af hoe vinnig ek dinge hier in plek kan kry.”

Sy soen hom weer op die mond. “Jy het so pas my jaar gemaak.” Dan trek sy hom aan sy hand op. “Kom dans met my.”

“Ek is hier om te werk.”

“Is ek nie deel van jou werk nie? Ek is seker Daddy Dearest het gesê jy moet mooi met my werk.”

Hy skud sy kop en sy stap alleen teen die trap af. Oor die reuseklankstelsel begin Lady Gaga sing, en onder op die volgepakte dansvloer spring Gabriella saam met die ander lywe op en af. Arms in die lug. Sy dra ’n rooi mini wat knus om haar rondings pas. Rondings wat sy graag ten toon stel. Op vier-en-dertig is sy ook nog geensins haastig om kinders te hê nie. Hy vermoed sy is te bang sy verloor daardie lyf.

Skoonheid is ’n doringrige kroon om te dra, dink hy terwyl hy na die vroue op die dansvloer kyk. Gabriella Allegretti-Visser is seker een van mooiste vroue wat hy al in sy lewe gesien het, met haar donker hare en soel vel, maar sy het ’n ingewikkelde persoonlikheid, soos wat dikwels die geval met mooi vroue is. Op die oog af is sy die laggende plesiersoeker, maar as sy nie haar sin kry nie, verdwyn die lag vinnig en dan raak sy gemeen, en gevaarlik. Nie net vir ander nie, maar ook vir haarself. Sy het van hulle eerste ontmoeting af met hom geflirt, soos sy met alle mans doen. Daar reg aan die begin was die versoeking groot om te kyk waarheen dit kan gaan. Soms het dit gevoel of hy ’n vrypas tot in die binnekamers van die familie aangebied word. Hy het egter geweet as hy hierdie een opneuk, gaan daar geen genade vir hom wees nie. Daar is te veel mense wat oor ’n lang tydperk te veel opgeoffer het om hom daar te kry. Haar rondings is nie ’n luukse wat hy nou kan bekostig nie. Nie dat hy nie steeds soms daaroor droom nie. ’n Man kan altyd droom.

Almal het gehoop die tweede huwelik sal haar rustiger maak, maar sy is ’n woelige siel.

Die ander saam met hom aan tafel verdwyn beurtelings na Enzio se badkamer langs sy kantoor. Sommige het die verstand om die wit poeier van hulle neuse af te vee voordat hulle terugkom. Hoe later dit egter raak, hoe slordiger raak hulle. Behalwe die amptenaar en sy meisie. Nick wonder of dit uit oortuiging of uit vrees vir moeilikheid is.

Toe Gabriella terug by die tafel kom, bestel sy nog ’n bottel sjampanje, en tegelyk ’n paar shooters.

“Wat dink jy van my broer se nuwe speelding?” Sy beduie met haar kop in die kantoor se rigting waarheen Allegretti en Clara ’n rukkie terug verdwyn het.

“Sy is baie mooi.”

“Sy het by ’n nail bar gewerk!”

“Ek dog sy is ’n model.”

“ ’n Paar keer in ’n tydskrif en op ’n runway maak jou nog nie ’n career model nie.”

“Ek is ’n sekuriteitswag.”

Sy drink twee shooters agtermekaar, en sit agteroor met haar glas sjampanje. “Ook net omdat jy so hardkoppig is. As jy net na my wou luister, het ons twee al die ou man se besigheid oorgeneem.”

“Jy is ’n snob. Gee haar kans, dalk hou jy nog van haar.”

“Ek sal nooit van haar hou nie.” Haar gul mond pruil ontevrede.

“Omdat sy so mooi is?”

Sy steek haar hand onder sy hemp in en streel oor sy bors. “Ek gaan nie vanaand vir jou kwaad word nie. Ek is te bly om jou te sien.”

Nick staan op en trek sy hemp reg. “En nou moet ek eers ’n bietjie gaan werk.”

“Waar bly jy?”

“In die woonstel.”

“Dis gerieflik.”

Hy buk voor haar en kyk ’n oomblik lank in haar oë. “Jy is getroud.”

“Dit beteken nie ek is gelukkig nie.”

“Ek is jammer om dit te hoor.”

Sy trek hom aan sy nek nader. “Jy weet daar is net een man wat my gelukkig kan maak.”

Nick vee oor haar wang. “Jy is verveeld.” Toe hy wegstap, laat hy oor sy skouer hoor: “Stadig met die shooters.”

“Wat gee jy my as ek ’n soet meisie is?”

Hy skud sy kop en stap teen die trap af. Die musiek speel onverpoos en hy kan voel hoe ’n dowwe hoofpyn agter sy oë begin klop.

Hy maak ’n draai by die agterste twee kroeë, en dan stap hy al teen die mure langs. Gesels hier en daar met ’n sekuriteitswag. Soek die skofleier, en vra dat hy reël dat al die sekuriteitspersoneel môre inkom vir ’n vergadering. Hulle gesels ’n rukkie, dan baan hy vir hom ’n pad oop tot by die voorste kroeg. Hy wil lag toe hy Paul agter die kroegtoonbank sien. Nick hou hom ’n rukkie dop. Sy vaalblonde hare staan effens orent, die bril is nuut en hy lyk nie meer heeltemal soos ’n boekhouer uit die 1950’s nie. Hy het ’n bietjie gewig aangesit en ’n mens kan net-net ’n bultjie onder sy hemp sien. Sy blik vang Nick s’n, maar hy gee geen aanduiding dat hy hom gesien het nie. Nick skuif tot teen die einde van die kroegtoonbank. Dit duur ’n hele paar minute voor Paul by hom aansluit.

“En waaraan het ons die eer te danke?”

“Ek het gerugte gehoor al die pret is deesdae in die Kaap. Ek moes darem kom kyk wat ek mis.”

“Ek sien die humorsin is steeds vlymskerp.”

“Hoe gaan dit hier?” Nick beweeg sy kop effens.

“Hoe lyk dit vir jou?”

“Ek het nie gedink dit sit in Enzio se broek om die plek so om te swaai nie.”

Paul trek sy skouers op. “Het jy nog nooit van ’n nuwe besem gehoor nie? Gee kans, hoe beter dit gaan, hoe meer dink hy dis sy eie persoonlike speelpark. Hy en sy vriende gaan nog hierdie plek onder die ou man se gat uit suip of snuif.”

Nick glimlag. Enigiets wat na vermorsing lyk, stuit Paul teen die bors.

“Wanneer kan ons mekaar sien?”

Paul roep eers na een van die ander kroegmanne voor hy antwoord. “Sê maar. Maar maak dit verkieslik vroegoggend.”

“Laat ek môre net eers my voete vind. Wat van Vrydagoggend agtuur? Kies ’n plek en laat weet my die adres.”

“Dis reg.” Paul begin die mense naaste aan hulle bedien en Nick werk sy pad terug balkon toe.

Paul Smith was ’n rekenmeester toe Nick hom ses maande gelede gewerf het om aansoek te doen vir die pos as bestuurder van die klub. Tot almal se verbasing het hy die werk gekry, en Nick kan soms nie glo hoe gemaklik hy met hierdie dubbellewe geword het nie. Hy het ’n besonderse kop vir syfers en Nick verwag dat hy teen hierdie tyd die klub se boeke soos ’n storieboek kan lees.

Allegretti se geselskap is nou op die dansvloer, behalwe vir een meisie wat met haar kop op haar arms by die tafel lê, en Allegretti en die amptenaar. Hulle twee lyk druk in gesprek, maar toe Nick by hulle aansluit, raak die amptenaar haastig.

“Thanks for a great evening. I have to hit the sack now. But first I have to find my partner.” Hy kyk af op die dansendes. Allegretti stap saam met hom teen die trap af. Gabriella kom uit die kantoor en Nick sien hoe sy ook die wit poeier langs haar neus afvee. Haar lyf bewe liggies. Asof sy nie reeds genoeg energie het nie.

“Wonderlik, jy is klaar gewerk. Nou is dit my beurt.” Sy kom staan styf teen hom en hy voel haar lyf se hitte deur sy hemp. “Het jy na my verlang?”

“Soos ek na moeilikheid kan verlang, ja.”

Sy skud haar kop. “Asof jy vir moeilikheid skrik. You’ll have to do better than that.”

“Hoe gaan dit met Ken?”

“Ken?” Sy maak ’n beweging met haar hand. “How the hell should I know?”

“Hy is jou man.”

“If you want to see a mistake, there’s one for you. ’n Reuse fokop. I should never have married him.”

“Jy kon seker nee gesê het.”

“My hart was gebreek omdat jy my nie wou hê nie, en ek wou jou wys wat jy gaan mis.” Sy sug. “Jy het seker nie gedink ek het hom vir liefde getrou nie?”

“Moenie sulke goed sê nie.”

“Darling, everyone knows we are a very convenient business deal. Our families have been wheeling and dealing for many years. With the two families tied together in marriage, a lot of secrets stay in the family.”

“Daarom stel ek voor jy probeer die beste van die saak maak. Siende dat hy reeds eggenoot nommer twee is.”

“Jy is ’n codardo. ’n Lafaard.”

“En jy moet nou ophou drink en huis toe gaan. Dis al verby jou bedtyd.” Hy laat sit haar op een van die stoele, en vra ’n kelner om ’n bottel water te bring. Haar grimering is effens gesmeer en sy lyk skielik moeg.

“Net as jy saam met my kom.” Sy raak aan sy gesig. “Caro, you know you want me … en niemand hoef te weet nie.”

Ondanks sy goeie voornemens en alles wat hy homself elke keer vertel, voel hy tog hoe ’n oerlus in hom roer. Daai lus wat nie rede ken nie, wat nie somme kan maak nie en nie aan gevolge kan dink nie.

“Iemand weet altyd.”

“Banggat.” Sy staan op, tel haar handsak op en stap stadig met die trap af terwyl sy liggies heen en weer swaai.

Nick stap agter haar aan, en by die deur gee hy sy motorsleutels vir een van die veiligheidswagte. “Neem asseblief vir mevrou Visser huis toe, en kom dadelik terug.” Hy kyk na Gabriella. “Ek sal môre iemand met jou motor stuur.”

“Why don’t you just screw my sister?” Allegretti staan agter hom toe hy omdraai. “Jy weet sy gaan nie rus voor sy haar sin gekry het nie, and this is becoming very boring.”

Clara staan langs Allegretti, en selfs so laat in die nag, na ’n hele paar drankies en wie weet wat nog, lyk sy steeds jonk en vars.

“Sy sal môre weer beter voel.”

“Ons gaan nou huis toe.” Hy neem Clara se hand. “Dis tyd vir mooi jong meisies om in die bed te kom.” Hy soen haar in die nek en ’n oomblik lank verbeel Nick hom sy lyk verleë.

“Waar is Fritz?”

“Ek het hom die aand af gegee. Ek kan bestuur.”

Nick wil hom eers vererg, maar keer homself. “Dan sal ek julle huis toe neem.”

“Dink jy ek het nog nooit hierdie tyd van die aand huis toe gery nie?”

“Ek is seker jy het, maar op die oomblik is dit onverantwoordelik. Waar is jou motor se sleutel?”

“Sorry, we took the Ferrari. Daar is nie plek vir jou nie.”

“Dan neem ons die Range Rover sodra dit terug is. Gaan wag solank binne.”

“Ek gaan ’n fok weet nie dat jy so met my praat nie … Ek werk nie vir jou nie.”

Clara raak aan Enzio se arm. “Kom ons gaan wag binne.”

Nick is verbaas dat hy tog saam met haar loop, maar in die deur draai hy om. “As ek jy is, kry ek my shit agtermekaar. Die ou man kan nie vir ewig leef nie en as jy vorentoe ’n plek in die company wil hê, beter jy begin om nicer met my te wees.”

Nick antwoord hom nie. Dit sal nie die eerste dreigement wees wat hy die afgelope twee jaar gekry het nie, en dit sal ook nie die laaste een wees nie.

Toe die Range Rover terugkom, klim Allegretti en Clara agterin. Nick roep een van die sekuriteitswagte om saam te ry. Terwyl hy bestuur, hou hy oudergewoonte die truspieëltjies dop. En probeer vinnig die verkeersligte se ritmes uitwerk. Die strate is gelukkig redelik verlate en hulle kan vinnig ry.

Allegretti klim nie uit toe hulle by Nazeem Williams se huis in Rondebosch stop nie. Nick maak die deur vir haar oop, en stap saam met haar tot sy in die huis is.

Op pad terug raak Allegretti aan die slaap en Nick het moeite om hom by die huis wakker te maak. Tussen hom en die sekuriteitswag kry hulle hom uiteindelik bo in sy kamer. Nick trek sy skoene uit, maar laat lê hom met sy klere aan op die bed.

Hy gaan laai die ander man weer by die klub af en ry stadig terug Bantrybaai toe. Seepunt se strate is verlate, behalwe vir twee prostitute wat op ’n straathoek staan. Nick kyk na die horlosie voor op die paneelbord. Vyf voor drie. Hoe lank voordat ’n mens moet aanvaar niemand gaan jou vannag oplaai nie?

By die woonstel gaan sit hy eers op die balkon. Die ligte wind dra die geruis van die see tot hier. Hy dink aan almal wat hy gesien het. Speel weer die gesprekke in sy kop. Dis ’n vreemde, komplekse wêreld waar die belangrikste dinge dikwels verswyg word. Oor Gabriella wil hy nie te veel dink nie, maar oor Clara Veldman sal hy nog geruime tyd dink. Sy is nie die eerste mooi jong meisie wat vir ’n ouer man gaan nie, ook nie die eerste een wat kans sien vir ’n verhouding met ’n man met ’n reputasie soos Enzio Allegretti nie. Maar hy kan nie die gevoel afskud dat alles dalk nie so eenvoudig is nie. Hy betrap hom dat hy in sy broeksak voel waar hy altyd sy sigarette gebêre het. Bliksem, hy mis dit. Hoe moet hy dink as hy nie ’n sigaret in die hand het nie? Om nóú op te hou rook was ’n kak idee. Dalk het iemand ’n pakkie hier vergeet.

Hy staan op, maar toe drie laaie niks oplewer nie, besluit hy om te gaan slaap.

Dubbelspel

Подняться наверх