Читать книгу Dubbelspel - Wilna Adriaanse - Страница 9
Hoofstuk 6
ОглавлениеDonderdag kyk Ellie na die vroegoggendverkeer terwyl sy kantoor toe ry. Gesigte wat strak voor hulle staar, hier en daar iemand wie se kop asof op die maat van musiek ritme hou. Kinders in skoolklere, babas vasgemaak in stoeltjies, op pad na ’n dagmoeder. ’n Bekende pad, tonele wat sy al dikwels gesien het, maar sedert verlede week voel dit of sy niks werklik ken nie. Asof elke beeld en elke gebeurtenis skielik skakerings het wat sy nog nooit vantevore gesien het nie. Moontlikhede. Grense het verskuif. Die onmoontlike is nou moontlik. Hoe sy ook al in die verlede vir haarself die dood gerelativeer het, niks het haar voorberei op wat dit nou met haar kop doen nie. Sy het ’n meestersgraad in sielkunde en verstaan teoreties die prosesse, maar op die oomblik is niks daarvan op haar van toepassing nie.
Sy skrik toe ’n motor langs haar toeter. ’n Vrou met rooibruin getinte hare wys vir haar middelvinger toe sy verby ry. ’n Middelvinger met ’n lang rooi nael en ’n goue ring aan. Ellie glimlag. Dis dalk die oplossing. Sy dink net nie sy het genoeg middelvingers om haar beter te laat voel nie. En die ander vingers dra net nie dieselfde gewig nie. Daar is iets aan daardie langeraat.
Die parkeerarea is nog relatief stil toe sy parkeer, en sy is bly sy het vroeg gekom. Sy wil reeds daar wees wanneer die ander inkom. Sy voel nog soos ’n ongelukstoneel waarby hulle stadig verby ry.
Wat het jy gedink? wil sy hardop die lug in roep, maar sy trek haar skouers agteroor en stap deur die deure. Sy groet so ver soos sy loop, maar bly staan nie vir geselsies nie. Hier en daar steek iemand ’n hand uit, maar sy hou dit ’n vlugtige handdruk.
Sy is dankbaar toe sy op die derde verdieping uitstap en dis nog redelik stil.
Brigadier Andile Zondi se kantoordeur staan oop, en Ellie loer om die kosyn. Sy sit gebukkend oor haar lessenaar en haar vol borste hang effe oor die papiere voor haar. Die baadjie span oor haar skouers. Sy is ’n mooi vrou met haar vol mond en kort vlegseltjies. As sy van die chip op haar skouer ontslae kan raak, sal sy dit ver bring, maar dis asof sy haarself pootjie. Sy wil haarself nog soms net te sterk laat geld.
“Mac, you’re back. I’m glad. I wish I could say take another day or two, but I need all hands on deck. This thing with Barkov is messy and your friend Ahmed and his guys are pointing fingers at us, and I won’t stand for it.” Sy sit terug in haar stoel. “We warned them about Barkov and the others, but as usual they ignored us like a fucking stop sign.”
“Ek sal dadelik daaraan begin werk, en kyk of ek iets nuuts kan uitvind.”
Terug by haar lessenaar kyk sy na al die boodskappe wat in ’n hopie op haar lessenaar lê. Daar is onder meer ’n paar van haar informante wat onder skuilname van hulle laat hoor.
Sy blaai deur die hopie. Teen hierdie tyd weet sy wie bring die harde nuus, en wie kom nou en dan met ’n stukkie skindernuus. Vandag het sy nie tyd vir laasgenoemde nie. Sy soek feite. Haar lessenaar is toegegooi onder lêers. Op haar rekenaar is verslae en foto’s wat sy noukeurig oor die afgelope agtien maande bymekaar gemaak het. Soos hulle die land inkom en op die radar verskyn. Misdaadsindikate is nie ’n nuwe verskynsel in Suid-Afrika nie. Van die ouer kollegas herinner haar gereeld daaraan, maar selfs hulle skud kop oor die hoeveelheid wat sedert 1994 die land ingestroom het. Almal is al hier. Die Italianers met hulle Mafia-verbintenisse, die Chinese triades, die Nigeriërs, die Russe, Koreane, Indiërs, die hele lot, en dan natuurlik nog die plaaslike ouens ook. Niemand is hier vir die land en die Kaap se natuurskoon nie. Hulle het nie sentiment oor ’n politieke bestel of ’n reënboognasie nie. Geld is die enigste god wat aanbid word. Geen natuurlike hulpbron is heilig nie, geen renoster, olifant of selfs menselewe is kosbaar nie. Perlemoen het seegoud geword. Iets wat eens vir baie huiskos was, is nou onverkrygbaar en onbekostigbaar.
Die bekende restaurante in die Ooste ontken dat hulle perlemoen onwettig uit Suid-Afrika en Australië kom, en beweer Japan het die beste perlemoen in die wêreld, maar almal weet Japan se bronne is lankal nie meer genoeg om in die aanvraag te voorsien nie.
As hulle êrens op ’n afgeleë plek hulle oorloë gevoer het, sou sy nie een nag daaroor wakker gelê het nie, maar hulle doen dit in woonbuurte, in besigheidsentra, by verkeersligte en padblokkades. Sonder om ’n oomblik lank aan die onskuldige omstanders te dink.
Gister se skietery by ’n verkeerslig in Johannesburg was maar net weer ’n bewys daarvan. Die oorledene word verbind met ’n berugte Oos-Europese misdaadbaas. Die forensiese span het dertig patroondoppies op die toneel gevind. Dis ’n wonderwerk niemand anders is in die skietery gewond of doodgeskiet nie.
Sy is nog besig om na die lysie informante te kyk toe Clive Barnard ’n stoel nadertrek en oorkant haar kom sit. “Hoesit?”
“Orraait, en jy?”
“Ek dink dit gaan beter met my as met jou. Dis waarom ek vanaand vir jou ’n dop gaan koop.”
“Dankie. Dit sal lekker wees.”
Hy kyk na die klomp papiere op haar lessenaar. “Ek sien jy laat nie vanoggend gras onder jou voete groei nie.”
“It never rains, but it pours. Vertel my van die begin af wat ek gemis het.”
“Gee my tien minute om te kyk wat op my lessenaar aangaan, ’n koppie koffie te kry, en dan kom vertel ek jou.”
Ellie is bly toe die kantore om hulle al besiger word. Hier en daar keer iemand haar nog voor, maar sy kan gelukkig verskoning maak dat sy nie lank kan praat nie, want hulle is baie besig.
“Raait, laat ons begin.” Clive trek weer ’n stoel nader.
Ellie het die groot skryfbord skoongevee, en skryf ’n naam boaan. Alexei Barkov. En onder dit skryf sy die name van die twee wat dood is in die skietery.
Sy het nog altyd daarvan gehou om lysies te maak. As jou ma begin drink wanneer jy ’n brose veertien jaar oud is, leer jy ’n paar truuks aan om jouself te laat voel jy het ’n mate van beheer oor jou omstandighede. Een daarvan is om lysies te maak.
“Ons weet die twee werk vir Barkov. Die vraag is wie het hulle geskiet, en hoekom? Waarom het hulle nie die huis waarin Barkov woon gaan platskiet nie? Was dit net ’n boodskap? Indien wel, watse boodskap wou hulle vir Barkov stuur deur een van sy eiendomme so moer toe te skiet, en twee van sy mense dood te skiet? Hy is nie ’n man wat so iets sommer ligtelik gaan aanvaar nie. Ek maak my reg vir bloedige vergelding.”
Sy begin weer skryf. Enzio Allegretti. Yuang Mang. Nazeem Williams. Abua Jonathan. Staan dan ’n paar treë terug. “My geld is op een van hulle. Alles wat ek die afgelope agtien maande oor hulle bymekaar kon maak, dui op ’n ingewikkelde interafhanklikheid, maar terselfdertyd ’n bloedige kompetisie.”
“Het ons iets nuuts op Allegretti?” Clive speel met ’n rekkie in sy hand terwyl hy om die beurt na die name kyk.
“Jy weet so goed soos ek hulle hande bly skoon. Behalwe vir daai aanrandingsklag wat sy klub se vorige bestuurder teen hom gemaak het en ’n paar spoedoortredings, het ons nog niks.”
“En Barkov?”
“Honderde gerugte, maar al wat nog op ’n klagstaat verskyn het, is toe hy bietjie hardhandig met een van sy meisies was. Soos gewoonlik was die ink op die klagstaat skaars droog, toe trek sy dit terug en sê sy het gelieg. Dit was eintlik net ’n ongeluk.” Ellie raak stil terwyl sy na die bord kyk. “Ek sê nog altyd dis nie dat hulle so slim is nie, die probleem is dat hulle soveel mense op hulle pay-roll het. Hoe lank probeer ons nou al om dit te bewys? Ons is soos ’n klomp molle wat in die donker rondtas.” Sy lig haarself ’n paar keer op haar tone. “En dan het ons nog nie eers begin praat oor die militante groepe nie. Wil jy rêrig vir my sê ons inligting is so ingat dat niemand geweet het iemand soos Samantha Lewthwaite is in die land nie? Álmal weet ons het ’n gewilde plek vir Al-Kaïda, Hamas en Hizbollah geword om rekrute te werf en finansiering te soek, en tog is almal skielik kastig vreeslik verbaas dat iemand op Interpol se rooi lys die land kon binnekom. Dis om van te lag.”
“Moenie dat ons onsself nou heeltemal depress nie. Wat het ek jou deur die jare geleer? Ons hou altyd die groter prentjie in gedagte, maar dis ook nodig om te kan fokus. En op die oomblik fokus ons eers op Barkov.” Clive beduie na die bord. “Wat sê jou sesde sintuig?”
Ellie staan weer nader aan die wit bord en druk op Allegretti se naam.
“Waarom hy?”
“ ’n Gerug doen die ronde dat hy ’n groot klomp geld op die dobbeltafels verloor het, en met sy uitspattige leefstyl is hy in die knyp. Allegretti senior se gesondheid is nie meer wat dit was nie. Hy is al ’n paar jaar lank besig om sy geld te was. Dis waarskynlik ook die groot rede waarom hulle die klub in Groenpunt gekoop het en weer op die been gekry het. Ek vermoed hy wil op sy oudag minder oor sy skouer kyk. Of Junior sy pa se toekomsplanne deel, is natuurlik ’n ope vraag. As Pappa egter moet uitvind hoeveel geld hy besig is om te verloor, klap sy vrygewige hand dalk toe en Seuntjie sit met niks. Die ou man mag oud wees, maar hy was op sy dag ’n bliksem. Daar was ’n rede waarom hy as jong man Suid-Afrika toe gestuur is. Dinge in Italië het te warm vir hom geraak.
“Ek vermoed Seuntjie moes baie gou baie geld maak. Met Barkov wat skielik op sy turf speel, gaan dit al moeiliker om sy skuld terug te betaal. Die ou man was nog ’n bietjie old school, en ek dink hy het dalk nog grense gehad, maar dis ’n nuwe wêreld en ek dink die jonge is op die oomblik besig om vir die ou man en die wêreld te probeer wys hy kan dit beter doen.”
“Waarom dink jy die ou man weet nie wat sy seuntjie aanvang nie?”
“Die jonger Allegretti betaal waarskynlik ’n paar mense om nie vir sy pa die volle prentjie te gee nie.”
“Ek hoor wat jy sê, maar my geld is op Williams of Mang. Dis hulle styl. Allegretti het amper te veel finesse vir so ’n ambush.”
Ellie lag. “Finesse, nogal. Ek het nie geweet jy ken die woord nie.”
“Ek is nie sommer van hier nie.”
“In ander omstandighede sal ek ook gesê het dit lyk na Mang of Williams se styl. Selfs Jonathan, maar ons mooi Italiaanse vriend is in die knyp, en dan doen ’n mens snaakse goed.”
“Ons moet maar onder begin en ’n bietjie op die voetsoldate se case klim. Dalk raak een senuweeagtig genoeg om te praat.”
Sy gaan sit op die hoek van haar lessenaar. “Dit voel my ons kom net nie voor nie. Die verdomde lêers raak al dikker, maar daar is net altyd ’n gat waardeur hulle kan glip.”
Voordat hulle verder kan praat, lui Ellie se selfoon. Sy luister ’n oomblik lank.
“Ek gaan my nie deur hierdie suidooster laat mal waai net om na vae fairy-tales te luister nie. En as jy gedrink het, laat sluit ek jou saam met die 28’s toe.”
Sy lui af.
“Vir wie dreig jy nou so?” wil Clive weet.
“Happy. Hy sê hy het inligting.”
“Hulle is soms lastiger as gatvlieë.”
“Is jy nie lus om saam te ry nie? ’n Bietjie vars lug sal jou goed doen.”
Hy staan op en Ellie neem haar handsak en stap agter hom aan.
“Hierdie wind is genoeg om ’n mens tot moord te dryf …” Die oomblik toe die woorde uit is, kyk hy na haar. “Sorry.”
Sy kyk deur die motorvenster na waar ’n klomp papiersakke teen ’n draadheining vasgewaai is. Geel en wit vlaggies. “Vergeet dit. Dis nie asof ’n mens die woord uit die woordeboek kan haal nie.”
“Ek weet ek kan nie saampraat nie, maar jy moet probeer om nie kwaad te wees nie. Dit gaan jou fokol help. Hy van alle mense het die risiko’s van hierdie job verstaan.”
“Ek weet, maar kwaad wees is iets om te doen.”
“Wat bedoel jy?”
“Anders sit ’n mens net met hierdie moerse gat in jou, en daarvoor sien ek nie nou kans nie.”
“As jy vir iets of iemand kwaad wil wees, kan ek vir jou ’n paar name gee. Van regstellende aksie wat mense aanstel en ver bo hulle vermoëns bevorder, tot by die fucked-up regstelsel en, soos jy sê, ons eie departement wat nie meer weet wat in ons agterplaas aangaan nie. En alles tussenin. Die lys is lank.”
“Sal jy my sê as jy iets hoor?”
“Oor wat?”
“My pa.”
Hy kyk vlugtig na haar. “Dit hang af.”
Sy antwoord nie. Kyk net na die ander voertuie op die pad. Die verkeer op die N1 is swaar en hulle vorder stadig.
“Ek kan onthou toe ek ’n kind was, was daar twee spitstye ’n dag. Deesdae lyk dit heeldag soos spitsverkeer. Dis belaglik. Werk die mense nie?” verander Clive die onderwerp.
“Die kanse is goed dat daar in elke kar ’n laptop en smart phone is. Ons is die mees well-connected mense in die geskiedenis van die wêreld.”
“As jy my vra, is ons té well-connected. Ek en Ansie is verlede naweek Struisbaai toe. Die eerste keer in amper ’n jaar. Ek wou net ’n bietjie visvang, en stilte om my hê. Die Here hoor my, sy was die hele naweek op haar selfoon. As dit nie met haar ma is nie, dan met haar suster, of ’n vriendin. En as sy met hulle klaar is, bel sy die kinders om te hoor of hulle orraait is. Hulle is te goddank bly om ’n dag of twee alleen te wees, maar nee, sy is op hulle case.”
“Dit moet moeilik wees om deesdae kinders groot te maak.”
“Ja, ek kom agter hoe ouer ek raak, hoe slegter slaap ek, veral oor die meisiekind, maar so nou en dan moet mens uit die kinders se hare kom, en dis nie of ons hulle alleen by die huis gelos het nie. Hulle het by pelle gebly. Dis goed dat die kinders soms sien hoe gaan dit in ander huise. Hulle dink mos altyd húlle huis is die slegste en hulle ouers die wreedste. Na so ’n naweek waar hulle ’n slag moes bed opmaak en help skottelgoed was, is hulle weer ’n rukkie dankbaar.”
Ellie glimlag. “Het julle darem op die ou end die naweek geniet?”
“Ek het met moeite Saterdagaand die selfoon lank genoeg uit haar hande gekry sodat ons ’n bietjie styf kon lê.”
Sy lag en kyk na hom. Sy blonde hare is besig om yl te word. ’n Bultjie hang deesdae oor sy gordel en wanneer hulle vir hulle verpligte fiksheidsoefeninge moet gaan, sug hy ’n paar dae lank. Clive is een van die min mense wat sy met haar lewe vertrou.
Hulle ry onder die brûe in die middestad deur, draai links in Christiaan Barnard, tot in Sir Lowryweg.
Ellie beduie na regs. “Hy wag by die Eastern Food Bazaar.”
Hy draai. “Nogal! Waar’s die dae toe hulle tevrede was met ’n halwe brood en ’n pak pienk viennas?”
Happy sit by ’n tafeltjie by die Turkse afdeling. Hy glimlag toe hy hulle sien.
“Awé! Nice of you to come.” Hy maak ’n vuis in Ellie se rigting, en sy druk hare teen syne. Clive ignoreer die groet.
“What’s with him? Lyk of hy sooibrand het.” Hy kyk na Clive. “Gee die motjie jou moeilikheid?”
“Los jou slimpraatjies. Wat het jy vir ons?” Clive gaan sit oorkant hom en Ellie.
“Nei, hoesit dan vandag? Moet ek nou op ’n dolleë maag hie sit en praat? Ek het noggie vandag nat of droog oor my twee lippe gehad nie.”
“Wat wil jy hê?” Ellie staan op. “Praat jy solank. Ek sal gaan haal.”
“Om te start, het ek gedink ’n ou schwarmatjie …”
“Hierdie is nie ’n dinner date nie. Daar is nie iets soos starters nie. Wat wil jy drink?” laat Clive hoor.
“Jo, ma djulle is omgekrap vandag. Maak dit maar ’n Coke.”
Sy kyk na Clive, maar hy skud sy kop.
Toe sy na ’n paar minute met Happy se kos terug by die tafel kom, is Clive en hy besig om te argumenteer.
“Julle verstaan nie hoe dangerous hierie job is nie. As hulle moet uitvind ek praat met die Boere, sal ek lucky wees as hulle net my keel afsny.”
Clive neem die kos by Ellie en begin opstaan. “Kom, hy het niks.”
“Praat met die man. Ek was nog besig om op te warm.”
Clive sit weer. “Warm vinniger op. Ons het nie die hele dag tyd nie.”
Happy kyk verlangend na die kos, maar Clive skud sy kop. “Ons praat eers.”
“Ek was laas Vrydag daar by my antie se pozzy in die Hill, toe sien ek mos ’n jongetjie wat saam met my by die skool geloop het. Kuier blykbaar deesdae by my cousin. Te fênsie, ry glads ’n kar. Hy moes die licence gekoop het, want hy was maar baie dig op skool. Ewenwel, sal hy my toe vertel hy werk nou vir mister Williams homself. Die problem is as ’n mens eers begin blinkgat raak, dan weet jy mossie wanner om jou bek dig te hou nie. Ek hou my toe maar kliponnosel en grootoog, en toe vat die man die vloer. En as encore vertel hy van die groot operation waarmee hulle besig is. Sy oë het skoon glasig geraak, en mens kon net dollar signs sien.”
“Watse operasie?”
“Nei, hy was darem ’n bietjie slimmer as dit. Hy het nie gesê nie.”
Clive begin opstaan met die kos in sy hand. “Jy mors ons tyd.”
Happy kyk na Ellie. “Elke bietjie is belangrik, het jy gesê. En dis wat ek doen. Ek bring vir jou alles wat ek het. Nou trek julle naat op my. Dissie reg nie.”
Ellie neem die kos by Clive en sit dit voor Happy neer. “Wat weet jy van die skietery in Milnerton?”
“Nei, ook maar net wat die papers sê. Dissie eintlik my plek daai nie.”
“Ek weet, maar jy ken baie mense. Iemand het dalk iets gesê.”
Hy kou ’n rukkie in stilte, skud dan sy kop. “Jy weet mos ek issie baie lief vir die Russian en sy gespuis nie. Hulle is ’n klomp mother– …”
Clive mik ’n oorveeg na hom. “Watch jou taal.”
“Wat ek meen, is dat ek maar wye draaie om hulle loop. Dis ’n scary bunch daai.”
“Dit kan nie kwaad doen om ’n bietjie met jou kontakte te praat nie. Ek is seker iemand weet iets.” Ellie staan op. “Bel my as jy iets het.”
“Ek maak so, maar kom next time alleen.” Hy koes toe Clive opstaan.
“Glo jy hom?” wil Clive weet toe hulle in die motor klim.
“Ek weet hy is baie bang vir die Russe, so ek glo hy loop ’n wye draai wat hulle betref.”
“Hy loop dalk ’n wye draai, maar dit beteken nog nie hy het niks gehoor nie. Hy het baie kontakte. Hierdie klomp wat koerante verkoop, sien en hoor baie dinge. Hulle hou hulle maar so onnosel wanneer dit hulle pas.”
“Hy is grootbek, maar hy het nog nooit vir my gelieg nie, en ek kon in die verlede nog altyd op hom staatmaak. Hy bring nie noodwendig altyd dadelik al die antwoorde nie, maar jy weet tog so tussen die brokkies kry ’n mens dikwels die hele prentjie.”
“Ja, ek weet. Ek was net nie vandag lus vir sy kak nie.”
“Ek dink nie die ou wat vir Williams werk was slim genoeg om nie details te gee nie. Die waarheid is dalk eerder dat hy nie weet nie. Hierdie ouens is te slim om vir elke voetsoldaat die volle verhaal te vertel. My ondervinding is dat hulle op ’n need-to-know basis werk.”
“Praat met my,” laat Clive hoor toe hulle al ’n paar kilometer gery het en Ellie nog nie weer iets gesê het nie. “Laat ek hoor hoe jou kop loop.”
“Al in die rondte.”
“Dan is daar natuurlik Ken Visser,” sê Clive na ’n rukkie se stilte. “Die ou met wie Gabriella Allegretti verlede jaar getroud is. Ek het al hier en daar ’n gerug gehoor dat sy pa bande het met ’n sindikaat wat jare gelede al uit Zimbabwe en Angola gewerk het. Die storie loop dat hulle kontakte in die destydse ou weermag gehad het, en dat sy pa groot konneksies in Zanu-PF het. Dalk is dit hy wat dinge roer, in die hoop hy raak van sy swaer ontslae. Dan is hy en vroulief mos die enigste erfgename. As hy vir Barkov kan kwaad maak en die vinger na boetie Enzio laat wys, raak hy dalk baie maklik van hom ontslae. Of dalk is hy en Enzio kop in een mus en is hy die balls in die operasie. Hel, dis seker moeilik om met so ’n erfenis te sit. Is kinders nie veronderstel om suksesvoller as hulle ouers te wees nie?”
Ellie kyk by die venster uit. “Hulle sê so.”
Clive sug. “In my geval was dit nie baie moeilik nie. Deur net soggens op te staan, het ek al my ou man verbygegaan.”
“Ek het lankal daarmee vrede gemaak dat ek nie eers moet probeer nie. Nou weet ek nie meer nie.” Sy laat sak haar kop teen die rugleuning, en albei raak stil.
Clive draai die radio harder. Theuns Jordaan sing: “Hoe lank praat ons nie meer nie … dis verby net voor die storm kom.”
Daarna is dit André Swiegers. “As die skemer kom, en hy vang my by jou …”
Toe Koos Kombuis se stem opklink met “Ek het ’n vriendin, ver oor die blou see …” kyk Clive na haar. “Waarsku my voor jy in trane is. Maar ek is ’n sucker vir hierdie ouens se lirieke.”
“Jy moet onthou in wie se huis ek grootgeword het. Hy het ’n baie wye musieksmaak gehad. Die enigste plek waar hy omtrent die streep getrek het, was by die backtracks.”
“Een van my girlfriends het nie van Afrikaanse musiek gehou nie. Ek dink dis waarom ek op die ou end daarvan begin hou het. Pure kinderagtige rebelsheid. Verhoudings kan darem toksies raak.”
Ellie dink aan haar ouers. Was hulle huwelik teen die einde ook toksies? Is mense se verwagtinge van die liefde en die huwelik so verskillend dat die een kan dink hy gee alles wat hy het, terwyl die ander een voel sy ly honger?
“En tog hou ons nie op soek nie. Dalk is die mens maar geprogrammeer om af te paar. Die nimmereindigende hoop dat julle twee dit sal regkry.”
Clive sug. “Van die paradys se dae af is ons eintlik maar in ons moere in.”
Hulle stop voor die kantoorblok, en stap stil langs mekaar na hulle kantoor toe.
“Ellie, kaptein Greyling het na jou gesoek,” sê Rita toe hulle instap.
“Waarom het hy nie my sel gebel nie?”
“Nee, hy is hier.”
“Wat maak hy hier?”
Rita beduie met haar kop na die kantoor in die hoek. “Hy is by brigadier.”
Ellie hang haar skouersak oor haar stoel se leuning, gaan skink ’n koppie koffie, en kom staan daarmee voor die wit bord. Sy was nog altyd goed met raaisels. Die moeilikheid is net om daardie eerste draad te kry. Daarna is dit kinderspeletjies. Sy lees weer die name. Sien hulle in haar geestesoog. Allegretti. Selfs op die swakste foto’s is hy aantreklik. Dieselfde kan ongelukkig nie van Alexei Barkov gesê word nie. Die goeie lewe sit om sy middellyf, en in sy dubbelken. Dit skrik blykbaar nie die meisies af nie. Daar is ’n voortdurende stroom wat aan sy arm gesien word.
Yuang Mang handhaaf ’n laer profiel as die res, maar so nou en dan is daar tog ’n foto van hom by die een of ander geleentheid of klub. Hy is ’n gereelde besoeker aan een van die Chinese restaurante in Seepunt.
En dan die een wat volgens haar die onvoorspelbaarste is, Nazeem Williams. Niemand weet hoe sy bloedlyne loop nie, maar hy het blykbaar in Manenberg grootgeword. Deesdae woon hy in Rondebosch-Oos. ’n Groot huis waar nugter alleen weet wie almal woon. Sy ma en van sy broers en susters woon steeds in Manenberg, maar in ’n ander huis. ’n Groter een wat hy ’n paar jaar gelede gekoop het.
Die een oor wie sy nog die minste weet is die Nigeriër, Jonathan. Wat sy wel weet, is dat hy met elke moontlike 419-scam verbind word.
Allegretti woon in ’n reusehuis in Bantrybaai, Barkov het ’n huis in Milnerton, en volgens die laaste verslae woon Mang in Nuweland.
Sy skryf weer op die bord. Clive kom sit op haar stoel agter die lessenaar en skud sy kop. “Jy en jou lyste. Wat skryf jy nou?”
“Hulle wettige besighede. Jy het my geleer when in doubt, begin by die begin.”
Hy knik. “Almal is in in- en uitvoere. Wat anders. Allegretti het ook die klub, en Williams het ’n klomp spaza-winkels in die townships.”
Sy staan effens terug van die bord af. “Ja, die begrippe in- en uitvoere is deesdae ook so wyd soos die Heer se genade.”
Hulle kyk op toe hulle harde stemme uit die kantoor in die hoek hoor.
Rita trek haar skouers op toe Ellie vir haar kyk. “Dit gaan nog heeltyd so.”
Clive kyk ook na die toe deur. “As ek vriend Greyling is, tel ek my woorde. Daai is nie ’n tannie wat jy sonder handskoene aanpak nie.”
“En as sy hoor jy noem haar ‘tannie’, trap sy jou balls onder haar stiletto’s vas,” antwoord Rita.
Al drie raak stil toe die deur oopgaan, en dan klink Albert se stem agter hulle op.
“En as julle twee so hard konsentreer?”
Ellie draai om en sien hoe brigadier Zondi hulle ’n oomblik vanuit haar kantoordeur dophou, voordat sy die deur toemaak.
Ellie kyk na Albert se gesig, maar sy gemaklike glimlag is in plek.
“Wat maak jy hier?”
“Mag ek nie vir jou kom kuier nie?” Hy vee liggies met sy hand oor haar sitvlak. “Ek wil jou net nooi om vanaand te kom eet. Dit voel my ek het jou jare laas gesien.”
“Jy kom nooi my om vanaand by jou te kom eet, en toe ek nie hier is nie, soek jy sommer ’n bietjie moeilikheid met my baas.”
Hy kyk na die deur in die hoek en glimlag. “Ons het net ’n lekker geselsie gehad. Ons twee is ou tjommies.” Hy raak aan haar hand. “Toe, sê jy sal vanaand kom eet.”
“Ek weet nie. Ek moet eers huis toe, en gaan kyk hoe dit met my ma gaan.” Sy onthou skielik sy wou nog haar ma gebel het. “En Clive het my vir ’n dop geskiet.”
Albert kyk na Clive. “Wil jy hê ek moet rang trek hier?”
Clive kyk na Ellie. “Sorry, daai dop sal moet wag.”
“The story of my life.” Sy kyk na Albert. “Ek móét eers na my ma toe gaan.”
“OK, maar kom wanneer jy klaar is.” Hy kyk na die bord. “Is julle nog steeds met die klomp etterkoppe besig?”
“Ek weet julle deel nie graag nie, maar jy het nie dalk êrens ’n stukkie skinder raakgeloop nie?” wil Clive weet terwyl hulle al drie na die bord kyk.
Albert skud sy kop. “Die probleem is dat hulle semi-permanent besig is om kak aan te jaag. ’n Mens is nooit regtig seker wat is ou nuus en wat is vars nie. Maar ek belowe as ek iets hoor, sal ek julle laat weet.”
Clive steek skielik sy hand uit. “O ja, baie geluk met die bevordering. Ek het nog nie kans gehad om dit persoonlik te sê nie.”
Albert skud sy hand. “Dankie. Dalk sal ek nou ’n verloofring kan bekostig.”
“Is julle …?”
Ellie skud haar kop. “Ignoreer hom. Hy yl.”
Hy mik om weer aan haar sitvlak te vat, maar sy tree weg en hy lag hardop. “Sy is net skaam.” Hy kyk na die ander leë lessenaars, en soen haar dan vlugtig op die wang. “Sien jou later. Clivie, kyk mooi na haar.”
Clive kyk hom agterna toe hy wegstap. “Jy gaan jou nog eendag so hardegat hou, dan stap ’n ander girl met hom weg.”
“Ja, Pa. Kom, konsentreer nou.”
Toe hulle na ’n uur nog nie veel gevorder het nie, besluit Clive om eers ’n paar ander take te gaan afhandel. “As ek jou nie weer vandag sien nie, praat ons môre verder. Ek sal intussen ’n paar kontakte bel en hoor of hulle nie iets nuuts het nie.”
Ellie sit die pen neer en stap na die kantoor in die hoek. Sy klop en wag tot daar ’n antwoord kom voor sy haar kop om die deur steek.
“Ek is eers weg. Ek wil gou iemand in Seepunt gaan sien.”
Zondi kyk nie op nie. “Orraait.”
Ellie is besig om die deur toe te trek, toe Zondi na haar roep. “Did Greyling talk to you?”
“About what?”
“Never mind. See you later.”