Читать книгу Rivierplaas: Alba Bouwer-omnibus - Alba Bouwer - Страница 10

’n Oggend in die Vakansie

Оглавление

Alie hoor eendag juffrou Barnard sê vir tant Lenie: “Ag, hoe bly is ek tog oor die skoolvakansie wat aankom, dan kan ’n mens tog weer lekker laat slaap.”

Dit kan Alie glad nie verstaan nie. As dit skooltyd is, is dit vir haar tog te swaar om soggens op te staan as ou-Melitie haar roep, maar as dit vakansie is, dan kan sy soggens nie wag dat ou-Melitie haar koffie met die twee lepeltjies en nog ’n bietjie suiker moet bring nie. Elke dag van die vakansie voel vir haar soos die perdekar wat net wil-wil wegry dorp toe voordat sy al opgeklim het. Daar is sulke baie lekker dinge om te doen as dit vakansie is, en Alie is altyd bang as sy nie gou opstaan nie, sal die dag sommerso omblaai soos ’n storieboek se bladsy voordat ’n mens al die sinne klaar gelees het.

Die eerste ding en die lekkerste ding van ’n vakansiedag is dat sy nie in die oggend aan die tafel hoef te gaan sit en eet nie. Solank tant Lenie en oom Jan en Hennie aan tafel sit en eet, maak Alie haar bed op en sy maak tant Lenie-hulle se ou groot bulsakbed op, net soos ou-Melitie haar geleer het. As die yslike ou vereberg omgekeer is op sy ander kant, trek sy die ronde stok by die voetenent uit en stryk die bulsak van hoek tot kant mooi glad en gelyk.

“Nonwe Alie, jy mot vee-vee by darrie bed tot sy staan sos die grasveld, moi gelyk, nie tot sy stan sos die koppietjie nie,” het ou-Melitie haar geleer. Nou kan Alie dit al so kry soos die grasveld, mooi reguit en gelyk.

Net soos sy die laaste kussing so woep-woep geklop en neergesit het, glip sy by die voordeur uit, oor die stoep en om die huis se hoek en dan gaan sy staan, sommer net staan om sommer net te kyk: in die sonkol langs die huis se symuur staan die swart pappot met die wit pap soos wit heuweltjies daarin, en daarby die blou bakkie met die bruin vleissous in. Langsaan sit ou-Melitie, lekker langbeen met klein-Melitie by haar voete en Sanna langs haar linkerarm. Doodstil sit hulle, en ou-Melitie kyk ver weg, asof daar g’n stuk pappot staan nie. Net soos Alie om die hoek kom, roep ou-Melitie net so ver weg soos sy kyk oor die perskebome in die tuin: “Nonwe Alie! Nonwe Alie! War es nonwe Alie?”

Dan gee Alie sulke kort eenbeensprongetjies, oor ou-Melitie se reguit bene, en klaps val sy langs klein-Melitie neer.

“Hier is ek!” sê sy en sy skop haar beentjies net so lankuit soos ou Melitie s’n, sit haar voete oorkruis en trek-trek aan haar rokkie om dit ook so tot oor die enkels te kry, net soos ou-Melitie s’n. Dan sê ou-Melitie: “Jôna whê! Ek soek vor nonwe Alie ver, maar sy set naby. Lat stan darrie rokkie, nonwe Alie, sy sal skeur. Sos sy’s grot, jou bentjie sy sal dek word, jou rokkie sy sal lank wees. Die son sy moet skyn by darrie bentjie, lat stan nou die rokkie.”

Almal op Rivierplaas weet hoe graag wil Alie lang dik vlegsels hê, almal, van ou Hoppies af tot by Kappie, die ryperd, want sy het al vir almal daarvan vertel. Maar van Alie se beentjies – niemand weet dit nie, nie tant Lenie nie en nie die rooibont hoendertjies nie – nee, niemand met wie sy baie gesels, weet dit nie, net ou-Melitie. Net vir ou-Melitie sê sy party dae: “Ou-Melitie, hoekom is my beentjies so dun? Ek wil so graag ronde beentjies hê, vet beentjies soos Sanna en klein-Melitie.”


Dan sê ou-Melitie: “Ronne bentjie, sos Sanna en klein-Melitie? Hoekom jy wel die ronne bentjie hê, nonwe Alie?”

Dan sê Alie: “Omdat Attie Poen by die skool gesê het my beentjies is so dun dat hulle my spykerboud moet noem.”

Dan vat ou-Melitie aan haar kopdoek, net daar waar sy haar blikkie snuif bêre, en sy sê: “Nonwe Alie, sos sy sê weer vor jou so, nou jy sê neks, jy loop net weg by darrie kend. Jou bentjie sy sal dek word, moi dek van die son sos jy word grot. Jy moet nout nie denk by darrie bentjie nie. Sos jy denk by darrie bentjie, hulle bly den, sos jy vorgeet darrie bentjie, hulle word dek.”

Nou probeer Alie om nooit aan haar beentjies te dink nie, maar as sy soggens so langbeen soos ou-Melitie by die pappot gaan sit, dink sy darem vinnig een groot dink oor haar beentjies wat so wit en so dun is langs klein-Melitie en Sanna se ronde swart beentjies. Dan sê ou-Melitie: “Nonwe Alie, jy moet eet,” en sy gee vir Alie ’n lepel. Met haar lepel skep Alie ’n mooi klontjie pap uit die pot, rol dit tussen haar hande in ’n bolletjie, steek dit vinnig in die bakkie vleissous wat langs die pappot staan en lig haar kop op voordat sy die bolletjie in haar kies steek, net soos ou-Melitie maak. Ná Alie skep ou-Melitie ’n lepel vol uit en rol vinnig drie bolletjies, een vir klein-Melitie, een vir Sanna en een vir haar. “Trienge-rienge, trienge-rienge,” sê ou-Melitie se armbande as sy die bolletjies rol, en “tjeks” sê hulle as sy haar kop oplig en haar arm oplig en die bolletjie in haar kies steek. Almal moet lank en stadig kou, jy moet so amper tot by twintig tel voordat jy weer ’n bolletjie vat, dit het Alie al agtergekom, anders sê ou-Melitie: “Sos jy eet so vennag, jou bentjie sy word nie dek nie, nonwe Alie.”

Lekkerder as konfyt en brood is hierdie bolletjies poetoe-pap met die lekseltjie vleissous om, maar net so lekker soos die bolletjies pap is die monde vol gesels met ou-Melitie, want dis die enigste kere dat ou-Melitie nie haastig is nie. Een gesels waaroor Alie graag so langs die pappot met ou-Melitie gesels, is Brakfontein. Brakfontein is die plaas net anderkant oom Jan se mielielande en anderkant ou-Melitie-hulle se kraal en anderkant die twee weikampe, en op Brakfontein woon Ouma en haar dogter tant Sannie en Ouma se kleindogter Cillie, wie se ma ook Ouma se dogter was, maar nadat sy dood is, het Ouma vir Cillie gekry om groot te maak. Hulle drie woon op Brakfontein, en elke aand voor sononder vat oom Jan vir Kappie en hy ry oor die bult tussen die mielielande deur na Brakfontein toe om te gaan kyk of alles daar goed gaan. En as oom Jan en tant Lenie Bloemfontein toe gaan, neem hulle Hennie saam, maar dan bly Alie op Brakfontein sodat sy nog kan skoolgaan. Oor Brakfontein gesels Alie graag in die oggend langs die pappot.

“Ou-Melitie,” sê sy tussen twee bolletjies pap deur, “Brakfontein is net so mooi soos ’n prentjie in ’n storieboek. Kyk, die huis se dak is plat en dis so stuk-stuk gemaak, net soos ’n pampoenrank wat al die kante toe rank. En dis groter as ons huis, en in die winter lê daar altyd boerpampoene op die dak.”

Dan sê ou-Melitie: “Darem ons huis hier by Rivierplaas sy’s banja moi, nonwe Alie.”

“En op Brakfontein is ’n groot gronddam met twee wilgerbome met vinkneste en ’n populierbos,” sê Alie.

Emily van ou Hoppies sal sommer sê: “Jy het banja geprat van darrie polierbos, nonwe Alie. Ek wel nie weer hor by darrie bos nie.”

Nie ou-Melitie nie! Nee, sy sê: “Die polierbos, nonwe Alie, hoe lyk sy nou?”

“In die somer is die populierbos so silwer en so groenerig soos die sy van die ou rok van Oumagrootjie wat hier in die wakis in die kamer lê, en dan sê die windjie ‘sjlirr sjlirr’ daardeur. In die herfs is die populierbos geel, nie geel-geel soos die son nie, ou-Melitie, ook nie rooigeel soos die vuur nie, maar sommerso, sommerso …”

“Polierbos se gel,” sê ou-Melitie, en sy rol vir Sanna nog ’n papbolletjie.

“Ja, populierbosgeel,” sê Alie. “As jy dan by die damwal staan en luister, sê die blare “tik-tik” soos hulle afval in die bos. En in die winter lyk die populierbos so dun en so, so …”

“Sos die meswollekie,” sê ou-Melitie, en sy rol sommer vir Alie ook ’n bolletjie pap.

“Ja, net soos ’n miswolkie, so is dit in die winter,” sê Alie. “Ag, ek weet nie wanneer is die populierbos die mooiste nie. Hoe dink jy, ou-Melitie?”

“Nou die garingboom, hoe lyk sy, nonwe Alie?” sê ou-Melitie, want sy weet ook nog nie wanneer is die populierbos die mooiste nie.

“Die garingbome is so groen en so grys en hul nekke is so lank boontoe en dan sit die saad so in ’n bruin tros boaan. Hoekom het ons nie garingbome en turksvye op Rivierplaas soos op Brakfontein nie, ou-Melitie?” vra Alie.

“Rivierplaas sy het nie die garingboom nie en sy het nie die tollafieja nie, nonwe Alie, maar sy het die doringboom waar die mossietjie sy skree,” sê ou-Melitie, en sy rol vir Alie nog ’n bolletjie pap. Alie kan nooit oor Brakfontein praat en onthou om bolletjies pap ook te rol nie.

“Dan pluk ou Hoppies vir Ouma die turksvye met sy lang haakstok en kry ons ook ’n blik vol. Wanneer is dit weer turksvytyd, ou-Melitie?” en Alie gril van die lekkerkry oor die turksvye en die klein vaal dorinkies wat so seer steek.

“Sos die blek sy es vol varkvet om by jou handjie te smeer vor die dorring, dan sy es die tyd van die tollafieja,” sê ou-Melitie. “Nou jy moet jou poetoe-pap eet, nonwe Alie. Jou bentjie sy sal nie dek word nie.”

“By Ouma se voordeur op Brakfontein is ’n vieruurboompie wat pers blommetjies en wit blommetjies en spikkelblommetjies almal aan een boompie dra,” sê Alie. “En wat is daar nog?”

“Kleinnoi Cillie sy es ok dar en sy het die twee dek vleggesel,” sê ou-Melitie.

“Cillie se vlegsels lyk soos die groen mielies se baard net voordat hulle ryp word,” sê Alie. “Die populierbos en Cillie se vlegsels is die mooiste goed op Brakfontein.”

“Die doringboom en nonwe Alie se bentjie wat sy word dek van die son en die poetoe-pap sy es die moiste op Rivierplaas,” sê ou-Melitie.

“En langs Brakfontein se pad wat na die Jansens toe loop, is die draadkampie met die grondgraf in,” sê Alie. “Dis nie toegemessel of met ’n steen op nie, dis net sommer ’n grondgraf met ’n draadkampie om. Dis die wonderlikste ding op Brakfontein. Hoekom is dit die wonderlikste ding op Brakfontein, ou-Melitie?”

“Want die Ingelsman sy es by darrie graf, nonwe Alie, die Ingelsman wat sy es gaskiet by die Boeroorlog. Hoekom jy lat stan nie darrie graf van die Ingelsman nie, nonwe Alie?”

“In die vrykamer van Ouma se huis op Brakfontein is ’n bruin kol op die plankvloer en dis die bloed van daardie Engelsman wat daar dood is. Tant Sannie sê tog so,” sê Alie en sy skuif sommer nader aan klein-Melitie, wat doodstil haar bolletjies pap sit en eet.

“Nonwe Alie,” sê ou-Melitie, en sy hou sommer op om bolletjies pap te rol vir Sanna en vir klein-Melitie en vir Alie en vir haarself. “Nonwe Alie, sos jy bly weer anner week by die ouma, jy moet moi hoor vor die ouma. Die ouma, sy’s banja oud, sy word siek van die stout kend. En jy moenie darrie storie van die Ingelsman by ouma Sannie vra nie. Sos jy luister darrie storie by ouma Sannie, jou kop sy word vol van die banja deng en jou hart sy word vol van die banja bang. Nou jy droom van die lelik deng, nou jy skree, nou die ouma sy moet opstaan by die koud.” Trienge-rienge, trienge-rienge gaan ou-Melitie se koperringe om haar arm soos sy met die lepel op die pappot se rand kap.

“Maar, ou-Melitie, ek kan nie help nie,” sê Alie. “As ek op Brakfontein is, wil ek die storie van die Engelsman hoor. Ek kan nie help nie.”

“Jôna whê,” sê ou-Melitie en sy rol weer ’n bolletjie pap. “Darrie storie sy’s nie goed nie, nonwe Alie.”

“Maar ek sal nie weer in die nag by Ouma skree nie,” sê Alie.

“Des moi,” sê ou-Melitie. “Mar jy sal vor my denk sos jy bly by die ouma?”

En net daar op die plek lyk Brakfontein se kuier nie meer vir Alie so mooi nie. Ou-Melitie sal dan nie daar wees nie. Die hele kuier voel nou soos ’n storieboek wat jy lekker lees en dan is die een bladsy weg. Oom Jan en tant Lenie en Hennie is ook nie daar nie, maar Ouma en tant Sannie en Cillie is mos op Brakfontein so goed soos die ander mense op Rivierplaas, maar niemand is so goed soos ou-Melitie nie.


“Ou-Melitie,” sê Alie en sy skuif vas teen ou-Melitie se bene. “Sal jy elke oggend voor die stroois staan en vir my waai as ek saam met Cillie op die donkiekarretjie verbykom skool toe? En sal jy elke middag by die hek staan as ons van die skool af kom? En sal jy party dae vir my gom bring, hè, ou-Melitie?”

“Jôna whê!” sê ou-Melitie. “Ek sal stan vor by die stroois en ek sal wag by die hek, nonwe Alie. En by die aand ek sal vor jou denk. Mar sos jy skree oor die storie van die Ingelsman, ou-Melitie sy sal nie vor jou denk nie. Pakisa, Sanna, ons eet es klar.”

Tjienks! sit Alie haar lepel in die leë pappot en tjienks! sit ou-Melitie haar lepel in die pappot. Nou kry Alie haar wit bekertjie water om haar mond uit te spoel, dan spoel ou-Melitie haar mond uit met ’n slukkie uit die blou beker.

“Ou-Melitie!” roep tant Lenie by die kombuisdeur. “Is julle nog nie klaar nie? Wat is dit weer vanoggend met jou en Alie?”

Ou-Melitie se rok maak sulke kort bogies om haar enkels soos sy met die pappot om die hoek draf.

By die kombuisdeur kry Sanna en klein-Melitie elkeen ’n stukkie brood en perskekonfyt en Alie kry ’n koppie melk. Dan sit sy dit op die kliptrappie voor die kombuisdeur en drink en sy kyk hoe Sanna en klein-Melitie by die melkkamer se deur die dopemmertjie vol melk by ou Hoppies vat en die voetpaadjie afstap strooise toe. Die vier ronde swart beentjies blink in die son, en Alie wil net haar wit beentjies voor haar uitskop om nog ’n slag te kyk, dan sê ou-Melitie agter haar: “Nonwe Alie, sos jy vee vor my die stoep, jy sal vamerrag saam loop by die rivier.”

Dan gryp Alie die ou skewe stoepbesem by ou-Melitie en sy spring in die rondte met die besemstok se punt op haar een handpalm en die besem in die lug.

“Vakansie! Lekker vakansie!” skree sy so hard dat ou Piet, die ou grys kat, net een spring gee en verskrik agter die rondaweldeur op ’n hopie gaan sit.

Rivierplaas: Alba Bouwer-omnibus

Подняться наверх