Читать книгу Rivierplaas: Alba Bouwer-omnibus - Alba Bouwer - Страница 14
Die Portret
ОглавлениеOp ’n oggend toe Lulu langs die draad afkom vir die skool toe gaan, kom Alie na haar toe aangehardloop met sulke kort, kort sprongetjies.
“Jy lyk net soos Koos Janse se ou maer donkie in die swaar weer. Kan ek drie raaie kry?” sê Lulu, want as Alie die oggend nie by die hoekpaal bly wag nie, is dit omdat sy iets het om te vertel.
“Ja, eerste raai!” sê Alie en sy dans al in die rondte in die pad.
“Daar kom môre weer ’n kissie van die Boland,” raai Lulu.
“Uit, uit,” sê Alie. “Nog twee.”
“Jou ma het gesê jy kan maar lang hare kry vir vlegsels.”
“Uit, uit,” sê Alie, “nog een.”
“Jy gaan saam met ou-Melitie Basoetoland toe as sy nou weer huis toe gaan,” raai Lulu haar laaste raai.
“Oe!” sê Alie en sy vergeet heeltemal om te sê: “Whê, al drie verkeerd!” Net Lulu sal so ’n ding raai soos Basoetoland toe gaan saam met ou-Melitie, sy raai altyd sulke snaakse raaie.
“Hoekom sê jy dan nou nie?” sê Lulu, en sy stap sommer vinniger.
“Al jou raaie is verkeerd,” sê Alie. “Ou-Melitie gaan een van die dae weer Basoetoland toe, en nou gaan ons almal Saterdag dorp toe en by die afnemer gaan ons afgeneem word, ek en Hennie en ou-Melitie en as jou ma sê ja, gaan jy ook saam. Sal jou ma ja sê, Lulu?” en Alie dans weer al in die rondte, al in die rondte in die pad.
“Ek sal sê Tonie moet vra,” sê Lulu, “dan sal sy ja sê. Ek sal jou sê, Alie, ons leen een van my suster se sydoeke, dan draai ons dit so om ons skouers en ons sit so, met een hand voor die bors,” en Lulu gaan staan in die pad en hou haar kop so skeef met haar oë so omgedop boontoe.
“Nee, dis niks mooi nie,” sê Alie. “Ek gaan my blou valletjiesrok aantrek en my nuwe swart skoene met die blinkleer-strikke, en dan gooi ek op my sakdoek van die ruikie wat tannie Magriet vir my gestuur het en ek steek die sakdoek so in my mou dat dit ’n stukkie wys.”
“O toggie,” sê Lulu en sy klap so woeps-woeps op haar boeksakkie so lekker lag sy. “Die ruikie sal mos nie op die portret wys nie. O toggie, Alie, jy is darem dom!”
Net toe lui die skoolklok onder in die laagte, en die twee vlieg soos twee springhase teen die skuinste af om in die ry te gaan staan voordat die klok sy laaste “tong” sê.
Elke oggend as hulle nou skool toe stap, praat hulle eers oor hoeveel nagte hulle nog moet slaap voor Saterdag, en dan praat hulle oor hoe dit die mooiste sal wees, om te staan of te sit vir die portret.
Elke aand by die voetewas praat Alie en ou-Melitie net van die portret, en as ou-Melitie Alie se voete in die strepieshanddoek toevou, sê sy: “Nonwe Alie, sos ek loop by my land anner week, jy sal nie banja huil nie, jy sal kyk by darrie pôtrette, nou ek sal loop by my land, ok ek sal set hier by jou by Rivierplaas by darrie pôtrette. Jy sal moi bly, nonwe Alie?”
“Ja, ou-Melitie, ek sal mooi bly as jy góú sal terugkom,” sê Alie.
“Sos jy bly nie moi nie, ek sal my oog toemaak by darrie pôtrette, ek sal nie by jou kyk nie,” sê ou-Melitie.
So gesels hulle elke aand by die voetewas. En saans voordat Alie haar kers doodblaas, spring sy gou uit die bed uit en gaan staan nog ’n slag voor die spieël om nog ’n slag haar gesig op die plooi te trek wat dit op die portret moet hê: haar mond moet toe wees, maar dit moet lyk of sy agter haar tande lag, en haar oë moet so nou trek soos een wat baie ver kyk. By Ouma op Brakfontein is ’n portret van Emily Hobhouse, die goeie Engelse vrou van die Boereoorlog, en Emily Hobhouse kyk net so op daardie portret. Maar net ou-Melitie weet daarvan, en net ou-Melitie weet ook dat Alie nog nie weet hoe sal sy met haar arms maak nie. Emily Hobhouse het sulke lang moue aan met kantvalle om, en haar hande is so gevou, maar Alie se blou rok het kort, kort moutjies, en nou lyk die arms daarin so lank en dun as hulle hang en so slap as hulle op haar skoot lê.
Maar ou-Melitie het een aand gesê: “Die meneer wat sy mak die pôtrette, ons sal hom vra of hy het nie die kaatjie of die hondjie of die dengetjie wat jy kan so by die arm hou nie. Sos jy hou so die dengetjie by die arm, hulle sal nie so hang nie, nonwe Alie.” Toe het ou-Melitie weer so aan haar kopdoek gevat, net daar waar sy die plat blikkie snuif bêre, en sy het haar oë styf toegeknyp, net soos een wat amper nies of amper lag, maar Alie was tog te bly dat sy geweet het hoe sy sal maak dat haar arms nie lank en dun en slap lyk nie. Saans voor die spieël trek sy dan eers haar gesig soos Emily Hobhouse s’n en dan hou sy haar blou woltrui in haar arms, soos sy die afnemer se katjie of hondjie sal vashou. En bedags as niemand naby is nie, tel sy ou Piet, die ou grys kat, op waar hy agter die rondawel in die son lê en slaap en hou hom ook so ’n slaggie vas om haar arms mooi gewoond te kry daaraan.
Dis nog sommer halfdonker Saterdagoggend toe Jantjies die kar tot voor die deur bring en Alie en Lulu help om in te klim en op die agterste bankie te gaan sit. Dan klim ou-Melitie in met haar nuwe blou sisrok en wit hempie en ’n splinternuwe rooi kopdoek om die kop, en sy gaan sit tussen Alie en Lulu op die agterste bankie. Oom Jan tel Hennie in op die voorste bankie en tant Lenie klim in. Dis vir Alie so mooi om te sien hoe vat tant Lenie haar stofjas se punte voor so bymekaar as sy opklim, en al die tyd dat sy inklim en gaan sit, praat sy na die kombuisdeur se kant toe: “Emily, moet tog nie die sifdeur laat oopstaan dat die kombuis weer swart van die vlieë word nie, hoor, en kyk na die siek hoender in die agterste kampie, en bind die doek mooi styf om die roomkom, ek wil nie moeilikheid hê as ons vanaand kom nie. Ou-Melitie, het jy nou die botter en die kissie eiers in die karkis gesit en ou-meneer Jakkies se stukkie vleis? Alie, kyk of tant Wiesie Griesel se stukkie boerseep agter by julle lê, dit het amper vergeet gebly. Die arme mens, ek weet ook nie meer wat ek vir haar kan saamneem nie.”
Dan klim oom Jan op, trek sy stofjas glad onder hom en gee die leisels so ’n effense plukkie dat Doppie en Sopie vinnig wegtrek en Alie en Lulu eintlik agteroor steier op die agterste bankie. Alie maak haar oë styf toe en dan luister sy: as die kar se wiele nie meer so sjlif-sjlif maak nie, maar so ghwirr-ghwirr, dan weet sy hulle is deur die werfhek en op die grootpad waar die gruis lê. Netnou gaan hulle by die bloublommetjies-koppie verby waar die mispels groei en dan by die drie pendoringbome wat links van die pad staan, en dan kom hulle by oom Attie se plaas waar die mooi dam is. Klip-klap, klip-klap gaan Doppie en Sopie se pote op die pad, en kloppe-kloppe-kloppe maak die draaghout, met Sopie se pirr-pirr tussenin soos hy proes in die oggendlug. Lulu sit penregop en doodstil anderkant ou-Melitie, met haar hande diep in haar rooi jassie se sakkie. Alie weet, as oom Jan en tant Lenie by is, sal Lulu tog nooit praat nie. Dis net soos in die skool as grootmense by is, dink Alie altyd, dan kan ’n mens nie eens lekker met ou-Melitie praat nie.
Kloppe-kloppe-kloppe maak die draaghout, en Alie stoot haar hoedjie agtertoe en sit haar kop teen ou-Melitie se arm. Lekker ruik ou-Melitie na strooisrook en boerseep, en lekker sag is ou-Melitie se arm, en dit voel vir Alie of Doppie en Sopie se poteklap en die draaghout se klop al verder en verder wegdryf, al verder en verder …
“Toe-toe,” sê oom Jan, “waar is die meisies wat dorp toe gekom het vir portret neem? Dit lyk my hulle het by die bloublommetjies-koppie al afgeval.”
Alie sit regop en vryf haar oë. Waar is hulle dan nou? Waarlik voor die tuishuis waar hulle ’n tuisgaankamer het, op die dorp, onder die hoë bloekomboom waar oom Jan altyd stilhou! Toe Alie laas gekyk het, was hulle skaars by oom Attie se groot dam. Lulu se oë is ook vaal van die slaap, en ou-Melitie vryf haar arms waar die wit kop en die swart kop so styf lê en slaap het.
Ou-Melitie help hulle afklim, en Alie se bene voel styf en koud van die lang stilsit. Tant Lenie stap solank met Hennie oor die straat, en ou-Melitie maak die karkis oop om vir oom Jan die botter en eiers vir die winkel uit te haal. Woerts! wip iets by ou-Melitie se gesig verby en soos ’n vaal streep langs die kar af.
“Jôna whê!” sê ou-Melitie en sy slaan amper agteroor. “Piet! Wie sy’t vor Piet by die kassie gelaai?”
Alie se styf en koud is sommer oor soos sy skrik: sy het ou Piet skoon vergeet!
“Hygend hert der jagd ontkomen,” sê oom Jan. ‘Alie, wie se werk is dit?”
Alie kyk net een keer op en toe sit sy Piet agterna. Oor die straat, oor ’n watersloot en al op die sypaadjie klap haar nuwe skoene agter Piet aan. Ou-Melitie vat haar lang rok bymekaar, klim van die kar af en draf agterna, by Alie verby dat haar sisrok sulke kort draaitjies om haar enkels maak. Lulu staan soos ’n soutpilaar, te bang om te roer of na oom Jan te kyk.
“Alie!” roep oom Jan. “Kom terug, netnou ry ’n kar jou nog om,” en Alie hoor hoe rooi is sy stem.
“Alie!” roep tant Lenie van die ander kant van die straat af. “Alie! Kom dadelik terug. Hemel, Jan, loop keer tog die kind. Lulu, kom hou hier Hennie se hand dat ek self gaan.” Lulu spring gou oor die straat en gaan vat Hennie se hand, en tant Lenie gaan op ’n kort stywebeendraffie op die sypaadjie af dat haar stofjas so uitswaai agter haar. Heel voor is Piet, wat kort-kort verskrik teen ’n heining gaan sit, maar net soos ou-Melitie naby hom kom, met lang hale vorentoe spring. Kort op ou-Melitie se hakke draf Alie, uitasem en doodverskrik, want sê nou hulle kan Piet glad nie weer vang nie? En agter haar aan kom oom Jan en tant Lenie, en hulle roep so ver soos hulle loop: “Alie, laat staan die kat en kom terug. Ou-Melitie, draai om! Laat staan vir Piet!”
’n Entjie laer af in die straat is ou Yudelman se winkel, waar tant Lenie altyd koop, en tussen die mieliesakke en velle op sy winkelstoepie staan ou Yudelman self, met sy pers potlood agter sy oor en sy onderbaadjie wat so wip oor sy maag.
“Maai taait, miester Nietling, khoeten morgen! Wat harkloep julle allemaal soe agter die katjie? Pietrus! Pietrus! Kom vang for miester Nietling die katjie.”
Agter een van die mieliesakke kom Petrus uit en kyk straataf na waar ou-Melitie so draf, spoeg ’n slag oor sy skouer en hardloop met lang hale agterna, by ou-Melitie verby en tot waar Piet sukkel om deur ’n heining te kruip. Hy gryp net een gryp, toe het hy Piet aan die stert en hy sleep hom onder die heining uit.
“Jôna whê!” sê ou-Melitie, en sy vee haar voorkop met die agterkant van haar hand af voordat sy die kat by Petrus vat. “Tanki. Jô, nonwe Alie, hoekom jy’t nie by my gasê van Piet nie?”
Alie se oë is groot en verskrik, en sy loop styf teen ou-Melitie terug na die plek toe waar oom Jan en tant Lenie met Yudelman staan en praat.
“Dis op sulke dae dat daar sommer ’n blinde sambok moet uitspring en moet klop onder die kinders, dis waar!” sê tant Lenie.
“Kienders ies ghenou wie baviane, miesies Nietling,” sê ou Yudelman, en hy lag dat die horlosieketting oor sy vet maag skommel-skommel swaai. “Aber, ons moet wiet ons was ghenou soe als ons kienders was. Alie, jy word ’n groete meisie, jy moet vanmiddag vir jou weer kom haal leë boksies, hoor.”
“Sê dankie, meneer Yudelman, Alie,” vermaan oom Jan, en Alie sê gou dankie en stap dan doodstil saam met ou-Melitie na die kar toe waar Lulu en Hennie staan en wag.
“Piet het weggehardloop,” sê Hennie, en Lulu sê gou: “Hennie, kyk daar ry ’n seuntjie op ’n driewiel. Dis ’n mooi driewiel, nè?” En Alie is alte bly dat Lulu daar is en dat Lulu ook weet hoe is klein broertjies, want sy het mos self een wat so oud soos Hennie is. Oom Jan en tant Lenie kom agterna, en Alie hoor tant Lenie sê: “Dis nou seker vir die afnemery dat die kat ingesmokkel is. Dis waar, wat nog van die Alie moet word met al haar dingetjies, weet ek nie. Maar moet nou maar niks sê nie, Pa.”
Niemand praat weer ’n woord van ou Piet nie, en ou-Melitie sorg dat hy in een hoek van die tuiskamer bly en ’n pierinkie melk kry toe hulle biltong en brood eet en koffie drink. Toe kam tant Lenie Alie en Lulu se hare, stoot Hennie se kuifie reg, en daar stap hulle na die afnemer toe. ’n Entjie agter hulle in die straat kom ou-Melitie met Piet mooi in haar voorskoot vasgevat.
Agter die dorpsapteek is die groot kamer waar die apteker die portrette neem, en dis vir Alie te lekker dat hulle so deur die apteek met die lekker ruik stap na die afneemkamer toe. Daar is so baie groot prente van vensters met roostakke voor teen die muur en in een hoek staan die groot gedoente op drie pote met die swart doek bo-oor. Ou-Melitie moet met Lulu en Alie en Hennie daar wag solank oom Jan en tant Lenie met die apteker gesels, en Alie voel nou skielik hol op die maag soos voor ’n tand se trek toe sy die driebeen-masjien met die doek oor sien. Sy gaan staan styf teen ou-Melitie.
“Kom, kom,” sê die vet aptekertjie van die deur af, “ons vat eers die drie kinders met die bediende,” en hy begin bankies regstoot. Ou-Melitie moet op die bankie sit met Piet op die skoot en Hennie langs haar, en aan haar ander kant staan Alie en Lulu. Hy stel hulle reg en duik dan onder die swart doek in. “Dogtertjie, jy met die swart hare, ja, staan bietjie meer regop, so ja.” Alie kan glad nie verstaan hoe kan hy hulle onder die doek uit sien nie, dan sê hy: “Dogtertjie met die wit hare, ja, staan nader, so ja. Lag nou mooi, kom, seuntjie, lag nou mooi, kyk hier kom die voëltjie, kyk nou!”
“Alie, moenie so ’n gesig trek nie,” sê tant Lenie, “jy lyk glad pestakel.”
“Klieks,” sê iets, en die aptekertjie duik onder die doek uit. “Dankie, dankie! Bly net so sit, net so, kyk die voëltjie, daar’s hy!” en “klieks” sê dit weer.
Alie het nog glad nie eens haar oë en haar mond so mooi soos Emily Hobhouse s’n reggekry nie en sy het ou Piet nie eens vasgehou nie, toe is die eerste portret geneem. Maar toe sy en Hennie alleen afgeneem word en toe weer sy en Lulu, toe kyk ou-Melitie dat sy Piet mooi in die arms hou. Voor sy weet wat gebeur, is alles klaar en stap hulle terug na die tuiskamer toe. Nou wens Alie net die ure en die dae wil verbygaan dat hulle die portrette klaar kan sien.
Vier dae moet hulle wag voordat die poskar van die dorp af die portrette by Lulu se pa se winkel kom afgee. Soos ’n klomp bye aan ’n heuningkoek hang Alie en Lulu aan tant Lenie toe sy die koevert oopskeur en die portrette uithaal.
“Hede,” sê tant Lenie, “hoekom trek julle dan almal sulke gesigte? Kyk hier, Alie, jy lyk glad anders hier.”
Alie kyk – dis die een waar sy onthou het om soos Emily Hobhouse te kyk en te lag. Dit lyk glad nie soos Emily Hobhouse nie, haar gesiggie lyk soos ’n ou droë persketjie.
“Ou Piet het waarlik die beste van almal gekom,” sê tant Lenie. “Ou-Melitie lyk self nie sleg nie.”
“Jôna whê,” sê ou-Melitie, “nonwe Alie sy lyk moi by hierie een, nonwe Lulu ok, maar my gaseg hoekom sy lyk so den? En hier by Hennie, hoekom jy lyk so sonder lag, nonwe Alie?”
“Alie wou seker soos die dominee se vrou lyk,” sê Lulu, en Alie steek vir haar ’n lang tong uit agter tant Lenie se rug.
“Die armpies lyk moi so by Piet,” sê ou-Melitie, en sy knyp haar oë weer styf toe soos een wat amper lag of amper nies.
’n Week daarna staan Alie vroeg op om ou-Melitie te groet voordat sy en Aron en klein-Melitie en Sanna Basoetoland toe gaan. Toe hulle amper om die draai by die bloublommetjies-koppie gaan, draai ou-Melitie haar nog om om weer vir Alie te waai. Alie wil-wil net droog en styf in die keel word, toe onthou sy die portret wat voor haar bed op die kassie staan. Nou kan sy elke oggend en elke aand van die maand wat ou-Melitie weg is na die portret kyk en met ou-Melitie gesels. Nee wat, dan hoef sy mos glad nie te huil nie, en sy lig die groot kombuisvadoek op en waai vir ou-Melitie ’n laaste lang waai.