Читать книгу Rivierplaas: Alba Bouwer-omnibus - Alba Bouwer - Страница 13

As die Skeerders Kom

Оглавление

Op ’n Maandagoggend toe Alie nog sit en eet, roep ou-Melitie haar na die eetkamervenster toe: “Kyk wie loop daar, nonwe Alie.”

Alie kyk na die grootpad wat dorp toe loop, en net waar die pad tussen die twee klipkoppies deur wegraak, kom vier Basoeto’s aangestap.

“Die skeerders!” skree Alie, en sy word so bly dat haar maag heeltemal anders voel, so asof dit skielik nie meer daar is nie, en nou wil sy ook sommer nie meer eet nie. Sy het lankal gehoor oom Jan sê hy het die skeerders gaan soek, maar Alie vergeet al die stories van die skeer totdat sy op ’n dag die vier Basoeto’s tussen die twee koppies deur sien kom. Dan, weet sy, is dit skeertyd op Rivierplaas, en dis amper so lekker soos skoolvakansie of ’n kissie van die Boland. Die week as dit skeertyd is, het Alie nooit een som in die skool reg nie, en haar hele kop is deurmekaar, want sy wag net dat dit moet middag word, sodat sy kan huis toe gaan en na die skeerdery gaan kyk.

Ou-Melitie praat niks meer van die etery nie, sy sê net: “Nonwe Alie, jy moet darrie koppie leeg maak van die skeer vandag, anders jy sal sleg loop by die skool.”

Die middag kom Alie en Lulu soos twee springhase deur die veld huis toe. Gou-gou eers ou rokke aantrek, skoene uittrek en eet, dan kan hulle na die skeerdery in die waenhuis gaan. Toe Alie by die waenhuisdeur kom, staan Lulu al daar. Langs die waenhuis is die houtkraaltjie waar die skape vol wol nog staan, en op ’n ry teen een muur sit die skeerders, die vier Basoeto’s wat die oggend gekom het, en ou Hoppies en Jantjies. Sammie moet by die deur staan, want hy moet kort-kort vir een ’n skaap gaan uitvang. Dit lyk vir Alie altyd te snaaks as ’n skeerder so wydsbeen sit en voor hom sit die ou skaap ook so agteroor met twee pote in die lug en twee pote op die grond en die wol rol so af oor sy maag, net soos die bruinwit skuim uit die seeppot as tant Lenie buitekant seep kook. Ghwier, ghwier, ghwier gaan die skêre, vinnig en deurmekaar, net soos ’n klomp paddas wat met skerp stemme saam sing.

Die vinnigste van almal skeer ou Joas, die ou Basoeto wat al wit knolletjies op sy kop het van oud word en wat elke jaar voor loop as die vier skeerders tussen die rantjies deur kom. Oom Jan het ’n seilsakkie vol lootjies, sulke kort wit stokkies, en elke keer dat ’n skeerder ’n skaap klaar geskeer het, kry hy een van die lootjies en hy steek dit in die bruin leersakkie aan sy gordel net langs die lus waar hy sy skaapskêr aan die gordel dra. In die middag as hulle uitval, tel oom Jan elkeen se lootjies en dan weet hy mos vir hoeveel skape moet hy elkeen betaal. Almal kry lootjies, almal, net nie ou Joas met die wit knolletjies nie. As ou Joas soggens begin skeer, sit hy ’n handjie vol droë bessiepitte in sy linkerkies, en elke keer dat hy ’n skaap opjaag en die arms vol wol in die baal gaan gooi, haal hy ’n bessiepit uit sy linkerkies en sit dit in die bruin leersakkie aan sy gordel. In die middag as hulle uitval, tel oom Jan dan ou Joas se bessiepitte, net soos hy almal se lootjies tel. En ou Joas skeer altyd elke dag die meeste skape. Die eerste keer toe daardie vier skeerders op Rivierplaas gekom het, het hulle saam met oom Jan agter die huis gaan hurk om akkoord te maak, en daardie dag het ou Joas sy bessiepitte gewys en van daardie dag af kry ou Joas nooit lootjies nie. Almal weet dit en almal dink dis goed so en almal op Rivierplaas is met ou Joas die danigste van al die skeerders.


Die skêre sing almal saam: “Ghwier, ghwier, ghwier,” en Alie en Lulu staan eers ’n rukkie stil in die waenhuisdeur en kyk na die wol wat so voor elke skeerder oor die skaap afrol en na die kapkar wat agter diep in die waenhuis ingestoot is en na die groot diep wolbale wat elkeen aan vier rieme van die breë balke van die waenhuis afhang. Alie en Lulu se skaduwees maak ’n donker plek in die deur se sonkol, en ou Joas lig sy kop met die wit knolletjies op en trek sy ogies nou: “Lumela, Motlalimoya,” sê hy vir Alie. “Lumela kleinnooientjie,” sê hy vir Lulu. Ou Joas noem Alie altyd op haar Basoeto-naam, wat beteken Kind van die Storms, want Alie is in ’n groot donderstorm gebore, het ou-Melitie haar vertel. Dan buk ou Joas weer en hy vou-vou sy skêr oop en toe oor die dik wol op die skaap se maag.

Onder in die ry staan Jantjies op om sy skêr te gaan slyp. Langs die waenhuis is die ronde slypsteen wat tussen twee paaltjies hang met die slingertjie eenkant aan. Jantjies gooi eers ’n bietjie water uit die dopemmertjie op die slypsteen en dan draai hy die slinger met een hand, en met die ander hand hou hy die skêr mooi plat teen die slypsteen. “Ka-tjier, ka-tjier, ka-tjier,” sê die slypsteen. Dan voel Jantjies so effens langs die kant van die skêr en hy gaan weer op sy plek teen die muur in die waenhuis sit.

“Alie,” sê oom Jan, “kom jy en Lulu hier, dan tel ek julle in die baal in om die wol vas te trap.”

Alie en Lulu val amper oor mekaar om by die baal te kom. Dis mos nou eintlik die lekkerste van die hele skeerdery om so in die diep baal ingetel te word en dan die wol vas te trap.

“Hup!” sê oom Jan en hy lig Lulu onder haar arms op dat haar rok sommerso bak staan oor haar maag en los haar oor die rand van die diep baal. “So ’n meisietjie het vir jou gewig gekry van ek haar laas oor die baal se bek gelig het,” sê oom Jan.

Alie lig haar arms al klaar op, reg vir die optel nog voordat oom Jan hom omgedraai het.

“Kyk,” sê hy, “ek wonder of ek darem nog ’n lam in die baal sal intel. Nee, ek dink een is genoeg.”

Alie laat glad nie eens haar arms sak nie, want sy weet oom Jan sê elke jaar so en dan maak hy of hy haar nie ook by Lulu gaan intel nie.

“Toe maar,” sê hy dan, “Alie se ogies blink so, ek dink ek sal haar darem ook maar oor die rand lig. Kom, ounooi, hup!” Dan voel Alie hoe byt oom Jan se groot hande vas onder haar arms, en haar bene swaai-swaai in die lug, en waps val sy oor die rand van die baal bo-oor Lulu tussen die sagte wol. Dit ruik na wol en skaap in die diep donker baal, en as Alie haar oë toemaak, verbeel sy haar sy sit hoog op in die lug in een van die sagte wit donderwolke wat sy altyd lê en dophou as sy voor die huis op die gras lê.

“Kom, ons moet trap, Alie,” sê Lulu, en sy gryp Alie aan die hand. “Rêrie, stêrie, ghou!” Daar spring hulle weg en hulle dans al in die rondte, al in die rondte dat die baal so wikkel-wikkel aan die vier rieme aan die balk.

“Nonwe Alie, jy moet stadig trap by die wol, die riem sy sal breek,” sê Jantjies hier deur die sak se kant. Alie gaan doodstil staan. Dis te lekker dat Jantjies kan raas en hy kan tog nie sien met wie raas hy nie. Nou sit Lulu haar mond vas teen Alie se oor en sy sê: “Kom ons staan doodstil en dan maak ons of ons hier binne versmoor het. Dan sal hulle skrik!”

Doodstil gaan hulle nou staan, in die middel van die baal, sodat daar nêrens teen die kante ’n duikie of ’n bultjie is wat kan sê daar is ’n dogtertjie met ’n wit koppie en ’n dogtertjie met ’n swart koppie tussen die wol in die baal nie. So stil staan hulle dat die rieme ook ophou swaai, en die hele baal hang doodstil aan die balk.

Kwarts-kwarts maak oom Jan se skoene op die gruis voor die waenhuis soos hy weer van buite af inkom.

“Haait,” sê hy, “en waar is die meisies wat vir my moet wol trap? Dit lyk my die wol het hulle toegeval. Kom werk maar toe die baal, Hoppies, hy sal swaar genoeg weeg met twee sulke vet kinders in sy maag.”


Dan skater Lulu dit uit van die lag, en hulle begin al in die rondte dans, al in die rondte dat die baal wikkel-wikkel aan die rieme.

“Kom ons speel ek is ’n prinses wat in ’n diep skeur afgegooi is en nie weer kan uit nie. Dan is jy die prins en jy lê onder die ys begrawe, en as ek so huil, smelt my trane die ys om jou en dan staan jy op en jy red my uit die skeur uit,” sê Alie.

“Ja, hier is die ys,” sê Lulu en sy pak die wol om haar en oor haar, sommer oor haar swart hare ook. “Toe, huil nou.”

“Hie-hie-hie,” huil Alie.

“Ag nee, jy huil dan nou net soos ’n hoenderhen wat piep het, Alie! Huil eers mooier, anders sal die ys g’n stuk smelt nie,” sê die prins hier onder die ys uit. “Huil sulke lang huile aanmekaar en maak so snuif-snuif tussenin, soos jy altyd huil as ou-Melitie Basoetoland toe gaan.”

Nou probeer Alie so ’n snuif-huil huil, en tussen die snuiwe deur sê sy: ‘Ag, verlos my tog … ek ellendig mens … wees my genadig …”

“Nee wat,” sê die prins onder die ys uit, “as jy nou weer gaan praat soos oom Krisjan bid, sal die ys ook tog nie smelt nie, wat.”

“Verlos my tog, sterke prins met jou sterke regterhand!” skree die prinses nou kliphard, en sy vergeet om enige huil te huil.

Woerts, woerts, woerts pluk die prins die ys van hom af en hy vlieg op uit die wolbondels uit met die stukkies wit wol in sy swart hare. “Skone prinses, hier kom ek op my perd om jou te red!” skree hy.

“Nee, jy moenie sê perd nie, jy moet sê wit ros,” sê Alie.

“Sjuut,” fluister Lulu, “hier kom die twee stertjies weer aan. Kom ons lê doodstil, anders huil hulle ook om ingetel te word.”

Alie hoor Hennie se stemmetjie voor die waenhuisdeur en by hom is Lulu se broertjie Bennie, wat net so oud soos Hennie is.

“Hoppies, waa’s Alie?” vra Hennie.

“Nonwe Alie sy’s weggaval by die wol nou,” sê Hoppies.

Alie en Lulu hou hul asem op, maar voordat Hennie verder kan vra, hoor hulle oom Jan se stem, en by hom is die stem van nog ’n man – nou weet Alie, dis die dominee se stem. Net hy praat sulke woorde wat so lank-lank uitkom.

“Alie,” sê oom Jan, “staan ’n bietjie eenkant toe, ek wil gou vir Willempie intel. Hy wil graag ook ’n bietjie voel hoe trap ’n mens wol.”

“Sê hy moet saam met Hennie en Bennie inklim, hy is tog net so klein soos hulle,” fluister Lulu vas teen Alie se oor.

“Nee, Hennie,” sê oom Jan se stem aan die ander kant van die baal, “jy en Bennie kan netnou inklim, ek wil eers hê Willempie moet saam met Alie en Lulu ’n bietjie trap. Kom, duusmannetjie, kom voel hoe trap ’n boer wol. Dis reg ja, jou skoentjies moet jy uittrek.”

“Mooi trap, ou seun,” sê die dominee se stem anderkant die baal.

Voordat Alie nog vir Lulu kan sê sy mag nie sê Willempie moet buite bly nie, want hy is mos die dominee se seun, swaai twee wit beentjies oor die rand van die baal, en hier sak Willempie met sy vaal broekie met die kruisbande en sy groot swart oë tussen hulle op die wolskuim neer.

“Dag, Willempie,” sê Alie en sy vat sy hand. Lulu steek eers haar tong agter Willempie se rug vir hom uit en dan sê sy: “Dag, ou seun.” Net so met woorde wat so lank-lank soos die dominee s’n uitkom, praat Lulu. Willempie sê niks, hy staan so half reg vir omkantel op die ongelyk wolvloer, en sy groot swart oë lyk vir Alie net soos Sanna en klein-Melitie s’n by die rivier as Lulu hulle met die tokkelossie bang maak. Alie voel hoe vat sy handjie haar vingers stywer vas, en sy sê: “Kom, Willempie, ons draai rienge-rienge-rousie, al in die rondte, dan kan jy voel hoe lekker sak ’n mens in en swaai jy rond op die wol. Kom, rienge-rienge-rousie, pokkis voele …”

Willempie voel aan haar hand soos die roomafskeier toe Alie dit die eerste keer probeer draai het, so vassit-vassit, en toe meteens begin hy skree, eers net soos ou Piet as sy stert in die spensdeur vasknyp en toe al harder, dat dit gaan soos Kommetjie as sy kwaad is oor haar kalf wat nie by haar is nie. Willempie hang net aan Alie se rok en hy skree aanmekaar, nie ’n skree wat is soos huil wat ’n mens huil as jy seerkry nie, en ook nie ’n harde praatskree wat jy skree as jy kwaad is vir Sammie-hulle nie, nee. Willempie skree sommer net. Hy druk so hard teen Alie dat sy teen die kant van die baal val en dit sommerso laat boepens maak na die buitekant toe.

“Alie!” skree oom Jan, en Alie hoor hoe rooi is sy stem. “Wat maak julle?”

“Niks, oom Jan,” skree Lulu. “Willempie is bang!”

“Lig hom op dat ek hom kan uittel,” skree oom Jan.

“Willem, stil nou, my seun! Wat makeer, Willem?” roep die dominee. Maar Willempie skree net sy skree, sonder praat en sonder huil, en hy druk Alie amper dwarsdeur die baal.

“Alie, maar si’ jy die kind oplig!” skree oom Jan weer, en sy stem word al hoe rooier.

Alie se stem wil glad nie kom nie, dit sit vas in haar keel, en net toe sy weer probeer of dit nie wil kom nie, sien sy Jantjies se kop oor die rand van die wolbaal kom. Hy buk oor, steek sy arms uit en sleep Willempie uit die wol uit boontoe. Nou skree Willempie nie net nie, hy skop saam met die skree en hy lyk nes ’n stukkende windpompwiel toe Jantjies hom oor die rand van die baal lig.

“Klim julle ook uit, Alie,” roep oom Jan se stem van anderkant die baal af, en Alie en Lulu klouter oor die rand en klim af met die trapleertjie wat Jantjies nader gesleep het.

Nie een van die skeerders se skêr sê “ghwier, ghwier, ghwier” nie, almal sit en kyk na Willempie. Die dominee probeer Willempie so vashou dat die woldonse nie aan sy swart klere kom nie, en Alie sien hoe vol vaal kolle is die dominee se baadjie van Willempie se skop. Willempie skree niks meer nie, hy huil net so ’n effense huiltjie. Hennie en Bennie sit op hul hurke eenkant met oop, ronde oë na hom en kyk, toe sê Hennie: “Whê, Willempie is tog bang!”

“Willempie is bang,” sê Bennie agterna.

Oom Jan probeer die donse van Willempie aftrek en hy sê: “Toe maar, broertjie, toe maar, kom ons gaan vra vir tant Lenie ’n koekie vir jou.”

Toe maak hy sy stem anders en hy sê: ‘Ag, dominee, dit spyt my opreg dat daar nou so ’n onaangenaamheid was.”

Ou Joas skud sy kop met die wit knolletjies heen en weer en vee ’n slag oor sy mond voordat hy buk om weer die wol met sy skêr vas te vang, en Alie sien hoe wit blink ou Hoppies se tande soos hy lag bokant sy skaap se lyf.

“Ghwier, ghwier, ghwier,” sê al die skêre weer, en dis vir Alie of sy en Lulu skielik wakker word uit ’n kort slapie met ’n nagmerriedroom in, toe oom Jan en die dominee met Willempie by die waenhuisdeur uitstap, met Hennie en Bennie soos twee stertjies agterna.

“My bene is tog vuiler as joune,” sê Lulu. Alie kyk af na haar bene, wat so lekker vetterig en vol vuil strepe is van die wol.

“Kom ons gaan klim op die bale wat Jantjies daar agter opgepak het,” sê Lulu.

“Nee, kom ons gaan speel op die kapkar, dan speel ons ons ry dorp toe en ek is die ma en jy is die pa en …”

“Ag nee wat,” sê Lulu, “ek is nie lus vir kom-ons-speel nie. Kom ons hardloop in die pad op en dan kyk ons wie se bene vang die meeste stof op.”

“Aliéé!” roep tant Lenie van die huis af, en Alie luister goed om seker te maak dat haar stem nie rooi is nie. “Kom drink julle koffie.”

“Het julle nog van die pitjie-soetkoek?” vra Lulu.

“Ja, kom,” sê Alie. Tussen die sakke in die waenhuis draf hulle deur, woeps oor die kardisselboom en by die klein deurtjie van die waenhuis agter uit spring hulle in die voetpaadjie af. By die eetkamervenster verby sien Alie die dominee en oom Jan en tant Lenie drink koffie uit tant Lenie se blommetjieskoppies, dis die kuiermenskoppies, en Willempie sit op ’n hoë stoeltjie langs sy pa en drink sy koffie ook uit ’n blommetjieskoppie.

“Willempie tel tande,” sê Lulu.

In die kombuis sit Hennie en Bennie elkeen met ’n bekertjie melk en ’n hand vol soetkoek teen die muur op die vloer, en ou Piet lek elke druppel melk wat Hennie stort met sy rooi tong op.

“Jôna whê, nonwe Alie,” sê ou-Melitie, “die bentjie sy’s banja vuil. Jy moet stan hier by die tafel. Nonwe Lulu, jy moenie darrie tong uitsteek by die kleintjies nie.”

Alie en Lulu kry koffie uit die wit elkedagse koppies en by elkeen se koppie lê ’n hand vol pitjie-soetkoekies.

“Zoem, zoem,” sê een ou vlieg al om die gompapier wat van die dak afhang, en ghoemps-ghoemps val die koffie in Lulu se keel af. Gou-gou drink hulle die koffie uit en dan wip hulle by die deur uit.

“Alie, ons gaan saam,” skree Hennie en hy val amper oor ou Piet, maar net toe maak tant Lenie die middeldeur oop en sy sê: “Hennie, kom speel jy en Bennie met Willempie voor die deur op die gras. Julle gaan nie weer na die skeerdery toe nie, hoor.”

Op die kweek langs die huis gaan Alie en Lulu lê en kou aan die soetkoekies met die amandelpitjies in. Die huis se dak maak ’n langpuntskaduwee oor die gras en die perskebome in die tuin.

Die lug is pesleintjie-blou en die wit skuimwolk wat so stadig verbyseil, lyk soos die gesig van ’n oupatjie met ’n lang baard, wat al hoe langer rek. Langs Alie se kop in die lang gras maak ’n torretjie ghirr, ghirr, ghirr.


Rivierplaas: Alba Bouwer-omnibus

Подняться наверх