Читать книгу Rivierplaas: Alba Bouwer-omnibus - Alba Bouwer - Страница 11

By Ouma op Brakfontein

Оглавление

Oom Jan en tant Lenie en Hennie is weer Bloemfontein toe, en Alie bly by Ouma op Brakfontein. Brakfontein het ’n gronddam en ’n populierbos en garingbome en turksvye en ’n vieruurboompie langs die voordeur; dis die mooiste dinge op Brakfontein. En Brakfontein het ’n kampie waarin daar ’n grondgraf is en waarin daar ’n Engelsman begrawe lê. Dis die wonderlikste ding op Brakfontein. Maar dan is daar nog drie dinge op Brakfontein wat die lekkerste dinge is, en dit is dat Alie in ’n klein bedjie met ’n bulsakkie slaap wat so ’n wal maak om jou as jy daarin gaan lê, dat sy soggens saam met Cillie op die donkiekarretjie skool toe ry en partykeer ook die leisels mag hou, en dat sy saans saam met Ouma en Cillie en tant Sannie voor ’n mieliestronkvuur in die swart stoof in die kombuis sit. Baie al het Alie vir ou-Melitie gevra: “Ou-Melitie, watter een van die drie dinge sal dan nou vir my die lekkerste wees – om op ’n bulsakkie te slaap of om soggens op die donkiekarretjie skool toe te ry of om saans in die kombuis voor die mieliestronkvuur te sit?” Ou-Melitie het ook nooit mooi geweet nie en toe het sy eendag gesê: “Sos jy slap by darrie belsakkie, des die lekkerste by die nag. Sos jy ry by die karretjie, des die lekkerste by die oggend. Sos jy set by die ouma by die vuur, des die lekkerste by die aand. Nou alman es die lekkerste, nonwe Alie. Hoekom jy vra nou?” Toe het Alie ou-Melitie se voorskoot ’n harde pluk gegee en gesê: “Ou-Melitie, van almal wat ek ken wat slim is, is jy heeltemal, heeltemal die slimste! Regtig!”


Nou wonder Alie nooit meer wat die lekkerste is op Brakfontein nie. In die aand as sy en Cillie en Ouma en tant Sannie klaar aan die groot tafel in die eetkamer geëet het, dra tant Sannie Ouma se wye stoel met die riempies wat so blokkies-blokkies in die mat is, na die kombuis toe, en dan gaan Ouma daar sit, langs die stoof. Dan sit Cillie op die een kombuisbankie, tant Sannie sit op die een kombuisstoel en Alie kruip in die leë hoekie van die stronkekissie in, sommerso teenaan die swart stoof. Dan kyk sy hoe die kersliggie so waai-waai op die kombuistafel en die skaduweetjies so lek-lek aan die vloer, en hoedat die rooi vlamme sulke klein liggies maak op Cillie se dik vlegsels. Dan lyk dit nie meer soos die groenmielies se baard nie, dan lyk dit soos ’n donker takkie met vuurvliegies op. En heel laaste kyk Alie altyd na Ouma se hande, wat so wit is op haar swart voorskoot, en die breë goue ring wat aan een vinger is. Dis so mooi, daardie breë blink band, maar Alie dink altyd dit sal mooier gewees het as dit soos ou-Melitie se armbande los kon wees en “trienge-rieng” sê as Ouma so stadig beduie met haar hande. Ouma se gesig is net so wit soos haar hande, maar haar oë is bruin, bruin soos die ronde mispels wat op die koppies op Rivierplaas groei, so lyk hulle in die oggend as Alie haar soen voordat sy op die karretjie skool toe klim. Maar as Ouma saans so stil sit en sy kyk na die vlammetjies wat so op en neer, op en neer in die bek van die swart stoof dans, dan is haar oë weer bruin soos die watertjies in die leidammetjie in die tuin.

Dan sê Alie: “Ouma, ou-Melitie sê dis ’n Engelsman wat in die grondgraf in die draadkampie hier langs die pad begrawe lê? Is dit so, Ouma?”

“Hedetjie, Alie,” sê tant Sannie, “as ek nou moet tel hoeveel keer jy al daardie storie gehoor het, sal ek nooit genoeg vingers en tone daarvoor hê nie. Begin jy al weer daarmee?”

“Alie, my liewe hartjie, is jy nog nie moeg van daardie storie van die Engelsman nie?” sê Ouma, en om haar oë kom nog meer fyn rimpeltjies as sy wegkyk van die vlammetjies af na Alie wat so tussen die stronke sit.

“Ag, asseblief, Ouma, vertel dit nog net hierdie keer weer. Asseblief, Ouma!” sê Alie, en sy wikkel haar nog dieper tussen die stronke in.

“Jy sê altyd so, en as jy hier kom, wil jy dit weer hoor, Alie. Jy ken dit mos! Ek sal jou sê, jy kan vertel en dan sal Ouma sê waar vertel jy verkeerd,” sê Cillie.

“Dit sal ek graag wil hoor,” sê tant Sannie. ‘Alie sal die storie so vertel dat ons nie sal weet dis dieselfde storie nie. Sy sal sommer baie dinge aanlas.”

“Toe maar, hartjie,” sê Ouma, “as jy graag die storie weer wil hoor, sal ek dit vertel. Maar dan moet jy nou nie vannag weer skree nie, hoor? Dit moet jy eers belowe.”

“Sowaar, Ouma, ek sal nie vannag skree nie. Ek belowe,” sê Alie, en haar voorkop trek twee diep plooie, so goed belowe sy.

“Ja, vannag stap die Engelsman weer uit die vrykamer uit en hy vat jou so aan jou kort haartjies agter jou nekkie,” sê tant Sannie, en dadelik voel Alie se hele rug so koud soos die yswater wat soggens in die slootjie langs die huis lê, van pure bang, maar dis nie ’n lekkerkry-bang nie.

“Nee, wag nou, Sannie,” sê Ouma. “Dis nou gans en al onnodig.”

“Ag, asseblief, Ouma, vertel die storie. Toe, Ouma, ek sal regtig nie vannag skree nie,” sê Alie sommer gou voordat hulle op haar gesig kan sien haar rug is so koud soos die waterslootjie se yswater.

“As Ouma vertel, moet jy nie weer tussenin sê soos jy altyd maak nie,” sê Cillie.

“Ek sal niks tussenin sê nie, ek belowe,” sê Alie en haar voorkop trek weer twee diep plooie, so goed belowe sy.

“Nou ja,” sê Ouma, “dan vertel ek maar weer ’n slag die storie, ai ja,” en Ouma sug so ’n lang sug, maar dis ’n ander soort sug as die wat oom Krisjan altyd sug as hy by oom Jan oor swaar tye kla. Oom Krisjan se sug kom sommerso uit sy baard, maar Ouma se sug kom uit haar oë, lyk dit vir Alie. Ná daardie sug bly Ouma eers ’n rukkie stil, want, so dink Alie, nou moet Ouma mos eers weer die Engelsman wat in daardie grondgraf is, lewend laat regop staan voordat sy kan begin vertel. Die storie begin mos waar hy lewe en op ’n wa sit.

“Ja, dit was kort nadat die Boereoorlog oor was en hulle die Vrede van Vereeniging geteken het. Toe kom ek met my vyf klein kindertjies mos uit die konsentrasiekamp uit by Kroonstad, en ou Andries Coetzee bring ons met die wa tot hier op die plaas. En hier sit ons moedersaligalleen,” en Ouma sug weer.

“En Oupa is toe mos nog op Ceylon ’n krygsgevangene, nè, Ouma?” sê Alie.

“Daar begin Alie al weer,” sê Cillie, en sy gooi haar een blink vlegsel sommer van ergernis oor haar skouer.

“Toe maar, my kind,” sê Ouma, en sy lig haar wit hand met die breë goue ring op; “laat staan jy nou vir Alie. Ja, oorlede Oupa was toe nog op Ceylon. Al wat toe van hierdie huis staan, was stukke muur, en die beste was die mure van die vrykamer. Nou ja, toe ek die middag laat hier aankom, met my vyf kindertjies, weet ek nie her- of derwaarts nie,” en Ouma sug weer.

“Toe dink Ouma: Waar berg ik my, waar vlug ik heen,” sê Alie en haar ogies word sommer groot en blink.

Alie sien Cillie kyk so ’n skewe kyk na tant Sannie, maar sy bly net vir Ouma kyk.

“Ja,” sê Ouma, en sy vat aan haar gesig, net soos ou-Melitie as sy amper lag of amper nies. “Ja, toe dink ek: Waar berg ik my, waar vlug ik heen. Maar so goed is die liewe Heer altyd vir sy skepsels, want skaars staan ek op die grond met my paar stukke komberse en klere, of hier kom ou Samuel uit die populierbos uitgestap en agter hom ou Letea. Ag, en hulle huil en hulle val plat op die grond en hou my bene vas, hulle was te bly om ons weer te sien. Toe het hulle dwarsdeur die oorlog hier in die koppies en bosse rond gebly en agter die damwal nog ’n groentetuintjie ook aan die gang gehou en ’n paar hoendertjies. En die volgende dag het ou Aron en ou Rosie ook gekom. Mens, ek was bly om hulle almal te sien! Die eerste aand het ons sommer agter die mure van die huis geslaap, maar die tweede aand was daar al ’n soort dak van pale en sakke oor die mure van die vrykamer, toe het ons darem goeie skuiling gehad.”

“En ou Samuel het vir Ouma van sy aartappels gegee en een van sy hoendertjies geslag,” sê Alie.

“Dis reg, my kind,” sê Ouma. “Die troue ou mense was vir ons baie goed. Nou ja, die derde aand wat ek nou op die plaas is, sit ek so teen skemeraand hier voor die deur en lug skep.”

“Ouma het op daardie selfde stoel gesit, en net op die plek waar die vieruurboompie nou staan,” sê Alie, en sy sien weer Cillie se skewe kyk na tant Sannie toe.

“Ja, dis reg, my kind,” sê Ouma. “So het ek gesit. En toe ek nou so luister, hoor ek ’n ossewa in die grootpad van Kroonstad se kant af aankom. Ek sit toe maar so en dink en wag dat die wa nou moet nader kom totdat dit hier oor die bultjie aankom.”

“Toe dink Ouma nog: Dis seker ’n boer wat sy vrou en kinders by een van die kampe gaan haal het en nou huis toe kom,” sê Alie.

“Hemel, Alie, vir wat wil jy nog die storie hoor? Jy bly net so hard soos Ouma vertel,” sê tant Sannie.

“Toe maar, kind,” sê Ouma, “laat staan nou maar vir Alie. Elke kind het sy wonderlikheid en so is dit nou maar eenmaal met Alie, sy wil elke woord van die storie weer hoor. Ja, ek dink toe so, en hier kom die wa ook oor die bultjie en ry so stadig in die grootpad aan by die huis verby, maar die boer klim af en kom nader. ‘Naand, niggie,’ sê hy. ‘Ferreira is die naam.’ Toe groet ek ook en ek vra of sy vrou en kinders nie op die wa is nie en of hulle nie wil nader kom nie. Maar hy sê nee, hulle is ook maar haastig op pad na hulle plaas toe, daar anderkant Viljoenskroon. Hy het net ’n paar dae tevore sy vrou en kinders by die kamp gaan haal en nou wil hulle maar aanstoot. ‘Raai,’ sê hy toe, ‘ek het nou nog ’n Kakie ook hier op die wa. Ek het die man daar anderkant by Dwarsdrif rond opgelaai, hy was waarlik te voet op pad Kroonstad toe om daar die trein te vat Kaap toe of Durban toe, sodat hy weer ’n skip kan kry en saam met die ander Engelse soldate kan teruggaan Engeland toe.’ Ek vra toe of ek hom nie ’n paar hoendereiers kan gee nie, want dit was nou al wat ek gehad het om te gee.”

“Nee, maar Ouma het toe mos gesê: ‘Ja, al is die man wat jy opgelaai het nou een van die vyand teen wie ons geveg het, dan is hy tog ook ’n mens, wat seker vrou en kind of ouers in sy land het. Jy moet hom met liefde bejeën.’ So het Ouma mos gesê,” sê Alie.

“Ja, dis reg, my kind, Ouma het so gesê,” sê Ouma, en sy skud haar kop. “Die boer hou toe sy ou hoedjie en ek pak vir hom ’n halfdosyn eiers daarin. Toe bedank hy my baie en hy groet om weer te loop. Net toe hy so wegstap, val daar meteens ’n skoot by die wa, mens, dat ek eintlik steier soos ek skrik. En die man gaan sommer net daar aan die hardloop en so ver soos hy hardloop, sien ek net eiers waai, sommer sulke geel strepe agter hom aan. Ou Samuel-hulle kom toe ook uit hul strooise uitgehardloop om te kyk wat gaan aan, en daar sal ons maar by die wa verneem wat gebeur het: die Engelse soldaat het voor op die wa gesit en die boer se geweer het oor die wakis gelê met die loop regoor die man, toe stoot een van die kinders aan die geweer en die skoot gaan af en skiet die Engelsman net daar op die plek dood. Ou Samuel en Aron dra hom toe hier na die huis toe en ek probeer lawe en voel sy hart, maar die stomme man was klaar dood en daar was niks aan te make nie. Foei tog.”

Alie sit doodstil soos ’n muis in die stronkekissie. Sy is so bang een van die stronke gly nou en raas, want dit sal nou net so verkeerd wees soos wanneer jy in die veld oor ’n klip val as jy saggies ’n kiewiet bekruip.

“Ja,” sê Ouma, “al wat ek gehad het om die man se liggaam in toe te draai, was ’n ou kombers, en dit het ek toe maar gevat. Ek kan nou nog sien hoe staan ou Samuel met sy ou hoedjie in die hand langs die huis en skud net sy kop. En reken ’n bietjie, toe alles nou oor is, toe is die boer skoonveld! Toe het hy van pure verskrikgeit sommer met sy wa aangery en my daar met die Engelsman gelos. Ou Samuel en Aron het toe maar die gat gegrawe daar langs die pad en die stomme man begrawe, en dit was al sterk donker toe ons die laaste graaf grond daar ingooi. So is die arme Engelsman ter ruste gelê. Sonder letsel het hy deur die ganse oorlog gekom en hier op die vreedsame pad kom hy aan sy einde. En wie weet hoe sit sy ou moeder of sy vrou en kind nie daar oorkant die water nog op hom en wag nie, dit het ek net die nag aanhou dink, want ek kon daardie nag nie ’n oog toemaak nie.”


“Hoekom sit jy dan nou so stil, Alie?” vra Cillie.

“Ag, ek … sommer,” sê Alie en haar stem klink al hoe meer soos Kommetjie se kalf se eerste bulkie.

“Alie se fonteintjie gaan weer oorloop,” sê tant Sannie. Girts-garts spring Alie uit die stronkekissie uit en val langs Ouma op die vloer neer met haar gesiggie sommer diep in Ouma se swart voorskootjie wat soos kamfer en bloekomolie ruik.

“Toe maar, hartjie,” sê Ouma. “Die Liewe Heer sal wel vir die stomme man se mense gesorg het. En hy rus tog van al sy vermoeidheid hier in die kampie langs die pad. Ons hoef nie oor hom te treur nie,” en Ouma vee al oor Alie se rug net daar waar dit so koud was van die bang.

“En wat van die bloedkol op die vrykamer se vloer, Ouma?” vra Cillie. “Is dit regtig nie van sy bloed wat daar lê nie?”

“Nee, my kind, dis sommer vrot pampoene wat eenkeer daar gelê het voordat die huis klaar gebou was,” sê Ouma. ‘Alie, gaan haal nou die Boeke, my kind, en Ouma se bril dat ons kan lees. Dis slaaptyd.”

Alie haal haar gesiggie stadig uit Ouma se swart voorskoot uit, vat die kers op die tafel en loop doodstil die diep, donker eetkamer in. Haar ruggie is penregop, want sy is nou yskoud van die bang, maar dis ’n lekkerkry-bang. Sy kyk vas in die kers se klein, spits vlammetjie, sodat sy nie die skaduwees wat so teen die muur lek, moet sien nie. Versigtig lig sy die swart Bybel en gesangboek met Ouma se brilhuisie op van die klein tafeltjie af en loop sommer vinnig terug kombuis toe, maar nou kyk sy net na die rooi kole in die stoof se bek en sy val amper oor die stronkekissie. “Pasop tog vir die kersvet op jou rokkie, my kind,” sê Ouma toe sy die Boeke vat.Doodstil sit Alie weer in die leë hoek van die stronkekissie solank Ouma lees en toe bid. Diep, diep sak sy weg deur die boom van die stronkekissie en deur die vloer, en net hier en daar val ’n paar woorde op haar, soos “almal wat ons lief en dierbaar is” en “die treurendes en noodlydendes en krankes”, en “die balsem Gileads op onse wonde” – dit voel vir Alie of sy buite loop, en net af en toe val ’n druppel in haar gesig, dan is dit een van Ouma se woorde wat sy hoor.


Toe sê Ouma “Amen” en Alie sit penregop en skop ’n paar stronke dat hulle girts-garts in die kissie gly. Nou maak Ouma haar oë styf toe en sy sit in: “’k wil U, o God, mijn dank betalen”, wat vir Alie die mooiste gesang in die hele boek is. Ouma sing met ’n bewestem, tant Sannie sing amper so mooi diepstem soos oom Krisjan by die biduur en Cillie sing sulke ronde woorde, net soos juffrou Barnard in die skool geleer het ’n mens moet sing. Alie sing net hier en daar ’n woord raak, soos ’n trossie druiwe waaraan jy pik-pik korrel, en dan luister sy mooi hoe Ouma op die end so ’n knopie maak in die laaste reël: “Zulk een ontfermer wa-a-rt Gij mij.”

Dan klap Ouma se brilhuisie kloeps! toe, en die stoel sê “ghierr” as Ouma opstaan en langs Alie kamer toe stap. Deur die diep, donker eetkamer stap hulle, maar Alie se rug voel so warm soos die hoekie in die stronkekissie langs die stoof, en die eetkamer voel nie so diep nie, want sy ruik sommer hier langs haar die bloekomolie en kamfer van Ouma se swart voorskoot.

Rivierplaas: Alba Bouwer-omnibus

Подняться наверх