Читать книгу Rivierplaas: Alba Bouwer-omnibus - Alba Bouwer - Страница 8
Die Kissie van die Boland
ОглавлениеTant Lenie het grootgeword op Hartbeeskraal, ’n ou wynplaas in die Boland. Toe het sy onderwyseres geword en in die Vrystaat skoolgehou, en op die ou end is sy met oom Jan getroud en toe moes sy Vrystaatse boervrou word. Nou woon oom Koos en tante Magriet, tant Lenie se broer en tant Lenie se suster, op Hartbeeskraal. Maar as tant Lenie van die Boland praat, so dink Alie altyd, dan trek haar mond anders, anders as wanneer sy nou van seep kook praat of van die dae toe sy in Bloemfontein geleer het om onderwyseres te word. Dit het gemaak dat Alie eendag vir ou-Melitie vra: “Ou-Melitie, hoekom trek Mammie se mond dan altyd anders as sy van die Boland praat, hè, ou-Melitie?”
Ou-Melitie vat aan haar kopdoek, net daar waar sy die plat blikkie snuif bêre, en toe sê sy: “Jôna whê, nonwe Alie, sos jy loop ver weg, sos jy’s nie hier by Rivierplaas nie, sos die mevrou en meneer Jaan en Hennie hy’s ok nie by jou nie, hoe sal jou hart mak? Jou hart sy sal skeef trek, en nou sos jy prat van Rivierplaas, jou mond ok sy sal skeef trek. Jy, nonwe Alie, jy sal sommer banja huil, sos jy’s ver weg by Rivierplaas. Des nie net jou mond wat sy sal trek nie, jôna whê.”
Toe draai ou-Melitie haar om en gaan aan met wasgoed spat op die lang wit kombuistafel. Alie bly staan teen die vuurherd langs die stoof en sy dink hoe dit sal wees as oom Jan haar ver weg stuur, sê nou Boland toe. Sê nou sy moet daar in ’n groot skool gaan skoolgaan. Dan word dit laatmiddag, soos nou, en dan sit sy alleen onder ’n boom, ’n eikeboom, soos dié wat tant Lenie sê wat net in die Boland groei en nie op Rivierplaas wil aard nie. Dan dink sy aan Rivierplaas en aan Pa en Ma en Hennie en ou-Melitie wat dan Hennie se voete voor die stoof was, en aan Jantjies by die stal en ou Hoppies by die kraal en Diek en Sammie by die kalwers. O, en dan bring klein-Melitie en Sanna elke middag vir Lulu gom, en sy wat Alie is, weet nie eens daarvan nie. Sy kry nooit meer gom nie, en ou-Melitie was nooit meer saans haar voete nie, en sy sit alleen onder ’n eikeboom in die Boland. Dan kom daar van die groot meisies van die groot skool en hulle steek vir haar tong uit en hulle sê: “Kyk tog hoe alleen sit die ou plaaskindjie met haar kort hare. Sy het nie eens ’n jim nie; in hulle skooltjie op die plaas in die Vrystaat dra hulle mos sommer bont rokke.” Dan sal sy sommer dadelik huil, nie ’n harde huil soos ’n mens huil as jy van die kraalmuur afval en jou bene nerfaf val nie, nee, so ’n sagte huil soos wanneer die kinders by die kleigat jou bene raak gooi met ’n kleilat en jy mag nie wys jy kry seer nie. So ’n sagte huil wat baie nat is oor jou wange, maar wat niks raas nie, so sal sy huil onder daardie eikeboom in die Boland. O, die Boland is ’n ou nare plek en sy wil niks, niks daar bly nie!
Ou-Melitie draai haar vinnig om van die hoë wit toring lakens wat sy inspat en haar blou sisrok maak ’n kort swaaitjie om haar enkels. “Jôna whê, nonwe Alie! Nou jy huil! Hoekom jy huil nou? Jô! Darrie koppie van jou sy’s banja klein, mar jy denk, jy denk die banja storie by darrie koppie, jôna whê!”
Ou-Melitie se drie koperarmbande maak so stadig trienge-rienge, trienge-rienge soos sy met haar hand oor Alie se wit koppie vryf, en haar voorskoot waarmee sy Alie se nat gesiggie afvee, ruik soos boerseep en strooisrook deurmekaar. Alie huil nou sommer daardie huil wat hard is en wat ’n mens huil as jy jou bene nerfaf val van die kraalmuur af, en deur die huil vertel sy vir ou-Melitie hoe sy alleen onder die eikeboom sit en hoe die nare kinders van die groot skool vir haar tong uitsteek en sê: “Kyk tog hoe alleen sit die ou plaaskindjie met haar kort hare. Sy het nie eens ’n jim nie; in hulle skooltjie op die plaas in die Vrystaat dra hulle mos sommer bont rokke.”
Ou-Melitie tel haar lang swart hand van Alie se wit koppie af op en skud dit so vinnig dat die drie armbande vinnig sê: “Triengerienge-rienge!” Sy knyp haar oë styf toe, net soos een wat amper lag, of amper nies, toe maak sy haar oë oop en sy sê: “Sos darrie kend sy sê vor jou so, nonwe Alie, nou jy sê: ‘Hoekom julle kan nie speel die trompie nie? Ek speel die trompie! Hoekom julle kan nie soek die weglê-nes by die veld nie? Ek soek die weglê-nes, banja! Hoekom julle kan nie ry by Prens nie? Ek kan ry by Prens! Hoekom julle kan nie mellek sos Hoppies nie? Ek kan mellek!’ Jy sê almal darrie deng vor darrie kend. Nou jy sal nout nie huil nie, darrie kend sy sal huil banja. Maar jy moenie die tong uitsteek nie, nonwe Alie. Die mevrou sy sê des lelik.”
Dan skud ou-Melitie weer haar hand so vinnig dat die drie armbande so “trienge-rienge-rienge!” en sy knyp haar oë styf toe, net soos een wat amper lag of amper nies.
“Á-á-lie!” roep tant Lenie uit die rondawel uit. Alie gee so ’n kort sprongetjie en wip-wip oor die kombuisdrumpel in die paadjie af rondawel toe. As tant Lenie so roep, klink haar stem vir Alie blou, soos ou-Melitie se sisrok. Dis ’n goeie roep. Maar as tant Lenie roep: “Ali-é!”, dan gaan haar stem vir Alie rooi, soos ou-Melitie se kopdoek, en dis ’n slegte roep, want dis ’n roep wat iets praat van kwaaddoen. Dis nou die roep wat blou is, en Alie wip soos Kommetjie se jong kalf rondawel toe. Daar moet iets wat mooi is of iets wat lekker is in die rondawel wees. In die rondawel sit tant Lenie op ’n veldstoeltjie met Hennie op haar skoot, en oom Jan staan met ’n draadtang in die hand wydsbeen oor ’n regop lampolie-kissie met twee hoepels om sy maag gedraai. Dit alles sien Alie toe sy oor die rondawel se onderdeur loer. Sy druk die werwel van die onderdeur af en glip soos ’n klein akkedissie by die deur in.
“Wanneer het dit gekom? Is dit ’n kissie van oom Koos en tant Magriet?” vra Alie en sy wikkel-wikkel net soos die ou groot koekoekhaan al in die rondte, al in die rondte om die wonderlike kissie.
“Dis ’n kissie van die Boland,” sê tant Lenie.
“Dis van oom Koos en tant Magriet. Daar’s ’moene in,” sê Hennie ewe slim.
“Ek weet dis van oom Koos en tant Magriet en ek weet daar’s lemoene in, maar wat is onderin? Wat dink Mammie is onderin?” vra Alie en sy gee so ’n kort sprongetjie soos Kommetjie se kalfie.
“Miskien ’n nuwe rokkie vir jou of ’n paar boekies, ons sal sien. Maar Alie, gaan vra vir ou-Melitie die groot seroet om die lemoene in uit te pak,” sê tant Lenie.
Toe Alie by die rondawel se deur uitwip, hoor sy hoe byt die draadtang njarts-njarts aan die dik hoepel om die kissie. Sy spring tot by die kombuisdeur en skree sommer van buite af: “Ou-Melitie, jy moet asseblief die groot seroet rondawel toe vat.” Toe gee sy net drie spronge en sy is by die werfhekkie uit, agter die waenhuis om, by die kraal verby, deur die draad en om die plaaswinkel se hoek tot by Lulu-hulle se huis.
“Lulu!” skree sy sommer deur die oop agterdeur binnetoe. “Jy moet kom. Kom, daar’s ’n kissie van die Boland!”
Lulu en haar klein broertjies en klein sustertjies en groot broers en groot susters kom almal gelyk by die deur uitgepeul. Tonie trek ’n skewe mond en sê met ’n fyn stemmetjie: “Ou Alie Trompet, hoekom raas jy so?”
Maar Alie hoor sommer nie, sy gryp Lulu aan die hand en sleep haar by die deur uit: “Kom, man, daar’s ’n kissie van die Boland.”
Daar draf die swart koppie en die wit koppie langs mekaar, by die hekkie uit, by die kraal verby, agter om die waenhuis, by die werfhekkie in en tot by die rondawel. So in die hardloop sê Lulu: “Julle het dan nou die dag ook ’n kissie van die Boland gekry?”
“Ja,” sê Alie, en haar stemmetjie is klein van die hardloop, “maar tant Magriet stuur elke nou en dan een. Hierdie keer is dit lemoene en dalk ’n rokkie vir my, dalk ’n bloue.”
In die rondawel is die kissie al oop, en oom Jan pak die lemoene in die seroet wat tant Lenie hou, en Hennie sit eenkant en eet ’n rooi nartjie. Dis lemoene, lemoene net waar jy kyk, groot ronde lemoene. Daar is al twee mandjies vol en die seroet amper vol. Nog ’n ry lemoene en nog ’n ry lemoene met hier en daar ’n donkergroen lemoenblaar aan een van die stingels. En dit ruik so lekker, lekkerder as die nat gras ná die reën. Alie wens oom Jan wil nog vinniger uitpak sodat sy kan sien wat is onder op die boom van die kissie, want daar sit tant Magriet altyd iets wat baie, baie beter as lemoene is.
Toe sê tant Lenie skielik: “My aarde, en kyk nou daar!” Alie en Lulu kyk ook op en sien net twee kaalgeskeerde koppies oor die onderdeur loer. Dis klein-Melitie en Sanna wat soos twee mossies op ’n persketak op die dwarsbalkie van die onderdeur staan en bo-oor loer. “Kom, klein-Melitie, hier is vir jou en Sanna elkeen ’n lemoen en ’n nartjie,” sê tant Lenie.
Oom Jan maak die onderdeur oop en die twee staan kop onderstebo nader. Klein-Melitie staan voor en steek al twee haar handjies oor haar kaal boepmagie uit vir die lemoen en nartjie. “Tanki,” sê sy. Dan staan Sanna nader en hou haar handjies ook al twee. “Tanki,” sê sy ook en hulle loop stadig agteruit-agteruit by die deur uit en vlieg dan soos twee kiewiete kombuis toe om vir ou-Melitie te gaan wys.
Nog ’n ry lemoene en nog ’n ry lemoene en nog … a, daar sien Alie ’n dik bruinpapier. Oom Jan lig dit saggies op, dan nog ’n stuk koerantpapier, dan nog ’n stuk bruinpapier en, o, blou, pure blou lê dit daar. Alie kan nie meer hou nie, sy steek sommer haar hand in en pluk die blou rokkie uit. ’n Pragtige blou rokkie is dit, met valletjies, valletjies, valletjies voor, en agter is daar – o, alla tiekie-talla, agter is ’n yslike swart kol!
“Oe!” sê Lulu. “Dis mooi! Maar daar’s ’n kol!”
“Ag, my liewe,” sê tant Lenie, “dit lyk my iets het deur die boom van die kissie geloop en op die rokkie. Gee gou hier, Alie, kom ons kyk wat dit is.”
Alie is te bang om te praat, te bang amper om asem te haal. Sê nou daardie kol bly daar sit?
“Toe maar, Alie,” sê oom Jan, “vat vir jou en Lulu elkeen ’n lemoen. Ou-Melitie sal seker môre daardie kol kan uithaal.”
Toe hulle buite kom, sê Lulu: “Oe, dis mooi. So baie valletjies.”
Alie sluk en sluk, want dit voel of haar keel toe is en of haar ore seer is vandat sy daardie kol gesien het. Toe sê sy met ’n vaal stemmetjie, wat vir haar net so snaaks gaan soos die nuwe kalfie se eerste bulk: “Dink jy die kol sal uitgaan?”
“O, daardie kol? Ag, ja wat, dit sal mos uitwas!” sê Lulu en sy byt ’n groot stuk skil van haar lemoen af.
Toe roep ou-Melitie: “Nonwe Alie, pakisa!”
Lulu spring gou by die werfhekkie uit huis toe, en Alie drentel aan kombuis toe waar ou-Melitie al staan en wag met die badjie water en die strepieshanddoek vir die voete was. Sy het nie eens lus om vanaand stories te maak met ou-Melitie nie, sy dink net oor die blou rokkie met die baie valletjies en die swart kol op die rug.
Ou-Melitie praat ook nie, sy was net op en af teen die bene en rondom die skurwe hakke. “Jôna whê,” sê sy toe sy die twee rooigewaste voete in die strepieshanddoek toevou. “Nonwe Alie sy’s moeg, sy denk by darrie blou rok, sy prat nie.”
“Ag, ou-Melitie, dink jy daardie kol sal uitgaan? Dink jy regtig so?”
“Darrie kol,” sê ou-Melitie en sy vat aan haar kopdoek, net daar waar sy die plat blikkie snuif bêre, “darrie kol sy sal uitwas, môre ons sal hom vor jou was, nonwe Alie.”
“Ag, asseblief tog, ou-Melitie, asseblief tog, was hom skoon uit.”
Toe Alie die volgende middag van die skool af kom, gaan sy reguit na die bleikdraad toe waar die blou rokkie mooi opgevou lê sodat net die kol so nat-nat in die son bak. Ja-nee, die kol is uit, maar daar sit nou ’n groot vaal kol, groter as die swart kol wat eerste daar was.
“Haai, Lulu, kyk, nou is daar ’n groter kol,” sê Alie, en haar stemmetjie word weer vaal.
“Ag,” sê Lulu, “my ma sê die son maak alles reg. Môre sal daardie kol so waar soos skilpaddop weg wees. Kom ons gaan vanmiddag weer vlei toe.”
Alie belowe sommer, maar sy dink nie wat sy sê nie, want sy kan net aan daardie blou rokkie dink wat eers ’n swart kol gehad het en nou ’n vaal kol het.
Die derde dag toe Alie van die skool af kom, lê die rokkie nie meer op die bleikdraad nie. Tant Lenie wag vir haar by die kombuisdeur met iets in haar hand wat blou is, nie soos die valletjiesrokkie se pure blou nie, maar pesleintjie-blou soos die porselein-waskom en -beker in die vrykamer.
“Kyk hier, Alie,” sê tant Lenie, “ek het vir jou hierdie blou lappie- goed van die dorp af laat kom saam met oom Krisjan. Tant Ellie sal dit vir jou net so met valletjies maak soos die ander rokkie. Daardie kol wil nie uit nie, nou gee ek dit maar vir klein-Melitie, dan kan ons jou kolletjiesrokkie vir Sanna gee, anders huil sy nou weer.”
Alie staan ’n rukkie stil en sy weet nie of sy baie spyt moet wees oor die pure blou rokkie van tant Magriet en bietjie bly oor die pesleintjie-blou lappiegoed nie, of bietjie spyt oor die pure blou rokkie van tant Magriet en baie bly oor die pesleintjie-blou lappiegoed nie. Toe kom ou-Melitie by die kombuisdeur uit met die pure blou rokkie met die kol en die kolletjiesrokkie oor haar arm.
“Jôna whê, nonwe Alie,” sê sy en haar wit tande blink soos sy lag, “jy wel vor my gee die rok vor Sanna en klein-Melitie? Ek moet hom vat of ek moet hom weer vor jou breng?”
“Nee, nee, ou-Melitie, jy moet al twee die rokkies vat. Mammie sal vir my ’n ander valletjiesrokkie sonder ’n swart kol maak.”
“Jô, nonwe Alie, ke a leboha,” sê ou-Melitie, en toe weet Alie hoe bly sy is. As ou-Melitie bly is oor iets, sê sy: “Tanki”, maar as sy baie bly is, sê sy: “Ke a leboha”, dit beteken groot dankie.
Die volgende oggend toe Alie en Lulu skool toe stap, wag klein-Melitie by die hoek van die draad langs die grootpad. Van ver af waai sy vir hulle, en toe Alie by haar kom, druk klein-Melitie gou iets in haar boeksak en laat spat weer al teen die draad op soos ’n wilde springhaas. Baie nuuskierig is Alie toe sy die boeksakkie oopmaak om te soek wat klein-Melitie daarin gedruk het. Toe lê daar tussen Alie se rooi leesboekie en haar skrifboek drie bruin kruisbessies en ’n kiewieteier.
“O, daardie kiewieteier het sy sowaar soos skilpaddop van Hoppies gekry,” sê Lulu.
“Sowaar,” sê Alie, “maar nou is dit myne. Maar jy kan twee kruisbessies kry.”
Daar kom die twee by die skool aan, elkeen met ’n bruin kruisbessie in die kies. En daardie dag in die skool steek Alie kort-kort haar hand in haar boeksakkie om te voel of die kiewieteier nog lekker rond en glad onderin lê.