Читать книгу Rivierplaas: Alba Bouwer-omnibus - Alba Bouwer - Страница 12

Die Grys Skooltjie

Оглавление

In die oggende as Alie haar gesig in die bloublommetjieskom gewas het en haar rok aangetrek het wat oor die stoel hang, borsel sy gou haar hare voor die spieël, en dan gaan sy eet. Oom Jan en tant Lenie eet sommer baie vroeg, en Alie moet alleen eet. Dis tog te lekker, want ou-Melitie moet haar melk oor die pap kom gooi en kyk dat Alie ’n hele sny brood ook eet en nog ’n hele boepenskoppie melk uitdrink ook.

Op ’n Dinsdagoggend sê ou-Melitie: “Jô, die mossie sy sê vanmôre vor my nonwe Alie sy gaan goed loop by die skool, want al die somme sy sal helle reg maak. Det es so?”

Dan sê Alie: “Nee wat, ou-Melitie, die mossie jok sommer. Ek hou nie van somme nie. Vandag sal die hele dag weer rooi wees. Maar sal jy vandag elfuur jou oë toemaak en vir my ’n lang wens wens? Dan doen ons hoofrekene, en dan dans al die syfertjies deurmekaar in my kop. Dis net soos die bye in die garinglaning, ou-Melitie, hulle swerm almal deurmekaar, die ene en die tweetjies en die drietjies en die viertjies en dan kan ek hulle nie in my kop laat stilsit om hulle agtermekaar te kry nie. En as juffrou Barnard sê: ‘Alie, wat is die antwoord?’ dan voel dit of die hele swerm weer opvlieg. Ag, ou-Melitie, ek hou niks van somme en hoofrekene nie,” sê Alie, en sy hap ’n groot hap brood en kou sulke vinnige koue. Net so sal sy graag al die syfers van die hoofrekene wil stukkend kou.

Ou-Melitie vat aan haar kopdoek, net daar waar sy die plat blikkie snuif bêre, en dan sê sy: “Jy moet moi kou by darrie brot, nonwe Alie. Nou die som sy es swar, want jou koppie sy es vol by die banja anner deng. Sos jy bagen by die som, nonwe Alie, jy moet so vat by darrie koppie en jy moet hom skud en jy moet sê: ‘Kop, nou jy moet leeg kom by die banja anner deng, jy moet moi skoon kom, want nou die som hy wel die plek hê bennekant.’ Jy moet darrie koppie uitskud sos ek skud die emmer leeg van die meel voor ek set die water by die emmer. Jy skud hom uit vor Lulu, jy skud hom uit vor die vleggesel van nonwe Cillie, jy skud hom uit vor die Ingelsman by Brakfontein, jy skud hom uit vor die kiewietnes, jy skud hom uit vor die loop by die rivier sos ons gan was – nou jy skud hom uit al darrie deng, nou jy sê: ‘Die som sy kan maar kom, my kop sy es leeg.’ Jy sal so mak vandag, nonwe Alie? Nou jy moet gou drenk darrie melk, nonwe Alie.”

Ghoemps-ghoemps glip die melk in Alie se keel af, en sy maak haar oë styf toe en verbeel haar sy is Kommetjie se nuwe kalf wat so staan en uitsuip as Sammie en Diek vergeet het om die kalwerhok se hek toe te maak. Dan sit sy haar hand op haar maag en voel of dit net so uitswel, uitswel soos die kalfie s’n as hy staan en drink.

“Nonwe Alie,” sê ou-Melitie, “ek hor hom die eerste karretjie verbykom. Jy moet gou maak. Jô, darrie melk sy val weer hard vanmôre, net sos die paddas wat sy spreng by die water. Netnou die padda sy sal prat by darrie maag.”

“Alie,” roep tant Lenie van die rondawel af waar sy staan en vleis sout, “jy moet gou maak, kindjie. Ou-Melitie, kyk of sy die deken oor haar bed gegooi het voordat sy loop.”

Die bed opmaak, die deken met die fraiings oorgooi, die water uit die waskom in die emmer gooi en haar nagrok opvou, dit moet Alie doen voordat sy skool toe loop. Een oggend het tant Lenie haar van die draad af teruggeroep om eers die water te kom uitgooi. Nou moet ou-Melitie elke oggend kyk of al daardie werkies klaar is voordat Alie loop.

Daar hoor Alie Lulu se stem: “Môre, tant Lenie. Is Alie al klaar?”

“Tot siens, ou-Melitie,” sê Alie gou, gryp haar boeksak en spring oor die vloer agterdeur toe. “Môre, Lulu, tot siens, Mammie, tot siens, Hennie,” sê sy sommer alles so op ’n ry en soen tant Lenie en Hennie sulke vinnige wangsoentjies en daar spring sy agter Lulu aan in die veldpaadjie af.

“Nes ’n stokstert-meerkat darem, dié Alie,” sê tant Lenie en Hennie sê agterna: ‘Alie is ’n mee’kat, mee’kat, mee’kat, mee’kat …”

Alie en Lulu stap aan in die veldpaadjie, want dis korter as die karre se pad.

“Ek het ’n nuwe griffel, kyk,” sê Lulu. “Tonie het dit gister van die dorp af gebring. Kyk, daar is blou sterretjies op die papiertjie wat om die agterste punt gedraai is.”

Alie se oë val amper uit. Sy het nog nooit ’n griffel gesien met so ’n mooi papiertjie om die agterste punt nie, en Lulu het die griffel se punt geslyp dat dit so dun is soos die potloodpunte waarmee hulle skoonskrif skryf in die boeke met die swart lyne.

“Ek het op ons kombuistrappie gespoeg en die griffel daar geslyp,” sê Lulu. “Vandag gaan ek al my somme reg hê met hierdie griffel.”

“Oe, Lulu, dis die mooiste griffel in die hele skool,” sê Alie. “Lulu, sal jy dit vir my leen om net boaan die somme te skryf s-o-m-m-e? Ek wil dit net voel.”

Nou voel Lulu lekker. As Alie nie gevra het om ’n woord daarmee te skryf nie, sou sy nie tevrede gewees het nie, want dan sou dit vir haar gevoel het of die griffel nie vir Alie regtig baie mooi is nie.

“Jy kan s-o-m-m-e daarmee skryf, ja,” sê Lulu. “Maar ek het vir jou ook iets gebring, raai wat?”


“’n Nuwe lappie om mee lei skoon te maak?” raai Alie.

“Nog twee raaie,” sê Lulu.

“’n Kruisbessie,” raai Alie.

“Nog een raai,” sê Lulu.

“’n Prentjie vir my plakboek?” raai Alie.

“Almal verkeerd, almal verkeerd,” sê Lulu. “’n Leë sentbotteltjie van Mary vir jou lei se water, kyk hier,” sê Lulu en sy hou ’n fraai klein rondemaagbotteltjie vol water in haar hand.

“Oe, dis mooi,” sê Alie en sy steek haar hand uit.

“Maar wag dat ek dit oopmaak, dan ruik jy net hoe ruik jou leiskoonmaakwater,” sê Lulu en sy skroef die blink koppie af.

Dit ruik net soos juffrou Barnard se gesig as sy by jou buk om jou somme te merk, dink Alie, en sy maak haar oë toe soos sy ruik.

“Oe, Lulu, dis mooi, baie dankie,” sê Alie en sy hou die botteltjie styf vas in haar hand, sodat sy kan voel dis regtig daar. “Ek wens ek het ook groot susters gehad wat sent koop,” sê sy.

“Groot susters is sommer simpel,” sê Lulu en sy gooi haar kop agteroor, net soos Tonie maak as hy hom vererg vir Mary-hulle, en sy spoeg ’n lang straal in die gras, net soos Jantjies, want Lulu se voortand wat gewissel het, is nog nie weer uit nie.

Dis vir Alie amper net so mooi soos die botteltjie met die blink koppie waarin haar leiwater nou is, die kop se gooi en die spoeg in die gras.

“Kyk, daar kom die Britse se skoolkar,” sê Lulu. “Ek sal nie na die pad toe kyk nie, want dis Piet Brits se skuld dat juffrou Barnard ons van mekaar af gesit het.”

“Haai,” sê Alie, “weet jy wat, Lulu, Piet Brits sê in die skool waar hy eers was, skryf hulle van klein klassies af met potlode in boeke. Hy sê leie in die skool is sommer van nie beter weet nie.”

Lulu spoeg weer so ’n lang straal in die doringbossies in en sy gooi haar kop ver agteroor en dan sê sy: “Piet Brits is sommer simpel. As ’n mens op ’n lei skryf, kan jy ’n botteltjie hê wat lekker ruik vir jou skoonmaakwater en jy kan ’n bont lappie hê en jy kan ’n griffel met ’n mooi papiertjie om die agterpunt hê. Ek wil tog glad nie met ’n potlood in ’n boek skryf nie. Dis net van nie beter weet nie dat ander skole se kinders met potlode in boeke skryf.”

Nou voel Alie sommer beter. Laat Piet Brits net weer iets sê van Rietdraai se skool se leie en griffels, dan gaan sy haar kop net soos Lulu s’n gooi en vir hom net so sê, maar sy sal net nie so kan spoeg nie.

By die draad langs die ysterpaaltjie buk hulle tussen die twee doringdrade deur en dan is hulle op die bultjie. Van die bultjie af kan hulle die grys skooltjie onder in die duik sien lê.

“Die skool lyk net soos ’n ou treintjie met drie deure,” sê Lulu.

“Die skool lyk soos ’n ou vaal hennetjie wat sit en broei op ’n groot nes,” sê Alie.

“Oe, knolletjie, tolletjie!” skree Lulu. “Daar kom meneer Bronkhorst se perdekar al deur die skoolhek. Kom, Alie, ons moet hardloop, anders lui die klok voordat ons by die eerste klip kom.” Lulu gryp Alie se hand en hulle hardloop dat hulle boeksakkies so woep-woep op die rug slaan, en Alie kan voel hoe skommel die melk so ghoemps-ghoemps in haar maag rond. Maar net toe meneer Bronkhorst die klok lui, staan hulle regoor die middelste deur van die drie deure wat die grys skooltjie het. Voor elke deur lê ’n groot ronde klip wat ’n trappie is, en aan die kante het die klippe breë vaal paaie soos almal altyd daar sit en griffels skerp maak. In die kamer van die eerste deur naaste aan die skoolhek gaan al die kleintjies in wat in graad een tot vier is, by juffrou Jooste; in die kamer van die middelste deur gaan almal wat in graad vyf en ses is in, en in die kamer van die laaste deur gaan al die groot kinders van graad sewe en ag in, en daar is meneer Bronkhorst self ook. Alie en Lulu is in die kamer van die middelste deur by juffrou Barnard.

Alie en Lulu staan agter mekaar in die ry, en stap mooi doodstil by juffrou Barnard verby in die klaskamer in. Net by die deur gee Lulu vir Alie ’n stampie in die rug wat tot siens beteken, want nou sit hulle mos nie meer langs mekaar nie en nou kan hulle niks meer vir mekaar sê nie. Nou staan almal mooi doodstil elkeen langs sy bank, en juffrou Barnard gaan staan voor haar tafel. “Môre, kinders,” sê sy.

“Môre, juffrou,” sê almal saam, net soos wanneer hulle sing. Alie luister elke oggend na Lulu se stem tussen die ander stemme, want Lulu maak elke oggend ’n ander stem, party oggende dik en party oggende dun en party oggende op en af. Alie kan goed hoor waar Lulu se stem tussen die ander stemme inkom en uitgaan, net soos ’n swart rygdraad op ’n wit lap.

“Sit, kinders,” sê juffrou Barnard, en dan gaan almal sit, en elkeen se bank kraak ’n ander kraak as hy dit afklap. Dan haal juffrou Barnard die groen Bybeltjie van die vier Evangelies en die Psalms wat in Afrikaans is uit die laai en sy lees Psalm 23. Dis vir Alie die mooiste psalm, want al die plekke daarin voel soos op Rivierplaas. Die groen weivelde is die spaarkampie waar die lammerooie altyd wei, en die waters waar rus is, is die vlei op ’n skemeraand in die somer net ná dit baie gereën het en die brulpaddas kwaak-kwaak so. Die spore van geregtigheid is die wapad deur die mielielande waar die diep waspore altyd lê, al het die wa ook lank laas daar gery. By die dal van doodskaduwee maak Alie haar rug so bak, want sy voel die koue bang wat sy altyd saans voel as sy die hek anderkant oom Krisjan se plaas moet oopmaak en sy dink aan die graf wat net kort anderkant die hek in die gras is.

“U maak my hoof vet met olie”, dit gaan vir Alie soos iets wat moet lekker ruik soos die rondawel as daar ’n skottel vet kaiings in staan. Die mooiste is die end van die “lengte van dae”, want Alie dink altyd dit sê iets van ’n dag wat so lank soos twee somerdae aaneen sal wees, so lank skemerlig oor die koppie agter die huis. Maar altyd is dit so: voordat ’n mens lank oor die twee somerdae aaneen kan dink, sê juffrou Barnard: “Laat ons bid.” Dan kraak almal se banke, en almal staan op, en juffrou Barnard begin bid.

Juffrou Barnard bid nie soos oom Krisjan of die dominee of oom Jan of Ouma nie. As een van hulle bid, is dit soos die bladsye in die Hollandse boek met die storie van Genoveva, sulke anderster woorde en outydse prentjies. Juffrou Barnard se bid is soos ’n bladsy in die skoonskrifboek waar die woorde so yl is en so maklik om te lees. Alie maak haar oë klein oop, net so klein soos haar skoenknopie se knoopsgaatjie. Eers sien sy net haar skoene se blink swart punte en toe draai sy haar kop so effens dwars en sy sien Piet Brits se velskoene se punte en op die punt van die een velskoen loop ’n groot bruin haarwurm. Piet weet goed van daardie wurm, want hy lig sy skoen se punt net so effens dat die wurm nie moet afloop nie. Alie maak haar oë sommer net daar weer toe, want nou weet sy Piet se oë is ook oop en sy wil nie hê hy moet haar uitvang nie.

“Kig, kig,” maak Lulu anderkant Piet Brits, en nou weet Alie Lulu se oë het ook tot by daardie haarwurm gedraai en nou is sy aan die lag. Gelukkig sê juffrou Barnard net amen, en Alie kan haar oë wyd oopmaak. Piet Brits gaan ewe vinnig sit en kyk vas in juffrou Barnard se gesig, maar sy maak of sy hom glad nie sien nie, sy kyk na Cillie.

“Graad vyf, haal uit julle leesboeke en leer solank die woorde wat langs die prentjie van die man op die karretjie is. Graad ses, maak reg julle leie vir die somme.” Sjip, sjip, sjip blaai die graad vyfs in hul leesboeke en klarts, klarts, klarts, haal die graadsesse hul leie uit die groefies voor in die banke. Net toe Alie haar lei uithaal, sien sy daarop staan met rooi kryt geskryf: spykerboud. Sy weet sommer dis Attie Poen, en sy voel haar rug word bak van die kwaadword, maar sy gooi haar kop agtertoe net soos Lulu maak, maak haar lappie nat met die water uit die nuwe lekkerruikbotteltjie en vee die woord met sulke lang veë af, voordat Anna Poen, langs haar, kan sien. Toe voel sy ’n stekie in haar rug en sy kyk stadig om, so onder haar arm deur: dis die nuwe griffel wat Lulu van agter aangegee het vir haar. Sy skryf gou s-o-m-m-e op die nat lei, sulke vaal vetterige lettertjies, en gee weer die griffel agtertoe terug. Juffrou Barnard skryf die eerste som op die bord en dan sê sy: “Cillie, kom doen jy die eerste som hier op die bord.”

Alie gly sommerso ’n entjie af op haar bank van pure bly dat dit nie sy is nie, want dis ’n deelsom wat nie reg gaan uitkom nie, en nooit kan Alie die oorbly regkry as die deel nie reg uitkom nie. Cillie stap penregop verby bord toe en swaai haar linkervlegsel ewe ligweg oor haar skouer agtertoe. Net toe sien Alie dat daar ’n bruin haarwurm op die rooi strik van die vlegsel sit wat plaps! afval met die agtertoe swaai. Sy weet net waar dit vandaan kom, en sy kry sommerso ’n laggie wat stil in haar keel sit oor die wurm wat so gou afgeval het voordat Cillie daarvoor kon skrik.

“Piet, kom tel op die wurm en gooi dit by die deur uit,” sê juffrou Barnard.

“Waar, juffrou Barnard?” vra Piet, en hy kyk op dak toe of die wurm nie daar is nie. Juffrou Barnard sê niks weer nie, sy kyk net na Piet, en haar oë roer niks as sy kyk nie. Dan sê Piet se bank “knirts-knarts” soos hy vinnig opspring en die wurm optel en buitentoe gooi. Knirts-knarts gaan sy bank as hy weer gaan sit, en Alie sien hoe Lulu vir hom ’n lang tong uitsteek net toe hy gaan sit. Niemand kan soos Lulu tong uitsteek nie, dink Alie, en niemand sal ooit op Lulu se hare ’n haarwurm sit of ’n koggelmander onder haar bank nie, want sy sal nie eens “o” sê daarvoor nie. Cillie doen die hele som reg op die bord, en toe skryf juffrou Barnard die ander somme op. Gier, gier, gier gaan al die griffels op die leie soos die graadsesse somme doen. Alie maak net soos ou-Melitie gesê het, sy skud haar kop skoon van alles wat daarin is, tot van die lekkerruikbotteltjie met leiwater, en sy dink net aan die somme. En toe juffrou Barnard die tweede keer in die paadjie afstap, is al haar somme klaar en kan sy hand opsteek. Juffrou Barnard buk langs haar, en Alie maak haar oë toe, so lekker ruik juffrou Barnard se gesig. “Fi-jirts, fi-jirts, fi-jirts,” sê die stukkie kryt op Alie se lei soos juffrou Barnard hakies maak by die somme wat reg is – almal reg!

“Al vier reg, Alie!” sê juffrou Barnard. “Nou kan jy en Lulu vanoggend die emmer gaan vol maak by die windpomp.” Lulu se somme is altyd gou klaar en altyd reg.

Lulu val amper oor haar boeksak, so vinnig spring sy op, en soos twee meerkatte spring hulle by die deur uit en gaan haal die skool se groot drinkwateremmer agter die deur van juffrou Jooste se klaskamer. Die graad drie klas is net besig om op te sê:

Tingtinkie sit bo in die boom

Waaronder oolfant staat . .

Alie vat die emmer agter die deur, en hulle stap aan in die pad na die pomp by oom Koos se huis, want dis die naaste huis aan die skool. Daar gaan twee kinders elke oggend die skool se emmer vol maak vir die dag.

Lulu knyp haar oë styf toe, net soos klein Jannie Brits, en dan swaai sy haar lyf heen en weer en sê net soos die kleintjies: “Tingtinkie sit bóé innie boom, waaronder oolfant staat …”

As Alie weer kyk, staan hulle by die windpomp op oom Koos se werf, en Lulu hou die emmer onder die pomp se uitlooppyp. “Tjierr, tjierr,” sê die windpomp en dan “sjlirr, sjlirr” soos hy die water by die pyp uitgooi en die emmer vol maak.

Nou vat Alie eenkant en Lulu anderkant aan die emmer se hingsel en hulle stap terug in die pad skool toe. Duskant die hek naby die skool sien hulle ’n motor aankom en hulle sit gou die emmer neer, sodat Lulu die hek kan oopmaak. Dis die winkelagent, weet Alie, net hy het so ’n motor. Lulu maak die hek oop, en die man ry stadig deur en gooi vir haar ’n borssuiker deur die venstertjie, maar sy gaan dit nie optel nie. Nee, sy draf agter die motor aan, wat stadig ry, gryp agteraan vas en gaan sit opgerol soos ou Piet, die grys kat, agter in die noodwiel! Alie is so verskrik en verwonder dat sy nie kan roer nie.

Wat op aarde gaan Lulu nou doen? Daar trek die motor, al hoe vinniger en vinniger gaan dit, want die winkelagent weet mos niks van Lulu nie, en net toe hy deur die eerste groot sloot gaan, rol Lulu haar los en sy spring grond toe. Soos ’n wawiel rol sy al in die rondte, al in die rondte van die val en toe lê sy doodstil langs die pad. Alie los die emmer se hingsel en gee sommer ’n paar spronge na die sloot toe. Doodstil lê Lulu, en Alie se keel voel seer van die skrik en van die bang. Net toe sy by die sloot kom, spring Lulu orent en skud haar kop met sulke kort skudjies heen en weer, en toe staan sy regop. Haar been is vol stof en rooi bloedvelletjies soos sy haar nerfaf geval het, en haar swart hare en haar rok is vol vaal sand.

“Ek het nie geweet hy sal so gou vinnig ry nie,” sê sy. “Sjoe, my been brand,” en sy spoeg op haar bak hand en vryf oor die nerfaf been.

Alie soek-soek in haar kop na ’n woord om te sê, maar van skrik kan sy nie een raak vat nie, haar mond bly net oop.

“Kom, ons moet nou gou loop,” sê Lulu, en sy draf aan na die emmer toe.

“Jy kon jou ongelukkig geval het,” sê Alie toe hulle weer die emmer optel, net soos tant Lenie altyd vir haar sê as sy seerkry. Dis die eerste woord wat sy kan raak vat.

“Aag,” sê Lulu, en sy gooi haar kop so agtertoe, “dis niks seer nie. Maar kyk hoe donker word die lug.”

Alie sien nou eers hoe donkerblou lyk die lug, net soos uitgevalde ink.

“Daar kom ’n weer aan,” sê sy, net soos oom Jan altyd sê.

“Dalk kry ons nou die dag af,” sê Lulu. “Kom ons loop vinniger.”

By die skool sien hulle meneer Bronkhorst op die kliptrap voor sy deur staan. Hulle weet hy kyk na die weer.

Toe hulle by juffrou Barnard se deur ingaan, kom Petrus Snyman van graad ag agter hulle in.

“Meneer sê almal moet dadelik gaan inspan en huis toe gaan,” sê hy. “Die weer kom op.”

“Nou ja, kinders, pak gou julle boeke in en staan,” sê juffrou Barnard.

Dit gaan soos die vinke saans in die populierbos soos almal boeke inpak.

“Dag, kinders,” sê juffrou Barnard.

“Dag, juffrou,” sê almal, en Alie hoor nie weer Lulu se stem los deur die ander s’n ryg soos altyd nie. Nou weet sy darem Lulu het groot geskrik, anders sou sy nie vergeet het om weer ’n ander stemmetjie te maak nie.


Buitekant skree almal vir die donkies in die kampie, en Alie en Lulu help gou vir Cillie inspan, want dit word al hoe donkerder. Die lug lyk vir Alie soos ’n groot tafeldoek waarop die ink uitgeval het, en nou kom die donker inkkol al hoe nader.

Piet Brits en sy broertjie is eerste klaar en ry al by die hek uit toe Alie nog die een swingel vir Cillie vasmaak. Tweede ry Anna Poen en haar twee broers, en dan trek Cillie agterna. Die Krouses sukkel nog met hulle donkies, sien Alie toe sy en Lulu op die bultjie deur die kampdraad klim om deur die veld huis toe te loop. Agter die grootste koppie trek die weerlig sy eerste blink streep teen die lug, en kort daarna brul die donder ver anderkant die verste koppies. As almal vinnig ry, sal hulle voor die storm by die huis wees, dink Alie.

As die ou weer sy Afrikanerbul laat brul agter die kop, is hy nog nie so op jou hakke nie, sê tant Lenie altyd, maar as hy eers sy sweep so oor die koppe klap, moet jy weet hy vat-vat aan jou rug, en dan wil hy niemand buite sien nie.

Ou-Melitie staan voor die rondawel en waai vir Alie en Lulu en wys hulle moet vinniger loop.

“Ou-Melitie is weer bang vir die weerligvoël,” sê Lulu. “Ek is nie bang vir hom nie. Ek sal net doodstil sit op ’n klein hopie in die veld, ver van ’n boom af, dan sal hy my nie raak pik nie.”

“Haai,” sê Alie, “dit sal mos nie help nie. Hy het ’n bek soos ’n slang se tongetjie, hy skiet dit so heen en weer, heen en weer, sê ou-Melitie, en tussenin slyp hy dit skerp teen die lug, en dis die kere dat hy die blink wikkelstrepe teen die lug maak. Oe, as hy jou darem raak pik!”

“Wat dan?” vra Lulu, en sy vryf die been wat sy so nerfaf geval het.

“Ou-Melitie sê as hy jou raak pik, is dit so goed soos iemand trek met ’n vuurgriffel ’n streep deur jou. Dan krimp jy klein-klein op en jy lê doodstil en jy roer nooit weer nie.”

“En is dit seer?” vra Lulu.

“Natuurlik is dit seer! Vuur maak mos seer, seerder as nerfaf val, sowaar,” sê Alie.

By die werfhekkie loop ou-Melitie hulle tegemoet. Die lug is amper so donker soos aand, en die vuurgriffel trek vinnige strepe teen die inkblou lug.

“Kros-jor-hart-en-doun-sy,” sê Lulu vir Alie, en Alie weet dis oor die val.

“Jôna whê, nonwe Lulu,” sê ou-Melitie, “wat jy’t gemak by darrie been? Jy was weer banja stout, ek hor hom darrie deng van die kros-jor-hart.”

“Lulu het geval, ou-Melitie,” sê Alie. “Dis regtig niks nie.”

“Jy moet gou loop, nonwe Lulu, die storm sy’s naby,” sê ou-Melitie.

Lulu gee so ’n paar vinnige spronge in die voetpaadjie op en waai vir ou-Melitie en Alie so in die spring. Voor die winkeltjie staan Lulu se pa en wys sy moet vinnig kom. In die veldpaadjie skree net een kiewiet ’n harde skree, en dan slaan die weer so ’n sweepslagslaan, en Alie weet nou is die storm by Rivierplaas.

“Jô, nonwe Alie,” sê ou-Melitie, “loop by die huis, die grot voël sy pek nou naby.”

Plops val ’n groot, swaar druppel op Alie se kop, net toe tant Lenie roep: ‘Alie, kom in die huis in, kind, en laat ou-Melitie die agterdeur toemaak.”

Vinniger, vinniger val die groot swaar druppels, en buite in die skemer veld hoor Alie aaneen die een kiewiet skree: “Swaar weer! Swaar weer! Swaar weer!”

Rivierplaas: Alba Bouwer-omnibus

Подняться наверх