Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort - Anna M. Louw - Страница 10

3

Оглавление

Ná die diens, soos dit die goeie gebruik is, het daar groepies buite rondom die kerkdeure versamel om ’n paar woorde te wissel, veral boere van die distrik, te kenne aan hulle bruinrooi gesigte, fleurige hemde en dasse. Kinders het, ná die kwellende stilsit, om die kerk gekattemaai, sodat mammas moes waarsku teen die verniel van die fyn kerkrokkies en die pakkies klere net soos Pa s’n. Eerbiedige stilte het gedaal wanneer een van die Lotriets verbykom. Mans het manlik na vore getree en hand geskud met ’n gemompelde: “Jammer van gister!” Eers op pad uit plase toe, of aan die etenstafels op die dorp, kon jy luister na die onbevange opvattings.

Ou Birnbaum, eienaar van die Royal Hotel (onlangs vernoem tot President Hotel) het met sy ou rasgenoot, Levin, eienaar van Dames Uitrusters en Algemene Winkel (onlangs van twee yslike toonvensters voorsien) verveeld op die hotelstoep sit en kyk hoe die Christene uit die kerk kom. Hulle is lankal uitgespog oor hulle seuns wat ’n “merk” in die stad in beroepe aan die maak is; hulle is uitgekla oor die verdwyning van die dorp se sinagoge weens gebrek aan ondersteuning; Birnbaum lag nie meer vir Levin, wat ’n boerse sin vir humor opgedoen het, se grappe nie; Levin is heimlik buikvol vir Birnbaum se gekla oor sy vrou se swak hart en dat hy in Seepunt wil gaan aftree, maar sy hotel nie verkoop kan kry nie. Eintlik is ras ál gemene deler, want Levin se oorlede vader het al in 1910 (datum op vooraansig) hier kom winkel open, terwyl Birnbaum eers in 1938 deur die Nazi’s verjaag is. Met sy donker gelaatskleur en haakneus, is Levin ’n troue afgietsel, terwyl Birnbaum blond is en met sy krullerige grys hare wat hy agteroor kam, effe na ’n leeu lyk. Hulle praat liewers Afrikaans (aangeklam met Engels) omdat Birnbaum minagtend deur sy growwe neus snuif wanneer Levin Jiddisj probeer. Dis net wanneer Birnbaum – seldsaam – glimlag dat sy grysblou oë Semities skeef trek. “Niemaars ’n dag vry,” het Birnbaum weer die oggend gekla, “immer op diens, die staf word by die dag meer ongetoë: die meer geld, die minder arbeid. ’n Jeder is jou baas en myne vrou word elke dag korter van asem.”

“Noem jou prys,” het Levin lusteloos gesê, “kan wees ek koop.”

“Man noem nie nommers nie,” het Birnbaum aangevoer, wel wetende Levin gaan nie koop nie, “maar zum voorbeelde: die verbeterings het my R20 000 gekostet. En van die bar in die lokasie geopen is, is myn drankwinkel ook na syne moer.”

Só: konstant bly net die trekke van die lotgeval, die mense wat verduur, is toevallig. Verslind en uitbraak, verslind en uitbraak …

Van die kerkgangers doen aan om verversings te geniet, party in die private loungie waar Birnbaum tegemoetkomend iets sterkers skink; party bestel skinkborde met tee op die stoep. En Levin, die Joodse nar, word gevra om weer sy staaltjies oor Attie Hardehand te vertel: snaaks, maar nie so dánig snaaks nie; dit het egter ’n manier om raaiselagtige dimensies te open. Dit blyk dat Attie Hardehand se dogter ’n jaar of twee gelede by Levin op rekening begin koop het: langbroeke en truie, halskettings en allerlei byderwetse goed. Ses maande verby en Attie Hardehand betaal nie. Toe Levin takvol in dié rigting praat, moet hy dan hoor jy gee nie aan ’n minderjarige sonder die pa se skriftelike verlof nie.

“Wat kon ek doen?” Levin – skouers opgetrek, handpalms hulpeloos na bowe. “Ek het gesê ek sal nie weer gee nie.”

Dan volg die ontknoping wat Levin altyd laat lag dat hy stik: “Die man het bleek geword, ek dog die man gaat faint: Jy moet aangaan gee, Levin!”

Levin het kop geskud. “Asseblief, Levin!” Die man was amper op sy knieë.

“Mr. Lotriet, dis nie my dogter nie, ek moet ook lewe!”

“Jy moet gee, Levin.”

Levin het kop geskud: “Nooit weer nie! Ek het my lesson geleer.”

Toe haal Attie Hardehand sy tjekboek uit en hy teken ook dat die dogter kan koop.

Die Le Granges, wat ook ’n halfuurtjie by die hotel aangegaan het, het dit op pad uit plaas toe steeds oor die Lotriets. Piet is Jan en Attie se tydgenoot en sy twee dogters is al uitgetroud. Nou het hy en Esther net nog die ouerpaartjie by hulle in die huis. Dié sit agter in die kar – het sommer in die motor onder ’n skaduweeboom ’n koeldrankie gekry – wonderlike ou mense, al oor die neëntig en nog gereeld in die kerk Sondagoggende.

Die Le Granges is vir meer as een tot voorbeeld; jy kan byna sê die ou mannetjie en vroutjie – ewe doof, ewe goedaardig, ewe kinds – is die stokperdjie van Piet le Grange en sy vrou. Esther trek hulle soggens self aan, byna soos twee poppe waarmee sy speel. Mettertyd het hulle so op mekaar begin lyk, jy ken hulle skaars uitmekaar: dieselfde fyn, gelerige vel waaruit selfs die rimpels padgegee het, dieselfde trippelpassie, dieselfde kraakstemmetjies, want die een het hoër, die ander laer geword. “Is hulle nie wonderlik nie?” vra Esther altyd vir besoekers en sy wys die tweetjies waar hulle langs mekaar op die rusbank sit.

“Ek sê nog dis lelik van die Lotriets om hulle oorlede ouers se grafte te ontstig,” sê Esther nou. “Die ding van gister was ’n teken. Draai tog op die venster, ou man, die stof kom in.”

“Ons sal versmoor van die warmte,” protesteer Piet, met ’n uitdrukking om te wys hoe Esther se lollery oor karvensters hom altyd irriteer. Uit wraak verdedig hy die Lotriets: goeie landbougrond word skaars, daar’s nie meer plek vir die yslike begraafplase nie. En wát vir ou Koos Nek destyds moet besiel het?

“Pa!” skree hy agtertoe. “Pa onthou mos nog vir ou Koos Lotriet? Ou Koos Nek!” herhaal hy ongeduldig vir die hand agter die oor. “Hulle word nou so doof soos kwartels,” kla hy teenoor Esther.

“Hy was ’n jintelman,” sê die ou mannetjie, “nie die soort wat eers vir ’n Hotnot gebid het voor hy laat ooptrek het om te slaan nie.” Soos ’n draaiorrel elke keer wanneer daar na Koos Nek gevra word: “Nie die soort man wat ’n dier of ’n meisiemens mishandel het nie. Lief vir sy perde. Die mense het altyd gaan staan om te kyk: daar kom Koos Nek op Appolus aan …” En hy lag, nugter weet waaroor.

“Dit was ’n aardigheid,” kraak die ou vroutjie op haar beurt, “hoe hy die seuntjies van kleins af voor hom op die perd gevat het. Ek het partykeers met die naaldwerk gaan help.”

“Stil, Ma, ek praat,” sê die ou mannetjie, maar so goedaardig, dis net nog ’n weerklankie uit die verre verlede.

“Die mense het altyd gesê, die koning en sy kroonprings,” volhard die ou vroutjie. “Ek het my partykeers gevies …”

Piet en Esther luister nie meer nie.

“Ek hoor,” sê Piet, “dat Attie Hardehand ou Jan se verband gaan opsê. Hy moet maar lig loop vir daardie klein Jaco, dié is so reg uit ou Koos Nek se kluitjiepot.”

“Die mense praat, hulle praat,” sug Esther, gedagtig aan die laaste deel van die preek, “maar dis nie vir my ’n mooi ding om die dooies se rus te verstoor nie. Draai die venster weer effens af jou kant, Piet, dis warm …”

Die dominee, wat sterk voel oor bewaring, het ná “ogies toe” gesê hoe jammer dit tog is van die mooi ou begraafplase wat die een ná die ander aan die verdwyn is. Ou Koos Lotriet het destyds ’n mode laat ontstaan: ’n paar morge moet dit beslaan, alles met inheemse struike beplant. Dit was nog ’n lushof sestien jaar gelede: besoekers van die stad het kom kyk. Nou kom dit ook onder die trekker.

“Ek wil gaan rus,” onderbreek sy vrou sy bepeinsing. Sy’t met opset vroeër laat eet.

“Ek sal die mense seker moet gaan besoek,” sê hy.

“Ek sal seker moet saam,” sê sy met ’n tikkie rebellie en lê ’n hand op haar buik.

“Onder die omstandighede …” gee hy toe, “as …” Hy bly stil; die oudste seun het ’n ongemaklike ouderdom bereik. “Gaan julle seuns nou maar speel,” sê hy vriendelik, maar ferm, “en, Jantjie, jy moet afleer tande tel.”

“My preek vanoggend,” begin hy sodra die seuns uit is, soos sy vrou ook gevrees het, “bokant hulle vuurmaakplekke?”

“Wanneer sal jy tog leer dat elke preek net vir die reeds bekeerdes is, my man?” sê sy ietwat skerp. “Jy moet net jou plig doen en hoop op die beste.”

“Maar wat is plig?” Vlugtend onthou hy vir Pilatus.

“Meer verenigingslewe, minder teorie,” sê sy. Sy glo aan die horisontale benadering en wil bowendien gaan rus.

“Die twee broers wat so totaal uitgesak het,” murmel hy agter haar rug aan. Hy trek sy wenkbroue pynlik saam. By Kobus Lotriet het hy nog skeurtjies menslikheid ontdek, waar iets kon wortel skiet, maar Klaas Lotriet het hom opnuut oortuig dat ’n bietjie geleerdheid gevaarlik is. Die man se vinnige, foutiewe argumente plaas jou in die posisie van ’n geoefende skaakspeler teenoor ’n beginner wat voordeel trek uit onortodokse, lukrake skuiwe. Hy’t al met geleentheid die jongste broer, wat vanjaar sy kandidaatseksamen aflê, attent gemaak op sy plig teenoor die ouer broers.

Die dominee het in sy studeerkamer gaan sit en die tande begin verwyder uit sy preek vir die aand.

Die junior prokureursvrou het in elk geval nie gegaan vir die preek nie. En ná die diens het sy haar meer as ooit uitgesluit gevoel, sy’t al begin wonder of dit haar klere is wat aanstoot gee.

“Moenie verspot wees nie,” sê haar man terwyl hulle peusel aan die gesondheidskosse wat hulle Sondae – die bediende se af dag – verkies. “Dis juis die plattelandse meisies wat die uitspattigste modes dra. En die meide bly nie agter nie.”

“Die saaiheid,” gaan sy egter voort om te kla, “swangerskappe, troues, begrafnisse.”

“Jy plaas dit in die juiste volgorde,” sê hy prettig.

Haar mooi blonde gesiggie word effe rooier: sy sal nooit hier aanpas nie. Hy ook nie. Hulle is stedelinge.

“Geduld,” sê hy, “dis ’n winsgewende praktyk, dit behoort nie langer as vyf jaar te duur nie.” Die ouer vennoot, ’n oujongkêrel, begin dink aan aftree. Dan is dit los voor. Die junior prokureur en sy vrou het dit alles vooruit beplan: Eers nog ’n reis oorsee, dan een of twee kinders. Maar sy laat haar nie vandag opruim nie: sy kan nie glo die platteland bied beter geleenthede nie: sy’t lus en gaan kuier by haar ouers in die stad, pruil sy. (Sy weet sy lyk sjarmant wanneer sy pruil.)

“Jy sal jou verstom,” sê hy en sy oë glim, “hoe lief die ou plattelanders is vir prosedeer.” En professionele etiket ten spyt, verklap hy: vat maar vir ou Attie Lotriet – ja, die man wat so effe na ’n padda lyk – hy is een van die mees geslepe sakemanne wat daar loop. Op die oomblik het hy ’n proses hangende wat daarop gaan uitloop dat hy die hele familieplaas inpalm. Die senior vennoot het hom daarvan op hoogte gestel.

“En wat van die ander broers?” vra sy jeugdig ontsteld. “Woon daar dan nie nog vier van hulle op die plaas nie?”

“Wanneer dit by aardse besittings kom,” grinnik hy. “Daardie einste ou Attie het glo destyds ná sy vader se dood ’n uitgerekte hofsaak aan die gang gehad oor die testament. My vennoot tel dit onder een van sy prestasies dat hy die testament grotendeels hersien gekry het.”

Sy skud haar kop: “Hy lyk dan so onskuldig.”

“Jy ken nog nie die wêreld nie, my skat!” Hy belig haar met sy mooi blou oë – ’n veelbeduidende flits, wat vroue nog altyd onweerstaanbaar gevind het. Hy sit sy arm om haar skouers en sy laat haar weglei om saam te gaan rus in die slaapkamer. Waar hulle lugreëling geïnstalleer het.

“Vir ’n dokter op die platteland,” sê die dokter, vaal en verweer ná ses jaar, “is daar nie genade nie.” Hy is pas terug van ’n plaas en sy vrou het sy bord kos in die oond warm gehou. Nou sit sy regoor hom om hom geselskap te hou terwyl hy eet. Sy wens hy wil nie soos ’n wolf eet nie. Sy wens terselfdertyd hy wil gou maak en klaarkry.

“En altyd op ’n Sondag,” sê die dokter. “Kom jy daar ná ’n uur of meer se ry oor ellendige grondpaaie, het die pasiënt tien teen een herstel, of verdwyn iewers uit op die lande. ’n Dokter op die platteland is elkeen se bleddie slaaf, hy’s nie van vleis en bloed gemaak nie. En jou kar is elke tweede jaar gedaan. Die regering behoort plattelandse dokters te subsidieer …” ensovoorts. Sy vrou ken die storie al van buite.

“Ek was vanoggend kerk toe,” sê sy. “Almal is aan die praat oor die ding van gister en oor die Lotriets.”

“Al wat ek van hulle weet,” sê hy en slurp versadig aan sy koffie, “is dat hulle nie glo ’n dokter het betaling nodig nie. Ou Attie se vrou was goed ses maande gelede hier en nog nie ’n sent nie. Ek het gesê sy moet plate in die stad laat neem: haar moer is aan flenters. Maar dis dan sus en dis so – die ou jakkals behoort hom te skaam.”

“Wat makeer haar?” vra sy bedug. Sy’t ’n neurotiese vrees vir kanker.

“Iets wat stadig ontwikkel,” sê hy op sy hoede. “Dalk bietjie ipekonders daarby. Daar’s twee dinge van jou plattelandse Afrikaners: hulle betaal nie doktersrekenings nie en hulle het ipekonders.”

Sy luister nie meer nie: sy sal nie rus voor sy haar weer ’n slag deur ’n stedelike ginekoloog laat ondersoek het nie.

“Gee my dan liewers die ou Hotnots,” sê hy, “g’n stuk ipekonders daar nie: ’n kop moet eers behoorlik oopgekloof wees. En hulle betaal kontant.”

Die dokter se plan is, vanselfsprekend, om hier klaar te kry en dan te gaan spesialiseer: in die rigting van die psigiatrie, so hoop hy.

By die dorpslokasie het daar intussen “sports” ontwikkel wat die dokter een of twee gebreekte skedels sou kon besorg. Johnnie Esau (bygenaamd Johnnie Politiek) het juis die lounge van die “hotel” wat toegestaan is onder die bedeling “gelyke voorregte” binnegekom. Hy is ’n lang, loslit Kleurling van iets oor die veertig wat altyd ’n skoon hemp aanhet en net bier gebruik. Hy sit twee bottels, versigtig met koerantpapier gekamoefleer, op die rooi plastiekblad van die tafeltjie neer waar vier van sy getrouste kantienvlieë wag.

“Dit sal rand sestig wees,” sê Johnnie.

“Agge-nee-a, oom Johnnie,” kla die onmensige vet man met die verkreukelde rooi hemp goedaardig, “waar kô die tien sent meerderer dan vanaan?” Hy laat duik nietemin sy hand in die agterste broeksakkie en bring twee rand uit.

“Ek moet my insurance hê,” sê Johnnie, “ek vat ’n kans om Sondae te verkoop.” Hy kyk vinnig na die groot venster van geriffelde groen glas.

“Issie kerk dan al yt?” vra die kleinerige donker kêrel met die geletselde harspan en hy lig sy smal gesiggie omhoog soos ’n duiweltjie uit ’n kassie. “Hy kan noggie hier rond wees nie,” sê hy en begin stroop die papier behendig van ’n bottel.

“Dis yt, ja,” sê die geel lummel van onbepaalde ouderdom, sy sakkies-oë gretig op die bottel, “en verderder het hy sy aanstellings om te kom oë speel. Sigselwers sal hy nie weer kom nie.” Hy ontplof van die lag, een van die leë plastiekglase slaan om. En die ander brul saam oor die herinnering aan die Sondagmiddag ná die kerk toe die Eerwaarde hier weg is sonder bril en valstande.

Die seremonie van uitskink maak hulle stil. Dan swaai hulle gesondheid en hulle drink. Die klein bruine sit eerste met ’n tik neer. Met ’n wêreldwyse glimlag luister Johnnie vir die ander drie tikke en hy kyk hoe die handrûe oor die monde gaan. Op ’n manier is hulle sy kinders.

“Sal die antie nie ga naald steek nie?” bedink die gele nou.

Hy rol sy oë in die rigting van die dik ou bruinvrou op ’n groen geskilderde rottangstoel teen die anderkantste muur. Sy sit toe-oog weggesak in haar stoel, of sy slaap. Die groen lig gee ’n doodse skynsel aan haar vel. Dit word skielik arrig.

“Nie antie Mietjie nie,” sê Johnnie. “Antie Mietjie,” roep hy net om seker te maak, “hoe lyk jy die Eerwaarde?”

Dit bring die ou vrou in beroering. Sonder om na hulle te kyk, begin skud sy haar kop, skud aanmekaar veel langer as nodig. Sê egter niks nie.

“Dié wo mos toe gister nie haar seun ga begrawe nie,” verduidelik Johnnie, “net oor sy lidmaatskap van die Ketliek Church is. Julle ken mos vir Fielies, die plaasjong wat pertykers hier ingekom het?”

“Die ligte een wat innie Poort virrie Lotriets werk?” vra die gele.

“Juistemint! Dis sy mame da!” Johnnie praat weer in die rigting van die ou vrou: “Antie Mietjie, vertel bietjie weer hoe swaar jy planke vir jou seun se kis uit die witmense gekry het.”

Johnnie wag, sy mond effe oop; hy’t goudstopsels in sy voorste valstande. Maar die ou vrou kyk net ’n telling op en trek die vaalkombersbondel langs haar ’n aksie nader.

“Vanmôre tienuur hier aangekom,” is Johnnie verplig om self te verduidelik. “Heel ent van die plaas voetgeslaan. Toe gee ek maar sitplek. Antie Mietjie …” probeer hy weer, vasberade om ’n reaksie uit te lok, “waar gaat jy hiervanaan?”

Die ou vrou roer haar skouers om te wys sy’t nie sinnigheid vir uitstal nie.

“Leeftyd om gewerk vir ou Kobus Lotriet – die een wat hulle Karba sê. Nou sit sy op die haai vlak,” sê Johnnie.

“Witvarke!” sê die kleintjie met die letselkop. Sy sluwe donkerbruin ogies bliksem iets.

“Boere!” verbeter die gele. “Dis hulle wat ons ondertoe druk. Wat sê jy dan, oompie Jan?”

Die vierde lid van die drinkebroers is ouer al, met wit drade in sy wol. “Ek kyk maar so aan,” grinnik hy. Hy is die soort wat nooit genoeg verstaan om betrokke te raak nie.

“Dit sal nie meer lank wees nie, dan doen ons die drukwerk,” sê Johnnie aan sy proseliete en hy staar betowerd na die bloedbad wat hy sien kom. Hy kry die wittes byna jammer wanneer hy sien hoe hulle nog hiet en gebied of hulle nie weet hulle dae is getel nie.

“Maar die Kaffers – aikôna!” gooi oompie Jan versigtig stuiwer in die beurs. Hy drink liewers nog ’n dop.

“Bantoes,” verbeter Johnnie streng, “hulle gaat saamstaan, julle moet respekte hê.”

“Waarom wag ons nog?” vra die vette gulhartig. “Waarom stuur ons vrinne oorie see nie gewere nie?”

“Heg-geg!” spot die kleintjie nou. “Unkeltjie Dikkes sal agterbly mettie weghol!” Met dié dop hy bottel nommer twee handspeel uit die koerantpapier.

“Unkeltjie Dikkes is daam goed genog vir die betaal,” sê die rooi hemp, “en gee hie-sô, wie se wyn issit dié?” Hy lê met ’n groot pofhand beslag op die bottel.

Die kleintjie gaan egter nie los nie. Tartend kyk hy vir rooihemp met die uitdrukking van een wat nie vir soetkoek opvreet nie al suip hy anderman se wyn. En hy gee ’n pluk.

Die rottangstoel teen die oorkantste muur kraak soos die ou vrou se lyf verstrak. Sy hurk vorentoe, haar oë wantrouend op hulle. Die lig val groen oor die halfdosyn tafeltjies met die rooi plastiekblaaie. Die plek ruik na die Jeyes Fluid waarmee Johnnie Saterdae die linoleum laat afwas.

“Laat los my borrel,” sê die dikke ná ’n oomblik se aarseling.

Maar verre sy dit van die kleintjie, wat nou staande die bottel met ’n duimnael oopkry en dans-dans drink. Vinnig sluk hy of sy lewe daarvan afhang. Sit dan die halfleë bottel neer. “Kyk die lillike gevriet!” sê hy teen die verblufte gesigte om die tafel in. “Skoon vark.” Want hy’t nooit tevore opgelet hoe lélik die dikke eintlik is nie.

Toe die stoele agteruit skraap en oompie Jan hande-viervoet begin wegkruip na die binnedeur, staan die ou vrou op. Maar gaan weer sit. En kyk rukkerig asemhalend hoe die rusie vorder. Blitssnelle wapenmonstering eers. Die kleintjie het sy klinknael-lyfband af en rooihemp gryp die leë bottel aan die nek en kap die boom geoefen op die tafelhoek af; dit word ’n lelike kapding. So staan hy oorgehaal, bewapen teen wat ook al kan kom. Tot die gele hom slu van agter pootjie en hy soos ’n sak vol leë bottels omslaan.

“G’n nonsens hier nie,” dink Johnnie om streng te waarsku. Hy bemoei hom net wanneer sake na hóé begin lyk. “Anders smyt ek yt,” sê hy.

Maar woorde kan nie meer keer nie. Rooihemp is op en hy mik venynig. ’n Oomblik later lê daar ’n bloedstreep oor sy wang. Van die kleintjie se lyfband. Sodat Johnnie verplig word om sy akoliete te tug. ’n Netjiese skop ontneem die vette sy bottel. Dan die kleintjie eenkant toe wysmaak en anderkant toe vasvat om hom te ontwapen. Die kleintjie is egter rats en nou mal van die veglus. Kop na vore bestorm hy die dansende Johnnie, want kopslaan is die kleintjie se eintlike naam. Maar Johnnie slaap nooit nie – dis die groot venster wat die kopslag ontvang; die geriffelde groen ruit beswyk met ’n ysige gerinkel. Johnnie is nou self briesend. Skoppe in die agterstewe en uit met sy kwekelinge. Hy sluit die lounge-deur. Dan gaan sit hy met ’n kannetjie bier.

Maar die ou vrou wil nou skielik ook weg.

“Waar wil jy heen, antie Mietjie?” hyg Johnnie. Hy voel skielik allenig en seer.

Die ou vrou skud net kop.

“Het jy nie tong nie, antie Mietjie? Waarheen in die bloedende son?” Johnnie sluk bier of hy woorde moet terugspoel.

“Dis te rof hier in die lokasie,” sê antie Mietjie. “Ek issie so grootgemaak nie, ek het kleintyd my gelerentheid gekry.”

Johnnie staan driftig op om oop te sluit, half bly ook om ontslae te wees. Aans maak sy gereeld paadjie hiernatoe. Johnnie kan sy gevoelenteite nie mooi kleinkry nie: die Sondag is altyd sy hartseerste dag. En soms wonder hy of alles nie net blymaak-stories is nie.

Onder tussen die fatsoenliker huise kom Mietjie die Eerwaarde teë, sy kyk stip anderpad. Die Eerwaarde se bruin gesig is nat van die sweet, die son steek hom deur sy swart manelpak. Hy vat ’n pampier rond, hoor Mietjie by ’n vrou wat in haar voordeur staan, om te laat teken teen die hotel in die lokasie. Want die Eerwaarde is ’n idealis, van dié vir wie dit erns is om sy eie mense te lei. By die begrafnisse huil hy oor die slagoffers van baklei en messteek en hy vra wat nog van dié ou volkie gaan worde. Soms vat hy ’n konstabel saam met hom om die kinders wat stokkies draai, uit die huise te gaan haal. Soms weier hy selfs om die vorms vir die oumenspensioene te teken, hy sê dit gaan net vir drank. In sy kantoor hou die Eerwaarde ’n latjie en ’n bruin kardoes met suiker aan. Wanneer die skoolhoof seuns vir tugtiging bring, laat die Eerwaarde eers broek afstroop – gee, ná die slae, ’n lepel suiker in die mond. Die Eerwaarde is moeg en mat ná twintig jaar se bediening; sy donkerbruin gesig het mettertyd iets bedroefs en aapagtigs bygekry.

“Hy’t nooit vir Fielies die lepel suiker in die mond gegee nie,” kla Mietjie teenoor die vrou wat in haar voordeur staan.

Dis by ou Gert Garing, leier van die kerkraad, waar daar vandag met die grootste gesag gepraat word.

“Attie Hardehand sê vanoggend by die kerk hulle het die kis toe weer maklik aanmekaar gekry – net die deksel was af en ’n syplank los. Olienhout se kind, nè! Ná al die jare …” Ou Gert, ná die tafelgebed.

“Het Pa toe gevra hoe dit gekom het?” vra die seun wat die boerdery oorgeneem het. Hy bly Sondae ná die diens met sy familie om saam te eet.

“Mens kan ook nie alte reguit vra nie,” bedink ou Gert, “lyk my die Lotriets is half verleë oor die ding. Attie Hardehand sê hy weet ook nie bra nie, dit was maar net ’n ongeluk. My opinie …” dink ou Gert verder, “is dat dit Kolie was wat kattekwaad aangevang het, hy’s daar bo gesien. Ou Jan,” sê hy, “is vir ’n wonder tjoepstil.”

Dit laat die seun dink. “Dominee se preek vanoggend, nè?” sê hy. Hy’t die ouderdom bereik waar spier in vet en ligsinnigheid in erns verander.

“Ja’k!” mompel ou Gert, doodbang vir vasvra. “Die dominee,” voeg hy dreigend by, “moet maar oppas vir mond verbrand. Maar wat ek wou sê …”

“Daardie van die trots,” volhard die seun, “mens kan nie help om te dink nie. Pa het mos nog vir ou Koos Nek geken?”

“Geken en nie geken nie,” val ou Gert met verligting in, “wie kan tog sê hy’t ou Koos Nek geken. Net van ’n afstand. Ek was natuurlik veel jonger, maar dis of ek hom nog voor my kan sien: korterig van postuur, hy’t mos altyd ekstra sole onder sy skoene laat spyker om langer te lyk. En so ’n houding, jy sou sweer hy’s ’n reus!”

“Die braaiboud word koud. Sny eers vir ons, Pa,” maan ou Kittie. Sy is ’n energieke, maer ou vrou met ’n ongelooflik verplooide nek. En trots op haar tafel kos; sal nie laat praat voor daar geëet is nie.

Ou Gert sny. Gehoorsaam begin streel mes en vurk nou die opgehoopte borde. Stilte heers – net af en toe ’n kleinkind wat beskeie fluisterend nog ’n stukkie vra, een keer die skoondogter wat wil weet waar haar skoonma dan nog saffraan vir die geelrys kry. Ou Kittie meen dat sy invloed het op Levin.

“So draai die wiel,” sug ou Gert eindelik. Hy proe aan sy koffie, dis nog te warm. “Die boonste sporte kom onder,” konstateer hy.

“Nou gaan Pa te ver,” berispe die seun. Die preek, vir sover hy gevolg het, spook nog flou by hom. “Attie Hardehand is darem ’n fluks boer, a!”

“Fluks uit gierigheid,” sê ou Gert knorrig, want die waarheid moet uit, “en dink jy nou daar’s ooit iets vir die kerk? Dis maar altyd sus, of dis so. Vir wie maak hy tog bymekaar? Daar sit hy met ’n seun wat ’n kwes in die kop het en die dogter …” Ou Gert haak vas, hy’s nie in staat om die afstand tussen hom en ’n wulpse skoolmeisie te oorspan nie. Hy praat liewers van ou Jan: dié was maar altyd nog ’n ou bontskieter. Ou Gert raak aan die lag toe hy vertel hoe die dominee met die laaste kerkraadsvergadering vir ou Jan moes stilkry met: “Ek vrees, broer, ons dwaal te ver weg van ons oorspronklike grappie.”

“Jongmense verander, Pa,” gooi ou Kittie stuiwer in die beurs.

“Hulle verander nié,” oordeel ou Gert, “ek is al oud genoeg om te gesien het.”

“Pa, jy darem!” sê ou Kittie toegeeflik. Daar was tye in hulle huwelikslewe toe sy haar ou trekmaat dood kon gegaffel het, maar sy gun hom steeds die ereplek. Hy’s immers haar man en die vader van haar seuns.

“Nee wag, Pa, nou skinder ons mos!” Die seun.

“Ek sê maar net ou Koos Nek het kop en skouers bokant één van sy afstammelinge gestaan,” sê ou Gert, steeds agter die waarheid. “Toe hy jonger was, het almal gedink daar word iets van Klaas, hy was ’n slimkop. Nou sit en vergaan hy daar op die plaas en jy sien hom byna nooit nie. En Kobus wat so ’n uithaler-ruiter was! Jy moet hom op ’n perd gesien het!”

“’n Dronklap!” bars ou Kittie uit. “Ek het hom een keer gesien …” ’n Opstuwing van emosie laat haar vla mors uit die poedingbak wat sy vir die bediende aangee om uit te dra kombuis toe. “Bring ’n vadoek, Mina,” beveel sy skerp, “ek kom nou uit om vir julle te skep.”

“Wat maak julle, Pa?” vra ou Kittie. “Ek gaan bietjie skuins lê.”

Die skoondogter wil ook – die kinders kan soet buite gaan speel.

“Ek weet nie …” twyfel ou Gert; hy kry verlammingsnagmerrie wanneer hy op ’n vol maag gaan lê.

“Kom ons gesels liewers ’n paar woorde, Pa,” stel die seun voor, want middagslapery is vroumenswerk; laat jou bowendien gewig aansit.

“Vertel bietjie meer van ou Koos Nek,” stel die seun voor toe hulle buite op die stoep sit. Miskien help dit om wakker te bly.

Wat ou Gert betref: dit skyn ’n namiddag vir herinnering met die bergreeks daar anderkant so wasig blou teen die witterige lug.

Later word die bergreeks perserig: kolomme en koepels en rotsboë begin uitstaan uit die flanke en borse; tot lank ná die son verdwyn het, vlam die pieke nog rooi. Die ou dorp, met dele van sy geskiedenis nog ongeskonde in stil straatjies, word ’n attraksie vir vakansiegangers en bergklimmers. Dié wat hier ingeburger is, onderneem selde klimtoere; hulle is die afstand van pieke te gewoond. Dalk het die vertoon van krag en tydloosheid mettertyd ’n invloed gehad, want van die ouer families het ’n reputasie vir eienaardig wees: driekwart mal en eenkwart slim. Te veel op hulleself aangewys, sê buitestanders. In die afsondering van subtropiese valleie tussen die berge se uitlopers.

“Ek weet nie of daar veel te vertel is nie,” het ou Gert die namiddag – skielik droewig van te veel eet – gesug, “ek het dit alles maar van my oorlede vader.”

Ná ’n rukkie het hy tog begin vertel.

Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort

Подняться наверх