Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort - Anna M. Louw - Страница 8

1

Оглавление

“Vertel my iets oor hom,” het die junior prokureursvrou fraaitjies by Mevrou gepleit, “hy’s mos glo een van die distrik se legendes?”

Dit was enkele minute voor die val van die kis: die draers het al reggestaan om die handvatsels te neem en die kis met die voetpad langs teen die steilte uit na die grot te dra. Ná die afloop van die kort rede het Mevrou bevel van haar man gekry om verder in die motor te gaan wag. Sy’t haar vierde verwag, met die hoop op ’n dogter dié keer. (Dit wás toe ’n dogter!) En die junior prokureursvrou het ná ’n oomblik van aarseling by Mevrou gaan inklim. Om geselskap te hou. Om uit die wind te kom. Dit kon ook lei tot kennismaking met die regte soort mense op die dorp, want ná ses maande op die platteland het die verveling begin druk.

Mevrou het die motorvenster ’n aksie afgedraai – die hitte, ten spyte van die wind! – sy het haar handskoene uitgetrek en bymekaargevat, sodat die junior prokureursvrou begin ys het vir ’n afjak. Eintlik het sy gekom omdat sy gehoor het van die huis en sy fabelagtige inhoud. Tot dusver was dit egter ’n dooierige affêre, sonder selfs die tikkie drama van ’n gewone begrafnis. Bowendien was die besienswaardighede alles uit die gesig en weggesluit.

Die junior prokureursvrou het sit en kyk na die vergrote sweetgaatjies op Mevrou se neus toe sy tog ’n antwoord kry: “Ons weet ook nie veel nie: toe ons sestien jaar gelede na die gemeente beroep is, was hy al oud en het kort daarna gesterf.” Niks meer nie.

Hulle het in ongemaklike stilte sit en kyk en die junior prokureursvrou se gedagtes het al hoe meer liefdeloos geword. Sy’t begin soek na ’n verskoning om weer uit te klim. Toe albei se aandag getrek word deur die dik, blonde vrou. Die heeltyd al het die mens moeilikheid gehad met die twee kranse van mak-gousblom wat sy saam met ’n groot pienk hoed in die tierende wind moes behartig. Nou stap sy jou wrintig agter die kis die steilte uit en druk terselfdertyd een van die kranse op die agterste punt van die kis met haar hand vas. Dit lyk of dit ’n onmoontlike taak kan word – met die hoed wat terselfdertyd op die kop vasgehou moet word.

“So ’n vreemde vrou!” het Mevrou onverhoeds laat val.

Aldus aangemoedig, het die junior prokureursvrou op beskaafde toon aangevoer: “U kan wel sê, Mevrou … die dame het gedurende die diens by die huis langs my gesit en sy’t so ’n snaakse ding gesê: dat ou mnr. Lotriet dan op sy sterfbed gesê het hy gaan weer kom.”

“Die bygeloof onder ons mense darem!” het Mevrou reggestel. “Die stomme vrou behoort glo aan ’n sekte.”

“’n Koddige familie, vind Mevrou nie?”

“Kan wees,” het Mevrou gesê. Sy’t sydelings gekyk na niks nie – toe die rug van die sitplek voor haar vasgevat, op haar onderlip gebyt en haar swaar lyf vorentoe gehys. Die junior prokureursvrou het pas besluit dat Mevrou ’n suurknol is en dat sy die dorpsgemeenskap op eie stoom gaan verower toe dit gebeur.

En weke, maande daarna het die distrik daaroor gepraat. Iets het iewers heen beduie. En toe al die stories bymekaargebring is, was daar diegene wat gesê het dat geeste van die lug gedurende die drie dae op PERDEPOORT uitgekom het agter die skeiding tussen die sienlike en die onsienlike. Maar, omdat die gesonde verstand oorsaak-en-gevolg se onderdaan is, is daar byna dadelik redelike uitlegte gesoek vir die val van Koos Nek se kis daardie dag met sy herbegrafnis.

Jy sê dit natuurlik nie graag nie, maar dit was net nog ’n voorbeeld van Attie Hardehand, ou Koos se tweede seun en die eintlike boer van die poort, se vrekkerigheid. Hy’t die onkoste ontsien om die voetpad na die bek van die grotjie wyer te laat uitskiet, die draers kon onmoontlik met gemak weerskante van die kis loop. (En wat sou dit tog gekos het om ’n muurtjie vir die veiligheid op te haal?) ’n Stukkie van die rotssoom moet onder ’n voet padgegee het, een of meer van die draers helling se kant van die voetpad moet gestruikel het, daar het ook die dag ’n woedende bergwind gewaai, daar was sprake van ’n grondstorting hoër op, ’n rotsblok het losgekom. Die draers kon geskrik het. Enigiets kon gebeur het.

Maar die wakkeres wat onmiddellik daarna opgeklim het om te kyk, moes twyfel. Die boonste rand van die ysterklip-plaat, wat, glad soos seep – kinders het vroeër daar botterboom gery – afhel na die trap onder waar die motors geparkeer was, het op ondersoek onverganklik gelyk en nie ’n teken van ’n rotsstorting dáár nie. Die groot klip – nie ’n rotsblok nie – wat losgekom het, het agter ’n boskasie tolbos bly vassteek. En kon nie … Die vraag het ook bly pla waarom een of meer van die draers dan nie saam met die kis afgeduiwel het nie? ’n Toevallige sameloop van omstandighede dan: soos dit maar voorkom. Soos die ruit wat sonder waarneembare rede in die middel van die nag aan skerwe spring, soos die broodnodige skroef wat wegval en nie weer opgespoor kan word nie. ’n Uitleg, as jy deeglik ondersoek, is daar altyd.

Maar wie in sy hart der harte glo aan die toeval? Heel agter in die skedel kom die oerskepsel op sy voete en wys ’n teken uit. Die begrafnisgangers het in die stilligheid onthou die onaardse oomblik toe die kis voor hulle oë met die klipplaat afgeseil gekom het, en dit was of dit nooit weer gaan ophou met kantel en gly en skuur nie. Party het versteen bly staan, party het begin hardloop, een of twee het boontoe geroep. Die sterkste argument van die gesonde verstand was dat jy nooit kan weet met die span Lotriets nie! Maar die vroue, altyd groter realiste as die mans, het reguit gesê dit was ’n teken: dit was die hoogmoed, die hoogmoed wat letterlik tot ’n val gekom het.

En ou Gert Garing, leier van die kerkraad, het hom verskeie kere laat oorhaal om weer die staaltjie te vertel – hy had dit nog van sy oorlede vader – van hoe Koos Nek daardie Sondagmôre die kerk binnegery het op sy swart hingsperd, Appolus, tot voor die kansel en die destydse dominee voor die hele gemeente uitgevreet het oor ’n preek wat dan na hom sou verwys het. (Wanneer ou Gert vertel, is daar ingewikkelde gevoelens op sy gesig te lees: dit was skokkend, maar daar was ook iets heldhaftigs daaraan.)

“Was hy nie dalk getee nie?” Iemand stel altyd voor.

“Nooit aan sterk drank geraak nie,” verseker ou Gert dan, “nooit ’n speld op sy gedrag te steke nie – net die hovaardigheid. Later in sy lewe het hy met die godsdiens gedweep: ek self onthou nog die dag toe hy by die kerk om vergifnis kom vra het …”

Maar niemand het waffer belangstellings vir ou Koos Nek se bekering nie: dis van daardie inry in die kerk op die swart hingsperd dat hulle keer op keer wil-hoor, wil-hoor. Want die Lotriets is een van die families oor wie mense graag lag, of filosofeer. (Soos te wagte, is die voorval ná sowat ’n jaar byna vergete. Die distrik het egter ’n nuwe spreekwoord bygekry: “Pas op! Aans val die kis!” Dit word gesê van iemand wat hom op ’n stok steek. Of ’n verwate onderneming wat beloof om op niks uit te loop.)

In ernstiger gesprekke is daar altyd verwys na die feit dat ou Koos se lote almal wild is. Sagkens gestel: waterlote. Of abnormaal. En dít, as jy dan tekens wil soek, staan altans vas. Die tragedie wat kort daarop plaasgevind het, was net bykomend en al lankal te wagte.

“Wie tog is normaal?” het die dominee gesug toe ’n kerkraadslid eenkeer in dier voege teenoor hom geskimp het. (Dié soort vrae sonder antwoorde maak die dominee ongewild, want ’n dominee se werk is om antwoorde te verskaf.)

Om die waarheid te sê, wás die voorval daardie Saterdagnag ná die herbegrafnis vir die dominee self ’n teologiese versoeking. In die sestien jaar van sy bediening op die dorp het die dominee, soos ander voor hom, dikwels probeer om die juiste gebied van die sonde te kaart. Lank kon hy dit nie aanvaar nie dat die raamwerk van sy teologiese struktuur net te strak was vir die veelvormige steentjies van sy gegewens. Daar was tye toe hy woedend geworstel het om uit die doolhof te kom met die hulp van talle aantekeninge uit boeke, feite, ingewings, eie bepeinsings. Daar was tye toe hy ure lank op straat rondgeloop het, elke gesig dopgehou het, elke gesprek probeer afluister het. Maar telkens moes hy terugkeer in die raaiselagtige opdrag om nie te oordeel nie. Sodat die dominee se mosaïek onvoltooi gebly het.

Die Saterdagnag by sy lessenaar in sy studeerkamer moes die dominee tog opnuut wonder: bied die Lotriet-geval nie die juiste proefbuis nie? Is die trots nie – soos Augustinus en ander beweer – die moeder van die doodsondes nie: ’n sewekoppige hidra? Die dominee het ’n soort seekatbeeld voor oë gehad. Soos sy wandhorlosie voortgetik het, het dit al hoe waarskynliker gelyk. En sou hy die geleentheid kon gebruik om dalk in ’n preek? (Daar was ook ’n glips wat hy in sy vrou se oë moes regstel.)

Maar toe hy sy heel laaste ontmoeting met ou Koos Nek onthou, het die dominee die versoeking nogmaals van hom afgedoen. Weer eens het hy besef dat die verborgenisse van die menslike natuur veel dieper lê as wat hy dit moontlik vind om te peil.

Ou Koos Nek het nie meer dienste bygewoon nie, maar het so mildelik bygedra dat die jong dominee dit destyds sy plig geag het om huisbesoek af te lê.

“Wat wil die vadertjie hê ek moet die Here vra?”

Die verkrimpte ou mannetjie het verskriklik broos gelyk in die oë van die agt-en-twintigjarige dominee. Maar blymoedig – daaraan kon jy nie twyfel nie. Dit was vreemd, die dominee het natuurlik van die omstandighede gehoor: die liewe mense praat, hulle praat!

“Niks nie!” het Koos Nek gesê.

Die dominee sou afgehaal kon gewees het as sy opleiding hom nie onderskraag het nie. Veral toe die ou man voortgegaan het met wat ’n gebrek aan Christelike nederigheid kon wees: “Ek bid nie vra-gebede nie, ek het alles wat nodig is.”

“Iets moet daar tog wees,” het die dominee deemoedig gemurmel, voortgegaan om te verduidelik dat niemand volmaak is nie, dat die stryd tussen goed en kwaad voortwoed tot aan die einde.

Dit het die ou man laat lag kry, maar nie aanstootlik nie: “Goed en kwaad? Hulle is maar net twee kante van die stok waarmee ons onsself hel gee.”

Op ’n manier het dit bekend geklink, die dominee sou eers weer moes naslaan. Op die oomblik kon hy skaars dink.

“Nie dat jy nie moet probeer verdien wat nooit verdien kan word nie,” het Koos Nek daardie namiddag op die wingerdbeskutte systoep van sy huis gesê. Toe opgestaan en ’n jong trossie onder een van die geil lote ondersoek, so aandagtig dat die jong dominee onrustig geword het.

Koos Nek het weer gepraat: “Die dag kom wanneer jy weet jy’t verloor, en alles word makliker, want Hy vat die leisels. Dan begin leef jy ligvoets en dink nie meer so swaar nie. Die dae is nou my vriendjies, ons speel met mekaar. Dis die moeite werd om gebore te word net om dit te ontdek.” Hy’t die druiwetrossie steeds tussen sy deurskynende oumansvingers gehou, dit het die dominee al hoe meer verleë laat voel. Wat sê en doen jy onder sulke omstandighede?

Dalk het Koos Nek geraai: hy’t die druiwetros laat los en byna guitig gekyk: “Sien jy waarom ek alles het? Soms word ek verniet opgeneem – so lyk dit.”

Die gesprek het, wat die dominee betref, handuit geruk. Hy’t gevoel dis sy plig om te keer: “Ons leef darem nie net vir ons eie saligheid nie; u het seuns.” En half bevrees gewag, terwyl Koos Nek woorde soek en verwerp.

“My seuns was nie altyd só nie,” het die ou man eindelik gesê, “om dié rede sal hulle nie altyd só bly nie. Daar sal ander swangerskappe en geboortes wees. Ja, op ’n manier is dit waar wat jy gesê het: die stryd duur wel op ’n manier voort, die pad eindig nooit nie, dit sou onregverdig wees.” Weer het daar die ondeunde trek om die mond en oë gekom: “Weet jy, daar is nog altyd dae wanneer ek die afgodsbeelde wéér moet vernietig?”

Die dominee had geen keuse nie – hy moes vra, die byna onnutsige oë was op hom. “Beeld-van-die-bedroefde-vader, beeld-van-die-bidder, beeld-van-die-kinds-ou-man …” die oë vol ingehoue lag het op die dominee gevestig gebly. Of hy vra dat daar gelag moet word oor ’n grappie wat dalk te eenvoudig kon wees. Die dominee het begin voel hy moet wegkom uit ’n situasie waarin hy vasgespin kon raak. Hy’t opgestaan.

“Moenie moed verloor nie,” het die ou man met skielike deernis gesê. “Ek self het nooit ’n stem hoor roep nie: kan maar sê ek is van agter ingestamp.”

Op pad huis toe het die jong dominee besluit dat kindsheid, soos die mense gesê het, ’n aanneemlike uitleg was. Sestien jaar later, daardie Saterdagnag ná die herbegrafnis, moes hy twyfel. Was Koos Nek een van dié wat op water leer loop het? Een van dié wat leer balanseer het op die meslem waar God die siel ontmoet wat deur die smeltkroes gegaan het? Was Koos Nek een van daardie soort akrobate?

En hoe om dit in woorde te stel – hý wat aangewys is op woorde?

“Ag, Here,” het die dominee gekreun, “gee my dan woorde.” Maar met min oortuiging. Hy self het al begin insien: jy kry dalk wat jy later nie meer wil hê nie.

Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort

Подняться наверх