Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort - Anna M. Louw - Страница 12

5

Оглавление

Toe sy pa se ou krok van ’n Chevvy ten laaste vat, het sy ma gewonder of hulle nie eers gou by die dokter of die landdros moet aanry nie – net om te groet. Jaco het minagtend geweier: “Sit hulle ooit hulle voete by julle?”

Ná al die gesukkel laat Jaco nou die ou kar les opsê. By die tweede draai van die gruispad óm die voetheuwels op pad plaas toe, haal hy vir Attie Hardehand in en moet spoed verminder. Sy oom Attie ry altyd of hy vir donkies leisel hou.

“Stadig maar, Jaco,” maan sy pa, wat agter sit, “anders bly ons in hulle stof.” En hoes om die bewys te lewer.

Maar Jaco bly teen Attie Hardehand se buffer, hy wil verbý.

Voor langs Jaco het sy ma pennetjie-orent gekom. Terwyl Kolie Jaco sit en dophou deur die agterruit van Attie Hardehand se ou sedên. By die derde draai steek Kolie vir Jaco tong uit. Dis toe dat Jaco toeter druk en met ’n gesuis van bande en ’n woedende enjingedreun verbysteek.

Eers verby, sê sy ma kortasem: “Vir wat steur jy jou aan ’n malmens?” Sy sak verlig terug en skik die bolla op haar linkeroor, wat losgekom het.

“Die dag sal kom dat jy weer ongeluk maak, Jaco,” sê sy pa klaend agter.

Dis te betwyfel of Jaco gehoor het, want hy gee nog vet.

“En waarom het jy nie stilgehou en vir tant Annie Klaas opgelaai nie? Dit lyk sleg.” Sy pa weer. Maar hulle is lankal verby en van omdraai is nie sprake nie. Die duiwel sit nou agter Jaco.

Attie Hardehand hét spoed verminder toe hy agterkom Jaco wil verby. Hy spreek Kolie skerp aan, hy’t gesien in die truspieël. “Vir wat is jy tog so onnosel, kêrel? En vanoggend in die kerk ook …”

“Los hom uit, Attie,” berispe sy dogter, Adriana, wat agter langs Kolie sit. Geheimsinnige trane rys in Kolie se blou oë, hy vroetel na Adriana se hand.

En Attie sê niks nie – ry net ’n titseltjie vinniger. Dit bring Miemie, sy vrou, se droë lippe in beweging, want sy hou nie van wat sy maar te goed begryp nie.

“Adriana,” sê Miemie, op haar eentonige manier, “jy trek nie weer daardie rok aan kerk toe nie, die mense het na jou gekyk.”

“Die Here sal nie omgee nie, Miemie,” sê Adriana.

“Adriana!” vermaan Attie.

Adriana laat Kolie se hand los en leun vorentoe sodat Attie haar asem op sy nek voel: “Ons nuwe wetenskaponderwyser sê die Here is dalk ’n straal soos lig, of elektrisiteit. Hy sê die wetenskap sal nog eendag die Here ontdek. Hy sê daar’s ’n kosmiese gedreun in die buitenste ruimte wat dalk die Here se stem kon wees – jy kan dit hoor as jy by jou luister verby luister.”

“Het hy dit alles voor die klas gesê?” vra Attie onheilspellend. “Sy hare is bra lank.”

“Nee,” sê Adriana, “net vir my toe ek hom uitvra. Jy los hom uit, Attie, hy’s gaaf. Ophou so outyds wees.” Sy jok natuurlik, besef Attie.

Maar hy kyk teer na sy dogter se beeld in die truspieël en ’n laggie begin om sy lippe: “Bog! Hoe luister ’n mens by jou luister verby?”

“Hou stil, Pa, dat ons vir tant Annie oplaai,” beveel Adriana.

Die vrou langs die pad waai verwoed met ’n pienk sakdoekie. Dis onbegryplik dat Jaco haar kon misgekyk het: die stoere mens, met die klassieke stampblokbene en die breed-laggende rooi gesig. Vir die Sondagdienste van haar sekte in ’n tent buitekant die dorp – die Afdelingsraad verhuur ’n stukkie grond – trek sy op haar fleurigste aan. Sy’t destyds vasgetrap by shocking pink en lila-pers: pienk bloes dus, met pers skirt. Daarby ’n groterige pienk hoed met pers blommetjies versier. Sondae los een van haar kerkmense haar langs die gruispad waar sy wag om verder opgelaai te word plaas toe.

Sy klim agter by Kolie en Adriana in en begin vertel dadelik op haar vrymoedige manier. Annie stel selde vrae, sy’t altyd so baie om mee te deel: “Ons kerk het vandag laterig uitgekom, ek dog julle is al verby. Onse pastoor is hier, hy kom maar elke ses maande, dan is dit altyd ’n grotigheid.”

Sy moet ook vertel van die lappie aartappels wat sy ingesit het, sy weet dis laat, en ’n paar rytjies wortels ook. Sy sal vir oorlede Fielies mis, hy was altyd so behulpsaam …

Jy sou sweer hulle het waffer grond. Inderdaad sit sy en Klaas op hulle lankmoedige Boet Attie se genade. Vir ’n bogterige huurgeldjie woon hulle in die gewese bywonershuis met, rondom, Annie se hoenderhokke. Weekdae ruik Annie byna altyd na hoender.

Attie klim ’n oomblik by die bywonershuis af en hy en Annie staan en kyk saam na die boom wat omgeval voor die agterdeur lê.

“Hoe die jong so onnosel kon gewees het,” sê Attie.

“Ek was besig in die kombuis,” sê Annie, “toe hoor ek die slag. Toe ek uitkom, lê hy daar. Die stomme ou Mietjie is hartseer, dis al kind wat sy gehad het.”

“Daar’s nie ’n kwessie nie: die boom moes af,” oordeel Attie, “kyk hoe het die wortels die kombuismuur laat bars.”

“Ek sal maar stadigaan kap vir vuurmaakhout,” sê Annie. Sy’s so sterk soos ’n man.

“Waar’s Broer Klaas?” vra Attie, want belangstelling moet jy tog toon.

“Seker nog in die kooi,” sê Annie, “weer so die brand in die voete. Kla van sy bloedsomloop.” Sy word effens rooier, want sy’t nog iets om mee te deel, maar weet nie of sy móét nie.

“Hou daarop hy’t Vrydagnag met die duiwel te doene gehad!” flap sy nietemin uit. Haar stem is so onseker, dit eindig op ’n vals noot.

“Ha? Hoe-sê-jy?” Attie wil tyd wen om te oorweeg. Hy’s bra ontevrede ook oor Annie se stories gister, maar besluit dis beter om te lag. “Nou ja, kom!” sê Attie, ineens haastig.

Die ding trek ’n rukkie by hom, daar’s ’n effe bekommerde uitdrukking op sy gesig soos hy die ou sedên-Ford met die entjie pad na die ouhuis se uitdraai stuur. Aanstons begin werp hy egter skerp blikke om te sien of alles pluis is. By Ertmanstasie, die lang ry volkshuise aan die voet van die Kasteelkop, skuins bokant die bywonershuis, sit die volk op die drumpels. Sondagnamiddae is hulle darem nugter.

“Sien ek nie dorpsvolk daar bo nie?” vra Attie. Hy verwag nie ’n antwoord nie, hy’s al op PERDEPOORT wat nie slaap nie. (Behalwe dalk daardie klein japsnoet van ’n Jaco.)

Attie skakel die ou kar oor in ’n laer versnelling wanneer hy indraai by die pad na die ouhuis. In die effense wasigheid van die warm middag en van duskant die rivier gesien, lyk die ouhuis soos een van daardie poskaartprente van imposante wonings wat mense graag aan buitelandse vriende stuur: ’n uitstekende voorbeeld van nieu-Kaaps-Hollands. Die argitek wat Koos Nek destyds gehuur het, het op holbolgewels en ’n hoë stoep besluit. Gaan jy nader, is daar tekens van verwaarlosing: pleister en dekriet wat plek-plek lomp gelap is, houtwerk wat geolie behoort te word. Dit sou ’n fortuin kos om ambagsmanne te laat kom en Attie het al gewonder of hy moet aanklop by een van daardie verenigings wat hulle bearbei vir die beskerming van besienswaardighede. (Byna sewentig jaar oud al, verbrands!)

Niemand kan sê presies wanneer dinge begin verander het nie, maar die voëlbaddens is deesdae leeg, die beeldjie van ’n najade is afgehaal en weggesit, die roosbome skuil nie meer onder sambreeltjies nie, die reiers kom vang nie meer paddas in die syferwater agter die huis nie, daar is nie meer perde op die kweekplate nie. Net die koor van paddas – glo vyf soorte – langs die rivier duur steeds voort; die rivier self bly vloei sterk tot in die somer en is een van die min in die land waarin jy nog kan swem sonder vrees vir besoedeling. En steeds in die lente word die voetheuwels dermate in geel geklee – waboom, tolbos en repuis – dat selfs die blou van die lug aangetas word.

Stadig laat wieg Attie die kar oor die brug. Miemie byt op haar lippe en vat aan haar sy. Van die dwarssparre het meegegee. Aan herstelwerk kom daar nooit end nie. En so kom die bewoners van die ouhuis tuis.

Ná die middagete in die bottelspens gaan Miemie in haar slaapkamer rus. En Attie, kerkpak uit, sluit hom in sy kantoor op – ’n vertrek met ’n buitedeur op die agterstoep, waar hy hom besig hou met dinkwerk en drukstukke wat ter sake is. Die Sondag is tegnies verby. Kop op die elmboog, dut hy af en toe. Dis sy vermoë om vinnige uiltjies te knip wat hom jonk vir sy jare hou. Een keer skrik hy met ’n hinderlike gedagte op.

“Nie meer aan dink nie,” besluit Attie Hardehand, “verby en goed ook maar.”

Kort ná die middagete verskyn Kolie en Adriana ook in hulle gebruiksdrag op die stoep, albei blootsvoet: Kolie omdat hy nog nooit ’n skoendraer was nie – sy voete is so hard soos hoewe – en Adriana volgens die voorskrif van haar rasgenootskap en ouderdom, wat vyftien is. Attie Hardehand se oogappel is ’n fyn meisietjie met lang donker hare wat sy op skool agter die nek vasgeknip moet hou, maar nou oor die skouers stroom. Verweerde blou denimlangbroek en gestreepte trui, handdoek met bikini onder die arm, transistor op die oor.

Kolie, Attie Hardehand se straf, in ’n wye kakie-kortbroek wat sy ma vir hom op sig gekoop het, is lank en grof en blond. Hy’t die Lotrietgelaatstrekke geërf: blou oë, skerp neus, effe uitstaanmond – maar meer as lewensgroot. Die kleingoed van Ertmanstasie, waar Kolie graag kom, is vir hom bang – hy loop met sulke lang treë en partykeer swik sy knieë of hy jou wil skrikmaak. “Kleibis Kolie is onbeskof, hy’t vir my muis gemaak,” het een van die opgeskote meidjies nou die dag by ta’Jehanna kom kla.

“Hy sal niks maak nie, dis maar sy maniere,” het ta’Jehanna geweet. Want sy ken hom van sy bybie-dae af. Sy’t die klimmeid aangesê om nie ouderwets te wees nie.

Hand aan hand loop broer en suster nou tot aan die end van die laning, waar hulle uitmekaargaan – hy na sy troppie bokke, sy om te gaan swem. Sy kan ure aanmekaar op haar rug tussen die waterlelies onder die neerhangende takke van die latbos en smalblaar dryf. Dis miskien haar geliefkoosde tydverdryf – maar sy weet nie so mooi nie: sy hou ook van volmaanaande en van haar spel met seuns en om met ’n handspieëltjie in die spikkelskaduwee van ’n boom te lê en na haar gesig en hare te kyk. En ag hemel, sy vrees sy’s vinnig oud aan die word, sy wil een van die dae hier weg! Op haar tiende verjaardag het sy bitterlik gehuil omdat haar ouderdom voortaan met twee syfers geskryf sou moet word. Partykeer wens Adriana sy’s liewers ’n rivierklippie, of water, of ’n wolk.

Die namiddag word al hoe dynseriger. Oor die Duiwelsdans, die piek waar die voetheuwels mekaar daar gunter bó omhels, begin die wolkkrabbels wat elke dag byna dié tyd van die jaar versamel. By Jan (bygenaamd Pampoen) se groen huis met die asbesdak – asbes teen brand! – bly dit stil. Letta Jan het haar familie hulle disnis laat eet aan die Sondagmaal wat sy – slim – vanself in die Aga laat gaar word het terwyl hulle kerk toe was. Eers om halfvyf kom Jan by sy voordeur uit. Hy haak sy duime in sy kruisbande en bestudeer eers die land en vertes. Dan beur hy sy kop op en kyk die uitspansel in.

“Vanaand,” belowe Jan homself. “Die maan kom eers neënuur op.” Hy praat graag alleen, van ’n afstand sien jy sy lippe roer. Op dié oomblik word hy verleë toe Jaco, wat verbykom, glimlag en wegkyk.

“Waar gaan jy heen, Jaco?” vra hy om te wys dis maar niks nie.

“Af rivier toe,” sê Jaco en weet nie waarom hy die moeite doen nie. (Hy wil gaan kyk na sy bouery, sien of hy Adriana gewaar.)

“Jy moenie die Sondag gaan ontheilig nie,” Jan sê maar en sal hom verstom as Jaco gehoorsaam.

Jaco se aanmekaargegroeide wenkbroue is peinsend saamgetrek soos hy aanstap. By die rivierwal gee hy ’n staweltjie timmerasie ’n ligte skop. En bly staan en sug. Toe hoor hy die transistor rivieraf en sou nie weerstand kon gebied het nie, al wou hy.

“Adriana,” sê Jaco en bloos en kyk woedend omdat hy bloos. Sy’s weer aangetrek en lê op haar rug met die transistor langs haar.

“Ja?” sê Adriana. Sy steek ’n hand uit om die klank sagter te draai.

“Sit af die ding,” sê Jaco kortaf. Hy staan, vingers in die lyfband gehaak, gebalanseer tussen onsekerheid en slagvaardigheid. Sy doen dit en ineens word die namiddag ingewikkeld en ademloos.

“Jammer van gister,” sê Jaco byna boos en kyk weg.

“Wat?” Dit lyk of sy hom ’n moeilike pad alleen wil laat kom. Hy gaan sit regoor haar: met die hoop dat sy hom nie gaan verplig om haar te beledig nie.

“Ek sal die tokkelok nie gaan verkla nie.” Hy is ’n besluit wat hy wroegend geneem het aan die verklap.

“Praat jy van oom Chris?” Wrede klein terggees! Jaco sou vir ewig uit sy herinnering wou verban die bedrieglike, onbesproke voorkoms van hulle oom. Maar oom? Dit skyn skaars moontlik.

“Gee jy vir hom om?” Dit kos Jaco aansienlike vernedering om te vra.

“Mens gee mos vir jou familie om,” sê sy en skud die hare wat nat om haar skouers tou. Toe draai sy haar kop weg om te giggel.

En ineens is Jaco bevry van ’n swaar las. Hy sak agteroor op die kweek: “Jees, en ek het my bekommer,” sê hy. “Jees!” In sy verligting skop hy sy bene baldadig soos ’n perd wat rol.

“Jy’s mooi gebou, weet jy,” sê Adriana.

Hy kom met ’n ruk orent, sy oë helder van iéts: “Is ek?”

“Mmmmm!” sê sy kamtig sedig. “Jy weet dit self.”

Hulle sit nou so naby aan mekaar, hulle kan hulleself in mekaar se oë weerspieël sien. En Adriana weet daar’s vúúr in hom, want sy asemhaling brand.

“Is nie,” sê Jaco.

“Is!” Sy trek ’n beskuldigende kepie tussen die wenkbroue en praat verder omdat stilte gevaarliker kan wees: “Jy moenie so naar met mense wees soos gister nie.” Sy bevestig terselfdertyd haar mag oor hom.

“Ek sal nie, as jy net …” Sy is al wat hom kan bevry van die las wat hy vir homself is.

“As ek net wat?” Maar sy lippe is nou so naby aan hare dat woorde haar die antwoord skuldig bly.

Dis al skemeraand toe Jaco terugstap huis toe. Hy voel gelaaf soos ná ’n nag van diep, rustige slaap. Juigend van daadkrag terselfdertyd. Dis die onbenullighede wat hy onthou: hoe hy haar hare voor om haar nek vasgeknoop het, hoe hy haar wenkbroutjies opgedruk het om in haar oë te kyk. Jaco gaan sit by die tafel in sy slaapkamer en maak sy rekeningboek oop. Sodra hy begin met sy syfers, kom klein herinnerinkies tussenin. Jaco wil nie dink aan wat dalk die belangrikste kon gewees het nie – hoe sy, toe hy in ’n sekere rigting praat, gesê het: “Ou Jaco wil altyd alles vooruit weet.” Tog, omdat vreugde altyd sy donker sy ook het, moet hy weer een keer sy oom Chris onthou: “Laer as slangkak se skade onder seespieël!” Jaco fluister venynig en skud sy kop. En voel gek toe hy homself dit sien doen in die spieël bokant sy tafel.

Die maan, wat twee dae al kwyn en nou effens hulpeloos op die een sy lê, is al ’n goeie entjie op toe ou Mietjie by LAND VAN ONSKULD, Kobus Karba se plaas heel bo in die poort, aankom. Dit sou langer gevat het, maar ’n man met ’n muilkar het haar opgelaai tot by die uitdraaipad.

Mietjie hoor die varke van ver af skree: hy’t seker nooit kos gegee nie. Die melkkoei staan uitgesuip met haar kalf onder die adamsvyeboom voor die agterdeur. Noudat die varke haar gehoor het, skree hulle eers.

Mietjie steek kers op in haar buitekamertjie en begin haal die goed uit haar bondel. Sy maak haar ysterkatel op en pak haar paar stukkies klere in die selfvervaardigde kas van opmekaargespykerde lampoliekissies.

Sy hang die gekleurde prent van die Moeder en Kind weer aan hul spyker teen die muur. Elke oomblik verwag sy hy gaan uit die huis begin roep.

Hy sal haar in die kooi lê en afwag, sy kop op die elmboog gestut, sy gesig weer skimmel van die stoppelbaard. “Waar was jy gewees?” sal hy vra. Sy sal sê: “Ek het vir Fielies ga begrawe, toe is ek eers deur dorp toe.” Hy sal sê: “Ek sal jou laat voorkom vir diensverlaat. Ek het twee dae nie my mond aan ’n stukkie warm kos gehad nie.” En sy: “Ek sal vir jou ga kos maak, Bis Kowis.” En uitgaan om fynhout bymekaar te kry.

Maar dit bly doodstil. Net die varke wat af en toe verwytend skree. En ’n paar krieke. En die paddas op ’n afstand, wat lankal deel van ’n stilte geword het.

Mietjie maak die voorskoot om haar middel vas, trek haar sloffies aan en knoop haar ou huisdoek om haar kop. Dan loop sy binnetoe en soek eers semels vir die varke.

Maar waarom bly dit so stil? Anders kan jy hom wie weet waar hoor snork.

Met die gevoelte dat sy ’n fout begaan, loop Mietjie na sy kamer en hou die kers omhoog. Hy lê op sy rug, daar’s pikswart braaksel op sy gesig en kussing. Sy sal eers ’n skottel water en ’n lap moet gaan haal.

Toe sien Mietjie die haelgeweer. En die mond soos ’n swart verflenterde gat. En sy lig nader en die braaksel is rooi.

“Bis Kowis?” vra Mietjie.

“Gottagot!” skreeu Mietjie, want in die krisis vergeet sy die Moeder en die Kind. “Gottagot!” skree sy weer en sy begin ronddwaal. Ná ’n rukkie begin loop sy poortaf, sy hardloop: ’n moeilike, skuddende olifantdraf.

’n Lang tyd hoor sy nog die varke skree. Tot sy uit is onder die geskree en vaagweg voel hoe klippe onder haar sole padgee. Een of twee keer struikel sy, dan val haar twee borste pynlik vorentoe. Haar een knie brand en haar kouse, wat sy vergeet het om uit te trek, sak af. Die maanlig is ook so vals. En die tyd is skelm, dit glip so ongemerk weg, net haar asem brand feller.

Kort duskant die ouhuis het Mietjie se een skoensool heeltemal losgekom, dit flap los sodat sy ’n paar keer val, uiteindelik sit om die skoen uit te trek. Die pyn van haar skoenlose voet op die skerp grint is ’n rukkie erger as die gedagtes wat net-net buite haar bereik bly. Dis donker by die ouhuis, sien sy, die mense het al gaan slaap. Omdat dit môre Maandag en werkdag is, besef sy. Sy begin hamer nietemin met haar plathand op die voordeur: “Bis Attie! Bis Attie …”

Hy verskyn byna dadelik, slaappak aan, hoed op die kop: “Wat gaan hier aan?” Effe bleek by kerslig, effe streng. Die gesig behoort aan elke dag, die lyf is Mietjie onbekend.

“Eers inkom, Bis Attie, dan sal ek sê,” want sy kan nie sommer hier op die stoep nie.

“Nie by die voordeur nie” – hy dink daaraan – “kom óm kombuis toe.” Sodat Mietjie begin vrees sy gaan Bis Attie nie bereik nie, en sy praat en sê op die stoep, al wil sy liewers binne: “Bis Kowis … geweer …” Met dié druk sy deur die voordeur. En nou begin lyk dit of Bis Attie dit liewers uitgestel sou wou gehad het tot ’n ander tyd, of hy dit liewers nie vanaand al wou geweet het nie. Hy trap op sy sokkies rond, haal sy hoed af en hark sy hand deur sy hare: “Ja,” sê hy en “wanneer?” En: “Ha? Hoe-sê-jy?” en bak sy hand agter sy oor. Dis of hy van haar wil weet of hy die polisie moet oplui, hy korrel met sy oë, hy trek sy lippe van sy tande terug of hy teen skerp sonlig in kyk. Toe voel Mietjie skielik heeltemal pootuit. Sy sak neer op die Bataafse teëls van die ouhuis se voorportaal.

Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort

Подняться наверх