Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort - Anna M. Louw - Страница 5

Voorwoord

Оглавление

Meer as dertig jaar nadat Kroniek van Perdepoort verskyn het en onmiddellik daarna met die CNA- (1975) en Hertzogprys vir prosa (1976) bekroon is, bring die herlees daarvan genotvolle herontmoetings sowel as verrassende nuwe insigte en interpretasies.

Destyds het André P. Brink die roman beskryf as ’n “kragtoer … een van die seldsame handjievol waaragtig indrukwekkende werke van ons prosa”. Die fokus op die stryd tussen die Bose en die Goeie is beklemtoon en ’n verband gelê tussen Louw en Dostojevski, Faulkner en Vestdijk. Kroniek van Perdepoort is inderdaad ’n klassieke roman. Dit fokus op die lewensbeskoulike en ’n bepaalde metafisika, en word ’n onverbiddelike verhoor waarin die mens – eintlik ’n hele beskawing – tot verantwoording geroep word met elke gebeurtenis deel van noodsaaklike getuienis*. Maar in die postkoloniale, postmoderne tydsgees van die 21ste eeu, sien die leser ook nuwe nuanses en aksente.

Die driedaagse kroniek rondom die herbegrafnis van die eens arrogante Koos (Nek) Lotriet, en die weergawe van hoe sy vyf seuns die eertydse spogplaas bestuur het, word ’n meesleurende verhaal. Die Lotriets se materiële agteruitgang en morele degenerasie blyk uit die sewe “doodsondes” van die kinders en kleinkinders. Sommige ouer lesers het die kleinkinders as losbandig beoordeel; Jaco selfs as die mees diaboliese karakter in die roman. Tog wek Louw deur die besondere perspektiefwisseling en karakterbeelding vir al haar karakters ’n diep empatie. ’n Nuwe geslag lesers sal waarskynlik anders oor die jongmense in die verhaalwêreld oordeel. Wanneer in Deel Een van die laaste van die drie dae vertel word, is die fokus op Jaco, die doener; en op Adriana, die gevoelsmens. Dié selfversekerde, gekoesterde meisie bring ’n korrektief op die verbittering en vernedering van al die ander vroue in die kroniek.

Die ruimtes in die verhaal is met betekenis gelaai. Perdepoort, Ertmanstasie, die dorp en lokasie behoort tot die Suid-Afrika van die 1970’s, maar verbeeld ook die historiese gebeure daarna. Die Lotriet-seuns se wêreld verbrokkel. Chris verwerp sy familie en roeping en vlug eerste. Die “Land van Onskuld”, waar Kobus tussen sy stookketel en kospotte Mietjie se vernedering en lyding toegelaat het, word deur selfmoord vernietig.

Volgens Kannemeyer sluit die verhaal aan by die ouer Afrikaanse verhaalkuns: die ongenaakbare plaasmilieu, die verhouding tussen landheer en arbeiders, die Joodse handelaars, bruin karakters in parallelle situasies en temas soos die vadersvloek en aktiewe bose magte. Vandag besef ’n mens dit was ook die voorloper van verhale soos Toorberg en Duiwelskloof. Wat in daardie romans opgeval het: die magiese realisme, die klem op storievertel, die vrae rondom identiteit en hoe die lot van ’n gemeenskap en land weerkaats word in ’n gesin se lotgevalle, is in Louw se verhaal reeds oortuigend aanwesig. Kroniek van Perdepoort verteenwoordig ’n hoogtepunt in Afrikaans. Dit is ’n boek wat emosie en intellek aangryp en boei.

Henriette Roos

Pretoria, 2007

Brink, A.P. 1976. Voorlopige rapport. Beskouings oor die Afrikaanse literatuur van Sewentig. Kaapstad: Human en Rousseau, p.158-160.

Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. II. Kaapstad: Academica, p.312-314.

Minnaar, L.C. 1977. “Kroniek van Perdepoort van Anna M. Louw” in: Rondom Sestig. Perspektiewe op die nuwer Afrikaanse Prosa. Saamgestel deur D.H. Steenberg. Pretoria: HAUM, p.112-130.

Van der Merwe, C.N. 1988. Sirkel en sfeer. Opstelle oor literatuur en werklikheid. Kaapstad: Perskor. p.116-121.

* Berta Smit in die oorspronklike flapteks

Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort

Подняться наверх