Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort - Anna M. Louw - Страница 14

6

Оглавление

Die wind suig die gordyn deur die stukkende ruitjie in Kolie se agterkamer en laat dit weer met ’n kluks los. Dis sy ma wat ingekom het.

“Kolie …” sê sy ma. Hy moet ’n skoon frokkie en onderbroek aantrek, daar’s skoon sokkies en sy swart toerygskoene ook. Sy kerkklere hang aan die kasdeur, daar is ’n swart band om sy baadjie se mou.

“Kolie …” sê sy ma.

Dis seker vandag Sondag, hy gaat iewers wegkruip tot hulle vort is.

“Dis nie Sondag vandag nie,” sê sy ma, “dis agtermiddag begrafnis en jy hoef nie nou al jou kerkklere aan te trek nie, net jou skoon onderklere.”

Hy trek sy kakiehemp en -kortbroek aan, die geprakseer laat hom kwyl, sy ma help met die rits, hy wil gou gaan kyk of sy pa die sedên uitgetrek het, dis seker vandag Sondag.

“Dis nie Sondag vandag nie, Kolie, maar daar kom baie mense hiernatoe en jy moet jou goed gedra dat jou pa nie weer vir jou kwaad word nie. Moenie geld vra nie en jy slaan nie weer bollemakiesie voor die mense nie.”

“Ek sal ja,” sê Kolie, “so pê …” Want g’niemand luister na sy ma nie. Baie mense is lekker, hulle loop deurmekaar en lag vir jou. Die ooms staan teen die buitemuur en lag en gesels met jou en die anties gee sente.

“Ek gaat nie vandag my bokke rant-uit vat nie, ek gaat hulle onnerlangs lat wei.” Kolie brul, hy’s so opgewonde.

Sy ma vat aan haar sy en sê: “Jy moet eers jou agtuur gaan eet, Kolie.”

Die kombuismeid skep vir hom pap in en Kolie kyk solank in die sloop wat op die rak lê. Dis vol mosbeskuit en onder die wit doeke is daar melktert. Lomp begin lepel hy sy pap af. Toe dit nie gou genoeg na sy sin gaan nie, laat sak hy sy kop en eet direk uit die bord soos ’n hond.

Die hele tyd staan sy oë op die ry melkterte. Eers kyk hy goed, daar’s g’niemand in die kombuis nie, die agterdeur staan oop. Kolie prop sy hempsbors vol beskuit en knyp ’n melktert onder iedere arm vas.

Kolie probeer hardloop, maar kan nie sonder sy arms om hom vorentoe te roei nie en sy een knie swik sleg, die ou blêrrie. Hy sien ook nie vir Fielies buite by oom Klaas Kamer se huis nie en sy bene begin werk hom teen die opdraand uit na Ertmanstasie toe.

“Ta’Jehanna!” hyg Kolie.

Ta’Jehanna kyk nie, sy’s bossies aan die brand by die deur van die slaapskerm. Sy’t ’n doek en waai die rook by die slaapskerm se deur in. Daar staan ’n swart boks op ta’Jehanna en outa Vaalwater se kooi.

“Ta’Jehanna!” sê Kolie. Sy kom regop en vee haar oë met die voorskoot se punt.

“Waar’s Fielies, ta’Jehanna?” sê Kolie. “Ek wil vir hom van my melktert óú.”

“Kolie,” sê ta’Jehanna, “liewe Jesus, Kolie …”

Sy pa sê dis ’n naarheid soos die Hotnots vloek, elke tweede woord.

Jy sal nie gaat sê nie.

“Hier’s nog sandolienbos,” sê outa Vaalwater en sit ’n draggie neer. “Dissie arrige reuk,” sê outa Vaalwater vir Jannetjie wat kom by staan, “net sandolienrook sal baat.”

“Outa Vaalwater …” sê Kolie.

“Hoor so ’n klong!” sê Jannetjie. “Outa sit agter die bos, Kolie, wie’s jou ‘outa’, jou rooi oolfant?”

“Die man is uit uit sy dage,” sê outa Vaalwater, “hy’s van kleins af leeg. En vir wat sal jy dan nou, Jannetjie? Hy en Fielies was een jaar se lammers.”

“Almeskie,” sê Jannetjie.

“Ek het melktert en beskuit,” sê Kolie.

“Gee ok!” sê Jannetjie en sy gryp ’n stuk beskuit uit Kolie se hempsbors.

“Jou ou blêrrie,” sê Kolie.

“Los hom, Jannetjie,” sê ta’Jehanna. “Kolie, gaat gee vir jou ai Mietjie, sy sit in die muurhuis.”

Ai Mietjie sit en sy vou Fielies se klere op.

“Ek sal sê wie’t sy goed ga kry,” sê ai Mietjie en sy stawel die klere op. “Jy wil die klere vir Willem Frey gee, ek kyk tot agter in jou harspan, Griet,” sê ai Mietjie, “ek was hoeka dustyd teen Fielies se vrouvat.”

“Dis onbehoortlik om oor dooimansklere te stry,” sê ta’Jehanna wat ingekom het, “Griet moet ga spanspek pak, Bis Attie het lat vra.”

“Attie Hardehand se hol!” sê Griet. “Ek gaat nie vandag nie.”

“Van wanner af gee jy vir my tale, Griet?” sê ta’Jehanna.

Jy sal toggie ga sê nie.

“Jy moet mooi verstaan, Kolie,” sê ai Mietjie en sy rol die klere op en maak hulle bondel, “onthou jy nog hoe daai bloubont-boklam van jou pesede jaar styfgeskop en gevrek het?”

“Nou ja,” sê ai Mietjie en trek die doek oor haar oë, “daai yslike boom het op Fielies geval. Fielies is vrek, Kolie,” sê ai Mietjie en dit lyk of sy kwaad word.

“Issie!” sê Kolie. “Mense vrek nie – net bokke vrek.” Partykeer dooie paddas bo-op die water, hulle blaas op en stink, sies!

“Pas op!” sê aia Oumeid wat ingekom het, “aans kry hy die trekkings, kyk hoe werk sy brouers op en af.”

“Kolie,” sê ai Mietjie, “ga kyk na jou bokkies, Kolie.”

“Kolie,” sê aia Oumeid, “gee maar die eetgoed hier vir Aia. Aia sal mooi bêre tot Fielies kom.”

“Aia!” sê Griet. “Ma sê hom nog voor.”

“Ek sal mooi verdeel,” sê aia Oumeid, “en tussen stukkies roosterkoek regsit vir vamêrrag wanner ons van die lyk trugkom.”

Die kleingoed wat ingekom het, begin bondel om aia Oumeid. “Kry ôs ok, Ouma, kry ôs ok?”

“Hou julle bekke,” sê aia Oumeid, “julle sal nog sien.”

“Kyk hoe’t jy die melktert platgedruk, Kolie,” sê aia Oumeid, “kan jy nie gasegtiger gewees het nie?” Sy draai die melktert in ’n lap toe en sit die beskuit weg.

“Julle kleingoed hou julle pote af,” sê aia Oumeid. “En jý!” Aia Oumeid slaan die hond wat ingekom het dat hy tjank en uithol. Dit laat Kolie lag kry. Jou pa sê die Hotnots se honde is net vel en been, hy sal nie toelaat dat hulle aanhou nie.

Jy sal nie gaan sê nie.

“Hy sal gaat sê, ja,” sê Jannetjie wat ingekom het. “Loop, Kolie – vir wat neuk jy al onner ons bruines in? Wil jy hê ek moet vir jou tet gee?”

“Sit weg, Jannetjie!” sê ta’Jehanna. Sy is kwaad vir Jannetjie.

“Waar is Fielies?” sê Kolie.

“Fielies is rante-uit,” sê Jannetjie.

“Venaand gaat ek ook rante-uit,” sê ai Mietjie en sy wikkel haar lyf.

“Moenie so godslastig praat nie, Mietjie,” sê ta’Jehanna. Sy’s nie kwaad nie.

“Het jy al jou bokkies vemôre laat suip, Kolie?” sê ta’Jehanna.

“Ek gaat nou lat suip,” sê Kolie.

Kolie kyk nie mooi waar hy loop steilte-af nie, hy val en sy een hand is nerfaf. Hy gaan sit en smeer spoeg aan, dit wil nie ophou brand nie.

Outa Danster kom steilte-uit. “Môre, my Kleinaas,” sê outa Danster en kom langs hom sit.

“Kyk so ’n hand,” sê outa Danster. “Kom lat jou Outa jou hoed vir jou toon, dan sal die brand skiet gee.” Outa Danster toon vir hom sy hoed. “So, so!” sê outa Danster. Hy lag en klap met sy tong: “Tjkaaidán!”

“Hoe lykkit dan, my Kleinaas?” sê outa Danster. “Sal jy dannie weer vir jou Outa halfbotteltjie agter die toonbank ythaal en ga wegsteek nie? Halfbotteltjie sil goed wees, dan kerwe Outa vir jou ’n lat vir jou bokke.”

Agter die kantoordeur, die ene met die swart plankie aan.

“Ek moet eers my bokke gaan laat suip,” sê Kolie.

“Net so!” sê outa Danster. “Maak gou-gou en steek weg innie krip. Jou Outa kom agtermêrrag deur om die kiste met die kerriets aan te ry. Steek weg innie krip en moenie gaat sê nie.”

“Ek sal nie gaat sê nie,” sê Kolie.

Kolie loop voor die wind, sy hoed is windmakerig getoon, die wind lig-lig aan hom of hy skoppelmaai ry. Daar kom baie mense vandag, baie mense is lekker: die ooms lag, die anties gee sente.

Hy sien sy bokke anderkant die ouhuis aan die uittrek teen die rant en hy draf om hulle af te keer water toe. Hy’s iesegrimmig met sy bokke vandag, die swernoters het hom in die sak. Hy gooi ou Voorman, die ram, met ’n kluit op die boud omdat hy al eenkant toe neuk. Die ou hol dat die klok om sy nek so klieke-klik sê, gaan dan staan en kyk. “Ja, jou ou vloek,” dreig Kolie, “wil jy sien jy kom nog keelaf gesny?”

Jy sal nog nooit vir ou Voorman keelaf sny nie.

“Toe-toe …” sê Kolie, “kom suip nou.” Hy stoot hulle aan. Duskant die pampoenland het die lammers in die kraal hulle mames gewaar en begin sit keel op. “Mijêêêê …” blêr Kolie terug. Hy skud soos hy lag. Hulle sal dink hulle mames laat los lammers drink.

’n Boklam is nesse kind vir jou, sê Fielies.

Kolie stoot sy bokke by die kweperlaning verby; hy moet weer baklei, want hulle dood oor laatkwepers. Dan deur die hek van die huiskamp en af waar hulle tussen die steenbokriet en die hoë sonkwasriet begin versprei. Partykeer talm Kolie om ’n rooi kalkoenbosblom te pluk en die peperige swart stroop te suig; hy klap op sy hande om ’n skurwepadda skrik te maak; hy probeer om ’n plat klippie te laat seil soos Jaco. Terwyl die bokke puntenerig en tydsaam begin suip, gaan lê Kolie en wag op ’n slangboskooi tussen die kanette waarvan hy weet. Die vaalwit lug bo laat traan sy oë. Hy begin vroetel sy warm tone in in die koel, klam riviergrond.

’n Biesie wat voor die wind buig, kielie Kolie se voorkop, hy dog eers dis ’n kewer en klap vererg met die hand. Hy voel nog so loomrig, hy kan skaars sy oë oopkry en regop kom. En die bokke is skoonveld.

Nee wag, hulle is oral rond tussen die biesies en die latbos.

Iemand roep by die ouhuis.

Kolie gaan staan eers om te fluit, hy kan sy rits nie weer op kry nie. En los dit. Hy begin roep sy bokke bymekaar: “Hiert, julle swernoters!” Ou Voorman loop kruppel, dis die vloek vanne Jaco wat hom in die pens geskop het. En die bokke moet nou nie neuk om aan die doringbossies wat sy pa op die kol waaisand, want bokke vreet als, tot boegoe en rooitee en wasgoed en …

Iemand roep by die ouhuis: Kolieeeeeeee …

“Ek kooooom!” brul Kolie. “Ek moet eers my bokke.”

Toe hy by die kombuisdeur inkom, sê sy ma: “Kolie, waar bly jy so lank weg? Jy moet eet en jy moet aantrek, daar’s nie meer veel tyd nie.”

“Moenie sy kos so neersmyt op die tafel nie, Kato,” sê sy ma vir die kombuismeid.

“Adriana,” sê sy ma, “sal jy sy das vir hom strik en sy skoene ook?”

Kolie begin stik aan sy kos, want die skoene druk sy ou tone.

Adriana sê: “Toe maar, Boetie, jy kan jou skoene later aantrek, daar’s hope tyd.”

“Hope tyd, hope tyd!” sê sy ma.

Sy ma sê: “Kolie, was jy by die melktert? Letta Jan het ’n dosyn gestuur.”

Daar kom baie mense vandag.

Sy pa kom in en sê: “Kolie, loop gaan maak toe die boonste hek wanneer jy klaar geëet het: wil jy hê jou bokke moet ook begrafnis toe kom?”

Baie mense is lekker …

“Nee, ek sê nee, Adriana,” sê sy pa, “die sitkamer bly gesluit.”

“Kolie,” sê die kombuismeid, “jy’s al onder mens se voete.” Sy trap op ou Boel se stert en hy hap haar. Kolie lag so dat hy hom aan sy spoeg versluk. “Dit kom daarvan,” sê die kombuismeid en sy gee hom ’n knyp.

“Jou ou blêrrie!” brul Kolie.

“As dit daarop aankom …” sê sy pa.

“Op so ’n dag …” sê sy ma. Sy vat aan haar sy.

“Kolie,” sê sy pa, “het jy een van my tange gehad?”

“Môre, oom Chris,” sê Adriana, “het jy nou eers opgestaan?” Oom Chris het sy klere aan.

“Chris,” sê sy pa, “jy gaan nou die woord agtermiddag by die Hotnotsbegrafnis doen?”

Maar oom Chris is al vort.

“Kolie …” sê sy pa.

“Kolie het nie jou tang nie, Attie,” sê Adriana.

“Is jy dan al hier, Jaco?” sê sy ma. “Is dit dan al so laat?”

Jaco sê: “Middag, Adriana.”

Adriana sê: “Kyk so ’n Jaco, jy lyk mos piekfyn.”

“Ek het eers vooruit gekom om die perd te bring en die paar koekies,” sê Jaco, “my ma is bang daar’s nie genoeg nie.”

“Maar goed van die koekies,” sê sy ma, “iemand was by die melktert.”

“Ek eet toggie melktert nie,” sê die kombuismeid, “ek kry mágpyn van melktert.”

“Het jy al reggesit in die bottelspens, Adriana?” sê sy ma.

“Ek gaan nou-nou,” sê Adriana, “daar’s hope tyd.”

“Toe, Kolie,” sê sy ma.

“Sal ek hom help, ant Miemie?” sê Jaco.

Nee, nee!

“Toe maar, Boetie,” sê Adriana.

Adriana kom strik vir hom sy das. Hy moet sy skoene ook maar nou aantrek. “Lyk ek nou mooi?” sê Kolie.

“Jy lyk mooi, Boetie,” sê Adriana. “Gaan wag nou op die stoep en moenie jou vuil smeer nie.”

“Kolie,” sê Jaco by die voordeur, “kom bietjie hier, ek wil jou ’n mooi ding wys.”

“Wat?” sê Kolie.

“Kom buitentoe,” sê Jaco.

“Sien jy hierdie knipmes?” sê Jaco.

“Kan ek dit kry?” sê Kolie.

“Eendag se eendag,” sê Jaco, “gaan ek jou nog kopaf sny met die knipmes. Jou bokke was weer vanmôre op ons grond.”

“Ek is toggie bang nie,” sê Kolie, “ons is tog by die ouhuis.”

“Wag maar,” sê Jaco, “tot ek jou eendag weer alleen kry.”

“Ons sal julle tog uitdruk,” sê Kolie, “ons het die kontant, my pa sê so.”

“Jou verbrande malkop!” sê Jaco en hy trap met sy voet.

“Ma!” gil Kolie, “Ma … Ma …”

“Wat is dit, Kolie?” sê sy ma. Sy ma kom aan.

“Ma,” brul Kolie, “Jaco wil my kopaf sny!”

“Moenie verspot wees nie, Kolie,” sê sy ma. “Jaco speel sommer met jou.” Sy ma loop weer weg.

“Ou Jaco,” sê Kolie en hy begin loop agteruit, “ou Jaco Pampoen … so pippe-wê!”

“Wil jy sien,” sê Jaco en hy maak sy knipmes oop en hy kom aan. “Skoert!” sê Jaco. “Uit onder my oë!”

Kolie begin hardloop: die skoene maak sy voete seer, die ou blêrries.

“Kolie!” sê die kombuismeid, “waar gaat jy heen met jou kerkklere aan? Kolie, die ounooi sal praat!”

“Jou ou blêrrie, los my!” sê Kolie.

“Jou verdomde malmens!” sê die kombuismeid.

“Ek sal gaan sê!” skreeu Kolie.

Hy hol eers, toe gaan sit hy agter ’n tolbos en trek sy skoene uit. Hy haal sy das af en vee sy oë daarmee uit. Hy trek sy baadjiemou oor sy neus en ondersoek die drilsel. Hy huil oor Jaco hom verwilder het en oor al die mense wat kom. Halfpad teen die rant uit haal hy sy troppie bokke in en hy begin praat wild teenoor hulle. Hy stoot hulle hoër op teen die rant uit, dis half lekker, want die wind help hom van agter aan.

Jy moet hom eendag voorlê en trug seermaak, neef Kool, sê Fielies.

Kolie druk sy bokke aan tot hoog bokant die rotsformasie waarvan die begrafnisgrot ’n deel uitmaak. Van daar kan hy lekker sit en kyk.

Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort

Подняться наверх