Читать книгу Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort - Anna M. Louw - Страница 11

4

Оглавление

Koos Nek was ’n jintelman, ’n egte Bolandse jintelman, met meer geleerdheid as die grootste gros van sy tydgenote. Waarom hy die spogplaas wat hy glo van sy oorlede vader geërf het, verkoop het om hier in die binneland sy empire te kom vestig, het ’n raaisel gebly. Hy’t nooit intieme vriende gehad nie.

Maar hy het die regte ideale vir sy tyd gehad: die begeerte om ’n skepper te wees in ’n landsdeel waar daar nog alles te doen was. Dit was of sukses hom aanvanklik aan die hand gelei het en daar was jaloesie, kleinlike dinge is van hom gesê. Hy’t hierheen gekom met geld en ’n jonggetroude vrou – sy was dalk sy skild. Hy’t gekom met kosbare besittings – hóé kosbaar word nou eers besef: silwer, glas en buitelandse porseleingoed. Om nie te praat van die meubels nie, alles uit die voorste rakke. Om maar te vergeet van die duur tapyte, gordyne en linnegoed. Die huis self moet vir daardie dae ’n fortuin gekos het: geelhoutbalke, stinkhoutmuurkaste en -vloere, vensterbanke van olienhout. Attie Hardehand, wat nie onder ’n kalkoen uitgebroei is nie, besef terdeë en sou die ou goed met sy eie lewe verdedig.

Maar Koos Nek was bowenal grondkenner en perdekenner en hy’t geweet wat hy doen toe hy die poort gekoop het. Die rivier wat sy oorsprong bó in die gate van die Swartberg het, word op pad ondertoe konstant gevoed deur stroompies en dwarsriviere waaroor daar in die reëntyd flenters reënboog kom staan – dis ’n wonderlike gesig. Sedert onheuglike tyd het die water die goeie bougrond uit die hoogtes gebring en met verdrag langs die oewers neergelê. Ondertoe waar die voetheuwels plek-plek van mekaar wegstaan, is die wye komme landbougrond waar daar in Koos Nek se tyd die soetste lemoene en perskes, om nie van druiwe te praat nie, in die land gekweek is.

Ou Gert, wat nie op sy mond geval is nie, het voor sy seun se oë laat opstaan: die donkergroen lemoenboorde en wingerde, die troppe stoetperde op die kweekplate langs die rivier: die swartes, die kastanjebruines, die skimmels, die palomino’s.

Dit was voorjaar en op ’n weekdag toe hy die eerste keer gekom het – met ’n splinternuwe kapkar en twee eersteklas perde wat flink met die hoofstraat afgedrawwe gekom het – verby die residensie, die Engelse kerk, die bordinghuis en hotel (toe nog ’n sinkdakgeboutjie wat aan Levin se oorlede vader behoort het) tot onder by die tronk. Toe weer terug en voor die hotel stilgehou. Voor die mans wat op straat doenig was, kon nader staan om te verneem, is hy in by die hotel en het eers weer ’n halfuur later verskyn met vars klere aan. Geen agent of veekoper nie, kon jy dadelik bespeur: ’n aansienlike jongkêrel, taamlik aan die kort kant en met duur klere. Hy’s reguit na die prokureurskantoor en geleidelik het die nuus versprei. Die mense het geproe aan die ietwat buitegewone van: ene Lotriet van die Boland. Hy soek grond om te koop.

Dis ook al wat hulle van hom verneem het … byna al wat hulle ooit werklik uit sy eie mond verneem het. Niks van sy herkoms, planne en stand nie; sy ouderdom, nasieskap en huwelikstaat nie. Party het gedink hy’s ’n Hollander weens sy hoë spraak, maar dié bedenking is gou die kop ingeslaan. Die vent was niks meer as ’n boer nie, hy stel hom net aan. Want van die begin af was die houding daar: kop hoog, iets aan die skouers, oë wat wil-wil by jou verby kyk. Nie juis onbeleef nie, maar koelkomkommer en té besadig.

Dié wat saans by die kroeg gewag het om uit te vra – van die boere het spesiaal ingekom – was teleurgestel. Dit het gelyk of die man gedurig haastig was. Ou Gert se oorlede vader het later gesê: “Dit was of Koos Lotriet al jongtyd bang was hy gaan nie genoeg tyd hê om alles te verrig voor hy doodgaan nie. Party mense ís so.”

Die vrae, wat al hoe versigtiger geword het, is deur die verwaande jong Bolander op die hoflikste wyse ontwyk. Tót dié van die magistraat, wat sover gegaan het om hom vir ete te nooi.

Voor die week verby was, het hy die poort gekoop – ’n stuk los grond uit ou Sias van Zyl se boedel. Die prokureur het laat uitlek. En hy’s weg en het meer as twee maande weggebly.

Toe weer net so onverwags opgedaag, dié keer met ’n muilwa en twee Slamse ambagsmanne: dwarsdeur die dorp sonder stilhou. En die volgende ses maande moes die dorp gewoond raak aan die heen-en-weer-gerammel van transportwaens uit die Boland, of ander groter dorpe, wat boumateriaal gekarwei het na die poort. Van die nuuskieriges wat gery het om te kyk, het kom vertel van die paleis van ’n huis wat gebou word. Spanne volk van die distrik is gehuur; van die boere het ontevrede geword. En oral was Koos Lotriet glo self by: by die lê van die fondamente, by die wapad wat gemaak is, by die uithaal van die water; hom nooit verwerdig om ’n paar woorde te wissel met diegene wat soms ure lank langs hulle ryperde gehurk het om te kyk nie, net ’n knik van ’n afstand wanneer jy sy oog gevang het. Aanbiedinge van hulp is hoflik geweier. Koos Nek wou nooit ’n guns aanvaar nie. Eenkeer, jare later by ’n vergadering wat belê is om die distrik se belange te handhaaf, het hy ’n snaakse ding gesê: “Net in ’n toestand van oorlog aanvaar ’n mens gawes: swaardpunt teen swaardpunt.”

Min kon dit begryp, maar ou Gert se oorlede vader hét: “Só hovaardig,” was sy mening oor Koos Nek, “sal eerder vrek van die dors as om ’n koppie koue water verniet uit ’n ander se hand te ontvang.”

Die werksvolk wat Saterdae dorp toe gekom het om te drink, het vertel: “Die mishandeling is goed – werk van sonop tot sononder, maar die betaling is daar en die baas regverdig. Gee mens nooit die geld in die hand nie, sit op ’n staanding neer.” Die Slamse het hulle gepes. “Steek hulle op ’n stok; spring daar rond met ’n handvol pampiere en praat met jou of jy vuilgoed is.”

Die bouery het gevorder en ná ses maande het die gewelhuis aan die voet van een van die westelike koppe voor in die poort gestaan en die buitegeboue ook so te sê kant en klaar. En die pad was gebou, beter as dié van die distriksraad. Dit was herfstyd, tyd vir lande maak, maar weer het Koos Lotriet soos ’n groot speld verdwyn, net ’n Bolandse jong laat bly om op te pas, en uit dié kon jy ook niks kry nie.

Dit was weer voorjaar toe hy terugkom, ’n hele stoet het dié keer deur die dorp getrek: heel voor die stinkhoutkoets met Koos Lotriet en sy bruid en agter hulle vier of vyf transportwaens met vragte onder bokseile. Dit was nie moeilik om te raai wát nie, maar eers later moes die distrik hulle verstom oor die prag en praal.

Daardie keer hét die huwelikspaar ’n oomblik by die hotel vertoef. Levin se oorlede vader het ’n buiging diep onder uit die kis gehaal en daarna vertel: “Die vrou is vriendeliker.” Kennis is daarvan geneem dat sy geset was vir so ’n jong mens, maar ’n mooi vel en helderblou oë by die donkerbruin hare. Koos Lotriet self was vos en ook blouoog. Miskien was dit net haar postuur, maar mettertyd was dit of sy ook die houding by Koos Lotriet aangesteek het.

Aanvanklik het baie gewonder of Koos Lotriet vir geld getrou het. Na buite was die indruk egter altyd van eensgesindheid, die vrou was hom, wie weet, onderdanig. Wie kon tog teen hóm opstaan? Dat sy knap was, is seker. Dis onder haar hand dat die blomtuin sy beslag gekry het: ’n blomtuin soos die distrik nooit gesien het nie. Binnekant die ringmuur was daar die blombeddings in die vorm van snoere, vierkante en sirkels en tussendeur kweek met voëlbaddens en krullerige ysterbankies, selfs ’n marmerbeeldjie. Bougainvillea, rankrose en bloureën, met oorleg gelei, het die wit van die mure versag, en rondom was daar die bome: dombeya, magnolias, japonikas. Tot vandag sien jy die oprylaan van steeneike en die piesangbos waar die wilde kanaries aangemoedig was.

So het hulle gekom en gebly en tog deel van die gemeenskap geword. Sondae altyd in hulle kerkbank, tweede van voor, links, ’n kaartjie met die naam in goue drukletters in die gleuf. En hulle woning was die aangewese ontvangplek vir vername amptelike besoekers. Een keer selfs die Goewerneur-generaal. Die vroue kon nie daaroor uitgepraat raak dat die Prinses se lippe rooi gesmeer was nie. Byna almal het stilletjies lipstiffe laat kom.

Verder het Koos Lotriet boerebyeenkomste trou bygewoon, was voorsitter van dit of dat en die een wat afgevaardig is wanneer die distrik se belange dit geverg het. Maar populêr was hy nooit. Mense wat Sondae gaan kuier het, het ongemaklik op die rand van die deftige stoele gesit met die kosbare koppies in die hande en sku gekyk na die Lotriets se weelde: die vertoonkaste vol kosbaarhede, die satynbekleedsels, die skilderye. Later het hulle verwonderd (en nydig ook) gekyk na die rye silwer trofeë op die wandrakke van die sitkamer wat Koos Lotriet se stoetperde op skoue en ruiterbyeenkomste verower het.

Want ’n paar jaar ná sy aankoms (weer sonder om die distrik in te lig) op ’n dag deur die dorp die twee waens met die hoë, groen geskilderde houtstalletjies. Dié wat deur die luike geloer het, het verslag gelewer van wat later bevestig is: ’n ingevoerde Arabiese hings – ’n rasegte Kehilan – en ’n skimmel merrie van Vlaamse afkoms. (Dit was ná die koms van die perde dat die bynaam ontstaan het.) Dit was, om redes wat nie geweeg kan word nie, ná die koms van die perde dat die nederiges nie meer by PERDEPOORT gaan kuier het nie.

“Tot vandag toe,” het ou Gert vasgestel, “kuier mense nie graag by PERDEPOORT nie.” Waarom? Omdat die afstammelinge waterlote is? Nie juis nie! Want ’n Christengemeenskap moenie oordeel nie.

“Dis omdat – ja, dis nou snaaks dat ek dit sê – dis omdat elkeen van die afstammelinge nog iets van ou Koos se hovaardigheid in hulle het. Tot ou Jan, jy sal dit nie dink nie.”

Hemel bewaar! Jy kan ook nie help om kop te skud en te lag nie wanneer vertel word hoe ou Koos die dag met Jan se geboorte eers een en toe ses vreugdeskote die lug in geskiet het. Hy en sy vrou wou glo ses hê, maar ses was daar nie, net vyf. En met Chris, die laatlam, se geboorte het hy nie ’n skoot afgevuur nie. Want iets het toe al in hom geknak. Hy was klaar met die wêreld, hy’t sy begraafplaas al gereed gehad: dalk sy laaste daad van trots. Treurwilkers rivier se kant, spitsdenne om die ander drie kante en in die middel die praalgraf met ’n wit marmerkopsteen ingelê met goue letters:

TER GEDACHTENIS AAN

HENDRIK JACOBUS LOTRIET /

JUDITH DORA LOTRIET née DU BOIS

GEBOREN 31 JANUARI 1880 / GEBOREN 25 JANUARI 1879

MAAR DAT TYD EN TOEVAL

ALLEN DESEN WEDERVAART –

PRED. 9:11

Die vertel het ou Gert ver teruggevat: die verlede het deesdae ’n manier om hom sooibrand te gee. En die ouderdomsvlekke op die agterkante van sy hande help ook nie.

“Ja’k!” sluk ou Gert. “Dis soos die gesangvers sê: dagen, maanden, jaren vliegen als een schaduw heen …”

Klassiek reeks: Kroniek van Perdepoort

Подняться наверх