Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 3 - Annelize Morgan - Страница 11

Оглавление

8

Angélique staar hom ’n oomblik lank onbegrypend aan. Don Eduardo leef . . . hy leef!

“Waar is hy, U Eksellensie?”

Hy skud sy kop. “Dit mag ek u nie vertel nie. Wat die res van die Kaap betref, is hy dood en dit moet so bly . . . net tot ’n bietjie later.”

Sy dink lank na voordat sy versigtig vra: “Sal ek hom weer sien voordat ek en . . . Eugéne de Vigny gaan trou?”

“Miskien, maar ek kan nie met sekerheid sê nie.”

Sy knik. Hoekom het hy dan vir haar gesê dat don Eduardo leef? Weet hy dan nie wat dit vir haar beteken nie?

“Ek sal stilbly, monsieur.”

“Dit sal ek hoog op prys stel. Ek . . . het vermoed dat u in sy welsyn sou belang stel. U optrede op die markplein met die geveg het dit tog bewys.”

Sy voel die blos in haar hals opstoot. “Ek kon hom nie só sien sterf nie.”

“U optrede het die skindertonge losgemaak, juffrou. Die Kaap is klein en só ’n gebeurtenis sal nie vergeet word nie.”

Sy glimlag verleë. “Ek veronderstel so. Maar ek is nie spyt dat ek dit gedoen het nie.”

Hy glimlag terug. “U heldedaad word deur die jong mans bewonder en die dames . . . nou ja, ’n klein bietjie jaloesie was nog maar altyd deel van die vrou se karakter.” Hy lag. “U het baie bewonderaars onder die jong mans, juffrou De Busset. U sal nie alleen wees as u besluit om nie met die markies te trou nie.” Hy stap na die deur en sy volg hom. “Maak asseblief verskoning by madame Colbert. Ek kan ongelukkig nie langer vertoef nie.”

“Ek sal dit doen, monsieur.”

“Goeiedag, juffrou.”

“Au revoir, monsieur.”

Die dae sleep traag verby. Na die kommandeur se besoek is madame Colbert soos ’n fladderende mossie deur die huis. Die opgewondenheid bly by haar en skielik word die planne vir die eenvoudige onthaal heelwat uitgebrei.

Angélique deel nie in die nuwe opwinding nie. Sy weet dat Van der stel probeer het om haar te troos deur aan haar te sê dat sy ’n keuse sal hê, maar dit het haar net verwar. Don Eduardo leef nog, maar sy sal hom moontlik nie weer sien nie.

Dinsdagoggend loop sy doelloos deur die tuin rond. In die huis is daar vir haar niks om te doen nie. Die reëlings is so te sê reeds finaal. Feitlik al die gaste wat genooi is, het al laat weet dat hulle die onthaal sal bywoon. Vir ’n klein nedersetting soos die Kaap is twee honderd gaste baie. Maar dalk wil niemand dié opspraakwekkende huwelik misloop nie. Geen ander verloofde het nog ’n ander man onder haar huweliksmaat se rapier uit die dood gehaal nie. Selfs mense van wie sy nog nooit gehoor het nie, gaan kom. Dit maak haar bang.

Sy loop tot teen die buitenste heining van die tuin. Afgetrokke dink sy daaraan dat die tuinier lank laas hier met ’n snoeiskêr doenig was. Hierdie uiterste hoekies van ’n tuin word gewoonlik vergeet.

“Señorita!”

Die harde fluistering laat haar orent ruk. Eduardo, dink sy, dis don Eduardo! Maar dan sien sy die gehurkte figuur van Pablo.

“Pablo! Wat maak jy hier?”

Hy kom stram orent van waar hy agter ’n struik gesit het. “Ek het ’n boodskap van señor Santiago.”

Haar hart bons in haar keel. “Hoe gaan dit met hom, Pablo?”

Hy lag breed en sy sien dat heelwat van sy tande makeer. “Goed, señorita. Hy het baie vinnig herstel.”

Sy glimlag en daar is ’n beskuldigende toon in haar stem toe sy vra: “Waarom wou jy my daardie dag in die Kaap dan nie ’n teken gee nie? Jy het tog geweet dat ek wou weet of dit goed met hom gaan?”

Hy lyk verleë. “Ek moes maak of hy dood is, señorita. Gister eers het señor Van der Stel gesê dat u weet dat hy nog leef.” Hy grinnik weer. “Don Eduardo het dadelik geskryf.” Hy hou die verkreukelde briefie na haar uit.

“Merci.” Sy neem dit en vou dit haastig oop.

Señorita

Die markies van Touraine sal u binnekort u vryheid wil teruggee. Hou hom by sy belofte en moenie hom van sy belofte vryskeld nie. Nie nou al nie. Later sal u die geleentheid gegee word om te kies.

Ek weet dat ek op u kan vertrou.

Don Eduardo Santiago.

Sy laat die briefie sak en kyk vraend na Pablo.

“Wat beteken dit? Weet jy iets, Pablo?”

Hy skud sy kop, grinnik en haal sy skouers dan op. “Ek kan nie lees nie, señorita.”

Sy glimlag verskonend. “Jammer, dit was dom van my.” Maar sy kan self nie so ver kom om die inhoud van die nota aan hom te vertel nie. Moontlik verstaan hy glad nie waaroor dit alles gaan nie.

“Is daar ’n antwoord, señorita?”

Sy kyk vinnig op en frons dan liggies. “Ek weet nie . . . ek weet regtig nie wat om jou kaptein te laat weet nie.” Sy byt haar onderlip nadenkend vas.

Sy dink aan daardie dag in die herberg toe sy by hom was, toe hy skaars kon praat en die koors hom half laat yl het. Sy onthou wat hy oor haat en wraak gesê het, dat daar ander emosies is wat dit kan vernietig. Sy onthou hoe sy vingers om haar hand gesluit het en hoe hy haar naam gefluister het.

Sy sluit haar oë. “Sê vir hom . . . sê vir hom ek sal doen soos hy vra,” sê sy eindelik.

Pablo se gesig verkreukel in ’n glimlag.

“Hy sal bly wees, señorita. Is daar nog iets?”

Sy kyk na hom, huiwer oor wat sy moet byvoeg. Dan skud sy haar kop vinnig.

“Nee, dit sal al wees.”

“Si, señorita.” Hy maak ’n onbeholpe buiging. “Dan gaan ek nou maar.” Hy draai haastig om en drafstap van haar af weg.

“Pablo!” roep sy voordat hy buite hoorafstand is.

Hy steek vas en kyk terug. “Señorita?”

“Sê vir hom . . . dat ek dankbaar is dat hy leef. Hy sal verstaan.”

Die Spanjaard grinnik. “Si, señorita!” Dan draai hy om en verdwyn tussen die wilde struike waar die veld ’n vlak klofie maak.

Angélique bly nog lank na die donker bome staar, verbeel haar dat sy die ou man se vordering kan volg met haar oë, maar niks roer nie. Eindelik draai sy om en met die verkreukelde briefie styf in haar hand, loop sy terug na die herehuis.

Die volgende oggend kom ’n boodskapper van die Kasteel op Le Ruisseau aan. Madame Colbert en mademoiselle de Busset word uitgenooi na ’n formele dinee op Saterdagaand om sewe-uur.

Die madame se ingenomenheid ken geen perke nie. Sy draai om Angélique en probeer vir die soveelste keer uitvind waaroor die meisie met die kommandeur gesels het. Angélique swyg egter.

“Jy is ’n mooi een!” roep die ou dame later uit. “Wat voer jy in die mou? Eers ’n besoek van Sy Eksellensie en dan ’n uitnodiging so uit die bloute! Daar skuil iets agter, sê ek jou! Ek weet nie wat agter die hele ding is nie, maar alles is nie pluis nie. Ons het nog nooit só ’n uitnodiging ontvang nie! Danse, ja! Maar ’n formele dinee?” Sy beskou die meisie agterdogtig. “Ek wou wát wou gee om te weet wat jy en Sy Eksellensie gepraat het. Dit moes voorwaar die moeite werd gewees het.”

Angélique maak ’n moedelose gebaar. “Maar, madame, die uitnodiging is vir my net so ’n verrassing. Ek het nie die vaagste benul wat die kommandeur in die mou voer nie en ek wil ook nie weet nie. Ek trou oor minder as twee weke, volgende Vrydag om presies te wees, en ek het nie tyd om ander se motiewe vir hulle optredes te ontleed nie.”

Madame snork verontwaardig. “Dis tyd dat jy wakker skrik, Angélique. Ek sê jou, ek vertrou nie die vrede nie. Hier is iets aan die gang en ek sal nie rus voordat ek presies weet wat dit is nie.”

“Asseblief, madame, ék weet daar niks van af nie.”

“Daarvan is ek nie so seker nie. Eers al hierdie geheimsinnigheid en nou word ons skielik persoonlike gaste van die kommandeur. Daar is ’n slang in die gras.”

“Nou kom ons bly dan liewer by die huis.”

Die madame staar geskok na die meisie. “So nooit as te nimmer nie! Gaan sal ons gaan, al kos dit wát! Ek wil weet watse slang ons in die gras het.”

Angélique bly moedeloos stil. As madame Colbert eers haar besluit geneem het, sal niemand haar daarvan laat afsien nie. Sy kry dit dalk nog in haar kop om die kommandeur trompop te gaan vra waaroor dit alles gaan.

“As ek net meer samewerking van jou af gekry het, sou dit gans beter gewees het, maar jy is so koppig soos ’n muil!” kla die ou dame voort toe die meisie niks sê nie. “Watse bekommernisse het jy my nie al gegee nie! Jy wil nie met die markies trou nie, jy raak verlief op ’n Spanjaard, jy skinder met die kommandeur . . .”

“Ek het nie geskinder nie, madame,” val Angélique haar in die rede.

“Nou wat hét julle dan gepraat? Oor koeitjies en kalfies?”

Die meisie sug vermoeid. “Daar is niks om oor te vertel nie, madame. Ek is moeg. Sal u my asseblief verskoon?”

“Jy kry ook elke keer as ek met jou praat rooimiere. Vir wat wil jy nie daar op die stoel sit en die hele ou storie vir my vertel nie?”

“Ek sal die kommandeur vra om u te vertel wat hý weet. Dit behoort veel interessanter te wees, madame.”

“Ag, loop rus dan tog. As jy met hierdie soort bog kom, word ek sommer vies!”

Angélique is bly om die gedurige ondervraery vry te spring. Sy weet as sy in daardie vertrek bly, sal sy geen rus vir haar siel hê nie. Sedert Van der Stel se besoek is dit vir haar net te veel. Madame Colbert laat haar nooit met rus nie, wil gedurig by haar probeer uitvis wat aan die gang is en kan nie verstaan dat sy net so in die duister is nie.

Gedurende ’n kort besoek Saterdagoggend aan die Marais’s, vertel Angélique vir Adéle van die kommandeur se uitnodiging. Dis egter duidelik dat Adéle iets anders op die hart het, iets wat sy brand om aan Angélique te sê, en toe hulle alleen in haar boudoir is, kry sy uiteindelik die geleentheid.

“Ek het vandag gehoor dat don Eduardo dood is,” sê sy op ’n fluistertoon.

Angélique probeer haar bes om geskok te lyk en wonder of Adéle sal agterkom dat sy dit nie is nie.

“Waar het jy dit gehoor?”

“My pa het my kom sê.” Sy kyk vol simpatie na haar vriendin. “Alles was verniet, Angélique. Gaan jy nou nog met die markies trou?”

Die ander meisie haal haar skouers op. “Daar bly nie vir my enige keuse oor nie. As ek nie met hom trou nie, wel, ek is nie juis lus om my lewe in eensaamheid te slyt nie, weet jy?”

Adéle glimlag suur. “Jy verbeel jou dit. Daardie heldedaad van jou het die tonge sommer goed losgeskud. Selfs my verloofde, die comte De Chardin, is beïndruk. Hy meen dis die regte soort vrou vir enige man . . . iemand wat haar lewe sal waag om hom te red.” Sy beskou Angélique nuuskierig. “Hoekom het jy dit gedoen, h’m?”

Angélique lag selfbewus. “ ’n Mens doen soms maar dinge wat later na waansin lyk.”

“Lyk dit dan vir jou so?”

Die ander meisie se oë vertroebel. “Dit het nie gehelp nie, het dit?”

“Nee, dit het nie.”

Teen die middag trek die lug toe en toe Angélique en madame Colbert teen halfses in die koets klim, is dit reeds donker buite. Die winterwind waai geniepsig en laat die fluweelgordyne voor die koetsvensters wild wapper.

Angélique trek haar mantel stywer om haar en druk haar ken in die weelderige materiaal om haar nek. As dit net nie weer begin reën nie. As hulle eers vannag terug is by die huis, dan kan dit maar reën. Maar ’n nagrit in ’n nat, koue koets is nie juis aangenaam nie.

“Aaklige weer,” sê die madame toe hulle die landgoed verlaat.

“Miskien moet ons maar liewer vannag in die Kasteel oornag en môre terugkom.”

“Ek wens dit was nie vir ons nodig om te gaan nie,” mymer die meisie ’n bietjie vies.

“Ons draai nie terug nie,” antwoord die ou dame beslis. “Dis dalk die eerste en die laaste keer dat die kommandeur ons na ’n private formele dinee nooi. Ek wil dit gaan geniet.”

“U kom gerus maar alleen gegaan het, madame,” waag Angélique dit. Sy stryk met haar hand oor die sagte groen tabberd wat sy vir dié spesiale geleentheid dra.

Madame druk die wapperende gordyn by haar vas. “Jy sal jou nie verveel nie. Eugéne sal ook daar wees. Daar het glo twee Franse Hugenote gister in die baai aangekom. Dis mense wat graag die markies van Touraine wil ontmoet.”

Hierdie mededeling laat Angélique belangstellend opkyk. “Ken ons hulle dalk, madame?”

Die ou dame skud haar kop. “Ek kan die name glad nie plaas nie. Dis ’n monsieur Pierre Beaumont en sy suster, Jeanne.”

Angélique probeer die name in herinnering roep, maar sy kan dit nie koppel aan enigiets uit Frankryk nie.

“Nou waarom word ons dan ook genooi?”

Die madame lig haar skouers op. “Die kommandeur het seker sy redes.”

Dit begin sag reën en die wind dryf die ysige druppels deur die venster na binne.

“Wat ’n onplesierigheid!” sug madame Colbert. “Moet jy nou net nie staan en verkoue kry nie, Angélique.”

“Dit sal ’n rede wees om die troue uit te stel.”

Sy kyk verontwaardig na die meisie. “Ek wil geen woord daarvan hoor nie!”

Die koets begin meteens stadiger ry. Die twee vroue kyk vraend na mekaar, maar nie een van hulle weet wat verkeerd is nie. Dan steek madame Colbert haar kop deur die venster.

“Wat is verkeerd, Emile?”

“Je ne sais pas, madame. Ek weet nie. Daar is ’n ruiter voor in die pad wat die koets inwag.”

“Kan jy hier draai?”

“Nee . . . hier is nie plek nie. Moet ek maar die perde laat hardloop, madame?”

Voordat die ou dame kan antwoord, lê Angélique haar hand op madame Colbert se arm.

“Wag, ek dink ek weet wie dit is, madame.”

“Angélique!” roep die vrou geskok uit.

Die meisie leun deur die venstertjie. “Ek dink dis monsieur Santiago, Emile. Gaan tot by hom sodat ons kan praat.”

“Angélique!” Madame Colbert se stem styg ’n noot.

Die koets begin weer beweeg.

“Daar is niks om bekommerd oor te raak nie, madame,” probeer die meisie die ou dame paai. “Monsieur Santiago sal nie die koets voorkeer as hy nie ’n baie goeie rede het nie.”

“Dis ongehoord! Dis waansin! Jy vergeet dat die Spanjaard dood is! Almal weet dat hy dood is!”

Met skrik onthou Angélique haar belofte aan die kommandeur. Sy het belowe om nie eens vir madame Colbert te vertel dat die kaptein van die Sylvanna nog leef nie.

Die vrou sien die skrik op die meisie se gesig.

“Genade! Watter onbesonne ding het jy nou weer aangevang!” Sy leun by die venster uit om Emile die bevel te gee om die perde aan te jaag, maar die ruiter is reeds by hulle.

“Wag! Wag!” roep die ruiter toe dit lyk asof die koets by hom verby gaan ry en hy nie vinnig genoeg uit die saal kan kom nie.

Die koets kom stilstand.

“Dis Pablo, madame.”

Madame Colbert kyk geskok na die meisie. “Wel! Nes ek dink alles is nou reg, dan kom jy met nog ’n Spanjaard! Ek hoop jy besef dat ek hierdie sogenaamde kennisse van jou ten strengste afkeur.”

“Ek weet, madame, maar ek is daar seker van dat Pablo ’n boodskap vir my het.”

“ ’n Boodskap!” Die ou dame skud net haar kop, ’n allesverlore uitdrukking op haar gesig.

Pablo maak die deurtjie oop en kyk in. “Señorita?”

“Ja, Pablo, dis ek.”

Hy hou ’n briefie na haar uit. “Dis dringend,” sê hy dan.

“Is daar ’n antwoord?”

Hy skud sy kop. “Nee . . . Ek moes net die boodskap aflewer.”

“Watse boodskap?” wil Madame ysig weet. “Jy het niks vir die mademoiselle te sê nie!”

Die ou man staan effens tru. “Ek dink ek sal maar liewer gaan, señorita.” Hy hou sy oë op die ou dame asof hy elke oomblik ’n oorkonkel verwag.

“Dankie vir die moeite, Pablo,” probeer die meisie hom gerusstel. “Alles is reg.”

“Gracia, señorita, gracia . . .” Hy struikel half agteruit toe hy van die koets af padgee.

Emile laat die sweep klap en die perde kom in beweging.

Angélique durf nie by die venster uitloer om te sien wat Pablo maak nie, maar sy weet dat hy die koets agterna kyk, dat hy koud en nat van die reën daar in die koetspad bly staan. Dalk bekommer hy hom daaroor of sy werklik die briefie sal lees, en of madame Colbert dit dalk by haar sal wegneem voordat sy die geleentheid daartoe kry.

Sy hou die nota vasgedruk in haar handpalm. Sy sal dit later lees wanneer sy alleen is.

Maar sy het nie rekening gehou met madame Colbert se nuuskierigheid nie. “Wat sê die brief?” wil die ou dame skielik weet. “Lees dit sodat ek ook kan weet.”

Angélique wil eers weier, maar sy weet dat die ou dame sal aanhou totdat sy weet wat daarin staan. Met ’n ligte sug vou sy dit oop en lees hardop: “Señorita, wat ook al vanaand gebeur, hou die markies van Touraine by sy belofte. Jy sal later verstaan.” Sy kyk op. “Dis al, madame.”

“Wie het dit geskryf? Is daar nie ’n naam onderaan geteken nie?”

“Nee.”

“Jy weet tog wie dit geskryf het,” sê die madame hoopvol.

Angélique haal haar skouers op. “ ’n Welmenende, miskien. Ek weet tog nie vir seker nie.”

Madame Colbert vra nie verder uit nie, bly net diep ingedagte voor haar en uitstaar.

Eers toe hulle die hekke by die Leerdam-bastion binnery, kyk sy op. Daar is ’n bietjie agterdog en nuuskierigheid in haar blik. Sy sê egter niks nie en die meisie is dankbaar daaroor.

In die Kasteel word hulle deur Simon van der Stel en sy skoonsuster ontvang. ’n Klein, gesellige vertrek is vir die dinee voorberei. Op die tafel glinster die silwer en kristal in die kerslig, ’n sagte atmosfeer waar die koue daarbuite en die werklikheid van Pablo langs die koetspad na ’n vae droombeeld voel.

Eugéne de Vigny staan eenkant en wag dat Angélique en madame Colbert die twee Van der Stels groet voordat hy nader kom.

“Mesdames,” groet hy met ’n buiging, “kan ek vir u iets laat kom? Sjerrie? Ratafie, madame?”

Van der Stel staan nader. “Dit was ’n baie goeie oesjaar twee jaar gelede. Laat my die dames vanaand aan my landgoedwyn van Groot Constantia bekendstel, mijnheer die Markies.” Hy wink ’n bediende nader, wat dadelik ’n bottel wyn oopmaak en met vyf glase op ’n skinkbord nader staan. “Skink, Jaap,” sê die kommandeur en draai weer na die markies. “Wyn bly vir my ’n wonder, mijnheer. Dis dieselfde resep, dieselfde wynstok, en tog verskil die wyn van jaar tot jaar.”

“Van wynbou weet ek ongelukkig nie veel nie, U Eksellensie.”

Die kommandeur lyk effens verbaas. “Maar u vader was tog ’n bekende wynbouer in Touraine, mijnheer! Sy wyne het selfs in Versailles bekendheid verwerf.”

Johanna van der Stel kom by hulle staan en neem die glasie wat die kelner haar aanbied. Sy is ’n vriendelike, aantreklike vrou, maar nie meer te jonk nie.

De Vigny neem eers sy glas voordat hy antwoord. “Ek het nooit veel in my vader sy wynbouery belang gestel nie, U Eksellensie.”

Van der Stel skud sy kop spytig. “ w’n Jammerte, moet ek sê. Dis werklik ’n groot jammerte.”

Angélique drink klein slukkies van die drankie in haar hand. Dit het ’n sagte, effens soet smaak met die geur van die druif en die eikehout van die vate daarin vasgevang. Sy kan dit nie verhelp om die indruk te kry dat Van der Stel hierdie hele dinee met ’n doel gereël het nie. Het don Eduardo dalk geweet wat die kommandeur in die skild voer? Waarom anders het hy haar dan gewaarsku?

“Ek was maar twintig jaar oud toe ek destyds uit Frankryk moes padgee, U Eksellensie,” sê die markies met ’n frons. “Ek was nog jonk en dan stel ’n mens nie so baie daarin belang om te werk nie.”

Van der Stel lag. “Veral nie as jou vader van die rykste landhere in Frankryk is nie.”

Johanna van der Stel kyk op na die markies. “Ons ander gaste vanaand is baie angstig om u te ontmoet, mijnheer. Ek wonder of u hulle dalk ken? Jeanne en Pierre Beaumont?”

Eugéne de Vigny skud sy kop. “Nee, madame, ek ken hulle nie.”

Daar is ’n vreemde uitdrukking in Van der Stel se oë toe hy praat. “Hulle het u vader glo baie goed geken. U vader en die ou man, Jacques Beaumont, het glo dikwels saam gaan jag.” Hy haal sy skouers effens op. “Dis natuurlik moontlik dat u nooit voorheen ontmoet het nie. Kinders gaan gewoonlik nie op jagtogte saam nie.”

De Vigny is effens bleek om sy mondhoeke. “Ek het nooit veel van jag gehou nie, U Eksellensie.”

Die kommandeur skud sy kop laggend. “U was voorwaar ’n verveelde jong man, mijnheer. Maar miskien het u meer in die skoner geslag belang gestel.”

Die markies lag effens geforseerd. “Die kinders van die adel was nog nooit bekend vir hardwerkendheid nie, U Eksellensie.”

“Natuurlik nie.”

Angélique volg die gesprek met belangstelling. Hoe min weet sy nie in werklikheid van die markies van Touraine nie? Hy het haar nog nooit enigiets oor sy lewe in Frankryk vertel nie. Hoekom lyk hy skielik so bekommerd? Hoekom hou Van der Stel aan om oor sy verlede te praat? Wat probeer die kommandeur bereik? Wat is die doel agter hierdie dinee? Daar is niemand wat haar ’n antwoord op hierdie knellende vrae kan gee nie.

Madame Colbert is baie stil. Sy geniet net die weelde van die kommandeur se teenwoordigheid as gasheer, sy beste landgoedwyn en die deftige gesprek. Só iets het sy nooit in Frankryk geken nie. Dit sal jammer wees as Angélique moet weggaan uit die Kaap. Dan sal haar eie status maar terugkeer na dié van ’n gewone burger. Miskien sal sy ook nie weer na al die deftige onthale en dinees genooi word nie. Sy is per slot van rekening net ’n weduwee met weinig aardse besittings.

Die hoofbediende maak die binnedeur oop. Almal kyk in sy rigting.

“Mijnheer en mejuffrou Beaumont!” kondig hy aan.

Die meisie is nie besonder mooi nie, maar sy is swierig uitgevat in ’n donkerblou fluweeltabberd. Haar hare is dieselfde koringblond as Angélique s’n en ’n kam met saffiere is tussen die krulle gesteek. Sy is klein, kleiner as Angélique, en baie skraal.

Die man laat Angélique twee keer na hom kyk. Pierre Beaumont is lank en omdat hy ’n pruik dra, weet sy nie watter kleur sy hare is nie. Tog is daar iets bekends aan hom. Dalk is dit sy donkerbruin oë, want sy ken word deur ’n spitsbaardjie bedek en ’n dun snor lê donker op sy bolip. Sy suster se hand rus liggies op sy poeierblou baadjiemou.

Jeanne Beaumont los sy arm en kom nader. Haar oë bly op die markies gerig. ’n Vae glimlag speel om haar mondhoeke.

“Is u die markies van Touraine?” wil sy weet. Haar stem is helder en jonk. Sy kan nie veel ouer as twintig wees nie, skat Angélique.

Eugéne de Vigny kyk af na haar, ’n spiertjie spring aanhoudend in sy wang.

“Ja, mademoiselle, ek is.”

Sy hou haar hand glimlaggend na hom uit: “Ek is Jeanne Beaumont . . . u verloofde.”

Annelize Morgan Omnibus 3

Подняться наверх