Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 3 - Annelize Morgan - Страница 6

Оглавление

3

Oomblikke later gaan hulle saam die balsaal binne. Daar heers ’n vrolike uitgelatenheid onder die gaste, wat almal van hulle maskers ontslae geraak het. Don Eduardo is nie tussen hulle nie. Hy het reeds vertrek en die groot, swaar hekke van die Kasteel is agter hom toegemaak.

Die markies vertoef nog ’n rukkie. Dit lyk vir Angélique asof hy haastig is om iewers heen te gaan, maar nie té gou die saal wil verlaat nie. Eindelik kom hy na haar en madame Colbert waar hulle ’n oomblik eenkant staan. Hy buig diep voor die twee dames.

“U sal my nou moet verskoon, mesdames, maar ek moet dringend iewers heen. Dit spyt my dat ek u nie tot aan die einde van die bal kan vergesel nie.”

Madame glimlag. “Ons sal seker ook nou haas moet vertrek, monsieur. Ons sal net bly totdat monsieur Marais besluit om te gaan.”

Die markies knik en glimlag. “Net soos u wil, madame, maar moenie dat ek die oorsaak is dat u vroeg huis toe gaan nie.” Hy neem Angélique se hand en druk ’n vlugtige soen op haar vingers voordat hy in haar oë kyk. “Ons sal mekaar gou weer sien, mademoiselle. Bonsoir, Angélique.”

Sy kyk hom ingedagte agterna. Dan sluit Adéle by hulle aan, die orkes begin weer speel en Angélique kan nie anders as om meegesleur te word in die uitbundige vrolikheid nie. Noudat die markies nie meer in die balsaal is om haar dop te hou nie, kan sy haar vir die eerste keer die aand terdeë geniet.

Teen twee-uur die oggend besluit monsieur Marais om, ongeag die protes van sy dogter, die koets te ontbied sodat hulle huis toe kan gaan. Adéle lyk baie ongelukkig oor hierdie besluit van haar vader, maar sy besef ook dat dit al baie laat is en dat die ouer mense lankal reeds uitgeput is. Madame Colbert sit al die afgelope halfuur in die een hoek van die saal op ’n stoel en slaap.

In die koets gesels Adéle Marais opgewonde oor die bal. Sy het met die comte Jean de Chardin gedans en die opgewondenheid in haar stem laat Angélique raai dat dit die grootste oomblik in Adéle se lewe was.

“Jy is baie uitgesproke, chérie,” maan haar moeder. “Dis nie soos ek jou geleer het nie.”

“Ag, Mamma, hy weet mos nie hoe ek régtig voel nie?”

Madame Marais haal diep asem. “Wel, ek hóóp nie so nie!”

Monsieur Marais glimlag effens en knipoog vir madame Colbert wat half deur die slaap luister na wat gesê word.

Angélique kyk weg. Sy wens vuriglik dat sy ook só oor iemand kan gesels, opgewonde kon raak omdat iemand wat sy heimlik bemin na haar gekyk het. Maar nou sal so iets vir haar net ongelukkigheid bring. Sy sal nie soos ander vroue vir haar ’n minnaar kan aanhou nie. Nee, die man met wie sy trou, sal die enigste man in haar lewe wees. Sy sal getrou aan hom bly.

Sy frons liggies. Sy is aan die markies van Touraine beloof en sy mag en sal haar belofte nie verbreek nie. Sy weet hoeveel meisies haar die eer beny, maar dit maak haar nie gelukkiger nie. Sy kan die hooghartige markies nie verstaan nie, sy sal hom miskien nooit kan bemin nie. Sy sal maar net probeer om ’n goeie vrou vir hom te wees, asook ’n waardige markiesin op wie hy trots kan wees. Haar hartseer en geheime verlanges sal sy net vir haarself hou en leer om daarmee saam te leef.

Adéle vat aan Angélique se arm en sê op fluistertoon: “Ek het gesien hoedat don Eduardo, die kaptein van die Sylvanna, jou gevolg het toe jy na buite gegaan het. Het jy hom gesien?”

“Nee, miskien het jy jou dit maar verbeel dat hy agter my aangegaan het,” verweer Angélique vinnig.

“O, nee, ek maak nie ’n fout nie. Hy het jóú gevolg. Hy het jou lank dopgehou ook.”

Angélique bloos liggies. “En hoe weet jy dit?”

“Omdat ek self so graag met hom wou dans, maar hy het my nie eens raak gesien nie.” Sy kyk half beskuldigend na die ander. “Dis darem nie reg dat hy jou die hele aand so staan en dophou nie. Jy is tog verloof aan die markies!”

“Ek . . . ek kan dit nie help as hy . . . na my kyk nie,” verweer Angélique blosend. Sy hou haar hoof geboë sodat die ouer mense in die koets nie haar verleentheid moet merk nie.

Adéle lag sag. “Maar dit maak tog nie nou meer saak dat die skeepskaptein my nie raakgesien het nie. Die graaf van Chardin het gesorg dat ek nie weer een keer aan don Eduardo gedink het nie.”

Angélique lag sag saam. “Ek is bly, Adéle. Jy sal ’n goeie gravin maak.”

“Jy hoor mos wat Mamma sê. Ek praat te prontuit en wie weet, dalkies ontmoet hy iemand anders wat hom aan ’n lyntjie hou en dan is dit neusie verby met my.”

“Ek dink nie so nie.”

Adéle se gesiggie gloei ingenome.

Angélique is dankbaar toe hulle die groot ingang van Mont Bleu bereik en die koets skommelend om die draai wieg. Hoe baie sy ook al van Adéle hou, kan sy nie langer na die meisie se opgewondenheid luister en die hartseer in haar eie gemoed verteer nie.

“Ek sal vir jou kom kuier, Angélique!” roep Adéle voordat die koets vertrek om madame Colbert en die meisie na hulle plaas te neem.

“Ek stuur nog een van my bediendes met julle saam, madame,” sê monsieur Marais. “Dis ’n donker uur van die nag en die paaie is nie veilig nie.”

“Merci, monsieur,” bedank sy die heer.

Dan vertrek die koets en sit die twee dames terug teen die kussings. Albei is moeg en nie baie lus vir gesels nie.

Angélique is bly oor die stilte sodat sy Adéle se mededeling kan oordink. Sy het nie geweet dat die don haar die hele aand dopgehou het nie. Sy kan ook aan geen rede dink waarom hy dit sou gedoen het nie. Nee, Adéle het haar sekerlik misgis.

Madame skuif dieper in die hoek van die koets in. “Die aand was ’n teleurstelling,” sê sy asof sy hardop met haarself praat.

“Ek is jammer, madame.” Angélique weet nie wat anders om te sê nie. Sy het tog geen beheer oor die verloop van die gebeure gehad nie.

Madame kyk ondersoekend na haar. “Die markies was baie ontsteld toe julle van buite af ingekom het, liefie. Het julle stry gekry?”

“Nee, madame . . . hy en . . . monsieur le Don het weer ’n argument gehad.”

Madame lyk skielik baie ongelukkig. “Kon jy hulle nie gekeer het nie? Al die stories wat nou rondlê oor jou en dié twee edelmanne kan jou goeie naam net skade doen. Die markies kan baie maklik besluit om nie meer met jou te trou nie . . . veral na vanaand.”

“Daar steek geen waarheid in die stories nie, madame. Nie die don óf Eugéne de Vigny sal hulle deur my laat voorskryf wat om te doen nie. Hulle doen soos hulle goed dink. Daar is niks wat ek aan die saak kon doen nie.”

Hulle ry ’n lank in stilte voort.

“Ons moes liewer by monsieur Marais oornag het, madame,” sê Angélique skielik. “Dis al lank na twee-uur en die paaie is baie gevaarlik hierdie tyd van die nag. Die maan sal netnou ondergaan en dan is die nag pikswart. Ek hou nie daarvan nie. Dit maak my onrustig.”

“Toe maar, kind, jy bekommer jou verniet. Daar het nog nooit iets met ons op hierdie pad gebeur nie. Buitendien, monsieur Marais het darem een van sy bediendes saamgestuur. Ons is nie heeltemal alleen nie. Emile hier bo op die koetsbankie is darem ook nie weerloos nie, weet jy?”

Angélique vermy die ouer vrou se oë. “Ek bly onrustig, madame.”

Die madame skud net haar kop glimlaggend, leun agteroor teen die weelderige kussings en maak haar oë toe.

Die koets skommel voort deur die nag. Die maan sit geel en skeef net bo die horison. ’n Wind steek op en laat die gordyne wapper soos wat die koetswiele voortrol oor die ongelyke koetspad. Angélique trek haar mantel stywer om haar skouers. Die winterwind is koud en sy is moeg. Haar voete verkluim amper in die fyn hofskoene en sy probeer haar bes om nie haar tande opmekaar te laat klapper nie.

Elke af en toe dan pluk die wind aan die gordyne en kan sy die bleek, koue landskap buite sien. Dit kan nie meer baie ver na Le Ruisseau wees nie, tog voel dit asof die koets vir ewig deur die ysige nag rol.

Die wind ruk weer aan die gordyne en ’n paar sekondes lank kan sy na die verwaaide landskap buite kyk. Sy ruk soos sy skrik en sit regop, die koue ’n oomblik lank vergete.

“Madame!” fluister sy hardop en skud aan die slapende ou dame. “Madame!”

Madame Colbert kom half verskrik orent en druk-druk aan haar deurmekaar hare.

“Wat . . . wat is dit? Hoekom laat jy my so skrik?”

Angélique hou haar vinger voor haar lippe. “Nie so hard nie!” fluister sy. “Daar is mense in die koetspad voor . . . ruiters!” sê sy dan dringend.

Die madame kyk eers onbegrypend na haar en dan verbleek sy merkbaar.

“Struikrowers?” wil sy op ’n fluistertoon weet.

Angélique skud haar kop. “Ek weet nie. Dit kan net gewone ruiters wees.”

Haar woorde is egter skaars koud of hulle voel hoe die koets vorentoe ruk en hoor hoe Emile op die perde begin swets. Sy sweep klap hard bo die gedawer van die hoewe uit.

“Dit moet struikrowers wees, anders sal Emile nie so jaag nie,” sê die madame bekommerd. “Waar is monsieur Marais se bediende dan?”

“Hy is seker hier agter . . . as hulle hom nie al van die gras af gemaak het nie.” Angélique se stem bewe liggies. Sy mag nie paniekerig raak nie. Dit sal nie veel kos om die ou dame histeries te laat word nie.

Sy kyk weer na buite en dan sien sy die ruiters om hulle. Een probeer Emile van die koetsbankie afsleep, maar die ou man bly bo en stamp sy aanvaller af sodat hy in die gras rol. Die ander twee bly weerskante van die rytuig, hulle mantels wapper in die wind, hulle gesigte is bedek deur swart maskers.

“Wat sien jy, Angélique?” wil die vrou ontsteld weet.

Die meisie kyk terug. “Die een het geval, madame, maar daar is nog twee sover ek kan sien.”

Die koets kantel gevaarlik en die twee vroue moet klou om nie van die bankies afgeslinger te word nie.

“Emile jaag soos ’n besetene!” sê die ou dame. Op haar gesig is doodse skrik en vrees te lees.

“Ons kan nie meer ver van Le Ruisseau wees nie, madame.”

“Ver genoeg, sê ek jou, ver genoeg!” Sy begin huil. “Dat ek nou so ’n dag moet beleef! Struikrowers! Ek het hulle niks gemaak nie!”

Die koets gaan om ’n skerp draai en ’n oomblik lank is twee van die wiele in die lug en word Angélique hardhandig teen die oorkantste wand van die koets geslinger. Sy suig haar asem skerp in van pyn toe haar skouer genadeloos met die rand van die venster kennis maak.

“Sulke duiwels!” huil die madame.

Die meisie byt op haar onderlip om nie te huil van pyn nie. Dan begin die brandgevoel stadigaan bedaar.

Sy sit nog so haar skouer en vryf toe die koets sonder waarskuwing ’n groot klip tref, oorhel een kant toe en half skuins teen die dik stam van ’n boom tot stilstand kom. Die houtwerk kraak en skeur, die perde runnik beangs en ruk aan hulle leisels.

Angélique en madame Colbert word in die hoek van die rytuig geslinger, waar hulle op mekaar te lande kom. Twee pistoolskote knal deur die rumoer en hulle hoor Emile gil. Iemand roep verskrik uit en monsieur Marais se bediende aanskou die toneel voor hom lam van vrees. Twee rowers storm gelyk op hom af en sonder om te kyk, lê hy die rieme neer.

Angélique gryp na die vensterraam toe die koets stadig oorhel en met krakende en brekende panele heeltemal op sy sy gaan lê. Die perde runnik hees, hulle pote kap wild in die lug, hulle bekke skeur in die stange.

Met jillende krete sak die rowers op die koets toe. Hulle ruk die koetsdeur oop en loer na binne.

Angélique kyk op toe die koetsdeur aan die ander kant oopgaan en sy twee donker gestaltes teen die swartgrou hemel sien. Sy ruk haar asem in en skuif tot teen die bewustelose madame Colbert. Daar is nie skuiling teen die starende, swart gestaltes nie. Sy kan net wag en kyk wat hulle gaan maak.

Die koets ruk heen en weer soos die stomme, beseerde perde spartel om uit die knellende tuie te kom. Daar is nog wilde vrees en pyn in hulle runnik.

Die rowers het die meisie sien beweeg.

“Sy leef nog,” sê die een verlig.

“Wat van die ou vrou?”

“Na die duiwel met haar,” antwoord die eerste een bars. “Ons moet net die vroumens kry.”

Die opening verdonker skielik en dan hoor Angélique die een man versigtig in die stukkende koets afsak. Hy kry haar aan die arm beet en pluk haar orent.

“Jy kom saam.”

Sy probeer losruk, maar hy verstewig net sy greep. “Los my!”

“As jy gaan moeilik wees, gaan ek ander metodes gebruik om jou saam te neem.” Hy sis die woorde uit en die meisie besef dat hy bedoel wat hy sê, maar sy is nie van plan om sommer net so oor te gee nie.

“Julle kan die madame nie net so hier laat nie!” roep sy uit. “Sy is beseer!”

“Bly tog stil! Die ou vrou kan vir haarself sorg!” Dan kyk hy op na sy maat wat bo wag. “Ek bring haar boontoe!”

Hy is egter nog besig om te praat, toe ruk Angélique los en probeer een van die losgeskeurde houtsparre bykom om die man mee aan te val, dog hy is te vinnig vir haar. Sy het die vuishou nie sien kom nie, dit net met ’n skerp pyn teen haar kakebeen voel plof en toe sak die duisternis oor haar toe . . .

Ure later herwin sy haar bewussyn. Sy word stadig daarvan bewus dat die vertrek waarin sy haar bevind, beweeg en sy wonder of hulle dan nog iewers heen op pad is, maar toe sien sy die ronde ligkol en die tierende storm daarbuite. Sy is in ’n kajuit op een van die skepe wat in die baai vasgemeer lê. Sy probeer orent kom, maar die pyn in haar kop laat haar gou terugsak teen die harde kussing.

Angélique probeer onthou wat die vorige nag gebeur het, sy probeer dink waarom sy op ’n skip is, waarom sy ontvoer is en nie net beroof nie. Daar moet veel meer agter hierdie ontvoering steek as wat dit op die oog af lyk. Niemand sal tog so gek wees om madame Colbert om ’n losprys vir haar te vra nie. Dis tog bekend dat die ou dame nie ’n fortuin besit nie.

Dan skrik sy. Wat van die markies? As iemand hom om ’n losprys sou vra, sou hy betaal of sou hy nie omgee dat haar dooie liggaam eendag iewers aan die wit strande uitspoel nie?

Sy sidder en vir die hoeveelste keer besef sy dat sy die markies van Touraine glad nie ken nie. Maar dan onthou sy iets wat haar yskoud laat word. Die man wat in die koets geklim het, het hoë swart kaplaarse gedra soos die Spanjaarde! Kan dit moontlik wees dat don Eduardo haar ontvoer het? Sy weet dat hy en die markies mekaar oënskynlik nie kan verdra nie en tot uiterstes sal gaan om die ander uit die weg te ruim, maar wat beoog die don om met hierdie ontvoering te bereik?

’n Sleutel knars in die slot en dan gaan die kajuitdeur op ’n skreef oop. ’n Ruwe bebaarde gesig loer om die deur en grynslag.

“O, jy is wakker!”

Sy sit versigtig regop. “Waar is ek?” wil sy weet.

Hy grinnik breër. “Op die Sylvanna, waar anders?”

“Ek wil met don Eduardo praat,” sê sy vinnig. “Nou dadelik. Ek wil ’n verduideliking hê van hoekom ek ontvoer is!”

Hy maak die deur oop en leun teen die kosyn. Hy dra ’n wit hemp, kuitbroek en kaplaarse . . . soos alle ander Spanjaarde aan boord van die skepe.

“Jy sal maar ’n bietjie moet wag. Hy is nie nou hier nie.” Dan steek hy sy kop by die deur uit en skreeu in die gang af: “Haai, Pedro! Bring die vroumens se vreetgoed!”

Angélique trek ’n vies gesig, maar besef dan hoe honger sy is. Sy sal niks daarby baat om die kos te weier nie.

Terwyl sy eet, hou die matroos haar fyn dop. Sy voel half ongemaklik onder sy starende blik.

“Hier sal jy nie kry waaraan jy gewoond is nie,” sê hy en krap agter in sy mond met sy voorvinger. Dan beskou hy eers sy vuil vingernaels voordat hy hervat: “Jy is vervloeks gelukkig om sulke kos te kry, maar dit was die kaptein se bevel.”

Sy kyk op. “Hoe lank sal ek nog hier moet bly?”

“Weet nie. Dit lyk my nie die kaptein is haastig om jou te laat gaan nie.”

Sy neem ’n slukkie van die vrank wyn wat haar aangebied is.

“Weet jy wat . . . van madame Colbert geword het?”

Hy vryf sy oor ingedagte. “Die ou vrou wat agtergebly het?” Toe sy knik, sê hy: “Weet nie, iemand sou haar tog gekry het.”

Sy byt op haar tande en probeer haar ontsteltenis onderdruk. “As sy iets moes oorkom . . .” sê sy half tot haarself.

“Dit het niks met my te doen nie,” sê die matroos skielik bars. “Het jy klaar geëet?”

Sy kyk op. “Nee, en jy kan buite gaan wag tot ek klaar is. Ek sal jou roep.”

Hy maak sy mond oop om iets te sê, maar dan besluit hy daarteen en sonder ’n verdere woord verlaat hy die kajuit.

Buite het die suidooster intussen weer verwoed begin waai en dit dryf die dun reën teen die kajuitvenstertjie. Die swaar skip wieg op die onstuimige golwe, sink en styg tot die bolwerk protesterend kraak.

Angélique staar ’n oomblik onrustig na die patryspoort. Daar het al skepe aan hulle ankers in die baai gesink as die suidooster waai. Maar sy weet ook dat om in hierdie weer van die skip af te probeer ontsnap, eenvoudig selfmoord sal wees.

Later kom die matroos die leë bord en beker haal en dan is sy weer alleen. Die stormagtige dag sleep traag verby, rek sy minute tot klein oneindighede waarin Angélique dink en dink tot haar verstand stilstaan.

Niks van die gebeure maak meer sin nie. Die geskil tussen die Spaanse don en die markies van Touraine het tog niks met haar te doen nie. Hulle het reeds besluit om dit met ’n swaardgeveg te besleg.

Teen laatmiddag kom die matroos weer met ’n bord kos en ’n beker wyn. Don Eduardo kan haar weer eens nie sien nie en die frustrasie en teleurstelling groei in haar. Hoekom hou hy haar hier gevange?

Buite word dit al donker. Sy is baie moeg, maar die harde bank help haar nie juis om aan die slaap te raak nie. Haar pragtige appelgroen baltabberd is vuil en geskeur en sy sal dit nooit weer kan dra nie. Sy voel self vuil, maar die matroos wil haar nie toelaat om die kajuit te verlaat om net haar gesig en hande te gaan was nie. Hy bring ook nie water nie . . . niks maak meer sin nie.

Ten spyte van die groeiende koue in die klein kajuit, raak sy eindelik van uitputting aan die slaap. Haar drome is verwarrende beelde . . . mans op swart perde wat haar jaag, groot golwe wat dreig om die Sylvanna te verswelg, ’n gemaskerde man met swart kaplaarse wat met ’n flitsende dolk op haar afstorm . . .

Angélique rol rusteloos rond, word later half wakker en verbeel haar dat sy vaagweg iemand hier by haar iets hoor sê, maar dan oorval die slaap haar weer.

Dis reeds heeltemal lig toe Angélique wakker skrik. Die storm het hom deur die nag uitgewoed en net ’n fyn motreëntjie val nog sag. Sy kan Tafelberg nie meer deur die patryspoort sien nie en sy vermoed dat die skip die vorige nag aan sy anker geswaai het. Toe besef sy meteens dat sy nie meer in dieselfde kajuit is nie. Hulle moet haar die vorige nag na ’n ander een geneem het.

Sy bekyk die nuwe kajuit met ’n ligte frons. Dit verskil feitlik niks van die vorige een nie, buiten dat die panele teen die wande van ’n ander soort hout is en dat daar ’n dun, verslete mat op die houtvloer is. Die bank is nog net so hard en ongemaklik.

Skielik hoor sy ’n groot lawaai buite die deur. Matrose skreeu wild in Spaans en sy kan ’n paar verontwaardigde vloeke tussenin hoor. Sy kan nie Spaans verstaan nie en ook nie die Nederlands waarin iemand kort-kort iets sê nie. Daar is ook ’n persoon wat Frans praat.

“Ons weet sy is hier!” skreeu hy bo die lawaai uit.

“Señor, ek sweer!” Dis die stem van ’n ou man.

Iewers bars daar ’n geveg los. Swaarde klap teen mekaar. Die gedruis van voetstappe en stemme kom nader.

Angélique staan vinnig op en sak dan terug toe ’n skerp pyn deur haar kop skiet. Sy gryp haar kop in albei hande saam en dan voel sy die pynlike swelsel bokant haar linkerslaap. Wat kon gebeur het dat sy dié besering opgedoen het en nie eens daarvan wakker geword het nie?

Sy hoor hoedat iemand die kajuitdeure weerskante van die smal loopgang oopstamp. Die ou man pleit nog steeds en die Nederlander brom nog onverstaanbaar.

Die volgende oomblik gaan haar kajuitdeur oop en kyk sy vas in die oë van ’n woedende offisier van die Kasteel.

“Ag so!” sis hy en draai briesend om na die rasende matrose wat hom volg. “Julle sweer blou dat mademoiselle De Busset nie hier is nie, en daar lê sy!”

’n Stilte sak oor die manne in die gang. “Ons weet daar niks van nie!” skreeu die een.

“Die kaptein is nie ’n goedkoop ontvoerder nie!” skreeu ’n ander en skud sy vuis in die lug.

“Bly stil!” beveel die offisier skerp, draai sy rug op die matrose en kom na Angélique. “Ek neem u terug na die Kasteel, mademoiselle. Monsieur le marquis wag daar op u. Hy was al baie bekommerd oor u welsyn.”

Die Nederlander, ’n groot man met ligte hare en bleek vel, bly net breed glimlag. Dis duidelik dat hy nie veel van die gesprek verstaan nie.

Angélique glimlag verlig. “Merci, monsieur, merci beaucoup. Baie, baie dankie.”

Die Nederlander druk tussen die matrose deur na buite. Hy moet gaan sorg dat die platboomskuit gereed is om die meisie na die kaai te neem.

Die offisier neem Angélique ferm aan die arm en lei haar by die kajuit uit. Die matrose druk teen hulle aan, hulle ruwe gesigte vraend, onbegrypend op Angélique gerig. Hulle is stil asof hulle op haar wag om iets te sê. Sy sien hulle oë, hulle stroewe monde, ruwe hande wat slap hulle verslaentheid verraai.

“Don Eduardo is ’n goeie man, señorita,” sê een hier by haar. “Glo my, hy sou nie so iets gedoen het nie.”

Sy kyk na die ou man toe sy sy stem herken. Daar is ’n pleitende uitdrukking op die verweerde gesig, die donker oë is afwagtend op haar gesig.

“Ek weet nie, monsieur,” sê sy eindelik, “ek ken don Eduardo nie goed nie.”

Hy gryp haar arm vas. Die knellende vingers verraai sy angs. “Ek ken hom, señorita, hy is goed . . .”

Die offisier draai vererg om. “Bly stil, Pablo! Jy het genoeg kaf vir een dag gepraat! Miskien sal jou pleidooi by die kommandeur help om jou kapteintjie uit die Donker Gat te kry!”

Angélique sien nog net die vrees en skrik op die ou man se gesig voordat sy deur die offisier deur die luik na die dek gehelp word. Maar die geskokte ou gesig bly haar by, sy kan die pleitende uitdrukking, die angs nie vergeet nie en onbewustelik vat sy aan die teer swelsel bokant haar slaap.

Toe hulle al ver van die skip in die roeiboot na die strand op pad is, staan hy miskien nog met sy vingers krampagtig om die dekreling geklem . . .

In die Kasteel word sy na die kommandeur geneem. Dis duidelik dat daar reeds tussen die kommandeur, Eugéne de Vigny en don Eduardo heelwat gepraat is, want die atmosfeer is voelbaar gespanne toe Angélique binnekom.

Sy lyk gehawend, bleek en duidelik uitgeput na die vorige dag se ondervinding, maar haar oë flits lewendig van die markies na don Eduardo wat eenkant tussen twee swaar gewapende wagte staan.

Die markies kom haar dadelik tegemoet, sy gesig die ene kommer en ontsteltenis. “Chérie! Ek is die gode dankbaar dat jy ongedeerd is! As hierdie skurk jou iets laat oorkom het, sou ek hom persoonlik laat boet het!” Eugéne se oë blits venynig toe hy na Eduardo kyk.

“Nie so haastig nie, mijnheer,” maan Van der Stel. “Mijnheer Santiago se skuld is nog geensins ’n uitgemaakte saak nie. U verloofde se getuienis sal van die uiterste belang wees.”

“Ek glo nie daar is enige twyfel oor wie vir mademoiselle De Busset se ontvoering verantwoordelik was nie, U Eksellensie!” Daar is ’n astrante driftigheid in die markies se stem wat Van der Stel nie aanstaan nie.

Die kommandeur beskou die markies ’n oomblik swyend. Hy kan sy afkeer van die arrogante jong man nie heeltemal verberg nie. Hy het die Franse Hugenote nog nooit vertrou nie en sedert hy dié hooghartige heer uit die adel ontmoet het, weet Simon van der Stel dat hy reg gehandel het om die Hugenote nie toe te laat om ’n klein kolonie van hulle eie te vorm nie. Dis mense soos Eugéne de Vigny wat baie gou die situasie sou uitbuit en die beheer van so ’n gemeenskap sou oorneem. Nou is hy Simon van der Stel, nog in beheer, en hy sal sorg dat dit so bly. Geen hooghartige Fransman gaan hom vertel hoe om die Kaap te bestuur nie.

“U sal asseblief wag tot ék daaroor besluit het, mijnheer,” sê hy eindelik en kan die byt nie uit sy stem hou nie.

De Vigny vererg hom bloediglik. “Gaan u die woord van ’n Spaanse seekaptein glo bo dié van ’n Franse edelman?” wil hy weet.

“Dit gaan om die waarheid en geregtigheid, mijnheer,” antwoord Sy Eksellensie kalm, “en nie om die stand van die partye nie.”

“Ek verstaan,” antwoord die markies deur dun lippe.

Terwyl die twee here mekaar voel-voel, kyk Angélique na don Eduardo waar hy met ’n uitdagende houding die stryery tussen die kommandeur en die markies gadeslaan. Sy kan nie bepaal wat hy van die gesprek dink nie, net ’n fyn glimlag speel om sy mondhoeke, sy oë is half geslote asof hy die uitdrukking daarin wil verberg.

Sy onthou die ou man se pleidooi, sy onthou die angs en die paniek, die ou oë wat smeek om genade vir sy geliefde meester, en iets roer in haar. Sy kan nie die ou man se smekinge verontagsaam nie. Sy sal haarself dit nooit vergewe as sy sommerso aan die kommandeur sê dat don Eduardo haar ontvoer het.

Dan frons sy effens. Sy weet nie vir seker dat dit hy was nie. Alles het daarop gedui, maar hoe kan sy die feit dat hy haar nie wou spreek nie, verklaar? En wat van die geheimsinnige swelsel teen haar slaap? Hoe kom dit daar?

Eduardo kyk skielik om na haar asof hy haar oë op hom gevoel het. Sy kan die uitdrukking in sy donker oë nie peil nie. Dis sy houding van totale onverskilligheid wat haar tref. Sou hy dan werklik skuldig wees, of hou hy ’n troefkaart?

Angélique laat haar blik sak. Weer eens kan sy nie help om te wonder watter geheim hierdie man met hom na die Kaap gebring het nie – dié geheim wat die onwrikbare, ongenaakbare markies laat verbleek het, wat hom genoeg rede gegee het om die Spanjaard uit te daag tot ’n tweegeveg sodat hy hom kan doodmaak. As don Eduardo nou moet sterf, sal die geheim saam met hom sterf en sal niemand ooit weet wat in die markies se verlede gebeur het nie. Instinktief weet sy dat die don eerder sy geheim saam met hom graf toe sal neem as om homself daarmee uit hierdie verknorsing te help.

Sy kyk weer op; hy staar haar nog aan, maar daar is ’n halwe spotlaggie om sy mond. Tog is dit of die sagter uitdrukking in sy donker oë die spotlag wil weerspreek, amper asof hy haar swyend wil oorreed om liewer uit hierdie saak te bly.

Ek sou jou amper kon haat, don Eduardo, dink sy wrewelrig. Dis jou geheimsinnigheid, jou onpeilbaarheid wat ’n mens laat bang raak. Miskien het jy my werklik ontvoer, ek weet nie. Miskien is jy maar net ’n man wat met die dood die spot kan dryf, miskien besef jy nie dat ek tussen jou en die galg staan nie. En Pablo? Is jy werklik so ’n monster as die ou man jou amper aanbid?

Die kommandeur bring haar terug tot die werklikheid.

“Ken u mijnheer Santiago, mejuffrouw?”

Sy knik, “Ja, meneer.”

“Ken u hom baie goed?”

Angélique besef dat as sy haar doel wil bereik, sy versigtig sal moet wees. Dis vir haar van die uiterste belang dat sy slaag. Sy hou die troefkaart en al kos dit wat, sal sy dit speel.

“Ja, meneer.”

Die markies draai vinnig na haar. “Angélique! Hoe kan jy hom goed ken!”

Die kommandeur maak hom stil. “Ek neem die ondervraging waar, mijnheer!” Sy oë blits kwaai na die gekrenkte edelman. Dan draai hy terug na die meisie. “Ken jy hom goed genoeg om hom in die donker te herken?”

Sy lig haar kennetjie toe sy na Eduardo kyk. “Ja, mijnheer.”

Don Eduardo se oë vernou, sy gesig verstrak en sy mond word ’n harde lyn. “Het u mijnheer die Don eergisteraand herken toe u ontvoer is?”

Angélique voel Eduardo se oë op haar. Sy weet dat alles van haar antwoord afhang . . . of hy môre nog gaan leef of nie. Ontvoering is met die dood strafbaar. In die Donker Gat sal hulle ’n erkenning uit hom martel. Die wagte sal aanhou en aanhou totdat hy ingee en dit sal sy doodvonnis beteken. Hy sal as ’n gebreekte, halwe mens na die galg gaan . . . of sal sy ingebore trots bly staan? Sal hy nog uitdagend en onverskillig kan wees? Sal hy miskien wonder of sy hom verag, of sal dit hom nie skeel nie? Sy sidder liggies en kyk op na die kommandeur wat op haar antwoord wag.

Sy besef meteens dat haar antwoord ook vir hierdie man baie gaan beteken. Daar is ’n stroewe, bekommerde uitdrukking op sy gesig. Hy kyk nie direk na haar nie, miskien is hy bang om haar antwoord in haar oë te lees.

Eugéne de Vigny staan met nonchalante selfversekerdheid voor haar. Daar is ’n glimlag om sy mond. Hy weet wat haar antwoord gaan wees en hy wil haar dit hoor sê.

Sy kyk vinnig terug na Eduardo. Die spot is weg uit sy oë, sy hele houding is gespanne. Selfs die duiwel kan die dood se koue asem in sy nek voel, dink sy. Sou hierdie geheimsinnige man dan ook so iets soos vrees ken?

“Het u mijnheer die Don herken, mejuffrouw?” por die kommandeur eindelik toe die stilte te lank begin rek.

Sy draai terug na hom, seker dat haar antwoord reg is.

Annelize Morgan Omnibus 3

Подняться наверх