Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 3 - Annelize Morgan - Страница 4

Оглавление

1

Angélique de Busset bly ’n oomblik stil staan en staar met half teësinnige bewondering na die vrolike groepie Spanjaarde op die oop markplein. Die uitbundige ritme van hulle handegeklap en voetegestamp terwyl hulle die Flamenco met groot vertoon dans, is aansteeklik – die hele dans is aansteeklik. Dis of die helder oggend wil saamdans op die meesleurende ritme van die lied wat die kitaarspeler met vaardige vingers op sy instrument tokkel.

Daar is net een meisie tussen die klomp matrose – ’n donker skoonheid met flitsende, swart oë en ’n wit lag. In haar glansende gitswart hare gloei ’n bloedrooi blom. Elke af en toe roep sy iets op Spaans uit in ’n lae, heserige stem en dan lag die matrose met openlike bewondering vir haar slangagtige grasie. Sy stamp met haar netjiese gestewelde voete op die klam grond van die markplein en is vol onvermoeide energie. Haar vlamrooi rok warrel op maat van die musiek, haar kastanjette skril, ritmies, uitdagend.

Angélique betrap haarself dat sy met haar een voet die ritme op die grond uittik en ruk haarself reg. Madame Colbert wag seker reeds op haar. En die ou dame hou nie daarvan dat sy op iemand moet wag nie.

Net toe sy egter verder wil stap, sien sy hom raak waar hy eenkant teen die waterput leun, sy hand in sy sy en ’n vreemde, half afgetrokke glimlag om sy mondhoeke terwyl hy die uitgelate dansers dophou. Sy kleredrag, die swart kaplaarse en spierwit syhemp verraai sy Spaanse afkoms. Miskien die kaptein van die Sylvanna, dink Angélique. Sy forse, trotse houding is gewis nie dié van ’n gewone matroos nie. Sy probeer die flikkering van opgewonde nuuskierigheid in haar binneste onderdruk.

Hy kyk skielik op in haar rigting en hou haar oë gevange.

Die Spaanse meisie kom heupswaaiend tussen die dansers deurgestap in die rigting van die man wat teen die waterput leun. Sy skud haar waaier met ’n nonchalante vaardigheid oop. Sy sê iets op Spaans en hy skud sy kop. Met ’n ergerlike ruk van haar kaal skouers swaai sy om en stap terug na waar die ander ’n oomblik asem geskep het.

Eers toe die man in haar rigting begin stap, besef Angélique verleë dat sy hom die hele tyd nog skaamteloos aangestaar het. Voordat sy omdraai om haarself haastig uit die voete te maak, sien sy net die lang, blink litteken bokant sy linkeroog. Dan lig sy haar tabberd se soom en stap haastig weg. Dis of sy sy oë in haar rug voel brand en sy kyk so ongemerk moontlik om.

Hy kyk nog na haar. Daar is spot in sy oë en ’n vae, geamuseerde glimlaggie om sy mond. Dan keer hy kortom terug na die dansers, asof Angélique nie die moeite werd is om te veel aandag aan te gee nie.

Die meisie haas haar na waar die koets reeds geruime tyd op haar wag. Sy wonder wie die man kan wees. Dis reeds winter en sy skip sal sekerlik nie voor die lente uit die baai kan vertrek nie. Vandag is een van die min mooi, sonnige dae. Gister het die suidooster nog troosteloos gewaai en het ’n sagte motreën nog aanhoudend geval. Sy betrap haarself dat sy wonder of sy hom weer sal sien. As die markies van Touraine dít moet weet . . .!

Miskien is hy tóg van die Sylvanna . . . Dit het eergister in die Kaap aangekom terwyl die suidooster soos ’n besetene deur die baai geswiep het . . . Hy moet voorwaar ’n besonder begaafde seeman wees dat hy die skip onder dáárdie omstandighede veilig die baai kon binnebring.

Madame Colbert se gesig voorspel niks goeds nie. “Jy is laat, Angélique,” betig sy die meisie.

Angélique buig haar hoof selfbewus. “Je suis fâché, madame.”

“Mais oui!” kap die ou dame ontevrede terug. “Dis die minste wat ek van jou verwag!” Sy gee die koetsier die teken dat hy maar kan vertrek en hervat dan: “Om net altyd te sê jy is jammer, Angélique, is nie goed genoeg nie.”

“Je sais, madame.”

“As jy dit weet, waarom laat jy dan toe dat jy laat kom?”

Die meisie kyk af na haar hande. “Daar is tog niks anders wat ek kon sê nie, madame. Ek is werklik jammer.”

Madame Colbert sug diep. “Jy het natuurlik ook vergeet dat jy vanmiddag na die Marais’s toe moet gaan?”

Angélique se hand gaan verskrik na haar mond. “Nee! Ek het vergeet!”

Die ou dame laat haar blik een lang oomblik swyend op die meisie voor haar rus. Sy is ’n weeskind en woon al jare saam met haar, maar somtyds voel sy dat sy Angélique baie eerder as ’n dogter beskou. Sy kan nooit lank kwaad bly vir die lieflike, vriendelike meisie nie. Op vier-en-twintig is Angélique pragtig. Sy is klein en fyn gebou en het groot, helder groen oë. Haar koringblonde hare versorg sy altyd baie goed en sy is daarop gesteld om altyd op haar beste te lyk. Dis ’n baie goeie eienskap wat die madame doelbewus aangemoedig het. Sy het haar lank gelede reeds voorgeneem dat sy net die beste man vir Angélique sou uitsoek.

Sy skuif ongemaklik op die koetsbank rond.

“Die markies van Touraine is seker ook al daar.”

Angélique keer die misnoegde uitroep wat byna haar lippe ontsnap. Sy kan maar net nie van die ysige, hooghartige markies van Touraine hou nie. Hy laat haar altyd voel asof hy van haar verwag om haar soos ’n slaaf teenoor hom te gedra.

Die madame lig haar wenkbroue. “En nou, Angélique? Waarom lyk jy so vreemd?”

Die meisie kyk verskrik op. “Dis niks, madame . . . regtig . . .”

“Is dit oor . . . die markies?”

“Nee!” roep Angélique uit en skud haar kop heftig.

Haar reaksie laat die ou dame agterdogtig raak. “Kindjie, jy weet dat die markies reeds twee maande gelede om jou hand gevra het en jy dit aanvaar het.”

Die meisie moenie kop uittrek nie, dink die madame angstig. As dit gebeur, sal dit die einde vir haar beteken. Angélique sal niemand kry wat haar weer om haar hand sal vra nie . . . al is sy ook hóé mooi en begeerlik.

“Ek het sy aanbod aanvaar omdat . . . omdat u dit so wou gehad het, madame.” Haar ongelukkigheid is duidelik op haar gesig te lees.

Die ouer dame se hart krimp ineen.

“Maar jou belofte is onherroeplik!” Sy sluk droog. “Jy moes toe al geweier het, Angélique. Nou is dit te laat. Ek het nie geweet hoe jy werklik daaroor voel nie.”

“Ek weet, madame, maar hy . . . hy maak my bang.”

“So? En waarom dan?”

Angélique haal haar skouers op. “Hy is so koud en afsydig. Hy is so . . . hooghartig.”

Madame Colbert lyk eindeloos verlig. “Dit is tog nie iets om jou oor te bekommer nie, kind. Jy is maar net nog jonk en wil die vurigheid van die liefde hê. Moet jou tog nie so daaroor ontstel nie, jy kan nog altyd ’n minnaar aanhou, dan nie?”

Die ondeunde vonkeling in die ou dame se oë stil die ontstelde uitroep van Angélique.

“Ek sal dit nooit kan doen nie, madame!”

“Sal jy die markies ooit kan liefkry?”

“Nee!”

“Dan gaan jy ’n baie eensame bestaan hê, chérie.”

Hulle ry in stilte voort, elkeen besig met haar eie gedagtes.

Vier jaar gelede het Angélique as jong, twintigjarige meisie saam met die weduwee Thérèse Colbert na die Kaap gekom. Monsieur Jean Colbert is in die skermutselinge wat op die herroeping van die Edik van Nantes deur Lodewyk die Veertiende gevolg het, swaar gewond en het later in ’n Katolieke klooster gesterf. Dit het die ou dame se hart gebreek. Hulle was Protestante en die feit dat haar man in ’n Katolieke klooster dood is, het haar hewig ontstel. Angélique was toe ’n jong dogter in die eenvoudige huisie in die skilderagtige omgewing van Perpignon. Voor hulle was die Golf van Lion en die Mediterreense See, en agter hulle het die geweldig hoë kranse van die Pireneë uitgetoring.

Dit was mooi, gelukkige, stil dae. Dit was voor die herroeping van die Edik van Nantes; daarna was daar baie hartseer in die huis. Net Albert wat altyd die pos na die huis gebring het, het Angélique help vergeet dat monsieur Jean nie meer daar is nie. En toe het die madame besluit om Kaap toe te kom. Angélique het drie jaar gelede laas van Albert gehoor en sy kan nie help om te wonder of hy al getroud is en of hy van haar vergeet het nie. Dit hinder haar nie meer soos in die begin toe sy niks van hom gehoor het nie. Miskien was hulle maar net nie vir mekaar bedoel nie.

“Uiteindelik tuis!” onderbreek die madame haar gedagtegang.

Toe die koets minute later voor die klein, maar skilderagtige herehuis van Le Ruisseau tot stilstand kom, sien Angélique onmiddellik die swierige koets voor die deur raak. Sy probeer om nie te wys dat die rytuig se teenwoordigheid haar omkrap nie. Nadat sy en die ouer dame uit die koets gehelp is, maak die meisie ’n haastige kniebuiging voor die madame, maak verskoning en drafstap na die hoek van die huis om by ’n sydeur in te gaan. Sy wil haar nie in die markies van Touraine vasloop nie. Hy sal daar binne op haar aankoms wag en haar weer met sy kil, hooghartige houding heeltemal ontsenu.

Toe Angélique haastig om die hoek van die huis drafstap, loop sy haar egter vas in die einste foutloos geklede markies van Touraine. Sy gee ’n verskrikte uitroep en toe sy sien wie dit is, sak haar moed in haar skoene.

“Pardon, monsieur le marquis,” sê sy half uitasem en maak ’n diep kniebuiging.

Hy bekyk haar swyend op en af. Daar is sterk afkeuring op sy gesig te lees, sy mondhoeke krul en sy helderblou oë vernou effens.

“U is baie haastig, mademoiselle,” sê hy koel. “Mag ek weet waarheen die haas is?”

Angélique byt op haar tande om hom nie ’n antwoord toe te voeg waaroor sy later dalk spyt mag wees nie. Sy staan hom net swyend en aankyk en hoop dat haar diepgegronde misnoeë met hom nie te duidelik wys nie. Sy kan nie haar vinger daarop lê nie, maar daar is iets aan die selfversekerde edelman wat haar koud laat. Dis vir haar die laaste ruk verskriklik om te moet dink dat sy met hom gaan trou. Toe sy die madame dit belowe het, het sy die hooghartige man nog nie geken nie. Toe was dit nog vir haar ’n wonderlike gedagte om markiesin te wees.

“U stilswye getuig nie van goeie maniere nie, mademoiselle,” sny sy stem deur die stilte.

“Ek het niks om vir u te sê nie, monsieur,” kap sy terug.

Sy oë vernou. “U vergeet uself, mademoiselle,” sê hy stadig, “en ek glo dat u nie bedoel het wat u so pas gesê het nie.”

Angélique byt net weer op haar tande en haal diep asem. Haar groen oë glinster. As sy net een keer vry is om te doen wat sy baie graag sal wil doen – hom presies vertel hoe sy oor hom en ’n huwelik met hom voel – sal sy beter voel.

Hy staar ’n lang ruk swyend na haar. Hy sien die woede in haar oë glinster en ’n vermakerige glimlaggie krul om sy mondhoeke, maak sy aantreklike gesig snedig.

“U het niks vir my te sê nie, mademoiselle?”

Sy skud haar. “Nee.” Haar stem is hees.

“Dan sal ek u nou na die voordeur begelei waar u in die eerste plek moes ingegaan het.”

Hy bied haar sy arm en daar is vir haar geen ander keuse as om dit te neem nie.

Die buffel! dink sy wrewelrig. Hy het elke keer die laaste sê! As daar net ’n moontlikheid was dat ek van my belofte aan hom kan loskom, sou ek dit met albei hande aangegryp het. Maar nou is daar nie. Ek sal hierdie besitlike, hooghartige man se vrou word.

Die aand voordat sy in die bed klim, staan Angélique na haarself in die spieël en kyk. Daar is ’n ongelukkige fronsie tussen haar groen oë. Sy is mooi, maar sy is arm en sy is ’n weeskind. Eintlik was sy ’n helpster in madame Colbert se huis, maar sedert monsieur Jean se dood het die ou dame haar eerder soos ’n dogter begin behandel en aanvaar. Die ou dame het nooit kinders gehad nie en toe haar man wegval, was daar niemand op wie se skouer sy kon huil of wat sy haar eie kon noem nie.

Angélique draai stadig van die spieël af weg en gaan op die rand van die ledekant sit. Sy verlang terug na daardie pragtige, eenvoudige huisie aan die voet van die Pireneë, sy verlang na Frankryk, haar vaderland, en na Albert wat haar jare gelede reeds vergeet het. Sy wil nie ’n markiesin wees nie, sy wil net haarself wees.

Met ’n ligte suggie skop sy haar pantoffeltjies uit en skuif tussen die koue lakens in.

As sy aan die verlede moet oordeel, kan daar nie veel vir haar in die toekoms wag nie. Haar ouers is albei vroeg oorlede. Toe sy dertien was, het sy by madame Colbert as ’n soort bediende gaan woon. Die madame was baie goed vir haar. Ook monsieur Jean het haar goed en hoflik behandel. Sy het in die elf jaar dat sy by madame Colbert gewoon het, baie geheg geraak aan haar. Sy is lief vir Thérèse Colbert en dis juis daarom dat sy gedoen het wat die ou dame so graag wou gehad het . . . die markies Eugéne de Vigny van Touraine se huweliksaanbod aanvaar.

Dit was die madame se droom . . . iemand aan wie dit nie sou saak maak dat Angélique geen bruidskat het nie, dat sy ’n weeskind is nie, dat sy nie van die adel afstam nie. Die markies was so iemand en die ou dame kon dié groot geluk amper nie glo nie . . .

Die volgende dag is Vrydag. Vroeg die oggend kom ’n boodskapper te perd van die Kasteel af met ’n uitnodiging na ’n maskerbal wat deur Sy Eksellensie die Kommandeur gehou word. Simon van der Stel nooi die dames De Busset en Colbert vriendelik uit om hom met hul teenwoordigheid by die bal te vereer.

Angélique kan beswaarlik haar opgewondenheid onderdruk. ’n Spesiale uitnodiging aan haar ook! Maar dan onthou sy dat almal reeds weet dat sy die markies se verloofde is en dat daar dus niks spesiaals aan die uitnodiging is nie. Dit sou onvergeeflik van die kommandeur gewees het as hy haar nié uitgenooi het nie. Die markies is een van die mees gesiene mense onder die Franse aan die Kaap.

Die madame bemerk die uitdrukking van teleurstelling wat dié van opgewondenheid op die meisie se gesig verdring.

“Ons sal op ons eie gaan, chérie. Die markies sal ons nie vergesel nie.” Sy swyg toe die jonger een haar met hoopvolle oë betrag. “Maar as die markies my vra wat jy vir die bal gaan dra, sal ek verplig wees om hom te vertel.”

“Nee! Asseblief nie, madame! Ek sal liewer hier op Le Ruisseau bly!” Sy kyk pleitend na die ouer vrou.

Die madame frons ongelukkig. “Hoe kan ek weier? Hy het die reg om te weet.”

Angélique maak haar mond oop om iets te sê, maar dan skud sy net haar kop, draai om en verlaat die vertrek.

“Angélique?”

Sy gaan staan by die deur. “Madame?” vra sy sonder om op te kyk.

“Die vooruitsig aan die huwelik met die markies staan jou nie aan nie, ek weet, kindjie, maar jy sal moet leer om met die gedagte saam te leef, al is dit ook hóé swaar. As ek twee maande gelede geweet het wat ek nou weet, sou ek jou nooit eens vertel het van sy aanbod nie. Glo my, chérie, jou hartseer is myne ook.”

Die meisie glimlag effens. “Dankie, madame. Ek sal my bes doen om u nie teleur te stel nie.”

Toe sy uit is, kyk die ouer dame haar nadenkend agterna. Sy besef dat sy nie so haastig moes opgetree het nie. Sy moes die twee jongmense eers die geleentheid gegee het om mekaar behoorlik te leer ken. Nou is dit te laat. Toe het sy egter ook gedink dat die markies behoort te weet wat hy wil hê en wat hy doen. Hy is reeds dertig en teen daardie tyd doen ’n mens nie meer dinge impulsief nie.

Nou ry Thérèse Colbert en Angélique de Busset met die koets na die Marais’s. Van daar sal hulle ’n bietjie later na die bal gaan. Die madame wou eers dat sy en Angélique alleen gaan, maar nadat ’n paar koetse en ruiters die afgelope twee weke weer langs die verlate koetspaaie deur struikrowers lastig geval is, het sy daarteen besluit. Dit sou gans te gevaarlik vir hulle wees om so alleen te gaan.

De koets het ook skaars voor die herehuis op Mont Bleu stilgehou, of Adéle Marais trippel hulle tegemoet. Sy groet die ou dame vlugtig, maar nie sonder hartlikheid nie en lei Angélique aan die arm weg.

“Jy kan later vir Moeder en Vader groet as ons tee drink, liewe vriendin. Ek móét jou net eers my tabberd wys. Dit het so pas van ons kleremaakster af teruggekom en ek was só bang dat dit nie betyds sou opdaag nie!” Sy warrel by haar boudoir in met ’n half verdwaasde Angélique agterna.

Teen die klerekas hang die lieflikste tabberd wat Angélique nog gesien het. Dis van bloedrooi satyn met weelderige goue borduursel. Perlemoer-kraletjies is tussen die borduursel ingewerk. Die hals is laag en ietwat waaghalsig. Sy kan haar voorstel hoe pragtig Adéle in hierdie droomtabberd daar sal uitsien. Die meisie is donker en haar oë is helderbruin. Sy sal treffend lyk.

“Dis pragtig, Adéle,” sê sy en bedoel dit.

“Ek is bly dat jy daarvan hou.” Die opgewondenheid blink in haar oë. “Watter kleur is jou tabberd?”

Angélique glimlag effens. “Dis nie eens halfpad so mooi soos joune nie. Madame het nie geld vir ’n nuwe tabberd gehad nie en ons het toe maar ’n ou een verander. Jy onthou dit seker nog – die appelgroen een.”

“Maar dis ’n pragtige tabberd! Dis dan een van dié wat die madame uit Parys gebring het!”

“Ek weet, maar almal ken dit al. Ons het dit ’n bietjie verander, maar daar was nie veel aan te doen nie.”

Adéle is opgewek. “Aag, moet jou tog nie oor jou tabberd bekommer nie. Dink maar net aan hoe geskok die madame gaan wees as sy my vanaand in dié gevaarte sien!”

“Sy sal niks sê nie. Daarvoor is sy te versigtig.”

Hulle gaan drink tee saam met die ander in die biblioteek.

Angélique raak al hoe stiller hoe verder die dag vorder. Adéle se haarkapster neem haar hare onder hande en selfs die pragtige haartooisel wat sy kam, kan die ongelukkigheid nie uit Angélique neem nie.

“Waarom is jy so stil, chérie?” wil Adéle weet.

“Sommer niks, ek dink maar net diep.” Sy wens dat die markies vanaand ongesteld moet wees sodat sy haar net één keer weer werklik kan geniet.

Adéle laat die satynroos in die dosie terugval en kom help Angélique om haar tabberd agter vas te maak.

“Jy kan my nie om die bos lei nie, hoor,” sê sy met ’n glimlag. “Jy dra ’n groot probleem op die hart. Uit daarmee. ’n Mens gaan nie na ’n maskerbal met ’n swaar gemoed nie.”

Angélique huiwer. Sy wil haar vrese so graag met iemand deel. Dit word vir haar al hoe moeiliker om die situasie te aanvaar. Binnekort sal sy nie meer aan verskonings kan dink waarom haar huwelik met die markies uitgestel moet word nie. Dan sal daar vir haar geen wegkomkans meer wees nie.

“Ek wil nie met die markies trou nie, Adéle.”

Die ander kyk geskok, verbaas op. “Maar waarom dan nie, Angélique! Dink net daaraan . . . jy sal ’n markiesin wees met jou eie koets en die goue wapen van Touraine op die deur!”

Angélique ontwyk haar vriendin se blik. “Jy sal nie verstaan nie. Jy ken hom nie so goed soos ek nie.”

Adéle klik ongeduldig met haar tong. “Wat maak dit tog saak as hy dalk ’n bietjie humeurig is of ’n irriterende gewoonte het? Jy sal dit gou gewoond raak en dan sal dit net een lang, heerlike, luukse vreugde wees om die markiesin van Touraine te wees. Toe nou, chérie! Eugéne de Vigny is nie te versmaai nie. En die titel van markiesin van Touraine is ook nie te versmaai nie.” Sy kyk afwagtend na haar vriendin, maar Angélique se gesig bly somber en ongelukkig.

“Jy ken hom nie,” sê Angélique na ’n paar sekondes se huiwering. “As jy hom ken, sal jy nie so praat nie.”

Adéle trek haar skouers met ’n sug op. “Ek kan jou nie verstaan nie. Eugéne de Vigny is ’n baie aantreklike, skatryk edelman en jy lyk asof die vooruitsig aan ’n huwelik met hom so erg soos ’n teregstelling is.” ’n Ondeunde vonkeling kruip in haar helderbruin oë. “Jy is nie dalk op ’n ander man verlief nie, Angélique?” wil sy weet.

“Mais non! Natuurlik nie! Waar kom jy aan so iets!”

Adéle lag en gaan terug na die dosie waarin sy die satynroos gesit het. Sy tel dit op, druk effens aan die blaartjies en hou dit teen haar haartooisel terwyl sy die effek in die spieël beskou.

“Ek wonder maar net, chérie,” sê sy in ’n soet stem. “Dis baie eienaardig dat jou skielike teësin in die markies saamhang met die aankoms van die Sylvanna in die Baai.”

Angélique kyk haar vriendin onbegrypend aan. “Ek verstaan nie wat die twee met mekaar te doen het nie,” sê sy terwyl sy omdraai om haar handskoene van die bed af op te tel.

Adéle beskou haar skewekop. “Ag, toe nou, jy is tog nie só dom nie, of het jy dan nog nie van die kaptein van die Sylvanna gehoor nie?”

Angélique skud haar kop. “Nee, ek het nie. Wat van hom?”

Adéle maak ’n oordrewe moedelose gebaar met haar hande. “Jy verstom my, liefie. Elke vrou, getroud, ongetroud, arm en ryk weet van die kaptein. Hy is ’n aantreklike, sjarmante Spanjaard. Hy is natuurlik ’n bietjie rof, soos wat alle seekapteins maar is, maar dit maak hom net interessanter, dink jy nie?”

Terwyl Adéle nog praat, weet Angélique skielik wie die kaptein van die Sylvanna is . . . daardie geheimsinnige, donker Spanjaard wat haar die dag op die markplein genader het. Sy onthou die spot in sy donker oë, die geamuseerde glimlaggie om sy mond toe sy skielik die hasepad gekies het – en sy onthou weer die wilde klopping van haar hart toe sy haar na die wagtende koets gehaas het.

“Wie is hy?” vra sy eindelik met ’n taamlike onvaste stem wat Adéle skerp na haar laat kyk.

“Hoe lyk dit my jy het hom al ontmoet?” Sy lag opgewek. “Hy is don Eduardo Santiago.”

“Don?”

Adéle knik. “ ’n Edelman, klaarblyklik.” Sy haal haar skouers op. “Maar dit kan natuurlik ook versinsel wees. Hy mag dalk maar ’n gewone burger wees.”

Angélique drup ingedagte ’n bietjie rooswater op haar kantsakdoek.

“Ja, natuurlik, hy is dalk net ’n gewone burger.” Maar instinktief weet sy dat die kaptein van die Sylvanna nie ’n gewone burger is nie. Hy kom uit ’n adellike familie en ’n baie ou een daarby. Daar is ingebore sjarme en grasie by hom.

Haar gedagtes dwaal na die markies van Touraine. Sy kan nie een keer onthou dat sy werklik na sy besoeke uitgesien het nie. En tog het sy bly hoop dat dit anders sal word, dat hy meer toegeneentheid teenoor haar sal toon, dat hy teenoor haar sal versag en dat hulle tóg gelukkig sal kan wees. Maar dit het nie verander nie.

“Jy luister nie wat ek sê nie, Angélique!”

Sy kyk half verskrik op en glimlag verskonend. “Jammer, Adéle, wat het jy gesê?”

“Ek het gevra of jy dink dat die markies jou sal herken,” sê die ander meisie terwyl sy Angélique ondersoekend aankyk. “Jy het tog sekerlik nie vir hom gesê wat jy gaan aantrek nie, het jy?”

“Nee, ek het nie, maar dit kan wees dat Madame Colbert dit gedoen het. Sy het my gewaarsku dat as hy haar vra watter tabberd ek gaan aantrek, sy verplig sal voel om hom te vertel.”

Adéle lyk teleurgesteld. “Ag, nee, sy sou nie so iets gedoen het nie! En ek wou dan gehad het dat ons die aand régtig moet geniet!”

Angélique haal haar skouers op. “Dis nie te sê sy hét nie, maar die moontlikheid is daar.” Sy maak ’n stadige draai voor die spieël terwyl sy haarself krities beskou.

Die appelgroen satyn glinster sag in die dowwe lig van die kerse. Die weelderige, ryk borduursel in silwerdraad en kristalkrale vertoon nog amper net so mooi as wat dit eens was. Die sagte lig maak die ouderdom van die lieflike tabberd nie so opvallend nie. Angélique het geen diamante of ander edelgesteentes wat sy kan dra nie, maar haar glansende goue hare en heldergroen oë vergoed daarvoor.

“Jy lyk pragtig, Angélique,” hoor sy Adéle sê en sy draai glimlaggend na haar vriendin.

“Dankie, maar ek lyk nie die helfte so mooi soos jy nie, liefie. Daardie tabberd doen iets aan jou.”

Adéle lag klokhelder. ’n Sagte blos sprei oor haar wange en hals.

“Jy vlei my sommer nou.” Sy tel haar waaier en mantel op. “Ek dink die ander wag al op ons.”

Angélique huiwer ’n oomblik voordat sy agter Adéle die vertrek verlaat. Die vonkel het uit haar oë verdwyn en die opgewondenheid het uit haar hart weggekrimp toe Adéle gevra het of die markies haar sal kan herken. As die madame net nie aan hom gesê het wat sy na die bal toe dra nie! stuur sy ’n skietgebedjie op. Sy wil haarself nie met ander mans gaan vermaak nie, maar sy wil die markies vanaand probeer sien soos ’n buitestander hom sien. Sy wil met hom dans sonder dat hy weet wie sy is. Sy wil hê dat hy teenoor haar moet optree soos wat hy teenoor enige ander meisie optree. Dan sal sy weet of daar hoop is dat die huwelik sal slaag . . .

Annelize Morgan Omnibus 3

Подняться наверх