Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 3 - Annelize Morgan - Страница 5

Оглавление

2

Op pad na die Kasteel praat die twee meisies nie met mekaar nie. Elkeen is besig met haar eie gedagtes. Adéle staar nikssiende deur die ruitlose koetsvenster na die buitewêreld. Dit lyk asof sy onbewus van die ander persone in die koets is.

Madame Colbert en Madame Marais gesels gedemp met baie gebaartjies en glimlaggies. Elke af en toe probeer hulle monsieur Marais by die geselskap betrek, maar hy glimlag net beleefd en luister nie werklik na wat hulle so lustig sit en bespreek nie.

Angélique kyk nie na monsieur Marais nie. Sy is bang dat hy ’n gesprek met haar sal aanknoop as hy haar aandag kan trek, en op die oomblik is sy nie lus om te gesels nie. Sy wil liewer soos Adéle ingedagte by die venster sit en uitstaar en dink.

Sonder enige besondere rede onthou sy wat Adéle oor die kaptein van die Sylvanna gesê het. Waar sou die meisie die idee gekry het dat sy en don Eduardo mekaar ken? Adéle weet nie eens dat sy hom eendag op die markplein gesien het nie. Dit was net vinnig, onthou sy, maar sy het die vlugtige oomblik nie vergeet nie. Don Eduardo Santiago is nie iemand wat ’n mens maklik vergeet nie.

Sy onthou ook die meisies wat die laggende Spanjaard met openlike bewondering aangestaar het, en skielik wens sy dat sy vry was om soos hulle die lewe te kan geniet. Sy is nie van die adel nie. Ver in haar verlede was daar ’n burggraaf van Dijon, maar die betiteldes was nie in haar direkte familie nie. Sy is net ’n gewone burger van Frankryk.

Madame Colbert, dink Angélique, is wel ’n afstammeling van die adel, maar haar vader en ook haar oorlede man het geen titels gehad nie. Daarom is sy maar net ’n madame, maar haar afkoms spreek duidelik.

Die perdepote se geklap verskerp toe hulle oor die klipplaveisel van die Leerdam-bastion op pad na die hoof-ingang ry. Stormlanterns verlig die pad feestelik. Die wiele ratel en die koets hel effens oor na die een kant toe die koetsier dit met ’n vaardige swierigheid om die draai laat wieg.

Adéle skrik op uit haar mymeringe en sit regop. Haar oë glinster afwagtend toe sy die gordyntjies voor die venster wegtrek en uitloer.

“Laat sak die gordyn, Adéle,” maan haar moeder.

Sy laat die gordyn vinnig los en kyk glimlaggend na Angélique.

“Ons is hier!” fluister sy.

Eindelik kom die koets tot stilstand en word die insittendes deur ’n livreikneg uitgehelp. Die koets en koetsier verdwyn om die hoek op pad na die stalle en die volgende rytuig nader die hoofingang.

’n Oomblik lank staar Angélique, onbewus van haarself en die ander, na die dames in pragtige tabberds, swierige hooftooisels en skitterende maskers op hulle gesigte, waaiers uit Frankryk en Spanje in hulle slanke hande. Die here is deftig uitgevat in hofklere, sommiges met pruike op en ander met hulle natuurlike hare gepoeier en in die nek met ’n fluweelstrik saamgevat. Uit die weelderige valle van hulle mansjette steek die punte van fyn, duur sysakdoeke uit, elkeen in fyn stekies geborduur met die voorletters van die draer. Gespes, knope, juwele en silwer en goue borduursels skitter in die flikkerende lig van die lanterns, en die vrolike klank van sorgelose lag en sagte musiek bereik Angélique se ore.

“Kom, jong! Wat staan jy so en staar?” Adéle pluk aan Angélique se arm.

Die ander meisie skrik op uit haar betowering. “Jammer, ek was ’n bietjie ingedagte.”

Hulle rek hulle treë om by die ouer mense te kom. Angélique vroetel tussen die voue van haar tabberd totdat sy die lang, elegante steel van haar masker raakvat. Dan is sy tevrede en volg sy die res van die geselskap.

Simon van der Stel en sy skoonsuster staan by die groot deure van die balsaal om die gaste te verwelkom.

Angélique wonder hoe hy vanaand voel omdat hy nie weet wie Hugenote en wie Hollanders is nie. Dis alom-bekend dat hy die Franse wantrou en daarom het hy verhoed dat hulle ’n kolonie op hulle eie vorm. Miskien het hy gelyk gehad, dink sy vaagweg. Daar is niks wat so eievas soos ’n Fransman is nie. Hulle sou hulle beslis eenkant gehou het en so min moontlik met die res van die nedersetting hier aan die Kaap te doen gehad het, as Van der Stel dit nie betyds voorsien en verhoed het nie. Dis tog in die belang van die nedersetting dat hy dit doen. Die markies neem hom dit egter baie kwalik en beskuldig die kommandeur daarvan dat hy die Franse hulle eie kultuur misgun.

Die gedagte aan die markies bring die ongelukkigheid weer skerp in Angélique se gemoed en sy moet haarself dwing om sorgeloos en kommervry met Adéle te gesels. Hulle het skaars eenkant gaan sit of ’n lang, lenige man kom haastig na hulle aangestap. Angélique se moed sak in haar skoene. Sy ken die markies al teen hierdie tyd en sy weet dat hierdie man hy is.

“Bonsoir, ’demoiselles!” roep hy en buig diep voor hulle.

Adéle giggel onderlangs van pure plesier.

Angélique forseer ’n glimlag na haar lippe. “Bonsoir, monsieur.”

Agter die swart masker flikker sy oë en ’n glimlag speel om sy mondhoeke. Hy dink nie dat ek hom herken nie, dink sy verbaas. Dis tog net nie moontlik om sy arrogante houding mis te kyk nie.

“Sal u my vergesel in die eerste minuet, mademoiselle?” vra hy vir Angélique.

Sy kan nie anders as om die uitnodiging te aanvaar nie.

Toe sy later weer by Adéle aansluit, kyk dié met ’n vonkeling in haar bruin oë na Angélique.

“Het jy hom herken?”

“Natuurlik,” sê Angélique, skud haar waaier oop en verkoel haar warm gesig. “Jy kan hom nie miskyk nie, weet jy?”

Adéle lag. “Hy weet nie dat jy hom herken het nie, maar dis ’n goeie ding dat jy weet wie hy is. Nou kan jy jou danse só beplan dat jy hom elke keer misloop.”

“Dit sal nie moontlik wees nie, Adéle. Hier kom hy al weer.” Sy lig haar masker en staar vol misnoeë na die markies wat sy weg tussen die mense deur na hulle baan.

Madame Colbert leun oor na Angélique. “Is dit nie die markies met wie jy so pas gedans het nie, chérie?”

“Ja, madame.”

“Wees tog maar hoflik, liefling. Hy sal nie daarvan hou dat sy verloofde haar sleg gedra nie. Miskien moet ek maar erken dat ek vir hom gesê het wat jy vanaand gaan aantrek. Daarom het hy jou herken. Ek is jammer as ek verkeerd gedoen het,” sê sy dan vinnig toe sy die misnoeë op die meisie se gesig sien.

“Dis alles reg, madame.”

Die markies bereik hulle op dieselfde oomblik as wat ’n ander, forsgeboude man ’n buiging voor Angélique wil kom maak. Dis duidelik dat die markies die ander man se teenwoordigheid as voorbarig beskou en sy mond trek in ’n reguit lyn soos hy hom vererg.

Die ander man beskou die markies ’n oomblik lank met ’n geamuseerde trek om sy mond, dan keer hy sy rug op Eugéne de Vigny en gaan voort om ’n diep buiging voor Angélique te maak.

“Vergun my die eer om die volgende dans met u te dans, señorita.” Sy stem is ryk en diep, en sy oë is verberg agter die swart masker sodat sy nie kan sien of die spot nog daar is nie.

Angélique word yskoud. Wat maak die Spanjaard hier? Nou eers herken sy die litteken bokant sy linkeroog waar die masker ophou.

Hy lag sag, sy hele houding ontspanne en half minagtend teenoor die woedende markies.

“U is voorbarig, monsieur,” sis De Vigny.

Die Spanjaard draai na hom. “Ek het die volste reg om die señorita vir ’n dans te vra, señor!”

“Mademoiselle is my verloofde en niemand het ’n reg op haar nie!”

Die Spanjaard skud sy kop. “Dit is baie onpositief van u, señor. Om middernag eers haal ons ons maskers af. Miskien wou die señorita nie geweet het wie u is nie.”

Eugéne de Vigny tree vinnig vorentoe en neem ’n dreigende houding in. “U vergeet uself, monsieur! Ek is . . .

“Die markies De Touraine,” val die ander hom skerp in die rede. “En ek, señor, is don Eduardo Santiago en dis ’n titel waarop ek geregtig is!”

’n Oomblik lank is daar ’n geskokte stilte. Angélique kan die markies se bleekheid en skok nie mooi begryp nie.

“Wat gebeur?” fluister Adéle hier langs Angélique. Die ouer mense is almal op die dansvloer want die orkes het intussen weer begin speel.

“Ek weet nie,” fluister Angélique terug, “dit wil amper lyk asof hulle nie van mekaar hou nie.”

Eugéne de Vigny bal sy vuiste dat sy kneukels wit wys.

“Ek laat nie toe dat ’n seerot my beledig nie, monsieur!” sis hy bewend van woede. “Ek verkies die swaard. Noem die plek en die tyd!”

Santiago lyk asof hy die markies nie ernstig opneem nie. “Die markplein, señor, en die tyd? Wel, elfuur in die oggend is seker so goed as enige ander tyd, of hoe?”

“Die markplein!” roep Angélique uit. “Maar dis dan in die openbaar!”

“Jou growwe seemansgrappe is in swak smaak, monsieur!” Die markies se mondhoeke krul minagtend.

Die Spaanse edelman haal sy skouers nonchalant op. “Ek het my tyd en plek genoem en ek hou daarby.”

’n Oomblik lank lyk dit asof die markies dit oorweeg om die hele geveg te laat vaar, maar dan knik hy eindelik.

“Ek aanvaar u voorstel, monsieur,” sê hy styf.

Die Spanjaard beskou hom swyend met ’n geheimsinnige glimlaggie om sy mondhoeke. Dan draai hy eindelik na Angélique.

“Hierdie dans is amper verby, señorita. Die volgende een sal ek met u kom dans.”

“Jy sal nie . . .” Die markies keer hom toe hy wil wegstap.

Santiago haal die ander man se hand ferm van sy skouer af. “Jy het genoeg vir een aand gesê, señor. Jy het jou sin gekry, ons sal veg. Dis nie nodig om jou verder aan my op te dring nie.”

Angélique sien die don se donker oë agter die masker blink. Dis nie die soort man wat ydele dreigemente maak nie. Daar is ’n trots in sy houding wat sy adellike inbors verraai en sy raak skielik daarvan bewus dat sy die don skaamteloos aanstaar. Sy kyk weg. Hy is ’n volbloed-edelman, dit kon sy selfs al met hulle eerste vlugtige ontmoeting op die markplein geraai het. Sy onversteurbare uiterlike is ’n kuns wat half ingebore en half deur toegewyde opvoeding verkry word. As sy moet raai, sou sy sê dat die don uit een van Spanje se oudste en mees gesiene families stam.

“Ek kon nie mooi volg wat gebeur nie, Angélique,” sê Adéle toe die markies skielik ’n buiging voor hulle maak, ’n verskoning mompel en toe haastig wegstap na waar Simon van der Stel in ’n gemoedelike stemming met ’n Nederlandse burger staan en gesels.

Angélique staar hom agterna voordat sy haar vriendin antwoord. “Ek weet self nie presies wat gaande is nie. Wat my egter nou bekommer, is dat Eugéne by die kommandeur wil gaan moeilikheid maak.”

Adéle skud haar kop. “Ek glo nie hy sal nie. Jy weet dat die kommandeur nie veel van hom hou nie.”

Angélique gaan op ’n stoel sit en laat haar kop in haar hande sak. Adéle kom sit bekommerd langs haar.

“Het jy gehoor toe Eugéne monsieur Santiago uitgedaag het tot ’n tweegeveg? Ek weet nie eens waaroor dit gaan nie! Toe ek maar weer hoor, is die markies die joos in en daag hy die don uit!”

“Ek hoop hulle weet self waaroor dit gaan,” sê Adéle lighartig.

Haar vriendin kyk vinnig op. “Jy kan grappies maak, Adéle, maar ek sit in die middel van die gemors. Ek weet nie waaroor Eugéne de Vigny moes skoorsoek nie!” Sy frons liggies en sit regop. “Hy is nou na die kommandeur toe en ek is seker daarvan hy wil hê dat don Eduardo uit die balsaal gegooi moet word. Dit gaan ’n vreeslike herrie afgee!”

“Bedaar tog! Die kommandeur sal beslis nie so iets doen nie. Hy en die kaptein van die Sylvanna is baie groot vriende. My pa het my gesê dat hulle mekaar al baie lank ken.”

Tien minute later lei Santiago vir Angélique na die dansvloer. Daar is ’n opgewonde flikkering in haar binneste toe hy sy arm om haar sit vir ’n uitspattige wals. Sy probeer nie die skielike gewaarwording in haar verklaar nie. Sy is te bang dat as sy die gevoel begin ontleed, dit haar dalk net hartseer sal bring.

Sy probeer haar bes om nie so intens bewus te wees van sy ondersoekende blik op haar nie. Sy reaksies op die markies se uitlatings netnou het haar laat vermoed dat hy ’n onvoorspelbare mens is.

“U is baie stil, señorita.” Sy ryk baritonstem bring haar met ’n ligte skok uit haar mymeringe.

“Ons het mekaar pas ontmoet, monsieur. Waaroor sal ons dan as vreemdelinge gesels?”

Hy lag sag. “Dis ’n goeie gedagte dat ons mekaar beter leer ken.”

Sy kyk verskrik na hom. “Nee! Dit mag nie! Die markies sal woedend wees!”

“Is jy dan bang vir hom?”

“Nee . . .” Haar antwoord kom huiwerend en sy weet dat sy reeds haar vrees vir die markies verraai het.

Hy skud sy kop verwonderd. “Ek sal die Franse adel seker ook nooit verstaan nie. Waarom trou ’n mooi meisie soos jy teen jou sin met die markies van Touraine? Daar is tog seker baie ander jong mans?” Hy lig sy een wenkbrou vraend terwyl hy haar half geamuseerd betrag.

’n Oomblik lank oorweeg Angélique dit om hom oor sy voorbarigheid op die vingers te tik, maar sy doen dit nie. Miskien bedoel hy dit goed.

“Sy aanbod het madame Colbert se goedkeuring weggedra, monsieur. Madame is my voog.” Sy kyk nie na hom nie, maar staar weg oor die dansende pare.

“En jy? Jý lyk nie baie gelukkig daaroor nie. Waarom het jy ingestem? Madame sou tog sekerlik nie onredelik gewees het as jy aan haar gesê het dat jy dit nie wil doen nie.”

Hierdie keer kyk Angélique vinnig op. “U is baie voorbarig, monsieur! My besluite oor die aanbod gaan u nie aan nie!”

Hy lag sag, maar daar is ’n flikkering in sy donker oë wat haar waarsku dat don Eduardo Santiago nie maklik tou opgooi nie.

Toe die dans tot ’n einde kom, neem hy haar terug na waar madame Colbert intussen op haar gewag het. Sy groet die don met die nodige hoflikheid en wend haar tot Angélique die oomblik toe die man sy rug op hulle draai.

“Hier gaan gerugte oor jou en don Santiago rond, Angélique. Die gaste beweer dat die don die markies uitgedaag het tot ’n tweegeveg.”

Angélique swyg. Sy weet dat dit veiliger sal wees om eers stil te bly en te hoor wat die madame alles van die onaangename aangeleentheid weet.

“Hulle veg oor jou,” sê die ou dame eenvoudig.

Angélique soek haastig na ’n stoel en gaan daarop sit. “Waarom moes hulle nou juis die balsaal kies vir hulle stryery?” kreun sy. “Hierdie ding gaan die einde van my beteken. Dis nie waar wat u sê nie! Die don het Eugéne persoonlik beledig, Madame! Hulle geveg het niks met mý te make nie!”

Madame se streng uitdrukking verander nie. “Wie was die man met wie jy so pas gedans het?”

Angélique maak ’n moedelose gebaar met haar hande.

“Dit was hy . . . die don.”

Madame skud haar kop stadig. “Angélique . . . ek hoop jy besef in watter penarie jy jou bevind, chérie. Ek glo jou dat die geskil miskien glad nie eens oor jou gegaan het nie, maar dit gaan geen verskil maak aan die feit dat die ander gaste glo dat die twee mans oor jóú gaan veg nie. Quelle sottise! Sulke lawwigheid! As die don die geveg wen, sal jy verplig wees om met hom te trou.”

Angélique kyk vinnig op. “Nee! Hulle veg nie oor my nie!”

“Hoe gaan jy dit aan die gaste verduidelik?”

Die meisie laat haar blik sak, maar antwoord nie. Sy ken die geheimsinnige Spanjaard nog maar skaars, maar die gedagte aan ’n huwelik met ’n wildvreemde man van ’n ander land is vir haar skielik selfs meer aanvaarbaar as ’n huwelik met die markies van Touraine. Sy weet nou dat daar geen wegkomkans meer is nie. Die uitslag van die geveg sal haar hele toekoms bepaal.

Eugéne de Vigny eis Angélique vir ’n hele paar opeenvolgende danse op. Sy kry net nie die geleentheid om van hom te ontsnap nie. Dis eers kort voor twaalfuur dat sy ’n kansie kry om by die saal uit te vlug om van hom af weg te kom. Sy maak eers doodseker dat hy haar nie volg nie en vlug haastig tussen die rye lanterns deur na die binnehof waar die waterput staan. Niemand kom agter haar aan nie en sy slaak ’n sug van verligting.

Vanaand, meer as ooit tevore, besef sy hoe ’n afkeer sy aan die markies het. Hy is aantreklik, skatryk en selfs sjarmant, maar sy besitlikheid teenoor haar maak haar paniekerig. Dit hinder haar dat hy nog nooit werklik toenadering teenoor haar probeer soek het nie. Hy wil net hê dat die huwelik tussen hulle so gou moontlik voltrek moet word.

Vanaand is dit al asof hy besluit het dat hy haar nie vir een oomblik onder sy oë sal laat uitgaan nie. Dit maak haar bang. Sy hou nie daarvan om so dopgehou te word nie en sy kan ook nie dink waarom hy dit doen nie. Elke keer as hy met sy gladde glimlag na haar aangestap kom, dan moet sy die impuls om op vlug te slaan, onderdruk. Hy versmoor haar met sy aandag. Sy weet dat die ander jong meisies haar beny, miskien juis omdat hy so ooglopend om haar draai, maar dit laat haar nie beter voel nie.

Angélique byt haar onderlip vas en frons liggies. Hy het nog nooit iets gedoen wat haar rede tot teësin gee nie. Hy was nog altyd hoflik, sjarmant, galant en alles wat ’n meisie se hart begeer sover dit ’n minnaar aangaan, maar daar is iets aan hom wat haar afskrik. Sy kan nie bepaal wat dit is nie, sy hou net nie van Eugéne de Vigny nie, al is hy hóé aantreklik. Noudat sy hom elke dag beter leer ken, groei die vrees in haar.

’n Ligte voetval op die plaveisel laat haar verskrik omkyk. Dan rek haar oë groot toe sy don Eduardo herken. Dis te laat om van hom te probeer wegkom. Hy het haar klaar raakgesien.

“Waarom is jy nie by die bal nie, señorita?” vra hy toe hy haar bereik. Hy glimlag geamuseerd. “Of het die markies met sy opdringerigheid jou dalk na buite laat vlug?”

Sy snak na haar asem. “Jy is vermetel, monsieur!”

Hy lag sorgeloos terwyl hy op die rand van die waterput gaan sit. Hy beskou haar ’n paar oomblikke in stilte.

“Miskien is ek vermetel,” sê hy eindelik, “maar dis die waarheid, of hoe?”

Die masker bedek sy gesig só dat sy nie die uitdrukking in sy oë kan sien nie.

Angélique draai weg. “Ek het niks vir jou te sê nie, monsieur. Jy is ’n skaamtelose leuenaar. Jy het die astrantheid gehad om ’n valse berig onder die gaste te versprei.” Sy draai skielik na hom en haar oë blits woedend. “Monsieur, jy weet net so goed as ek dat ék nie die rede was waarom jy en monsieur le marquis mekaar uitgedaag het nie! Waarom het jy daardie storie onder die gaste gaan versprei?”

Dis te donker om sy reaksie te sien, maar sy stilswye laat haar in onsekerheid. “U vooroordeel verbaas my, señorita,” sê hy eindelik afgemete. “Ek weet niks van die storie wat in omloop is nie. Dis die eerste wat ek daarvan hoor.”

Sy staar ongelowig na hom. “Hoe kan ek dit glo, monsieur? Jy was die enigste ander een wat van die woordewisseling geweet het.”

Hy glimlag effens. “U vergeet van señorita Adéle, dan nie?”

Sy ruk orent. “Sy sou nóóit ’n valse berig versprei nie, monsieur! Sy is bo verdenking!”

Hy haal sy skouers op. “Ek neem u woord daarvoor, señorita. Maar ek kan u ook verseker dat dit nie ék was nie.”

Sy huiwer. “Nou goed, ek glo u, monsieur. Maar dan beskuldig u indirek monsieur le marquis daarvan.”

Hy swyg ’n paar sekondes lank voordat hy haar antwoord. “Die markies, señorita, het ’n baie goeie rede waarom hy so ’n storie sal versprei. Hy sou nie graag die werklike rede vir die tweegeveg wou bekend maak nie.”

Sy kyk half peinsend na hom. “Ek weet nie waaroor julle veg nie, monsieur. Waarom sou monsieur le marquis die werklike rede nie wil bekend maak nie? Hy het tog niks om weg te steek nie. Hy is ’n onbesproke persoon.”

“Dis goed as u nie presies weet waaroor dit gaan nie, señorita. Dis beter so.” Hy kyk na haar, maar die masker verberg sy gesig. “Maar u kan gerus voel, u was nie die rede waarom De Vigny my uitgedaag het nie. Maar ek sou nie omgegee het as u wél die rede was vir ons tweegeveg nie.” Hy lag toe sy verontwaardig na hom kyk. “Miskien sal ek eendag die eer hê om om u hand te veg, señorita. Wie weet, miskien gebeur dit nog gou . . .”

“Gouer as wat jy miskien dink, Eduardo!” Die stem klap kil deur die nag om hulle.

Angélique ruk om.

Santiago draai lui na die spreker. “A, señor Markies! Ek was juis op pad om na u te gaan soek!” Hy kom stadig orent en met sy hande in sy sye gaan hy voor die ander man staan. “Moontlik kan u lig werp op iets wat die señorita klaarblyklik hinder.”

Eugéne de Vigny steek vas en kyk met onverbloemde afkeer na die Spanjaard. “U gedrag is skokkend en onhoflik, monsieur,” sê hy ysig en ignoreer die don se vraag. “U teenwoordigheid hier buite by mademoiselle De Busset is verregaande!”

Angélique kyk van die een na die ander. Hulle is min of meer van dieselfde bou en lengte. So met hulle maskers op lyk hulle besonder baie na mekaar – albei aantreklik, bewus van hulle hoë stand. Maar verwar sal sy hulle nie, dink Angélique. Don Eduardo het ’n houding van moedswillige onbeskoftheid, hoewel nie onverfynd nie, en die markies is onmiskenbaar arrogant. Die een is ysig, koud en ongenaakbaar en die ander is geheimsinnig, spottend, onpeilbaar.

“Laat ons nie nou oor dinge stry kry nie, señor,” sê Eduardo ligweg en speel oënskynlik ongeërg met die vergulde en met edelgesteentes beslaande hef van sy swaard. “Laat ons eers die een sakie afhandel. Ons kan later oor die señorita veg as u wil. Maar eers moet ons ’n ander saak besleg, of het u dalk vergeet, señor?”

“Ek weet nie wat u bedoel nie, monsieur,” sê die markies met ingehoue woede.

Santiago bekyk die arrogante edelman voor hom ’n paar oomblikke lank swyend. Dan lag hy sag.

“U vergeet gou, señor, maar ek vergeet nie.” Die glimlag verdwyn van sy lippe. “As u die buitestanders dit wil wysmaak dat ons oor die señorita veg, dan is dit u saak! Maar ék en jý weet wat die werklike rede is, señor!”

Eugéne de Vigny se gesig verstrak. “Ek verkies om die saak nie voor mademoiselle De Busset te bespreek nie!”

Die don se oë skitter agter die masker. “Die Kaap van Storms is ver van Parys, señor, maar nie ver genoeg nie.” Hy laat sy stem versag tot amper ’n fluistering toe hy vervat: “En Arles is selfs nog nader.” Dan draai hy om en stap weg.

Toe Angélique na die markies van Touraine kyk, skrik sy. Hy is grysbleek in sy gesig, sy vuiste is gebal sodat sy kneukels wit wys. Hy het sy masker afgeruk terwyl Santiago gepraat het en dit in ’n klein bondeltjie vasgedruk.

“Monsieur!” roep sy opreg bekommerd uit. “Voel u dalk siek?”

Hy kners op sy tande en sy hand bewe toe hy haar aan die arm neem om haar na die balsaal terug te lei.

Sy kan sien dat dit hom byna bomenslike inspanning kos om homself te beheers en uiterlik kalm te bly. Angélique verstaan nou nog minder van wat gaande is. Wat het Arles in Frankryk met hierdie twee mans te doen? Waarom het die markies so hewig geskrik toe die don die naam Arles so dreigend gefluister het? Wat het daardie klein vissersdorpie met die markies van Touraine te doen?

“Kom, dis tyd dat ons teruggaan, mademoiselle. Die gaste sal begin wonder wat van ons geword het.”

“Oui, monsieur.” Sy volg hom nog half verwonderd oor die eienaardige gesprek van flussies.

Terwyl hulle in stilte verder stap, onthou sy van die tweegeveg tussen De Vigny en don Eduardo. Sal die geveg nie verhoed dat die geheimsinnigheid opgeklaar word nie? Dit het vir haar duidelik geword dat Eugéne de Vigny ’n geheim het, miskien iets wat in sy verlede gebeur het waarvan don Eduardo weet. Maar wat kan dit wees? ’n Vrou dalk? Maar sy weet intuïtief dat dit nie oor ’n vrou gaan nie.

As De Vigny die don om die lewe bring, sal sy nooit weet wat die markies van Touraine se geheim is nie. Hy sal haar nooit vertel wat dit is nie . . . wat dit is wat hom bevrees genoeg gemaak het om Santiago, die beste swaardvegter in Spanje, uit te daag tot ’n tweegeveg nie.

Die kanonne van die Kasteel bulder twaalf skote die helder, koel nag in. Dit weergalm in die klowe teen die magtige hange van Tafelberg en die eggo’s weerklink verder en verder totdat dit wegsterf in die groot, donker stilte oor die binneland. Dan volg ’n paar sekondes se intense stilte totdat die naggeluide weer begin, ’n kriek sy deuntjie skerp uitkerf, ’n perd iewers proes, en dan word ook die opgewonde gebabbel van die gaste in die balsaal weer gehoor.

Angélique gaan ’n oomblik staan en sy staar na die sterrehemel asof sy die vlug van die koeëls deur die sterre kan volg. En terwyl sy na die hemel staar, dink sy aan die jong, romantiese drome wat sy as jong meisietjie in Perpignon gedroom het. Toe het sy na die magtige kranse van die Pireneë gestaar en geglo dat sy eendag met ’n prins sou trou.

Sy kyk weg van die sterre en merk dat die markies haar die hele tyd dopgehou het. Sy glimlag verleë.

“Vergewe my, monsieur, as ek ingedagte geraak het.”

Hy glimlag effens, sy gesig ontspanne. “Daar is niks om te vergewe nie. Kom nou, Angélique, ons kan nie langer hier buite bly nie.” Sy stem is skielik sag, sonder ’n sweempie van die kilheid van flussies.

Daar is ’n ligte fladdering in haar hart. Hy het haar nog nooit tevore op haar voornaam genoem nie en dit klink vir haar byna vreemd. Hy is altyd so korrek, so gesteld daarop dat alles volgens etiket moet verloop.

Sy kyk half vraend na hom, nie in staat om te begryp wat dié verandering teweeg gebring het nie. Dan frons sy effens. Sal sy Eugéne de Vigny, markies van Touraine, óóit kan verstaan?

Annelize Morgan Omnibus 3

Подняться наверх