Читать книгу Alles begin met Anna - Annemari Coetser - Страница 10

Anna: ’n Slagskaap vir twaalf hoenders

Оглавление

1870–1889

Hoe bou ’n mens ’n Anna-ouma uit ’n paar droë feite? Was sy by­voor­­beeld een van daardie deftige, skerpstem-oumas wat ’n kleindogter heeltyd sou kapittel met: “Sit regop, kjênd! Jy sit aljimmers so krom soos ’n hoepel. Kyk hoe lyk jou rugstring. Gaan haal dadelik drie boeke.”

“Hoekom, Ouma?”

“Moenie jy vir my kom staan en ‘Hoekom, Ouma?’ nie. Omdat ek so sê!”

En dan forseer sy jou om met die boeke op jou kop vyftig keer van die stoof af tot by die agterdeur te loop om jou postuur te verbeter.

Of dalk was sy ’n helleveeg wat ’n groot spinnekop soos niks met die kaal hand teen die muur sou platslaan. Miskien sou sy een van daardie liewe oumas kon wees. Een in wie se oë jy niks verkeerd kan doen nie en op wie se wye skoot jy saam met jou boetie sit, haar arms om jou lyf en haar skaterlag in jou ore.

Maar wag, Anna was nooit ’n ouma nie! Onverbeel haar dadelik. Begin by die begin. Anna se begin. En om Anna se begin uit te rafel, oorweeg die enkele besonderhede wat oor haar ouers bekend is. Anna se pa, Nicolaas, se voorgeslagte kom van die plaas Grootfontein in die Middelburg-distrik, Kaapkolonie. Hy is daar gebore op 30 Augustus 1854, maar wie weet of hy in daardie mooi maar harde skaapwêreld grootgeword het?

Valerige feite moet ingekleur word. Verbeel vir Nicolaas as ’n taam­lik droë maar hardwerkende jong man wat op ’n dag besluit om ’n bruid te gaan soek. Want so alleen kan ’n man mos nie voortploeter nie. Nogal ver van Middelburg af – 128 myl – op Springfontein in die Vrystaat woon Anna Susanna Coetzee, genoem Annatjie. Dis hopeloos te kripties gestel, maar die resep is oorbekend: ontmoeting, liefde, die huwelik. Hoe en waar dit gebeur het, is nie bekend nie, en die romantiese deel (as dit inderdaad daar was) word ter syde gelaat. Hulle rol in hierdie storie is net om te sorg dat Anna gebore word. Nicolaas en sy bruid is albei net sestien.

’n Mens kan jou voorstel waaroor Springfontein se mense in daardie dae gepraat het. Want 54 myl verder, anderkant Trompsburg, lê Jagers­fontein, waar diamante ontdek is! ’n Boer van die omgewing het ’n knewel van 50 karaat op sy plaas opgetel.

Kleur die herfsgras goudgeel op die dag toe die jong egpaar met hul spaaider op pad is tussen Springfontein en Jagersfontein. Annatjie is heelpad naar, want sy is in die ander tyd. Drie keer moet hulle stilhou sodat sy in die gras langs die grondpad kan braak. Daarna leun sy doodsbleek teen Nicolaas aan. Hoe verlang sy nie reeds na haar moeder nie! Maar teen dié tyd weet sy as Nicolaas sy kop op ’n ding gesit het, is daar geen keer aan hom nie. Hy wil opsluit ook ’n delwer word wat dag en nag klippe kap om een van die blinkes te vind.

Woon die egpaar in ’n bloedige warm delwershuis van sink? Daar is so ’n toestroming van geluksoekers na die dorp dat water skaars is. Gelukkig het iemand ’n unieke pompstelsel ontwerp: op elke straat­hoek staan ’n waterpomp wat geaktiveer word as jy ’n pennie daarin druk. Waterpennies, noem die inwoners dit.

Waarskynlik is dit ’n plakkershuis waarin hulle eersteling, Hendrik Stephanus, sê maar in 1871 die eerste lewenslig aanskou. En dadelik sterf, sodat net ’n sterretjie en ’n dolk agter sy naam in die genealogiese rekord van sy kort aardse bestaan getuig.

Sien die hardwerkende Nicolaas tog eendag in die sif onmiskenbaar een van daardie groot blinkes? Want toe hulle tweede kind op 5 Julie 1873 gebore word (na alle waarskynlikheid ’n bitter koue dag), is die gesin al taamlik welvarend. Die suigeling word toebedeel met ’n lang string name: Anna Maria Hendrina Elizabeth van der Walt. Vernoem na haar ouma aan moederskant, met Hendrina daarby. Niemand weet hoekom nie; dalk het haar moeder net van die naam gehou.

Is hierdie vyf jaar in die kleine Anna se lewe dalk haar gelukkigste jare ooit? Want op die skaapplaas digby Jagersfontein, deur haar vader gekoop uit sy blink verdienste, het sy haar ouers se onverdeelde aandag. Sprankel die dogtertjie in hierdie mooi landelike omgewing met ’n moeder wat haar liefhet en ’n pa wat versot is op haar? Nicolaas stel selfs ’n goewernante aan om haar te leer lees en skryf. Moes sy die lei dwars draai en in haar mooiste skoonskrifletters haar name klein skryf om almal ingepas te kry?

Met Annatjie gaan dit goed. Ná die twee swangerskappe raak sy vir vier jaar nie swanger nie, tot Nicolaas se ontsteltenis. “Vrou, jy moet loop uitvind wat skort. Gaan sien die dokter op die dorp. En gaan praat met jou ma. Daar moet ’n rede wees.”

Annatjie is net te dankbaar vir die verposing ná twee swangerskappe so kort op mekaar. Selfs in die Sodom en Gomorra wat Jagersfontein deesdae is, word daar gereeld kerkdienste gehou en kan sy haar in die kerkdinge uitleef. Hulle sosiale lewe is bedrywig, veral toe Nicolaas ’n aandeel bekom in een van die dorp se hotelle. Soms woon hulle skemerkelke in die hotel by, waar Nicolaas in sy donker pak die vrouens se oë vang. Laat hulle maar kyk, Annatjie weet hy is nie ’n man met ’n dwalende oog nie. Wat hy wel is, is ’n vernuftige sakeman en ’n goeie eggenoot. Dis heerlik om digby ’n dorp te bly wat uit sy nate bars en waar daar altyd ’n bruising van opwinding is, net om dan weer op die plaas die stilte te kan indrink. Die lewe is goed.

“Ek het ’n baie bevoorregte jeug gehad,” sou Anna later vir haar toekomstige man sê. En met ’n wrang glimlag byvoeg: “Tot ek byna vyf was.”

Want sewe jaar ná hul eersgeborene se dood verskyn daar in Nicolaas se Statebybel waar hy die familieregister byhou weer ’n dolk agter iemand se naam. Sy vrou. Anna Susanna van der Walt † Jagersfontein, Oranje-Vrystaat. Kleur hierdie datum swart in: 24.6.1878. Annatjie sterf ’n dag ná die geboorte van haar derde kind, Gert Abraham.

Het ’n donker droefheid daardie dag in Anna nesgeskop? Dalk het niemand verduidelik dat haar moeder se dood nie háár skuld was nie, en ook nie die pasgebore Gertjie s’n nie. Vir seker was daar ’n kommosie in die huis. Bure, vriende en Nicolaas se sakekennisse kom simpatiseer.

Nicolaas tel sy dogtertjie op sy skoot. Sy kyk verwonderd hoe trane oor sy wange loop en strek ’n handjie uit om dit af te vee. Die goewer­nante word geroep om haar te kom wegneem.

“Laat haar haar moeder groet.” Nicolaas beduie met sy kop na die kis wat in die donker gang op twee stoele staan.

“Jy moet jou moeder soen,” sê die juffrou. “Jy gaan haar nooit weer sien nie.”

Nooit is ’n baie lang tyd as jy net vyf is. Anna staan op haar tone, maar kom nie by nie. Die juffrou lig haar op en sy druk haar lippe teen die koue wang. Sy vergeet nooit die laaste keer wat sy haar moeder gesien het nie, en hoe koud en dood sy was.

Daar is genoeg hulp op die plaas; liefderike swart hande versorg klein Gertjie.

“Vader, ek sal altyd na hom omsien,” belowe Anna haar pa, en haar swart ogies straal van liefde en trots vir haar boetie.

Wanneer Nicolaas saans tuiskom, is daar nie meer ’n warrelwind van ’n swartkopdogtertjie wat hom stormloop en aan sy bene vasklou nie. Hy mis dit. Ook haar uitbundige gelag wanneer hy haar aan haar arms in die rondte swaai. “Vader, kom ons dans!” en dan staan sy met haar fyn oprygsteweltjies op sy nommertwaalfs en hulle wals oor die sitkamervloer terwyl hy ’n wysie neurie.

Toemaar, hy weet waar in die huis hy haar sal kry. Sy is nooit ver weg van Gertjie nie.

“Kyk hoe sterk is hy, Vader,” en sy laat die baba sy klein vuisie om haar vinger vou. “Die stoute klein mannetjie!” kraai sy wanneer hy woes in die waskom skop dat die badkamervloer onder water is.

Sowat 30 myl van Nicolaas af woon Hester en Hendrik Coetzee, Ma Annatjie se geliefde broer. Nie lank ná haar dood nie sterf ook hulle eie tweeling kort ná geboorte. Die twee seuntjies was net te swak om die uitgerekte kraamtyd te oorleef. Twee dolke deur die ouerharte.

Twee maande later, te midde van haar eie hartseer, bied Hester aan om Nicolaas te gaan bystaan met die versorging van die moederlose Gertjie. Sy verloor onmiddellik haar hart op die babaseuntjie. Ná ’n week hou sy en Hendrik kamerparlement.

“My man, kan ons nie maar vir Nicolaas sê ons sal Gertjie as ons eie aanneem nie? Dan maak ons hom as ’n Coetzeetjie groot. Nicolaas het in elk geval nie veel erg aan die kindjie nie.”

“Ek weet darem nie, vrou. ’n Pa bly ’n pa. Hy’s miskien nou net onbeholpe, maar later sal hy wel …”

“Asseblief, Hendrik?”

“Sal dit regverdig wees teenoor ons eie kinders?”

“Sê nou ons word nie weer met ’n kindjie geseën nie?” Hester is betraand. “Dis nie … Gertjie sal nie die tweeling se plek inneem nie, maar my dae is leeg sonder hulle.”

“Wat dan van Anna?”

“Ek weet, dit pla my ook. Anna is baie lief vir hom. Maar sy’s nog klein, my man. Die oomblik wanneer Gertjie weg is, sal sy hom ver­geet.”

Vir Nicolaas is hulle voorstel ’n verrassing, maar heimlik ook ’n verligting. Hulle sit en praat die aand toe Anna slaap lank daaroor. Nooit moet dit agterna gesê kan word dat Gertjie sonder ernstige besinning na familie aangegee is nie.

“Ek weet as ek instem, kry Gertjie liefdevolle ouers, maar …” Nicolaas sluk.

Hester staan op en gaan sit langs hom. Sy sit haar hand op syne. “Swaer, ons sal hom grootmaak asof hy ons eie is. Hendrik en ek het daardie kindjie klaar lief, nè, Hennie?”

Toe haar man knik, sê sy: “Ons sal hom altyd goed versorg, ek belowe. Miskien kan ons hom nog laat leer.”

“Ja, swaer,” sê Hendrik. “Ons sal hom al die geleenthede gee wat ons ons eie kinders bied. Ons mag miskien nie baie geld hê nie, maar aan liefde sal dit hom nooit ontbreek nie.”

“Nou ja, dan is dit maar reg.” Nicolaas sug. “Maar ek wil hê hy moet sy van behou wanneer julle hom aanneem. Hy moet ’n Van der Walt bly. Ek weet nie wat Anna daarvan sal sê nie, maar …” Hy sit kop vooroor. “Ek sal vir aia Sina sê om sy goedjies te pak.”

Só val die kaarte vir al drie partye reg, asof deur ’n Hoër Hand beplan. Maar ’n vyfjarige dogtertjie huil haarself elke aand aan die slaap.

“Ons gaan Gertjie nog dikwels sien,” belowe haar pa, maar kom nie sover om te gaan kuier nie.

Anna treur só dat sy later haar skoolwerk begin verwaarloos. Nicolaas raas en praat mooi, maar sy bly ontroosbaar. Selfs ’n paar rapse help nie.

Hy het gou ander dinge op die brein. Die lieflike Tjaartina Olivier is een daarvan.

“Vader gaan weer trou,” kondig hy ses maande ná Annatjie se dood aan. “Jy gaan weer ’n moeder hê, Anna. Is dit nou nie goeie nuus nie? En miskien is daar later nog broers en susters vir jou.”

“Hulle is nie Gertjie nie.”

Anna bly dwalend, die swierige bruilof en nuwe moeder ten spyt.

“Wat is dit tog met die kind?” vra Tjaartina oplaas ergerlik. Sy is swanger en die hitte maak haar gedaan.

Nicolaas haal sy skouers op. “Ek dink sy verlang nog na Gertjie.”

“Nou vat haar in hemelsnaam na die mense toe en kry klaar. Haar lip is so lank dat sy dit nog gaan raaktrap. Maar, Nicolaas, dit moenie ’n gereelde ding raak nie. So ’n rondflentery by jou vorige skoonfa­milie is onbetaamlik. En bowendien, jy bederf vir Anna. Sy’s al heeltemal te groot vir haar skoene.”

Anna is in die sewende hemel toe sy Gertjie weer sien. Hy is die beste, mooiste boetie wat ’n mens kan droom om te hê! Hy herken haar nog, daarvan is sy seker, want kyk net die wakker ogies en breë glimlag toe hy haar sien. Hoe kon haar vader hom weggee? Van al die mense op die hele aardbol deel nét hulle twee dieselfde bloed.

’n Paar keer gaan kuier Nicolaas en Anna nog vir Gertjie, maar dis moeilik om ongesiens weg te glip. Tjaartina is so vrugbaar dat sy pal in die ander tyd is of ’n nuwe baba soog, en dan het sy Anna se hulp nodig.

Lang tye gaan verby sonder dat hulle by die Coetzees uitkom. Hester en Hendrik bly ook maar weg van Nicolaas se kwaai nuwe vrou af. Toe Gertjie ses word, pleit die elfjarige Anna weer by haar pa dat hulle tog vir Gertjie moet gaan kuier.

Die twee kinders wat mekaar vasgryp, die trane wanneer Nicolaas moet ry, ontstig hom elke keer.

Op pad terug vra Anna uit die bloute: “Dink Vader Gertjie was ’n goeie ruiling?”

“Hoe bedoel jy nou, my kind?”

“Soos Vader soms ’n slagskaap ruil vir tien pond wors of twaalf hoenders, sodat ons ’n verandering van spyse kan hê?”

Nicolaas se aandag is nie by haar vraag nie. Sy is dit al gewoond.

“Ek wonder net … was dit darem vir oom Hendrik en tant Hester ’n goeie ruiling? ’n Lewendige Gertjie vir ’n dooie tweeling?”

Dít het hy gehoor. Maar hy antwoord nie, staan net op en lê die karwats in oor die karperde se rûe.

Anna sien haar boetie nooit weer nie. Nicolaas weier om haar soontoe te neem en maak nooit weer met sy seun kontak nie. Twee jaar later trek die Coetzees na die Wes-Transvaal, vir alle praktiese doel­eindes vir Anna so ver en onbereikbaar soos die maan.


Anna met van haar halfbroers en -susters

Die Here neem en die Here gee – of in omgekeerde volgorde. Nicolaas het allengs elf kinders by Tjaartina. (Net soveel kinders as wat sy verlore seun, Gertjie, uiteindelik op Sannies­hof sou hê.)

Net een foto van Anna het behoue gebly. Sy was sestien jaar oud. ’n Hele norring kinders staan sedig langs haar – vyf van haar halfboeties en -sussies. Haar taak is om hulle die Trap der Jeugd te leer sodat hulle kan lees en skryf. Sy moet ook sorg dat hulle hul boere­matriek slaag, naamlik om te katkiseer in die kerk.

Alles begin met Anna

Подняться наверх