Читать книгу Alles begin met Anna - Annemari Coetser - Страница 8

Anna Nienaber se begin

Оглавление

5 Julie 1873

Anna is die vrou wat so belangrik is dat alles in hierdie verhaal by haar begin. Soms moet ’n mens egter eers die paar feite wat jy het op die tafel lê voordat jy met die storie wegval. Hoe het haar lewenspad geloop tot hier by haar laaste rusplek?

Dié is nie sigbaar vanaf Memoriamweg in Bloemfontein nie. Maar die ogiesdraadheining blink in die son, en in die skadu van hoë denne­bome lê rye grafstene, krom en skeef deur die tyd verweer. Die lug is ’n diep blou met lang repe skaapwolletjies daarteen gestreep.

Nr. 608, Blok Q, Memoriam Begraafplaas. Dis haar laaste aardse adres. Anna Maria Hendrina Elizabeth Nienaber, so het sy geheet. Gebore Van der Walt, op 5 Julie 1873. Voorheen die weduwee Steenkamp. Later die weduwee Nienaber. Sterfdatum 27 September 1932. Dis sý, Anna. Bly te kenne, sou sy gesê het, en met daardie priemende blik van haar probeer vasstel het waar sy aan of af is met jou.

Ses voet bokant haar beendere is net ’n dakkie van kweekgras. Geen grafsteen nie. Sy lê neffens ’n grondpad wat deur die verskillende seksies van die begraafplaas kronkel. Weerskante van hierdie pad is ’n dennelaning waar die wind sag en vredig deur die dennenaalde ruis, soos dit die wind in ’n kerkhof betaam.

Om meer presies te wees, sy is twee grafte links van Martha van Vuuren, maar dit sal bra moeilik wees om Martha te kry, want haar graf het ook nie ’n steen nie. Gee jy vier groot spronge van Anna se bêreplek na regs, land jy op ’n porsie kweek langs die skewe grafsteen van Francina Bredenkamp, ’n dogter wat op vyftienjarige ouderdom gesterf het. Interessant nogal, dié Bredenkamp-buurvroutjie van Anna, maar dit word wel later duidelik. Digby hou ’n stokou peperboom wyd­arm wag oor hierdie paar grafte.

Die name van mnr. en mev. De Villiers aan Anna se linkerkant is op hulle grafsteen te lees. Dié twee is vir altyd in die dood verenig. Nie soos Anna en Jan, Poppie se pa, wat byna 140 myl weg van mekaar rus nie. Langs elke De Villiers waak die beeld van ’n engel. ’n Mens sou hoop dat hulle terselfdertyd ’n wakende oog oor Anna se graf sou hou, maar skynbaar nie, want die potysternommer aan haar voeten­ent makeer.

By ’n klompie grafte rondom Anna dien groot klippe pleks van graf­stene as merkers. As sy kon weet dat sy sonder grafsteenkopkussing of klippieskwilt gebêre is, sou sy haar kinders daaroor verkwalik? In die lewe was sy nie juis daar vir hulle nie. Poppie, haar jongste, onthou net trane en ellende.

Anna sou waarskynlik nie verwag het dat haar lewe geboekstaaf sou word nie, hartseer soos dit begin en geëindig het. Moontlik het sy geen behoefte gehad om soos ’n vlieg haar merk te maak deur ’n miskolletjie teen Vader Tyd se muur te tjorts nie.

Dis haar nageslag wat wonder: Wie was hierdie weggeraapte ma, hierdie immer verbeelde ouma werklik?

Alles begin met Anna

Подняться наверх