Читать книгу Alles begin met Anna - Annemari Coetser - Страница 16

Anna: Laatste se veldslae

Оглавление

1899–1900

Dit lyk of oorlog onafwendbaar is. Al hoe meer Britse troepe begin op die grense van die twee Boererepublieke saamtrek. Gaan die ultimatum aan Groot-Brittanje – dat hulle hul troepe binne 48 uur moet onttrek – werk?

Die burgers is reeds op pad na die westelike front; alle mans tussen die ouderdomme van sestien en sestig is krygspligtig. Ook Grootpan se mans staan op vertrek, bandelier oor die skouer, mauser op die saal­boom. Die saalsakke is styf gepak met beskuit, biltong en droëwors.

Laatste se ou blouskimmel, Pronk, is in ’n goeie kondisie. Sy handperd is gelaai met die nodige kookpotte en ander benodighede. Die oggend in hulle kamer het hy Anna styf vasgehou. “Ek gaan na jou en Wimpie verlang, maar ek jeuk om te gaan Kakies skiet.”

Nou is almal gereed, ook die swart mense wat die mans se agter­ryers gaan wees, wat die perde sal versorg en help kook. Haar skoonsusters huil openlik, maar Anna hou haar sterk.

Vir oulaas kom omhels Laatste haar en Wimpie, dan spring hy op sy perd. Die mans gooi hulle hoede in die lug en juig. “Avontuur!” skree Carolus en kap sy hakke in sy perd se lieste.

Hoe braaf sy haar ook al voordoen, vee sy stilweg trane af. Sal Laatste ooit regkom? Hy is nie ’n man wat die veld ken nie, al het hy op ’n plaas grootgeword. En hy kan nogal poubors maak, is altyd so goed versorg. Sy baard moet netjies geknip wees en sy hande is altyd skoon.

Met die mans op kommando moet die drie jonger vroue en Moeder Hannie die boerdery aan die gang hou. Gelukkig weet outa Klaas wat op die plaas gedoen moet word, en hy leer gou sy opgeskote kleinseun, Windvoël, om te skeer en die skape te dous. Anna en Rina sit hand by om die paar koeie te melk.

“Kyk hoe lyk jou hande, my kind,” raas Moeder Hannie een aand met Anna. “Jy verniel jouself. Smeer tog gereeld kamfersalf aan. Ek is so jammer dat julle dogters nou vir al die harde werk moet instaan, maar wat kan ons doen?”

“Maar ek geniet dit, Moeder.” Anna sit die emmer melk op die skoon­geskropte kombuistafel neer. “Moet asseblief nie aanstoot neem nie, maar die borduurwerk en ander treuselwerkies was vir my dikwels net iets om my hande mee besig te hou en die tyd om te kry.”

Dis nie ’n leuen nie. Sy was van kleins af harde werk gewoond. Vir die eerste keer in jare voel sy weer van nut.

Moeder Hannie is die gom wat hulle bymekaar hou. Sy weet baie van die boerdery af, want ná Vader Willem se dood het sy die leisels oorgeneem. Tog haper iets. Anna weet nie of dit die harde werk of bekommernis oor hul mans op die slagveld is nie, maar sy en die twee skoonsusters is deesdae gereeld troewelrig met mekaar. Van die vrolike samesang saans om die musiekie is daar geen sprake meer nie.

Dis laterig in Februarie 1900 toe sy eendag iemand van die pad af na die werf aangestrompel sien kom. Die mens lyk soos ’n voël­verskrikker, die ene toiings. Sy staan voor die kombuisvenster en botter was. Toe sy fyn kyk, sien sy – dis dan Laatste. Liewe Vader! Wat is fout met hom? Sy druk die werwel van die onderdeur oop en hardloop.

Hy sien haar aankom en gaan staan, maar struikel-val dan ’n paar treë vorentoe. Sy vang hom net voor hy val. Hy is doodsbleek en daar is vuil verbande om sy bobeen.

Net een harde skreeu laat Moeder Hannie ook uitkom. “My kind!” roep sy.

Laatste se susters is nou ook by. Saam dra hulle hom die huis in. Moeder Hannie beveel: “Dra hom na die agterkamer langs die kombuis, hy kan nie nou verder sukkel nie.”

Hulle lê hom versigtig op die bed neer.

Moeder Hannie sit haar hand op sy voorkop. “Hy’s vuurwarm van die koors! Anna, stuur vir Mieta om langs die ouland te gaan kal­koen­bos pluk dat ons dit kan trek. Ons moet hom ’n treksel injaag vir die koors.”

Dis ’n klein wondjie aan Laatste se bobeen, soos dié van ’n mauser­patroon. Dit lyk sleg, maar is gelukkig nog nie septies nie. Hulle maak dit skoon en draai ’n verband om.

“Het jy vir Carolus gesien?” vra Rina. “Is hy nog gesond?”

“En vir Jimmy?” vra Margriet angstig.

“Ja, hulle is beide nog gesond,” sug Laatste. Sy baard is lank, sy oë sit diep in hul kasse. “Almal is maar moeg van sit en wag, maar dit gaan oor die algemeen goed.”

“Laatste is uitgeput,” sê Anna en trek sy laarse uit. “Kom ons los hom dat hy kan uitrus, dan kan hy later die nuus vertel.”

“Lê by hom.” Moeder Hannie por vir Anna in die sy. “Ek sal Wimpie besig hou.”

Anna strek haar agter haar man uit en sit haar arm om sy lyf. Wie weet watter ontberings hy moes deurmaak. Hoe dankbaar is sy tog nie om hom tuis te hê nie! Sy sal hom mooi oppas, voer met vars groente uit die tuin, hom pamperlang.

Dié aand, met nog ’n kalkoenbos-treksel in die maag en ’n pappie daarvan op sy wond, voel Laatste vir die eerste keer sterk genoeg om regop in die bed te sit. Die vier vroue sit op kombuisstoele in ’n kring om hom terwyl hy vertel van die vier veldslae wat hy beleef het: Belmont, Graspan, Twee Riviere en toe die grote, Magersfontein in Desember 1899.

“Generaal Piet Cronjé het by Magersfontein die bevel gevoer. De la Rey sien dat Cronjé se plan nie gaan werk nie. Die Britse grofgeskut gaan ons manne uitmekaarskiet op Magersfontein se koppies – ’n te maklike teiken. Maar nee, Cronjé het die senior rang. Dit kos sowaar intervensie van president Steyn, maar eindelik word De la Rey se voorstel aanvaar om slote vóór en parallel aan die heuwels te grawe. Intussen kom die Engelse in hulle derduisende by hulle kamp in Modderrivier aan. Ek meen daar was vyftienduisend van hulle, met meer as dertig kanonne. Dit teenoor ons ongeveer agtduisend man, met tien kanonne.”

“My kind …” Moeder Hannie sit hand voor die mond.

“Alles is opgestel vir ’n groot geveg,” vertel Laatste verder. “Die bur­gers wag in ’n ses myl lange loopgraaf, wydsbeen oor die treinspoor. Twee rye doringdraad, digte struike, lae klipmure en grondwalle op die gevegsterrein moet ons help. Methuen se verkenners kry dit hot­agter. Hulle dink die Boere lê op die kruin van die ry koppies, maar dis skerpskutters wat hulle peper.

“Methuen wou die ou patroon volg van deur die nag nader marsjeer, ontplooi en wag tot eerste lig om die koppie te bestorm. Generaal-­majoor Wauchope is die aanvoerder. Op 10 Desember, so halfpad deur die middag, begin daar ’n ligte reëntjie uitsak. Die Britte loods hulle artillerie-aanval teen die hang van die koppie. Hulle glo hulle maak die Boere skytbang – jammer, Moeder – met die liddietbomme, want hulle dink dit val vlak voor die Boere wat op die rante ingegrawe lê. In werklikheid skiet hulle ágter ons waar ons in die sloot lê.

“Teen middernag reën dit hard. Dis onweer en pikdonker. En toe begin dit: die Engelse kom soos in ’n vierkantige blok oor die veld aan. Goeie hemel, daar was baie van hulle! Die blok is seker so 45 tree breed en omtrent 170 tree lank. Dink julleself in ons skoene in.

“Maar hulle had dit ook nie maklik nie. Daar is klipstapels en doring­struike in hulle pad en die kolomme sukkel om hulle koers te vind. Hulle het skynbaar opdrag om skouer aan skouer te loop sodat hulle nie kontak verloor nie. Dit reën baie hard, maar hulle struikel, val en strompel voort. En ons sien alles. Ons is in hulle koppe en lees hulle gedagtes.

“Teen eerste lig hou die reën op. Die Engelse is nog so 900 tree van die rante af. Om so voor ’n mens se oë te sien hoe iemand gans en al die verkeerde ding doen … Die spul beland oplaas so 500 tree links van waar hulle wou ontplooi. Jy kan sommer sien hoe buite weste hulle is.

“Toe trap ’n Tommie die alarm af wat aan die doringdraad reg voor ons in die loopgraaf hang – leë boeliebiefblikkies wat ons vroeër daar vasgemaak het. En daar lê ons, die Hoopstad-kommando, reg in die voorste linie, skaars 400 tree van die vyand af. Ek sien hoe die klomp aangestorm kom en skree vir die man langs my: ‘Dis dan vroumense!’ Ons wis toe nog niks van die Skotte wat rokke dra nie, sulke check-­skirtjies wat in die wind wapper. Ek sê julle, hulle was skrikbarend, netjiese baadjies aan en handsakke oor die blaaie.”

Laatste se skouers skud soos hy lag en almal lag saam vir die prentjie wat hy skilder.

“Toe steek ons hulle onder die blouboontjies. ’n Mauser se koeëls trek mos baie ver plat oor die aarde. Toe is daai klomp Engelse nog meer deur die wind van skrik, want toe skiet die Boere van naby af op hulle, so goed of hulle in ’n haelstorm beland het. Reeds met die eerste sarsie is generaal Wauchope doodgeskiet. Ag, en paniek breek los. Hulle brigade het pas opgebreek en is in halfformasie toe ons begin skiet. En die bevele is teenstrydig. ’n Babelse verwarring, sê ek vir julle.

“Party van die voorste ouens draai om en vlug agtertoe na ’n klompie doringstruike toe. Ander bestorm die loopgrawe waarin ons lê, en ’n paar kom selfs deur, maar terwyl hulle teen Magersfontein opklim, skiet hulle eie artillerie op hulle!

Ander word geskiet terwyl hulle nog uit die doringdraad voor die loopgrawe probeer loskom. Arme donners … skuus, Moeder, skuus, Anna. Die meeste van die Tommies wat by Magersfontein geval het, is in daardie eerste vyf minute doodgeskiet. Vreeslik, nè?”

“Nee, boet, dis nie vreeslik nie.” Rina se stem bewe. “As ek net dink wat hulle aan jou …”

“Ook weer waar,” sê Laatste. “Ewenwel, Methuen laat vuur toe al die artillerie wat hulle het, maar hulle besef nog steeds nie dat ons in die loopgraaf onder die koppie lê nie. Dit word ’n lang dag. Daar kom versterkings vir die Engelse, maar Cronjé loods ’n nuwe aanval op hulle regterflank. Só lê die Highlanders wat nog oor is die hele goddelike dag in die warm Desemberson en brand hulle wit bene kaiings. Party is so moeg dat hulle in die son aan die slaap raak. Teen die middag spring hulle op en vlug na die westekant, waar die meeste van die Britte intussen versamel het. En daar bly staan hulle veldkanonne oop en bloot, maar ons neem ook nie die kans waar en gryp die goed nie.

“Cronjé stuur toe ’n Boer met ’n wit vlag na die Scots Guards se buitepos om te sê die Britte kan maar hulle ambulanse stuur om die gewondes te kom oplaai, die Boere sal ophou skiet. Dank Vader, want teen dié tyd kon ons die gewondes se gekerm om water nie meer verduur nie. Halfses die middag, net toe die Britte dink alles is verby, begin die Boere se Krupp-kanon op Magersfonteinkop, wat heeldag stil was, op hulle losbrand. Toe is almal weer in die war. Oplaas het die Britte deur die nag teruggeval na hulle kamp by die Modderrivier.”

“En?” vra Rina.

“Dit beteken Methuen kon dit nie regkry om die beleg van Kimber­ley te gaan ophef nie,” som Anna lakonies op.

“Net so, Hartlam. En Cronjé dink Methuen moet die spoorlyn ge­bruik en sal nie wil wegbreek daarvan nie. Boonop is hy toe skielik so beïndruk met die loopgrawe, hy laat die burgers daar by Magersfontein ingrawe.”

“Nou wat was die nut van Cronjé se oorwinning nou eintlik?” vra Rina. “Was dit alles tevergeefs?”

“Die Britte is darem gestuit,” herinner Anna haar.

“Juis,” sê Laatste moeg. “Maar die ou piet-verdriet van ’n Cronjé volg nie op nie. Hy sit maar en wag daar by Magersfontein vir Methuen om iets te doen.”

“Het jy gehoor generaal Roberts het laas maand hier aangekom?” vra Rina.

“Dis hoe ek dit ook het,” beaam Laatste. “Ja, dié lord is toe in bevel. En hy gebruik die symste Highlanders om die Boere se aandag af te lei. Teen Cronjé se verwagting in verlaat hy sowaar die spoorlyn en ruk oos van Magersfontein, vlaktelangs, verby Cronjé se stellings en ontset Kimberley!”

“Dit het ons wel gehoor. Maar waar is jy toe gewond, my man?” vra Anna.

Laatste se gesig trek verontwaardig. “Daar in die kamp by Magersfontein, terwyl ons so saam met Piet Cronjé met ons duime sit en speel. Skiet ’n bliksem, een van ons eie krygers wat die nag brandwag staan, waaragtig op my toe ek loop om te gaan broek losmaak.”

Hy is nie geamuseerd toe al vier vroue uitbars van die lag nie.

Alles begin met Anna

Подняться наверх