Читать книгу Alles begin met Anna - Annemari Coetser - Страница 15

HOOFSTUK 4

Оглавление

Die ouvrou wys haar hoe

1936

Hein se werk by die magistraatskantoor bring hom in aanraking met Louis Weichardt se Gryshemde. Dié is geskoei op die lees van Adolf Hitler se Stormtroepe, verduidelik Hein een aand in die Van Zyls se voorhuis.

Lukas vra uit en dit word algaande vir Poppie duidelik dat Hein se simpatie ook by die Gryshemde lê. Hy praat met gloeiende bewonde­ring van Hitler en hoe beïndruk hy met die Nazi’s se nasionalistiese strewe is.

Dan was Sussie Anna tog reg, besef Poppie. Hein se weersin in Mr Segal het sy oorsprong in Hitler se idees oor die Jode en rassuiwer­heid. Sy kruis haar arms voor haar bors en bly eerder stil terwyl die mans verder politiek praat. Netnou begin sy en Hein voor Lukas stry, en hoe sal dit nou lyk? En sê nou Lukas stem nie met Hein saam nie, en dink daarom minder van hom?

Petronel sien seker dat sy omgekrap is, want sy knipoog vir haar en trek haar mondhoeke af om te wys dat die onderwerp haar ook nie aanstaan nie. Dit laat Poppie opstaan en vir Petronel wink om saam te kom kombuis toe. Die mans kyk nie eens op toe hulle uit die vertrek loop nie.

Hulle gaan sit by die skoongeskropte kombuistafel. “Sjoe, dis bedom­pig,” sê Petronel. “En hoor hoe rammel die onweer. Ek hoop net daar’s nie ’n baba wat besluit dis vannag die tyd om aan te kom nie.”

“Hoe het dit gebeur dat jy ’n vroedvrou geword het? Ek het altyd gedink julle is almal sulke gesette, geharde ‘ouvrouens’, moederlik en bekwaam. Tantes wat nie nonsens duld nie. Maar jy is so … fyn.”

“Dis juis op die plaas waar ek …” Petronel bly ’n oomblik stil. “Nee, om diere te help het later gekom. My moeder is oorlede ná die ge­boorte van my boetie. Kraambedkoors.” Sy sug. “Weet jy wat dit is?”

Poppie skud haar kop. “Ek het al daarvan gehoor, maar ek weet nie wat die oorsaak is nie.”

“Dis ’n akute, dodelike koors. Baie, seker amper ’n kwart van alle nuwe moeders, sterf daaraan. Die ergste is dat dit meestal vroue is wat normaal geboorte geskenk het. Ek was by my moeder toe sy ge­sterf het, sy’t my gevra om mooi na my broertjie te kyk. Haar lyding was onbeskryflik. Ek was net elf. Om haar só te sien gaan …” Sy sluk, vee oor haar oë.

Poppie sit haar hand op Petronel s’n. “Siestog, jong.”

“Ewenwel, dit het my laat besluit ek gaan eendag vrouens help. Al kan ek niks doen aan kraambedkoors nie, wil ek hulle met die geboor­te bystaan en seker maak dat hulle ook daarna versorg word.”

“En het jy toe jou boetie grootgemaak?”

“Ja, aanvanklik. Hy is ’n liewe seun. Maar my pa is ’n paar jaar later weer getroud. My stiefma is baie goed vir hom. Toe my pa hoor wat ek wil doen, het hy my aangemoedig om lamtye op die plaas te help. En as ’n koei moes kalf, was ek altyd by.” ’n Sagte glimlag verdryf die hartseer uit Petronel se gesig. “Kraam is maar kraam, het hy altyd gesê. ’n Moederdier ly net soveel as ’n mensma.”

“Jy kan darem met ’n mensma kommunikeer. Of maak dit alles juis erger – die feit dat sy kan praat?”

“Dis erger aan die een kant, maar dis ook beter. Met ’n baba voel jy magteloos omdat die kind nie kan sê waar dit pyn nie. Met ’n vrou weet jy presies wat haar emosies is. Maar dit maak dit nie makliker om die moeder te verloor nie.”

Dan het sy en Petronel dit ook in gemeen, dink Poppie, dat hulle sonder moeders moes grootword. Die Liewe Vader was goed vir haar dat sy Senekal toe kon kom. In Petronel het sy ’n wonderlike nuwe vriendin. Oudokter het net die hoogste lof vir haar en die dorpsmense steun swaar op haar. Watter tyd van die dag of nag ook al, Petronel is altyd bereid om te gaan, of sy nou moet voetslaan of fietsry.

Later, nadat Hein almal ’n goeie nagrus toegewens het, stap Poppie saam met hom buitentoe. Hy het weer met sy pa se kar kom kuier. Dis laat, en sy wil nagsê en gaan inkruip, maar Hein soebat dat hulle ’n ent moet gaan ry. Ná sulke opruiende politieke gesprekke is hy altyd meer katools. Om ’n ent te gaan ry is kodetaal vir ’n opsittery in die kar, want hy het selde geld vir petrol.

“Hierdie ding van jou en die Jode …” sê sy toe hulle in die kar klim, en sy probeer om nie aanvallend te klink nie. “Jy ken tog vir Mr Segal. Toe ek hier begin werk het, wou hy my eintlik agter die kruidenierstoonbank gehad het, maar toe ek vra of ek in die klereafdeling kan werk, het hy dadelik ingestem. Hy het ’n goeie hart. Party van die boere skuld hom baie geld, maar as hulle noodsaaklike goed moet koop, skryf hy dit maar altyd weer op die boekie. Ek het nog nooit gesien dat hy iemand in nood wegwys nie. Wat het hy jou al aangedoen?”

Hein lag, maar dit klink meer soos ’n snork. “Ai, Poepie, wie het jou aangestel as kampvegter vir die haakneuse? Julle Nienabers is dan ook Kristene, hoekom is jy so partydig vir ’n Jood? Hulle is teen God, almal weet dit.”

“Dis nie waar nie! Hulle het dan hul eie sinagoge. Hulle aanbid God net op ’n ander manier as ons, maar dit beteken nie hulle is goddeloos nie. Moenie so lelik van hulle praat nie. En moenie vir my kom staan en Poepie nie! Jy weet ek haat dit.”

“Hulle is volksvreemd, om die minste te sê.” Sy stem is bars. “ ’n Spul Kommuniste, die hele lot. Ek kan my ore nie glo dat jy so pro-Brits is nie.”

“Gaan blaas doppies, man. Ek is die laaste mens wat ’n Engelsman se agterent sal lek. My mense het in die Engelse Oorlog geveg, jy weet dit.”

“Dan behoort jy dit nog beter te begryp. Duitsland wil die beste staat in Europa en in die wêreld word. Wat is fout daarmee? Ons Afri­kaners het presies dieselfde drang, ons wil ’n Republiek word. Kan jy dit nie verstaan nie? Dis tyd dat ons onafhanklik raak van die Engelse, en met Hitler gee Duitsland ons die geleentheid om die Britse juk af te skud.”

Haar wange brand van ergernis. “Jy bedoel ons gaan Hitler se Bruin­hemde na-aap? Die jeug opsweep? Wat het Engeland in elk geval met Duitsland uit te waai? Of met die Jode?”

“Dink jy Brittanje gaan hande gevou sit en kyk wat Duitsland doen? Natuurlik nie! Hulle dink dis hulle reg om orals kolonies te stig. Hulle wil die hele wêreld inpalm.”

“Dis nie te sê dat ek aan die Engelse se kant is net omdat ek nie die Nazi’s ondersteun nie.” Sy stik amper in haar eie spoeg, so verontwaar­dig is sy. “Aan wie leen jy jou ore uit? Is jou ouers ook ten gunste van … Is hulle ook so anti-Joods?”

“My ouers het niks met die saak te doen nie. Ek dink vir myself. Die Jode sal nooit in die Suid-Afrikaanse samelewing opgeneem kan word nie. Hulle is pleinweg ’n bedreiging vir die Afrikaner.”

Poppie se mond val letterlik oop. “Mense soos Mr Segal ’n bedrei­ging? Is jy laf? Sy mense het dan in die Engelse Oorlog aan die Boere se kant geveg!”

Hein antwoord nie. Sy sit en bewe van woede.

Ná ’n lang stilte neem hy haar hand in syne. Hy vou dit oop en begin teken met sy wysvinger sirkeltjies in haar palm. “Moenie dat ons hieroor baklei nie, my mooie Poppie. Ek sê jou wat: as daar weer ’n vergadering van die Gryshemde is, kom laai ek jou op dat jy self gaan luister. Ek sal spesiaal geld spaar vir petrol.”

Sy sit nog en stoom. Hy het haar Poepie genoem. Niémand het haar al ooit so aangespreek nie, nie eens die kinders op skool nie. Sy sma­lende stemtoon, sy blerrie meerderwaardigheid gee haar die horries. As sy haar sonde nie ontsien nie, klim sy uit die kar en stuur hom reg­uit warmplek toe.

Maar sy bly sit. Dis hulle eerste ernstige woordewisseling. Was sy weer te vinnig op haar perdjie? Nee, dis Hein wat alles begin het. As iemand iets moet terugtrek, is dit hy.

Ná ’n rukkie gee sy ’n sug en haal in die donker haar skouers op. Gryshemde, Bruinhemde. Kan hulle nie maar net uitskei met die kleur­etikette, vir hulle ordentlike, modieuse hemde koop en aangaan met die lewe nie?

“Toe, wat sê jy?” vra Hein. “Sal jy saamgaan?”

Hy kyk by die syvenster uit asof haar antwoord nie belangrik is nie, maar sy ken hom al goed genoeg om te weet hy flikflooi.

“As jy wil,” sê sy sag. “Maar is daar nie beter plekke om heen te gaan as jy petrolgeld het nie?”

“So ’n bek moet jêm kry! Waar stel jy voor moet ons gaan parkeer?” Hy lag en trek haar styf teen hom vas.

Het hy haar nou doelbewus gaan staan en misverstaan? Want Hein se kop, of liewer sy hande, is op ’n ander plek. Plekke. Gevaarlike plekke. O, maar dis heerlik as sy hande so aan haar vroetel. Begeerte oorwel­dig haar. As sy nie nou oppas nie, breek hy deur al haar verskansings. Sy skuif uitasem van hom af weg. Een van hulle twee moet kophou, en dit lyk nie of dit Hein gaan wees nie.

“En nou?” vra hy verbaas. Sy antwoord nie en hy maak die syvenster effens oop. Hy lag. “Jy’s reg. Ons stoom die ruite toe.”

Hulle sit ’n rukkie in stilte, dan trek hy haar weer styf teen hom vas en vroetel met sy neus in haar nek. “Maak vir ons ’n lys van onder­werpe waaroor ons kan verskil, toe? ’n Lang, lang lys.”

Hy klim uit, kom maak die passasiersdeur vir haar oop en druk haar vir oulaas teen hom vas. Toe klim hy fluitend terug in die kar en trek so vinnig weg dat die bande klippers opskop.

Terug in haar kamer is Poppie se bene lam. Dankie tog dat Sussie Anna nie meer ’n kamer met haar deel nie. Sy sou sweerlik kon sien wat vanaand alles in die Vauxhall gebeur het. Of liewer, wat so amper gebeur het.

Poppie kan glad nie aan die slaap raak nie. Die gevoelens en begeer­tes van die aand word ’n warm geel kokon waarin sy haar wil koester. Sy wil haar daarin toespin, dit weer en weer beleef. So, dís hoe dit is om lief te hê? Sy is so ’n skaap wat hierdie dinge betref. Hoe werk dit dan dat ’n man en vrou so kan verskil? Inderwaarheid soos kat en hond kan baklei oor dinge wat hulle nie eers persoonlik raak nie, en net daarna mekaar op ’n gans ander manier wil opvreet vir die lekkerte daarvan?

Dis eers die volgende dag, in die helder werklikheid van die winkel, dat sy oor Hein se idees begin dink. Miskien stem sy tog met hom saam. In die breë, en nie so lelik soos hy dit gestel het nie. Wat maak dit saak as die Duitsers ideale het om hulle land uit te brei? Die groot moondhede doen dit almal. En Duitsland het mos as volk ook baie gely, net soos die Boere.

Maar wat sy nie kan kleinkry nie, wat iemand slimmer as sy mooi vir haar moet uitlê, is hoe die Jode in die storie inpas. Mense vertel graag allerhande staaltjies oor hoe skelm of onderduims die Jode is; sy het dit al baie gehoor. Glo Hein sulke leuens? Val hy dan ook pens en pootjies vir Hitler se ideologie van ’n suiwer Ariese ras? Dit kan tog nie!

Vandag verlang sy na ou Faan, wens sy dat sy met hom daaroor kan gesels. Hy kan dinge tog so rustig saamvat dat jy sommer klarig­heid in jou gemoed daaroor kry. Hoekom hoor sy nooit meer van hom nie?

Soos dikwels gebeur wanneer sy aan iemand dink, bel Faan dié aand. Hy klink neerslagtig. “Is iets verkeerd?” vra sy dadelik. “Is jy en jou nooientjie uitmekaar?”

“Nee, dis nie dit nie, maar … Ag, Poppie, ek weet nie wat om te doen nie. Ek is baie lief vir haar, maar sy sê … Sy wil ons verhouding verbreek as ek jou nie as vriendin laat gaan nie. Sy glo nie daar’s iets soos suiwer vriendskap tussen ’n ongetroude man en vrou nie. Sy sien jou as ’n bedreiging vir ons verhouding.”

Poppie is stomgeslaan.

“Ek kan hoor wat jy dink,” sê hy. “Jy wil vir my sê dat jaloesie ’n onding is en dat ek my nie moet laat afpers nie. Maar feit is, dis hoe sy daaroor voel en …”

“Gaan jy dit so aanvaar?” vra sy verslae.

“Ek kies haar,” sê hy sag. “Poppie, dis vir my bitter swaar om te dink dat ek jou nooit weer sal sien nie. Maar ’n mens moet ook weet wanneer iets verby is en dit laat gaan. Ek besef jy sal my nooit in ’n ander lig as ’n vriend sien nie.”

“ ’n Wonderlike, wyse vriend.” Nou huil sy. “As dinge ooit verander, sal jy weer met my kontak maak?”

“Sal Hein daarvan hou?”

“Seker nie.” Sy sug. “Hoekom is die wêreld tog so … ?”

“Totsiens, my liewe vriendin. Ek hoop jy sal baie gelukkig wees.”

“En jy, Faan,” snuif sy en sit die foon sagkens terug op die mikkie.

Laat een nag ’n week later word daar hard aan die voordeur geklop. Poppie kom verskrik orent. Die huis is stil. Niemand reageer op die klop wat al dringender raak nie. Sy steek die paraffienlamp langs haar bed aan en hou dit voor haar toe sy in die gang af kyk. Al die deure is toe. Dit kan tog net iemand wees wat Petronel se hulp nodig het?

Nou klink dit al asof die mens die voordeur wil afbreek. Sy gryp haar kamerjapon en maak die voordeur oop nog voor die bande behoorlik vasgeknoop is.

“Is Miss Petronel hier? Sy moet dadelik kom, my vrou gaan dood!”

Die man wat voor die deur staan, het haastig aangetrek; sy een kruis­band is nie eens behoorlik oor sy skouer nie. Hy het skoene aan, maar sonder sokkies.

“Die baba kom,” sê hy dringend. “Oudokter is nie … Daar’s niemand tuis nie.”

“Ek gaan roep haar gou,” sê Poppie. “Kom solank in.”

“Nee, ek wag hier.”

Sy trek die deur agter haar toe, klop liggies aan Petronel se deur en stoot dit oop. Dié lê vas aan die slaap, ’n kussing oor haar kop.

Poppie skud haar aan die skouer. “Kom, iemand soek jou. Die man sê sy vrou gaan dood.”

Petronel sit regop. “Nie vanaand nie,” mor sy deur ’n toe neus. “Ag Vader tog, ek het so ’n verkoue.”

Poppie het reeds klere van die stoel se rugleuning afgehaal. “Toe, trek gou aan.”

“Jy weet nie wat jy van my vra nie.” Maar Petronel staan tog op en gooi die rok oor haar kop. Sy haal ’n bruin jersie uit haar hangkas. “Sal jy saamkom?”

“Ek?” vra Poppie verbaas. “Jy weet mos ek weet niks. Ek’s ’n winkelklerk.”

Daar is weer ’n harde klop aan die voordeur. “Miss Petronel!” roep die man.

“Ek kom!” roep sy terug. “Asseblief, Poppie. Ek sien nie vanaand kans om alleen te gaan nie. Oudokter is nie hier nie en as daar pro­bleme kom, is dit net ek. Ek smeek jou.”

“Goed dan,” gee Poppie bes. “Ek trek ook net gou aan.”

Toe sy die flitslig uit die laai voor haar bed haal, kriewel skoenlappers in haar maag. Wat het haar besiel!

Die man draf met die klipperige grondstraat voor hulle uit. Gelukkig kan hulle goed genoeg sien in die lig van die volmaan. Petronel klem haar birthing bag styf vas.

Die man wag by die oop voordeur toe hulle daar aankom. “My vrou is baie swak,” sê hy. “Ek het klaar kookwater reg. Wat het Miss nog nodig?”

“Handdoeke,” sê Petronel. “Bring ’n skottel met kookwater. Gooi koue water in die lampetbeker. En ek het baie lig nodig. Poppie, bring jou toorts.”

Die vrou is ’n klein, bleek bondeltjie in die bed. Dit lyk asof sy reeds dood is, maar die volgende oomblik laat ’n sametrekking haar liggaam opkrul en sy bulk soos ’n bees.

“Lig hier, gou!” Petronel het die komberse reeds oop en die lakens af. Sy lig die vrou se bene op en dwing haar knieë oop. “Die baba kroon al, ons is net betyds.”

Die kraamtoneel in die swak verligte kamer met net ’n lendelam ledekant en ’n paraffienkis vir pakplek speel soos in ’n rolprent voor Poppie af. Sy self is ’n onbelangrike byspeler, terwyl Petronel die ster is. Haar hande werk sekuur en vinnig; sy weet presies wat om te doen. Maar die hoofrol word vertolk deur die moeder. Sy lê in die middel van die bed en sagte kermgeluide ontsnap uit haar mond. Is sy reeds te swak om iets meer uit te kry? In die deuropening van die eenvou­dige kamer huiwer die man.

Petronel roep skielik uit: “O, Heiland, sy’s te klein!” Voor Poppie se geskokte oë gryp sy ’n skalpel uit haar sak om ’n insnyding te maak.

Oomblikke later verskyn die swart koppie en kort daarna glip die bebloede babatjie uit. Petronel hou die kindjie stewig aan die voete vas. Dis ’n dogtertjie, ’n skoppende, skreeuende, pers wesentjie.

“Hier’s ons nuwe siel,” sê Petronel en hou die baba na Poppie uit. “Draai haar saggies in ’n handdoek toe en lê haar op haar ma se bors neer. Ek bind net gou die naelstring af.”

Poppie kan haar oë nie van die kind in haar arms wegskeur nie. Dis die mooiste dingetjie wat sy nog ooit gesien het. Haar hele wese reik uit na die mensie in haar arms. Sy wil huil oor wat nog alles vir hier­die kleinding op aarde wag, al die vreugde en teëspoed.

Sy lê die baba op haar ma se bors neer. Suiwer moederliefde straal uit die moeë vrou se oë. Dan is dit tog al die pyn en bloed werd, dink Poppie, as ’n vrou met so ’n kosbare lewetjie beloon word?

“Nog handdoeke!” sê Petronel.

Poppie gee dit aan en Petronel druk dit onder die vrou in. Sy sit haar hand op die vrou se buik en druk saggies totdat die nageboorte uitkom en sy dit behendig in ’n skottel opvang. Eindelik kom sy regop, haar hand teen haar rug gedruk. “My rug is morsaf. Maar ek dink sy sal dit maak.”

Dit lyk asof sy vir die eerste keer bewus raak van die vader. Sy draai om en roep: “Kom in, Mister! Moenie net daar by die deur staan nie.”

Poppie lig met haar flits na sy kant toe. Hy klou doodsbleek aan die deurkosyn vas asof hy dit moet regop hou en sy skouers ruk. Sy kry hom so jammer dat sy na hom toe loop en haar arm om sy skouers sit. “Kom verwelkom jou dogter. Het jy al ooit iets gesien wat so perfek is?”

Die man val op sy knieë langs die bed neer. “Ek het gedink ek gaan jou verloor,” sê hy gesmoord vir sy vrou, sy kop teen haar bors ge­druk. “As jy … Jy weet ek kan nie sonder jou nie.”

Sy sit haar hand teen sy wang. “Kyk hoe lyk ons baba,” sê sy sag en trek die handdoek weg van die verkreukelde gesiggie.

Poppie staar na die drie so saam in die kol lig wat die lamp op die bed gooi. Dís waaroor dit eintlik gaan, dink sy. Dis wat sy ook eendag, as die Here wil, gaan beleef. En een ding weet sy: sy sal hierdie aand nooit vergeet nie.

Sy help Petronel om op te ruim, die bed skoon oor te trek en die baba te was en te versorg. Toe die kindjie weer teen haar moeder se bors lê, soek die mondjie en begin sy eindelik tevrede suig.

“Daarsy, Mr Naudé,” sê Petronel, “alles is reg. As jou vrou pyn het, gee vir haar van hierdie pille. Oudokter behoort weer m­ôre terug te wees. As Mister oor enigiets bekommerd is, kom roep vir my of vir Oudokter. En baie geluk met die dogtertjie. Dit was vannag die Here se wil dat sy moes leef.”

Hy sê nie ’n woord nie, maar die manier waarop hy Petronel se hand druk, is oorgenoeg bewys van sy dankbaarheid. Van betaling is daar skynbaar geen sprake nie.

Terwyl hulle terugstap losieshuis toe, babbel Poppie aanmekaar oor alles wat gebeur het. “Jy’s ’n goeie vroedvrou,” sê sy vir Petronel. “Ek het nie gedink die vrou gaan dit maak nie.”

Hulle bereik die voordeur en sy stoot dit oop. “Wat het van jou ver­koue geword?” vra sy oor haar skouer. “Jy’t nie een keer gesnuif nie.”

’n Geskuifel agter haar laat haar omdraai, net betyds om Petronel te vang toe sy inmekaarsak.

“Lukas! Corrie! Kom help,” skree sy benoud.

Hulle is gou by, Lukas in ’n kort nagrok met ’n mus op sy kop en Corrie in ’n verkreukelde flennienagrok met ’n ewe gekreukelde gesig.

“Jy kan maar gaan,” sê Corrie vir Lukas toe hulle Petronel in die bed het. “Ek help gou vir Poppie om haar uitgetrek te kry.”

Petronel kreun en haar oë gaan oop. “Wat het gebeur?”

“Jy’t uitgepass,” sê Corrie.

Hulle trek vir Petronel skoon nagklere aan. Toe Corrie teruggaan kamer toe, voel Poppie aan Petronel se voorkop. Sy is vuurwarm. Dit was seker die verkeerdste ding om haar in die naglug uit die bed te dwing, maar as dit nie vir haar was nie, het die ma en haar baba sweer­lik vannag gesterf.

Poppie gooi water in die waskom en begin haar vriendin met ’n nat waslap afspons. Sy krap in die birthing bag rond totdat sy pille kry wat gemerk is vir koors, en hou Petronel regop dat sy dit kan sluk.

Nog vir lank hou sy aan om die waslap koud te maak en op Petronel se kop te lê totdat die lap weer warm is. Sy skuif die meisie se nagrok op en spons haar lyf af, vryf met die waslap oor haar arms en help haar selfs een maal om die kamerpot te gebruik.

Geleidelik begin die koors bedaar. Oplaas trek sy vir Petronel ’n droë nagrok aan en gooi haar toe met komberse. Sy gaan haal ’n deken in haar kamer en bring die res van die nag op die stoel langs Petronel se bed deur.

Sy is wawyd wakker, want sy het lanklaas soveel emosie in so ’n kort tydjie beleef. Die bevrediging dat sy kon help om ’n nuwe mensie in die lewe te bring, die feit dat sy geweet het hoe om teenoor die pa op te tree. Om te dink dat sy nie vreesbevange weggehol het van die geboorte nie! En ook dat sy geweet het hoe om Petronel se koors af te bring.

“Baie dankie vir jou hulp,” sê Petronel die volgende oggend toe sy wakker word. “Ek voel baie beter, maar vandag bly ek in die bed. Wat van jou? Sal Mr Segal jou die dag afgee?”

“Nee wat, ek het genoeg geslaap. Ek moet net gou gaan was.”

Petronel druk Poppie se hand. “Jy het ’n natuurlike aanleg, weet jy dit? Jy het kop gehou met my, en ons het laas nag twee lewens gered.”

“My plesier.”

Poppie trek die deur agter haar toe en bly ’n oomblik in die gang staan. Sy het lus en huppel die paar treë tot by haar kamerdeur. Wanneer laas het sy so gelukkig gevoel?

Alles begin met Anna

Подняться наверх