Читать книгу Alles begin met Anna - Annemari Coetser - Страница 14

Anna: Die Blou Kamer

Оглавление

1893–1898

Sweef jy soos ’n valkie noordoos vanaf Jagersfontein in die Suidwes-­Vrystaat en jy het boonop ’n stewige wind op jou linkerflank, beland jy aanstons bokant die pad tussen Bultfontein en Hoopstad. Onderweg is daar verskeie graspanne onder jou, met hier en daar ’n soutpan wat in die sonlig blink.

Presies waar die een grondpad by die ander aansluit, omtrent halfpad tussen die twee dorpe, lê die plaas Grootpan, waarheen Laatste sy bruid neem. Hy maak ’n swierige draai met die spaaider oor die werf en laat halt die perde onder die groot peperboom. Moeder Hannie, Anna se nuwe skoonmoeder en die spil om wie alles op die plaas draai, kom met kort treë by die voordeur uitgeloop.

“Laatste, en is dit nou jou mooie vrou?” vra sy vrolik en gee Anna ’n klapsoen. “Welkom in die familie, kindjie. Ek hoop jy gaan gelukkig wees hier by ons. Laatste het jou seker meegedeel dat sy vader oorlede is?”

Alles in een asem. Anna hou sommer dadelik van die kort, vriendelike vrou­tjie. “Dankie, Moeder Hannie. Ja, hy het my die hartseer nuus vertel.”

Rina, Laatste se suster, kom ook nader en soen Anna op die wang. Sy is haar moeder se ewebeeld. “Ons woon daar,” beduie sy na ’n gro­terige woning neffens die ou huis.

Haar man, Carolus le Roux, groet hoflik, maar effe gereserveerd.

Sus Margriet en haar man, Jimmy Hall, woon ook in die huis wat Anna en Laatste saam met Moeder Hannie gaan bewoon.

Jimmy gee Anna ’n klapsoen. “Ek is James Robert Hall, die Engelsman! Maar moenie vrees nie, ek is ’n Boer in murg en been.”

Die Halls het ’n seun en die Le Rouxs twee dogters, almal al opgeskote kinders. Die gesin is beskaafde, aangename mense en Anna is verlig oor hulle vriendelike aanvaarding van haar as vreemdeling.

“Kom, kindjie,” nooi haar skoonmoeder. “Laatste kan jou julle kamer wys, maar ek wil jou eers my oorle’ man se boekery wys. Hy was baie lief vir lees.”

Die boekery beslaan ’n hele muur van die eetkamer. Toe Anna toestemming vra om die boeke te gebruik, sê Moeder Hannie gul: “Natuur­lik, my kind. Jimmy lees ook graag. Dit sou Willem verheug het om te hoor dat Laatste se vroutjie ’n leser is.”

Anna merk hoe Laatste se wenkbroue lig. Keur hy dit nie goed dat sy lees nie? Daaraan sal sy haar beslis nie steur nie. Om te lees is vir haar soos om asem te haal. Hoe baie gaan sy nie leer as sy al hierdie boeke lees nie!

Vader Willem was skynbaar ’n vermoënde man, want in die voor­huis pryk duur en smaakvolle meubels. Anna vryf liggies oor die blink­gepoetste koperkonfoor wat op ’n wakis staan. Moeder Hannie wys haar die ou Statebybel en slaan dit oop by die familieregister. “Jou naam kom nog kort, kind, maar net môre stel ons dit reg. En hier is die spasie vir julle nageslag.”

Laatste loer agter sy moeder se rug na Anna en knipoog veelseggend vir haar, wat haar laat bloos.

Hulle kry ’n ruim kamer met ’n uitsig op die werf. ’n Ledekant met ’n spierwit kerspitdeken staan in die middel van die vertrek. Toe hulle goed alles afgelaai is, neem Laatste haar in sy arms. “Ons gaan ons bes doen om daardie spasies in die Statebybel gou in te vul, of hoe sê ek, my vrou?”

“Gee my net ’n bietjie blaaskans,” lag sy.

Sy voel reeds tuis. Haar skoonfamilie is welvarend en sy sal aan niks gebrek hê nie.

Hoewel sy dit verwag het, moet sy daaraan gewoond raak dat Laatste meestal weg is van die huis. Sy mis sy lang lyf langs hare in die huwe­liksbed, die gloed in sy oë wanneer hy haar tydsaam ontklee. Hy leer haar hoe heerlik lyflik die liefde kan wees.

Namiddae gaan stap sy dikwels ’n ent met die voetpad wat om die groot pan kronkel. Die goue uur net voor sonsondergang wanneer die grassade rooi gloei, is haar gunstelingtyd op die plaas. Hoe vredig is dit tog nie. Wanneer die son bloedrooi agter die horison wegsink, stap sy stadig terug huis toe. Op die oop grasveld tjir tarentale en hardloop krassend voor haar uit.

“Jy hoef nie te help nie,” raas Moeder Hannie wanneer sy by die witgeskropte tafel gaan sit om groente te skil, of as sy die beskuitdeeg wil afknie. “Aia Mietie en Lettie gaan beledig voel.”

“Almiskie, Moeder. Omdat dit nie ’n plig is nie, doen ek dit graag.”

Saans ná huisgodsdiens speel Moeder Hannie op die musiekie. “Kom, kom, julle engelekoor!” kommandeer sy elke aand haar kinders en kleinkinders op.

Almal kom staan om die huisorreltjie en stuur hulle stemme dawe­rend tussen die balke in. Dis ’n grote plesierigheid. Wanneer Moeder Hannie oplaas tevrede die lappie oor die klawers trek en die deksel toeskuif, sê sy: “Heel voor in die hemelse koor, dis waar julle gaan staan!”

Ná die singery sit Anna dikwels in die voorkamer by die lig van ’n olielamp en lees. Haar skoonsusters terg haar omdat sy skynbaar nie kan lees as sy nie die woorde met haar wysvinger natrek nie. Haar lippe beweeg ook heeltyd saam, al kom daar geen klank uit nie. Oorle’ Vader se woordeboeke wat langs die Windsorstoel lê, word voos gevat om die betekenis van vreemde woorde na te slaan. Jimmy moet dikwels help met die Engelse uitspraak.

Volgens die kerkvaders is die duiwel en al sy trawante op Jagersfontein los, maar Laatste lag net as Anna hom daaroor uitvra. “Dis nie naastenby so erg as wat hulle dit laat klink nie. Mense is maar orals dieselfde.”

“En wat doen jy alles wanneer ek nie daar is nie?” vra sy skalks.

“Ek kan jou wys wat ek alles wíl doen,” terg hy terug. “Kom sit hier op my skoot.”

Hy draai haar kop na hom toe en soen haar lank en innig. Dan dop hy haar van sy skoot af op die bed om, pen haar arms met sy hande vas en begin haar met sy baard kielie. Sy kriewel rond en probeer losruk terwyl sy laggend hyg: “Genade, asseblief!”

Wanneer hy later natgesweet die laken oor hulle trek, sê hy sag: “Al wat ek doen wanneer ek op Jagersfontein is, is om na jou te verlang, my vrou.”

Soms neem hy haar saam daarheen en dan bly sy in haar vader se hotel oor; ander kere gaan laai hy haar op die plaas by hulle af. Die Van der Walt-kinders is bly om haar te sien, en sy het altyd ’n presentjie vir elkeen, klein goedjies wat sy self gemaak het.

Klein Tjaartina en Nicolaas, die twee oudstes, is ernstige kinders met ’n gevoel van verantwoordelikheid teenoor die jongeres. Anna neem Tjaartina om veldblomme te gaan pluk vir die graffies van Hennie en Dirkie, wat nie lank geleef het nie. Die kleintjies wil ook saam­piekel, maar dis te ver deur die duwweltjieveld.

“Later pluk ons madeliefies op die werf en dan vleg ek vir julle kran­sies vir julle halse,” troos Anna.

Moeder Tjaartina ly kwaai aan skeelhoofpyn en lê dikwels op die bed met ’n nat lappie oor die oë.

Een aand roep Nicolaas vir Anna om by hom op die stoep te kom sit. “Ek het nuus van Gertjie gekry,” begin hy. “Jy onthou hom seker nie meer nie? Jy was nog so klein toe hy hier weg is.”

“Natuurlik onthou ek hom, Vader.” Sy vind dit moeilik om die bitter­heid uit haar stem te weer. “Die broertjie wat ek verloor het, omdat Vader hom … omdat die Coetzees hom aangeneem het.”

“Wel, ’n skoolinspekteur van Sannieshof het onlangs in die hotel oornag. Gertjie is nou … Hoe oud is jy nou weer?”

“Drie-en-twintig, Vader. Hy is nou agtien.”

“En alreeds ’n onderwyser op Biesjesvlei,” sê Nicolaas met onmis­kenbare trots in sy stem. “Die man vertel Gertjie, nou Gert, is erg leer­gierig en glo ook baie betrokke by die politiek in die Wes-Transvaal.”

Anna knik. “Ek is bly.”

Dan gaan dit goed met haar broertjie. Miskien was dit tog beter dat hy saam met haar oom en tante weg is. Dalk kry sy nog eendag die geleentheid om hom te gaan opsoek. En hopelik voel sy voortaan nie meer die harde kol op die krop van haar maag wanneer sy aan hom dink nie. Dalk verdwyn die donker gedagtes waarmee sy nog soms alleen in die nag lê en stoei.

Want gaan dit nie uitstekend met haar nie? Het die meetsnoere nie ook vir haar in lieflike plekke geval tussen die vrolike Steenkamps nie? As sy nou net verwagtend kan raak, sal haar beker van geluk oorloop.

Maar steeds is daar maand ná maand, jaar vir jaar, die diepe teleur­stelling wanneer sy die bekende swaar gevoel in haar buik voel en weet dis tyd om weer die lappe uit te haal wat sy vir dié tyd van die maand in die laai bêre. Ongemerk groei die donkerte in haar gemoed. Verbeel sy haar, of is Laatste deesdae meer afgetrokke? Kom hy nou minder gereeld huis toe?

Lusteloos luister sy saans na die mans se politieke praatjies en pro­beer die ingewikkelde borduurstekies baasraak wat Moeder Hannie haar leer. “Vir die baba se uitset,” laat glip haar skoonmoeder eendag, en slaan dadelik haar hand voor haar mond.

“Toemaar, Moeder, dis nie ’n geheim dat Moeder nog ’n kleinkind in die huis wil hê nie,” sê Anna sag. “Ek weet Moeder brei en hekel gedurig babakleertjies.” Sy trek ’n gesig. “Miskien moes ék liewer Hanna geheet het, want ek is net so onvrugbaar soos Hanna in die Bybel.”

Moeder Hannie skud haar kop. “Nee, my kind. Dis nie vir ons om oor dié dinge te besluit nie. Alles gebeur in die Here se eie goeie tyd.”

Anna trek die aand haar nagrok aan, en trek dit weer uit. Met die olielamp in haar hand staan sy voor die spieël. Vind Laatste haar darem nog aantreklik? Of neem hy haar kwalik oor haar onvrugbaarheid? Sy bly die kinderlose een, terwyl Margriet en Rina soos henne om hul kinders kloek.

Met ’n steekpyn van nostalgie onthou sy hoe sy en Laatste aan die begin van hul huwelik aan tafel vir mekaar sit en skaapogies maak het. Hulle het hulle nie eens aan sy susters se gespot gesteur nie. Maar is alles, die verwydering wat daar gekom het, dan net haar skuld? Bring hy dalk sy nagte in ’n ander vrou se bed deur?

Een aand toe Anna en Jimmy nog in die voorkamer sit en lees, gooi hy De Express met geweld langs hom op die plankvloer neer.

Sy kyk op van haar boek. “En nou? Wat het die koerant jou gemaak?”

“Die blerrie Engelse is agter die Witwatersrand se goud aan. Die uitlanders op die myne wil stemreg hê, en hulle gaan nie ophou met onrus stook voor hulle dit gekry het nie. Jy sal nog sien, hier kom ’n oorlog.”

Die egpaar Steenkamp is in 1897 reeds vier jaar getroud. Laatste het nou ’n span jongelinge wat vir hom transport ry, maar sy besigheid verg ’n ferm hand op die stuur. Hy en Anna bly steeds van tyd tot tyd ’n paar nagte in ’n hotel op Jagersfontein oor terwyl hy na sy sake­belange omsien. Al is daar intussen ook diamante in Kimberley ontdek, is die dorp steeds besig en rumoerig.

Anna sit een somersoggend laat in Desember op die stoep vir Laatste en wag. Die strate om haar is een malende mensemassa. Kort-kort skrik sy haar buite weste wanneer ’n dinamietskoot nog ’n stuk van die aarde oopruk.

Toe Laatste by haar aansluit, gooi hy sy vilthoed op ’n stoel neer. “Sjoe, dis warm,” kla hy en trek vir hom ’n stoel uit. Hy vroetel met die ketting van sy sakhorlosie en korrel met een oog daarna. Dis net ’n ge­affekteerde gewoonte, daar is niks met sy sig verkeerd nie. Maar hy het deesdae besliste voorkeure oor die mode en wat paslik is om te doen, veral wanneer ander mense jou kan sien. Hy hou daarvan dat Anna opdress en dat hulle soms ’n perderesies bywoon of teater toe gaan.

“Dis al elfuur,” kondig hy aan. “Tee vir jou?” Voor Anna kan antwoord, klap hy sy vingers om ’n kelner nader te wink. “Bring vir ons ’n pot Ceylontee.”

Met ’n spierwit sakdoek vee hy die sweet van sy voorkop af. Sy drie­stukpak van kamstof moet baie warm wees, boonop met ’n strikdas om die nek.

“Vanaand slaap ons hier,” sê hy. “Ek het klaar die Blou Kamer bespreek.”

Toe hy na Anna kyk, is hy weer die ou Laatste, die sjarmante man met die breë glimlag wat sy daardie eerste dag langs die dam leer ken het. Hy tel haar gehandskoende hand op en druk dit teen sy lippe. “Pas dit jou hier? Ek skeep jou die laaste tyd af. Maar vanaand gaan ek weer my vrou die hof maak soos wat sy verdien.”

Die middag loop hulle hand aan hand deur die strate. Laatste se treë is selfversekerd, sy rug regop. Hy koop vir Anna ’n wynrooi parasol met ’n breë val onderom, ’n mantel van swart wolstof wat met rooi satyn uitgevoer is en ’n hangertjie waaraan ’n hartjie met drie diamante hang.

Voor die aandete hang hy die hangertjie om haar nek en maak seker dat die hartjie presies op die regte plek, wat hy kawerjaans kies, teen haar boesem rus. Hulle geniet ’n uitgerekte ete met baie wyn daarby, en terug in die Blou Kamer is die lug swaar van begeerte en belofte.

En só, ná vier onvrugbare jare, raak Anna oplaas swanger.

Sy is duiselig van vreugde, die tye wanneer sy nie duiselig van naar­heid is nie. Soms sit sy net op die skommelstoel in hulle kamer met haar hande op haar skoot, gevou om die lewetjie wat besig is om bult te maak in haar lyf.

Vreemd, daar is so baie mense op hierdie plaas, maar sy voel die naaste aan iemand wat nog nie eens gebore is nie. Haar eie moeder het sy skaars geken. Die opgekropte liefde wat sy op Gertjie wou uitstort, was tevergeefs. Haar vader se liefde moes sy deel met baie ander kin­ders. Sy is lief vir hulle, maar nou dra sy haar eie kindjie onder haar hart.

Sy neem haar voor: Sy gaan altyd aanhou lees en leer, miskien nog slim word soos Gertjie. Eendag wil sy hierdie kind vertel van verre lande en van mense wat verrassende dinge regkry. Haar kind se grense moet verder strek as haar eie. As dit ’n dogter is, sal sy haar leer hoe om met fyn stekies te borduur. As dit ’n seun is … Wel, Laatste sal die finale sê hê oor hoe hy sy seun wil grootmaak, maar sy sal die tyd wanneer hy klein is gebruik om haar stempel af te druk. Hulle het so lank vir hom gewag.

Moeder Hannie piep haar behoorlik op. Sy het nuwe aansien in die oë van haar skoonsusters. Laatste is meer dikwels tuis. Haar beker loop oor.

Op 5 Julie 1898 word Anna vyf-en-twintig. Hulle seuntjie word daar­die lente op ’n koue maar pragtige sonskyndag gebore. Aia Mietie is ’n bekwame vroedvrou.

Wanneer die perfekte klein mannetjie oplaas in Anna se arms lê, sê Mietie: “Hy lyk nes sy pa.”

Sy naam sal Willem Michiel wees, vernoem na sy oorlede oupa Steen­kamp, maar hulle noem die kleinding Wimpie.

Al wat Anna se geluk bedreig, is die oorlogswolke wat reeds op die horison saampak. As daar in die Zuid-Afrikaanse Republiek oorlog uitbreek, sal die Oranje-Vrystaat verplig wees om te gaan help, want die twee Boererepublieke het ’n verdedigingsverdrag gesluit. Hoe sal die Boerevolk tog vaar teen die magtige Britse oorlogsmasjien? En wat sal van húlle word?

Alles begin met Anna

Подняться наверх