Читать книгу Alles begin met Anna - Annemari Coetser - Страница 9

HOOFSTUK 1

Оглавление

’n Regte ou droëntydsvoëltjie

Bethlehem, Mei 1935

“By wie leer ’n mens dan om lief te hê as jy nie ouers het nie?” Faan lig ’n rooiblonde wenkbrou. Hy haal die pyp uit sy mond en wuif met die steel in Poppie se rigting.

Poppie antwoord nie. Sy sit, knieë opgetrek, met haar rug teen ’n boom. Faan se baadjie hang aan ’n tak bokant haar. Kort-kort roer ’n ligte wind deur die boom en waai die baadjiemoue rond asof ’n onsig­bare persoon onhoorbare musiek dirigeer. Dis irriterend, nes Faan se pogings om haar te ontleed.

Wat sal hy doen as sy dit met hóm doen? Kyk hoe sit-lê hy op sy een elmboog, sy lang bene op die reiskombers uitgestrek. Kyk hoe maer is hy, ’n regte ou droëntydsvoëltjie. En dink hy dalk sy yl snorre­tjie onderstreep die belangrikheid van sy aristokratiese neus? Eendag gaan sy hom dit nog vra.

“Poppie?”

“Hmm?”

“Ek het ge-…”

“O ja, die liefde. Ek weet tog nie, Faan. Eeue van nou af sal arge­oloë miskien op my geraamte afkom. Dan kan hulle dit ontleed om te sien watter invloed ’n gebrek aan liefde op ’n mens se beendere het.”

Hy glimlag net en skud sy kop.

“Ag, man!” sê sy. “Mens leer seker maar by ander mense? My eerste aand in die weeshuis toe ek vreemd en bang was, het ’n dogtertjie met haar koue voete by my in die bed kom klim en my ’n storie vertel. My ousus pamperlang en piep my op. Sy probeer steeds om my ordentlik groot te maak. My een broer probeer my die hemel in preek. Die ander een wys niks, maar …” Sy trek haar skouers op. “Miskien werk dit nie. Ek is nie juis liefdevol nie.”

Hoekom stel hy enigsins in haar of haar kinderjare belang? Hy is net ’n vriend. ’n Gawe maat weliswaar, maar sy het hom skaars twee maande gelede by die Christelike Strewersunie ontmoet. En tog, sy het hom pas vertel hoe oom Louis van Rooyen hulle een koue oggend by die Charlotte Theron Kinderhuis hier op die einste Bethlehem kom aflaai het.

“Was daar dan nie ander familie na wie julle kon gaan nie?” por hy verder. “Ek dog dan ons Afrikaners sorg vir ons eie mense.”

“Weet jy wat het Dog gemaak?” vra sy snipperig, en kry dadelik spyt. “My ma het net een broer gehad en sy was vervreemd van hom en ook van haar pa,” verduidelik sy. “Ons grootouers aan my pa se kant van die familie was al dood.”

Sy en Faan was vanoggend kerk toe en hou nou piekniek in Pretoriuskloof. Die Jordaanrivier kabbel gesellig oor die klippe en dis ’n sonnige herfsmiddag. ’n Dag vir sit en twak praat. Sy wil op die reisdeken afskuif tot op haar rug. Met die son op haar gesig, arms onder haar kop, wil sy suutjies wegdommel.

Maar Faan het die manier om in jou nersderm te krap tot hy alles uit jou getrek het. Hy is negentien, terwyl sy pas twee-en-twintig geword het. ’n Nat-agter-die-ore-kêreltjie met sproetgesig en rooiblonde hare; dis net die pyp wat ’n sekere waardigheid aan hom verleen. Tog laat sy indringende vrae en soort-van-wysheid hom ouer as sy jare voorkom.

“Is jou storie nou klaar?” vra hy.

“Dis nie ’n storie nie, hoor! Alles wat ek jou tot dusver vertel het, is die heilige waarheid.”

’n Rooigetinte herfsblaar wapper van die boom af en land op die reisdeken langs haar. Sy rol dit in ’n stywe rolletjie op, maak dit weer oop en stryk dit glad. Sy is seker onregverdig teenoor Faan. Hy is skyn­baar een van daardie rare wesens wat meer daarvan hou om te luister as om te praat.

Miskien moet sy hom maar van haar grootwordjare vertel. Dit sal dalk goed wees om weer vir haarself die feite agtermekaar te kry, want daar is gate in die verhaal. Sy sweer Sussie Anna steek iets vir haar weg. Maar as sy uitvra, lag haar suster dit altyd weg.

Sy trek die piekniekmandjie nader en maak dit oop. Faan se ma het ’n bottel gemmerbier ingepak. Sy sukkel om dit oop te kry.

“Gee vir my,” sê hy.

Hy draai die prop los, vou ’n bordedoek oop en haal twee glase uit. Die gemmerbier bruis en stoot op toe hy vir hulle skink.

Sy proe daaraan en smak haar lippe. “Heerlik. Weet jy hoe gelukkig jy is? Eintlik is jy ’n bedorwe brokkie, Stefanus! Jou ma maak seker elke dag jou bed op, nè? En ek wed as jy saans tuiskom, sit jy net aan en eet jou trommeldik.”

Hy breek ’n ligte windjie op. “Skuus tog. My geboorte was maar net ’n gelukkige toeval, hoor. Maar ek sal elke dag ’n minuut lank ’n ge­wyde stilte hou, as jy wil. Uit medelye vir jou.”

“Ja, ou Slim Jannie Smuts. Tel net ten minste elke dag jou seëninge.”

Hy lig haar hand van die kombers op en hou dit vas, vat om die beurt aan elke vinger. “Só tel ek my seëninge: Nommer 1, jy. Nommer 2, my ma se kos. Nommer 3, my kamer. Nommer 4, jy. Nommer 5, jy.”

“Ag, jy’s stuitig.” Sy trek haar hand uit syne. Haar maag knor; die oggenddiens was lank. “Dis tyd om kos in jou mond te kry, dat jy kan ophou twak praat.”

Faan moet tog nie dink sy gee hom aanleiding nie. Dis die laaste ding wat sy wil doen. In die groot geheel van wat sy met haar lewe wil doen, pas Faan nie in nie. Ook geen ander man nie. Nie nou nie, en miskien nooit. Altemit word sy nog soos Sussie Anna: onafhanklik, sterk, ’n bekwame vrou. Haar suster het nie ’n man in haar lewe nodig nie, so lyk dit.

Sy haal ’n geruite tafeldoekie uit die mandjie en sprei dit op die kombers oop. “Toe, skuif op dat ek kan skep. Anders sit jy netnou binne-in die bak aartappelslaai.”

Hy spring rats orent en kom sit kruisbeen langs haar. “Dít kan ons nie toelaat nie.”

Sy pak die ander kos ook op die tafeldoek uit: ’n glasbak met kerrie­frikkadelle, nog ’n bak met gevulde eiers, tamatietoebroodjies in waspapier toegedraai.

“Die diens was lank, nè,” sê sy, “met Nagmaal en alles? Dominee het twintig minute lank gebid! Daar behoort ’n wet daarteen te wees. Ek is nou so honger ek kan ’n perd opeet.”

“Dan tref jy dit gelukkig. Hoekom dink jy het my ma die frikka­delle gekerrie? Dis om die soet smaak van perdevleis te verdoesel.”

Sy lag en gooi hom met ’n vadoek.

Hulle eet verder in stilte. Toe al die bakke leeg is, pak sy die tafeldoek, bordegoed en eetgerei terug in die mandjie. “Sê asseblief vir jou ma dankie vir die lekker kos en veral vir die perdefrikkadelle.”

“Ek sal so maak.”

Hy skuif op tot hy langbeen met sy rug teen die boom sit, klop sy pyp teen die stam uit en stop dit tydsaam. Toe die rook om sy kop begin warrel, druk hy liggies met sy voet aan haar. “Ek brand om verder te hoor.”

“Ek sien so.”

Sy waai die rook weg en gaan sit langs hom teen die boom. “Ek onthou feitlik niks, verstaan jy? Dis mos net die traumatiese goed of die baie lekker dinge wat in ’n kind se geheue bly vassteek, soos …”

“Ja? Soos wat?”

Sy trek haar oë op skrefies. “Probeer jy net poliets wees of wat?”

“Allermins. Ek het ’n pragtige swartkopvriendin wat rondloop met goed wat haar pla. En toe dink ek: Miskien sal dit help as sy dit met iemand deel.” Hy tik op sy bors. “Iemand soos ek.”

Sy sug effens. “Jong, my verhaal is nie uniek nie. Baie mense het destyds swaargekry. My ma was ’n hartlyer en sy was dikwels siek. Sy het mense se wasgoed gedoen. Een dag gewas, een dag gestryk, een dag klere reggemaak. Flenters heelmaak, so het sy dit genoem. Dít, en die bietjie huurgeld uit die smidswinkel, was ons enigste inkomste. Wanneer sy te siek was om te werk, het Sussie Anna, wat reeds heel­dag as huisbediende gewerk het, saans oorgevat.”

“Dis nou op … ?”

“Steynsrust, sommer hier naby.”

Haar sterkste herinnering aan haar ma is hoe sy by ’n kombuisstoel kniel en hardop bid en huil. Sussie Anna het gesê dis oor hulle pa dood is en oor hulle so arm is. Partykeer het Sussie Anna die predi­kant gevra om besoek af te lê by Mammie. Die pastoriedogters was maats met haar en Poppie en hulle twee het dikwels daar gaan kuier. Die pastorie was in Burnett Adamsstraat, dieselfde straat waar haar pa se ander erf was, en so twee blokke weg van hulle huis.

Uit die bloute kom ’n herinnering, en sy vertel dit vir Faan.

Agter die pastorie, in die koelte, het ’n paar streepsakke mielies vir die hoenders gelê. Sy en haar maat maak ’n speletjie daarvan om op die sakke te spring. Trek dit weg van mekaar en kyk wie die verste kan spring. Maar Poppie misgis haar, val die sak mielies skoon mis en land met haar neus op ’n klip. Dit bloei vir die vale hel. Sy skreeu so hard dat Mevrou Dominee en Sussie Anna by die agterdeur uitgestorm kom.

Mevrou druk ’n spierwit sakdoek oor haar neus en sê sy moet haar kop agteroor hou. Toe loop die bloed in haar keel af en sy raak naar en begin braak. Sussie Anna kom staan agter haar en hou haar vas totdat haar skouers ophou ruk. Sy gaan sit en tel Poppie op haar skoot, rol twee punte van die sakdoek in stywe rolletjies en druk dit in haar neusgate. “Nou lyk jy soos ’n bul,” sê sy en wieg Poppie heen en weer op haar skoot. “ ’n Bul met rooi horings.”

Poppie se beste maatjie in Steynsrust is Lenie. ’n Ander dogtertjie het eendag vir hulle elkeen ’n potlood gekoop omdat hulle die skool se armste kinders was. By die herinnering vlam haar wange van skaamte, maar sy kan onthou hoe trots sy destyds daarop was dat sy en Lenie die heel armstes in die skool was.

Hoe sou Sussie Anna dit verdra het dat sy altyd oral agter haar aan­stert? Mammie was so moedeloos met haar rondlopery dat sy haar eendag aan die tafelpoot vasgemaak het. Sy het aanhou huil, totdat Mammie later langs haar op die vloer kom sit het. Mammie het oor haar rug gevryf en saggies geneurie tot sy aan die slaap geraak het.

Sy vertel dit vir Faan, en lag. “Die eienaardigste goed darem wat ’n mens onthou.”

“Ek sou jou ook aan ’n tafelpoot vasgemaak het as jy my kind was,” spot hy. “Jy was seker onmoontlik.” Hy tel ’n stokkie op en gooi dit in haar rigting. “Jy’s nou nog so half wild.”

“Hoe weet jy daai episode het my nie vir ewig geknou nie?”

“Ek kan sien dit het nie.”

“Eenkeer het ek …”

“Ja?”

“Jy probeer my net … Jy wil tog nie regtig weet nie, of hoe?”

“Jy onderskat my,” sê hy rustig. “Vertel.”

Sy maak haar oë toe en haal diep asem. “Ek was maar klein toe my pa dood is. Ek het ’n maand ná sy dood twee geword. Die ander drie was al in die skool.”

Nou kom dit bietjie vir bietjie terug hoe dit in daardie tyd ná haar pa se dood met hulle gegaan het. Dit was altyd die een ding of die ander met Mammie. As sy nie siek was van haar hart nie, was dit die asma wat haar opkeil.

Wanneer Mammie by mense se huise moes gaan strykwerk doen, het Poppie saamgegaan, want daar was niemand tuis om na haar om te sien nie. Een so ’n oggend onthou sy goed, want dit was gesellig en warm in die kombuis waar Mammie staan en stryk het. Sy het met haar lappop by Mammie se voete gespeel. Die pop was van ’n ou laken gemaak en haar gesig, arms en bene was spierwit. Die pop se gesiggie, wat Mammie met ’n inkpotlood geteken het, was nog net ’n pers vlek, maar sy het nie omgegee nie. Die lappop met haar vet bene en arms was al speelding wat sy gehad het.

Vettieboemstieks, noem Poppie haar kind. Sy druk haar baba teen haar bors en sing ’n liedjie wat sy self uitgedink het. Die vrou van die huis kom in, gaan sit langs die tafel en begin gesels met Mammie. Die skroeireuk van die stryklaken op die strykkombers is in Poppie se neusgate en sy voel veilig en gelukkig. Sy kyk hoe Mammie die yster wat koud geword het op die stoof neersit en ’n ander een optel. Tjits! maak dit wanneer sy met ’n nat vinger toets of die yster warm ge­noeg is.

Maar opeens is daar ’n groot kommosie. Die tante gly van haar stoel af tot op die vloer. Sy lê reg langs Poppie terwyl haar hele lyf ruk en skuim by haar mond uitloop. Haar oë dop om en haar lyf buig agter­oor. Mammie stoot Poppie eenkant toe. Sy het ’n lepel in haar hand wat sy steelkant eerste tussen die tante se tande indruk terwyl sy haar tong vorentoe trek.

Poppie gaan staan in die verste hoekie van die kombuis met Vettieboemstieks in haar arms vasgeklem, so ver weg as moontlik van die rukkende lyf en aaklige roggelgeluide. So sag is die skrik in haar keel dat sy eers agterkom sy huil toe sy haar trane op haar pop se kop sien val.

“Poppie, gaan roep gou vir tant Sarie!” skree Mammie.

Sy hardloop by die deur uit na tant Sarie se huis langsaan. Tant Sarie sit op die stoep en brei en staan verskrik op toe sy Poppie se gesig sien.

“Kom gou!” hyg sy. “Die tante …”

Tant Sarie sit haar breiwerk op die rottangtafeltjie neer. “Toemaar, my kind, jou ma sal weet wat om te doen, die aanval is altyd gou verby,” troos sy. “Kyk hoe lyk jy, skoon asvaal van die skrik. Kom sit in die kamer op die koos, dan bring ek vir jou suikerwater.”

Poppie het nie geweet hoe lank sy daar op die kamerpot moes bly sit vir die asvaal om weg te gaan en om weer pienk te word nie. Toe bly sit sy maar tot hulle haar roep. In die buurtante se kombuis het Mammie, tant Sarie en die tante wat so vreeslik geruk het rustig sit en tee drink.

“Nie lank daarna nie het die vallende siekte tog die tante se dood gekos,” vertel sy vir Faan. “Sy het by die tafel gestaan en stryk toe sy weer ’n aanval kry en neerslaan – ongelukkig met haar kop teen die tafel, toe breek sy haar nek.”

“Siestog,” sê hy. “Sy moes die strykwerk liewer vir jou ma gelos het.”

Poppie staan op en rek haar uit. “Kom ons gaan stap eers ’n entjie, toe. Ek is nou skoon styf gesit.”

Terwyl hulle langs die rivier af stap, vryf sy oor haar boarms.

“Kry jy koud?” vra hy.

“Nee wat, dankie.” Sy gaan staan onder ’n boom en kyk op. Die takke is al feitlik blaarloos.

“Nou toe, vertel verder. Ek hou van jou stories. Ek kan die prentjies voor my oë sien. Waar het julle gebly?”

“My pa het drie erwe in Steynsrust gehad. Al wat ek van ons huis onthou, was dat die dak aan die voorkant hoog was en agter plat. Die kleinhuisie was in die agterjaart. Pa se smidswinkel was regoor die kerk. Dit was toe nog nie ’n regte kerk nie, net ’n kerksaal met harde banke. Toe ons daar weg is in 1922, was daar ’n dominee Alheit. Die dominee wat my pa begrawe het, was ’n Van Rensburg, het Mammie gesê. Ek het altyd gedink hy moes alleen die gat grawe, my pa daarin laat afsak én boonop lees en bid. Ek het so sleg gevoel oor die gatgrawery en hom vreeslik jammer gekry.”

Faan lag uitbundig.

“Dis nie snaaks nie.” Maar sy grinnik ook ’n bietjie.

“Kom, resies tot by die boom. Een, twee … !” Hy trek weg nog voor hy by drie is.

“Jy kroek!” skree sy, maar begin ook hardloop.

Hy het ’n voorsprong van ’n paar treë, maar sy haal hom maklik in. Toe hulle die piekniekplek bereik, is sy ’n kortkoppie voor. Hulle val laggend op die reisdeken neer en bly ’n lang ruk so lê.

Faan staan op en soek ’n dennebol in die gras. “Mejuffrou Niena­ber, namens die reëlingskomitee van die Atletiekbond van die Unie van Suid-Afrika oorhandig ek graag hierdie goue medalje aan u.” Hy oorhandig dit aan haar en hulle skud plegtig blad.

“Jy het my aspres laat wen,” beskuldig sy, maar sit dit nietemin versigtig langs die piekniekmandjie neer. “Moenie dink ek weet dit nie.”

“Vertel nou verder. Die wedervarings van die vier armsalige wesies is nogal opwindend, veral dié van die aanvallige jongste dogter.”

“Gaan bars, man. Dis hoekom ek nie daaroor wil praat nie.”

Met haar wysvinger teken sy op die kombers langs haar: ’n vierkantige huisie met ’n driehoekige dak, ’n voordeur en twee vensters weerskante, tuinpaadjie wat na die voordeur lei. Sy is seker te fyn van nerf, maar hoe sal Faan ooit verstaan hoe dit voel om soos ’n klein hondjie van die een mens na die ander aangegee te word?

Moet liewer niks sê van die dag toe hulle van hul vierkantige huisie moes weggaan nie. Hoekom dit gebeur het en waarheen haar ma geneem is, weet sy tot vandag toe nie. Sy verkies om nooit daaroor te dink nie. Al wat sy weet is, is dat Boet Jannie eendag gesê het oom Louis en tant Grieta van Rooyen het hulle vier ingeneem sodat hulle nie moes doodgaan van die honger nie. Maar die Van Rooyens se geld ‒ of dalk hul geduld met die Nienabertjies ‒ het ná ’n maand opgeraak.

Faan sak weer langs haar op die reisdeken neer. “Komaan! Ek terg net. As jy nie nou dadelik vertel nie, vat ek jou goue medalje terug.”

Sy glimlag. “Waag dit net.”

Maar sy blik is so opreg belangstellend dat sy verder vertel.

“Jy moet weet, niemand het my iets van my moeder vertel nie, behalwe dat sy siek en in die hospitaal was. Oom Louis en tant Grieta van Rooyen het ons by hulle in die huis geneem en een oggend sê hy ons moet almal sitkamer toe kom. Ons het so ingeryg op die rusbank gesit, toe sê hy hy’s baie jammer, maar ons moet weeshuis toe. Net so. Want Ma is nou te siek om vir ons te sorg en sy sal nie beter word nie. En dominee Alheit dink Sussie Anna moet haar werk los en weer skoolgaan, want sy’s te slim om vir altyd huisbediende te wees. Toe begin sy huil en ons ander drie tjank natuurlik saam.”

Sy kyk na Faan, haar arms wyd oop, handpalms na bo. “Miskien het ek party goed onderdruk, maar die datum waarop ons weeshuis toe is, sal ek vir altyd onthou: 3 Junie 1922. Ek was nege jaar oud. Ons is op die spaaider saam met oom Louis weg uit Steynsrust. Daar was nie plek vir tant Grieta om saam te kom nie. Ek tjank heelpad soontoe en Sussie Anna probeer my troos. Sy was sestien.”

Die herinneringe is so werklik asof dit weer daardie dag is, maar sy deel nie alles met Faan nie. Sy wil nie hê hy moet dink sy is self­bejammerend nie, maar dís hoe sy gevoel het, en dis die reine waarheid: Niemand wil haar hê nie, sy is net goed om aangepass te word. Niks loop ooit reg vir hulle Nienabers nie en só sal dit wees vir altyd en altyd tot die perde horings kry op die Knersvlakte van Mesopotamië, soos hulle altyd in die kinderhuis gesê het.

Sy was bitter hartseer oor haar ma wat so siek was dat sy nie meer vir hulle kon sorg nie, en vrees vir die onbekende wou haar keel laat toe­trek. Maar haar sterkste herinnering is dié van fatalistiese leedvermaak: sy wat so sleg voel dat sy eintlik lekker voel.

Smartlap se moses, dit was sy.

Dis elfuur die oggend toe hulle by die weeshuis in Bethlehem aankom, vertel sy verder vir Faan. Die huismoeder sê hulle moet eers in die eetsaal kom tee drink. Oom Louis staan met die huisouers en praat, sy hand vriendelik op Nic se nek, maar Nic kriewel om onder die hand uit te kom. Die huismoeder en oom Louis praat oor Jannie, want die oom wys na hom. Jannie is veertien, sy stem breek al. Hy is gebreklik gebore, met ’n snaakse voet en ’n arm en hand wat ook nie werk soos dit moet nie.

Die volgende oomblik storm ’n spul kinders die eetsaal binne, hulle kaal voete soos galoppende perde op die plankvloer. Sy skrik en gaan skuil agter Sussie Anna. Die kinders gryp elkeen ’n blikbeker en gaan staan in twee lang rye, seuns en meisiekinders apart.

“Dis speeltyd by die skool,” sê Sussie Anna.

’n Paar kinders kom staan by hulle, maar die huismoeder raas: “Skoert, julle agies!”

Poppie hoor sy gaan saam met die ander laerskooldogters in Bulkdraai slaap, en hulle eetsaal is in Muisnes – seuns en dogters apart. Sulke snaakse name vir blyplekke, hoe gaan sy dit ooit onthou?

Oom Louis groet haar broers met die hand, maar soengroet vir haar en Sussie Anna. By die eetsaal se deur draai hy om en wuif vir hulle. Trane blink in sy oë.

“Dit help nie hy maak asof hy jammer is nie,” sê Poppie en skop na ’n eetkamerstoel. Gelukkig mis, anders was haar toon blou.

“Jy weet ons kon nie langer by hulle bly nie, Vlooi.” Sussie Anna vryf oor haar hare, maar sy ruk haar kop weg.

“Hoor net hoe skree die huismoeder op die kinders! Ek gaan dit nooit hier uithou nie, ek weet dit sommer. Ek sal wegloop, ek sweer.”

“Jy mag nie sweer nie,” sê Jannie die wysneus. “Sweer is sonde.”

“En as ’n sweer op jou been sweer? Is dit ook sonde?”

“Jy’s nie snaaks nie, Poppie. Die Jirre hoor wat jy sê.”

Sy rol haar oë en steek vir hom tong uit.

In die dormitory pak sy haar klere in die kas wat aan haar toe­gewys is. Amper die hele saal se dogters kom staan om haar bed toe sy daarop gaan sit. Hulle wil weet wat haar naam is, waar sy vandaan kom en hoe oud sy is.

Nog voor sy kan antwoord, spog een dogter dat haar ouers tog regtig dood is, nie soos party kinders wie se ma hulle net nie meer wil hê en hulle dan weggooi nie. Sy rol haar oë in Poppie se rigting en stamp aan die dogter langs haar en hulle giggel sag agter hul hande.

Poppie sit regop sodat sy langer kan lyk. “Sussie Anna sê my pa was vir die Jirre baie spesiaal. Hy’t ’n bliksemstraal gestuur om hom te kom haal, nie sommer net ’n griepkiem of ’n Lee-Metford-koeël nie.”

“Hierdie meisiekind vloek,” sê ’n dogtertjie en trek haar mond dat dit soos ’n pruimedant lyk. “Ek gaan vir Moekie sê.”

“Sê dan gou voor die paadjie vol duwweltjies is!” sê Poppie.

Maar haar keel trek toe. Al is die huismoeder se bynaam Moekie, is sy glo vreeslik kwaai. Die kinders fluister as hulle van haar praat en loer oor hul skouers. Meneer Mostert is die huisvader; hulle noem hom agter sy rug Meneertjie.

Later in haar bed knyp sy haar oë styf toe om die huil te keer. Ver­lang Sussie Anna daar in Huis Kasteel ook na haar? En Nic en Jannie wat saam met die ander seuns in ’n sinkgebou bo teen die rant slaap? Dalk spot die kinders vir Jannie oor sy snaakse voet. Dis die eerste keer ooit dat hulle almal weg van mekaar slaap.

Party van die meisies was vandag bitsig en gemeen met haar. Sy weet hulle Nienabers is arm, maar haar ma het gesê dis nie ’n skande om arm te wees nie. Net om te stink is ’n skande, want die Liewe Jirre het vir ons almal water gegee om ons klere mee te was en ons basse te reinig.

Sy trek die laken oor haar kop en huil saggies, maar dit maak haar neus bottoe. As sy doodgaan van gebrek aan asem, sal dit almal se ver­diende loon wees. Hulle sal jammer wees oor hulle so lelik met haar was, maar dit sal vir ewig en altyd te laat wees. Miskien sal oom Louis en tant Grieta so ’n bietjie huil. Sussie Anna ook. Miskien sal haar ma nog sieker word van lyding en smart en sommer daarvan doodgaan. Dan is hulle regte weeskinders. Hulle gesin is die ongelukkigste familie in die hele Unie van Suid-Afrika, sy weet dit.

Kon haar pa nie maar bietjie minder spesiaal gewees het nie? Maar wat help dit sy dink aan haar pa? Sy onthou hom nie eens nie. ’n Mens onthou sweet blou all van goed wat gebeur het toe jy skaars twee was. Sy moet liewer aan haar siek ma dink.

Sy druk haar gesig in die kussing om die snikke te smoor en hoor nie dadelik die fluisterstem langs haar bed nie. Eers toe iemand aan haar deken pluk, lig sy haar kop op.

Daar staan ’n dogtertjie met lang, wit vlegsels, ’n vinger teen haar lippe. “Sjuut,” fluister sy. “Skuif op, dan kom lê ek by jou en vertel vir jou ’n storie.”

Sy trap Poppie se been raak toe sy inklim en giggel. “Askies, man! Is dit seer?”

“Nie te erg nie.” Poppie vryf haar maermerrie met haar ander voet.

“Wat’s jou naam?” vra sy en vee haar snotneus met die laken se punt af. Die materiaal is so grof dat dit haar vel seermaak.

“My naam is Julia. Ek’s al lankal hier, van net ná die Groot Griep af. Dis nie so sleg hier nie, jy sal gewend raak.”

Poppie skuif nog verder op en ril toe Julia haar koue voete teen haar bene druk. Maar sy gee nie om nie, dis darem iemand naby haar. Dit help vir die verlang.

“Is jou ouers dood van die griep?” vra sy. “Ons kinders was nie siek nie. Net my ma het baie siek geword, maar sy’s nie dood nie.”

“Dit het ons uitgeroei!” sê Julia. “My hele familie is dood.”

“Roeriewaar? Almal? Het jy nie meer broers of susters nie?”

“Nee, dis net ek.”

“Dêssitse blerrie.”

Poppie vergeet van die koue voete soos blokke ys teen hare. Sy is beter af as Julia, want Sussie Anna is nog daar. Niemand sal hulle van mekaar af wegvat nie. Dit het haar ousus belowe: Cross my heart and hope to die.

Sy sit haar arm om Julia se lyf. “Vertel nou die storie. Asseblief.”

“Goed, ek begin.”

Julia se stem is asemrig, asof sy ’n groot geheim deel. Die hele slaap­saal het stil geword. Die ander meisies luister ook, want Julia fluister hard genoeg. Sy dink seker self die storie uit, want Poppie het nog nooit gehoor van ’n plaas met ’n goue dam, ’n wonderfontein en laggende feetjies nie. Getroos en half deur die slaap voel sy later hoe Julia uit haar bed klim.

Dikwels daarna wens-droom sy in die klas dat sy net één vakansie na so ’n wonderlike plaas gestuur kan word. Dan hou die mense so baie van haar dat hulle vir haar, Sussie Anna, Nic én Jannie nooi om vir altyd en altyd daar te kom bly. Tot die perde horings kry op die Knersvlakte van Mesopotamië.

Poppie hou op praat, staar na ’n kolletjie op die reisdeken en vee vinnig oor haar oë.

Faan sit doodstil, nie ’n kwiek of ’n kwak uit sy mond nie. Nou ja, wat weet ’n asjas soos hy nou ook van die lewe af? Sy het baie lus en slaat hom met die vuis teen sy boarm, maar sy keer haarself.

Ná ’n rukkie maak hy keel skoon. “Poppie, weet jy … Ek glo daar kan enige tyd in ’n mens se lewe iets opwindends met jou gebeur. Iets wat jou lewe kan verander, soos julle wat onverwags in Bethlehem beland het. Iets goeds gaan daaruit kom, jy sal sien.”

“Ja, wel, is dit wat jy jouself ná my lang relaas wysmaak?”

Sy staan op en trek die kombers onder hom uit, totdat hy omval en onwillig opstaan. Skud die kombers só hard dat die blare rondom hulle opwip, en hulle vou dit saam op.

“Ek verwag dit sal oor ’n paar uur nag wees,” sê sy. “En een van die dae is dit winter, en dan weer lente. Daarvan is ek seker. Ek glo nie aan verrassings nie.”

Hy hou sy hand onder haar elmboog toe hulle terugstap na ant Nelie se losieshuis. Op die stoep soen hy haar liggies op die wang.

“Dankie vir die lekker middag, Poppie. En dankie dat jy my jou storie vertel het. Moenie ophou hoop nie.”

“Ja, ou filosoof.”

Sy lig haar hand om hom ’n vuishou teen die boarm te gee, maar verander dit in ’n ligte veeg. Daar is tog geen salf te smeer aan ’n ewige optimis nie.

Alles begin met Anna

Подняться наверх