Читать книгу Alles begin met Anna - Annemari Coetser - Страница 13

HOOFSTUK 3

Оглавление

Die niekerbôl

1936

Poppie kan nie glo sy is al ses maande op Senekal nie!

Toe sy die werk by Mr Segal gekry het, het sy haarself plegtig belowe dat sy ’n nuwe blaadjie gaan omslaan. In Bethlehem was Sussie Anna altyd ’n bolwerk teen enige moontlike troewels wat sy met haar vinnige tong kon optel. Aan die een kant was haar ousus ’n vertroos­ting, ’n veilige vangnet, maar andersyds het die noulettende toesig haar dikwels halsstarrig en koppig gemaak.

Op Senekal sou sy dinge begin bevraagteken, het sy besluit. ’n Vei­lige vangnet is ook maar ’n bloemin’ beperkende ding. Boonop is Sussie Anna byna agt jaar ouer as sy en al ’n bietjie verstok, nie naastenby so in voeling met wat in die wêreld aangaan nie. Op Senekal sou sy haar eie mens word. Glo sy in iets, of wil sy ’n saak bevorder, sal sy dit doen met haar hele hart en siel. En bereid wees om die gevolge van haar optrede te dra.

Maar in haar agterkop sal sy darem ook dominee Boshoff se vermaning onthou: Liefde wek liefde. In die winkel sal sy gaaf en goed wees teenoor al die klandisie – wit, swart of bruin. Sy sal nie skoorsoek met Mr Segal soos sy altyd met Mr Cristal gemaak het nie. Sy sal gereeld kerk toe gaan, bid vir die weduwees, die wese en die hei­den­skare sonder lig in donker Afrika. Sy sal ’n goeie vriendin vir Corrie en Lukas van Zyl wees. En elke Sondagmiddag sal sy haar strale­kransie blink poets.

Sy onthou so goed die dag toe sy Faan vertel het dat sy gaan verhuis. Blik sement, maar hy was verslae. Hy het die pyp uit sy mond gehaal en ongeërg sy skouers opgetrek, maar sy kon sien die nuus het hom middelpaaltjie skoongeboul. Natuurlik moes hy maak asof dit hom nie traak nie.

“Ons is niks van mekaar nie, Faan,” het sy hom herinner. “Net vriende.”

“Maar ’n vriend mag ’n traan pink as sy lieftallige vriendin weggaan,” het hy vinnig gesê, en sy oë het sowaar geblink.

“Ag wat, jy sal daaroor kom,” het sy dit ligweg afgemaak. “Senekal is nie so ver van Bethlehem af nie, jy kan kom kuier.”

Die dorp is ook heelwat kleiner as Bethlehem, en die mense is vriendelik. Met die teetyd ná kerk is daar altyd van die ouer mense wat met Poppie kom gesels. Op sulke tye verlang sy baie na Sussie Anna en na Jannie. Hulle het altyd alles saam gedoen en Sondae ná kerk saamgekuier. Maar haar suster bel darem gereeld en het beloof om binnekort te kom kuier.

Petronel Botha, ’n vroedvrou wat van Rosendal se omgewing kom, loseer ook by die Van Zyls, maar sy is ’n stil enetjie. Selfs die mense in die lokasie weet van haar en kom klop partykeer snags aan die agterdeur om te vra dat sy moet uithelp. Petronel is gek oor haar werk en kan in gruwelike besonderhede vertel van elke baba wat sy gevang het.

Dan gooi Corrie haar hande in die lug. “Net nie aan tafel nie, kind! Spaar ons dit tog.”

Poppie geniet haar nuwe werk. Mr Segal is ’n goeie baas en hy pruttel nie oor alles soos Mr Cristal nie. Beste van alles is dat sy nou in die klereafdeling werk. O, die lieflikheid van die nuutste modes! En sy moet elke week die afdeling se winkelpop dress, ’n vroulike een met al die regte kurwes.

Saans voor sy aan die slaap raak, maak sy prentjies in haar kop van kombinasies vir die winkelpop. Skoon, elegante lyne, met ’n bietjie tekstuur daarby vir afwisseling. Skoene met hoë hakke. As Mr Segal dit sal toelaat, wil sy een van die duur leerhandsakke onder die pop se slanke porseleinvingers indruk. Sy kan nie naaldwerk doen om haar lewe te red nie, maar Sussie Anna sê altyd sy het ’n oog vir styl. Nou kan sy haarself uitleef.

Langs Segal se Handelshuis is ’n rooi baksteengebou met ’n stoep. Dis die magistraatskantoor, waar daar glo drie klerke en ’n swart tolk werk. Poppie het nog net een van die klerke ontmoet, ’n ouerige man en ’n regte spogter, want hy kom kort-kort kyk watse nuwe voorraad hulle ingekry het.

Vandag bring hy een van die ander klerke saam, ’n jong man.

“Poppie, ontmoet vir Hein Schmidt,” sê hy. “Hein, dis nou mejuffrou Poppie Nienaber, die mooi nooi van wie ek jou vertel het.”

“Nou toe nou!” sê die jong man vrolik. “Dis toe al die tyd die stylvolle dametjie wat ek soggens hier op haar hoë hakke sien verbytrippel. Aangename kennis, juffrou. Báie aangenaam.”

Hy neem haar hand in syne en vir ’n oomblik lyk dit of hy haar hand na sy lippe wil bring om dit te soen. Maar hy bedink hom skynbaar en gee haar ’n stewige handdruk.

“Aangename … e … Bly om te ontmoet,” stotter sy selfbewus.

Sy merk hoe sy oë oor haar figuur in die nousluitende romp en sagte bloese gly. Demmit, sy bloos sowaar.

Mr Segal staan nader en red haar uit die verleentheid. “Kan ek vir julle die nuwe Monatic-hemde wys? Ons het dit net gister ingekry.”

Hy korrel met een oog na Hein toe. “Mr Schmidt, wil jy nie ook een aanpas nie? Ek dink dit sal goed pas by jou styl.”

Hein knipoog vir Poppie. “Natuurlik sal ek een aanpas, Mr Segal. Dan kan hierdie juffer my sommer daaroor adviseer.”

Die ouer klerk maak verskoning; hy moet dringend terug werk toe.

Hein skuif ’n paar minute later die gordyn van die aantrekhokkie oop en kom staan voor haar. “Hoe lyk dit, juffrou? Pas die kleur my?”

Die man klink effens verwaand, maar sy het haar mos voorgeneem om vriendelik, tegemoetkomend en behulpsaam teenoor almal te wees. “Dit pas u soos ’n handskoen, meneer Schmidt,” sê sy dus. “Kan ek dit vir u opmaak?”

Terwyl sy die hemp in bruinpapier toedraai en die faktuur uit­skryf, is sy baie bewus van hom. Hoekom het niemand haar nog van dié kêrel vertel nie? Die jong meisies op die dorp behoort gaande te wees oor die aantreklike Hein met sy golwende donker hare, fynbesnede neus en kuiltjie in die ken.

Dit is nie praatjies vir die gek nie, dat liefde ook weer liefde wek nie, sê dominee Boshoff se verjaarsdagboekie, en Poppie kan nou vir die waar­heid van dié stelling instaan.

Dinge het vinnig tussen haar en Hein ontwikkel. Hulle ken mekaar al twee weke lank en hy kuier gereeld by haar. Sy en die lang, maer man met die sielvolle bruin oë is nou amptelik nooi en kêrel. Hy is drie jaar ouer en dus net die regte portuur vir haar.

Corrie is egter nie so ingenome met haar keuse nie.

“Hein is die hele Senekal se niekerbôl,” sê sy toe Poppie haar die nuus vertel.

“Ek is jammer om dit te hoor, want ek hardloop nie graag saam met ’n trop skape nie. Aan die ander kant bevestig dit seker dat ek goeie smaak het.”

Corrie lag en trek haar skouers op. “Dit bly nog skaapsmaak. Maar dis jou keuse. Ten minste is hy ’n ambisieuse, hardwerkende jong man. Moet net nie sê ek het jou nie gewaarsku nie. Jy sal nog sy ma ontmoet, dan praat ons weer.”

“Maak nie saak wat hulle dink nie, Hein is nou mý niekerbôl. Hy’s die mooiste man wat ek al ooit gesien het. Dink jy nie ook hy’s baie manlik nie?”

Corrie raps ’n hou na haar met die vadoek. “O, hemel, iemand het die skoot hoog deur! Maar goed, ek onthou nog dat ek ook so oor Lukas aangegaan het. ’n Hele paar jaar gelede.”

“En kyk hoe lyk julle nou: ou getroudes wat elke aand sit en nuus luister en politiek praat.”

“Parmant! Het Hein jou al gesoen?”

“Vir my om te weet en vir jou om uit te vind!” Poppie strek haar arms bo haar kop, draai in die rondte en wals by die kombuis uit.

Nog nie eens één soen nie, dink sy spytig. Een van hulle twee moet begin aanstaltes maak, en dit beter Hein wees.

Hy kom haal haar gewoonlik ná werk by die winkel en dan stap hulle saam losieshuis toe. Maar net die volgende dag lei hy haar in die stegie tussen die winkel en die magistraatskantoor in. Daar hou hy haar kop tussen sy hande vas en soen haar met ’n passie wat haar ver­stom. Elke keer wanneer hy sy mond wegneem, smag sy na nog.

“Ek sien jou later,” sê hy toe hulle die losieshuis bereik. “Gaan ons weer in die sitkamer saam met die Van Zyls kuier?”

“Waar anders? Dis al plek waar dit warm is.”

“Dis waar, maar daar’s geen privaatheid nie,” mor hy.

Almal speel saans saam brug of ’n ander kaartspel. Hein vaar gewoonlik uitstekend. Poppie speel half teësinnig, want sy kan Broer Jannie sommer hóór sê: “Dis duiwelsprenteboek!”

As jy ’n niekerbôl suig, verander die stukkie lekkergoed heeltyd van kleur. Gou begin Hein ook van sy ander kleure wys. Hy het nogal definitiewe voorkeure oor wat ’n meisie moet doen of nie moet doen nie, maar Poppie verseg om haar te laat voorskryf. Daar is ander metodes, soos om dinge vir hom weg te steek. Hy hoef nie te weet dat sy elke aand ’n sopie senuweeversterker drink nie. En as hy dink dat haar vel van nature so sag is, hoef sy hom nie te vertel van die duur pommade wat sy soggens en saans aansmeer nie.

Sy ontdek ook mettertyd wat Hein se voorliefdes is. Hy is ’n man vir tiermelk, spesifiek vir Chateau-brandewyn. Hy het haar ook sommer gou ingelyf in die vreugde van ’n goeie port – dieselfde as wat vir Nagmaal bedien word en daarom, volgens hom, geensins sondig nie.

Die Van Zyls het niks daarteen nie. Trouens, hulle neem ook saans voor die kaggelvuur ’n drankie of twee. Lukas se nuwe Philco-radio word op die sideboard staangemaak en verskaf agtergrondmusiek ter­wyl hulle kuier of kaartspeel. Soms sal Lukas een van sy plate op die draaitafel sit, en wanneer ’n wals of seties speel, is Hein op sy voete. Dan kom buig hy op ’n ouwêreldse manier voor Poppie en vra of sy asseblief hierdie nommertjie aan hom sal afstaan – asof daar ’n hele ry jong mans toustaan om met haar te dans.

Sy kom gou agter dat sy gek is oor dans. Nie dat sy so goed is daarmee nie, al probeer sy hard om by te bly by Hein. Maar hy lag vir haar kort treetjies en swaai haar sommer van haar voete af. Dit doen iets aan haar maag, of iewers ’n bietjie ondertoe, wanneer hy so lekker lag dat die plooitjies om sy oë kreukel. Sy hand pas lekker stewig om haar dun middeltjie en sy wye broekspype flap teen sy bene wanneer hulle in die rondte draai. Haar een arm is oor sy skouer, hy hou haar ander hand styf vas. Hulle vingers is ineengestrengel. Sy mond is teen haar wang, sodat sy die Brylcreem in sy hare kan ruik. Miskien nog ’n soen? Hier voor al die mense? Nee, dis net ’n ligte vegie van sy lippe oor hare, maar dit jaag rillings van lekkerkry teen haar ruggraat af.

Met Hein is die lewe vol grappies, nes Poppie daarvan hou. Party­keer moet sy haarself knyp by die besef dat sy nou al die sondes pleeg waarteen sy haar lewe lank gewaarsku is. Maar wat daarvan? Sy het haar mos voorgeneem om alle dinge te ondersoek en die gevolge te dra. Sy het nog net nie begin rook nie, maar eendag gaan sy dit tog probeer. Sussie Anna kry die papelellekoors as sy moet uitvind, maar tot dusver put sy pure genot uit kaartspel, drank, dans en begeerte, baie dankie.

Een aand bel Faan. Juig my siel met blye galme! Hy vertel haar dat hy nou ’n nooientjie het.

“Een van die dae kom stel ek haar aan jou voor. Ek moet net seker maak dat sy nie ’n skerp mes of gif inpak nie. Ek praat so baie van jou, sy slaan skoon in groen kolle uit wanneer sy jou naam hoor.”

“Ja, ja,” lag Poppie. “Weet sy ook dat jy so ’n vleier is? Maar ek’s bly vir jou onthalwe. En sê vir haar sy het ’n kêrel duisend.”

Laat een lentemiddag klop Hein aan haar kamerdeur. Vandag het hy blinkgekamde hare, pure beeslek.

“Kom kyk wat staan hier buite in die straat,” sê hy en trek haar aan die hand gangaf. Sy het al haar skoene uitgeskop, maar hy is so opgewonde dat hy haar nie eens die kans wil gun om dit aan te trek nie.

Reg voor die losieshuis staan ’n wynrooi kar met wielspeke wat blink in die son.

“En dit?” Poppie slaan haar hand voor haar mond. “Wie se mooi kar is dit? Die magistraat s’n?”

“Myne, skattebol.” Hein druk sy wysvinger teen sy bors. “Hierdie man het nou sy eie ryding.”

“Het jy ’n lening by die landboukoöperasie gekry?”

Hy lag. “Hulle sal tog vir my geld leen.”

“Juis.” Sy loop eina-voet saam met hom om die kar.

“Dis ’n Vauxhall Light Six,” verduidelik hy. “1934 se model. Is sy nie spoggerig nie? En sy kan loop, hoor! Twaalf perdekrag, jy kan jou amper verbeel jy voel die perde onder die enjinkap beur.”

Vir Poppie is meganiese goeters nie juis sierlik nie, maar staan jy langs die kar, sien jy hoe die hoog opgesnyde modderskerms so ’n elegante S-kurwe oor die wiele maak. Soos ’n vrou se skouers in die nuwe mode van prominente skouerkussings. Aan die kar se voorkant sit twee ronde, blink koplampe en net voor die passasiersdeur sit die spaarwiel.

Hein hou die voorste passasiersdeur vir haar oop. “Klim in, dan vat ek jou vir ’n spin.”

Sy wip ligvoets op die trappie en dan tot in die motor, kaalvoet en al. Hein stap om en skuif agter die stuurwiel in.

“Kyk, hier sit die gear lever,” beduie hy. “En dis die choke. Voel die leeroortreksel. Spiff, nè?” Hy tel haar hand op en hou dit op die stuur­wiel vas. “Hulle sȇ dís nou die kar waarvan almal praat. En kyk die reenveër.”

Poppie kyk en sy voel. Sy oe en aa, vryf oor die knoppies en streel die sitplekke. Sy leun agtertoe en bewonder die knus agtersitplek en die mooi reghoekige vensters.

Hein draai die sleutel en die enjin vat dadelik. “Hou vas!” roep hy. “Sy versnel skitterend.”

Poppie is ’n koningin toe hulle straataf ry. Soos koning George seker vir sy onderdane wuif, wil sy ook vir die mense waai. Hierdie kar is definitief nie ’n kaalvoetkar nie. Sy moes eintlik haar nuwe wit skoene met die oop toonpunte aangehad het.

Hein druk die toeter en jaag om die draaie sodat sy moet vashou om nie teen hom te val nie.

Toe hy later voor die losieshuis stilhou, sê hy: “Ek het ’n kluitjie gebak. Dis my pa se kar, maar hy’t gesê ek kan dit leen net wanneer ek wil. My oudste broer gaan eendag die plaas erf en ek vermoed dis my pa se manier om die skaal darem so effens in my guns te laai.”

“Bedrieër!” Sy knyp hom liggies aan die bobeen. “Ek het dit in elk geval vermoed, want jy’s net so ’n kerkmuis soos ek. Hoekom hou jy nie van boer nie? Jy’t dan op die plaas grootgeword.”

Hy trek ’n gesig. “Juis. Droogte, hael, swak oeste. Nee wat, dis nie my idee van ’n genotvolle lewe nie. Ek het geen trek vir boerdery nie. My heil lê eerder in die openbare sektor.”

Hein se ouers boer op die plaas Stampriet in die Senekal-distrik. Dit gaan glo broekskeur weens die droogte, maar die Schmidts se inter­pretasie van broekskeur verskil sekerlik van die Nienabers s’n.

Hy neem Poppie die volgende Sondag Bethlehem toe sodat hy haar suster en broer kan ontmoet. Eintlik seker eerder om met sy pa se nuwe motor te spog, maar Poppie sien geen kwaad daarin nie.

Soos afgespreek, gaan laai hulle vir Sussie Anna ná die oggenddiens by die kerk op. Poppie se oë bly op haar ousus se gesig. Wat gaan haar eerste indruk van Hein wees, en van die feit dat hy met geleende vere pronk? Haar sus kan dwarsdeur mense se aanstellery sien – dit leer sy by haar werk.

Maar Sussie Anna groet Hein baie hoflik en vra uit na die toestand van die pad en hoe lank die reis geduur het. Sy verneem na sy ouers en maak geselsies oor die weer. Poppie is baie trots op haar ousus wat so mooi lyk in haar wit tweestuk met die bypassende wit skoene. ’n Navy-blou serp met wit kolletjies is liggies om haar nek geknoop. Hulle twee Nienabermeisies sal glad nie by die grênd Schmidts afsteek nie, dis nou maar wors.

“Jannie kon ongelukkig nie saamkom nie,” sê Sussie Anna. “Die sendeling het hom saamgenooi na ’n diens in die lokasie. Hy vra om verskoning dat hy jou nie kan ontmoet nie, Hein.”

“Ag, dis jammer,” huigel Poppie.

Dis uitstekende nuus! Jannie kan so ernstig wees dat ’n mens skoon skuldig voel as jy vrolik is en lag. Nou kan haar ousus vir Hein beter leer ken en sien hoe innemend hy is.


Poppie by Loch Athlone

Sussie Anna het gereël dat ant Nelie van die losieshuis vir hulle ’n piekniekmandjie pak. Hulle gaan laai dit op, kuier ’n rukkie by die tante en ry dan na Loch Athlone.

Hein haal ’n reisdeken uit die motor en sprei dit vir hulle op die grond oop.

“Ek het die nodige saamgebring vir ons innerlike verster­king.” Hy haal sy bottel Chateau en ’n skroeffles met water uit, asook ’n bottel soetwyn. “Wat van ’n blymakertjie vir julle meisies? ’n Bietjie soetwyn vir jou ook, Anna?”

Sussie Anna kyk na Poppie en lig haar wenkbroue veelseggend. Maar sy knik tog. “Dankie, Hein, dit sal lekker wees.”

Miskien het die drankies almal se tonge losgemaak, want hulle kuier verloop geselliger as wat Poppie ooit kon hoop.

“Hein is smoorverlief op jou,” sê Sussie Anna toe hy ná ete na die kleinhuisies toe stap.

“Dink jy regtig so?” Poppie druk haar handpalms teen mekaar. “Ag, ek wens tog so jy’s reg. Hy is ’n goeie man.”

“Ek kan sien hy’t jou voete ook onder jou uitgeslaan.”

“Hoe sien jy dit? Ek lyk dan nes altyd.” Sy trek skewemond en kyk skeel.

“Ek ken jou mos,” ignoreer Sussie Anna haar verspottigheid.

Sy trek Poppie nader en soen haar op die voorkop. “Moet net nie dat hy met jou mors nie, Vlooi. En moenie blind wees vir die waarskuwingstekens nie. Jy loop nou nog met sterre in jou oë, so dis vir jou ondenkbaar dat hy enige foute kan hê.”

“Sê jy jy hou nie van hom nie? Wat het hy verkeerd gedoen?”

“Dis nie wat ek sê nie, Vlooi. Dis net … Wat is dit met hom en die Jode? Het hy iets teen Mr Segal?”

Poppie frons. “Ek weet Hein hou niks van hom nie, maar dis seker omdat ek partykeer ná toemaaktyd nog agterbly om ’n bietjie reg te pak. Dis nie Mr Segal se skuld nie, ek doen dit uit eie keuse. Dis vir my beter as om die volgende oggend vroeër op te staan. Hoekom vra jy?”

“Want netnou toe jy vir die ganse die oorskietbrood gaan voer het, het hy my gevra wat ek van die Nazi’s dink. En nog voor ek kon antwoord, het hy erg negatief … O gorrel, hier kom hy nou. Kom ons verander die onderwerp. Hou maar net jou oë oop.”

Dié aand in haar kamer slaan Poppie die lakens oop en skuif haar reg in die bed. A, salig. Die hele dag was eintlik salig. Al wat dit bederf het, was Sussie Anna se opmerking oor Hein en die Jode. Is hy regtig teen hulle gekant?

Sy dink aan die aand toe hy vir die Van Zyls gesê het Hitler kan die Afrikaner help om die Britse juk af te gooi. Maar is dit nou regtig so verkeerd? Het sy haar dan nie in elk geval voorgeneem om nie meer alles wat haar suster glo klakkeloos te aanvaar nie? Maar beteken dit dan sy moet oor alles met Hein saamstem?

Sy draai op haar sy. Binnekort gaan sy met Hein praat, besluit sy, dan kan hulle die saak uitklaar.

Die pratery gebeur nie, want ander dinge kom in die pad.

Belangrike dinge, soos dat Hein haar een somersaand vra om saam met hom te gaan stap. Sy is self moeg vir kaartspeel en Ludo en sy gaan trek gemakliker skoene aan.

Hulle stap in Ds. Paul Roux-straat af terwyl ’n volmaan deur die takke van ’n eikeboom vir hulle loer. Hein gaan staan en trek haar onder die boom se skaduwee in. Haar rug is teen die stam toe hy sy kop laat sak en haar soen. Die soen is lig, verkennend, maar dan raak sy lippe al meer eisend, nes laas. Is sy ’n goedkoop meisie dat dit vir haar so lekker is dat sy haarself teen hom wil aandruk?

Maar Hein het skynbaar dieselfde behoefte, want hy druk sy lyf só styf teen haar vas dat sy duidelik kan voel dat hy haar begeer. Hy maak die boonste knope van haar rok los, sy vingers vroetel onder haar buustelyfie in. Met ’n gesmoorde uitroep druk sy hom weg. Haar bene wil onder haar invou. Heerlike Sion! Sy soene was so wild, sy sweer hy het al haar lipstiffie afgesoen. Miskien nog haar gesigpoeier en rouge ook.

Hy staan effens tru en sy asem jaag. “Ek het jou lief, Poppie. Jy weet dit, nè? Sê dat jy dieselfde vir my voel? Toe, sê dit dadelik! Jy weet nie wat jy aan my doen nie.”

“Het jy my regtig lief? Of gaan dit eintlik oor … ?”

“Waaroor? Dat ek jou begeer?” Hy haal ’n sakdoek uit sy broeksak en vee oor sy gesig. Sy kan sien dat hy hom met moeite bedwing.

Geleidelik kom haar asem ook tot bedaring. Sy trek haar rok reg en knoop dit toe.

Hulle val weer langs mekaar in en stap hand aan hand verder son­der om oor Hein se liefdesverklaring te praat. Die wete is vir Poppie nog te nuut om dit te probeer uitpluis.

Toe sy later in die bed lê, moet sy haarself knyp om seker te maak dis nie ’n droom nie. Dís dan hoe dit voel om waarlik liefgehê te word. Die wonderlikste gevoel denkbaar – selfs lekkerder as dans.

Maar het hy dit werklik bedoel? Of was sy liefde eerder ’n uit­spraak in die drif van die oomblik?

Alles begin met Anna

Подняться наверх