Читать книгу Vaselinetjie - Anoeschka von Meck - Страница 10

2

Оглавление

Die volgende oggend word sy wakker van ’n geraas. Dis ’n malle lawaai van stemme wat tussen die kamers heen en weer skree en gesels en lag. Tussendeur probeer die tannie die klomp aanjaag.

By die bed aan Vaselinetjie se ander kant staan ’n tingerige meisie met versnipperde vaal haartjies wat Vaselinetjie aan ’n toiletborsel laat dink. Haar voortande is afgebreekte stompies en bruin gevlek. Toe sy in Vaselinetjie se rigting kyk, kyk Vaselinetjie vinnig weg.

Twee bruin meisies is besig om Vaselinetjie se tas om te dop en haar klere deur te kyk. “Lossit!” Sy spring onder die duvet uit en probeer haar goed teruggryp.

“Aikôna,” hou die een meisie dit buite haar bereik, “dit moet alles afgaan waskamer toe voor jy dit kan merk en wegpak.” Toe lag sy. “Is jy in ’n apteek gebore?” Sy wys die naamlappies wat ouma Kitta netjies in die nek van elke kledingstuk vasgewerk het vir die ander een. “Jy sal als moet aftorring, hier kry jy net ’n nommer.”

’n Groot meisie met die langste swart vlegsel wat Vaselinetjie nog gesien het, kom by die kamer in. Sy maak vinnig al die kaste se deure oop en begin klere uitgooi. Dan loer sy onder die beddens in en pluk die kussing van die bed langs Vaselinetjie s’n weg. Onder die kussing lê ’n pantie, vuil skoolsokkies en ’n eenbeenpop.

Die meisie vat die pop en draai die kop met een besliste beweging af. “Ek dog so,” sê sy toe ’n botteltjie uitval. “Jy’s gehok vanmiddag, Albie!” sê sy streng.

Vaselinetjie sien hoe die kind met die toiletborselhaartjies die grond tref asof iemand haar in die kop geskiet het. Sy slaan met haar vuiste en skop met haar bene asof sy op die vloer probeer roei. Die ander meisies lag, maar Vaselinetjie staar haar oopmond aan. Sy’t in haar lewe nog nooit ’n uitgegroeide kind só sien aangaan nie.

“Hoekom is jou bed nog nie opgemaak nie?” vra die vlegselmeisie skielik.

Vaselinetjie is so paniekerig dat sy nie weet wat om te sê nie. Sy het nog net ’n paar keer met ’n blanke meisie gepraat en dit maak haar ekstra bang omdat sy weet die meisie is al in die hoërskool, want sy’s langer as almal en het borste. Haar naam moet Kitcat wees, dink Vaselinetjie, want Albie is besig om haar kliphard uit te vloek.

“Gaan jy jou net natpis of kan jy praat ook?” Kitcat tree nader en Vaselinetjie wil koes, maar toe sien sy Kitcat hou ’n roll-on na haar toe uit. “Is dit joune?”

“Uh,” knik Vaselinetjie haar kop, “is myne. It was las nog in my se kys gewies.” Sy herken nou eers die botteltjie. Roosgeur met ’n pienk doppie. Ouma Kitta het dit nog nuut vir haar gekoop saam met haar Johnson’s baby powder en cream.

Almal kyk vir haar. Albie hou skielik op met skree en staar ook na haar.

“Jy’s dan wit soos ek, vir wat praat jy soos ’n hotnot?” sê Kitcat, en die ander skater van die lag.

Vaselinetjie se gesig brand van skaamte. Sê nou die blankes slaan haar? “Wat ek gebore is, is ek maa’ altyd so lig,” mompel sy net.

Gaan dit nou hier ook wees soos by haar ou skool waar hulle altyd gesê het sy lieg? Sy voel die opgooi in haar keel. Het die antie haar nie per ongeluk in die donker in die verkeerde kamer gesit nie?

Die volgende oomblik klap dit soos Albie reguit agteroor val en haar kop die vloer tref. “Néééé!” gil sy dat die are in haar nek uitstaan. “Ek gaan nie my kas regpak as daar ’n houtkop in my kamer is nie!”

“Ag, hou jou bek, Albie. Ek vat liewer ’n hottie as ’n dief en ’n skrougat any time,” sê die meisie by die bed aan Vaselinetjie se ander kant. Haar stem is eentonig, asof sy verveeld is. Vaselinetjie herken dit dadelik as die stem van die vorige aand. Die meisie het ’n bleek gesig en spierwit hare wat in twee dik boksterte vasgemaak is.

“My naam is Killer,” groet sy bo-oor die lawaai terwyl sy die slot aan haar kas toeklik en Albie se bondel skoene voor die bed eenkant toe skop. “Ek het my stiefpa se klere met my lighter aan die brand gesteek toe hy dronk was. Toe moes hy ’n skin transplant kry. Nou mag ek nie meer by my huis kom nie, maar dis ok fine.”

Aan haar manier van praat kan Vaselinetjie nie agterkom of Killer vriendelik, kwaad of hartseer is nie. Sy klink eintlik ’n bietjie brêgherig oor wat sy vertel.

Vaselinetjie begin haar bed opmaak en probeer om niks verder te sê nie, maar terselfdertyd is sy bang dat as sy net stilbly, die ander kinders met haar gaan baklei.

“… net twee hande en twee voete, dis wat ek het, maar nee, die government traak mos nie daaroor nie. Stop vyftien kinders in een huis vir een huisma om na te kyk. Waar is reg en geregtigheid, vra ek jou?” hoor Vaselinetjie die huistannie buite in die gang kla.

Sy loop agter die ander kinders aan na die sitkamer waar die meisies by hulle studiebanke gaan sit om ontbyt te eet. Elkeen kry ’n bakkie pap en daar staan brood in die middel van elke tafel. Die koffiebekers staan klaar gedek.

Vaselinetjie kyk nie links of regs nie, maar dit klink vir haar of dit The Bold and the Beautiful is wat op die TV speel. Dit laat haar van voor af hartseer voel, want sy en haar ouma het dit altyd saam gekyk.

“Gaan jy eet of gaan jy net maak of jy onsigbaar is?” vra Killer.

Selfs al was haar keel nie so toegetrek nie, sou Vaselinetjie nie kans gesien het vir die blerts pap voor haar nie.

“Die velle is gross, maar jy moet dit net laat afgly en maak asof dit vla is,” sit Albie in. Sy wag aspris tot Vaselinetjie na haar kant toe kyk en trek dan tydsaam die gestolde vel van haar pap af. Sy laat dit in haar mond afsak soos iemand wat ’n erdwurm sluk.

Vaselinetjie voel die kinders se oë op haar. Hulle wag die hele tyd dat die tannie haar iets moet vra, sodat sy móét praat.

“Ugh!” spoeg Albie haar pap amper uit. “Julle het al weer te min suiker vir my opgesit. Het tannie gehoor hierdie wit meisie praat nes ’n kleurling, hè, tannie?”

“Los haar,” slurp die tannie aan haar koffie waar sy vasgenael voor die TV sit. “Sy kan dit nie help nie. Hulle praat maar so daar waar sy vandaan kom. Sjarrap nou en maak klaar.”

“Jy moet dit maar vat soos jy dit kry,” probeer Killer vir Vaselinetjie gerusstel. “Kitcat-hulle gooi soms suiker op en ander kere weer nie, en daar’s net mooi fokkolo wat mens daaraan kan doen.”

Ná ete wys Kitcat vir Vaselinetjie ’n lang lys met pligte wat in die kombuis opgeplak is. Dit sê watter werk elke kind in die huis moet doen. Kitcat skryf nie Vaselinetjie se naam op nie, net ’n nommer.

“Sien,” beduie sy, “jy’s 113. Een-een-drie. Dis jou wasgoednommer, het jy dit?”

Vaselinetjie frons terwyl sy die pligte lees. Skottelgoed was, afdroog, vee, mop, vullisdrom uitgooi, en so aan.

“Moet ek my plig die hele jaar lank doen?” vra sy vir Killer.

“Is jy nou mal? Hoe dink jy gaan my hande lyk as ek ’n blooming jaar lank moet skottelgoed was, hè? Ons ruil elke week, almal se nommer skuif een plek af. Behalwe as jy vir Kitcat of die tannie kwaad gemaak het, dan sit hulle jou net waar hulle wil, vir so lank as wat hulle wil. Ek moes al ’n maand lank dromme uitgooi, tot iemand gaan klik het dat ek meantime lekker agter die muur staan en rook.”

Nommer 113 word regoor “uitvee” geplak. Vaselinetjie glimlag amper van verligting, want dit is ten minste iets wat sy weet hoe om te doen.

“Ek kán vee, jy moet my net wys waar die besemgoete is, gahoor?” sê sy vir Killer en bloos bloedrooi toe dié haar snaaks aankyk.

Toe sy klaar gevee het, wil sy net ’n bietjie by die agterdeur uitgaan om weg te kom van al die starende gesigte en onbekende stemme wat vir haar loer en lag, maar die deur is bot toe.

“Dis altyd gesluit, onnosel,” sê iemand wat verbystap.

Daar is nêrens om alleen te wees nie. Nêrens waar ’n mens kan huil sonder dat iemand jou sien nie.

“Jy mag nie uitgaan voor ons nie in die ry staan om skool toe te stap nie. En dan wil Kitcat nog eers jou naels sien en deur jou tas krap,” sê Killer en sy kom saam met Vaselinetjie deur die tralies van die sekuriteitshek staar.

Maar Vaselinetjie mag nie dadelik saam met die ander kinders skool toe gaan nie.

“Die tannie wag vir jou in die badkamer. Jy moet eers ge-delice en ontwurm word,” stuur Kitcat vir Vaselinetjie van die agterdeur af weg terwyl die res van die meisies een vir een by haar verbyloop. Party kyk terug met sulke lekkerkry-glimlaggies.

“Kry vir jou, sista!” roep Killer oor haar skouer.

Sal dit hier nog slegter met haar gaan as by haar vorige skool? Vaselinetjie se ken wil-wil begin bewe terwyl sy deur die tralies na die ander kinders kyk wat af dorp toe stap. Sy sien hoe Killer-hulle eers onder die bome stop om hul uniformskirts op te rol dat dit korter kan wees.

Sy was nog nooit in ’n gemengde skool met blanke kinders nie. In haar ou skool was sy en Avril Philander die witste. Avril was altyd baie wintie oor haar lang reguit hare en het stories rondvertel dat Vaselinetjie se ouma haar hare skelm straighten om dit ook so reguit soos hare te kry.

Boonop het Avril heeltyd gemaak of sy kamstig Engels is. Missies Philander het nes haar dogter gemaak, en ouma Kitta het gelag as Vaselinetjie vir haar wys hoe Avril en haar ma hulle monde trek. So.

Dan sê Ouma altyd mens moet eintlik vir hulle jammer voel, want jy is wat die Liewen Vader jou gemaak het en jy moet dit aanvaar en daarmee saamlewe. God maak nie foute nie.

Vaselinetjie

Подняться наверх