Читать книгу Vaselinetjie - Anoeschka von Meck - Страница 6

1

Оглавление

Die bloed loop taai teen Vaselinetjie se regterknie af. Daar’s ’n druppel op die vloer net voor haar bank en sy steek haar voet uit om met haar skoolskoen daaroor te vee voor die juffrou sien.

Voor in die klas is Donovan Roman besig om vir die hoeveelste keer die week “Nkosi Sikelel’ iAfrika” uit te skryf. Al die ander graadvyfs ken dit al uit hulle kop – Vaselinetjie die beste van almal. Bo die swartbord hang ’n groot horlosie. Vaselinetjie probeer om nie op die horlosie te kyk nie, want sy weet dit gaan altyd gedurende die dag staan, maar nogtans hou sy die wysers gespanne dop.

Wanneer die huistoegaanklok lui, moet sy eerste by die klas uit wees. Anders gaan sy meer as ’n stukkende knie hê teen die tyd dat sy hulle jaart haal.

Hulle gaan haar slat, het hulle gesê.

Hulle gaan haar dik skop en haar ponies alles uitpluk.

Hulle gaan aanhou en aanhou tot sy vir hulle sê.

Tant Kitta Bosman haal haar voorskoot af toe sy die ghrênd motor voor die tuinhekkie sien stop.

Dis die prinsipaal.

Dis nou al die derde keer dié kwartaal dat hy self vir Vaselinetjie by die huis kom aflaai. Hy’s ’n goeie man, dink tant Kitta. ’n Besorgde mens wat nie bang is om sy moue vir die kinders in sy skooltjie op te rol nie.

Sy loop nie dadelik voordeur toe nie, maar kyk eers skelm deur die kombuis se klein venstertjie. Na haar kleinkind.

Toe sy die swart koppie met die twee lang boksterte en wit ingevlegte linte langs die prinsipaal sien uitklim, sug sy van verligting.

Solank die kind net veilig is!

Sy maak die voordeur oop en glimlag vriendelik vir die prinsipaal. “Middag, meneer, hoe gaan dit?”

“Middag, mevrou Bosman. Mevrou, ons sal moet praat …”

Vaselinetjie staan agter die prinsipaal tot die grootmense begin gesels. Dan skuur sy verby, die gang af. Ná ’n rukkie kom sy skoongewas met ’n gehekelde toppie en ’n skirtjie aan uit haar kamer en gaan maak vir die prinsipaal en haar ouma tee in die kombuis. Sy pak die koppies versigtig op die pierings met die ore almal na dieselfde kant gedraai soos haar ouma haar geleer het terwyl sy iets van die gesprek probeer hoor.

“Dit kan nie so aangaan nie,” sê die prinsipaal. “U verstaan tog dat daar iets aan die saak gedoen sal moet word, nè?”

Vaselinetjie kan nie hoor wat haar ouma antwoord nie, maar toe sy die skinkbord wankelrig die sitkamer binnedra, sien sy haar ouma ’n traan wegpink.

Vaselinetjie

Подняться наверх