Читать книгу Vaselinetjie - Anoeschka von Meck - Страница 7

2

Оглавление

In die tweede kwartaal van Vaselinetjie se volgende skooljaar daag ’n vreemde motor by die skool op. Dis nou al ’n paar weke vandat die prinsipaal en die predikant een aand tot laat by Oupa en Ouma sit en praat het.

Twee vrouens klim uit die motor, een wit en een swart. Hulle lyk ongemaklik in die middaghitte met hul gepêdse pakke en halfmashakke aan.

Hulle kom van iewers ver, kan Vaselinetjie sien, want die kar se voorruit is vol dooie goggas en stof. Sy ken ook nie die vreemde nommerplaat nie. Die kinders lag agter hulle hande vir die twee vrouens en ’n paar loer by die motor in om te sien of die ruite van daai is wat met knoppies op en af skuif.

Nog voor Vaselinetjie kantoor toe geroep word, voel sy al ’n aardige bangheid. Sy dink daaraan om vinnig by die skoolhek uit te glip en na haar oupa se groentewinkeltjie aan die ander kant van die dorp te hardloop, maar as sy in skooltyd daar aankom, sal sy hom verleë maak voor sy kopers omdat sy so stout is.

In die kantoor sleep die prinsipaal ’n ekstra stoel vir haar nader. “Vaselinetjie, dié dames is van die Welsyn en hulle wil net ’n bietjie met jou gesels.”

Sy loer na die anties en dan na die papiere wat voor Meneer op sy lessenaar lê. Sy probeer sien of Meneer haar rapport ook daar het en of hy haar punte vir die anties gaan wys.

Die wit antie vra ’n klomp vrae, maar sy’s niks kwaai nie. Sy sê Vaselinetjie het die mooiste lang hare. Die swart antie praat nie met Vaselinetjie self nie, net met die prinsipaal en die wit antie, op Engels. Dit laat Vaselinetjie ongemaklik voel dat dié antie haar so stip aankyk en dan haastig goed in haar lêer neerskryf.

Toe die sekretaresse die teetrollie inbring, sê Meneer Vaselinetjie kan maar teruggaan klas toe.

“Sien jy nou?” tart Katie Draghoender toe Vaselinetjie in hulle bank inskuif. “Daai anties het jou kom haal oor jy altyd lieg!”

Cherise, wat altyd in haar neus krap en dit dan eet, draai van voor af om. Sy trap aspris op Vaselinetjie se tas. “Twiegevriete soos jy kan nie by ons bly nie!”

Hulle lag so hard dat die juffrou opstaan en tussen die banke kom deurloop.

Daardie naweek voel Vaselinetjie asof ’n groot hartseer soos sleepmis oor hulle huis toegesak het. Ouma en Oupa is stil, en soms as Ouma sit en groente skil, sien Vaselinetjie hoe ’n traan sommerso teen haar wang afloop.

Sondagoggend voor kerk gesels die predikant ’n rukkie met Oupa en sit sy hand op Oupa se rug. ’n Paar van Ouma se vriendinne kyk bejammerend na haar en gee dan vir Vaselinetjie so ’n hartseer glimlaggie. Amper soos hulle altyd by begrafnisse doen.

Ná kerk vat Oupa hulle om ietsie soets by die keffie in die bodorp te gaan eet. Dis ’n rare gebeurtenis en Vaselinetjie geniet dit gewoonlik vreeslik, maar vandag voel dit of Ouma en Oupa nie die toringroomyse vol bruin sjokoladesous in hulle glase geniet nie.

“Vaselinetjie,” sê Oupa toe hulle by die huis kom en hy sy kerkdas met ’n sug losmaak, “wat die nuwe kwartaal begin te loep, gat jy na ’n anner skool. Dis op ’n anner plek, vér hiervandaan. Maar dit kan nie anners nie, Oupa se darling moet verstaan …”

Toe begin snik Oupa só dat Ouma vir Vaselinetjie aan die hand na haar kamer toe vat. Hulle sit op Vaselinetjie se bed en Ouma hou haar vas en wieg haar saggies soos toe sy nog klein was.

Vaselinetjie kan haarself in die spieëlkas se deur sien en skielik weet sy dat dit wat sy sien, iets te doen het met hoekom sy moet weggaan. Dat alles gaan verander en dat dit nooit, ooit weer dieselfde saam met Oupa en Ouma gaan wees nie.

Sy vlie op en hardloop by die agterdeur uit, spring oor die heining by die plek wat al laag gedruk is van al die jare se oorklouter en hol die veld in.

Sy haat hierdie dag!

Sy haat die prinsipaal wat altyd vir haar sê hoe slim sy is en hoe hard sy werk en hoe trots hy op haar is. Sy haat hom omdat hy haar uitgelok het om met die vreemde anties te praat.

Sy haat die kinders by die skool wat haar altyd spot en afknou en haar hare trek en aanhou sê sy jok.

Sy haat haar oupa en ouma omdat hulle te oud en te arm is om haar weg te steek.

Sy haat haar boksterte wat nooit reg wil sit nie en sy haat haar stupid naam.

Maar meeste van als haat sy haarself omdat sy so dom was om die verkeerde goed vir die vroumense te sê en nou moet sy vir ewig weggaan.

Vaselinetjie

Подняться наверх