Читать книгу Vaselinetjie - Anoeschka von Meck - Страница 13
1
ОглавлениеDie dae word weke, word maande. Vaselinetjie kan maar net nie gewoond raak aan die vreemde kinderhuislewe met sy loeiende sirenes, bakleiende kinders en nors tannies nie. Sy bly so ver moontlik uit almal se pad en praat net die nodigste. Die Septembervakansie bring ’n bietjie verligting toe van die kinders uitgaan, en sy lê meestal op haar bed haar biblioteekboeke en lees. Sy is bly toe die laaste kwartaal aanbreek. Die eindkwartaal is ten minste kort en dan weet mens die lekker lang vakansie lê net om die draai.
O, sy kan nie wag om huis toe te gaan nie! Wag net tot haar ouma-hulle hoor hoe dit in dié plek gaan! Die gevloek en geskel, haar tweedehandse skoolklere en hoe voor op die wa en hups die kinders is. Sy’s seker haar oupa sal haar dadelik hier uithaal en weer by die huis laat skoolgaan.
Waar sy op haar rug in haar geheime plek lê – binne-in die swembad wat jare gelede al leeggetap is en waar niemand haar ooit kom soek nie – dink sy dieselfde prentjies oor en oor.
Sy wil in haar eie kamer die Huisgenoot se agterste blaaie met al die skinderstories oor die sterre sit en deurlees. Snags wil sy die venster wyd oopmaak en na die geroep van die naguiltjies luister. En Sondae wil sy tussen haar ouma en oupa in die kerkbank sit en daai liefiereuk van Stasoft kry, want ouma Kitta gooi altyd ’n ekstra skeppie by as sy Vaselinetjie se klere uitspoel.
En kos. Baie kos. Alles waarvoor sy lus is. Stukke vars gebakte beskuit wat so groot is dat dit jou beker laat oorloop. Kerrievetkoeke en afval met dik stukke aartappel en rys. Wat nog te sê van Jan Ellis-poeding en ouma Kitta se brood met sulke dik hompe bokkaas en vyekonfyt!
Haar maag grom van lus kry vir eet. By die koshuis kry sy maar min die kans om regtig versadig te word. Óf die kinders gaap haar aan, óf die kos sit sommer net in haar keel vas van te veel huis toe verlang. En wanneer sy wel kan eet, is die kos gewoonlik so min dat sy nog steeds honger van die tafel af opstaan.
Snags droom sy soms van kos, en dan sê Killer sy maak grillerige kougeluide in haar slaap. By die skool sien sy hoe die Peppies kos by die dorspkinders bedel, steel of sommer net afvat.
Eenkeer het sy iemand se skooltoebroodjies langs die wasbak in die toilette gekry. Daar was net een happie uit gevat en sy wou dit so graag hê dat sy aspris gewag het tot die laaste meisie uit die hokkies was voor sy dit blitsig onder haar skooltrui ingedruk het. Maar op die ou end kon sy dit nie geëet kry nie van skaam voel omdat dit iemand anders se weggooikos was. Dit het haar te veel na ’n weggooi-iemand laat voel.
Party pouses loop sy tot agter die snoepie sodat sy net die warm geur van die hotdogs en pies kan ruik. Ander dae, wanneer haar honger op sy grootste is of die verlang te vlak sit, waag sy dit nie naby die snoepie nie. Netnou kan sy haarself nie keer nie en dan steel sy ook iets.
Tannie Snorre se asem ruik benoud. Gelukkig bly sy darem gewoonlik na die TV kyk terwyl sy met Vaselinetjie praat. Elke huismoeder het ’n dagboek waarin sy alles neerskryf waaroor die hoof, die ander huismoeders of die kinders hulle by die ANC kan gaan verkla.
Steve Hofmeyr se foto is op tannie Snorre se dagboek geplak, en op al haar lêers. Sy sê sy wil sy kinders hê en dan speel sy vir hulle sy CD’s. Killer wys agter haar hand vir Vaselinetjie en Albie hoe sy kamstig goormaag kry en opgooi van die musiek. Dis hulle grappie.
“Vaselinetjie, het jy al jou maatskaplike werker gaan sien?” vra tannie Snorre.
“Nee, tannie,” antwoord sy en die paniek slaan sommer so oor haar uit.
“Sy bedoel ja, tannie. Meneer Kedibone het haar al ingeroep, maar sy’t nie geweet dis haar maatskaplike werker nie,” stamp Killer aan Vaselinetjie.
Vaselinetjie onthou nou van die swart oom met die sny op sy voorkop. Sy’t die hele tyd probeer om nie daarna te kyk nie. Die seuns vertel dat iemand die oom met ’n stuk yster geslaan het, en toe maak hy daai man dood en begrawe hom in sy jaart en bou ’n hoenderhok bo-oor sodat die polieste se honde net hoendermis ruik en niks anders nie.
“Hoekom moet ek ’n maatskaplike werker sien, hè?” fluister sy.
“Vaselinetjie, is jy rêrig só ’n fool? Jy sal moet wake-up, girlfriend! As jy weer skrik, skrik tog net wakker!” sê Killer ongeduldig en loop by die sitkamer uit.
Daarna word Vaselinetjie baie stil. Sy lê die hele tyd net op haar bed en pouses by die skool sit sy in die toilet met haar voete teen die deur om dit toe te hou. As Killer dink sy’s te onnosel om mee maats te wees, beteken dit niemand wil met haar maats wees nie.
Nazrene en haar groepie bly egter op haar spoor. “Hey, girlie, skuld jy my nie nog iets nie?” treiter Nazrene oor die toilethokkie se muur terwyl sy op die toiletbak langsaan balanseer.
“Voertsek!” Sy’s nie meer bang vir die Diergaardt-klimmeid wat haar nie met rus wil laat nie. Haar hartseer is groter as haar bang.
“Is jy sad oor jy ’n orphan is?”
“Watse orphan?”
“ ’n Weggooikind wat niemand wil hê nie en wat nou aan Madiba behoort en in sy weeshuis moet bly sodat jy nie begin gom snuif en hoer op straat as die foreign investors van oorsee kom kyk hoe ons land lyk nie. En jy’s een van hulle, saam met al die ander Peppies, so get with it, nè?”
Dis die eerste maal wat Vaselinetjie hoor in presies watse soort koshuis sy is. Die Welsynvrou wat haar gebring het, het vir haar gesê dis nie ’n gewone koshuis nie, maar sy’t nooit die woord “weeshuis” genoem nie.
“JY LIEG, NAZRENE!” skree sy en spring op, maar dis asof ’n stemmetjie hier binne-in haar nie wil saamstem nie.
Is dit wáár?
Sy’t al gewonder hoekom dié koshuis dan so snaaks is en die kinders nie naweke huis toe kan gaan soos Upington se koshuiskinders nie. Nou moet sy by Nazrene van alle drekmense hoor dat sy en die ander Peppies uitsmyt-rubbishgoete is!
“Ek sê voertsek!” skree sy en skop hard teen die deur. Nazrene-hulle lag net en loop koggel-koggel by die kleedkamer uit.
G’n wonder almal het vir haar uitgejô omdat sy so toe oor als is en nie kliek wat aangaan nie! Nou eers val die goed wat sy nog die hele tyd tussen die kinders hoor in plek.
Vaselinetjie begin kliphard huil. Dit beteken sy is nooit net na ’n ander skool met ’n koshuis gestuur nie, sy’s uit en uit na ’n weeshuis gestuur en haar ouma-hulle en almal het dit nog die hele tyd geweet! Sy vou dubbeld op die toilet en hou haar maag vas asof sy die pyn in haar derms kan wegdruk, maar die seer raak net al meer.
Nou eers verstaan sy: dat dit die government is wat na hulle moet kyk en die huismoeders moet betaal om te tjek of hulle luise of sere het. En as ’n kind klaar sere het wat etter en bloed tap en nie gesond wil word nie en aanhou hoes en almal snags wakker hou, moet die tannies handskoene aantrek. Dan moet die hoof vir die President vir meer geld vra om na die siek kind te kyk. Só ’n kind het dan die fluistersiekte. Hulle abba die spook.
Die klok lui vir die einde van tweede pouse, maar Vaselinetjie bly in die toilethokkie sit en huil. “Néé, Oumie,” snik sy, “néééé, ek wil nie hier wees nie!”
Sy snap vir die eerste keer behoorlik hoekom elke kind ’n maatskaplike werker het. Dis hulle stemme wat sy elke middag oor die interkomstelsel name hoor uitroep van die kinders wat hulle by die kantore in die onderste gang moet kom sien.
Die maatskaplike werkers moet vorms invul wat sê hoe jy is, of jy erg vrot sleg is en of daar enige salf aan jou te smeer is. Hulle moet ook aanteken of jy vloek en of jy spyt is omdat jy gevloek het en wie gaan betaal vir die ruite wat jy uitgeskop het.
“Dit gaan oor rand en sent,” sê die tannies gedurig vir die kinders omdat die hoof dit weer vir húlle sê.
En as jy klaar oulik was en jou pens swel ’n boepie, dan moet die maatskaplike werker reël dat jy jou buksie op ’n ander plek gaan pop. Dan mis jy baie skool en dop jy gewoonlik jou graad.
Al dié dinge wat sy in die afgelope maande gehoor het, maal nou skielik deur haar kop.
“Moenie verbaas wees as jou maatskaplike werker gereeld julle afsprake kanselleer nie, want hulle is al gatvol vir al die nuwe opnames. Hulle moet die hele tyd rondbel om te kyk of iemand nie geld of sopbene of doeke wil skenk nie. Of nog beter, dalk ’n kind of twee vir ’n vakansie van hulle hande wil afvat nie,” het tannie Snorre net laas week nog gesê.
Vaselinetjie se maatskaplike werker het laat weet sy moet hom kom spreek. Die enigste swart mans wat Vaselinetjie nog gesien het, was dié wat Saterdagoggende op Keimoes op die drankwinkel se stoep gesit het. Tswanas. Dis seisoenwerkers, het Oupa altyd gesê. Moenie naby hulle gaan nie, want hulle praat ’n ander taal en as ’n mens nie iemand se taal kan verstaan nie, kan jy ook nie weet wat in sy kop aangaan nie.
Vaselinetjie weet meneer Kedibone ry in ’n heldergeel motor, want die kinders kyk altyd na die prent in sy agterruit. Dis van wilde perde wat hardloop en dis baie mooi.
“Kom sit,” beduie die maatskaplike werker op Afrikaans. “Onthou jy nog wie ek is? Dis ek wat daai eerste dag jou vorms by jou huisma gaan haal het en jou aan die hoof gaan voorstel het.”
“Oom is meneer Kerriebone.”
Die man skud soos hy lag. Hy skuif glad sy stoel van sy lessenaar af weg en lag met sy kop tussen sy bene. Dit lyk of die stoel te klein is vir hom.
“Ai, jy maak my naam baie mooi, maar dis Ke-di-bo-ne. Weet jy wat dit beteken?”
Vaselinetjie skud haar kop om te wys dat sy nie weet nie, maar sy glimlag nogtans. Sy oë lyk gaaf.
“Daardie naam beteken iemand wat deur baie, baie moeilike tye gegaan het. Soos wat jy ook nou deurmaak. Dit is ’n sterk naam. Laas keer het ons nie regtig tyd gehad om lekker te gesels nie. Wat beteken jou naam?”
Sy vertel vir die hoeveelste maal die storie van haar droë vel toe sy klein was.
“Ai, dis ok mooi! Jou naam vertel van jou ouma en oupa se liefde vir jou. Vaselinetjie, ek moet nou vir jou verduidelik van die vakansie …”
Vaselinetjie sit doodstil terwyl hy praat en loop sonder ’n woord uit sy kantoor uit. Terug in haar kamer ruk sy haar kasdeur oop en pluk die almanak wat sy self gemaak het met een hou af. Daar is nog net ’n week en ’n half voor die vakansie oor, maar dit maak nou nie meer saak nie.
“Niks maak meer saak nie en ek sal nooit, ooit as te never weer traak nie!” gil sy tussen haar klere in. Sy snik en kap met haar vuiste teen haar skooluniform. Meneer Kedibone het gesê die staat het nie genoeg geld om kinders wie se familie ver bly vir die vakansie huis toe te stuur nie. Sy moet inbly.
Vir die volgende week sit Vaselinetjie net op haar bed, of by die trap, of in die tiekieboks, en lees haar briefies van Ouma oor en oor. Onder in haar kas is ’n skoendoos vol sulke briefies wat sy deur die semester gekry het.
Ná haar gesprek met meneer Kedibone het sy eers amper elke dag ’n kollekteeroproep huis toe gemaak, tot Oupa later vir haar moes sê dit word nou te duur en dit breek Ouma se hart in twee as Vaseline so huil en smeek aan die ander kant en hulle kan niks aan die saak doen nie.
“Oumie se baby moet nou net sterk wies en op albei bene stat,” snik Ouma keer op keer saam. Maar dít wat Vaselinetjie wou hê sy moes sê, dit het Ouma nie gesê nie. Dat sy kan huis toe kom. Dat dit een groot fout was om haar weg te stuur en dat sy nooit in der ewigheid weer na hierdie mislike plek hoef terug te kom nie.
“Ons gaan Kentucky eet” of “My pa vat ons altyd vir Wimpy-burgers” luister sy na die gespog van die kinders wat vir die vakansie uitgaan. En al wil sy of die ander wat moet inbly nie hoor van al die lekker goed nie, kan hulle nie help om daarna te luister nie.
“En tjek my, ek beter als inpak, want ek sê vir julle een ding: na hierie hool toe kom ek nie terug nie,” sweer die een kind ná die ander terwyl hul tasse voller en hul kaste leër word.
Dat party wat na pleegouers gaan, dalk nog lank voor die vakansie verby is deur die mense teruggebring gaan word, is nie nou hulle bekommernis nie. Dan lag die ander kinders hulle uit omdat hul plasing misluk het.
“Jy score darem gewoonlik ’n paar weke uit die kinderhuis en nuwe klere wat die mense jou laat hou omdat hulle skuldig voel omdat hulle jou nie kon verdra nie,” sê Killer.
Sommige kinders kom met soveel gesteelde goed terug dat hulle weke ná die vakansie nog geld maak uit die dorspkinders wat pouses horlosies, sonbrille, juwele en selfone by hulle koop. Met hulle winste koop hulle tjips en pies by die skool se snoepie en eet dit saam met hulle tjommies, tot die geld op is.
“Ons het genoeg gehad van Madiba se pap-en-brood, pap-en-brood,” lagsing die uitgaankinders.
Vaselinetjie gaan staan reg onder die REG TOT TOEGANG VOORBEHOU-bord toe die busse met die vakansiekinders vertrek. Sy hou aan met skop teen die paal tot die busse lankal teen die heuwel af verdwyn het. As sy kon, sou sy die hele kinderhuis afskop tot op die grond. Baksteen vir blerrie baksteen.
Om kwaad te wees, is beter as om te tjank.
“Bosman vir pos, Bosman vir pos!”
Die maatskaplike werkers se kantore is gedurende die vakansie gesluit, maar een is altyd op roep. Vir die kinders wie se koppe uithaak omdat hulle moet inbly, of dié wat in elk geval so nou en dan die fyn horries kry sonder enige spesifieke rede behalwe dat hulle lewens suck.
Wie ook al aan diens is, kom loer by die sitkamers in en ruk die grotes wat mekaar aan die nek suig en hiekiemerke los van mekaar af weg en deel die pos uit.
Vaselinetjie is bly dis nie meneer Kedibone nie, want sy het hom nog nie vergewe dat hy haar verniet na die vakansie laat uitsien het nie. Killer sê kinderhuiskinders leer om baie te verdra, maar hoop is die ergste. En die wreedste.
Dis ’n pakkie van die huis af. Sy kan dadelik sien Ouma het dit toegedraai, want die tape is dubbeld geplak. Daarna het Oupa die boks netjies met tou toegedraai en vasgebind. In swart bewerige letters staan daar groot: MEJ. HELENA BOSMAN.
Sy pluk haastig die papier af. Binne-in is ’n klomp eetgoed. Gekooptes en gebaktes. Sy wil nog vir Ouma-hulle kwaad wees dat sy in dié plek moet sit, maar hoe meer sy in die boks grawe, hoe meer gaan haar kwaad weg en klop daar ’n huilverlange in haar keel.
Daar is tandepasta, sjampoe, nuwe pienk roll-on, room én ’n sakkie skeermesse! Sy is skaam om dit voor die vreemde maatskaplike werker uit te haal, want sy het nog nie begin om haar bene te skeer nie. Daar is ook ’n geskenk van die gemeente se anties: twee spierwit waslappies met op elkeen ’n bloedrooi roos met die hand uitgewerk.
Ook ’n briefie met ’n groen noot in. Vaselinetjie het vir Ouma-hulle laat weet hulle moet geld in ’n tandepastaboksie wegsteek. Anders moet sy dit vir die maatskaplike werker gee, wat dit weer vir haar huismoeder gee. En dan kry sy dit net wanneer en ook net soveel soos die huismoeder goed dink. In ’n kinderhuis kort ’n mens altyd geld vir kos en vir bel. En vir omkoop.
Vaselinetjie bied beleef vir die maatskaplike werker ’n pakkie beskuit aan, maar die tannie sê sy moet dit liewer hou, want die ander kinders gaan haar beslis voorlê om ook van die eetgoed te kry.
Sy is reg. Nog voor Vaselinetjie by haar huis in kan verdwyn, keer ’n groep hoërskoolseuns haar in die gang voor. “Aitsa, en wat het ons hier? Ou daar vir ons ook ietsie, Vassie-man!”
Sy hou nie van die seuns nie, want Killer sê hulle is skomgatte en daggarokers, maar sy haal tog ’n pak koeksisters wat stroperig aan die plastiek klou vir hulle uit. Sy kry hulle jammer soos sy haarself jammer kry omdat hulle in hierdie tronk moet agterbly, dié kaal gebou met sy leë gange en verdroogde potplantbakke waarin besoekers hul sigarette dooddruk en waaruit die kinders die stompies weer grawe om verder te rook.